Читать книгу ’n Soort van bevryde vrou - Kristel Loots - Страница 7

4

Оглавление

Ek sal doodtevrede wees om vanaand by die huis te bly, net te chill, met of sonder Lucy se geselskap. Maar verkieslik sonder Zak s’n. Sy kosmakery en foutvindery oor die standaard van my kombuisgoedere het my taamlik uitgeput. Waar is my spiraalsnyer en wil ek vir hom sê ek het nie eens ’n spaghettimaker nie? Wat doen ek as ek pasta wil maak? Moenie vir hom sê ek koop dit by die supermark nie. En waarom is daar ’n blikkie Aromat in my koskas, weet ek nie dis gif vir die liggaam nie? Hy sit sommer die gesondheidspolisie op my, wat dit ook al mag beteken. Lyk my dit was net met my blommetjiesvoorskoot wat hy nie ’n probleem gehad het nie.

Ons het ’n break nodig, ek en my boyfriend, die opdisser van Franse cuisine. Dringend. My senuwees is gedaan, my geduld en my kwota vrede en liefde vir vandag ook. Ek moes was en skuur en sukkel en skrop om die kombuis weer in ’n aanvaarbare toestand te kry. Nie die meeste pret wat ’n vrou soos ek kan hê nie. Ek’s moeg.

Maar Lucy het ander planne in haar kop. “Zander de Waal se nuutste boek word vanaand in The Book Shop in Sandton bekendgestel,” vertel sy my geesdriftig.

“Zander de Waal? Daai sexy skrywer van die nuwe soort skiet-skop-en-donner-boeke wat deesdae so goed verkoop?”

“Net so. Hy en Billy was kamermaats in hul studentedae op Stellenbosch, maar het later kontak verloor. Billy wil graag die vriendskap hernu, maar nou moet hy vanaand die vergadering by Media Uniek se Johannesburg-kantoor bywoon. Vandat hy agter my aan Kaap toe getrek het, pendel hy nie meer so gereeld heen en weer nie. Nou probeer hy vergaderings inwerk wanneer ons Gauteng toe kom, al is dit ook vir ’n rugbywedstryd.”

“Plig en plesier saamgegooi?”

“En ek kry darem my favourite niggie te sien.”

“Maar vanaand gaan jy seker skouers skuur met die belese en berese boekmense, die akademici van die omgewing, of hoe?”

Sy knik. “Hoewel die akademici nie noodwendig Zander de Waal se boeke lees nie. Dis dalk te bourgeois vir hulle. Sy werk word bemark as goeie, gewilde prosa – boeke wat vir ontspanning gelees word. Daar is nog steeds die persepsie dat dit nie onder letterkunde geklassifiseer kan word nie.”

“En nie deur die elite gelees word nie?” Hoewel dit nie is waarom ék dit nie lees nie. Ek weet nie hoe goed die man se boeke is nie, maar ek weet dis gewild onder die Kretie en Pletie, die ouens wat lees vir hul plesier, nie om ander te beïndruk nie. Elke af en toe is daar ’n resensie in die koerant wat die man en sy werk ophemel.

“Ek wil nie alleen gaan nie,” kla Lucy. “Kom saam met my, toe, man!”

Hare kam? Lipstick aansit, skoene aantrek terwyl ek net wil omval en slaap? Om saam met haar na ’n boring boekbekendstelling te gaan? Nogal van Zander de Waal. Zander – lekker sterk naam. Al weer ’n Z-naam. Wat was ons ouers almal so behep met die letter Z? Het seker maar probeer snaaks wees. Cool. Ek hou darem baie van my eie naam, dis kort en sonder fieterjasies, soos ek. Maar te veel zette raak later afgesaag.

“Jong, ek is nie juis een vir lees nie. Ek het beter dinge om te doen. My naels is juis twee dae laas geverf.”

Lucy lag my uit. “Ek ken jou beter as dit! Jy pas nie in die rol van ’n dom poppie wie se naels vir haar prioriteit nommer een is nie.”

Sy’s reg. Ek lieg ’n bietjie. In die tyd voordat ek ’n kêrel gehad het, het ek gereeld met ’n boek in die bed geklim. Selfs oor naweke. Skaamteloos. Eerder dít as na die ewige partytjies toe gaan waar jy soveel as moontlik shooters moet down as jy in die tel wil wees. Ek moet versigtig wees – ek beskik oor die potensiaal om in ’n eenkantvrou te ontaard, een van daardie met ’n karbonkel op die neus waarmee jy klein kindertjies bang maak as hulle nie wil hoor nie.

Maar ek is regtig te oud daarvoor om my elke aand poepdronk te drink. Om met ’n boek in die bed te lê is nie die ergste wat ’n mens kan oorkom nie. Maar dan moet dit een van my keuse wees. ’n Liefdesverhaal. Een wat ek saam met my onder die kombers kan toemaak in die hoop dat ek daarvan sal droom. Dat die geluk daarin aansteeklik sal wees sodat ek ook lank en gelukkig saam met iemand in ’n huis, paleis, pondok of redelik netjiese varkhok sal woon.

Ek droom van hom, hierdie man vir wie ek plek hou in my hart. Ek het hom lief, so lief dat dit soms voel of my hart te klein is om daardie liefde te herberg. Of my hart wil oopbars soos ’n ryp granaat en sing oor daardie liefde, amper soos in ’n outydse Hollywood-musiekprent waar almal in step dans en in tune sing. Ek gaar my liefde vir hom op, wag dat dit ryp word, tot volle blom kom, om dit dan op hom uit te stort. Op hierdie man wat in my kop woon, in my hart. Die man wat heel moontlik nie bestaan nie, al wil ek hoe graag glo dat hy iewers op ys gehou word vir my. Hierdie man wat ek nie in Zak herken nie …

Ek was vir lank ’n regte ou kloosterkoek, wou nie oorhaastig van kind in vrou verander nie. Ek wou my maagdelikheid, waaroor my ma soos ’n engel met ’n swaard gewaak het, vir hierdie droomman gee – eendag wanneer die tyd reg is, eendag wanneer ek hom gevind het. Ek wou dit vir hom op ’n silwerskinkbord aanbied, ’n kleinood wat vir hom ook kosbaar sou wees.

Wensdenkery, dit weet ek nou. Ek moes noodgedwonge my onskuld en my naïwiteit verloor as ek wou inpas by die ander universiteitstudente. “Waar daar gehoer en gerumoer word,” het my ma gereeld gesug. En sy was nie heeltemal verkeerd nie.

Soms, wanneer die wind buite wanhopig huil, verlang ek nog. Hoop ek nog. Op eendag … die dag wanneer hierdie gesiglose man vanuit die niet voor my sal verskyn. En ek sal wéét dis hy – onomwonde weet dis hy op wie ek my lewe lank al wag. Ek weet ek is al te oud vir sulke bakvissie-fantasieë, maar ek wil nog nie daarvan afsien nie, al het ek nou ’n boyfriend wat om my draai.

Nogal een wat kan gym en spring lank nadat baie ander mans al uitgesak het. ’n Boyfriend wat gaande is oor sport. Ek nogal! Ek wat sweet nog voordat ek opwarmingsoefeninge gedoen het. Ek wat heeltemal verbouereerd raak en nooit ’n bal kan vang as dit op my afgepyl kom nie. Ek die bloukous, die agteros, die een wat van laerskooldae af altyd laaste gekies is omdat niemand my in hul span wou hê nie. Want ek sou die Jona wees wat die skip laat sink, die een wat struikel en die boontjiesak laat val of na die verkeerde kant toe hardloop en my span laat verloor. Ek slaan vir my ’n kêrel los wat ’n fiksheidsfanatikus is.

Jy sou dink ek moet tevrede wees met Zak aan my sy, dankbaar ook. En ek is, ek is. Om ’n man van ferm vlees en bruisende bloed te vergelyk met een wat net in my kop bestaan, is lawwigheid. Maar ek soek hom steeds, veral in die liefdesverhale wat ek lees. En wanneer ek hom daar aantref, soek ek hom daar buite in die werklike lewe ook – tevergeefs, want my droomman bestaan net tussen die blaaie van ’n boek.

Miskien moet ek eerder Zander de Waal se boeke begin lees, want ’n bloeddorstige reeksmoordenaar is glo gewoonlik die hoofkarakter. Nie juis die stuff waarin drome bewaarheid word nie. Dan sal my fantasieë met ’n wrede knal in die slag bly en sal ek die wêreld sien soos dit is: dat ek ’n veel groter kans staan om ’n reeksmoordenaar raak te loop as my storieboekheld.

Sowaar, as ek nie gou genoeg regkom nie, gaan ek my gat sien.

“Spanningsverhale besaai met bloed en derms is nie my soort leesstof nie,” probeer ek nogtans keer dat ek saam met Lucy ’n aand in ’n boekwinkel moet deurbring waar ek nie werklik wil wees nie. “Ek lees nie Zander de Waal se boeke nie. Hoekom dan saamgaan? Om wát te doen?”

“Om mans te ontmoet. Mans wat lees. Hulle is skaars genoeg en dis ook net by iemand soos Zander de Waal se bekendstellings wat hulle hul gesigte wys. Die meeste is verleë om met ’n boek in die hand betrap te word, maar Zander de Waal s’n is heeltemal ’n ander saak. Die ou is so macho en sy stories so macho dat almal dit lees, van takhaar tot teoloog.”

“Ek het nie mans wat lees nodig nie, of enige ander man nie, ek hét mos nou ’n significant other.”

“Hy kan saamkom as hy wil.”

Ek skud my kop. “Zak het Vrydagaande dansklas.” Ek twyfel of hy in elk geval sou gaan. Zak is meer ingestel op Billy Bruwer se vriendskap as om Lucy te beïndruk. As jy die peperduur trouring van haar vinger afhaal, bly daar op die oog af nie veel oor van mevrou doktor Bruwer se status en statuur nie. In haar murg en gebeentes is sy eintlik maar nog een van die Lombaard-niggies, al het sy dan ook gewig verloor. Sy lyk hoeka ’n bietjie verbleik sedert die meeste van haar grimering in die slag gebly het.

Maar toe kry Lucy my tog omgepraat, want sy het the gift of the gab en ons is bloedniggies, en bloedniggies moet soms vir mekaar opofferings maak.

Ek raai dis die gewone gros social butterflies wat daar opdaag. Die vroue wat met sag, gemoduleerde Sondagstemme praat en egte juwele dra. Niks wat waardevol is, word in die brandkluis versteek nie; dit word om die nek gehang en skitter genoeg om enige voornemende dief te laat kop verloor. Dis die bebrilde literati en glans-glitterati van Johannesburg wat hier saamgegooi is. En Lucy, oftewel die befaamde Funky Feetjie wat vir Media Uniek rubrieke skryf.

Daar is ’n beroering toe die eregas opdaag. Zander de Waal, geklee in ’n jas wat ’n high-class flasher met baie geld en min verstand ook sou kon dra, sy hare agteroor gekam en met sy oë broeiend agter die brillense, lyk self na ’n karakter in ’n boek. Nie ’n bloed-en-derms-storie nie, eerder ’n stomende liefdesverhaal, die soort wat ek en vroue soos ek graag verslind. Ek vererg my in ’n mate. Mans behoort nie so dodelik aantreklik te wees nie. Dit maak swape van vroue en monsters van mans.

Moenie ’n fout maak nie – ek ken ’n playboy as ek hom sien én ek weet genoeg van Zander de Waal se lewensverhaal om ’n wye draai om hom te loop. Hy gee bad boys ’n nog slegter naam met die streke wat hy uithaal. As jy so gereeld soos ek in Huisgenoot lees oor die celebs en semi-celebs se manewales, weet jy later amper al watter kleur hul lakens is. En bedbedrywighede is blykbaar hoog op hierdie ou se prioriteitslys. Ook nie skaam nie, hy spog graag met sy dollas op plekke waar die kameras flits. Dan die een, dan die ander. James Bond in ’n Afrikaanse baadjie. Pierewaaier met meer houding as wat vir enige man goed kan wees.

“Hoe gaan dit deesdae met meneer De Waal se liefdeslewe?” wil ek in ’n fluisterstem by Lucy weet. “Was daar verwikkelinge waarvan ek nog nie gelees het nie?”

“Jong, die sensasionele tydskrifstories ten spyt, bly Zander de Waal ’n mate van ’n enigma. Hy hou sy bewonderaars aan die raai as dit by sy liefdesake kom. Hy trek nou by sy derde vrou, ás hy in die stilligheid met sy nuutste sleepsel getroud is sonder dat die pers dit kon uitsnuffel. Die man hou van trou, geen mens kan by hom en sy string vroue byhou nie.”

“En die een is so mooi soos die ander.”

“Regte poppies om na te kyk, die vroue in sy lewe. Maar nie almal so onnosel soos jy sou dink nie.”

“Onnosel genoeg om vir hom te val.”

“Te val en te bly lê, ja.”

Dis hoe ek van Lucy hou, nie so holier-than-thou dat sy skrik vir sappige skinderpraatjies nie.

Maar daar is nie kans om verder uit te vra nie, want Zander de Waal se uitgewer heet almal welkom en stel die skrywer met die goue gedagtes wat glo die lekkerste stories skryf aan die gehoor bekend. Dis nou wat ek ’n understatement noem. Jy kan Zander de Waal se verhale baie dinge noem, maar jy kan nie daarna bloot as lekker stories verwys nie. Selfs ek weet dit.

Dit help duidelik vir die bemarking van sy boeke dat hy so strelend op die oog is. Seker al flink op pad veertig toe, as ek my nie misgis nie. Nogal met ’n baard, een van daardie wat met presisie geskeer word. Mans se baarde is deesdae kunswerke in die kleine. Ydele goed, mansmense – gee voor dat hulle vreeslik macho is en nie traak oor hoe hulle lyk nie, want hulle is mos ware mans. Meanwhile is al hulle two-tone hemde saam met oupa se safaripak lankal vir die Salvation Army gegee om aan haweloses uit te deel, mits dié nie modebewus is nie. Mans gebruik vogmiddel op hul tere wangetjies en staan tou by skoonheidsdeskundiges om hul neushare te laat pluk. Ek sal die helfte van my salaristjek wed dat meneer die beroemde skrywer ook iewers ’n draai gemaak het om genoeg gegroom te word dat hy die oog vang. En hou.

Sy stem is ook mooi genoeg om die haartjies op my voorarms te laat orent staan. Maar nóg die man nóg sy stem is genoeg om die aand te red. Ek hou die horlosie teen die muur dop en luister skaars na sy praatjie. Donker dae, donkerder nagte beloof glo om sy lesers hewig te laat ril en gril. Hulle sal waarde vir hul geld kry. Ja, ja, bla, bla …

Ek hou regtig nie van boekbekendstellings nie. Skrywers wat praat en praat oor hul skryfwerk en smeek dat lesers asseblief tog hul boeke moet koop sodat hulle met hul skamele tantième brood op die tafel kan sit. Ek voel elke keer jammer vir hulle en so skuldig oor die gratis glasie wyn dat ek maar die boek koop, al gebruik ek dit later vir ’n deurstopper. Of stuur dit vir die ouetehuis, waar ou tannies met dik brille liefdesverhale met ’n vreeslike gehyg en ’n gehort in kan lees. Of moordstories wat hulle bloeddruk gevaarlik hoog laat styg.

Oukei, Zander de Waal se boeke word in ek weet nie hoeveel tale vertaal nie en ek skat hy lag al die pad bank toe; hy staan nie bakhand en bedel nie en ek hoef hom nie te ondersteun nie. Lucy kan maar sy boek koop as sy daarvoor kans sien, dit was haar idee om te kom.

Zander verseker die bloeddorstigstes onder ons dat daar genoeg lyke sal wees om hulle te behaag, morsdood dooie lyke in systraatjies met dolke wat in hul harte gesteek en daar gelos word, sonder dat die vingerafdrukke afgevee word. “Dis ’n uitdagende moordenaar hierdie,” verseker hy die gehoor wat so aan sy lippe hang.

Dan is dit tyd vir die mense om hom met vrae te peper. Elke keer as iemand orent kom en ’n klomp groot woorde aframmel oor intertekstualiteit en simboliese elemente, skuif ek rusteloos rond. Ek is suf gesit, moeg voorgegee dat ek hier wil wees. Ek is geheel en al uit my comfort zone en dit het baie te doen met die skrywer self.

Dis toe ’n vrou reg agter my opstaan en wil weet of sy karakters op regte mense, lewend of dood, geskoei is, dat Zander de Waal in my rigting kyk. Sy oë vang myne vas – en hou dit vas. Ek wil wegkyk, maar kry dit nie reg nie. Dis belaglik. Dis asof ek deur die bleddie mansmens gehipnotiseer word. Daar is iets … soos ’n slot wat toeklap in die enkele sekondes wat ons mekaar so beloer. My nekhare staan orent. Hier moet ek weg en gou ook. Ek sweer die mansmens het toorkrag in daardie donker oë van hom. Van iemand wat sulke boeke skryf, kan jy enigiets verwag.

Ek bly op ’n veilige afstand toe Lucy na die tyd in die lang ry inval om haar boek te laat teken. “Vir wie is die boek?” hoor ek hom vra sonder dat hy na haar toe opkyk.

“Lucy. Lucy Lombaard, asseblief.” Maar dan lag sy. “Nee, jammer, nie Lombaard nie, Bruwer. Lucy Bruwer. Ek moet nog gewoond raak daaraan.”

“Pas getroud?” vra hy.

“Darem al ’n paar maande. Met Billy Bruwer.”

Nou kyk hy op. “Billy Bruwer, my kamermaat van varsity?”

“Einste. Hy kon nie vanaand hier wees nie, maar hy stuur groete.”

Zander de Waal is soos blits uit sy stoel om Lucy teen sy borskas te druk.

“Funky Feetjie in lewende lywe! Ek is so bly om jou te leer ken.”

Lucy roei behoorlik om uit sy greep los te kom. Ek sou nie, ek sou net daar bly staan het. Vir ’n rukkie in elk geval. Net om te weet hoe dit voel.

“Ek weet als van Funky Feetjie en Wouter Weet-als en hoe hulle mekaar gevind het en daarna getroud is. Billy Bruwer was altyd ’n haan onder die henne, die gelukkige bliksem.”

Daar word gelag en gesels en nog ’n keer drukkies uitgedeel. Ek staan ’n entjie verder weg van Lucy af. En van Zander de Waal. Hier is genoeg vroue wat na hom kyk asof hulle hom wil verorber.

Sulke tye is ek bly Zak is in my lewe. As iemand dalk sou dink ek is so alleen soos ’n krokodil en begeer ’n happie soos hierdie formidabele skrywer, gooi ek Zak se naam gou in die geselskap rond. ’n Meisie met ’n ou beskik oor ’n status wat ’n enkelloper nie beskore is nie. Ek is ’n meisie met ’n ou, ’n kêrel, ’n boyfriend, een van die dae dalk nog ’n verloofde ook. Hoewel ek vreeslik benoud raak as ek daaraan dink.

Maar Zander de Waal sien my tog raak en wink my nader. Ek kyk oor my skouer of daar iemand agter my staan, maar hy wink weer.

“Wie? Ek?” stamel ek.

“Asseblief, ja.”

Die boekwurms maak vieserig vir my plek toe ek nader stap.

“Wat is jóú naam?” vra hy toe ek soos ’n slaapwandelaar langs hom staan.

Vir ’n oomblik is dit asof ek nie seker is nie. “Z … My naam is …” Ek sluk ’n slag. “Zoe,” kry ek gesê. Dis sowaar aansteeklik. Dis nie net Lucy wat tydelik aan ’n identiteitskrisis gely het toe sy naby genoeg gestaan het om hom te kan ruik nie. Ek vererg my – vir hom, maar veral vir myself. “My naam is Zoe Debora Louisa Lombaard.” Shut up, Zoe! Maar Zoe wil nie shut up nie. “My ma … my pa … ek bedoel my ouers, het net die een dogter gehad. Toe vernoem hulle sommer al die oumas wat ek het.”

“Hoeveel oumas is daar?” Watse stupid vrae vra die mansmens my?

“Gelukkig net twee.”

Tik my om met ’n veer – ek weet nie waarom ek so volledig antwoord nie. Ek weet ook nie waarom ek so vreemd voel en so vreemd optree nie. Moet iets wees wat ek geëet het wat nie met my akkordeer nie, sweerlik Zak se Franse brousel van vroeër vanaand, gemaak volgens sy ma se resep. Ek hét nogal ’n sensitiewe maag. Miskien is dit maar goed dat Lucy so neusoptrekkerig was toe hy haar bord nader gestoot het. Dalk het sy iets geruik wat by my verbygegaan het. Klaarblyklik het dit haar nie veel gehelp nie, sy was self vir ’n oomblik of twee heeltemal oorstuur.

“Zoe Debora Louisa Lombaard … Mooi naam,” gee Zander de Waal sy goedkeuring.

Hy trek ’n boek nader. Aan: Zoe Debora Louisa Lombaard, skryf hy voorin.

“Nee!” keer ek, al is dit te laat. “Ek … ek het nie ’n boek gekoop nie.”

“Ek sien so. Dit is ’n geskenk.”

“Maar … hoekom? Ek wil dit nie hê nie.”

“Want ek sien die muse op jou skouer sit,” antwoord hy dromerig. “En ek wil haar nader nooi.”

Ek vee amper oor my linkerskouer, gretig om ontslae te raak van die muse of wie of wat ook al daar mag sit. Ek weet dis swak maniere, maar ek lig my hande afwerend. “Ek lees nie eintlik jou boeke nie, jammer.”

“Dis oukei, jy hoef nie. Maar dis al wat ek het wat ek vir jou kan gee.”

Ek neem die boek asof dit enige oomblik in my gesig kan ontplof. Dan mompel ek iets wat hopelik vir ’n dankie kan deurgaan en stap sonder omkyk tussen mense deur in die uitgang se rigting.

“Die muse op jou skouer …” sê Lucy droomverlore agter my. “Hy gaan jou seker as ’n karakter in sy volgende boek gebruik.”

Daarvan hou ek niks. “En my seker op die wreedste moontlike manier vermoor.”

“Wat ’n eer! Ek wens dit was ék.”

“Ek wens ook dit was eerder jy.”

As ek gehoop het om ongemerk weg te kom, het ek my misreken.

“Sien jou môre, Lucy se niggie, Zoe Debora Louisa Lombaard!” roep Zander agter my aan.

Ek steek in my spore vas.

My weer sien? Hy wat Zander de Waal is? Vir wat? Waar en hoe en hoekom? Môre nogal? Is die man mal, of wat?

“Ek dink nie so nie,” help ek hom reg.

“O ja, baie beslis.” Daar is ’n tergklankie in sy stem.

Dit raak stil om ons, asof ons die hoofspelers is in ’n slapstick-komedie waar daar nou enige tyd terte heen en weer gegooi gaan word en die ander mense hierso almal ekstras is. Ag, dêmmit tog. Al wat ek vanaand wou doen, is om ’n lae profiel te handhaaf en so gou moontlik hier weg te kom en aan te gaan met my doodgewone, effens saai lewe. Wat darem nie meer só saai is vandat ek ’n kêrel het nie.

Nou hou Zander de Waal aan om met my te neuk, probeer my vir die gek hou. Verwag seker van my om te swymel en voor sy voete neer te val. Wat sou sy storie wees? Probeer hy Salomo na-aap met die vroue wat hy versamel? Ek besef my beperkinge, ek weet ek sal nie kwalifiseer vir een van die sewehonderd hoofvroue nie, hoewel dalk as een van driehonderd bywywe as hy desperaat genoeg is om sy harem voltallig te hou. ’n Bloubaard van ’n stoetbul moet seker sy naam gestand doen, selfs al moet hy soms sy standaarde aanpas sodat iemand soos ek nie gediskwalifiseer word nie. Jammer, maar ek waardeer dit glad nie dat hy my uitsonder nie. Vir wat? Dis ’n speletjie wat hy speel, ek weet, dis wat hy doen, speel yo-yo met vroueharte, foeter hul lewens op en gaan dan voort on his merry way.

“Ek … ons gaan môre rugby toe,” probeer ek hom koudlei.

“Die hele wêreld gaan môre rugby toe,” verseker hy my. “Dis waar ons mekaar weer gaan sien.”

Ek haal my skouers op, kamma nonchalant. Toe draai ek my rug op hom en stap verder. Mekaar sien? Mekaar raakloop? Tussen sestigduisend ander mense? Wat is die kanse?

Maar toe is dit nie so onmoontlik soos ek gedink het nie.

“Billy het gevra ek moet Zander nooi om môre by ons aan te sluit vir die rugby,” verduidelik Lucy toe ons verder stap. “Hy het ’n ekstra kaartjie vir hom saamgegee.”

“By ons? Op die peanut gallery?”

“Dis jou kêrel wat aangedring dat ons spesifiek daar moes sit.”

“Dis nogal gesogte plekke,” verdedig ek my kêrel se keuse. Maar nie noodwendig vir iemand soos Zander de Waal nie. “En toe stem hy in? Het hy dan niks beter om met sy tyd te doen nie?”

“Blykbaar nie. Sy meisie is weg vir die naweek, maar hy’s game. Hy kan glo nie wag om weer vir Billy te sien nie.”

“Hoekom het hy dan nie lankal ’n plan gemaak nie? Billy is volksbesit, dit sou doodmaklik wees om hom te kontak.”

“Te bel of ’n boodskap op Facebook te stuur, ek stem saam. Billy kon net so maklik by Zander uitkom.”

“Maar hulle het nie …”

“Lyk my dis hoe mans se koppe werk. Hulle doen nie onnodig moeite met vriendskappe nie. Maar as hulle weer van mekaar onthou, hervat hulle dit asof daar nooit ’n jare lange onderbreking was nie.”

Ek sug gelate. Dit gaan genoeg van my verg om ’n rugbywedstryd deur te sit. As Zander de Waal ook nog in die omgewing is, kan die ervaring uiters intens raak. Want ek onthou daardie oomblik toe sy oë myne gegryp het.

’n Soort van bevryde vrou

Подняться наверх