Читать книгу ’n Soort van bevryde vrou - Kristel Loots - Страница 4
1
ОглавлениеMy naam is Zoe en ek is ’n bevryde vrou. Soort van …
Ek wíl hê ’n man moet ’n ordentlike paar Italiaanse ontwerperskoene, verkieslik iets van Salvatore Ferragamo, onder my bed instoot, maar ek wag nie vir hom om dit te doen nie. Ek sit nie handjies gevou met my beentjies kuis en oorkruis op die rak en probeer elke man pootjie wat verbykom nie. Ek het my eie dinge om te doen.
Want die lewe is kort. En ek is ’n late bloomer.
Maar dan is daar … my ma. En pa. En Swietie-pie. Sug.
Moderne ma’s probeer nie meer hul dogters aan mans afsmeer nie. Hulle weet vroue kan self besluit of hulle die bra-streppie wil stywer stel of die bra summier wil verbrand. Mens mag nou maar single wees sonder om van die aarde af verban te word.
Maar mý ma is nie ’n moderne ma nie. My ma is old school. Sy tel onder die laaste paar oorlewendes van ’n feitlik uitgestorwe spesie. Hulle bly in die geheim voortbestaan op agter-die-klip-dorpies en in suburbia agter die boereworsgordyn. Sommige idees is so vasgemessel in die psiges van hierdie undercover-ma’s dat dit nog ’n moerse Groot Knal gaan vat, wat die aarde andersom kan laat draai, voordat dinge in daardie psiges ook sal verander.
“As jy net eers getroud kan kom, sal ek my kop met ’n geruste hart neerlê,” sug my ma soms soos een uit ’n heel ander era oor ’n stomende koppie tee. Behoede my! Dit lyk asof daar nog baie tee geskink en gedrink gaan word voordat Ma gewillig sal wees om haar kop neer te lê, maar intussen is ek deeglik bewus van haar frustrasie met haar dikkerige dogter wat nie voor die voet wil man vat en klaarkry nie.
As sy nie haar moederlike plig kan nakom deur my van ’n vlees-en-bloed-man te voorsien nie en aangesien hubare wesens uit die buitenste ruimte nog nie beskikbaar is nie, maak sy eenvoudig ’n ander plan. “Geen ma wat dié benaming werd is, sal stilsit as sy van hulp kan wees om haar dogter gelukkig getroud te kry nie,” verduidelik sy graag haar inmengery in my privaat sake. “Swietie-pie sê so.”
En wat Swietie-pie sê, is wet.
Asof my ma kan raad gee. Of Swietie-pie. My ma dra rokke wat nog nooit in die mode was nie en Swietie-pie is ’n pavement special met ’n blaasprobleem.
Swietie-pie! Simpel naam vir ’n simpel hond. Bedorwe brak-brok wat my tot in die murg irriteer. Daar is net mooi niks wat “sweet” is aan Swietie-pie nie. Mislike gevreet soos ’n mop wat te veel gebruik is, en dit klink soos ’n deurklokkie met pap batterye as die affêre aan die kef gaan. Regte ou skinderbek wat kef-kef by Ma die nuus gaan aandra wanneer Pa ’n skelm rokie op die stoep vang. Watter ander geheime die brak met die nat snoet en Ma nog alles deel, weet ek nie.
Ek hoor wel jare lank al by Ma wat Swietie-pie alles oor my doen en late te sê het. Dis nooit my ma self nie, let wel. Daarvoor is sy glo te sag van hart. Nee, dis haar skoothondjie wat my so kritiseer. Ek verstaan nie hondetaal so goed soos Ma nie, maar vermoed Swietie-pie wens ek wil onder ’n bus beland. Glo my, die wens is wederkerig, maar ek sê eerder niks, ek soek nie karma op my kop nie.
Dis tog vreemd. Dié ding dat my familie sulke freaks is. Veral die vroue. Ek ook. En dis nie omdat die meeste van ons aan die plomp kant is nie, die andersheid lê dieper, in die gene. Dit kan nie toeval wees dat álmal ’n klap van die windmeul weg het nie, party erg, party erger. Dit hang net af hoe na aan die windmeul jy gestaan het.
Die ergste malligheid begin by ons ma’s wat daarvoor leef om my en my dik niggies so gou moontlik getroud te kry. So asof hulle bang is die Lombaard-nageslag sterf uit as ons nie dadelik kinders by dosyne begin baar nie.
“’n Dokter,” laat hoor my ma soms droomverlore. “Dit sal wonderlik wees as jy met ’n dokter kan trou. Dan kan hy sommer oor naweke na Pa se hart luister.”
Nog ’n gunsteling by die meeste van ons ma’s is iemand in die regsberoep, verkieslik ’n gladdebek-prokureur.
“Of nog beter – ’n advokaat,” is Ma dan gou om reg te help. “Hulle is meer geleerd. Verdien meer geld ook.”
Is so. Manne met indrukwekkende togas wat die wilde lote onder ons – en ons pa’s – uit die moeilikheid kan hou. O, o, o! Of natuurlik ’n predikant! Of ’n praatlustige politikus van die regte party, ’n geoktrooieerde rekenmeester met ’n pen in die bosak; eintlik enigiemand wat elke dag ’n pak klere en ’n das dra.
So baie mans, so min tyd.
Maar … met die jare verlaag die meeste mammas wel hul standaarde totdat ’n doodgewone diaken, ’n bankklerk met ’n BCom-graad (nie eens cum laude nie), ’n slagter of ’n bakker ook sal doen. Nog later kwalifiseer enigiemand wat werk en kerk en nie sy vrou te gereeld sal slaan nie. Nie trailer trash nie, net ’n doodgewone man met ’n medium-size adamsappel wat toebroodjies saamvat werk toe.
Dis waar sake met my en my ouers nou staan. Hulle wag dat ek by die huis moet opdaag om ’n doodgewone man wat in my vangnet beland het, aan hulle voor te stel. En elke keer wag hulle verniet. Ek wou al ’n ou met whisky omkoop om vir ’n dag saam te kom hierheen, maar die mans wat ek ken drink net bier en dis goedkoop genoeg om self voor te betaal.
Kyk, om elke Sondag vir middagete so op my eie vir Pa en Ma – en Swietie-pie – te kom kuier, ís ietwat van ’n beproewing. Maar ek moet. Want hulle is (glo) lief vir my. Nie Swietie-pie nie, maar Pa en Ma. En bekommerd oor my. En dit wys.
“Ons het vir jou ’n verrassing,” sê Ma uit die bloute nog voordat sy opskep uit die skottels kos wat sy vir vandag voorberei het, genoeg om ’n gesin van ses honger wolwe ’n week lank te voed. “Ek en Pappa het vir jou ’n geskenkie gekoop.”
Wat vreemd is. Want ek verjaar nie en Ma is nogal suinig. Haar Kersgeskenke is gewoonlik nie besonder uitspattig nie. Goedkoop parfuum wat enige mens hooikoors sowel as migraine sal gee en gehekelde toiletroloortreksels in ’n kleur wat nie by jou badkamerteëls pas nie. Alles geskenke wat sý deur die loop van die jaar present gekry het en nie wou hê nie. In ons familie hersirkuleer geskenke maklik totdat dit weer by jou beland.
“Ons het nou só gedink – dis gevaarlik vir jou om saans alleen in die donker te ry, met dié dat jy nie ’n man in jou lewe het wat jou kan vergesel nie.”
Ek weet nie of dit ’n verwyt of jammerhartigheid is wat ek in haar stem hoor nie.
“Toe besluit ons om Harvey vir jou aan te skaf.”
Ek sidder. Sulke pogings van my ma is so vernederend. Wat het sy tog nou weer staan en aanvang? ’n Man iewers uitgekrap en hom omgekoop of gedreig om my uit te neem? Ek is amper te bang om te vra.
“Harvey, Ma? So ’n uitheemse naam?” probeer ek ’n grappie maak.
“Ek sê ook dis ’n simpel naam vir ’n man,” brom Pa.
“Ja, ek weet ook nie so mooi van sy naam nie, maar dis hoe hy geregistreer is. Miskien omdat hy … wel, hy is ’n bietjie effentjies gebou, nie soos ’n Afrikaner-boerseun nie. Maar hy lyk darem gaaf, so op die oog af.”
“Vir my lyk hy hopeloos té gaaf,” kom dit van Pa. “Hy behoort bedonnerd te lyk, asof hy ’n ou met een hou kan vloer toe stuur.” Hy trek sy mond smalend. “Iets wat ou Harvey en ’n hele army soos hy nie sal regkry nie.”
“Lyk of hy goeie maniere kan hê, al is hy Engels.” Ma klink skielik nie meer so seker van haarself nie. Nie een van ons praat besonder goed Engels nie.
Ek wil nie, maar ek moet vra: “Ek hoop nie Ma het hom vir ete genooi nie?”
“Moenie vir jou snaaks hou nie, Zoe, ons bedoel goed.” Ma kyk my kwaai aan. Toe draai sy na Pa. “Jakobus, gaan haal vir Harvey dat ons vir Zoe kan wys hoe hy werk. Hy’s in die kas in ons kamer.”
“Wát? Waddedonner?”
“Moenie so vloek nie, Zoe. Dis Sondag.”
Ek vermoed my ma is finaal pens en pootjies van haar trollie af … en toe Pa met Harvey sleepvoet agter hom aan weer by die kombuis ingestap kom, twyfel ek nie meer nie. My ouers is albei stapelgek.
“Hy’s nog splinternuut,” spog Ma. “Made in China. Maar hy het iewers langs die pad seergekry. Ons vermoed in die krat op die skip waarmee hy van China af vervoer is.” Sy neem Harvey aan die hand. “Dis net die een vinger, sien jy? Dis iewers vasgeknyp en met die uittelslag het dit agtergebly. Maar die ander nege vingers makeer niks. Die tone ook nie.” Sy lyk tevrede met haarself. “Nogal duur, ek moet sê, maar ons het ’n goeie afslag gekry oor die vinger.”
Sy wink my nader. “Kom,” nooi sy. “Kom kyk, kom voel aan hom. Hy is van silikoon en sellofaan én rubber gemaak. Hy voel nes ’n regte mens.”
“Ma?” vra ek toe ek weer kan praat. “Het julle vir my ’n pop gekoop?”
“Dis nie ’n pop nie, Zoe,” help sy my reg. “Dis ’n mens … of in elk geval, dis ’n regte-egte mens-pop.”
“Sodat hy langs jou in die motor kan sit as jy iewers heen ry,” lig Pa my opnuut in.
“En die kapers en misdadigers kan afskrik.”
Ek behoort teen hierdie tyd gewoond te wees aan die dinge wat my pa en ma aanvang, maar vandag verstom hulle my soos selde tevore. Dis inderdaad ’n lewensgrootte mansmensagtige mannekyn of winkelpop of iets in daardie lyn wat oor Pa se skouers vir my loer. Hy lyk net so min beïndruk met my as ek met hom.
“Hy kan buig by die skarniere, orals waar ’n regte mens kan buig.” Pa kry Harvey aan die skouers beet en buig hom in posisie sodat hy sy plek aan die tafel kan inneem.
“Hy kan enigiets doen wat ’n regte man kan,” voeg Ma geesdriftig by.
Ek begin bewe. Aan die binnekant. Wat op aarde bedoel Ma? Wat is die normale oorwegings wanneer ’n ding soos Harvey bestel word, en was dit hulle s’n? Nogal met die wisselkoers wat dit tans is. Met watter bedenklike doel voor oë is Harvey dalk eintlik aanmekaargesit?
My pa is ’n ordentlike man, ’n sogenaamde pillar of society – sou hy, ag aardetjie tog, by ’n sekswinkel ingeglip en daar ’n Harvey aangetref het wat hy besluit het om te bestel? Of sou hy eerder my ma gestuur het? Of is hulle hand aan hand daar in? Sou hulle hul pad kon vind tussendeur al die swepe en fur-boeie en wat mens ook nog alles in ’n sekswinkel kry? Nee, ek was nog nie self in een nie, maar ja, ek was al ’n bietjie nuuskierig, maar net ’n biétjie.
Het hulle die prototipe-Harvey behoorlik bekyk en bevoel? Weet hulle ooit wat hulle gekoop het? En wat op aarde moet ek met die ding doen? Hoe kry ek hom in my woonstel sonder dat iemand my sien en waar sal ek hom dan wegsteek? Daar is skaars genoeg plek vir al my skoene onder in my ingeboude kas.
“Is hy … is hy anatomies korrek?” vra ek in Ma se rigting, maar kyk haar nie in die oë nie.
“Anatomies korrek? Hoe bedoel jy nou?” Dit neem ’n rukkie, dan dring die implikasies met ’n skok tot haar deur.
“Moenie vir jou laf hou nie, Zoe, ons is kerkmense.” Sy kry my aan die arm beet. “Kom kyk, kom voel.”
Ek wil nie, maar ek moet. Ek staan nader, vat-vat aan Harvey wat van China af sy pad hierheen gevind het. Ek kyk en ek sien wat ek sien. Dis nie ’n opblaaspop nie, nie ’n seksobjek nie. Ten minste is ek dít gespaar. Harvey het ’n generiese lyf, daar is niks wat liggaamsvorm en -details betref wat hom van sy vroulike eweknie onderskei nie, behalwe miskien sy haarstyl. Selfs sy wangetjies is skoongeskeer en sy hande fyn afgewerk. Harvey is die tipe “mens” wat gebruik kan word wanneer filmmakers nie tydens aksietonele regte persone die lug in mag blaas nie.
“Hy lyk nie soos ’n Chinees nie,” merk ek swakkies op.
“Dis jammer, dis mos hulle wat so lekker judo doen.”
“Ek dink dis eerder die Japanners, Ma.”
Maar Ma meen klaarblyklik sy is genoeg verwar vir een dag en ignoreer my.
Met al hierdie dinge het Harvey vrede. Hy sit daar in ’n sweetpakbroek en ’n hoodie en staar voor hom uit met sy dooie oë. Nie eens die geur van Ma se heerlikste disse roer hom tot lewe nie.
Dis my ma daai! Enig in haar soort. Nie alle ma’s kan ’n kredietkaart uithaal om vir hul dogter ’n man te bekom nie. Maar mý ma kan. Daarom sou sy nooit mooi stigtelik wag totdat die noodlot vir my ’n lewensmaat van ’n aard stuur nie. Nee! Sy koop vir my ’n man. En nie goedkoop nie, hoor, want net tweede beste is goed genoeg vir my. Damaged goods, maar nie so erg beskadig dat dit nie meer nut het nie.
Kyk, om te leef is al klaar nie maklik nie. Om rég te leef is feitlik onmoontlik. Geen wonder my innerlike duiwel en my innerlike engel is aldag en alnag aan die stoei nie. Dan is Salomo ook nie te vinde sodat ek by hom kan hoor hoe om te leef dat ek onder my ma se radar kan uitbeweeg nie.
“Dis nogal ’n mooi man,” komplimenteer Ma vir Harvey en gee hom ’n kloppie op die skouer. Sy’s reg. Harvey het ’n fynbesnede gesig, alles presies simmetries, neus, mond, ken, the full works. Ek sou nooit in my dag des lewens so ’n perfek gevormde regte man kon losslaan nie. En hierdie een sal my seker nie te veel probleme gee nie. Nie te vol fiemies wees met sy kos nie.
Ek raak aan die giggel asof iemand vir my ’n baie snaakse grappie vertel het. “Hoezit, Harvey?” sê ek en skud sy slap hand.
Ma blom en Pa lyk ook in sy skik. Wat hulle betref, is dit ’n wenner van ’n dag. Hulle het vir hul dogter gegee wat sy nie vir haarself kon kry nie: ’n man om haar te beskerm teen die duiwels wat in die donker wandel.
Pa help my teen laatmiddag vir Harvey in die kar laai. So van vinnig kyk is hy die grootte van iemand wat net-net die kleinmannetjiesindroom kan vryspring. “Die afmetings stem ooreen met dié van ’n man van so sewentig kilogram, maar plek-plek is hy hol sodat dit makliker is om hom te hanteer,” verduidelik Pa.
Ek kuier nie gewoonlik so lank hier nie, maar vandag wag ek tot na sononder voordat ek ry. Die donker bedek baie dinge.
“Maak vas sy veiligheidsgordel,” gee Ma raad. “Jy het seker al gesien wat gebeur met die dummies wat hulle gebruik wanneer hulle ongelukke namaak. Ons wil nie hê Harvey moet iets oorkom nie.”
Speak for yourself, wil ek sê, maar ek stir nie onnodig nie. Miskien kan ek Harvey iewers langs die pad wegsmyt – net seker maak dat niemand dit sien en ek aangekeer word omdat ek van ’n lyk ontslae wou raak nie.
Maar hy sit nog langs my toe ek voor my woonstel stilhou. Ek aarsel. Dit raak koud snags. Ek kan Harvey seker nie heelnag buite laat slaap nie, al is dit in die kar. Ek sleep hom in en hoop maar net niemand sien dit nie. Toe sluit ek die deur agter ons, maar my verbeelding is nie sterk genoeg om meer met hom te doen as om hom voor die televisie sit te maak nie. Dis seker hoe dit sou wees as hy van vlees en bloed was …
Dis net, so na ’n week begin ek met Harvey praat. Ja, ja, ek weet, hier kom ek, loony bin, hou solank vir my ’n plekkie. Maar ander mense praat met hul potplante. En dis beter as om met jouself te praat. Of met ’n mislike hond soos Swietie-pie. En buitendien, Harvey is Engels en soms praat ek met hom Engels en dis tog ’n goeie ding, want glo my, my Engels verroes heeltemal. En wie weet wat die dag van môre bring? Ek kry dit dalk nog nodig om in Engels te flirt en dan moet ek my tenses agtermekaar kry.
Ek dek darem nie vir hom ’n plek aan tafel nie, nóg nie. Maar die ding pla my tog. Ek besef dis tyd om iets nuuts te beproef. Dat ek iets moet doen voordat ek – en Harvey – deur manne in wit jasse weggedra word.
Van al die dom dinge wat ek kon doen, doen ek toe die domste. Ek sluit by Fitness Fanatics aan. Soos wat die fanatici daar aangaan, sou Fitness Fools ’n meer gepaste naam wees. Die asems hyg, die sweet spat en die spiere bult, selfs op die meisies. ’n Tuinkabouter sou beter vaar as ek op die verskeidenheid martelmasjiene wat wag om gebruik te word.
Op dag een al wil ek die stryd gewonne gee, maar toe word ek voorgestel aan Zak, hy met sy kaalgeskeerde kop, skoenlapper-tatoe op sy pols en voel-aan-my-spiere-wessie. “Ek sal jou persoonlike afrigter wees,” verduidelik hy en bekyk my van kop tot tone. Ek weet wat hy sien, ek sien dit ook wanneer ek in die spieël kyk. ’n Vrou wat met ’n stink spoed op pad is dertig toe. Oorgewig, ja, maar nogal mooi. Sexy ook, as jy gaan vir die voller figuur.
Whatever – dis nie ek wat vra nie, dis hy wat aanbied om my van vet na verleidelik te neem.
Terwyl ek so een, twee keer ’n week gym toe gaan en wag op beter dae, skeep ek nie vir Harvey af nie. So op ’n simpel manier voel ek tog veiliger wanneer hy langs my sit terwyl ek bestuur, veral as ek fleksietyd werk en donkeroggend al moet ry om papierwerk af te handel. Ek hou dan eers in ’n systraatjie stil en buig die arme Harvey by die knieë en nog ’n paar plekke sodat hy in die kattebak kan inpas. “Slaap jy nou maar ’n bietjie,” mompel ek gewoonlik ’n verskoning. “Een van ons twee moet werk, to bring home the bacon, jy weet.” Ek moet regtig meer Engels met hom praat.
Die geslaap in die kattebak is nie so wreed soos dit mag klink nie, want ek het soort van ’n bed daar geprakseer. Met ’n sagte kombersie en ’n kussing. Al wat kortkom, is suurstof en daarvan het Harvey gelukkig nie veel nodig nie.
Ek kan nie by die werk aangery kom met Harvey penorent langs my voor in die motor nie. Mense is weird, hulle sal nie verstaan nie.