Читать книгу Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers - Страница 11

’N LUISTER-DISSIPLINE

Оглавление

Wat begin het met twee opgerolde komberse vir meditasiekussings en ’n bottel koeldrank wat Johan met sy snoepiegeld gekoop het, het gegroei tot iets wat niemand voorsien het nie.

Twaalf stuks gevangenes sit gereeld vir die Downeys se gereelde meditasiesessie aan. Elkeen het ’n swart meditasie­kussing wat Johan se ma vir die groep gemaak het. ’n Wie­rookstokkie en kerse word elke keer aangesteek. Die groep hou selfs afsonderingstydperke, net soos dit by The Dharma Centre in Robertson aangebied word, waar hulle ’n naweek lank elke dag ’n paar uur lank in ’n tronksaal byeenkom om saam te mediteer.

Van die mans noem Heila en Rodney “Ma” en “Pa”. Hulle maak soms kollekteeroproepe na die Downeys se huis om oor hul alledaagse probleme te gesels.

Een van die gevangenes, ’n geharde Kaapse skollie wat graag spog hy is in die tronk “vir die één moord wat ek nie beplan het nie”, bel Rodney by geleentheid benoud by die huis op Robertson. Hy is heeltemal verward. Hy was die dag in ’n bakleiery, vertel hy Rodney, toe iets gebeur het wat vir hom heeltemal onbekend was. “Ek wou nie terugslaan nie! Ek verstaan dit nie. Ek was ewe skielik nie lus om terug te slaan nie.”

Rodney glimlag. “Jy begin ’n gewete ontwikkel.”

“Die meeste van dié ouens het in ’n samelewing grootgeword waar hulle pal om hul lewe moes baklei,” sê Rodney. “Niemand het ooit enige vertroue in hulle gehad nie. As jy hulle net kon wys hulle is in jou oë ook mense, dat jy hulle nie veroordeel nie … dan het hulle begin groei. Die eerste keer toe ek daardie man (die Kaapse skollie) ’n verjaardaggeskenk gegee het, het hy begin huil. Dit was die eerste keer in sy lewe dat iemand hom ’n verjaardaggeskenk gegee het.”

“Ons het hulle nooit gevra vir watter misdaad hulle in die tronk is nie,” vertel Heila. “Soms wou hulle by ons weet hoekom ons nooit daaroor uitvra nie. Dan het ek geantwoord ons hoef nie te weet nie …”


En toe vermoor iemand Heila se pa.

Drie aanvallers het die ou oom, ’n wewenaar, in sy huis oorval en met ’n mes doodgesteek.

Baie van wat in die dae ná haar pa se dood gebeur het, voel deesdae vir Heila soos die verre verlede. Die dag toe sy op Robertson verslae na die blou hemelruim opgekyk het pas nadat sy die oproep gekry het dat hy in sy huis op Kroonstad dood gevind is. Die reis saam met Rodney Vrystaat toe vir die begrafnis. Die familie. Die diens.

Maar veral twee herinneringe staan uit.

Een is die eerste hofverskyning van haar pa se moordenaars. Heila en Rodney het reg agter die beskuldigdes in die hofsaal gesit. Sy het in hul oë gekyk. Dit was soos om in ’n leë gat te staar. “Daar was net niks,” onthou sy. “Geen gevoel, niks.”

Dalk het sy op daardie oomblik gedink aan die gewelds­misdadigers met wie sy op Malmesbury gewerk het, die mense wat daar besig was om ’n karakter, ’n gewete, ’n gesonde emosionele lewe te ontwikkel. Dalk was dit die kontras tussen dié mediteerders en die gebroke drietal in die hof wat haar so verstom het.

En dan staan ’n tweede herinnering uit: Die eerste byeenkoms van hul meditasiegroep in die Malmesbury-gevangenis ná haar pa se dood. “Ons het daar aangekom en die gewone jillende skollies het na ons geskree terwyl ons in die gang afstap. Ons ouens het vir ons gewag. Almal het op hul meditasiekussings gaan sit. En toe vertel ons hulle my pa is vermoor. Daar was stilte, die mees aangrypende stilte. Onthou, die meeste van hulle het vroeër in hul lewe gemoor en verkrag. En nou het hulle die uitwerking gesien wat hul dade op mense het. In ’n sin was dit vir hulle soos om in ’n spieël te kyk. Van die ouens het gehuil. Hul harte was stukkend.”

Mens sou dink as misdaad jou familie so traumatiseer, sal dit vir jou moeilik wees om met misdadigers te werk. Maar teen dié tyd was daar tussen Heila, Rodney en die mediterende gevangenes ’n band wat byna niks meer kon breek nie.

“Ek het veiliger tussen daardie ouens gevoel as op straat,” sê sy. “Daar was iets onmiskenbaar aan hulle, ’n sin vir integriteit en selfrespek. Dit was nie omdat hulle my of Rodney wou beïndruk nie, maar omdat hulle geleer het hulle kan hulself vertrou om beter mense te word.”


Johan, die ou wat op sy dag selle omgekeer en as die “gemeenste bliksem in die tronk” bekend was, het besef dit help nie hy stry meer teen sy situasie nie. Hy is in die tronk en hy kan nie weghardloop nie.

“As daar enige emosie is wat jy jou kan indink, dan beleef jy dit in die tronk,” vertel hy. “Die donkerste hel, trauma, pyn, swaarkry, geweld en duiwels. Maar jy beleef ook die wonderlikste gevoelens wat jy jou kan indink. Jy voel dalk moerse happy want iemand spesiaal het vir jou kom kuier; as jy na jou sel terugkeer, ruik jy hulle nog aan jou klere en aan jou hande.

“Maar jy sit met dit. Jy besef daardie emosies kom en dit gaan. Dit alles gaan verby.”

Johan het geleer om soos ’n berg stil te sit en sowel die goeie as die seer gevoelens oor hom te laat spoel.

Wat sou ’n blydskapnavorser hieroor sê? Het Johan in die tronk vreugde ontdek?

“Ek wou later nie meer daar weggaan nie,” antwoord hy self die vraag. “Ek sou nooit in my lewe weer soveel tyd hê om aan myself te werk nie. Ek het my omstandighede omhels. Ek kon nie wag dat hulle snags my sel toesluit nie. Soms het ek van sesuur die aand tot sesuur die oggend gemediteer. En as hulle die selle oopmaak, dan het ek iewers in ’n hoekie in die son gaan sit. Die ander gevangenes het gedink ek het my marbles verloor, maar hulle het my nie gepla nie.

“Uiteindelik het ek na die tronkhoof gegaan en gesê hulle moet my in isolasie toesluit. Hy het gevra of ek bedonnerd was. Maar ek het aangehou. Dertig dae lank. Ek het vir 30 dae ’n eed van stilswye afgelê. Ek het gesê hulle hoef net my seldeur oop te maak, my kos neer te sit en dit weer te sluit.”

En daar in die eensaamheid het Johan finaal opgehou om vir die lewe weg te hardloop. Hy het als toegelaat wat hy so lank weggewens en onderdruk het.

“As jy so alleen is, het jy net jouself. Dag ná dag val die skille, die personas, af. Ná tien dae so stoksielalleen het ek heeltemal uitmekaar geval. Toe huil ek soos ’n kind. Teen dag 20 het ek weer begin vorm kry. Ek het die afsonderingstyd so gereël dat dit ’n halfuur ná middernag op Oujaarsaand sou klaarmaak. Toe die nuwe jaar aanbreek, was daar chaos elders in die gevangenis, maar in afsondering het ek tjoepstil gesit.

“Daardie 30 dae het als verander. Die metamorfose was voltooi. Ek kon huis toe gaan.”


Johan is reeds ’n paar jaar op vrye voet en sy parool kom ook binnekort tot ’n einde. Hy werk vir homself, woon saam met iemand met wie hy al ’n paar jaar in ’n verhouding is, en besit ’n hond. Hy vertel waar hy ook al by mense aan huis kuier, kom lê die troeteldiere aan sy voete. Sy teenwoordigheid maak diere rustig. Dis moeilik om te glo jy praat met ’n ou wat op sy dag een van die tronk se mees gevreesde bakleiers was.

Hy mors nie tyd om sy verlede weg te wens nie. “Ek is bly hulle het my gevang. Ek is dankbaar ek het gaan sit. Ek sou nie die persoon gewees het wat ek vandag is as dit nie daarvoor was nie.

“Ja, ek raak nog kwaad en vloek soms. Ek het gisteraand ’n lekker whiskey gedrink. Maar oor die jare het meditasie by my iets gekweek wat ek nooit wil prysgee nie. Dis ’n sin van teenwoordigheid, ’n sin daarvan dat ek nóú hiér kan wees.”


As jy werklik wil stil word en die stem van jou hart wil hoor, is meditasie jou beste strategie. En jy moet dit gereeld doen. Jy kan nie met meditasie poer-poer en verwag jy kan jou brein herbedraad nie. Net soos wat dit nie help om een keer per jaar jou tande ’n uur lank te borsel en die res van die tyd van hulle te vergeet nie, gaan meditasie jou nie help as jy dit een keer elke paar maande doen en die res van die tyd afskeep nie. Jy moet elke dag ’n paar minute in stilte met jouself deurbring. In daardie tyd moet jy ’n formele meditasiedissipline beoefen. Party mense sê om in ’n borrelbad te lê of om fiets te ry is hul meditasie, maar hulle verwar meditasie met ontspanning. Meditasie behels dat jy ’n paar minute lank iets doen wat geen resultate oplewer en glad nie jou gedagtes aftrek nie. Jy moet leer om op een ding te fokus.

Hier is een of twee praktiese wenke wat jou kan help om ’n gereelde dissipline op te bou:

Moenie verwag dat meditasie lekker moet wees nie. As jy net mediteer wanneer jy dit geniet, gaan jy nooit daarby uitkom nie. Die meeste van die tyd is dit vervelig en frustrerend. Jy leer juis om met ongemak te sit, om dit nie weg te stoot nie, maar daarna te luister. Die beste tyd vir meditasie is wanneer jy nie lus is vir meditasie nie.

Kry hulp. Dit kan ’n eensame paadjie wees, so kry iemand om dit saam met jou te doen. Baie kerke leer lidmate deesdae meditasie (hulle noem dit dikwels stiltegebed of sentreringsgebed). Baie joga-ateljees doen dit ook. Alternatiewelik kan jy net google of iemand in jou omgewing meditasielesse aanbied. Daar is ook selfoontoepassings soos Insight Timer en Buddhify wat mens goeie begeleiding gee.

Steun op dissipline eerder as wilskrag. Dissipline is die ding wat atlete het wat hulle sover kry om elke dag te oefen, selfs as hulle eerder met hul vriende sou wou kuier of Netflix sou wou kyk. Hulle weet hulle gaan sommige dae nie lus wees om te draf of te swem nie, so hulle skep roetines waarby hulle hou ongeag of hulle die dag lus voel of nie. Maak meditasie ’n vaste deel van jou dag sodat jy nie elke dag met jouself hoef te onderhandel of jy dit dié dag gaan doen nie. Skryf dit elke dag in jou doenlysie of dagboek sodat jy onthou om daarby uit te kom. Indien moontlik kan jy daarna mik om dit elke dag op dieselfde tyd of plek te doen. Baie mense doen dit eerste ding in die oggend voordat die idee by hulle kan opduik om eers iets anders te doen. As jy gelukkig genoeg is om in jou eie kantoor te werk, kan jy teetyd die deur toetrek en ’n meditasie inkry sonder dat enigiemand anders daarvan weet. Jy kan alternatiewelik sommer in jou motor in die parkeerterrein gaan sit en mediteer.

Moenie die verskoning gebruik dat dit te moeilik is nie. As ouens in die Malmesbury-gevangenis se oefen-area kan sit en mediteer, het ek en jy wragtie geen verskoning nie.


Dis ’n onlangse Sondag. Heila en Rodney se meditasiebeweging, The Dharma Centre, hou ’n dag lange afsonderingstyd in Kaapstad. Dis ’n tweemaandelikse geleentheid waar so tien tot vyftien mense byeenkom om ’n paar uur lank saam stil te sit.

Die aand kry ek ’n stemboodskap van Heila op WhatsApp.

“Ons het ’n lieflike dag van meditasie gehad en aan die einde het ons Johan spesiaal vir sy toewyding die afgelope 19 jaar bedank,” vertel sy. “Hy het gevra of hy ook ’n paar woorde kon sê, opgestaan en voor ons kom staan. En daar buig hy plat tot op die grond en bedank ons dat ons twee dekades gelede sy lewe gered het. Ons was uit die veld geslaan. Soos jy seker kan dink, was daar min droë oë in die vertrek.”

Dalk verbeel ek my, maar dit klink asof Heila se stem so ’n bietjie kraak. Dis ongewoon. Heila is gewoonlik ’n baie flegmatiese persoon. Ek kan my indink dat mens nogal emosioneel moet voel as jy sien hoe 19 jaar se harde werk ’n ander persoon se lewe kan omkeer.

Ek weet darem nie of ek in ’n Suid-Afrikaanse gevangenis my blydskap sou kon vind nie. Hel, ek is ’n swakkerige, sensitiewe ou, ek sou waarskynlik nie eens baie lank in ’n Suid-Afrikaanse tronk oorleef nie, wat nog te sê floreer.

Maar Johan se storie inspireer my. Ek herinner my soms aan wat ek by Johan, Heila en die res sien. Hoe hulle met misdaad, dood en geweld, ondraaglike dinge, gekonfronteer kan word en in daardie oomblik die swaarkry op sy plek kan sit deur met ’n oop hart na hul pyn te luister.

As jy so kwaad of so hartseer voel dat jou hart ineenkrimp, vra jouself: Wat keer my om in hierdie oomblik teenwoordig te wees? Kan ek my blydskap vind deur ’n roete middeldeur my pyn te baan, eerder as om daarvoor weg te hardloop?

Dit gaan baie moed verg. Jy sal dit nie altyd regkry nie. Maar as Johan dit in ’n tronksel kon doen, vermoed ek jy kan dit soms ook regkry.

Jy moet net eers stilsit en luister.

Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe

Подняться наверх