Читать книгу Plesierengel - Leon van Nierop - Страница 3

VOORWOORD

Оглавление

Hierdie roman is ’n opgedateerde, herskrewe weergawe van die 1998-roman wat destyds by Perskor verskyn het oor dieselfde onderwerp. Die inspirasie het gekom van ’n lewen­dige debat destyds oor die wettiging van prostitusie. Daar is toe besluit om ’n roman te publiseer wat die onderwerp kaalhand aandurf.

Waar die probleme van vroulike prostitute gewoonlik uitgebeeld word, word dié van mans wat slegs met vroue werk bitter selde belig. Slegs enkele rolprente het dit suksesvol gedoen, soos American Gigolo, Midnight Cowboy en Miehen Työ.

Gedurende die aanloop tot die oorspronklike Die plesierengel het ek versoeke gerig dat mense hul ervarings moet deel. Sommige insidente in die oorspronklike boek is losweg gegrond op daardie vertellings.

Toe daar onlangs sprake was om hierdie roman weer uit te gee, het ek dit herlees en besef dat Suid-Afrika sodanig verander het dat die verhaal ’n nuwe struktuur, intriges en ’n herbedink van die hoofkarakters benodig het. Dit het toevallig gebeur terwyl daar ’n hernude stryd om die wettiging van prostitusie woed. Die stigma wat aan prostitusie gekleef het, was egter steeds onveranderd, sonder inagneming van sosiale en maatskaplike toestande en veranderings wat intussen plaasgevind het. Die boek probeer ook daardie elemente belig.

Hierdie roman probeer nie die wetgewing goed- of slegpraat nie, nog minder om prostitusie te veroordeel, te sensualiseer of op te hemel. Dit word hopelik aan die leser se eie oordeel oorgelaat. Wat my egter tydens gesprekke met sielkundiges en prostitute getref het, was dat hul belewenisse dikwels ooreengestem het. Dit het opnuut herhalende temas van misbruik, geweld en skaamte, maar ook die uit­lewing van fantasieë of betaalde, “wegneem”-seks as ’n dwelm teen die werklikheid na vore gebring. Dit het tonele geïnspireer wat losweg gegrond is op die oorspronklike roman, maar aangepas is vir ’n nuwe tydsgewrig.

Dit was ook die invloed wat die werk op individue het, hetsy in hoëklas-weelde of agterkamers, wat in die roman belig word, die sogenaamde “smokkel met die kop”-sindroom en die wêreld se beheptheid met skoonheid.

Wat ook getref het, is hoeveel Afrikanerseuns en -meisies hulle op straat bevind omdat hulle “uitgekom” het teenoor hul ouers en dan summier uit die huis gegooi is, wat aanleiding gee tot groter euwels en selfs tragedies.

Ek het van die sekstonele aan kollegas en medeskrywers gestuur om hul reaksie te toets. Was dit te eksplisiet, in swak smaak, te smerig? Kan ’n mens ’n boek oor hierdie bedryf skryf en die eksplisiete en seksuele uitlaat ter wille van geskokte reaksie? Ek waardeer hul insae en raad.

Daar is in die boek probeer om veral ook op die emosionele elemente te fokus in plaas van ’n pornografiese quickie. Maar indien slegs seks vir ’n betrokke karakter belangrik was en as ’n uitlaatklep gedien het, is dit presies so uitgebeeld sonder selfsensuur ter wille van sensitiewe lesers.

Wat uit onderhoude met sielkundiges, sosiale werkers en prostitute geblyk het, was dat prostitusie dus nie net om seks gaan nie, maar ook om die soeke na romanse en aanvaarding, en die hantering en wegvlug van eensaamheid.

Weet dus dat as jy hierdie boek lees, daar eksplisiete tonele is, en dat daar probeer is om dit nie as titillering of pornografie te laat oorkom nie. Daarvan is daar genoeg. Dit weerspieël ervarings (dikwels ook fiktief bygewerk) oor mense wat moedverlore en bedruk was (is) oor die toestand waarin die land hom bevind, en waar prostitusie, hetsy as kliënt of diensverskaffer, ’n laaste, gedwonge uitweg is. Maar veral hoe die gemeenskap dit deesdae ervaar.

Leon van Nierop

Plesierengel

Подняться наверх