Читать книгу Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers - Страница 6
OM NIE JOU LEWE WEG TE WENS NIE
ОглавлениеDis nou nie heeltemal so dramaties soos Bosko s’n nie, maar hier volg ’n verhaal van ’n kleiner satori.
Dis 2010, die tipe aand wat jy net in Desember in Johannesburg beleef. Hoëveldse stormreën donder op die aarde neer asof iemand ’n miljoen brandweerslange in die hemel oopgedraai het en bliksemstrale verlig die wêreld soos ’n disko.
Ek kom met sukkelende ruitveërs vanaf my huis aan die Wes-Rand by my bestemming in die Johannesburgse voorstad Emmarentia aangery. Ek en drie vriende het besluit om saam die einde van ’n goeie jaar te gedenk. Ons aanvanklike plan was om ’n Chinese fakkel aan te steek (Chinese fakkels, ingeval jy hulle nie ken nie, is daardie papierlanterns wat soos warmlugballonne opstyg as jy hul lont aansteek), maar die weer speel nie saam nie. Nadat ek net die paar tree van my motor tot by die huis se voordeur gehardloop het, is ek sopnat. Geen lantern gaan in dié weer vlam vat nie. Ons moet die aand binnenshuis vier.
Omdat ons al vier meditasie ken, sit ons ’n ruk lank in stilte saam. Man, is dit nou lekker. Vier ouens in die hartjie van raserige, bedonderde Johannesburg, met blitse wat die tuin gedurig verlig en die gekletter van reën op die dak. Ons sit so roerloos soos vier bergspitse – nie eens die ergste storm kan ons omkrap nie.
Mettertyd bedaar die storm. Omdat ons so stil sit, kan ons hoor hoe die paddas begin raas terwyl die wolke ooptrek. Ons drink pepermenttee en waag dit uiteindelik na buite om ons lantern op die grasperk aan te steek. Die eerste fakkel is ’n flop wat sowat ’n meter bokant die grond soos die Hindenburg vlam vat, maar ons tweede poging sweef stadig van die grond op, vang ’n lugstroom en draal al hoër, hoër, hoër, totdat dit noordwaarts koers kies en iewers bokant Linden ’n ligspikkel word.
Ons klop mekaar op die skouer en lag lekker. Twee van die ouens klim in hul motors om te ry, en ons twee oorblywendes, ek en my vriend Henk, kies by die hek uit koers na ons motors.
En toe …
Bliksem!
Daar waar my motor vroeër gestaan het, is niks. Net ’n leë parkeerplek waar ’n poeletjie reënwater in die maanlig glinster.
Terwyl ons so lekker gesit en mediteer het, het iemand met my motor koers gekies.
Die polisie sou my later vertel daar is ’n bende in Johannesburg wat in die steel van Volkswagen Polo’s soos myne spesialiseer. Teen die tyd dat ek besef het die motor is weg, is dit waarskynlik lankal reeds in ’n chop shop iewers in die middestad deur boewe uitmekaar gehaal.
My ou silwer Polo’tjie was nie eens twee jaar oud nie. Die polisie vat baie lank om op die toneel op te daag. My vriend Henk sal my by my huis aan die Wes-Rand moet gaan aflaai.
Die aand het lekker begin, maar nou suig dit behoorlik.
Of hoe?
’n Vraag duik meteens in my gemoed op. “Wat verhoed my nou, in hiérdie oomblik, om vreugdevol te wees?” Ek weet nie waar die vraag so skielik vandaan kom nie. Ek is druk besig met oproepe na die polisie, ek moet planne maak om die volgende dag by die werk te kom, daar is nie juis tyd vir selfondersoek nie. Maar die vraag wil nie verdwyn nie. “Wat verhoed my nóú om vreugdevol te wees?”
Ek dink daaroor. Wel, ek gaan die volgende week of twee by kollegas rygeleenthede kantoor toe moet bedel. Ek gaan môre by die Linden-polisiekantoor ’n klomp lang vorms moet invul. Dae se gesukkel met versekering lê voor. Ek sal die uitbetaling met duisende rande moet aanvul as ek ’n soortgelyke motor wil koop.
Maar die dinge wat my pla, lê als in die toekoms. Hier, nou, waar die reëndruppels in die maanlig op Johannesburg se teerstrate glinster, wat verhoed my om gelukkig te wees?
Nie veel nie, besef ek. Dis ’n aand van majestueuse storms. Ek het pas met drie vriende ’n waardevolle ervaring gedeel wat ek die res van my lewe sal onthou. My vriend Henk is hier om my in ’n moeilike situasie te ondersteun. Ek het op hierdie oomblikke heelwat om voor dankbaar te wees.
Meteens voel ek lig.
My weerstand teen die oomblik het verdwyn en daarmee saam ’n enorme klomp swaarkry.
Dié aand raak ek stresvry en sonder woede aan die slaap.
Wanneer ek ander vriende later van die ervaring vertel, skel een op my omdat ek nie kwaad is nie. Ek is in ontkenning, sê hy, en moet ’n berader gaan spreek om met my ware gevoelens in kontak te kom. Dis pateties om teëspoed sommer net so gelate te aanvaar.
Maar ek dink nie daai vriend van my is reg nie. Vir my om kwaad te wees, sal niks uitrig nie. Dit sal beslis nie my motor terugbring nie.
Trouens, as ek verbitterd geraak het, sou dit juis ’n vorm van ontkenning gewees het – ontkenning van die kosbare aand wat ek agter die rug het, ontkenning van die liefde van vriende wat my gehelp het, ontkenning van die gedruis van die reënweer wat later die aand weer opgesteek en my in my huisie aan die slaap gesus het.
Ek kan eerlik sê ek wens nie dié aand uit my lewe weg nie.
Blydskap is deesdae nogal ’n groot bedryf. Die positiewe sielkunde, ’n beweging wat wetenskaplik probeer vasstel wat gelukkige mense van ongelukkiges onderskei, het net meer as 20 jaar gelede kop uitgesteek. Groot maatskappye en selfs internasionale finansiële instellings soos die Wêreld-Ekonomiese Forum bestee miljarde rande om werkers gelukkiger (en sodoende meer produktief) te maak. Elke jaar verskyn dosyne selfhelpboeke met “happy” in die titel.
En tog, soos wat ek borrels gehap het toe my oudkollega Marelize my gevra het waarom ek meestal vreugdevol is, is dit vir die meeste kenners verbasend moeilik om te sê wat presies blydskap regtig is.
Blydskap is nie dieselfde as lekkerkry nie. Jy kan op ’n seiljag in die Middellandse See sit, met supermodelle wat jou voete masseer en nogtans diep bedruk voel omdat die kaviaar vanoggend nie koud genoeg was nie en jou lewe so half sinloos voel. En dan sit jy eendag in die werk se kafeteria, eet ’n toebroodjie by ’n linoleumtafeltjie, jou lyf doodmoeg omdat jy die dae wegsloof om jou huisverband te betaal, en meteens word jy oorspoel deur ’n gevoel van algehele saligheid, asof jy presies is waar jy moet wees en alles oukei gaan uitwerk.
Trouens, mens kom blydskap verbasend dikwels teë op plekke waar die lewe allesbehalwe lekker is. Bosko het beslis nie ’n lekker tyd in die tronk gehad waar hulle hom ná sy skynteregstelling gemartel het nie, maar tog vertel hy dit was die gelukkigste dae van sy lewe. Atlete wat die Comrades voltooi en vroue wat aan babas die lewe skenk, vertel hulle is op daardie oomblik baie gelukkig – maar hoewel ek self nooit een van dié twee ervarings gaan hê nie, is ek redelik seker dis nie lekker nie.
Ek was selfs nogal gelukkig nadat my motor gesteel is.
So as blydskap nie lekkerkry is nie, wat is dit?
Mindfulness kan ons met die vraag help.
Dalk het jy al van mindfulness en meditasie gehoor, of selfs ’n kursus bygewoon waarin jy geleer is om jou asem dop te hou en jou aandag na die huidige oomblik terug te bring. Baie mense dink mindfulness beteken om aan die hier en nou aandag te gee, maar mindfulness is meer as dit. Mindfulness is ’n baie spesifieke tipe aandag: Dis om aan jou huidige omstandighede aandag te gee “sonder om te kies of te keur”.
As jy iemand op en af kyk en hulle in jou gedagtes oordeel, is jy nie eintlik mindful nie, jy sit net in jou eie gedagtes vas. Mindfulness is om met ’n oop gemoed jou volle aandag na die oomblik te bring en niks te begeer óf weg te wens nie. Meditasie is ’n tegniek waarmee mens mindfulness inoefen.
Eeue lank reeds skryf wysgere mindfulness voor vir mense wat meer blydskap in hul lewe wil vind; en deesdae doen al hoe meer sielkundiges en breinwetenskaplikes dieselfde ding.
Laat ek verduidelik hoekom.
Mindfulness het op die oog af nie ’n baie bevredigende definisie van blydskap nie, maar wat dit wel het, is ’n baie goeie definisie van ongelukkigheid.
Mediteerders noem ongelukkigheid “swaarkry”. Diegene wat van ou Indiese filosofie hou, noem dit soms “doekkha”, die woord vir swaarkry in die Indiese taal Pali. Swaarkry/doekkha, sê hulle, is die gevoel as jy jou eie lewe wegwens. In die ergste gevalle kan dit selfdoodgedagtes behels, maar dit hoef nie heeltemal so morbied te wees nie. Die meeste van ons het elke dag klein oomblikke waarin ons wens ons het eerder ’n ander lewe gehad. Jy sit in ’n verkeersknoop en jy wens met jou hele hart jy was nie daar nie. Jy baklei met jou eggenoot en jy smag na ’n ander lewe waar jy nie na dié geneul hoef te luister nie. Jy het ’n hoofpyn, ’n stukkende rekenaar, ’n kankerdiagnose, enigeen van ’n groot verskeidenheid vorme van teëspoed en jy dink by jouself: Kan dit nie net verby wees nie, kan hierdie stuk lewe nie net van my weggeneem word sodat ek daarvan kan vergeet en eerder ’n lewe kan hê waarin ek tuis voel nie?
Daardie gevoel is swaarkry.
En as swaarkry dan is om nie in jou eie lewe tuis te voel nie, dan is blydskap waarskynlik die teenoorgestelde. Blydskap is die gevoel as jy in jou eie vel en in die bestaande oomblik met al sy skete en kwale tuiskom. Blydskap is as jy besef: Hier kan ek wees, ek hoef nie hiervan weg te vlug nie.
Sedert Bosko byvoorbeeld 20 jaar gelede byna tereggestel is, benader hy elke dag, selfs die moeilikes, die verveliges en die pynlikes, as ’n gawe en wens hy niks meer weg nie. Hy is altyd dankbaar en hy is altyd vreugdevol.
Uiteraard is blydskap makliker as die lewe lekker is. As jou lewe glad verloop, voel mens daarin tuis, maar as die hond op die mat gepoef het en jou baas was ongeskik, dan is die lewe nie meer lekker nie en mens voel ongelukkig.
Kan ons ook leer om nie ons lewe weg te wens nie selfs indien dinge skeefloop?
Een ding waaroor ek nogal baie bly is, is dat ek nie ’n jong man was in ’n tyd toe jong mans oorlog toe gestuur is om daar aan flarde geskiet te word nie. Ek het in 1994 gematrikuleer en het diensplig en die Bosoorlog met ’n paar gelukkige jare gemis.
Dink maar aan die Tweede Wêreldoorlog. Dit was ’n tyd toe voetsoldate gereeld opdrag gekry het om te voet vyande met masjiengewere en kanonne te bestorm. As jy tydens dié oorlog ’n brief gekry het waarin die weermag jou oproep, het jy letterlik jou nooi of ouers gegroet asof jy hulle nooit weer gaan sien nie.
Tydens dié oorlog het ’n Amerikaanse mediese professor, Henry Beecher, ’n studie gedoen van soldate wat ernstig gewond is. “Ernstig” in dié konteks beteken wonde wat die soldate so lelik vermink het dat hulle nie verder kon veg nie. Party se vlees is deur skrapnel oopgeruk. Party het ’n oog of ’n stuk van ’n hand verloor. Die soort goed wat mens se hele lewe vorentoe permanent sou versuur.
Wat Beecher onder dié soldate gevind het, was in stryd met als wat hy oor trauma en pyn geweet het. Net 12 uur nadat hulle deur koeëls, bomme en skrapnel vermink is, het ’n kwart van die soldate (25%) vertel hulle voel slegs ligte pyn. Byna ’n derde (32%) het gesê hulle voel géén pyn nie. Altesame 75% van die gewonde soldate het gesê hulle het nie pynstillers nodig nie.
Ek weet nie van jou nie, maar as ek dink hoe ek soms kla oor ’n verstuite vinger of ’n stywe nek, is dit nogal verstommend dat driekwart van ’n groep mans wat so erg vermink is dat hulle huis toe gestuur moes word, vir pynstillers nee dankie gesê het.
’n Mens se eerste raaiskoot sou wees dat die jong mans almal in ’n skoktoestand was en dat hul lyf een of ander natuurlike pynstiller afgeskei het. Maar Beecher het opgelet hulle het pynvry gebly lank nadat enige natuurlike pynstiller uitgewerk sou wees. Iets anders was hier aan die gang.
Beecher het ’n radikale verklaring geformuleer: Elkeen van die soldate wat so pynloos met hul wonde saamgeleef het, was ouens wat danksy hul beserings huis toe kon gaan. Hul wonde het beteken daar was geen verdere kans dat hulle weer op Duitse of Japanse masjiengewere sou afstorm nie. Hul wonde was nie vir hulle iets wat hul lewe vorentoe sou bederf nie, maar iets wat hul lewe gered het. En omdat die wonde so welkom was, het hulle dit nie weggewens nie. Hulle wou dinge niks anders hê as om gewond te wees nie.
Dit is baie moeilik om pyn te voel oor iets wat jy verwelkom.
Beecher se gevolgtrekking: Die lyding wat jy beleef, word sterk beïnvloed deur die mate waarin jy jou wonde wegwens.
Mens kan nog iets uit Beecher se ondersoek aflei: Net soos wat blydskap nie dieselfde ding as lekkerkry is nie, is swaarkry nie dieselfde ding as pyn nie. Pyn is iets wat oor jou pad gaan kom of jy nou wil of nie. Maar swaarkry het iets te doen met hoe jy op daardie pyn reageer.
In ou Indië het hulle van pyn en swaarkry as twee pyle gepraat. Die eerste pyl tref jou as iets onaangenaams in jou lewe gebeur – jou motor word gesteel of ’n Duitser skiet jou met ’n Mauser in die skouer. Dis nie lekker nie en enige mens wat hul kop reg aangeskroef het, gaan dit probeer vermy. Maar ongelukkig is die lewe nou maar eenmaal so dat mens nooit hierdie eerste soort pyle heeltemal kan ontduik nie.
Dinge raak interessanter wanneer die tweede pyl ons tref. Dié pyl is die emosionele drama en stories wat ons skep nadat ons van die eerste pyl bewus geraak het. Dis die taal waarmee ons die eerste pyl wegwens. “My motor is gesteel, hoekom gebeur sulke goed altyd met my?!” “Die Duitsers het my geskiet, ek wens ek was eerder een van die ouens wat sonder wonde van die slagveld teruggekeer het!” Dié tweede pyl is iets wat wel onder ons beheer is en wat ons kan vermy. Dis hierdie tweede pyl, die gekla en geworstel oor ons lot, die wegwens van ons lewe, wat in mindfulness “swaarkry” genoem word. Daardie swaarkry is die teenoorgestelde van blydskap.
Die soldate in Beecher se studie het geen swaarkry oor hul wonde beleef nie, want hulle het nie daarteen geworstel nie. Hulle het nie die pyn weggewens nie, en die gevolg – so ongelooflik as wat dit op die oog af ook mag lyk – was dat dit hulle nie gepla het nie.
Die volgende eksperiment kan mens help om op ’n baie liggaamlike vlak tussen pyn en swaarkry te onderskei:
•Soek ongemak in jou lyf: Sit iewers waar dit stil is en kyk of jy ’n plek in jou lyf kan vind wat nie lekker voel nie. Dit hoef nie ’n oorlogswond of ’n kloppende migraine of iets te wees nie. Voel net deur jou lyf en kyk of daar iewers ’n deel is wat so ’n bietjie ongemaklik voel. Dalk is jou maag effens opgeblaas. Dalk is jou skouer effens gespanne. Dalk is daar ’n ligte pyn in jou tand. Kyk mooi totdat jy iets kry.
•Bekyk dit van naby: Maak jou oë toe en fokus al jou aandag op daardie ongemaklike kol. Fokus daarop asof jy dit deur ’n mikroskoop bekyk. Draai die mikroskoop al hoe skerper en skerper in. Raak nuuskierig oor wat jy sien. Waar presies is die grens tussen die plek wat seer is en die pynvrye dele? Is die pyn warm of koud? Is die pyn net in een plek gesetel of beweeg dit in jou lyf rond?
•Waaruit bestaan dit? As jy so aanhou kyk en jou verbeelde mikroskoop regtig skerp indraai, sal jy iets interessants oplet: Jy gaan sien pyn is feitlik nooit net een ding nie. Dit bestaan meestal uit ’n klomp sensasies wat op dieselfde plek saamkoek. Jou seer tand? Daar is waarskynlik ’n steekpyn diep in die tandvleis, ’n jeukerigheid aan die tandwortel, ’n brandende gevoel in die tand self. Als verskillende sensasies wat jy met jou halwe aandag onder die een etiket van tandpyn saamgevat het. Dieselfde geld vir jou gespanne skouer – daar is ’n spierspasmatjie in die skouergewrig, ’n harde drukking onder die vel, ’n moegheid in die been. Dis eintlik ’n hele allegaartjie van sensasies.
•Vind die weerstand: Nou – as jy nog met ons is – kyk of jy die mikroskoop selfs ’n bietjie skerper kan indraai. Wat sien jy? Uiteindelik gaan jy waarskynlik oplet een van die sensasies waaruit jou pyn bestaan, is ’n soort krampagtige spasma van die spiere rondom die pyn. Jy gaan oplet jy is subtiel besig om die spiere rondom die pyn vas te klem, byna asof jy die pyn wil wegdruk.
•Ontspan die weerstand: Kan jy nou jou aandag daar hou, en dan stadig daardie spierspasma laat ontspan? Kan jy ophou om die liggaamsdeel wat reeds in ongerief is nog verder ongemaklik te maak deur dit gespanne vas te klem? As jy die weerstand bewustelik versag, gaan jy voel dat die hele seerplek stadig ontspan, ’n gevoel van groter ruimte gaan in die ongemaklike liggaamsdeel ontstaan en die res van die pyn gaan ook effens versag.
Dié tegniek werk nie altyd nie, maar dit werk gereeld. Soms lê ek snags in my bed en laat my bewussyn amper soos ’n laserskandeerder my lyf op en af ondersoek vir ongemaklike plekke wat ek dan bewustelik ontspan. Dis ’n nuttige vaardigheid.
Jou pyn en jou swaarkry is nie dieselfde ding nie. Jou pyn is die ongemak iewers in jou lyf waaroor jy nie regstreeks beheer het nie. Jou swaarkry is die kramp rondom die pyn waarmee jy dit probeer wegstoot.
Die Japanse skrywer Haruki Murakami, ’n ywerige marathonatleet, het ook al dieselfde les geleer. Hoekom wens ons pyn in ons been weg as ons ’n spierspasma het, het hy gewonder, maar ons verwelkom dit as ons tydens ’n marathon ’n lekker brandgevoel in ons dye voel? Die pyn (oftewel die eerste pyl) is in albei gevalle dieselfde, maar in die een geval beleef ons swaarkry omdat ons ons daarteen verset, terwyl ons in die tweede geval vreugdevol is omdat ons dit verwelkom.
Murakami se gevolgtrekking: “Pyn is onvermydelik, maar swaarkry is opsioneel.”