Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 89

22 Maart

Оглавление

Laatnag-geselsies met God

1 Kronieke 16:43 – Hierna is almal huis toe, en Dawid het teruggegaan om sy gesin te seën.

Êrens in die warm nag droom ek in die hotelbed gedurende ’n wegnaweek.

Ons gesin is op reis in ’n warm en groen land met hemelse kos. Gisteraand se lemmetjie-gemarineerde oesters, confit-eendjie, en basielkruidroomys vloei in en uit die bewussyn.

Ons ry op fietse wat maklik trap. Die lug is helderblou; die seuns praat onophoudelik. Ons draai weg van die berg af en fiets op ’n breë sandpad. Die fietse rol teen die helling van die pad met die gekir van traplose lekker. Ek kyk om en Christoff het weggeraak. Ons drie soek hom noudat dit reeds donker is …

Meteens skrik ek wakker en spring regop in die bed. Met die brillose astigmatisme visie van plus-50 sien ek net die twee koeëlronde groen ogies van die Espresso-masjien. En ek wonder beneweld, wie loer dan nou so uit die bosse vir ons?

Middel-van-die-nag-lag oorval ons twee met die agieogies wat toegaan toe ek die muurprop uitpluk. Ek maak tee, want dis ons ritueel wanneer slaap ontwyk. Dan praat ons lang stories oor alles wat in die nag in jou kop rondspeel. Wanneer die ligte dan weer afgaan en dit stil word, weet ek my vrou lê en bid … vir my en ons seuns en ons lewe saam. Soveel seën vloei direk uit daardie tye van verbintenis met God.

As man het ek gewis minder woorde as my vrou, ook met God. Gelukkig voel ek nie meer skuldig oor ek minder bid as sy nie. God ken my kommunikasiestyl. Ons twee gebruik net minder woorde.

Maak ek genoeg tyd vir naby-oomblikke met God?

Jesus, hoor my stem, maar hoor net soms die versugting van my hart. Amen

Duet

Подняться наверх