Читать книгу ’n Soort van bevryde vrou - Kristel Loots - Страница 5

2

Оглавление

Om gym toe te gaan is amper soos ’n besoek aan ’n êppie-tandarts wat aangaan asof hy gate in ’n sementmuur boor. Behalwe dat daar by die gym nie verdowing toegedien word nie. ’n Wortelkanaalbehandeling is nie vir sissies nie, ’n gym-sessie onder Zak Voster se leiding ook nie. Hy dryf my soos ’n kwaai boer met ’n sweep in die hand ’n steeks donkie sou kry om saam te werk.

Só laat hy my soms voel ook. ’n Steeks donkie wat nie weet wat goed is vir haar nie. “Komaan, Zoe, lig daai boude, swaai jou arms. Jy oefen soos ’n ou vrou wat bang is sy gaan haar valstande verloor. Komaan! Vinniger, hoër, beter, verder, meer!”

Goeie donner tog, ek weet alles van no pain, no gain, maar ek is nie hier vir my gesondheid nie, ek is hier … laat ek dit nou maar erken … om man te soek. Verkieslik tussen die vettes en die vrolikes wat net-net genoeg oefen om nie met ’n hartaanval of beroerte in hul spore dood neer te slaan, bierpens na bo nie. Sodat ek met een kan trou en klaarkry en my ma en pa, Swietie-pie, Harvey en die hele ou boksemdais van my nek af kan kry.

In die enkele weke wat ek myself martel en dwing om gym toe gaan, kan ek, soos die res van die wêreld, for the life of me nie uitfigure hoekom Zak hom met my “bemoei” nie. Dis in elk geval hoe my ma dit stel.

Sien, mans staan beswaarlik tou om hulle met my te amuseer of te vermaak. “Dis daardie boude van jou wat hulle afskrik,” verduidelik my ma toe ons daaroor gesels. “By jou pa geërf. My familie se mense is mos mooi skraal.”

Vir die oningeligte oor klink dit dalk nie so nie, maar my ma is (glo) baie lief vir my. Net soos ek vir haar is. Al probeer sy ook hoe hard om my te verander. Sy verseker my gedurig van haar liefde vir my. “Dis vir jou eie beswil, Zoe,” sê sy graag wanneer sy my as’t ware met ’n nat vis deur die gesig slaan met die dinge wat sy doen en sê. Soos om my daaraan te herinner dat sy dit ook glad nie kan kleinkry nie – dié ding dat die mannetjie by die gym hom enigsins met my, boude en al, bemoei.

“Ek dink regtig nie dis my dik boude wat mans wegjaag nie, Ma,” verdedig ek. “Of my drillende boarms of my childbearing hips nie. Ek dink eerder dis my hare.”

Want elke dag van my lewe is ’n bad hair day. Of dis hoe ander mense dit seker sien. Van al die mites en legendes wat ek deur die jare gehoor of gelees het, onthou ek die een van Medusa die beste. Kyk wat het met haar gebeur, arme ding. Slange op haar kop in plaas van hare, lelik soos die nag. So afskuwelik dat diegene wat na haar kyk in klip verander. En toe sy te veel van ’n probleem raak, is haar kop met slange en al eenvoudig met ’n skerp swaard afgekap. Ek staan seker ook ’n kans om kop te verloor met hierdie hare van my.

Eintlik, met ’n sagter oog beskou, lyk ek ’n bietjie soos ’n outydse beskermengel. Van die soort op skilderye wat kindertjies oppas wanneer hulle op gevaarlike plekke speel – en wat later grafsteenengele van sement raak. Behalwe dat die engel in my geval ’n perm gehad het en haar lang, golwende hare in ’n kraaines omskep is.

“Dis nie krulle wat op jou kop is nie,” help my ma my graag reg. “Dis kroese.”

Sy’s reg. Dit ís ’n bietjie kroes en baie woes. Dis ’n familievloek wat my natuurlik nie sou oorslaan nie.

“Ook jou pa se mense se nukke daardie. Die meeste van hulle loop met die klapperhaarkoppe rond. Al my dae gehad met daardie hare van jou, ure lank gesukkel om dit uitgekam te kry toe jy nog op skool was, veral op dae wat die wind gewaai het. My arms was skoon lam teen die tyd dat ek jou hare gevleg gekry het.”

Eers sy wat gesukkel het en nou ek. Dis dan nog dieselfde hare wat soos onkruid op my kop groei. Bosse en bosse daarvan, genoeg vir twee, drie vroue as ’n mens dit kon uitdeel. Met ’n wil van hul eie.

Ek sug innerlik. Dekselse pa van my. Kon hy nie sy gene beter gekies het nie? En my ma miskien? Kon sy nie ’n ander man gegryp het voordat sy begin kind kry het nie? ’n Man met steil hare. ’n Oosterling sou heel moontlik die nodige balans verskaf het. Dan was my lewe vandag soveel makliker.

Toe Zak hier teen week drie taamlik gereeld by my woonstel begin opdaag om oor gesonde eetgewoontes te gesels en oor ’n koppie tee – rooibos sonder melk of suiker – te kuier, vermoed ek die aarde het inderdaad iewers van sy baan afgewyk. Want niemand het dít verwag nie, ook nie ek nie.

Die dag toe ek ry om Harvey vir my ma-hulle terug te gee, is soos ’n gradeplegtigheid nadat ek met harde werk en deursettingsvermoë ’n gesogte graad verwerf het. BA Mansoek, done and dusted. ’n Trotse dag, ’n dag waarop jy maar breëbors mag wees, ’n dag waarop jy honderde selfies vir Facebook neem, ’n blye dag waarop jy vir die lewe vuis wys en uitbundig feesvier.

My arme ma val amper om toe ek daar aankom met Harvey, geklee in jeans en ’n nuwe T-shirt, maar nog met dieselfde onvergenoegde body language. “Ek bring hom terug, dankie, Ma. Ek het hom nie meer nodig nie. Ek het nou ’n kêrel wat saam met my ry as ek in die aand uitgaan.”

Nie dat dit veel gebeur nie, maar dis die gedagte wat tel.

Swietie-pie gaan alte vreeslik aan die grom toe sy Harvey gewaar. Seker jaloers op die aandag wat hy kry. Dalk bang hy kan slaag waar ek misluk het en haar plek in Ma se hart oorneem. Swietie-pie spog nie met ’n pedigree nie, inteendeel, sy het ’n duistere verlede. Ongehude ma. Vader onbekend. Partykeer slaan die twyfelagtige gene deur, soos nou. Die brak maak ’n plassie en stuur op ’n senuwee-ineenstorting af, so erg dat Ma Harvey in ’n kas moet bêre voordat Swietie-pie haar skerp tande in hom kan slaan sodat meer as net sy regter-middelvinger in die slag bly.

Ook maar goed so, anders sou Ma hom sweerlik in die sitkamer laat sit het vir almal om te sien. Ek sidder om te dink watter stories sy rondom Harvey sal weef. Maak nie saak nie – ek is klaar met hom. Ek het vir Zak, ek met my boude en my boobs soos oorryp spanspekke en my breë heupe en my kroese en alles wat teen my tel.

Moet my persoonlikheid wees wat sy voete onder hom uitslaan. Want daarmee skort daar, e … wel, nie veel nie. Net soms. Net wanneer ek verkeerd opgevryf word. Andersins is ek gaaf en goed, vrygewig en inskiklik soos Kersvader. Baie aanpasbaar. Wanneer dit by mans kom. Ek ken die goue reël: Can’t live with them, can’t live without them. Daarom buig ’n mens maar soos ’n wilgertak in die wind om te akkommodeer waar daar geakkommodeer moet word. Vir volk en vaderland. Vir vrede en harmonie en om ’n date te hê wanneer jy dit nodig het. Soort van. Aan jou sy.

Want vergeet van feminisme – die sosiale psige het nog nie veel verander sedert Noag en die ark nie. Selfs Facebook wil weet of jy in ’n relationship is of nie. Mense word in pare getel. Odd one out is lastig, foeter die simmetriese patrone van ’n okkasie op, versteur die balans op foto’s wat op sosiale media versprei word.

Ag, en ek – en die res van die wêreld – hou tog so daarvan om Happy Family-foto’s op Facebook te plak. Sodat jou sewehonderd-een-en-vyftig “friends” kan sien hoe blessed jy is, watter wonderlike lewe jy en jou mense het, hoe plesierig julle feesvier, hoe mooi, hoe benydenswaardig. If it’s not on Facebook, it hasn’t happened.

Wat Zak ook al by my soek – en kry – moet vir hom van waarde wees, want hy kom telkens terug vir nog.

Waarvoor kan ’n vrou soos ek dan nou meer vra?

Miskien vir ’n soet woordjie of twee wat in my oor gefluister word. Of vir minder skuinserige aanmerkings oor my figuur, my hare, my klere, my woonstel, my leesstof, my handsak en my skoene. Eintlik behoort Zak en my ma goed klaar te kom, heerlik te kan saamspan met klagtes oor alles wat ek verkeerd doen. Alles goed bedoel, alles vir my eie beswil. Omdat hulle my liefhet. Van my ’n beter mens wil maak.

Gelukkig vir my het Zak ook sy mond vol toe hy saam met my opdaag vir Sondagmiddagete. Daar is te veel suiker in my ma se patats en weet sy wat die gesondheidsgevare van rooi vleis is, veral die snitte met sigbare vet wat so swaar dra aan cholesterol?

Fout. Groot fout. My ma bly vriendelik, katvriendelik, versigtig om Zak nie af te skrik nie. Maar sy trek moesiemondjie.

“Dis hoe mans is,” verduidelik sy toe ons twee die skottelgoed staan en was. “Nooit tevrede met wat jy vir hulle gee of doen nie. Maak vrede daarmee. Dit help nie jy verwag wyn wanneer jy by ’n waterkraan gaan tap nie.”

Die implikasie is duidelik. Beggars can’t be choosers. Suffer in silence is nou eenmaal ons vroue se lot hier op aarde.

Die meeste mans is meer padda as prins, ek weet. Maar ek wil dit nie graag van Zak glo nie. Al wat hy kortkom, is ’n bietjie afrigting van my kant af.

“Ek sal hom nog mak maak,” belowe ek my ma.

“Famous last words.”

So leer ek Zak toe deur die maande ken, maar ek kry hom nie makgemaak nie. Ek leer dat die streng reëls wat hy vir ander mense stel, nie noodwendig vir hom geld nie.

Ek leer ook dat Zak nie vir ’n kombuis skrik nie – hy kook graag. Op ’n rare Vrydagmiddag laat ek hom selfs in my kombuis toe. Gewoonlik stuur ek hom daar verby voordat hy dalk die kaste oopruk en die chaos daarin waarneem, waaroor hy met hernude ywer sou kon kla.

“Daar was ’n tyd toe jy nie sommer ’n man met ’n blommetjiesvoorskoot om die lyf sou betrap nie,” spot ek liggies. “Nog minder een wat die kombuis uit vrye wil betree.”

“Daardie tyd is lankal verby.” Zak is so selfversekerd soos altyd. “Van die wêreld se beste kokke, indien nie die heel bestes nie, is mans.”

Dis natuurlik waar. Dis hoekom daar vandag ’n man in my kombuis doenig is. Dit maak my baie senuweeagtig. Verál vandag.

Behalwe vir my deurmekaar kombuis, is my slaapkamer eintlik ook verbode terrein vir Zak. Ek wil hom nie regtig tussen my spierwit Egiptiese katoenlakens hê nie. Of sy kop op die kussing langs myne nie. As daar sonder skoene en klere te kuier is, kuier ons in sý woonstel. Daar is nie romantiese kerslig nie en daar word nie wierook gebrand of sagte musiek gespeel nie en ek gaan altyd na die gekuier huis toe om te slaap. Dis nie reg nie en dis nie goed nie, maar dis die beste wat ek op die oomblik kan doen.

“Jy is soos ’n vadoek wat in ’n laai opgevou lê en eers uitgehaal word wanneer daar gaste opdaag,” verwyt Zak my graag. “As jy die dag dood is, gaan jy nog lank nie opgebruik wees nie.”

Ek is verras dat hy dit as ’n vermorsing sien en my blykbaar as goeie, bruikbare vadoekmateriaal beskou. Want sy liefkosings is soms so flou soos tee wat met ’n reeds gebruikte sakkie gemaak is.

Ek is nie ’n onskuldige ou affie-plaas-af-meisietjie nie. Ek weet van en verstaan hierdie dinge, hoe dit behoort te wees … maar my slaapkamer met die seegroen gordyne is my heiligdom en ek wil dit graag so hou.

Daar kruip ek weg as die wêreld my nie wil hê nie. Of wanneer die wêreld en sy mense mý nie aanstaan nie. My koperbed met die sagte matras en die laslapkombers is myne en net myne. Ja, ek weet ek leef in ’n droomwêreld, want dis nie hoe dit werk nie.

As ek my pa en ma gelukkig wil maak – en dalk vir Swietie-pie op die koop toe – en getroud wil wees met ’n kind of twee, drie voordat die eindfluitjie blaas, sal dit nie so kan bly nie. Maar ek is nie oorhaastig om Zak daar toe te laat nie, al is hy ook die beste ding wat met my gebeur het vandat ek nie meer puisies op die gesig kry of draadjies op my tande het nie.

Dis nogal ’n aanpassing om sy bevlieging van vandag te hanteer, genoeg van ’n sosiale skok vir ’n meisie soos ek wat van haar privaatheid hou. Ek is nie regtig asosiaal nie, maar ek trek graag deure toe wanneer iemand hier aanklop vir ’n verrassingsbesoek voordat ek kaste kon toemaak en dinge onder die mat kon vee.

Ek het juis voorbereidings getref voordat die gaste opdaag, vroegtydig alles wat weggesteek moet word diep, diep in die donkerste hoekies van my kombuiskaste gedruk. Die rasper wat nie meer wil rasper nie, die elektriese menger wat lankal nie meer wil meng nie, alles wat oud en geroes is, of gebuig, skeef, stukkend of waarvan die bodems pikgitswart gebrand is. Wat die oog nie sien nie …

Ek sidder oor alles wat Zak miskien nou nodig kry en uitgekrap word.

Om Zak met sy sexy agterstewe in ’n paar stywe jeans gegiet hier te sien rondtrippel, laat my hart inderdaad vinniger klop. Ook omdat my blommetjiesvoorskoot sy skraal lendene so liefderyk omvou. Dis maar goed die ou is so mal oor rugby, anders sou die een of ander aap wat nie van beter weet nie heel moontlik ongemaklike vrae gevra het. Iemand soos my pa, wat sy hare die afgelope drie dekades met ’n kantpaadjie en ’n koeilek-kuif kam en nog steeds Old Spice roekeloos op sy wange spat. Ook net vir baie spesiale geleenthede omdat my ma dit so wil hê.

“Jy moet ten minste ruik soos iemand wat by die voordeur mag inkom,” waarsku sy gereeld. “Swietie-pie sê so.”

Ek wonder wat Swietie-pie te sê sou hê oor die gewoel vandag hier in my kombuis waar daar gewoonlik nie veel gewerk word nie, maar gereeld geëet word. Takeaways is ’n uitweg vir menige mens wat nie van kosmaak hou nie – of glo daar is beter dinge om met jou tyd te doen as tot by jou elmboë in seperige skottelgoedwaswater staan. Lui by die vak, maar fluks by die bak. Dis nou ek daai. Of altans, dis wat Swietie-pie sê. Sê Ma.

Zak kerf en kap uie soos daardie ouens wat kookprogramme op televisie aanbied. Asof sy vingers van rubber gemaak is, nie van vlees en bloed wat onder die lem kan beland nie. Dit freak my heeltemal uit, ’n ongeluk wat wag om te gebeur. En ’n man met nege vingers is nie so goed soos ’n man met tien vingers nie. Vra maar vir Harvey. Hy weet.

“Zak? Wat op aarde maak jy vir aandete?”

“’n Cassoulet met ’n bekoorlike Franse flair.” Hy soen sy vingerpunte, vreeslik teatraal. Alles is mos ’n drama, so asof daar permanent kameras op hom gerig is. Aap die bekende sjefs se maniertjies na, ouens soos Nataniël wat hul man agter die kospotte kan staan en groot geld daarmee verdien. Agge ja, if only …

“Ek probeer so na as moontlik aan die oorspronklike resep bly. Net jammer jy het my nie vroeër gesê van jou niggie en haar man se kuier nie. ’n Cassoulet is ’n eenskottelgereg met die wonderlikste bestanddele, maar dit behoort stadig gekook te word. Dis koesterkos op sy beste, trooskos vir koue winterdae.”

Ja-nee, los jy vir Zak lank genoeg, raak hy digterlik oor enigiets. Eenskottelgereg, my voet! Die hele wêreld staan vol bakke en borde en implemente wat ek nie eens geweet het hier iewers in my kombuis skuilhou nie.

“Agréable au goût,” verseker Zak my. “Par excellence.”

Ek weet nie wat dit beteken nie, maar ek kan raai. Is darem nie kliponnosel nie. Verbeel hom seker wat hy hier aanmekaarslaan, sal liplek-lekker wees. Foei tog, ja.

“Izzit?” Ek hou my stem lig. Ek vermoed hy het ’n Franse woordeboek saam met brekfis genuttig. Dalk nog Google Translate geraadpleeg en lank aan sy uitspraak geoefen om my te beïndruk. Ek rol my oë, maar hy sien dit nie. Zak is so ’n ou show-off. So ken ons hom en so love ons hom. Altyd vol verrassings, altyd hoopvol, seker daarvan dat hy nog ontdek gaan word en groot hoogtes gaan bereik. As Charlize Theron van Benoni dit kon doen, kan Zak Voster van net anderkant Brakpan ook.

“Presies wat is hierdie Franse cassoulet van jou as dit in ’n mens se bord beland? Sal jy dit darem kan eet as jy genoeg tamatiesous oorgooi?” ’n Mens moet Zak soms help om sy voete stewig op moederaarde te hou, anders vlieg hy waar Ikarus aan die smelt gegaan sodat hy hom des dinges geval het. Zak se kop kuier gereeld in die wolke, van waar hy voortydig sy naam in groot letters geskryf sien staan. As dit dan nie in Hollywood kan wees nie, ten minste op Suid-Afrikaanse film- en televisieskerms.

Ek dink nie so groot en so hoog en so ver nie, ek sien eerder sy naam langs myne pryk. Zoe en Zak. Zak en Zoe. Klink mooi bymekaar, nè. Asof dit so hoort. Dink net hoe mooi sal die twee name saam op troukaartjies lyk as ons so iets sou oorweeg. In goue letters en met ’n silwer randjie om. Nie dat dit lyk asof trou in ons twee se sterre geskryf staan nie, nie as ek Zak so beluister nie. Klink nie asof ’n vrou, kinders en ’n hond, dalk nog van Swietie-pie se nageslag, deel is van sy onmiddellike toekomsplanne nie.

En dan is daar ook nog hierdie lastige binnestemmetjie wat my nie wil laat staan om my eie besluite te neem nie. So ’n temerige stemmetjie wat my allerhande goed in die kop wil prent. Soos dat ek seker moet maak Zak, oulik soos wat hy is, is die regte man om mee te trou en ’n nessie te bou. Bleddie binnestemmetjie wat dinge vir my wil kompliseer. Want dit sal baie probleme uit die weg ruim as ek met Zak kan trou, selfs al sal dit nie ’n paar duur ingevoerde Italiaanse skoene wees wat onder my bed geparkeer word nie. Ek wíl in werklikheid vir Ma tevrede stel, sodat sy my kan uitlos. En vir Pa met sy sagte oë. En selfs die mislike Swietie-pie, as dit dan nou nie anders kan nie. Maar die paadjie preekstoel toe is nie met rose besaai nie. ’n Paar dorings, ja, wat kwaai kan seermaak as jy nie jou trap ken nie.

Soms lyk dit asof Zak uitgekuier raak met my. Soos nou, want hy lag nie vir my grappie oor die tamatiesous nie. Zak lag al ’n hele rukkie nie meer vir enige van my flou grappies nie. Al die moeite om cute, grappig, sexy en inskiklik te wees, val op droë grond. Zak lyk in der waarheid baie ernstig toe hy nou na my draai, met die lydsame gesigsuitdrukking wat hy bêre vir dae wanneer ek my onkunde op soveel vlakke openbaar dat hy my terug na die regte weë moet begelei.

“Die Franse sjefs stry onder mekaar oor wat presies ’n egte cassoulet is. Of daar lamsvleis ook by die droë bone gevoeg mag word en of jy by varkvleis moet hou. Ek skrik nie daarvoor om met lam en vark en selfs eend te eksperimenteer nie. Die kors bo-op is natuurlik ononderhandelbaar, dis wat van ’n cassoulet ’n cassoulet maak.”

Zak se hande praat saam. Hy vertel met die lang asem van ’n straatpredikant in besonderhede hoe om die affêre te bak sodat jy dit nie verbrou nie. Asof ek dit ooit in my kop sal kry om potte en panne uit donker kaste op te diep om ’n Franse watsenaam te skep. In die stilligheid wonder ek of dié gereg vir gesonde kos kan deurgaan, maar ek vra nie. Ek is nie in ’n bui vir ’n lesing oor balans en ander boring dinge nie.

“Gelukkig het ek die bone gisteraand al in ’n lekker groot kastrol by my woonstel begin week en saamgebring,” sug Zak toe hy asem skep. “Anders sou dit ’n gemors afgegee het.”

Ek ruik knoffel en ek ruik naeltjies en selfs ’n sweempie tiemie. Dit ruik nogal lekker. Maar of die konkoksie op die ou end eetbaar gaan wees wat iemand met soveel fiemies soos ek betref, is ’n ope vraag. As ’n mens na my kyk, sal jy raai ek verslind alles wat voorkom, maar dis nie so eenvoudig nie. Wanneer iets vir my lekker is, eet ek skaamteloos oorgenoeg daarvan, maar as dit nie na my smaak is nie, stoot ek dit net op my bord rond.

Die eendsnitte wat Zak nou uitsorteer en in stukke sny, neig hoeka om my kiewe te laat saamtrek. Ek behoort na regte nie in die kombuis te wees terwyl die slagting nog plaasvind nie. ’n Etery werk vir my die beste wanneer ek die kos klaar gekook op ’n bord kry. Miskien moet ek tog maar met Zak trou, hy wat so handig is in die kombuis. A match made in heaven. Maar eendag dan, nie nou al nie. Eers doodseker maak dat hy Die Een is, die Enigste Een wat ek kan kry. Nou wel nie Mr Right nie, maar darem Mr Not Too Bad.

Hy buk, sexy sitvlak en al, om nóg ’n pan uit die kombuiskas te haal.

“Ons kan natuurlik alles los en Lucy-hulle eerder uitneem vir ete,” stel ek voor. Dit sou hopelik wees nadat Zak die kombuis tot sy vorige glorie herstel het – of die glorie wat dit volgens my standaarde gehad het.

“Nee. Ek verkies om jou niggie en haar man in jou woonstel te ontmoet. Só leer ons mekaar beter ken.”

“Hulle is net hier vir aandete,” herinner ek hom. “Billy het vanaand ’n vergadering met die Johannesburgse tak van Media Uniek.” Dis nou as hulle nie vir my jok, en Lucy en Billy net ’n verskoning gefabriseer het om min tyd by die arm deel van die familie deur te bring nie. Die adel en die gepeupel meng nie maklik nie.

“Waar gaan hulle slaap?”

“Seker in ’n vyfsterhotel, definitief nie hier in my humble abode nie. Die dae toe Lucy saam met my en die ander niggies ’n kermisbed gedeel het, was vir goed verby toe sy met Billy getrou het. Sy leef nou in heeltemal ’n ander liga.” Ek hoop nie ek klink so suur soos ek voel nie. En ek is onnodig bitchy, want tot dusver het Lucy haar nog glad nie gedra soos ’n prinses wat gepla sal word deur ’n ertjie onder ’n matras nie. Gelukkig is hier werklik nie plek in my woonstelletjie vir haar en Billy om te oornag nie. Om ’n hele naweek vir doktor en mevrou Billy Bruwer gasvrou te speel, klink na baie harde werk.

Dié aardbewing wat Zak in die kombuis veroorsaak, is al erg genoeg. Hy faff vreeslik om die stoof en waai die rookbolle wat uitborrel toe hy die oonddeur oopmaak met ’n afdroogdoek weg. “Dalk beïndruk ek nog jou belangrike familie met my kookvernuf,” laat hy hoopvol hoor.

Hy was nie naastenby so gretig om enige van my ander niggies te ontmoet of te onthaal nie. Daarvoor is hulle sweerlik te vaal, te gewoon in sy oë wat na hoër terreine streef. Zak is tog so behep met al wat ’n celeb is of net in daardie rigting neig. Dit maak my moeg.

Hy kan probeer, maar ek dink nie sy kos, met of sonder ’n Franse flair, gaan die dak laat lig nie. Eenvoudig omdat Billy en Lucy Bruwer jet-setters is wat heel waarskynlik reeds ’n cassoulet in ’n skitterblink eetsaal in Parys – die een in Frankryk, doer ver – geëet het. Daar waar die maître d’ hulle waarskynlik op die naam ken.

“Lucy-hulle is darem nie regtig só high profile nie.”

Ek hou my betaamlik nederig oor hierdie familie van my, maar in der waarheid is hulle nogal celebrities in sekere kringe. Met Billy Bruwer die stinkryk hoof van Media Uniek en Lucy wat gereeld rubrieke vir hulle koerante skryf – nou wel onder die skuilnaam Funky Feetjie, maar die lesers weet teen hierdie tyd dis sy. Aanvanklik het hulle haar identiteit geheim gehou. Nie een van die niggies sou kon raai dat dit ons eie Lucy Lombaard is wat sulke raakvat-sêgoed oor die Suid-Afrikaanse samelewing kwytraak nie.

“Ons het die lesers se nuuskierigheid geprikkel,” het Lucy verduidelik. “Hulle gemanipuleer om te probeer raai of dit bekende persoonlikhede was wat beurte maak om rubrieke te skryf en só in gesprek tree – met Funky Feetjie wat die vrou se oogpunt stel en Wouter Weet-als wat probeer verduidelik hoe mans voel oor die lewe en sy dinge.”

Totdat hulle Die Groot Onthulling op ’n splash van ’n paartie bekendgemaak het. Nou weet al wat lees dis Billy wat soms as Wouter Weet-als ewe pittig kommentaar op Lucy aka Funky Feetjie se sêgoed lewer. Mense praat daaroor, lag daarvoor, skinder daaroor. Lewer interaktief kommentaar op Twitter en Facebook ook. Soms negatief, maar gewoonlik nie. Funky Feetjie het ’n leërskare van fans om haar versamel.

Ekskuus my dat ek ’n bietjie bitter – en jaloers – is daaroor. Hoekom juis Lucy? Hoekom nie ék nie? Miskien … omdat sy die een is met skryftalent en ek nie eens behoorlik kan spel nie. Dit maak seker sin, maar my bek is in elk geval dik.

“Lucy is nie soveel anders as die res van ons Lombaard-niggies nie,” brom ek nou.

“Net so vet ook?” Zak lig sy oë in my rigting. “Dik van agter en dikker van voor?”

Ha! Ha! Baie snaaks. Van takt het Zak se ma hom nie genoeg geleer nie. Sy grappies is soms in doringdraad toegedraai.

“Rond en gesond, soos die res van ons,” gee ek hom sy sin.

“Klink asof sy met haar gat in die botter geval het.”

“Wel, Billy het haar persoonlike blogs op die internet raakgesien en gelees, baie daarvan gehou en voordat hy haar in lewende lywe ontmoet het, gevra om vir sy koerant te skryf. Hy het in haar kop belanggestel eerder as in haar lyf. Maar toe hulle saam aan die rubrieke begin werk en hy haar leer ken, het hy, against all odds, op haar verlief geraak.”

Ek sug. “Lucy se verhaal is ’n frieken feëverhaal wat waar geword het en sy en Billy Bruwer is die paartjie van die jaar.”

Ek twyfel nou half of ek soveel liefde en geluk onder een dak sal kan hanteer, maar sien nogtans uit na die kuiertjie.

’n Soort van bevryde vrou

Подняться наверх