Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 90

23 Maart

Оглавление

’n Tyd om te … lag

Prediker 3:4 – ’n Tyd om te huil en ’n tyd om te lag. ’n Tyd om te treur en ’n tyd om van vreugde te dans. (NLV)

Die seuns (nege en ses jaar) is saam met ons op pad na hul oumagrootjie se begrafnis in die Vrystaat. Christine is hartseer oor Ouma-plaas wat weg is na haar Skepper ná oor die 100 mooie lewensjare. Ek maak groot oë vir die twee woelige stouterds in die truspieël.

Daar waai ’n woeste wind op Brandfort; die lug is vaal van die stof. Die kerk is groot en vreemd en die dominee klim met sy toga op ’n hoë preekstoel. Hy praat lank en baie hard. Die oudste leun nader en vra of hy so hard praat omdat die mense so oud is. En daar begin die gelag. Ek trek my lippe dun en vra mooi met my kykers. Uiteindelik vermy ons mekaar se blik tot die diens verby is.

Agterna hardloop die seuns in die kerktuin rond. Christine vra oor die gelag in die kerk en skater saam. Dis ’n uur se ry na die familiekerkhof. Mamma sit stil by die venster en uitkyk en vertel uiteindelik van hul plaaskuiers by Ouma.

By die kerkhof is die laatmiddagwind uitdagend. Die teraardebestelling begin. Ons staan skuins agter die dominee. En toe skep daai wind sy stywe doppie hare en lig die hele affêre soos ’n hoedjie wat omdop tot by sy oor. Dit neem my brein so vier sekondes om te besef ek en die seuntjies moet hier weg.

Christine ontmoet ons veel later in die motor. Haar oë is hartseer en rooi, maar sy glimlag breed: “Julle drie …”

Lag ek en my maat genoeg saam?

Liewe Heer, help ons om die snaaks in die lewe te geniet, maar ook die leed te deel. Amen

Duet

Подняться наверх