Читать книгу Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers - Страница 12
ОглавлениеHOOFSTUK 2
DANKBAARHEID
’N SILWER BOOG OM DIE AARDE
Dis moeilik om jou dit nou in te dink, maar daar was ’n tyd, báie lank gelede, dat daar geen maan in die hemelruim bokant die aarde was nie. Daar was net ’n groot klomp los klippe en sterstof wat deurmekaar rondom die aarde getol en van hier onder af soos ’n groot wolk sou gelyk het wat van die een horison tot die ander gestrek het.
Soos wat die jare eeue geraak het en die eeue millennia, het dié vlieënde rotse en klippe ál meer teen mekaar gebots, in mekaar se swaartekrag vasgehaak en een groot rotsbal – die maan – gevorm wat vandag ons getye reguleer, vir trekdiere as kompas dien en vir verliefdes iets gee om na te staar as hulle halfpad deur ’n vryery asemskep.
Daar is ’n teorie in die fisika wat baie fraai is, al dink sommige wetenskaplikes dit is onrealisties. Ingevolge dié teorie kan die maan eendag in sy wentelbaan spoed verloor, al hoe nader aan die aarde beweeg en uiteindelik so naby kom dat dit deur die aarde se swaartekrag aan flarde geruk word. Dit sal beteken dat ons mooi koeëlronde maan weer net soos in die oertyd ’n klomp los rotse en stof sal word. Baie van dié klippe sal op die aarde neerreën, maar dié wat in die ruimte bly, sal mettertyd uitsprei en ’n lang uitgerekte string ruimterotse vorm wat in ’n dik baan reg rondom die aarde wentel, rofweg gelyklopend met die ewenaar. Vanuit die ruimte sal dit soos ’n groot ring rondom die planeet lyk. ’n Ring net soos dié van die planeet Saturnus.
Hoewel die aarde se nuwe ring uit bruinerige rotse sal bestaan, sal dit snags sonlig reflekteer en soos ons bestaande maan glinster. Indien daar dan nog enige mense op aarde sou oor wees, sou hulle van hieronder opkyk en ’n enorme silwer boog sien wat vanaf doer in die ooste tot doer in die weste bo-oor die aarde strek.
Soos ’n silwer reënboog.
Verbeel jou dit gebeur vanaand. (Ignoreer vir ’n oomblik die klippe wat uit die lug op ons gaan val.) Jy word die volgende oggend wakker, borsel jou tande, eet jou pap, loop by die deur uit … en gewaar ’n enorme silwer boog wat van die een horison tot die ander bo-oor die hemelruim skitter. Hier vanuit die Suidelike Halfrond sal dit in ’n noordelike rigting verskyn. ’n Wolkwit gedaante wat bo die aarde uittoring.
Jy sal terug die huis inhardloop en wie ook al daarbinne is, roep om saam te kom kyk. Oral in jou straat sal jy ander mense sien wat met hul kenne gelig na die hemel staar.
Jy bel jou suster wat aan die oorkant van die land woon. “Sien jy dit ook!?” vra jy opgewonde. Sy vertel jou dis net so helder sigbaar daar by hulle. Jy sit CNN aan en jy sien mense oral, van Kenia tot Kanada, van Bolivia tot Bangladesj, staar verwonderd na die hemel. Op die ewenaar spog mense hulle kan onder die boog heen en weer loop. By die Suidpool vertel hulle dat hulle net die boog se spits oor die horison sien loer.
Iets nuuts het ons wêreld ingekom en almal voel hulle is nou in ’n sprokie.
Die eerste dag neem jy verlof van jou werk sodat jy op ’n tuinstoel op jou grasperk kan sit en na die planeet se nuwe ring staar. Niemand kla nie, want jou kollegas en jou baas doen dit ook. Almal is saam deur die betowering meegesleur. Vir ’n wyle word ou twiste vergeet en is almal weer lief vir mekaar.
Die tweede dag moet jy teësinnig weer gaan werk, so jy trek oudergewoonte jou werkklere aan en klim in die motor vir jou pendelrit. By verkeersligte en stopstrate rol jy keer op keer die motor se ruit af – selfs al is dit winter – om na die hemelruim te loer en jouself te herinner hoe betowerend die heelal is waarin jy geseënd is om te bly. Op kantoor is jy en jou kollegas nie besonder produktief nie; julle loop pal uit om na die nuwe silwer boog in die hemelruim te beduie en oor sy patrone te gesels.
Die tweede dag dat jy by die werk terug is, sal jy minder gereeld uitgaan om te loer, maar wanneer jy wel buite is, soos wanneer jy byvoorbeeld van jou motor af kantoor toe loop, loer jy opwaarts en glimlag sielig. Jy besef egter gaandeweg die ou probleme wat jy met jou bure het – die twiste waarvan julle almal vergeet het toe die wêreldvrede twee dae gelede in almal se harte geheers het – begin weer kop uitsteek. Jy en jou kollegas sit ook weer oor werk vas.
So ’n maand later sit jy eendag by jou lessenaar, jou vensters dig toe, jou gemoed vol stres. Iemand kom verbygeloop om oor jul bestuurder te kla. So halfpad deur die gesprek wonder die persoon hardop: “Is daai groot silwer boog nog steeds daarbo in die lug waar dit ’n maand gelede verskyn het?”
“Ja, seker,” antwoord jy. “Maar ek is nou te besig om te gaan kyk. Ek moet my e-posse lees.”
Ons word elke dag deur wonderwerke, klein en groot, omring. ’n Massiewe bol vuur, bestaande uit miljoene kernontploffings per sekonde, hang agt ligminute ver in die ruimte en verhit ons planeet. Voëls sing in ’n verskeidenheid deuntjies en toonhoogtes wat geen mens kan namaak nie. Daar is vyf klein wriemelende worsies aan die punt van elkeen van jou voete.
Kinders besef hoe verstommend dié dinge is en kan hulle ure aan iets soos ’n ligskakelaar of ’n brommer verkyk. Hulle is dankbaar om in so ’n wonderwêreld te leef. Hulle strek hul arms na die son uit, hardloop agter voëls aan, kan hul tone ure lank net vir die pret daarvan beweeg.
Maar dan raak jy dit gewoond. Jy vergeet dis spesiaal. Jou dankbaarheid en verwondering vervaag. Ja, jy sal nog met mense saamstem dat die maan skouspelagtig is. Maar jy voel daai verwondering nie meer in jou hart nie.
Wees eerlik: Hoe gereeld is jy nog opreg dankbaar vir die absolute mirakel van jou tandeborsel, jou ketel of jou haardroër? Hoeveel keer staan jy opreg verstom dat jy deel van die klein groepie mense is wat ’n vaste inkomste het? Het jy onlangs innig na ’n hond of ’n kat gekyk en gedink hoe bevoorreg jy is om ’n planeet met so ’n eienaardige, interessante en vermaaklike wese te deel?