Читать книгу Die einde van die wêreld - Johannes Bertus de Villiers - Страница 4
ОглавлениеAFDELING 1
Die naderende einde
Net omdat die aarde binnekort gaan vergaan, beteken dit nie jy kan ophou om jou rekeninge te betaal nie. Daarom sloof Jakkals, wat lankal voltyds in sy grot wou woon, hom die meeste van die tyd in die stad vir ’n salaris af. Maar al is hy nou die meeste van die tyd in die stad, sê hy een ding is seker. Op 21 Desember 2012 gaan hy al sy verpligtings laat staan en in sy grot gaan wag.
Die einde van 2012 is ’n datum wat pal opduik as mense oor die eindtye gesels. Party dink dit is die dag waarop die aarde deur ’n ongekende katastrofe verswelg gaan word. Ander meen dit is die afskop van ’n era waarin dinge stelselmatig agteruit sal gaan totdat die bekende wêreld weldra tot sy einde kom.
Jakkals het dié datum die eerste keer gehoor toe sy dogter, destyds ’n tiener, hom ses jaar gelede uit die bloute gevra het of hy weet dit is die datum van die apokalips. Nee, het hy geantwoord, maar hy sal kyk of hy op die internet meer kan uitvind. En soos enigeen sal kan getuig wat al die woorde “end times 2012” in ’n soekenjin ingetik het, was hy binne minute vasgevang in ’n bisarre kultuur van rampvoorspellings en oorlewingswenke.
Op of ná 21 Desember 2012, voorspel sommige webwerwe, gaan enorme sonstorms die meeste van ons kommunikasiesatelliete en kragnetwerke uitskop en die beskawing tot ’n einde bring. Ander doemprofete gaan verder en voorspel dié sonstorms gaan die aarde se magneetveld laat omswaai en byna alle lewe uitwis. Daar is bespiegelings oor die misterieuse Planeet X wat in sy verbyswaai naby ons amok op aarde gaan saai. En selfs erger, sommige webwerwe voorspel dat Planeet X ’n klomp gevaarlike inwoners het wat na die aarde gaan oorspring om die mensdom af te maai.
21 Desember 2012 is nie noodwendig die presiese datum van die einde nie, maar dit gaan wel ’n nuwe era inlei, sê die doemprofete, en dié oorgang sal met gewelddadige ontwrigtings gepaard gaan. Die ontwrigtings kan in 2012 gebeur, maar ook in die jare wat op die oorgang volg.
Maar hoekom presies 2012? Die antwoord lê baie ver terug, aan die ander kant van die wêreld.