Читать книгу Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers - Страница 5

OM WERKLIK TUIS TE KOM

Оглавление

In ’n sekere sin het my vriend Bosko se lewe eintlik begin die dag toe hulle hom in die kop geskiet het.

Toe die Geheime Polisie daardie oggend voor sonsopkoms die deur van sy woonstel afskop, was hy nie verbaas nie. Hy het geweet dit sou een of ander tyd gebeur.

Hulle het ’n sak oor sy kop getrek en hom by die stukkende deur uitgesleep.

Het die inwoners van ander woonstelle by hul skrefiesdeure uitgeloer om te sien waar die geraas vandaan kom? Waarskynlik nie. Dit was oorlog. Bomme het bedags op die stad neergereën. As die Geheime Polisie op sulke nagte jou buurman met ’n sak oor sy kop in ’n paneelwa buite jul woonstelgebou ingeboender het, het jy jou gordyne dig toegetrek en baie stil in jou bed gebly.

Hy sou geen manier hê om te weet hoe lank hulle gery het nie. Dit het soos dae gevoel, maar waarskynlik was dit net ’n paar uur. Toe hulle stilhou en die sak van sy kop verwyder, was dit helder oordag en hulle was op die platteland, iewers naby die grens. Hulle het die paneelwa se deure oopgepluk en hom uitgesleep.

Bosko het geweet wat gaan gebeur. Hy het gehuil. Sy vyfjarige seun kan nie sonder hom oorleef nie, het hy gepleit.

“Jy moes vroeër daaraan gedink het,” het een man geblaf.

Hulle het hom op sy knieë gedwing.

“Niemand sal jou kom soek nie,” het een in sy oor gefluister.

“Ek hoop nie dié een beskyt homself soos die vorige een nie,” het hy ’n ander man hoor sê.

Hy het die koue staal van ’n pistool teen sy skedel gevoel. Reg teen sy slaap.

My kind … het Bosko gedink.

En toe trek hulle die sneller.


In later jare sou Bosko dié oomblik as sy “satori” beskryf.

Satori is ’n Japanse woord wat mens sou kon vertaal met die frase “die oomblik toe ek tot my sinne gekom het”. Of “die oomblik toe ek ontwaak het”.

Bosko gebruik ook ’n ander frase om dié oomblik te beskryf:

“Ek het werklik tuisgekom.”


Nie te lank gelede nie is ek in Thailand vir ’n kongres oor mindfulness en meditasie. Dié soort kongresse lok gewoonlik al wat ’n monnik, non of vrome mens is uit Japan, Korea en soortgelyke plekke, so ek het verwag om meestal met Oosterse Zen-meesters te gesels.

Maar op die bussie vanaf die lughawe in Bangkok beland ek langs ’n vreemdeling uit Serwië.

Vermoedelik het baie min mense wat hier lees al ooit die Suidoos-Europese land Serwië besoek of selfs al daaraan gedink om daar ’n draai te maak. As mens die naam Serwië hoor, dink jy waarskynlik aan afgryslike nuusberigte uit die negentigerjare, stories oor die ingewikkelde Balkan-oorloë waar mens nooit presies geweet het wie baklei nou eintlik teen wie en waaroor nie, maar waar jy gereeld gelees het van volksmoorde, massa­grafte en sluipskutters wat burgerlikes in die strate afmaai.

Dit was die eerste keer dat ek ’n Serwiër ontmoet het. Nugter weet wat ek verwag het – dalk ’n oorlogsmisdadiger vol tatoe­ëermerke met ’n wrede kyk in sy oë. Maar my reisgenoot was ’n saggeaarde jong man wat met my ’n geselsie oor die waarde van omgee en deernis aangeknoop het. Binne ’n paar minute het ons so lekker gesels dat ons soos ou vriende gevoel het.

Mediteerders ruil soms snaakse stories oor en weer uit.

Het ek geweet daar bestaan in Thailand mense wat so baie mediteer dat hulle net tyd kry vir een maaltyd per dag, meestal bestaande uit goggas in visolie, het hy my gevra.

Het hy geweet daar is in Tibet mense wat tot drie jaar en drie maande op ’n slag roerloos in ’n boks sit en mediteer, het ek hom gevra.

Dis toe dat hy my onkant betrap: Het ek geweet daar is in Serwië ’n mediteerder wat in die kop geskiet is en vandag as ’n vredesaktivis werk?

Gits, nee. Die laaste een, moes ek bieg, was ’n storie waarvan ek nog nie gehoor het nie.

My nuwe Serwiese vriend vertel my toe van die merkwaardige Bosko Cirkovic en hoe meer die storie gevorder het, hoe meer het dit my joernalistieke nuuskierigheid geprikkel. Dít was nou iemand wat ek sou wou ontmoet.

Selfs nadat die kongres verby was, het ek aangehou om oor Bosko te wonder. Uit die artikels waarop ek aanlyn afgekom het, het ek vasgestel Bosko is iets in die 50 jaar oud, woon in Belgrado en werk as ’n wiskundeonderwyser aan ’n hoërskool. Wat Bosko veral interessant gemaak het (behalwe natuurlik dat hy in die kop geskiet is), was dat hy die Serwiese verteenwoordiger van ’n organisasie genaamd die Stille Vredemakers was.

Die Stille Vredemakers is ’n internasionale organisasie wat meditasie gebruik om mense van onreg op aarde bewus te maak. Hulle bied meditasiekursusse aan in die Nazi-uitwissingskampe in Pole of in skuilings vir haweloses in die VSA. Die Stille Vrede­makers se beleid is dat mediteerders nie net leunstoelpatats moet wees wat heeldag hul asem dophou nie; hulle moet die wêreld se swaarkry in die oë kyk en planne maak om dit te help genees.

In Serwië is daar baie geleenthede om die monsters van die verlede in die oë te kyk.

Toe die destydse Joego-Slawië in die vroeë negentigerjare in ’n klomp kleiner lande verbrokkel het, het ’n regs-nasionalistiese regering in Serwië, die grootste van dié state, aan die bewind gekom en ’n veldtog begin waarin hulle die een massamoord en oorlogsmisdaad ná die ander in hul buurlande soos Bosnië, Kroasië en Kosovo gepleeg het.

Een voorbeeld: Die Serwiërs het ’n ruk lank die stad Sarajevo in Bosnië en Herzegowina op ’n besonder wrede manier getreiter. Hulle het die stad beleër en skerpskutters aangestel om burgerlikes dood te skiet as hulle uit die stad probeer vlug het. Die inwoners was later so honger dat hulle boombas en gras gekook het om hul mae vol te maak. Hulle het hul dooie kinders in die openbare parke en sokkervelde begrawe.

Bosko reël deesdae onder meer meditasiekursusse in Sarajevo, asook by Srebrenica (waar die Serwiese weermag destyds derduisende Bosniërs in ’n volksmoord om die lewe gebring het).

Ek het gemeen ek sou by Bosko kon leer hoe mens iets soortgelyks in ’n land soos Suid-Afrika kon doen, hier waar die wrede geskiedenis ook nog by ons spook.

Ek het besluit om by hom te gaan kuier.


Dis ’n sonnige Junie-dag, somer in die Noordelike Halfrond.

Ek staan voor die beroemde Moskva-hotel, in die hartjie van Belgrado, die Serwiese hoofstad. Ek weet nie presies wat ek verwag om by Bosko te hoor nie, maar ek meen ons sal oor oorlog en doodslag gesels, eerder as blydskap en vreugde.

Sy hare is deurmekaar en sy gesig vol plooie wanneer ek hom uiteindelik gewaar. Hy het ’n skor stem, vloek ’n bietjie te gereeld en word in gesprekke soms so meegevoer dat hy hardop begin raas.

Ek kan nie anders as om dadelik van hom te hou nie.

Die Moskva-hotel in Belgrado is ’n berugte plek. As mens daar sit, voel jy ’n bietjie soos ’n karakter uit ’n John le Carré-spioenasieriller. Die hotel is ’n statige Russiese gebou wat dateer uit die jare voor die Eerste Wêreldoorlog. Dit was lank die plek waar die gevreesde Geheime Polisie (eers kommunisties, later nasiona­listies) in die vorige eeu gekuier en oor hul werk gesels het.

Hier het hulle waarskynlik oor Bosko ook gesels.

Die 1990’s was ’n neerdrukkende tyd, vertel hy my. Die Geheime Polisie het martelkamers in die stad gehad waarheen mense verdwyn en van waar hulle met gebreekte lywe teruggekeer het. As die owerheid jou verdink het, was jou dae getel.

Bosko wou in die versetbeweging teen die regering betrokke raak, maar daar was min opposisiegroepe, so hy het vir die Amerikaanse ambassade as spioen begin werk. Hy het baie gou op die Geheime Polisie se radar beland, maar omdat hy vir die Amerikaners gewerk het, sou hulle dit nie waag om hom seer te maak nie.

En toe, in 1999, gebeur die ding wat Bosko byna sy lewe gekos het: Pres. Bill Clinton van Amerika kondig aan die VSA en sy Navo-bondgenote gaan Serwië bombardeer. Die Amerikaanse ambassade het Bosko gebel om hom te vertel hulle ontruim Belgrado en sy lewe is op die spel.

“Ons pak op,” het hulle gesê. “Kom saam. Ons kan jou nie teen die Geheime Polisie beskerm as ons weg is nie.”

Wat kon hy doen? Sy seuntjie was net vyf jaar oud. Sy vrou was siek. Hy kon hulle nie in die stad agterlaat nie. Hy moes die Amerikaners se aanbod van die hand wys.

Dink jou in wat deur sy gemoed moes gaan toe die Amerikaanse konvooi die stad verlaat en die oorlogskepe aan die Joego-Slawiese kus begin vasmeer het. Bosko het geweet die dae wat voorlê, sal waarskynlik sy laaste wees. Hy het die aand sy seuntjie goeienag gesoen, die deur van sy woonstel dig gesluit en gewag dat die onvermydelike gebeur.

Die Geheime Polisie het hom met ’n sak oor sy kop na die Kroatiese grens geneem. Die plan sou wees om te beweer hulle het hom betrap waar hy oor die grens probeer vlug. “Wie sou tog daaroor getwyfel het? Hulle het soveel mense in daardie tyd doodgeskiet. Ek was maar net nog een.”

Die polisie het hom op sy knieë gedwing. Hy was nie dapper nie. “Betoon my genade,” het hy deur snot en trane gekerm.

Die polisieman het ’n pistool teen sy slaap gehou – nie teen sy agterkop soos wat mense altyd in die flieks tereggestel word nie.

En toe trek hulle die sneller.

“Ek het opgegooi en my bewussyn verloor. Dalk was dit vir ’n lang tyd, of dalk was dit vir twee sekondes, hoe sal ek weet?”

En toe gebeur dit.

Satori.

“Toe ek bykom, het ek die diepste, diepste, diepste vrede beleef. Die polisieman het my geskop waar ek lê, oor en oor, maar in my hart was daar vrede.

“Als was oukei; ek het dit tot in my beendere gevoel. Als was vreugde. Ek het gevoel asof ek vir die eerste keer in die heelal tuis was.”

Hy sou later uitvind dit was ’n vertroude tegniek van die Geheime Polisie. Hulle maak of hulle jou teregstel, maar laai nie ’n koeël in die pistool nie. Hulle hoop dit breek jou gees en dat jy dan sal saamwerk as hulle jou verder ondervra.

Nog twee dae se marteling in die tronk het gevolg, maar as Bosko vandag daaroor praat, het hy ’n salige glimlag op sy gesig. “Daai man wat my geskiet het, ek is vandag vir hom dankbaar. Hy het my die lewe gegee.

“Ná daardie dag was ek nog nooit weer vir enigiets bang nie.”

Hy kán nie meer ondankbaar wees nie, vertel Bosko. Selfs al gebeur wat. Hy is in die kop geskiet en elke oomblik wat hy nou nog lewe, is ’n geskenk. Hy kan geen oomblik meer wegwens nie. Elke dag dat hy wakker word, dink hy: Ek behoort nie hier te wees nie, dis als onverdiend, dis als ’n bonus. Hy sny die gras en hy is dankbaar om daar te kan wees. Hy sien skoliere se huiswerk na en hy moet homself knyp om seker te maak dis nie ’n droom nie.

“Ek het ’n diepe vrede in my. En soms word daardie vrede enorme vreugde. Soms raak die vreugde ’n brandende liefde vir alles en almal.”

Ek en Bosko maak planne oor hoe mens meditasie kan gebruik om die wêreld om jou te help genees. Hy gee raad oor hoe iets soortgelyk aan sy werk in Suid-Afrika sou kon lyk.

Maar die een ding wat my bowenal van Bosko bybly nadat ons kuier oor is, is sy blydskap. Hy het van die dood teruggekeer en is nou vir letterlik elke oomblik dankbaar.

Ek vra myself af: Hoeveel keer het ek al ingedagte die pad oorgesteek en ’n haastige motor met ’n sentimeter gemis? Hoeveel keer het ’n klont in een van my are ’n millimeter van my brein verbybeweeg sonder dat ek dit eens besef het? Ek is 43, ver bo die lewensverwagting van premoderne mense. Bosko se stem spook soms by my: “Ek behoort nie hier te wees nie. Dis als onverdiend. Dis als ’n bonus.”

Hy beskerm sy innerlike rykdom so goed hy kan, vertel Bosko. Hy probeer niks inlaat wat hom daarvan kan beroof nie. Hy vermy haat soos die pes.

Soms stry hy en ander vredesaktiviste oor hoe hulle met Serwië se moeilike verlede moet omgaan. ’n Berugte oorlogsmisdadiger, Ratko Mladić, is onlangs verhoor. Mladić was die Serwiese generaal wat soveel wreedhede tydens die oorlog gepleeg het dat hy as “die Slagter van Bosnië” bekend staan.

“Ek sê vir mense hulle moenie eens vir Ratko Mladić haat nie. Hoe kan jy oorlog en haatmisdade vermy as jy nie eers haatgedagtes afsweer nie?”

Dis sy ego wat daai dag 20 jaar gelede doodgeskiet is, vertel Bosko. “Al die emosionele gemors soos woede en vrees en jaloesie en venyn. As jy al daardie goed uit die weg ruim, dan is die enigste emosies wat oorbly vrede, liefde en blydskap.

“Vrede, liefde en blydskap is die enigste gevoelens wat werklik bestaan.”


Ek het so twee jaar gelede ernstig oor blydskap begin nadink. Ek het destyds ’n Afrikaanse boek oor mindfulness en meditasie geskryf, en soos wat soms gebeur as mens ’n boek publiseer, was ek ’n kort rukkie lank op die grens van roem. Huisgenoot het selfs ’n stukkie oor my geskryf.

Omdat ek jare vantevore self in Huisgenoot se redaksie gedien het, het ek die joernalis geken wat namens die tydskrif met my ’n onderhoud kom voer het. Marelize Potgieter het my huis besoek, ons het staaltjies uitgeruil en in ’n stadium onsself in ’n Stellenbosse koffiewinkel bevind. Daar sit ons toe en skinder oor base en al die ander tipiese goed waaroor oudkollegas klets, toe Marelize eensklaps met ’n vraende uitdrukking na my oorleun. “Hoekom is jy altyd so gelukkig?” wou sy weet.

Marelize is ’n gesoute ondersoekende joernalis wat by enige rolprentster inligting oor hul liefdeslewe kan uitryg, maar op daardie oomblik kon ek haar glad nie ’n antwoord gee nie.

Toe sy die middag met haar motor terugry Kaapstad toe, het die vraag by my gespook. Ek weet ek is inderdaad meestal nogal ’n gelukkige mens. Maar hoekom?

In my hart het ek geweet ek is nie áltyd gelukkig nie. Ek vloek dikwels in die verkeer, ek dra ’n hele paar ou wrokke in my hart rond en ek kan maar baie terneergedruk raak as ek na my bankstate kyk. Ek woon alleen en het ’n middelmatige vlak van sukses in my loopbaan bereik.

En tog moet ek toegee ek is nogal bly om in my eie vel te kan lewe. Vyftien jaar gelede was ek ’n bedrukte ou, maar deesdae glimlag ek beslis veel meer gereeld as wat ek huil.

Ná so ’n paar dae se nadenke het ek die volgende op sosiale media geskryf:

Ek weet nie of dit vermakerig is om dit te erken nie, maar dis eintlik nogal waar dat ek die meeste van die tyd gelukkig is. Ek loop nie heeldag rond en lag en sing nie (dit gebeur net sommige dae), maar ek is baie selde depressief en ek is die meeste van die tyd baie bewus van hoeveel ek het om voor dankbaar te wees.

Daar is wetenskaplikes wat glo ’n mens word met ’n sekere vlak van blydskap gebore – dat jy soms ’n bietjie op die blydskapleer klim en soms bietjie afsak, maar dat jy altyd weer terugkeer na die setpunt wat in jou gene sit. ’n Bietjie soos met jou liggaamsgewig. In my ervaring is dit glad nie die geval nie. Ek weet toe ek ’n tiener was, was ek ’n baie ongelukkige jong mens wat saans lank by vensters uitgestaar het, baie Depeche Mode en Pink Floyd geluister het, en soms gewonder het of dit nie dalk lekker sou wees om ’n reeksmoordenaar te wees nie.

Iewers langs die pad – hier rondom die ouderdom van 32 of 33 – het ek besluit ek wil eerder gelukkig wees. En toe laat ek dit gebeur. Mens moet hard daaraan werk. Als wat die moeite werd is, verg werk.

Baie van die goed wat mens moet doen om gelukkig te wees, is baie prakties. Ek het ophou rook. En ek suip nie meer naastenby so baie soos toe ek ’n tiener was nie. (Ek vind alkohol maak my nogal ongelukkig en aggressief, ook die nagevoel van alkohol wat so drie dae in jou gestel sit nadat jy wyn gedrink het.) Ek eet ook baie gesond sodat my lyf nie vergif voel en allerlei slegte emosies genereer nie. En ek kry elke dag oefening, wat my goedvoelhormone die hoogte laat inskiet. Ek mediteer elke dag – 45 minute as ek kan, maar soms minder as ek te moeg is. Laasgenoemde help baie as mens dit reg doen.

Verder is die belangrikste ding dat ek drama en konflik sover moontlik vermy, selfs al beteken dit ek moet soms ander mense vermy en alleen by die huis sit. Snoesig op jou rusbank is baie gelukkiger as in die middel van een of ander sepie. Wanneer ek met mense te doen het, probeer ek my bes om gaaf te wees, om oplossings vir konflik te soek en om negatiewe gesprekke in ’n meer positiewe rigting te draai.

Ek deel ook my lewe met ’n hond. Gereelde fisieke kontak met ’n ander lewende wese, selfs al is dit net om hul koppie te streel, laat mens se liggaam baie goedvoelhormone vrystel.

Dit klink soos ’n cliché, maar daar is regtig altyd iets moois in elke situasie. Selfs al is dit net die hoop en die teerheid in jou eie hart. So wanneer ek myself ooit in ’n uitdagende of potensieel neerslagtige situasie bevind, gaan staan ek altyd stil en vra myself: “Waar is die magic in hierdie oomblik?” en dan sien ek altyd dadelik iets raak. Soms iets heel onverwags.

O, en as die dokter sê jy moet ’n pil drink om gelukkig te wees, dan is dit ook oukei.

Dié stukkie raad het ’n paar kommentare aanlyn ontlok, maar gou weer tussen die geraas van Facebook verdwyn – wat nogal ’n jammerte was, want ek was nogal heel in my noppies met wat ek kwytgeraak het.

En tog …

Toe ek later dié opsomming herlees, het dit vir my steeds ’n bietjie oppervlakkig gelyk. Ja, jy kan ’n hond kry, minder baklei en minder drink, maar dit voel steeds na bolangse veranderings in jou lewe. Ek kan my goed indink dat iemand al dié wenke kan volg en steeds bedruk kan voel.

En dan is daar iemand soos Bosko wat in ’n Serwiese martelkamer kan sit en dolgelukkig kan wees.

Ek wou ’n beter antwoord vind.

In die twee jaar wat gevolg het, het ek ’n wye ondersoek aangepak. Ek het probeer vasstel hoe werk blydskap.

Hoekom het party mense dit?

En waar kan jy dit gaan soek as jy dit nie het nie?

Daar is hope antwoorde in die ou wysheidstradisies van die wêreld en daar is byna net soveel wenke in die moderne sielkunde. Ek het besluit om by albei kers op te steek. Ek het die wêreld vol gereis – van Skandinawië tot Suidoos-Asië – om raad te vra by die gelukkigste mense wat ek kon opspoor. Bosko in Serwië, Katolieke nonne in Italië, sangers in Estland, Boeddhis­tiese monnike, NG dominees, branderplankryers, motivering­sprekers, akademiese navorsers en ’n dierefluisteraar medium in die Vaaldriehoek. Die hele spektrum.

Dié mense het uiteenlopende definisies van blydskap, hul stories wissel van die geestelike tot die wetenskaplike tot die alledaagse, maar verstommend baie van hulle, wanneer hulle met my gepraat het oor die dag dat hulle blydskap ontdek het, het één opvallende frase gebruik: “Dit voel asof ek werklik tuisgekom het.”


In die bladsye wat voorlê, gaan ons mense ontmoet wat verduidelik hoe hulle blydskap gevind het. Hulle sal ons vertel dat jy nie hoef te wag totdat jou lewe lekker word voordat jy gelukkig kan wees nie. Jy hoef ook nie ’n groot woord soos satori of mindfulness vir blydskap te gebruik nie. En jy hoef beslis nie in die kop geskiet te word nie. Met tegnieke soos meditasie, dankbaarheid, eenvoud en omgee, kan ook jy in jou lewe tuiskom.

Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe

Подняться наверх