Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 91

24 Maart

Оглавление

Vul julle met sy Woord

Genesis 24:46 – Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: “Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.”

Jare lank skryf ek as skoonheidsredakteur oor skoonheidsprodukte en kry gereeld nuwe produkte om uit te toets. Verlede week daag daar ’n pakkie van een van my gunstelingskoonheidshuise vir my op kantoor op. Ek maak dit haastig oop om te sien watter juweel in die pakkie versteek is. Ek is gek na hierdie skoonheidshuis se vogroom.

Ek was jare gelede as gas van die skoonheidshuis New York toe om die lokaal waar die room vervaardig word, te besoek. Wat ’n wonderlike ervaring was dit nie! Dit bly een van my kosbaarste herinneringe. Binne-in die sakkie op my lessenaar is ’n persverklaring en ’n kartondosie. In die mooi boksie is ’n ekstra-groot pot duur room wat spesiaal uitgereik is ter viering van ’n mylpaal.

Ek draai haastig die deksel af om te sien of die pot inderdaad gevul is met die wonderroom. Tot my verligting is dit propvol geurige spierwit room.

’n Paar jaar gelede het ek ’n soortgelyke pot ontvang wat ek sommer dadelik opgewonde saam met my huis toe geneem het. Toe ek dié aand nadat ek gebad het van die kosbare room wou aansmeer en ek die deksel met verwagting oopdraai, was die pot tot my teleurstelling dolleeg. Daardie jaar het ek om die een of ander rede net ’n leë wit glasfles ontvang.

’n Leë houer is nie veel werd nie. Ons moet onsself vul met God se Gees en Woord om tot diens van mekaar en ander te kan wees. Deel veral dié gedeeltes wat tot julle spreek met mekaar en versterk so mekaar se geloof.

Here, vul ons met u Gees en maak ons vol met u liefde. Amen

Duet

Подняться наверх