Читать книгу Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers - Страница 7

BLYDSKAP IS HARDE WERK

Оглавление

In die 13de eeu het daar in die dorpie Assisi in die Italiaanse distrik Perugia ’n heilige man genaamd Franciskus gewoon. Dalk het jy al van Franciskus gehoor? Hy is een van die mees geliefde heiliges van die Katolieke Kerk.

Franciskus was daarvoor bekend dat hy graag die lewe vir homself moeilik gemaak het. Hoewel hy uit ’n ryk familie gekom het, het hy growwe lappe van streepsakmateriaal gedra wat sy vel stukkend gekrap het. Hy het in sowel die somer as die winter kaalvoet geloop. Hy het geweier om aan geld of vroue te raak.

Dit als klink maar na die tipiese dinge waarmee monnike in die Middeleeue die lewe vir hulself versuur het, maar Franciskus het dinge selfs verder geneem. Soms het hy sy klere afgepluk en kaalbas in dorings rondgerol. Hulle vertel wanneer hy halfpad deur ’n maaltyd besef het sy kos begin lekker proe, het hy ’n handvol as uit die naaste vuurherd gegryp en oor sy kos gestrooi voordat hy verder geëet het.

Hy klink maar na ’n droewige kêrel.

En tog beskou Katolieke Franciskus as een van die mees vreugdevolle mense wat ooit gelewe het. In sy leeftyd het mans en vroue van heinde en verre na Assisi gestroom om soos hy te leef. Hy het ’n orde van monnike en nonne gestig wat vandag nog bestaan. Franciskus is glo gereeld gesien waar hy van spontane vreugde in die strate dans. Soms het hy met voëltjies en ander diere geselsies aangeknoop.


Dis ’n week voor my besoek aan Bosko in Serwië. Ek staan voor die ingang van die klooster van die Susters van Versoening in Assisi. In ’n klein tuintjie tussen malvas en krismisrose staan ’n standbeeld van ’n dansende Franciskus. “Wees geseënd, Broeder Son en Suster Maan!” staan op ’n plaatjie by sy voete geskryf. Dis ’n aanhaling uit ’n liedjie wat Franciskus geskryf het.

Ek lui die klokkie en wag dat een van die nonne my inlaat.

Assisi is ’n rare plek. Dis op ’n berg in die platteland van Italië, sowat ’n uur se treinreis van Rome. Daar is iets ouwêrelds, byna misties in die lug. Als is van klip. Die smal Middeleeuse straatjies is met klippe geplavei. Die geboue is van gestapelde klippe gebou. Hier en daar sien mens vrome ou monnike met geplooide gesigte wat ook lyk of dit uit klip gebeitel is. Snags is die stegies doodstil.

Ek is in die stad om die antwoord op ’n vraag te kry: Hoe kan ’n ou wat die lewe vir homself so moeilik gemaak het, vandag as ’n ikoon van blydskap onthou word?

’n Non van die Susters van Versoening gaan met my daaroor gesels.


Twintig jaar gelede het Bente Wolf by die voorhek van die einste klooster gestaan waar ek my nou bevind. Sy het oomblikke vantevore van ’n toerbus afgeklim, papmoeg ná ’n rit al die pad van Denemarke aan die oorkant van Europa. Iewers langs die pad het sy ’n nare griep opgedoen. Sy moes gevoel het soos Franciskus nadat hy in dorings gerol en as geëet het.

Voos.

Bente was iemand wat haarself as ’n geestelike soeker beskryf het. Oor die jare heen het sy by ’n hele paar New Agerige bewegings betrokke geraak om te kyk of hulle haar die sin van die lewe kon help vind. Niemand kon haar tot in dié stadium daarin help nie. Nou het sy in Assisi kom kyk of hier vir haar iets te leer was. Sy het iewers gelees van die Susters van Versoening, ’n Franciskaanse Orde wat in ’n klooster bly wat sedert die 1200’s ononderbroke bewoon word.

Die nonne het die moeë Bente ingelaat en haar in die skaduryke kloostertuin laat rus. Daar het Bente haar oë gesluit en diep asemgehaal, te uitgeput en grieperig om enigiets anders te doen. Sy moes soos ’n spook gelyk het, haar hare en grimering deur­mekaar, haar gesig rooi en geswel.

Terugskouend besef sy die siekte was eintlik ’n gawe, iets wat haar daarvan weerhou het om die dorp se strate in te vaar en in soewenierwinkels rond te grawe. Sy het bloot in die tuin op ’n stoel teruggeleun, te moeg om haar langer teen die uitputting te verset. Dit was nie lekker nie, haar hele lyf was seer, maar vir ’n kort wyle was sy volledig met al haar skete en pyne daar in die tuin teenwoordig.

Dié eenvoudige oomblik het haar lewe verander. “Ek het net gewoon opgehou om die oomblik te weerstaan en het so stil geraak dat ek ’n sagte stem in my hart kon hoor wat ek andersins sou gemis het,” sou sy my later vertel.

“Bente, jy het tuisgekom,” het die stem gesê.

Dis nou 20 jaar later en ek kuier met Bente in dieselfde tuin van die klooster waar sy al die afgelope 16 jaar ’n lekenon is. Ná haar eerste besoek aan Assisi het sy haar tot die Katolisisme bekeer en binne vier jaar was sy ’n lid van die Susters van Versoening.

“My siel het ’n roepstem gehoor. En in die afgelope 20 jaar het ek nog nooit getwyfel dat dit reg was om na daardie stem te luister nie. My nuwe lewe is nou my tuiste.”

Dis asof dinge in haar lewe nou vanself vloei. Nie als is maklik nie, maar als is soos dit moet wees.

Ek vra haar oor Franciskus. Vir wat het die man sy lewe vir homself so onnodig moeilik gemaak en hoekom was hy deson­danks so vreugdevol?

“Baie mense weet van Franciskus se blydskap en die liedere wat hy geskryf het, maar dit sal ’n fout wees om nie ook van sy hartseer en pyn kennis te neem nie,” sê Bente. Die Middeleeue was ’n tyd toe die meeste mense arm, honger en bedremmeld was. Franciskus het iets geweet wat ons moderne wêreld vergeet het. “Franciskus het besef hy kan nie ware blydskap ken as hy net vir sy eie gerief en lekkerkry leef nie. Deur homself aan pyn bloot te stel, het hy deel geword van ’n wêreld wat veel wyer as net sy eie belange strek, ’n wêreld wat die broederskap van alle dinge, deernis en ’n veel groter vorm van geluk insluit.”

Dis ’n mondvol en ek moet eers ’n rukkie daaroor tob voordat ek begin verstaan wat Bente sê. Sy sê gerief is ’n kokon. Ons kan dinge vir onsself maklik maak deur ons van die res van die wêreld af te sonder en gemaklik te leef. Maar deur uit ons kokon te breek en op te hou om vir die wêreld se swaarkry en teëspoed weg te kruip, kan ons tuiskom in iets wat veel groter en meer opwindend as net ons eie lewe is.

Bente sit haar een hand op haar maag en haar ander hand op haar hart.

“Daar is twee soorte blydskap,” sê sy.

“Blydskap van die maag.

“En blydskap van die hart.”

Blydskap van die maag is gerief. Dit is wat jy beleef as jy genoeg het om te eet, gesondheid en mense wat jou liefhet. In die moderne Westerse wêreld is ons redelik goed daarmee om die maag bly te maak. Die VN het ’n jaarlikse “blydskap-indeks” waarop hulle lande rangeer ingevolge hoe gelukkig die inwoners is. Europese lande soos Denemarke, Noorweë en Nederland eindig altyd boaan die indeks. Maar as mens na die samestellers se definisie van blydskap kyk, sien jy die dinge wat hulle meet, sluit in hoe goed ’n land se mediese dienste is, hoe veilig dit is en of die inwoners genoeg het om te eet. Dis alles belangrike goed, maar dis die blydskap van die maag.

In die ontwikkelde Weste is ons nie altyd so goed daarmee om ook die blydskap van die hart na te streef nie. “Die blydskap van die hart is nie altyd lekker of gemaklik nie, dis om in jou lewe tuis te voel en te weet jou bestaan hier op aarde het betekenis,” verduidelik Bente. Om blydskap van die hart te leer ken, moet jy leer om die pyn van die wêreld in jou hart toe te laat.

Daar is vier wenke om die blydskap van jou hart te leer ken:

•Raak soms stil en mediteer;

•Wees dankbaar, selfs in die moeilike tye;

•Leef eenvoudiger; en

•Leer omgee vir iets meer as net jouself.


Die aand nadat ek Bente besoek het, sak ek onverwags swaar op my hotelbed neer. Al my spiere is seer. My keel brand. Ek het uit die bloute ’n onverwagse griep opgedoen, hier in die middel van die Italiaanse somer, met geen ander siek mens in sig nie.

Ek kanselleer my planne om na ou katedrale te kyk, rol my in die hotelbed se lakens toe en loer by die venster uit hoe die son oor Perugia se groen vallei sak. Ek dink terug aan Bente en hoe sy ook op haar eerste besoek aan Assisi deur die griep platgetrek is. Dis asof mens se lyf vir jou probeer sê: “Hokaai! Hou op om so agter ervarings aan te jaag. Daar is iets meer wat jou aandag vra.”

Jou hart roep in ’n fluisterstem na jou. “Luister.”


Geestelike mense is baie lief daarvoor om vir jou te sê jou blydskap word uitsluitlik bepaal deur wat binne jou gemoed aangaan. “Happiness is an inside job,” lui ’n plakker wat ek al agterop ’n motor gesien het.

Maar ek vind Bente se benadering nuttiger; die gedagte dat ons ’n blydskap van die hart het wat deur ons geestestoestand bepaal word, asook ’n blydskap van die maag wat van eksterne gerief afhang.

Bente is nie die enigste mens wat al dié insig verwoord het nie. Die sielkundige en skrywer Jonathan Haidt wys in sy werk daarop dat blydskap deur ’n mengsel van geestes- en omstandigheidsfaktore bepaal word. Ja, jy moet jou gedagtegang in orde kry om gelukkig te wees, maar jy moet ook jou bed opmaak, minder kafeïen drink en verkieslik nie in ’n oorlogsone woon nie.

Tot dusver het ons heelwat oor die blydskap van die hart gesê, maar dis dalk die moeite werd om ’n rukkie by die blydskap van die maag ook stil te staan. Hoe beïnvloed eksterne faktore ons blydskap?

Die positiewe sielkunde is ’n beweging wat in die 1990’s deur die sielkundige Martin Seligman van stapel gestuur is en in die daaropvolgende jare deur kenners soos Tal Ben-Shahar, Shawn Achor, Catherine Sanderson en Ed Diener voortgesit is. Seligman en sy opvolgers doen studies om uit te vind presies hoe blydskap werk en waar dit vandaan kom.

Dikwels kyk hulle na die eksterne faktore wat jou maag gelukkig maak. Maak dit jou gelukkig om meer geld te verdien? Om ’n hond te kry? Om meer te slaap? Om te trou?

Mens kan jou nogal lank vermaak deur na te vors watter verbande die positiewe sielkundiges tussen blydskap en allerlei leefstylfaktore vind. Hier, net vir die pret, is ’n paar wat mens raaklees in die werk van die kenners wat ek hierbo gelys het:

•Geslag: Jammer vir die manne, maar dit lyk of vroue gelukkiger is. Navorsers wat die spraakpatrone van die twee geslagte ontleed het, het bevind vroue is veel meer geneig om te sê dat hulle bly, dankbaar en tevrede is. En dis nie net omdat vroue oor die algemeen meer geredelik oor hul gevoelens praat nie. Mans praat ook baie oor hul gevoelens, maar die gevoelens wat mans die graagste uitspreek, is woede en ontevredenheid.

•Opvoeding: Dit help beslis om op skool hard te werk. Mense met hoër vlakke van opvoeding is gelukkiger. Dit is waarskynlik omdat mense met grade vryer is om ’n beroep te kies wat hulle gelukkig maak, terwyl iemand met net gr. 8 dikwels maar moet vat wat hy of sy kry. ’n Slegte werk kan jou blydskapvlakke lelik knou.

•Politiek: Konserwatiewe mense (volgens die Amerikaanse definisie van mense wat tevrede is met die huidige stand van die politiek en nie wil hê dat dinge verander nie) is dikwels gelukkiger as progressiewes wat met die huidige situasie ontevrede is en hervormings soek. Dit maak sin dat mense gelukkiger sal wees as hulle hou van dinge soos wat dit is. Maar in Suid-Afrika, waar die regses dikwels ook met die status ongelukkig is, kan dit anders lyk.

•Vriende: Jou blydskap word nie sodanig beïnvloed deur hoeveel vriende jy het nie, maar deur hoe gelukkig die vrien­de is wat jy wel het. As jy byvoorbeeld 20 vriende het, maar hulle is almal mislik, is die kans goed dat jy self mislik gaan wees. As jy daarenteen net twee vriende het, maar hulle is albei vrolik en vol glimlagte, is die kans goed dat jy self vreugdevol gaan wees. Sanderson berig as jy ’n gelukkige vriend het wat binne 1 myl van jou huis woon, verhoog dit jou kans om vreugdevol te wees met ’n allemintige 25%. So moenie so hard probeer om baie vriende te maak nie; wees eerder kieskeurig en sorg dat die vriende wat jy wel het ’n opbeurende invloed op jou gemoed het.

•Godsdienstigheid: Pew Research, ’n maatskappy in Amerika wat veral godsdienstige fenomene ondersoek, het bevind mense wat godsdienstige byeenkomste bywoon, neig om meer gelukkig te wees. Let wel, jy moet godsdiensbyeen­koms­te bywoon sodat dit werk. Mense wat by die huis sit en op hul eie gelowig is, raak nie veel meer vreugdevol as gevolg daarvan nie. Dit gaan hier moontlik oor die sosiale steun wat mense by die kerk kry. En dan is daar ’n fassinerende studie deur Sheena Sethi Iyengar van die Universiteit van Pennsil­vanië wat bevind het mense wat aan fundamentalistiese gelowe behoort (die soort wat hul heilige geskrifte baie letterlik opneem), is gelukkiger as mense wat aan gematigde gelowe behoort. Sy het hoër vlakke van blydskap onder Ortodokse Jode en fundamentalistiese Christene gevind as onder liberale Jode en Christene met ’n minder letterlike Skrifbe­skou­ing. Dit sal interessant wees as iemand eendag kan uitvind hoekom dit die geval is.

•Om aantreklik of sexy te wees: Seligman het bevind mens se voorkoms het zero impak op hoe gelukkig jy is en sy bevinding is lank wyd as die waarheid aanvaar. Maar Haidt berig sy kollegas het onlangs verder gekrap en op ’n interessante bevinding afgekom: Ja, die voorkoms waarmee jy gebore is, het wel weinig impak op jou blydskapvlakke. Maar vroue (nie juis mans nie) kan hulself later in hul lewe effens gelukkiger maak deur hul voorkoms te laat aanpas. En ja, dit verwys na plastiese chirurgie. Spesifiek vroue wat aan hul borste laat werk, is ná die tyd volhoubaar gelukkiger. Dit geld vir sowel vroue wat hul borste laat vergroot as vroue wat hul borste laat verklein.

Dié goed is als lekker om te weet en kan jou help om ’n baie gemaklike lewe vir jouself te skep. Maar dis net een deel van die storie van blydskap.

In die res van hierdie boek gaan ons eers ’n paar hoofstukke aan die blydskap van die hart wy en kyk hoe die mindfulness, dankbaarheid, eenvoud en omgee waarvan Bente praat, ons kan leer om in ons eie lewe tuis te kom. Daarna gaan ons ’n paar hoofstukke lank oor die blydskap van die maag gesels en kyk hoe ons ons lewe kan inrig sodat ons maksimaal vreugdevol kan wees.

Dié onderskeid tussen ons interne en eksterne lewe is nogal kunsmatig en die twee afdelings sal gereeld oorvleuel. Ek tref bloot die onderskeid omdat dit bietjie struktuur aan die gesprek verleen.


Voordat ons wegtrek, is daar ’n belangrike vraag waarby ons eers moet stilstaan. Mense wat hoor jy doen navorsing oor blydskap, het dikwels dieselfde vraag: Word party mense nie maar net gelukkig gebore nie?

Dit is nogal interessant dat een van die Afrikaanse woorde vir vreugdevol die woord “gelukkig” is, dieselfde woord wat mens gebruik vir iemand wat die Lotto gewen of ’n motorongeluk skraps vermy het. Dit insinueer ’n voorspoed wat oor mens se pad kom sonder dat jy veel beheer daaroor het. Is dit hoe blyd­skap werk? Is blydskap iets wat deur die lewe aan party mense uitgedeel word sonder dat hulle self veel doen om dit te laat gebeur?

Navorsing het jare lank die indruk geskep dit is inderdaad hoe blydskap werk. In ’n beroemde studie deur die sielkundige Philip Brickman is ’n groep loterywenners in die Amerikaanse deelstaat Illinois bestudeer. Brickman het vasgestel al die wenners was direk ná hul wenslag baie gelukkig, maar het binne ’n maand of twee na hul ou vlak van blydskap teruggesak. Soortgelyke studies van parapleë het getoon hoewel mense baie hartseer is direk nadat hulle die gebruik van hul bene in ’n ongeluk of weens ’n siekte verloor het, is hulle binne ’n jaar of wat weer by dieselfde vlak van blydskap as toe hulle nog kon loop.

Die gevolgtrekking wat lank wyd aanvaar is, was dat mense ’n ingebore “standaardvlak van geluk” het. Sommige mense se standaardvlak van geluk is hoog – hulle bly glimlag al gebeur wat ook al. Ander se standaardvlak van geluk is laag en hulle is maar moeilik om ooit op te kikker. Soms gebeur iets wat jou ’n bietjie van jou standaardvlak van geluk laat afwyk, maar kort voor lank neig jy maar net weer terug na hoe jy vooraf was. So gemaak, so laat staan.

In die laaste twee dekades is dié prentjie van blydskap egter op sy kop gekeer. Sedert die eeuwending is ons kennis van die menslike brein radikaal verbreed – en dit het ook beïnvloed hoe kenners deesdae oor blydskap dink.

Aanvanklik het studies op ape getoon dié diere se breine verander letterlik van vorm as hulle dieselfde taak oor en oor verrig. Die afgelope 20 jaar stel toenemend slim masjiene breinkenners in staat om ook te kyk hoe mense se breine verander as hulle sekere vaardighede of kennis inoefen.

In 2006 is ’n beroemde studie van die breine van Londense taxibestuurders gedoen. Dit het geblyk taxibestuurders, wat elke dag hul weg deur Londen se ingewikkelde stelsel van omtrent 15 000 kronkelstrate moet baan, het veel meer sinapse in die deel van hul brein wat ruimte en navigasie beheer. Deur oor en oor die doolhof van Londen se strate te navigeer, het hulle die deel van hul brein versterk wat roetes moet memoriseer.

Wetenskaplikes noem dit neuroplastisiteit, die vermoë van die volwasse brein om te verander en te ontwikkel na gelang van take of gedagtes wat mense oor en oor herhaal. Violiste het meer breinsinapse in die dele van hul grysstof wat die vingers beheer waarmee hulle die viool se snare manipuleer. Blindes het meer sinapse in die deel van hul brein wat die vingerpunte in staat stel om braille te lees. Deur dieselfde dinge oor en oor te doen of te dink, kan jy letterlik die fisieke werking van jou brein verander.

Mens sou meen indien ons blydskapvlakke dan in ons brein vasgelê is, beteken breinplastisiteit dit moet moontlik wees om daardie vlak ook te skuif. En wraggies, toe breinkenners soos Francisco Varela en Richard Davidson studies doen van Oosterse monnike wat gereeld mediteer, het hulle bevind dié mense se breine lyk en funksioneer anders as die res van ons s’n. Hulle kan byvoorbeeld deur jare se meditasie hul breine leer om gamma­golwe te genereer wat van so ’n omvang is dat hulle meer vreed­saam en gelukkig voel as enige ander mense wat al gemeet is.

Die gevolgtrekking vir ons boek: Nie almal word ewe gelukkig gebore nie, maar ons almal kan ons brein oefen om gelukkiger te word.

Dis bemoedigend. Miskien vertrek jy op hierdie reis vanaf ’n plek waar blydskap vir jou vreemd voel. Miskien is dit ’n vaardigheid waarmee jy nog altyd sukkel. Jy is nie alleen nie. Baie van die mense wat ons in die volgende hoofstukke gaan ontmoet, het met ’n groot agterstand begin werk en stadig die vermoë aangekweek om vreugdevol te wees.

Johan was ’n gevangene in een van Suid-Afrika se mees berugte tronke toe hy die reis begin het. Bronwen was ’n kwaai vrou wie se lewe haar so gefrustreer het dat sy letterlik in ’n oerwoud gaan wegkruip het. Michal het blydskap begin soek toe hy in die middel van ’n gruwelike en hatige egskeiding was. Belinda het mense vertel sy “is hartseer gebore”.

Vandag is hulle almal nes Franciskus my ikone van blydskap.

Selfs al is jou omstandighede uitsigloos, kan jy dit verander.

Hier’s hoe:

Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe

Подняться наверх