Читать книгу Die einde van die wêreld - Johannes Bertus de Villiers - Страница 3
ОглавлениеINLEIDING
Die laaste man op aarde
Vra jou af, wat sal jy doen as jy hoor die wêreld gaan binnekort eindig?
Toe Jakkals Loubser dié nuus hoor, het hy sy stapskoene aangetrek, ’n sakkie vol proviand gepak en koers gekies na die berge.
Dit sal nie heeltemal akkuraat wees om te sê Jakkals het gevlúg nie. Hy was in sy middel veertigs en het in sy lewe al genoeg tyd in die wildernis deurgebring om te weet jou kans op oorlewing is beduidend beter as jy deeglik voorberei, en dus het hy eers kaarte van sy tuisprovinsie, die Oos-Kaap, gefynkam om ’n gepaste berg binne ry-afstand van sy huis te vind. In boeke het hy nagevors watter voorrade hy sal benodig. Op Google Earth het hy lugfoto’s deurgesoek vir ’n diep, versteekte kloof wat lopende water het en so onbegaanbaar is dat geen vreemdeling tydens die Laaste Dae sy kosvoorrade sou kan kom steel nie.
En toe is hy berge toe.
Dit was ses jaar gelede.
Ek het onlangs eers van Jakkals uitgevind toe ’n universiteitsvriendin my vertel van haar broer wat vir hom ’n grot in die berge ingerig het om die einde van die wêreld daar in te wag. Hy praat nie juis met vreemdelinge daaroor nie, het sy vertel, maar as sy vir my ’n goeie woordjie insit, sal hy dalk instem om my te wys hoe sy grot lyk.
Teen daardie tyd was ek reeds ’n geruime tyd bewus van iets vreemds in die lug. ’n Vriend van my het ’n jaar vantevore landwyd koerantvoorblaaie gehaal toe hy deur Suid-Afrika gereis het om mense te waarsku dat die wegraping op 21 Mei 2011 gaan plaasvind. ’n Ander vriend het een aand uit die bloute vir my ’n CD gegee vol lesings oor hoe mens jou moet beveilig wanneer ’n natuurramp die beskawing verwoes. Op besoek aan ’n universiteit vertel ’n akademikus my hy leer sy kinders om ysterwapens te maak sodat hulle hulself kan verdedig nadat die samelewing in duie gestort het. Op ’n klein dorpie in die Suid-Vrystaat sê die eienaar van ’n padstal my van ’n groep Swede wat onlangs daar verby is op pad na Lady Grey om ’n plaas te koop waarop hulle in Desember 2012 die einde van die wêreld wil gaan inwag. ’n Kennis lig my in oor ’n Johannesburgse miljoenêr wat stil-stil en ten duurste op ’n plot ’n bunker laat bou het. ’n Vrouetydskrif kontak my en vra of ek deel wil wees van ’n paneel skrywers wat bespiegel of die wêreld in 2012 gaan eindig.
Wat gaan hier aan? het ek begin wonder. Was daar al ooit soveel mense wat oor hul skouers loer vir een of ander verskrikking uit die hemele?
Ek het my vriendin om haar broer Jakkals se nommer gevra sodat ek kon uitvind wat dit is wat mense na die berge laat vlug.
En só staan ek toe een sonnige Februariemiddag, met stapsandale aan my voete en ’n paar pakkies grondbone in my rugsak, buite Port Elizabeth se lughawe en wag dat Jakkals my kom oplaai om my sy grot in die berge te gaan wys.
* * *
Vertel mense van iemand wat in ’n grot gaan skuil om ’n ramp in te wag en baie van hulle verwag ’n figuur soos die Ou-Testamentiese profeet Elia, wat glo in ’n grot van reënwater, broodkrummels en kraaivleis gaan leef het terwyl hy gewag het dat ’n ramp Israel tref. En as jy Jakkals die eerste keer sien, kan hy nogal ’n bietjie soos ’n Kinderbybel-Elia lyk. Hy is bebaard. Sy vel is bruingebrand. Ondanks sy vyftig lewensjare is hy net spier en sening, waarskynlik danksy jare se bergklim en al die weke wat hy al in die wildernis van rys, neute en spekboomblare geleef het.
Anders as Elia se vlamwa, laai Jakkals my egter op met ’n ou kombi wat aan sy vriend Nick behoort. Nick is ’n musikant (“een van die beroemdste rockmusikante in die Baai”) en hy gaan saam. “As een ou val of seerkry, is daar iemand wat by hom kan wag terwyl die derde een hulp gaan soek.”
Nick se kombi is die tipe waarin mens sal verwag ’n rockmusikant ’n groot deel van sy tyd sal deurbring. Daar is gordyntjies voor die vensters, ’n matras agterin en ’n kitaar onder die sitplekke. Die binnekant ruik na ou tabakrook.
Daar is iets hippierigs aan Jakkals en Nick, besef ek terwyl ek van die agtersitplek af na hul gesels luister – twee vyftigjarige ouens wat oor lang jare goed skepties oor die moderne samelewing geraak het en lankal oortuig is dat die kapitalistiese Westerse wêreld een of ander tyd onder sy eie gewig in duie gaan stort.
Dit is ’n paar ure se ry vanaf die lughawe na die voet van Jakkals se berg. “Ek sê nou juis vir Jakkals,” vertel Nick oor sy skouer, “as die einde kom, is jou grootste bekommernis nie die asteroïde of die kernwapens wat uit die lug val nie. As jy in die pad van daai goed beland, is daar niks wat jy daaraan kan doen nie. Die ding waarop jy jou moet voorberei, is om ná die ramp te oorleef, wanneer die paar mense wat oorbly oor kos begin baklei.”
Terwyl hy aan ’n handgerolde sigaret teug, vertel Jakkals hy het ’n grot gekies so ver moontlik van die stad af. “’n Plek waar daar geen ander donderse mense is nie.”
Hulle parkeer Nick se kombi teen skemer aan die voet van die berg en maak ’n vuurtjie van rondlêhout. Dis ’n weeksaand en daar is geen ander stappers naby nie. Die enigste geluid uit die bos is dié van goggas, ’n bruisende riviertjie en in een stadium ’n bok wat deur die bosse naby die kampterrein bars.
Langs die vuur vertel Jakkals hy het oor die einde van die wêreld begin wonder toe sy dogter hom vertel het van bespiegelings dat daar ’n groot katastrofe aan die einde van 2012 gaan plaasvind. Hy het opgelees en was verstom oor al die moontlike rampe wat mense voorspel. Op sommige 2012-webwerwe het hy byvoorbeeld die teorie gelees dat daar in ons sonnestelsel ’n planeet is wat nog nie deur sterrekundiges waargeneem is nie, dikwels genoem Planeet X of Nibiru, en dat dié planeet op ’n koers is wat binnekort met die aarde s’n gaan kruis.
Hy kyk op na die Magellaanswolk wat helder langs die Melkweg hang. “As daai ding teen die spoed van lig op jou afpyl, sal jy dit nie sien voordat dit omtrent bo-op jou is nie – die planeet is byna net so vinnig hierheen op pad as sy eie lig.”
Nick het sy eie teorie. “Ek gaan net een ding sê en dan gaan ek geen verdere kommentaar lewer nie: Ruimtewesens uit die buitenste ruimte.”
“En jy?” vra hulle meteens en kyk albei in my rigting. “Wat dink jý gaan die einde veroorsaak?”
Ek is onkant gevang. In die weke voor my besoek aan Jakkals het ek by wetenskaplikes gaan kers opsteek, onder hulle van die wêreld se slimste fisici. Ek het ook met waarsêers en fortuinvertellers gesels. Daar is uiteenlopende teorieë oor die wêreld se einde – sommige oortuigend, ander nie. Sommige mense beweer ’n groot storm op die son gaan plasma en elektromagnetiese golwe in ons rigting stuur wat al ons tegnologie gaan vernietig en, in die ergste scenario, die aarde hard genoeg gaan skop dat ons in die teenoorgestelde rigting sal begin draai, met rampspoedige gevolge. Daar is mense wat praat van Planeet X en ruimtewesens. Party wag vir ’n groot asteroïde of komeet om die aarde met die krag van 100 000 Hirosjimas te tref en die mensdom uit te wis, nes ’n soortgelyke ruimterots 65 miljoen jaar gelde met die dinosourusse gedoen het. Ander voorspel ’n supervulkaan wat grotendeels dieselfde skade as ’n reuse-rots uit die hemel kan aanrig. En nóg ander sê ons hoef nie te wag vir enige van dié rampe om die mens te kom uitwis nie; ons kan net agteroor sit en wag, want die mens is op eie stoom reeds deeglik op pad om sy tydjie op aarde kort te knip.
Met watter een van dié rampe sou ek vir Jakkals en Nick kon bangmaak?
“Ek was ’n paar maande terug (vroeg in 2012) in die Krugerwildtuin toe ’n sikloon die ooste van die land getref het en oorstromings groot dele van die gebied laat wegspoel het,” vertel ek hulle. “Die Sabierivier het oor sy oewers gebars en hele ruskampe verwoes, in die omgewing van Hoedspruit is brûe en paaie deur die vloedwaters vernietig en elders is hele huise meegesleur. Maar toe ek die bestuur van die Wildtuin vra of hulle bekommerd is dat die oorstromings hul skaars grootwild, soos renosters en olifante, afgemaai het, het hulle geantwoord hulle is heeltemal gerus; hulle kon nie die karkas van ’n enkele groot soogdier vind nie. Blykbaar het al die diere op een of ander instinktiewe wyse van die naderende ramp te wete gekom, nog voordat die Suid-Afrikaanse Weerdiens of enige wetenskaplike geweet het die sikloon is op pad. Die diere is deur ’n ingeboude meganisme gewaarsku dat ’n lewensbedreigende fiasko op pad is en het na hoër grond gevlug. Mense in Indonesië vertel dat die diere daar op ’n soortgelyke wyse opgetree het voordat die groot tsoenami van 2004 dié land se kus getref het.
“Nou wonder ek, is daar nie dalk iets soortgelyks met mense aan die gebeur nie? Skop ons gevaarinstinkte nie nou in nog voordat ons rasionele verstand dit kan verklaar nie? Is al die waarskuwings oor Planeet X en ’n groot asteroïde en sonstorms nie ’n manier waarop die kollektiewe onderbewussyn van die mensdom ons probeer waarsku dat die tyd aangebreek het om na hoër grond te vlug nie?”
Jakkals en Nick kyk my ’n oomblik fronsend aan, terwyl ek ’n bietjie laf voel oor dié vermoede wat ek nog nooit hardop uitgespreek het nie. Ek beskou myself as ’n rasionele mens, as iemand wat hom op wetenskaplike feite verlaat, maar geruime tyd reeds knaag dit aan my: Hoekom is almal nóú skielik so bekommerd?
Uiteindelik sug Jakkals. “Wat praat jy alles?”
“Wat praat jy alles?” herhaal Nick.
* * *
Aanvanklik lyk dit nog asof vorige stappers ’n roete deur die bos oopgetrap het, maar ná ’n uur of twee loop dié paadjie dood by ’n groot poel met ’n lang waterval en loodregte, skynbaar onbegaanbare kranse. Hier word Jakkals soos ’n aapmens. Hy swem met rugsak en al oor die water. Oorkant die poel gryp hy vas aan die wortels van bome wat teen die kranse groei en begin hom ophys. Ek en Nick moet agterna. Ná ’n lang, byna loodregte klim, kom mens by ’n volgende diep, ongerepte vallei waarlangs jy weer ’n ruk voetslaan. By tye kom jy op groot poele af wat die hele vallei versper en moet jy swem deur water wat gaandeweg al hoe kouer word. Soos wat die strook hemel tussen die kranse bokant jou dunner raak en die sonlig al minder, bestaan die plantegroei al meer uit varings en geelhoutbome. Soms dink jy dat jy ’n bobbejaan hoor blaf, maar meestal oordonder die gedruis van die rivier alles. Ná ’n halfdag se stap en klim, besef jy dat jy ’n gebied betree waar geen mens ooit kom nie.
“Welkom by my huis,” sê Jakkals en skarrel teen ’n steilte uit, sleep homself op aan ’n boom en klouter tot op ’n rotswand. Daar is ’n skeur wat mens van onder skaars kan sien, en dáár versteek Jakkals die proviand wat hy oor die laaste ses jaar na die grot opgedra het.
Teen die tyd dat ek my agterna gesleep kry, hoor ek Jakkals reeds vanuit sy grot kla – ’n rot het op sy voorrade afgekom, deur van die plastieksakke geknaag en op van sy blikeetgerei gemis. Hy pak alles uit. Daar is ’n bakkie koring (waarmee hy koringgras wou kweek, maar die rotte het deur die bak gekou en die inhoud het gevrot), sakkies met bruin basmati-rys, ’n pen, ’n waslap, ’n slypsteen, ’n tonteldoos, opblaasmatrasse, opblaaskussings, slaapsakke, batterye, twee rolle staaldraad, verbande, lym, ’n opslaangrafie, messe, vurke, lepels, ’n blikketel, knope, ’n naelknipper, ’n haartangetjie, ’n reënjas, tabak en ’n pyp, leerhandskoene, wasgoedpennetjies, ghries, moersleutels, tange, ’n saag, ’n sak vol warm serpe, sokkies en balaklawas, ’n potjiekospot, vier gashouers vir sy stofie, ’n medisynetas met onder meer Zam-Buk en antiseptiese room, kerse, grondseile, visvanggereedskap, maskeerband, ’n Olfa-mes, Zippo-brandstof en albasters.
“Waarvoor is die albasters?”
“Kettie.”
Nick tel ’n klein radio’tjie op wat tussen Jakkals se voorrade lê. Jakkals verduidelik die radio’tjie kan kortgolf opvang vir die dag wanneer dít die enigste oorblywende vorm van elektroniese kommunikasie sal wees. Nick draai die knoppie en kom op ’n radiostasie af. Dis RSG en die program is Loslip met Ian Wessels.
“As die wêreld môre eindig, kan jy darem nog na Loslip met Ian Wessels luister,” sê ek.
Terwyl Jakkals sy voorrade herrangskik, vra ek hom uit.
Waarmee gaan hy sy tande borsel hier bo?
“Ek het tandepasta iewers. Maar as mens gesond genoeg eet, het jy later nie meer tandepasta nodig nie.”
En as ’n slang hom pik?
“Dan moet jy maar sit en wag om te sterf.”
En as ’n 2 km hoë tsoenami uit die see opstaan en deur hierdie kloof spoel, soos party mense voorspel?
“Ek het ’n opblaasbootjie hier naby weggesteek.”
* * *
Daardie aand slaap ons in Jakkals se slaapsakke en maak beurte om wag te staan teen luiperds. Ons stap die volgende oggend verder. Ons eet spekboomblare. Ons swem onder nog watervalle.
Ek laat Jakkals en Nick voor my uit loop en gaan sit op ’n rots. Toe ons die beskawing verlaat het, was die radio en koerante vol van die nuus dat oudpresident Nelson Mandela in die hospitaal is. Nou het ons geen idee wat intussen gebeur het nie. Die hele wêreld kan in duie stort en ons sal dit nie weet nie. Mense kan in die strate van Johannesburg om die laaste bietjie blikkieskos veg en ons sal hier in die berge rustig slaap. Die gedagte kom meteens by my op: Daar is nie nog ’n mens op aarde nie. Daar is net ’n rivier wat rondom my borrel en bruis en spreeus wat veraf skree, die son wat flouerig in spatsels deur die boomtakke val. ’n Voël waarvan ek nie eens die naam ken nie, met die lyf van ’n tarentaal en ’n bloedrooi gesig, kom nader en kyk met sy kop skuins gedraai na my. Hy maak ’n geluid wat soos ’n Volksie se toeter klink. Woon hy hier in die kloof? Is ek die eerste mens wat hy nog ooit gesien het? Is ek die laaste mens wat hy ooit sal sien?
Terug by die grot maak Jakkals koffie. Hy hurk langs die gasstofie, rol ’n sigaret en gesels.
“Kyk, dit werk eintlik só: As een of ander katastrofe die aarde tref, selfs al weet ek dat ek gaan vrek, dan kom sit ek steeds eerder hier om dood te gaan as om in een of ander bunker vir die dood te wag. Daai ryk mense sal nog op hul laaste dag in hul bunker sit en blikkieskos eet, dan sit ek hier en eet spekboom.”
Hy trek aan sy sigaret en klap sy lippe van lekkerkry.
* * *
As mens deur geskiedenisboeke blaai, is dit opvallend dat mense nog altyd gedink het dat hulle in die skadu van die apokalips leef. In antieke Babilonië het mense in spykerskrif op kliptablette geskryf die einde kan nie meer ver wees nie. In die Middeleeue het predikers hulself dag en nag met swepe geslaan ter voorbereiding op die naderende wederkoms. In 1999 het IT-fundi’s gesidder dat die Y2K-gogga rekenaars so erg gaan omkrap dat kernmissiele hulself gaan lanseer en satelliete uit die lug gaan val.
Twee dinge val mens egter op oor die huidige eindtydfiksasie. Eerstens kom dié vrese oor ’n veel wyer spektrum van die samelewing voor. Wetenskaplikes, godsdienstige predikers, psigiese mediums en doodgewone mense voer almal redes (weliswaar uiteenlopend) aan hoekom die wêreld soos dit tans daar uitsien nie meer lank kan voortbestaan nie. En tweedens is dit baie moeilik om verby die objektiewe gegewens te kom wat daarop dui dat ons veel nader as ooit tevore aan ’n reële, konkrete natuurramp is wat die mensdom kan uitwis.
Iets snaaks gebeur met jou as jy jou in dié inligting verdiep. Ek stap in die aand deur ’n straat in Bloemfontein en sien skielik voor my geestesoog hoe een of ander verskrikking uit die hemel neerdaal, ’n lig soos dié van honderd sonne wat my verblind en al die stad se geboue soos strooihuisies wegwaai. Die beeld is so oorweldigend dat ek ’n oomblik moet stilstaan. By ’n ander geleentheid gesels ek met ’n vriendin en sy begin praat oor die hopeloosheid van die mensdom se bestaan, hoe ons planeet deur die ruimte al dieper die duisternis in tuimel op pad na een of ander verwoesting wat ons gaan uitwis. Die gesprek raak so neerdrukkend dat ons uiteindelik maar in stilte voor ons uitstaar; nie een van ons het troos vir die komende uitwissing wat al hoe meer onvermydelik lyk nie.
Dié boek gaan oor my pogings om uit te vind watter ramp die mensdom tot ’n einde kan bring en wat jy kan doen as jy, soos Jakkals, vasbeslote is om die einde van die wêreld te oorleef. Selfs al gebeur die heel ergste ding wat die heelal in ons rigting kan stuur, sê baie mense daar is tog hoop. Die aarde is al deur minstens vyf massa-uitwissings van lewe, en elke keer het ’n paar tawwe, slim wesens dit reggekry om heelhuids anderkant uit te kom. In die toekoms sal die oorlewendes heel moontlik dié wees wat konkrete stappe doen om hulle vir die Laaste Dae voor te berei. En om dít te kan doen, moet jy ingelig wees.