Читать книгу Die einde van die wêreld - Johannes Bertus de Villiers - Страница 6

Оглавление

Sonde met die son

Enorme storms op die oppervlak van die son stuur uitstralings

in ons rigting wat die beskawing verwoes.

Om 05:59 op die oggend van Maandag 23 Januarie 2012 het die son gehoes. En soos wat dikwels met ’n hoes gebeur, sou dit heel verskoonbaar gewees het as dit nie was vir die feit dat iemand anders – in dié geval die aarde – reg in die pad daarvan gestaan het nie.

Die enorme bol vuur, gas en aanhoudende kernontploffings wat ons die son noem, is in sommige opsigte bietjie soos ’n pastei in jou oond. Soos wat die binnekant warmer word, word die drukking al hoe meer en meer, met die gevolg dat die hele ding eendag sal bars as daar nie van tyd tot tyd ’n klein gaatjie in sy kors vorm om van die drukking te laat ontsnap nie. In die son se geval is die drukking wat deur dié klein gaatjies uitgelaat word massiewe uitbarstings van elektromagnetiese bestraling en plasma wat dikwels groter as die aarde self is. Op 23 Januarie het die son een van dié gebruiklike uitbarstings gehad en dit teen 2 000 km/sekonde uitgespoeg – ongelukkig reguit in die rigting van die aarde.

Op aarde het ’n ligte histerie posgevat. Lugdienste soos Delta en United Airlines in die Noordelike Halfrond, waar die son se uitstralings die aarde reguit sou tref, het hul roetes gewysig. Alarmiste het bespiegel dat satelliete en kragnetwerke ontwrig sou word. Maar toe die son se uitstralings die aarde die volgende dag, op 24 Januarie, tref, was dit ’n antiklimaks. Satelliete het ongestoord in hul wentelbane om die aarde getol, kragnetwerke het aangehou om elektrisiteit na huise te gelei en selfs in die hoogste vliegtuie het niemand bestraling opgedoen nie. Teen Woensdag het die uitstralings Mars getref, waar daar geen lewe is nie en dus selfs nog minder skade aangerig kon word.

* * *

Sonstorms is een van die vernaamste bedreigings wat die laaste jare deur doemprofete as ’n moontlike oorsaak van die komende wêreldeinde aangevoer word. My vriend Ben beweer dit gaan die hele string gebeure afskop wat tot die apokalips gaan lei. Maar ná die teleurstellende “katastrofe” van Januarie 2012 het baie skeptici hul skouers opgehaal en die woordjie “sonstorms” van hul lysie van wêreldbedreigende gevare geskrap. Dit is ’n fout.

Om te weet hoekom sonstorms wel ’n mate van amok op die aarde kan saai (hulle het dit immers in die verlede al reggekry), hoef mens net te kyk hoe die son werk.

Die son is eintlik een uitgerekte proses van ontploffings, waansin en geweld, wat voortdurend die afval van dié ontploffings die ruimte in stuur. Die son se uitstralings sou alle lewe op aarde millennia terug al verkool het asof ons in ’n reuse-mikrogolfoond sit, maar gelukkig word die aarde deur ’n onsigbare skild, die magnetiese sfeer, omring. Die magnetiese sfeer is ’n veld wat die planeet soos ’n jas toedek (dink aan die onsigbare “shields” wat ruimteskepe in Star Trek om hulle oprig sodat vyande se missiele daarvan afbons). Die ergste bestralings wat die son in ons rigting stuur, bons van die magnetiese sfeer af weg in die rigting van die pole en kom nooit by ons op die oppervlak uit nie.

Maar nou kry mens dae dat die son buitengewoon woedend raak en ’n paar ekstra uitstralings afvuur. Dit is wat ons ’n sonstorm noem. Die sonstorms stuur ’n vernietigende wolk (wat miljarde tonne weeg) van elektrone, protone, helium, waterstof en allerlei ander dinge wat die son self nie eens meer onder sy oppervlak wil hê nie teen ’n spoed van tot 8 miljoen km/h die ruimte in. Dit is soos ’n paar miljoen kernwapens wat gelyk in een rigting afgevuur word.

Gelukkig is die son ver en die ruimte groot, so verreweg die meeste van sy uitbarstings vlieg ver by ons verby en verdwyn in die dieptes van die ruimte in. Skiet mens egter oor ’n lang tyd genoeg skote in die duister, is dit onvermydelik dat jy eendag ’n sensitiewe teiken gaan tref, selfs al het jy nie daarvoor gemik nie. So van tyd tot tyd tref ’n groot sonstorm se uitstralings ons reguit. En wanneer dít gebeur, so gee die meeste kenners toe, kan dit ten minste ’n mate van ongerief op aarde veroorsaak, indien nie iets ergers nie. In die verlede het sulke uitstralings al elektriese kragnetwerke ontwrig, transformators vernietig, met elektronika ingemeng en mense in hoë vliegtuie en satelliete aan gevaarlike bestraling blootgestel.

* * *

Die uitwerpsels van ’n sonstorm tref die aarde in drie fases.

• Eers sal ’n groot klomp elektromagnetiese bestraling wat blitsvinnig van die son af uitbeweeg hier aankom. Dit het die potensiaal om GPS-satelliete te beskadig en ons kommunikasienetwerk te ontwrig.

• Kort op die hakke daarvan volg ’n vlaag protone wat die elektronika van satelliete verder sal beduiwel.

• En dan kom die relatief stadige, maar gevreesde “koronale massa-uitwerping” (dit tref die aarde eers ’n dag of wat ná die sonstorm). Die koronale massa-uitwerping is die deel wat werklik moles maak op die aarde. Ruimtevaarders op die Internasionale Ruimtestasie het ’n spesiale hoekie waar hulle daarvoor moet wegkruip. Op die oppervlak van die aarde veroorsaak dit ekstra strome in elektriese geleiers wat in die verlede al hele kragnetwerke oorlaai en transformators uitgeskop het. Doemprofete soos die Amerikaanse skrywer Matthew Stein meen koronale massa-uitwerpings van ’n sterk genoeg sonstorm kan kernkragreaktors wêreldwyd laat smelt en kernontploffings oor die aarde heen veroorsaak (hy skryf van “400 gelyktydige Tsjernobils”), maar daar is nog geen wetenskaplike bewyse om Stein se voorspelling te staaf nie.

Is daar enige manier om te voorspel wanneer die son so ’n storm in ons rigting gaan afvuur? Nes met aardse weerpatrone, is daar een of twee tekens wat ons soms waarsku dat onweer op die son op pad is. Sonstorms hou byvoorbeeld verband met die aantal sonkolle op ons ster se oppervlak. Sonkolle is die donker spatsels wat mens soms op foto’s van die son kan sien. Hulle is ’n bietjie soos vulkane op aarde – sagte plekke in die kors wat die binnekant toelaat om van tyd tot tyd uit te bars om drukking te verlig. Sonkolle neem in siklusse van elf jaar toe om ’n klimaks van sonaktiwiteit te bereik, neem dan weer af tot ’n laagtepunt, en styg dan weer om elf jaar later ’n volgende klimaks te vorm.

Diegene wat glo 2012 is die begin van ’n era van rampspoed en verwoesting wys daarop dat ’n maksimumfase van die huidige siklus in Mei 2013 verwag word. Dit sal egter nie help om jou in Mei 2013 in tinfoelie toe te draai en die hele maand in ’n bunker weg te kruip nie – hoewel dit die siklus se maksimum is, is hewige sonstorms in die verlede al tot twee jaar voor of ná die piek van ’n siklus opgeteken.

Kyk maar na enkele voorbeelde:

Op Halloween in 2003 het die sterkste sonstorm van sy generasie die aarde getref, maar aangesien dit meestal die poolstreke gelooi het, het die res van die wêreld nie veel daarvan opgemerk nie. In Suid-Afrika het dit egter ’n transformator vernietig en die land se sukkelende kraginfrastruktuur ’n onwelkome knou gegee.

In 1989 het twee swakker storms Kanada getref en veel groter chaos veroorsaak omdat dit die kragnetwerk in die land oorlaai en ses miljoen mense eensklaps in die donker gelaat het.

Die ergste sonstorm op rekord – een wat die boonste twee na vulletjies laat lyk – het die wêreld in 1859 getref, genadiglik lank voordat die mensdom van elektriese netwerke afhanklik was. Die Carrington-storm (genoem na die wetenskaplike wat dit eerste verklaar het) het gevolg toe ’n storm elektromagnetiese uitstralings van sowat 10 triljoen triljoen watt in die aarde se rigting uitgestuur het. (Ek kan my nie indink hoe 10 triljoen triljoen watt lyk nie, maar die skrywer Lawrence Joseph beweer dit is sterker as al die energie, elektries of meganies, wat nog ooit op aarde geproduseer is.) Die eerste twee fases van die storm se uitstralings het die aarde ongemerk getref omdat daar geen satelliete was wat daardeur geaffekteer kon word nie, maar die derde fase was so sterk dat dit kompasnaalde regoor die wêreld heen in die rondte laat tol het. Die stroom wat dit in telegraaflyne veroorsaak het, was so aktief dat telegraafoperateurs hul masjiene kon aanhou gebruik selfs nadat hulle die batterye ontkoppel het.

* * *

Nou ja, sal die meeste mense sê, dit klink erg, maar ’n kragonderbreking en ’n telegraaf wat buite beheer raak, is nog lank nie die einde van die wêreld nie.

Probeer jou egter die volgende scenario indink: ’n Sonstorm van die omvang van die Carrington-storm – 50% groter as enigiets wat die mensdom die laaste dekades gesien het – vind vandag plaas en stuur sy uitstralings in die rigting van ’n aarde waarop die mensdom volledig van selfone en elektrisiteit afhanklik geword het. Jy gaan ’n paar dae later winkel toe om kos te koop, maar daar is niks beskikbaar nie omdat die vervoernetwerk tot stilstand gekom het. Al die ou kos in die yskaste, wat ingevolge die huidige praktyke so na as moontlik aan die vervaldatum afgelewer word, het begin vrot. Jy keer terug na jou huis en sien ander mense, wat ook begin agterkom het die kos raak min, is besig om by jou huis in te breek en jou spens leeg te maak. Jy kan nie die polisie bel nie, want jou selfoon werk nie, so jy probeer hulle self stop en hulle slaan jou katswink. By die hospitaal aangekom (jou bure moet jou soontoe dra, want jy kan nie ’n ambulans bel nie en die ambulansdienste het in elk geval tot stilstand gekom sedert die brandstofaflewerings opgehou het), vind jy uit hulle kan jou nie behandel nie, want die krag is af. Talle ander siekes moet ook by die deur omdraai, want die medisyne in die warm yskaste begin min raak. Boonop kan niemand meer vir enigiets betaal nie, want die bankdienste – teen dié tyd volledig op elektroniese data aangewese – het in duie gestort. Krane is droog, want water kan nie meer gepomp word nie, die regering kan nie wet en orde toepas nie, die mense raak al hoe meer rusteloos en die paaie uit die stede word deur verkeersknope versper.

Dis duidelik waarop dinge afstuur. Kan dit gebeur?

In die vaktydskrif Space Weather het daar kort ná die hewige sonstorm van Januarie 2012 ’n artikel verskyn deur sterrekundiges in San Diego wat na aanleiding van die siklus van sonkolle uitgewerk het daar is ’n kans van een uit agt dat die aarde voor 2020 deur uitstralings van ’n massiewe sonstorm getref gaan word – ’n storm van Carrington se omvang.

Voordat ek egter ’n bunker bou of my eie grot gaan uitsoek, is dit tyd om by die weerman aan te klop. Ek bel dus die ruimteweerstasie op Hermanus en word meegedeel ’n navorsingswetenskaplike van die Kanadese Ruimteweeragentskap is tans daar op besoek.

“Die eerste ding wat mense in ag moet neem, is dat die huidige sonsiklus omtrent net twee derdes so sterk soos die vorige een is,” vertel Donald Danskin my in ’n stem wat glad te rustig klink vir iemand wat hom heeldag met radioaktiewe sonuitbarstings besig hou. Trouens, hy klink effens verveeld, asof hy in sy lewe al gans te veel vrae oor sonstorms gehoor het.

Hy lys redes om nie te gou paniekerig te raak nie.

“As ’n storm op die son losbars en ’n klomp uitstralings afvuur, hou dit gewoonlik net sowat ’n uur lank aan, ongeag hoe sterk dit is. Daardie kort tydsduur van die storm is goeie nuus vir die aarde, want dit beteken net die deel van die aarde wat vir sowat ’n uur na die son toe wys, sal daardeur geraak word.

“Daar is heelwat tussen ons en die son wat ons beskerm. Benewens die magnetiese sfeer wat skadelike bestraling laat wegbons, is daar nog die ionosfeer, wat groot hoeveelhede energie absorbeer. En dan die atmosfeer, en spesifiek die osoonlaag, wat ultraviolet strale uitfiltreer.”

Maar selfs hy moet tog toegee dat ’n sonstorm so sterk soos die Carrington-storm moeilikheid op die aarde se oppervlak kan veroorsaak?

“Ja, seker,” erken hy. “As hulle regtig baie sterk is, kan hulle geomagneties geïnduseerde elektriese strome in ons kragnetwerke veroorsaak. Maar dikwels is die daaropvolgende probleme die gevolg van sekondêre faktore, eerder as die sonstorm self. Toe dele van Kanada se kragnetwerk in 1989 afgeslaan het, was dit nie weens die krag van die storm nie, maar eerder omdat die netwerk se ingeboude veiligheidstelsel opgelet het daar is vreemde strome in die netwerk en toe homself afgeskakel het. Die kragonderbrekings was dus eintlik die gevolg van die veiligheidstelsels, eerder as die storm self.”

’n Tweede erge storm het Kanada in 1982 getref, voeg hy by. “Ons het ’n paar satelliete kortstondig verloor en kon ’n ruk lank nie TV kyk nie. Dis eintlik maar die ergste wat kan gebeur.”

* * *

Dit sal seker verkeerd wees om teleurgesteld te voel as iemand jou vertel daar is geen ramp op pad nie, maar ek het regtig iets meer dramaties verwag. Talle 2012-doemprofete skets ’n prentjie van hele gemeenskappe wat in honger barbare gaan ontaard binne dae nadat ’n sonstorm die samelewing lamgelê het.

Ek gaan kuier dus by nog ’n slim ruimtekenner, die kernfisikus Gerrit Genis, by sy huis in Pretoria. Gerrit was al betrokke by allerlei projekte oor kernkrag en satellietkommunikasie, en is een van die kenners by wie mens gerus kan aanklop vir ’n betroubare mening oor dié tipe goed.

“Dit klink baie erg as mense jou vertel daar kan sonstorms wees wat satelliete uitslaan,” begin hy, “maar dit gebeur elke jaar so twee keer dat sonstorms hewig genoeg raak om satellietkommunikasie te benadeel. Mense begroot daarvoor. Satelliete is nooit honderd persent van die tyd beskikbaar nie.”

Die deurslaggewende faktor is dat die aarde relatief tot die son baie klein en baie ver is, gaan hy voort. So selfs al vind ’n ondenkbaar massiewe uitbarsting op die son se oppervlak plaas, is die kans steeds skraal dat dit die aarde gaan affekteer. Kyk een aand op in die lug en jy sal sien wat ’n klein deeltjie van ons hemelruim enigeen van die planete, soos Jupiter of Venus, vul. Die kans dat enigiets wat lukraak van die aarde af opwaarts geskiet word een van daardie planete gaan tref, is minimaal. Net so is die aarde piepklein as dit vanaf die son se oppervlak gesien word. “Die aarde vul 4/1 000 000 000 000 (dis vier miljoen-miljoenstes) van die son se lugruim. Die kans dat enigiets wat deur die son uitgestraal word spesifiek op die aarde gemik gaan word, is baie klein.”

* * *

Luister jy na die slim mense, kan jy dalk net-net heeltemal gerus raak en ophou om jou oor die son te bekommer. Maar ek was skaars terug van my besoek aan Genis toe ek ’n persverklaring van NASA lees waarin hulle skryf van ’n storm wat op ’n ander ster waargeneem is.

In Desember 2005 het NASA se Swift-satelliet ’n storm op die oppervlak van II Pegasi, ’n ster in die konstellasie Pegasus, gewaar. II Pegasi is niks groter as die son nie, maar ’n storm het van hom af uitgebars wat 100 miljoen keer sterker was as enige storm wat al op ons son waargeneem is. Die energie wat dit vrygestel het, was gelyk aan 50 miljoen triljoen atoombomme. Sou iets soortgelyks op ons son plaasvind, skryf die gewoonlik heel nugtere NASA, “sou dit tot ‘n massa-uitwissing van lewe op aarde lei”. In so ’n geval sal niemand hulle oor hul kragnetwerk of selfoonsein bekommer nie; mense en alles wat ons op aarde tot stand gebring het, sal verkool word.

Aan die einde van die persverklaring troos NASA egter: “Genadiglik is die son ’n stabiele ster wat nie sodanige sterk uitstralings produseer nie.”

Daar het jy dit. Sonstorms kan moontlik die einde van die wêreld laat afskop, maar die kenners sê dit is onwaarskynlik. Die meeste mense sal die kwessie dus daar laat en die son geniet wanneer ons op ’n somersdag langs die swembad wil lê.

Ek het ook so gedink, totdat ek met Patrick Geryl gesels het.

In 2005 het ’n boek genaamd World Cataclysm in 2012, geskryf deur Geryl, ’n voorheen obskure Belgiese navorser, die lig gesien en is sonstorms skielik midde-in een van die ergste nagmerrie-scenario’s geplaas waarmee die mensdom nog vorendag gekom het – een wat tot die uitwissing van sowat 99% van die mensdom sou lei indien dit ooit bewaarheid word.

Ek het Geryl by sy huis in België opgebel om meer oor sy voorspellings te hoor en ek is nie skaam om te erken nie: Wat hy my vertel het, het die hare in my nek so ’n bietjie orent laat staan.

* * *

Katastrofe 101

Wat kan gebeur? ’n Uitbarsting op die son stuur tonne plasma in die aarde se rigting.

Wat beteken dit vir jou? Kommunikasiesatelliete en kragnetwerke word uitgeslaan. Jy kan niemand kontak nie, daar is skielik geen krag, geen kos in die winkel en geen medisyne in die hospitaal nie. Die beskawing stort in duie.

Jou kans op oorlewing? Die sonuitbarsting sal jou nie seermaak nie – maar die buurman wat jou laaste sak meel kom steel, sal wél.

Maar gaan dit régtig gebeur? Sonstorms van een of ander aard, ja. Sonstorms wat sterk genoeg is om die samelewing lam te lê, nie sommer maklik nie. Tot dusver slaap ek rustig.

“Soewereine mense” Terwyl ek rondgesoek het na mense in Suid-Afrika wat hulle op die eindtyd voorberei, het ek meer as een keer gehoor dat mense die naam “Ramtha” noem. Ben het soms vertel van die mense wat voorbereidings vir die eindtyd tref, is by Ramtha betrokke – hoewel hy bygevoeg het dat hy self niks daarmee te doen het nie. Michael Tellinger (oor wie ek later meer sal vertel) het by geleentheid Ramtha se volgelinge gaan toespreek.
Ramtha wie? vra jy. Ek het ook gewonder, en ná ’n paar navrae die volgende vasgestel:
Die Ramtha Skool van Ontwaking is ’n geheimsinnige Amerikaanse godsdiensgroep wat ook in Johannesburg ’n tak het. Die beweging is in die 1970’s gestig deur J.Z. Knight, ’n skatryk, blonde vrou wat beweer ’n geestelike wese genaamd Ramtha praat deur haar. Ramtha vertel deur haar onder meer dat alle mense inherent goddelik is en hul wêreld met hul eie denke skep.
Waar Ramtha (of waarskynlik Knight) se boodskap veral interessant raak, is in hul raad aan volgelinge dat hulle “soewereine mense” moet word. ’n “Soewereine mens” is glo een wat op sy of haar eie kan oorleef, onafhanklik van die beskawing, banke en die aandelemarkte. Sommige Ramtha-volgelinge sê hulle wil “soewereine mense” word juis ingeval die beskawing in 2012 in duie stort.
Op die oog af klink dit na dieselfde ding wat Jakkals in sy grot probeer doen, maar in die geval van Ramtha se volgelinge het dinge al by geleentheid ’n meer sinistere wending geneem. In Januarie 2011 het twee Franse oudlede van die Ramtha Skool van Ontwaking, Philippe Menière en Agnes Jardel, op ’n plaas in die Karoo in ’n skietgeveg met die polisie betrokke geraak. Dié twee het meer as ’n dekade vantevore hul werk in Johannesburg opgegee sodat hulle Ramtha se filosofie prakties kon uitleef deur soos twee egte Robin Crusoes afgesonderd op ’n plaas naby Sutherland te gaan woon. Kort voor lank het die twee begin om afgesien van al hul ander proviand ook wapens op die plaas op te gaar.
Toe twee polisielede eendag by hul huis opdaag, het Menière en Jardel om redes wat tot vandag toe duister is, op hulle losgetrek en studentekonstabel Jacob Boleme doodgeskiet. Die twee Franse het daarna die veld in gevlug en in die ses dae wat gevolg het, het die land asem opgehou terwyl die polisie die veld rondom Sutherland gefynkam het om dié twee oud-Ramtha-volgelinge op te spoor. Op die sesde dag is hulle uiteindelik in ’n plaashuis gevind en tydens die daaropvolgende skietgeveg is albei doodgeskiet. Die polisie beweer hulle het hul eie lewens geneem.
’n Bisarre storie op sigself, maar namate meer inligting bekend geword het, het die verhaal selfs nog meer eienaardig geword. Die Rapport-joernalis Julian Jansen was op die plaas terwyl die skietery plaasgevind het en vertel ’n plaaswerker, Lena Botes, het ’n paar dae voor die skietery aanskou hoe die twee Franse in die veld uit ’n onbekende boek lees, “. . . dan skeur hy elke keer die blaai uit en gee dit vir die vrou. Dan gooi sy dit in ’n vuurtjie terwyl sy aanhoudend huil.”
Die eienaar van die plaas, Gerhardus du Plessis, het op sy beurt bygevoeg hulle het al hoe minder dorp toe gegaan en al hoe maerder geword. “Ons het al hoe ongemakliker begin voel omdat hulle okkultisme bedryf het.”
In die huis waar hulle geskiet is, het Jansen boeke gesien waarin die titels van ander esoteriese werke met ’n merkpen onderstreep is. Teen een muur was ’n skildery van ’n glansende geestelike wese asook sketse van ’n alsiende oog en pentagram. Onder die ander voorrade wat hulle daar gestoor het, was blikkieskos, paraffien (28 dromme van 20 liter elk), ses 60 liter-waterhouers, seep, vuurhoutjies, kaarte, kamoefleerdrag en 15 bokse wyn (onthou, hulle was Frans). Dit is ’n minder indrukwekkende lys as Jakkals se proviand, hoewel dit duidelik is dat hulle dieselfde ding as hy probeer doen het.
Hul verhaal is ’n tragiese herinnering dat eindtydvoorbereidings soms gevaarlike gedrag by sommige mense tot gevolg kan hê.
Dalk is dit onregverdig om die Ramtha-beweging vir dié twee Franse se sondes verantwoordelik te hou. Kort ná die voorval het die Ramtha-beweging hulle in ’n persverklaring van Menière en Jardel gedistansieer. Maar in dieselfde persverklaring het die beweging ook vertel dat hulle trots is op die wyse waarop Ramtha se volgelinge hulself in “soewereine” mense omskep.
“Glo die Ramtha Skool van Ontwaking dat die wêreld in 2012 gaan eindig?” het die verklaring gelui. “Nee. Die Skool maak reeds administratiewe planne vir sy skoolkurrikulum in 2013 en 2014.”
Die einde van die wêreld

Подняться наверх