Читать книгу Plesierengel - Leon van Nierop - Страница 5

TWEE

Оглавление

Die slag weerklink selfs bokant die geraas wat oor die radio kom. Dit voel of iemand haar motor met ’n groot vuis tot stilstand gedwing het. ’n Skerp pyn skiet deur haar nek en die bakwerk van haar motor rys soos die berg Ararat voor haar. Was dit nie vir die sitplekgordel nie, was sy nou ’n kandidaat vir plastiese chirurgie.

Erika Hamilton is oorbluf. Links van haar jaag taxi’s teen die spoed van opslagkoeëls verby, regs draai koppe simpatiek in haar rigting voordat selfoongesprekke voortgesit word. En in haar truspieël maak iemand vulgêre handbewegings. ’n Bestuurder skiet aggressief verby en sy mond vorm ’n O.

’n Bedelaar kom aangedraf en hou ’n bakhand uit vir ’n aalmoes, die rooi-en-geel mussie halfmas oor die oë, die tande in ’n halfmaanplooitjie – ’n wit kerf in ’n bruin waatlemoengesig, skynbaar salig onbewus van haar dilemma.

Die vrou in die motor voor haar vou haar hande om haar kop. Motors toet agter Erika, ’n ruit word afgedraai: “Learn how to drive, bitch!” Iewers vries ’n verbyganger met ’n half geëete stuk wegneemhoender en beduie laggend vir ’n maat dat Rosebank nog een van sy vele ongelukke beleef.

Die radio dreun voort. Iemand snater oor hoe om ’n verhouding te hê sonder dat jou wederhelf daarvan uitvind en Erika dink: Binnekort sal die aanbieder van verkeersverslae, wie se spraakpatroon met elke probeerslag die tempo van ’n masjiengeweer naboots, ook hierdie bufferstamp uitsaai: “An accident in the middle lane of Jan Smuts Avenue near the corner of 7th Avenue in Rosebank. Traffic is backed up to Zoo Lake. Try Oxford Road as an alternative.”

“Kalm nou,” sê Erika vir haarself, “dink uit die ander persoon se perspektief. Sy kon dalk uitgeswaai het vir ’n hond of ’n taxi kon voor haar ingesny het.”

In haar gedagtes hoor sy hoe sy ’n kliënt in haar spreekkamer gemaan het oor vloermoere: “Moenie die eerste ding sê wat in jou kop kom nie, probeer om nie so skerp te reageer nie. Onthou, jy kan daardie woorde nooit terugvat nie.”

Erika pluk haar motordeur oop. Dit maak ’n kreungeluid. Die sitplekgordel verhoed haar om onmiddellik uit te spring. ’n Verbygaande motoris mis haar met sentimeters en toet, ’n middelvinger sy enigste kommentaar. Agter haar nog motors wat opdam – motoriste wat swetsend probeer om na die linker- of regterbane oor te beweeg.

Erika haal haar selfoon uit en skakel ’n noodnommer, amper outomaties Rodney se nommer. Die skok het haar laat vergeet dat sy hom nie meer in kennis kan stel van elke klein katastrofe in haar lewe nie, nog minder om bystand te vra.

Vroue met sakke mielies op hul koppe klik hul tonge besorg en praat in Xhosa met mekaar. Erika herken die woorde “mfazi” en “imoto” tussen die klakkende kommentaar. En toe: “Green mealie-ie-ies!” Nog in gewone dag in Johannesburg. En terwyl sy hier in die middel van Jan Smutslaan staan, besef sy dat sy nog altyd net hier deurgejaag het. Sy ken die stad eintlik glad nie en raak nou skielik bewus van die geboue om haar.

Mens is eintlik siende blind, dink sy.

Die bestuurder voor haar, wat so skielik rem getrap het, klim nou eers uit. Sy wankel op hoë spykerhakkies, haar gebleikte blonde hare wip asof dit ’n eie lewe en identiteit het, en haar borste skommel onder ’n bloesie wat te veel van haar plesierpoortjie wys. “Ek is jammer.” Outomaties, verskrik, tranerig, geskok. “Ek is so, só jammer!”

“Wat het gebeur? Jy het dan pas begin wegtrek, jy het … Ek bedoel, hoekom rem aanslaan as jy … ?” Erika praat onsamehangend en haar stem bewe. Hoe hard sy ook al probeer, sy slaag nie daarin om haar eie raad te volg nie, die woede nou soos melk wat oorkook. Verdomp! Kon sy nie net ’n halfminuut later uit haar kantoor geloop het nie, dan het ’n ander pateet in hierdie neurotiese vrou met die strooipophare vasgery. En steeds kan sy nie help om haar geskokte reaksie te vergelyk met die raad wat sy in haar sielkunde-praktyk in Parktown met haar kliënte deel nie.

“Pas jou eie prekies ’n slag toe!” het Rodney gesê toe hulle nog uitgegaan het.

“Ek het my oë vir ’n oomblik van die pad af geneem! Ek het opgekyk en daar is hy. Oh, dear Lord, toe skrik ek my poeierdoos plat en kaboem! Jy slaat my in my bottomless boot! My man gaan my afslag! Egskeidingshof, skei die eiergeel van die wit en help my om my huwelik te red!”

Erika verstaan nie heeltemal wat die vrou kwytraak nie. Sy vind haar stem, haal diep asem en probeer praat en skrik wanneer die noodnommer beantwoord word. Die stem vra uit oor haar probleem. Sy probeer gelyktydig met die bleikblondine en die nooddiens kommunikeer.

“I was involved in an accident on the corner of 7th Avenue and Jan Smuts Avenue.”

Die stem vra haar lidmaatskap- en haar foonnommer en belowe om ’n noodvoertuig uit te stuur. Die selfoon wil uit Erika se hand glip, nat van die sweet. Sy sien al hoe meer mense saamdrom wat met stom oë na die ongeluk staar en sy onthou haar handsak op die sitplek langs haar. Enig­iemand kan dit gryp.

Sy leun oor die bestuurdersitplek en tel dit op. Die radio kwetter steeds – dié slag ’n versekering-advertensie. Sy besef dat sy haar versekeraar seker ook so gou moontlik moet skakel.

Erika skakel die kliënt na wie sy op pad was en verduidelik dat sy die afspraak sal moet skuif. Sy was in ’n ligte ongeluk.

“Hoekom het jy so skielik stilgehou?” vra sy dan vir die bottelblondine. Sy ruik uitlaatgasse en rubber op die teer. Sy hou nie daarvan as haar stem so bewe nie, want dit beteken sy is nie in beheer nie.

Die vrou druk ’n bewerige handjie teen haar mond wat te rooi geverf is, haar oorbelle swaai soos die Vatikaan se kerkklokke en haar naels klik oor haar selfoon se sleutels. “Dit!” Sy beduie na die reuse-reklamebord aan die regterkant van die pad. “O liewe hemel, dit was alles Die Crotch se skuld, God bless my coolbox! Dit het my aandag vir ’n sekonde afgetrek. Ek is onskuldig. As my monsterman my net sal glo! Oh Tristan, what have you done to me, baby?”

Erika kyk op na die reklamebord. ’n Man in ’n onderbroek en met ’n sonbril op sit oopketel: Want to share my Jaspers?

“Jy bedoel, jy het,” Erika probeer haar asemhaling reguleer, “remme aangeslaan oor hierdie advertensie?”

“Kon dit nie verhelp nie. Gister was hier ’n Kulula-ad of ’n ding in daai babakots-groen. En nou skielik hý!”

Diep, diép asemhaal.

“Ek veronderstel ons moet nommers uitruil … versekeraars … ” Wat moet sy alles doen? Erika se brein kan nie helder funksioneer nie. Het sy ’n pen om mee te skryf?

’n Man probeer tussenbeide tree. “Dames, het julle al ’n noodvoertuig ontbied? Moet ek die polisie bel?”

Die vrou in wie se motor Erika vasgery het, ignoreer die man en beduie na die onderbroekmodel. “Ek ken hom. Toe ek opkyk, hier staan hy half kaal drie verdiepings hoog met sy fantastiese heuwel ’n verdieping hoog, toe verloor ek dit! Tristan Hansen, ek wens jy … jy … sluk ’n bottel Viagra in!”

Die bottelblondine se selfoon lui. Sy antwoord en haar stem verander dadelik na soetsappig.

“Hallo, my engellief, jy sal nie glo wat nou net gebeur het nie.” ’n Tranerigheid begin en Erika kry die indruk dat die vrou daardie emosie aanskakel soos ’n aktrise in ’n sepie. “Ek was in ’n prang, my dierbaarste, en die vet weet, dit was my skuld. Ek weet mens moenie erken dit was jou skuld nie,” sy beduie na die omstanders met ’n toon van histerie, “maak toe julle ore! Maar ek het dit verloor, snoekie.” Sy babbel voort.

Twee insleepvoertuie hou met brullende enjins langs hulle stil. ’n Oorgewig man met ’n T-hemp waarop staan Ek maak genoeg kak by die huis, so moenie hier met my kak soek nie spring uit met sy pap pens wat dril.

Die ander se T-hemp sê: Noudat ek jou gesien het, het ek drank nodig.

Erika knip haar oë en staar na die reklamebord voor haar. Die model wil-wil bekend lyk.

“Ek is so jammer, dame, mevrou, juffrou … ”

“Erika Hamilton.”

“My man is op pad met die spoed van ’n vlietende gedagte, dan gaan die hel die knormoer tref!” babbel die bottelblondine voort. Hulle ruil besonderhede uit. Die vrou neem Erika se kaartjie en kyk daarna.

“Is jy ’n dokter?”

“ ’n Doktor. Sielkundige.”

“My darling, hierna het ék ’n shrink nodig! Ek kom klop binnekort by jou aan vir hulp. En om te keer dat my man my skei!”

Die bestuurders van insleepvoertuie ding mee om Erika en die bottelblondine se motors in te sleep, maar sy weier. Haar selfoon lui en die bestuurder wat uit die motor agter haar geklim het, kyk na die insleepvoertuie en brom: “Bliksemse aasvoëls. Nes daar ’n ongeluk is, sleep julle tepels op die grond, so kruip julle hiënas. Skuim.”

“O Tristan, hoe kon jy dit aan my doen, bybie?” snik die vrou weer.

“Tristan?” vra Erika terwyl sy die vrou se besonderhede neerskryf. “Wie is hy?”

“Tristan Hansen. Maar net die mooiste dish in hierdie hele flippen misdaadbesmette land. Hier moet darem iets goeds uit hierdie chaos kom. As Jacob Zuma vier vroue kan hê, kan ons meisies seker vir Tristan hê?”

Sy gesig. Iewers, veraf, wil daar ’n klokkie lui. Tristan is ’n ongewone naam. Sy was saam met ’n Tristan (was sy van Hansen?) op universiteit. Al die meisies, en ook ’n paar mans in die klas, was verlief op hom en het hom die mooiste eye-candy op die kampus genoem. Kan dit dieselfde man wees?

Sy bekyk die bottelblondine se visitekaartjie. Aronique, is in swierige letters geskryf, gevolg deur Skoonheidsdeskundige/Beauty Salon, met ’n faks- en landlyn asook ’n adres en selfoonnommers.

Tristan Hansen het in 2006 skielik sielkunde gedurende sy tweede jaar opgeskop.

Rodney. As sy net vir Rodney kon bel. Na twee jaar se saambly het hy drie weke gelede onseremonieel uitgetrek.

“Nou het jy die volmaakte lewe. Net jy en jou werk en jou kliënte. Ek deel jou nie meer nie, ‘doktor’!” was sy afskeidsgroet. Nogal dramaties vir ’n man van min woorde.

Omstaanders neem selfoonfoto’s. Sommige van die ligte ongeluk, ander van die reuse-plakkaat van Tristan Hansen.

’n Paar minute later word Erika se motor deur die AA ingesleep.

“Maak geen fout nie, sweetie. Ek kom jou binnekort sien. Ek is so, só jammer, doktor! Maar as jy weet wat my man aan my gaan doen, sal jy my sommer dadelik vir ’n sessie neem!” babbel Aronique sonder die van voort.

Nog ’n motor hou stil en ’n man klim uit ’n motor waarop ’n koerant se embleem gedruk is. Hy neem dadelik foto’s. “En dit?” vra hy.

“Dit is alles sý skuld!” beduie Aronique.

“Ek is Piet van Staden van die Oggendnuus.”

Die joernalis kyk na die plakkaat, haal sy notaboekie uit en begin te skryf. “Wat het gebeur?” vra hy en kyk na Erika. “En u is … ?”

“Die sielkundige Erika Hamilton,” babbel Aronique toe Erika nie antwoord nie. “Is dit nie ’n bedekte seën dat ’n kopkwak in my vasgery het nie? Nou kan ek sommer dadelik ’n afspraak maak vir terapie!”

Erika sien hoe die joernalis haar naam neerskryf en sy dink: Nou gaan almal weet. Hy vra nog ’n paar vrae, maar sy bepaal haar aandag by die AA se insleepdiens.

“Die skade lyk erger as wat dit is. So drie dae by die panel-beaters en sy spin weer!” belowe die bestuurder en trek weg.

’n Halfuur later is sy terug by die huis.

Erika se bene bewe nou so dat sy beswaarlik die knoppie op haar afstandbeheer kan druk om die hek te laat oopgaan. “En dit alles omdat ’n kliënt nie na my spreekkamer kon kom vanmiddag nie, toe moes ek na haar toe gaan!” sê sy asof iemand kan hoor.

Iewers in Jan Smutslaan, nou agter die Parktown-bome Westcliff en Parkview se kant toe, jaag loeiende sirenes verby. Sy luister met nuwe ore na daardie geluid!

Sy sluit die sekuriteitshek en daarna die voordeur oop.

Die alarmsisteem kerm soos ’n styfgespanne derm wat met ’n viool bestryk word en waarsku dat sy net ’n minuut tyd het om die korrekte kode in te pons. Maar skielik het sy nie ’n idee wat dit is nie. Haar geboortedatum, 7187? Of sou dit 2600 wees? (Haar ouderdom met twee nulle agterna.) Of 1234? Maar die sekuriteitsmaatskappy het haar destyds gewaarsku om nie so ’n voorspelbare nommer te kies nie. “Dis die eerste kode wat die paloekas inpons. Hulle’s nie so dom soos jy dink nie!”

Hemel tog. In haar deurmekaar toestand het sy nou heeltemal die alarmkode vergeet! Haar hande bewe terwyl sy haar geboortedatum inpons. Dit is 7 Januarie 1987.

7187.

Oing-oing-oing-oing! ’n Laaste kerm-ten-hemel. Dan stilte.

Dankie tog.

Erika sluit die voordeur toe. Sy loop na die drankkabinet en skink ’n whiskey. Dit bots met die raad wat sy gewoonlik vir haar kliënte gee. “Drank is ’n tydelike oplossing. Miskien water met ’n bietjie suiker in, maar die beste is om lank en diep asem te haal.”

Die warm whiskey brand haar keel en proe na kasaterwater – haar ma se uitdrukking as iets sleg smaak – maar sy sluk dit vinnig af.

Sy gaan na haar spreekkamer wat apart van haar huis is. Die diep leunsstoel is lekker sag toe sy daarin wegsak. Dis dieselfde stoel waarin haar kliënte altyd sit. Dankie tog dit is nou halfvyf, hier gaan dus nie meer mense opdaag nie. Die gedagte kom by haar op dat sy feitlik nog nooit in hierdie leunstoel gesit het nie, maar altyd op die regop stoel hier oorkant.

Interessant dat die bordjies nou verhang is. ’n Mens sou aan die slaap kon raak in hierdie een.

Muurbal! Sy moet gaan muurbal speel om te ontlaai. Rodney het altyd saamgegaan … Dan onthou sy weer: Rodney is weg. En die muurbalbaan is te ver om te loop.

Vir die eerste keer in jare pak die angs haar weer. Soos toe sy destyds in matriek by haar ouerhuis aangekom het gedurende ’n inbraak. Haar ma, wat toe nog in Northcliff skoolgegee het, het daardie middag hokkie afgerig en Erika was eerste by die huis. Sy was bang dat die inbreker nog in die huis kon wees, maar het nietemin teen haar beterwete by die huis ingestap om die skade te bekyk.

Die volgende oomblik het hy voor haar gestaan. Nie met pokmerke en een skeel oog en ’n wrede grynslag soos in die TV-reekse nie, maar ’n doodgewone gesig. Hy het ’n mes uitgepluk en dit teen haar keel gedruk. Sy onthou die prik teen haar vel – voel dit nou weer in haar verbeelding en ril. Die asem wat na sigaretrook en suur kos geruik het. Die stem wat gewaarsku het dat sy nie ’n geluid moet maak nie.

Toe die hande wat oor haar borste gestreel en onder haar skooljurk gesoek het. Die man wat haar teen die muur vasgedruk het en “Sjuut” met sy lippe gevorm het. Haar skooljurk wat gelig is, haar broekie wat afgestroop is. Die mes wat weer teen haar vel gedruk is. Die ereksie wat begin vorm het en teen haar gestamp het.

“Maak los my belt!” Sy stem, kortaf. Haar vingers het dom gehoorsaam, maar kon nie die lissies loskry nie. Die stoppelbaard teen haar vel, die warm asem oor haar mond soos hy probeer het om haar lippe oop te dwing.

“Trek dit af. Nou!” Sy stem weer dreigend.

Sy het gesukkel om die broek af te kry. Die dom bewegings teen haar. Met sy broek op sy knieë het hy gesukkel om haar bene oop te dwing.

En toe die onverwagse krag in haar. Sy het ’n knie opgebring en hom met woede tussen die bene gestamp en gevoel hoe iets kraak. Die skreeugeluid, die mes wat eenkant val, die man wat inmekaarsak en met albei hande tussen sy bene gryp. Obseniteite. Toe skop sy hom.

Die man het opgespring en vooroor gebuk uitgestrompel – toe kon sy eers die noodknoppie teen die muur druk. Sy het ook geweet waar haar pa sy rewolwer bêre. Sy het na die wegsteekplek gehardloop en die rewolwer gegryp, omgeswaai en agter die inbreker aan gehardloop.

Hy het intussen in die tuinpaadjie gegly en met sy kop teen ’n klip geval. Toe Erika uitkom, het hy dronkerig orent gesteier. Sy het die rewolwer op hom gerig. Sy hande was oor sy mik gevou, en toe kyk hy op.

Sy oë was pleitend.

Die rewolwer sekuur op sy hart. Haar pa het haar vir skiet-lesse geneem, dus het sy die wapen geken. “Om jouself mee te verdedig, mens weet nooit wanneer jy dit nodig kry nie,” het hy destyds gewaarsku.

Die man oorkant haar. Sy met ’n lewe in haar hande. Die plek waar hy haar probeer penetreer het steeds rou. Die rewolwer in haar hande, die asem rukkerig oor sy lippe. Sy kop wat heen en weer geskud word.

Soveel mag. Soveel woede. Soveel hartseer oor wat amper met haar gebeur het. Haar vinger om die sneller, die veiligheidsknip af. Net een vinnige trek van haar wysvinger. Net een en dis verby.

Tyd het gaan stilstaan. Sweet op haar voorkop, en in haar oë. Die brandgevoel bring haar tot besinning. Daarna die loeiende sirene van ’n sekuriteitsmotor. Mans met gewere. Sy steeds met die rewolwer sekuur op die man gerig, sy lewe in haar hande, die woede wat wil oorkook.

“Ek sweer ek wou nie … ” het hy geprewel.

Sy het die rewolwer laat sak. Sy kon nie eers huil nie. Haar ouers wat dadelik huis toe gekom het, die sielkundige, Lydia Els, wat sy moes gaan sien. Dit is waar haar belangstelling in sielkunde geprikkel is – die terapie wat sy ondergaan het en die lang gesprekke wat sy en die ouer vrou gevoer het.

Die ergste was toe sy haar aanvaller by die polisiestasie moes gaan uitken. Al die bravade het uit sy oë verdwyn. Daar was toe net haat. Naakte woede wat sy nooit sal vergeet nie.

Hy het vyftien jaar tronkstraf gekry.

“Jy moes my liewer vrekgeskiet het, jou teef,” het hy in die hof gesê toe hy weggelei word selle toe. “Ek kom terug vir jou. Dan kom maak ek klaar wat ek begin het. Want jy wou dit hê. Jy wéét jy wou. Ek sou jou laat kóm het dat jy huil daarvan en … ” Die hofbeamptes het hom weggepluk. Erika het verwese agtergebly, haar ma se arms om haar, haar pa wat iets agter die man aan skreeu.

Nou, vir die eerste keer, is daardie gevoel terug en net so intens. Maar in plaas van woede, is daar vrees.

Sy skakel haar ouers wat in Hermanus afgetree het en vertel dat sy in ’n ligte ongeluk was en dat hulle nie bekommerd moet wees nie. Sy verwag die besorgdheid en skok wat volg, maar verseker hulle weer dat dit bloot ’n bufferstamp was, niks ernstigs nie.

“Dit is mos altyd die persoon se skuld wat van agter in iemand vasgery het. Ek weet hoe’s die versekeringsmense!” Haar pa wat altyd die ergste in alles raaksien.

Daarna lui haar selfoon en sy antwoord.

“Doktor Hamilton? Rufus Rheeder hier van Die Dagblad. Het u ’n oomblik?”

Hier kom dit …

“In u professionele opinie, trek gewaagde plakkate langs die hoofpaaie bestuurders se aandag af? Veral sulke moedswillig uitlokkende plakkate? Is dit gevaarlik? Het u enige kommentaar oor die morele implikasies? Daar word na die man verwys as ’n vleispaleis met ’n heuwel fantasties. Hoe voel u oor daardie beskrywing?”

Sy gee ’n paar professionele antwoorde en weier om verder kommentaar oor haar eie situasie of siening van die plakkaat te gee.

“Die reklame-agentskap het genoem dat daar al reeds twee ligte ongelukke naby die plakkaat was. Was u daarvan bewus? Was dit nie dalk hoekom ú in mevrou Pringleton vasgery het nie?”

Dan is dit die bottelblondine se van.

“Ek was nie daarvan bewus nie. Ek was op pad na ’n kliënt. En die vrou het skielik remme aangeslaan voor my.”

“Wat my laat wonder. Waarheen gaan sielkundiges vir behandeling teen skok? Ek neem aan u ly nog aan skok?”

Na ons mentors toe, wil sy vir hom sê. Lydia Els wat haar destyds vir terapie geneem het en later professor by die departement was waar sy haar honneurs in sielkunde gedoen het. Waar sy gespesialiseer het in die behandeling van traumatiese gebeure, veral vroue wat verkrag is. Maar sy antwoord bloot: “Ek het dit verwerk. Die lewe gaan voort.”

“Sou u die plakkaat as pornografies bestempel?” kom die onverwagse vraag en Erika besef die joernalis soek sensasie.

“Hoekom? Vroue adverteer tog ook onderklere. En mens sien dikwels onderklere-advertensies vir mans?”

Die man lag. “Ja, maar in hierdie geval is daardie onderbroek … Hoe sal ek dit stel? Tot barstens toe gevul en laat niks aan die verbeelding oor nie. Dink u dit is onnodig?”

“Hoegenaamd nie.”

“Ek sien.” Sy hoor die sleutels van ’n rekenaar. “Is u getroud? Betrokke?”

“Wat het dit met die saak te doen?”

“Ek wonder sommer hoe u wederhelf of vriend oor die ongeluk voel?”

“Ek is nie op die oomblik by iemand betrokke nie. En nou moet u my werklik verskoon. Ek het werk om te doen.”

Sy skakel haar selfoon af en sit dit op die tafel langs haar neer. Dit neem haar etlike minute om te kalmeer, want sy is vies oor die man se indirekte aantygings.

Dit is binnekort etenstyd. Dalk moet sy soesji vir aandete bestel van hier naby? Maar sy besluit daarteen. Sy is nie honger nie.

’n Slaappil is al wat vanaand sal help. Nie dat sy gereeld slaappille gebruik nie, maar hierdie dag is ’n uitsondering.

Sy probeer televisie kyk, maar kan nie konsentreer nie. Sy drink uiteindelik ’n slaappil.

Dit laat haar ten minste tot net duskant dagbreek slaap, maar sy droom steeds van die inbreker van destyds. En tussenin Tristan Hansen se gesig. Hoe meer sy aan hom dink, hoe beter onthou sy die student van sowat ses, sewe jaar gelede.

Sy stap soos gewoonlik na die ysterhek wat haar kliënte gewoonlik toegang gee tot die perseel, en tel die oggendkoerant op. Sy hoop dat die storie oor die ongeluk iewers tussen bladsye agt en tien weggesteek sal wees, dalk langs ’n groot Checkers-advertensie en ’n storie oor die brandstofprys wat al weer opgaan.

Maar ’n foto van die Tristan Hansen-reklamebord pryk op die voorblad, met haar en Aronique se motors skuins voor dit. Aronique gryp haar kop dramaties vas en Erika staan in profiel.

Sielkundige en sosiale vlinder raak pad byster oor uitpeul-onderbroek!

Erika gooi die koerant in die asblik en lees nie eers wat daar geskryf is nie. Dit gaan haar nog verder ontstel.

Haar selfoon lui ’n paar keer. Vriende wat haar “welmenend” meedeel dat sy in die koerant is. Sommige giggel daaroor en ander spot: “Nie geweet jy is so sexy nie, dok!” en: “Jong, as jy dit het, moet jy dit seker wys. Wat ’n dish!”

Selfs twee kliënte verwys deur die loop van die dag ligweg spottend daarna, asof hulle dit geniet dat die aandag vir ’n verandering op haar is en nie op hulle nie.

’n Radiostasie doen ’n program oor die gevaar van plakkate langs die pad wat ongelukke veroorsaak en wil met haar praat, maar sy weier.

’n Sondagkoerant skakel haar om ’n storie te doen oor Manne met die meeste! Die stem lag: “Daardie bult op die plakkaat is glo nie ge-Photoshop nie – dis als sy eie kroon­juwele. Dink u grootte doen die ding, of is dit wat jy daarmee maak?” Sy sit die telefoon in die joernalis se oor neer.

Sy besef dat hierdie storie oor die boeg van seks gegooi word, want seks verkoop. Veral koerante. En sy is nou ’n slagoffer daarvan. Freud se teorieë oor seks en drome sal soos vorige kere in kassies by berigte in die aandkoerant aangehaal word.

Sy het daardie groot plakkaat aanvanklik nie eers raakgesien nie. En selfs al het sy dit gesien, sou dit nie haar aandag van die pad afgetrek het nie, bloot omdat sulke dinge nie vir haar belangrik is nie en sy seksbeheptheid nie kan verstaan nie.

En toe, pas nadat haar laaste kliënt om vyfuur weg is, lui haar spreekkamer se telefoon. Seker nog ’n koerant.

Of wag. Dis dalk Rodney wat uiteindelik bel!

Haar hand bewe toe sy die hoorbuis lig. “Hallo. Doktor Erika Hamilton.” Sy moet ’n ontvangsdame aanstel, al is dit net soggens. Sy kan dit tog bekostig!

“Hallo, is dit doktor Hamilton?”

Sy sug. Sy mag nie sarkasties wees nie. Dis immers wat sy gesê het!

“Dis korrek, ja.” Sy probeer haar stem beheer en dink hoe dikwels kliënte in haar spreekkamer kortasem raak wanneer hulle oor traumatiese gebeure praat, soos atlete wat aan ’n marathon deelgeneem het.

“Doktor Hamilton, ek het u hulp nodig.”

“Hoe kan ek help?” Erika neem ’n pen en slaan haar afspraakboek oop. “Is u nog daar?” vra sy na ’n ruk.

“Ja, doktor Hamilton.”

“U kan maar praat.”

“Die afspraak is, e … eintlik nie vir my nie. Ek bedoel, dit gaan nie oor my nie … ” Die stem is onseker, verskonend.

“Met wie praat ek?” probeer Erika weer.

“Millicent. Millicent Hansen.”

“E … mevrou Hansen?” vra Erika versigtig, en toe die vrou nie voortgaan nie: “Dit sou beter wees as die betrokke persoon self met my kom praat.”

“Ek dink ons het albei behandeling nodig, ek dalk meer as hy. Maar ek wil eerste kom. Ek verwys na my seun, Tristan.”

Sy reageer versigtig. “Daar is toevallig môre ’n kansel­lasie.” Erika bekyk die naam wat om 11:30 uitgekrap is en met ’n pyltjie na 16:30 geskuif is. “Elfuur?”

“Ja.” Die stem bly onseker. Erika kan duidelik hoor dat die vrou verder wil praat. “U sien, ek het eintlik gehoop my seun sal saamkom … maar hy weier. En nou weet die hele land hoe hy lyk. En dit nogal … só!”

Die voorbladberig – dit is hoe Millicent Hansen by haar uitgekom het. Sy bly professioneel: “Baie ouers besef eers te laat dat hulle hul eie kinders glad nie ken nie,” stel Erika haar gerus. Dis dalk dwelms, diefstal, geldwassery, vigs of ’n poging tot selfmoord. Daar is geen probleem wat sy nog nie aangespreek het nie. ’n Hoofpyn klop nou in haar agterkop.

“Doktor Hamilton.” Die vrou se stem is skielik net so formeel soos een keer op skool toe ’n onderwyseres Erika aangespreek het omdat sy in die klas gepraat het, en selfs teruggepraat het. Dit het haar amper haar hoofmeisie-balkie gekos. “Het u al groot skokke in u lewe gehad?”

“Natuurlik. Wie het nie?”

Iewers buite weer ’n sirene – seker weer ’n inbraak. Daar was onlangs baie inbrake in Parktown.

Of dalk ’n ongeluk soos hare …

“Ek het pas uitgevind dat my seun die land se hoogs betaalde prostituut is. En ek dink nie ek kan dit verwerk nie.”

“Mevrou, ’n onderbroekadvertensie op ’n plakkaat beteken nie hy is ’n prostituut nie, al maak die koerante hom so uit.”

“U verstaan nie, doktor … ”

“Mevrou … ?”

“Op dieselfde dag wat hierdie advertensie die hele stad vol pryk en die koerante getref het … vind ek dit uit.”

“Ek is jammer, mevrou.”

“My seun verkoop sy liggaam aan ryk vroue vir tot vyftienduisend rand per nag. ”

Nadat die oproep beëindig is, stap Erika na een van die kamers wat sy vir ’n pakplek gebruik en vroetel tussen die kartondose rond. Toe haal sy een uit waarop staan: Tyd­skrifte en jaarblaaie.

Op bladsy 19 van hul fakulteit se destydse jaarblad sien sy sy foto. Onderaan staan: Tweedejaarstudent Tristan Hansen en Frieda Alleman, Mejuffrou Ingenieurswese, by ’n dinee in Randburg.

Dit is beslis dieselfde jong man as op die advertensie. En die vreemdste is: hy lyk op die plakkaat nog net so jonk soos in 2006 toe hierdie foto van hom geneem is.

Sy onthou nou. Destyds moes sy as sielkundestudent hom een of twee keer met werkstukke help. Maar hulle het nie eintlik oor die lesings gepraat nie. Hy was te gewild, te besig om met joolkoninginne of ander ryk meisies te flankeer. Boonop het hy met haar geargumenteer oor die kursus en die feit dat ’n mens nie ander mense se koppe kan “gesond dokter” nie.

Sy was daardie tyd by ’n medestudent betrokke en hulle het al twee jaar lank ’n verhouding gehad, daarom het sy haar nie eintlik aan Tristan Hansen gesteur nie. Maar dis vreemd. Op die foto lyk dit of hy sy hand gelig het om te keer dat die kameraman die foto neem. En tog poseer hulle, is dit ’n duidelike glansfoto waarvan albei bewus moes gewees het.

Toe eers vind Millicent Hansen se woorde behoorlik en volledig by haar inslag.

Die land se hoogs betaalde prostituut.

Haar telefoon lui weer, maar sy antwoord nie. Sit net na die jaarblad en staar.

Plesierengel

Подняться наверх