Читать книгу Plesierengel - Leon van Nierop - Страница 7

VIER

Оглавление

Tristan Hansen druk sy selfoon dood. Daar was beslis iemand aan die ander kant, maar die persoon het nie gepraat nie.

Om hom is kleurvolle mure vol tekeninge en graffiti. Hy verkyk hom daaraan. Selfs al bly hy in die middestad van Johannesburg, kan hy steeds nie gewoond raak aan die kaleidoskoop van kleure en mense en beweging nie.

Op ’n muur waarby hulle nou verbyry, is vier verskillende advertensies vir matrasse, een vir MTN, ’n selfopgestelde haarkapper op die sypaadjie, ’n spaza-winkel wat ook lugtyd verkoop en wasgoed wat oor winkeltrollies gedrapeer is.

Nog een straatblok verder tot in Commissionerstraat, en hulle hou stil voor die gebou waar hy woon.

Hy bedank die taxibestuurder en klim uit. Die gereelde bedelaar draf nader en maak die deur toe. Tristan stop geld in sy hand.

“Hey, makulu, boss. Hey hey! Siyabonga!” Sy trollie staan eenkant vol komberse, kartondose en metaal wat hy iewers opgetel het. En op ’n skewe bordjie: Fineas’s Taxi Cab.

Tristan pons die kode in en die sekuriteitsdeur swaai oop. Dit is sy goeie vriend Lance wat hom destyds van hierdie gebou vertel het, toe hy na sy terugkeer van oorsee af gekla het dat hy nie langer by sy ma wil bly nie en hy onafhanklik wil wees. Hy het na verskeie woonstelle en duplekse in die noordelike voorstede gaan kyk, maar het elke keer daar­teen besluit.

Toe hy hoor dat sommige geboue in die Johannesburgse middestad nuwe lewe kry en opgetert word (Lance se woord), het hy kom kyk na hierdie een in Commissionerstraat, waarheen al hoe meer besighede teruggekeer het. Die ruim dakwoonstel op die boonste verdieping met ’n uitsig op die stad het met hom gepraat, en dit teen vierduisend vyfhonderd rand per maand. Hy het dit onmiddellik geneem en was nog nooit spyt daaroor nie.

Tristan stap in die voorportaal in. Van die gloeilampe moes geblaas het, want die vertrek is nie so goed verlig soos gewoonlik nie. Hy sal die nuwe eienaars in kennis moet stel.

’n Beweging aan sy linkerkant.

Tristan draai sy kop. Iets beweeg. Iemand verskyn voor hom. Instinktief val hy plat. ’n Vloeistof word in sy rigting gegooi, maar trek skadeloos verby en tref ’n muur. Die verf begin smelt. Suur! Iemand het suur in sy gesig probeer gooi.

Hy rol om, spring orent, pluk sy sonbril af en gooi dit eenkant toe. Hy soek na die figuur. Iemand buk voor hom en tref hom met die kop in sy maag. Tristan bring sy knie op en stamp die persoon in sy maag. Die man kreun en val agteroor, maar spring weer orent. Hy dra ’n klapmus. Net sy oë steek uit. Tristan tol om en skop hom in sy gesig dat hy vir ’n tweede keer agteroor val.

’n Gil. Die houer waarin die suur was, rol tot teen die muur. Sy aanvaller spring orent en storm op Tristan af. Dié slag is daar ’n mes in sy hand. Hy kap-kap daarmee na Tristan se gesig.

Tristan swaai weer om en gee ’n karateskop, sodat die man vir die tweede keer teen die muur val. Maar hy is skynbaar gewoond aan baklei. Hy lê net vir ’n oomblik en spring dan weer orent. Hy buk en kap-kap met die mes. Toe storm hy weer op Tristan af en steek na hom, maar Tristan val plat. Die man struikel oor hom, val, spring weer op en mik met die mes na sy gesig.

Dié slag skop Tristan hom onder sy kennebak. Dit het die gewenste uitwerking. Die mes spat opsy. Die man kreun, lê ’n oomblik duiselig, rol om, spring orent, skud sy kop en gryp weer die mes. Toe storm hy na die deur toe en stamp die groen Exit-knoppie hard met die palm van sy hand. Die deur klik oop en die aanvaller storm uit.

“Jy gaan betaal, jou donnerse hoer! Ons gaan jou dood bliksem!” skreeu hy.

Tristan staan ’n oomblik verdwaas. Toe volg hy die man.

Hy is net betyds om hom te sien spring in ’n motor wat wegjaag. Die son is skielik skerp in sy oë sodat hy nie die nommerplaat kan eien nie.

Verbygangers kyk verbaas na hom. Die bedelaar swaai om. ’n Taxi toet verwoed omdat die motor met sy aanvaller in voor hom ingesny het. Die bestuurder jaag oor ’n rooi verkeerslig – iets wat algemeen is in hierdie buurt – en verdwyn om die hoek.

Tristan kyk om hom rond, die son steeds verblindend in sy oë, en sien gesigte wat saamsmelt en mense wat nuuskierig na hom staar. Sy hart klop in sy keel, sy asemhaling is vlak. Nou tref die skok hom eers behoorlik en besef hy wat amper gebeur het. Hy leun met sy arms teen die muur, kry sy asem terug.

Hy vee die sweet van sy gesig af, wag tot die bewing in sy bene bedaar het en pons dan weer die kode by die deur in. Hy stap terug in die gebou in, elke sintuig gespanne en met kolle voor sy oë van die sonlig.

Dit neem hom ’n ruk om aan die skemerte gewoond te raak. Hy tel sy sonbril op, gewaar die suurhouer wat eenkant lê en stap soontoe, dink dat daar vingerafdrukke op kan wees en wonder wat sou gebeur het as hy ’n sekonde later weggeduik het.

Hy raak aan sy gesig asof hy wil seker maak dat hy nie seergekry het nie.

Skielik is hy terug by Mathilda Fourie se kantoor nege maande gelede; die vrou wat hy vermoed die brein agter hierdie aanval is. Hy het nog by haar motorhandelaar gewerk. Toe het iemand hom vanuit die bosse in die tuin langs die handelaar bespring. Die persoon het hom voluit met die vuis in sy gesig geslaan en byna sy neus gebreek. “Dis wat ons met pretty boys doen!” het hy uitgeroep.

En toe, dae later, die boodskap op sy selfoon vanaf ’n onbekende nommer: Hoer. Jou bakkies gaan spaghetti word.

Hy was daarna meer op sy hoede as gewoonlik en het kort-kort groot mans gesien wat hom gevolg het of hom in die skaduwees ingewag het. Hy kon hulle gelukkig telkens betyds ontduik.

En nadat hy by bedank het, Mathilda se oproepe, SMS’e, pleidooie en toe dreigemente. “Ek het jou gemaak, prinsie, onthou. Sonder my is jy niks.” En: “Kom terug na my toe. Jou lyf is myne. Moenie dat ek soebat nie.”

Sy het hom later persoonlik begin volg. Gebel, hom gesoebat om terug te kom, erken dat sy hom liefhet en dat sy hom wil terughê. Maande lank dié teistering, maar hy het geen oproepe beantwoord nie, op geen SMS reageer nie, en die kere wat hy deur uitsmyters of ander ongure figure agtervolg is, het hy ompaaie gevolg tot hy hulle afgeskud het.

Dit het erger geraak. Naamlose oproepe van private nommers af vol beledigings en vierletterwoorde en dreigemente. Weer iemand wat hom met ’n bofbalkolf probeer slaan het.

En tussenin, vorige kliënte wat hom wil terughê: Jy kan my nie net een keer so laat kom het nie. Niks was daarna weer dieselfde nie. Ek soek jou. Asseblief, kom terug. Ek sal enigiets doen om jou terug te kry.

Maar hy het selde twee keer by ’n vrou geslaap. Daar was te veel nuwes.

En toe, skielik, twee maande gelede, hou Mathilda se SMS’e op. Geen kommunikasie meer nie – tot nou met hierdie aanval. Maar hy het baie vyande.

Hy stem nooit in om by getroude vroue te slaap nie. Maak altyd eers seker dat hulle enkellopend of geskei is. Maar jaloerse oudminnaars kry soms sy spoor, of broers, of vriende. En mans in dieselfde bedryf as hy wat hom as ’n bedreiging sien.

Tristan kyk rond. Die toonbank, waar daar soms ’n ontvangsdame sit, is verlate. En geen deurwag nie, ten spyte van die eienaars se beloftes.

“Dis die middestad, vriend. Moenie Sandton City verwag nie.” Een van die huurders op ’n vergadering onlangs. Maar na wat pas hier gebeur het …

Tristan kyk weer oor sy skouer. Hoe sou sy aanvaller die sekuriteitskode gekry het?

Hy druk die hysbakknoppie en wag.

Sy selfoon lui. Hy huiwer en antwoord dan.

“Meneer Hansen?”

“Tristan, asseblief.”

“Dis professor Sophia Mouton hier. Ek het u nommer by ’n kollega gekry.”

“Mag ek maar Sophia sê?”

Hy hoor hoe die hysbak se kabels dreun soos dit van een van die boonste verdiepings begin afkom.

“Natuurlik.” Sy praat asof sy gewoond is daaraan om opdragte te gee. “Ek soek ’n gesel om my na ’n première te vergesel. My vriendinne wat gewoonlik saamgaan, is nie beskikbaar nie. Ek sal egter graag vooraf wil gaan eet en gesels, en jy is skynbaar uitstekende geselskap. Ek soek niks meer nie.” En dan, amper as ’n nagedagtenis: “Ek mis werklik goeie, stimulerende geselskap, en Maryna – dis nou my vriendin – het saam met jou na die opening van ’n kunsgalery gegaan. Sy het jou sterk aanbeveel. En ek beklemtoon weer, ek soek niks meer as net geselskap nie. Is jy beskikbaar?”

Die hysbak stop. “Dit hang af wanneer?”

“Vrydagaand agtuur.”

Hy dink. “Ja. Ek is beskikbaar. SMS asseblief u adres, dan verskaf ek my bankbesonderhede. Ek vra vierduisend rand. Dit moet vooraf in my rekening gedeponeer word.”

“Ek maak so. Nou ja, dit was makliker as wat ek gedink het.”

Hy maak die ou hysbak se deur oop. Eendag gaan hierdie sidderende kontrepsie nog ingee …

“Ek sien uit daarna. Ek neem aan die geleentheid is formeel?”

“Aandpak, ja, asseblief. Waar kry ek jou?”

“Ek word by jou adres afgelaai, dan gaan ons met jou motor. Anders kan ek jou by die première kry.”

“Ek verkies om saam met jou daar aan te kom.”

“Dan kry ek jou by die huis.”

Hy loop in die hysbak in. Die verbinding word verbreek.

Tristan kyk na die kennisgewings in die hysbak, merk nou eers die slim bewoording en besef dat hy deesdae weer vergeet om te kyk en raak te sien. Begging outside. Give me money or must I pretend to limp. Alles reg gespel en in goeie Engels.

Hy glimlag effens vir die tekening van ’n man met ’n veelkleurige kombers oor sy kop. Pragtig.

Toe hy twee jaar gelede die boonste verdieping van hierdie verlate gebou in die Johannesburgse middestad betrek het, het die meeste kantoorhuurders lankal gevlug of hul besighede het bankrot gespeel. Die nuwe eienaars het die gebou egter van die destydse Nigeriese dwelmbaronne, wat uit die land gevlug het, oorgeneem en dit restoureer. Dit was ’n lang en moeisame proses.

Toe sy vriend Lance van die dwelmbaronne hoor, veral nadat Nigerië die sokkerwedstryd in Februarie gewen het, was sy kommentaar: “Vergeet Bafana-Bafana! Die Nigeriërs is eintlik ons land se tuisspan! Dit het seker vir hulle gevoel asof hulle in hul eie land gespeel het.”

Gaandeweg het nuwe huurders teruggekeer na die gebou om weer hul besighede op die been te kry, al was dit drupsgewys. Boheemse kunstenaars wat ’n volledige verdieping as ’n ateljee gebruik, ’n New Yorkse ontwerper wat die negende verdieping as ’n modelagentskap ingerig het; ’n filmmaker wat die sewende en agtste verdiepings in produksie-ateljees omskep het. En die twaalfde verdieping is deur Chinese oorgeneem wat grimering daar vervaardig en bemark.

Gelukkig is die negentiende verdieping, die een reg onder syne, nog onbeset behalwe vir ’n klomp winkelpoppe wat daar gestoor word.

Eintlik grillerig, die klomp mannekyne nes mense wat in die gange en kamers gepak is. Laat hom dink aan hotel­kamers waarin hy soms oorslaap – dan verbeel hy hom hy voel nog die teenwoordigheid van die honderde siele wat voor hom in die bed geslaap het.

Hy druk die knoppie waaronder PENTHOUSE staan op die boonste verdieping en die hysbak ruk weer. Dit moet net nie nou vassteek nie. Tristan maak die hysbak se deur oop en weer toe. Dit help dikwels.

Lekker dakwoonstel. Dit is sý ruimte waarvan nie eers sy ma destyds geweet het nie. Waarheen hy niemand ooit bring nie – en beslis nie kliënte sedert hy homself sewe maande gelede begin uitverhuur het nie.

Nadat hy drie jaar gelede uit sy ma se huis getrek het – hy het toe nog in die klerewinkel in Sandton gewerk – het hy genoeg geld verdien om meubels te koop, tot hy die ruimte uiteindelik leefbaar gemaak het. Sy ma wou natuurlik na sy “geheimsinnige blyplek” kom kyk. Hy het gesê dat hy in ’n kommune bly en dat sy nie van sy huismaats sou hou nie; as sy moes weet dat hy in die middestad bly, sou sy nooit geslaap het nie.

“Ek is bang jy bly saam met dwelmslawe.”

“Natuurlik nie, Ma!”

Die hysbak beweeg opwaarts. Hy sien elke verdieping deur die venstertjie verbygly. Merk hoe die verdiepings verander en dié wat eers verlate was huurders gekry het.

Tristan weet nie hoekom nie, maar hy voel elke keer onaardig in hierdie hysbak en is deurgaans bewus van die diep gat onder hom terwyl die hysbak opskuif.

Met sy oë toe, herleef hy die aanval van kort tevore en vee die sweet van sy voorkop af. Probeer kalmeer. Plaas sy sonbril terug op sy gesig.

Hy dink weer aan Mathilda Fourie. Aangesien sy ma haar van skooldae af geken het – hy was saam met haar seun Lance in die klas – het sy die ouer vrou aanvanklik vertrou, salig onbewus van hoe sy eintlik oor Tristan gevoel het. Dat sy hom met alle geweld wou besit.

“Ek en jy gaan nog mooi musiek saam maak, prinsie,” het sy gesê toe hy by haar begin werk het en haar oë oor sy liggaam beweeg het. “Ek het die breins en die sakevernuf,” en terwyl haar vinger oor sy bors gespeel het, “en jy het die lyf, die sjarme. Dis ’n dodelike kombinasie.” En terwyl haar vinger strepies oor sy maag getrek het: “Ek dink nie jy besef hoe ’n stewige wapen jy hier het nie.” Toe ’n effense laggie en ’n soen teen sy nek wat net te lank geduur het. En elke keer die alwetende laggie, asof sy verwag dat hy die een of ander tyd gaan ingee.

Hy het nooit.

Die hysbak kom op die sesde verdieping tot stilstand, maar niemand klim in nie.

Vyf dae gelede het die hel losgebars. Skakel mense hom aanhoudend. Het selfs die pers hom gebel oor die konsternasie wat die advertensie veroorsaak het. En van sy voormalige kliënte wat gesoebat het dat hulle hom weer wil sien.

Die geld vir die modelwerk was aanloklik en sou hom kon help om sy skuld af te betaal en nog meer onafhanklik te raak.

Maar hy het die krag van die sensasiebeluste pers onderskat. Dit was Lance wat hom gebel het toe die bom bars. “Jis, pella. Jy moes dit verwag het. Die tydskrifmark is so oorvol op die oomblik dat elkeen probeer om nuwe stories te kry. En hierdie een bied weer op ’n nuwe voorblad twee dae lank daardie goue vierletterwoordjie ‘seks’ groot in die opskrif. Jy moes dit verwag het.”

Lance, wat onbewus is van hoe hy eintlik sy geld verdien.

Die hysbak begin weer beweeg. Op en op en op terwyl hy nog steeds probeer om sy asemhaling te beheer.

Dit kom skielik op die veertiende verdieping tot stilstand en die twee bleeksiel-eienaars van ’n rekenaarfirma loop in. Hulle groet hom, maar Tristan het nie vandag lus om te gesels nie.

“Whoa. Daai brille kos seker meer as ons hele toetie,” beduie die een met die gejelde hare met ’n kopknik na die veertiende verdieping toe die hysbakdeur toegaan. Hulle staan ook te naby aan hom.

“Dit dien sy doel,” antwoord Tristan, maar sê niks verder nie. Die twee kyk na mekaar en die een pomp die ander in die ribbes.

“Seker sodat jy nie deur jou fans herken word nie. Ek bedoel soos in wow-flippen-wow, dude!”

Tristan lig sy skouers en hoop die gesprek is verby.

Die een mannetjie dra ’n kortbroek wat net bokant sy knieë ophou en ’n paar onooglike, harige bene ten toon stel. Die ander dra ’n stywe bruin broek wat sy boepie oorbeklemtoon. Hy het ’n slegte vel en ruik na puisieroom.

“Moerse drama met die ads,” probeer die jongetjie weer.

“Oorreaksie wat my betref.”

“Ons hoor jy is honderd-en-vyftigduisend daarvoor betaal. Ek sweer ek sal my volmaan vir veel minder wys. Maar dan het ek nie dieselfde,” hy lag, “vital statistics nie.” Hy grinnik weer. “So, jy is seker nou gemaak, package en al. Agentskappe staan seker tou met oop tjekboeke, hú?”

Die hysbak stop gelukkig op die agttiende verdieping en die twee loop uit. Teen die muur voor hulle blink die embleem van ’n maatskappy wat eksotiese kopdoeke maak. ’n Vrou met wilde hare loer om die hoek, sien Tristan, lag oopmond en gooi haar arms oop vir die twee bleeksiele.

“Howzit, sweeties! Come to Mama!” Sy knik in Tristan se rigting. “And you can service my lawnmower anytime, brother!”

Die mannetjies verdwyn laggend in ’n bol daggarook. Tristan pluk die deur toe en voel hoe die hysbak effens ruk toe dit weer in beweging kom.

Hy onthou sy eerste gesprek met Mathilda destyds, die beloftes dat hy die beste hoofverkoopsman in die stad gaan word. Die gedurige flirtasies, die geskenke, die dubbelsinnige aanmerkings, die lofsange nadat hy die een motor na die ander verkoop het, die knype aan sy boud, die hand wat kort-kort oor sy mik gespeel het. Die uitnodigings na eksotiese naweke op plekke wat hy nooit aanvaar het nie. Sy het selfs aangebied om hom vir ’n week Martinique toe te neem en vir alles te betaal. Sy ma was elke slag sy verskoning. “My ma sal nie daarvan hou nie.”

“H’m-h’m-h’m, my bybie,” Mathilda weer met haar alwetende laggie, “jy is mos nou al ’n mooi, e,” en sy het na sy broek gekyk, “groot seun. Jy kan tog nie dat jou ma nog jou lewe beheer nie.”

Maar hy het volgehou. Kop geskud. Haar flirtasies probeer ignoreer, want dit het hom ongemaklik gemaak. Sy was immers sy beste vriend se ma. Hy het voor haar grootgeword.

Tot daardie aand wat hulle weer laat gewerk het en alleen in die kantoor oorgebly het.

Die hysbak kom op die twintigste verdieping tot stilstand en Tristan maak die deur oop. Hy kyk om hom rond, voel sy hart weer ’n ruk gee, haal sy sonbril af. Maar daar is niemand nie. Hy staan ’n oomblik en herleef die aand in Mathilda se kantoor.

Hy het sy baadjie uitgetrek, want dit was warm. Toe kom staan sy oorkant hom. Sy het gedrink, hy kon dit ruik. Sy het sy ruimte betree en hy was erg ongemaklik daaroor.

“Met sulke mooi bene eet ek elke dag sop,” het hy haar eenmaal tevore hoor sê toe sy hom in ’n kortbroek gesien het, die soveelste jenewer en tonikum in die hand. Hy was geskok, want hy het nie verwag dat sy heeltemal só vulgêr kon wees nie. Van toe af was hy bewus van ’n vrou wat alles in haar vermoë sou doen om te kry wat sy wou hê, nie meer die oorvriendelike tannie met die vuil mond voor wie hy grootgeword het nie. Sy het immers destyds daarmee gespog dat sy haar oorlede man se motorverkoopsruimte tot nuwe hoogtes opgebou het na sy dood. Sy sou dit nog verder uitbou met Tristan se hulp, het Mathilda gereeld geknipoog.

Toe wikkel sy daardie aand sy das los met haar linkerhand se vingers tussen sy hempsknope. Hy was bewus van haar oordadige grimering, die mond wat te rooi geverf was, daardie irriterende, wellustige h’m-h’m-h’m-laggie van haar, haar wang teen sy nek, haar drankasem teen sy gesig.

“Jy weet dat ouer vroue die beste leermeesters is, nè, Tris?” Haar hand op sy mik. Hy het probeer wegtrek, maar haar vingers het hom so vasgevat dat hy nie kon beweeg nie.

Hy was teen daardie tyd al gewoond aan haar aanmerkings en het dit telkens afgelag. Maar nou was dit anders.

“Ek gaan jou vanaand dinge leer wat jy nie eers met jouself kan doen nie.” Haar vingers het om sy penis gesluit. “Wow, bybie. Ek bedoel, waar bêre jy alles?”

Hy het haar hand losgemaak, want sy het hom seergemaak. Toe draai hy om en neem sy baadjie, pyn tussen sy bene. Sy het hom aan sy skouers gegryp en haar lyf teen syne gedruk, maar hy het weer haar hande losgemaak.

“Waarheen dink jy gaan jy?”

“Huis toe, Mathilda.”

“Maar die aand is nog jonk.”

“Ek het ’n afspraak.”

“Jy weet hoe ek oor jou voel.”

“Jy is my werkgewer, Mathilda. Ek het voor jou grootgeword. Jy was tevore vir my tannie Mathil- … ”

“Sjuut!” Sy het hom weer aan sy skouer beetgekry en na haar toe geswaai: “Vergeet dat jy blerriewil voor my grootgeword het. Jy is al ’n mooi groot seun. Ek sal jou laat lekkerkry dat jy bars daarvan.”

Hy het geskrik vir die klank in haar stem.

Sy het op haar knieë afgesak en hom aan sy lyfband beetgekry. Toe begin sy sy broek se ritssluiter met mening aftrek, haar gesig by sy mik, haar hande gretig om sy boude.

Hy het haar kop in sy hande geneem en weggedraai.

“Mathilda. Nee.”

“Nee beteken eintlik ja. Jy wíl dit hê, prinsie. Jy weet jy wil dit hê.”

Hy het haar van hom af weggedruk om te keer dat haar hande by sy gulp inglip. Sy het dit as aanmoediging gesien. Toe kom sy regop en plaas haar bene om sy heupe. Hy was verbaas oor haar krag. Haar asem was gejaagd, warm.

“As jy weet hoeveel jare ek jou al begeer, vandat ek jou die eerste keer in jou Speedo gesien het.”

Hy het vorentoe gesukkel en haar op ’n stoel neergesit, sy gulp opgetrek en deur toe geloop.

“Kom hier!” Haar stem was nou gebiedend.

“Mathilda. Ek ken jou as tannie Mathilda vandat ek en Lance saam op skool was. Dink aan hom. Dink aan ons vriendskap.”

“Fok die vriendskap, jou fokken bliksem!”

Hy het verstom na haar gekyk.

“Jy terg my al jare. Jy weet hoe begeer ek jou. Kom hier. Nou!”

Hy het sy kop geskud.

“Tristan. Ek besit jou. Jy is myne. Kom hier. Ek gebied jou!”

Sy het orent gesteier en met mening op hom afgeloop, asof sy hom wou slaan. Hy het die deur oopgeruk en uitgestap.

“Ek is jammer,” is al wat hy gesê het.

“Jy kan nie vir my nee sê nie.”

“Ons is net vriende, Mathilda. Asseblief.”

“Jy besef waarna dit lyk, nè?” Sy het na haar gekreukelde klere gewys.

“Wat maak jy?”

“Die vraag is … wat het jý gemaak?”

Hy het sy kop geskud. “Dit was eintlik jý wat mý aangeval het.”

“Ha-ha. Daar is nie so ’n ding soos ’n man wat deur ’n vrou aangeval word nie. Niemand sal jou glo nie. Hulle sal vir jou lag. Hulle vat altyd die vrou se kant.”

“Dit was ’n misverstand. Geen kwade gevoelens nie. Kom ons laat dit daar.”

Hy het die deur in haar gesig toegemaak.

“Jy gaan jammer wees,” was haar laaste woorde. “Ek ken mense wat mense ken. Ek waarsku jou. Jy gaan seerkry soos nog nooit tevore in jou miserabele lewe nie. Kom terug!” En toe hy nie antwoord nie, ’n gil soos hy haar nog nooit hoor gee het nie: “Kom terug, jou fokken cockteaser!”

Maar hy het aanhou loop.

Tristan se sleutel knars in die slot van die sekuriteitshek van sy dakwoonstel. Dan nog ’n slot en die deur glip oop.

Die vertrek is in skemerte gehul vanweë die donker stroke wat hy oor die vensters geplak het, deels om snags die skerp ligte van die gebou reg oorkant hom uit te hou, en ook omdat hy heeltemal privaat wou wees. Hy was daarvan bewus dat een of twee mense hom met verkykers dophou wanneer hy uit die stort klim en na sy slaapkamer toe stap wat op die stad afkyk. Hy het nie van gordyne gehou nie, dit het hom te veel aan sy ma se huis herinner.

Toe besluit hy op die donker stroke, soos ’n limousine waarvan die binnekant donker getint teen die buitewêreld beskerm is. En veral noudat die advertensie so ’n sensasie veroorsaak het, is hy eers bewus van die aandag uit die gebou oorkant syne.

Hy sluit die sekuriteitshek en die voordeur toe en leun ’n oomblik daarteen. Dan besluit hy dat hy nie gaan toelaat dat die suur-insident hom verder ontsenu nie. Maar hy sal baie versigtig moet wees. Báie versigtig.

Hy plaas sy twee selfone op ’n tafeltjie, haal sy sonbril af, kyk na homself in die groot spieël en knip-knip sy oë.

Hy kyk na sy ontwerper-gholfhemp, sy hare kortgeknip en byderwets gestileer. Die hemp se kraag is só deur sy snyer ontwerp en gefatsoeneer dat dit gemaklik om sy skouers pas en die lyne van sy bolyf beklemtoon.

Hy skakel sy CD-speler met die afstandbeheer aan. “The heavy” deur The Glorious Dead speel.

Hy haal sy Rolex-horlosie af en plaas dit op ’n tafeltjie waar peperduur mansjetknope (geskenke van kliënte) en twee alternatiewe pare sonbrille lê.

Verbeel hy hom, of is daar ’n effense swelling op sy linker­wang? Hy is ses-en-twintig, sekerlik te oud om nog met puisies te sukkel. En tog?

Hy raak aan sy wang. Dit wil-wil lyk of daar ’n bultjie begin vorm. Hy onthou ’n boereraat van sy ma, stap yskas toe, neem ’n blokkie ys en druk dit vir ’n minuut teen die bultjie. In sy gedagtes weer Mathilda se gesig toe hy haar ses maande gelede meegedeel het dat hy bedank. Sy het hom opdrag gegee om sy kantoor onmiddellik te ontruim. Geen kennismaand werk nie, geen vier-en-twintig uur om sy sake af te sluit nie. Onmiddellike begeleiding deur sekuriteit uit die gebou.

Hy stort. Daarna behandel hy sy gesig en nek sorgvuldig met ’n middel wat sy vel glad maak, ingroeihare voorkom en bloedvloei na sy gesig stimuleer.

Mathilda se woorde aan hom toe sekuriteit hom uit die gebou begelei: “Jy het ’n baie gevaarlike vyand gemaak, Tristan. Jy gaan ook eendag oud word, jy gaan ook eendag lelik word. As daar een ding is wat vergaan, is dit skoonheid, maar nie saak hoe hard jy teen verval baklei nie. Dit haal jou altyd in.”

Hy spoel die jel met louwarm water af en druk sy vel droog met ’n skoon handdoek. Daarna spuit hy ’n verfrisser aan. Hy tik Hannon-vogroom om sy oogarea waar die vel op sy dunste is en die eerste tekens van veroudering sal wys. Dit sal die vorming van plooitjies vertraag.

Sy wenkbroue wil-wil te dik raak. Hy pluk enkele haartjies uit. Ook dié tussen sy wenkbroue. Daarna knip hy die haartjies wat in sy neusgate begin vorm.

Hy vlos sy tande en neem dan die elektriese tandeborsel. Hy borsel lank, tot in die mees verborge hoekies, gebruik mondspoelmiddel en gorrel daarmee.

Dit wil lyk of ’n vlekkie op ’n voortand gaan vorm. Hy moet môre na ’n mondhigiënis toe gaan en sommer ook weer sy tande laat witmaak en sy asem opnuut laat vervars. Nie dat daar tans iets skort nie, maar dit vorm alles deel van sy maandelikse roetine.

Nadat hy sy tande gevlos het, stap Tristan na sy hangkas met die houthangers wat almal in dieselfde rigting kyk.

Hy beskou die etikette op sy hemde, onder meer Lacoste. Ook Toe Porn-sokkies en ’n The Lot-keps wat aan ’n haak hang, Christian Dior-pakke, sy Craig Port-swembroek, twee Speedos, sy Zara-baadjie, nog onderbroeke, dié slag Calvin Kleins, asook Jeep- en Boss-hemde. Ontwerper-Uzi-T-hemde, elkeen so gekies dat dit die lyne van sy lyf en spiere komplementeer en beklemtoon.

Hy trek ’n rafeltjie van sy aandpak se skouer af en vee vinnig daaroor. Hy sal dit moet laat droogskoonmaak voordat hy dit aantrek om saam met Sophia Mouton uit te gaan.

Sy skoene is in ’n aparte kas, soos die Spitz Loafers wat hy so graag dra. Daar is ook formele swart skoene, blink gepoets, en ’n paar blinkleer skoene wat hy net saam met sy aandpakke dra. En as hy tuis wil ontspan, sy Feiyue-skoene.

Sy liggaam lyk so goed soos altyd in die spieël in sy slaapkamer. Sy oë beweeg krities daaroor. Hy bestudeer sy spiere, neem ’n persoonlike versorger en snoei aan die hare onder sy naeltjie.

Dan beweeg hy met die versorger na sy onderarmhare en snoei liggies daaraan, tem dit, sorg dat dit nie buite beheer raak nie. Hierna skeer hy die haartjies wat langs en om sy penis vorm af sodat sy vel glad en silwerskoon is. Hy gaan binnekort vir ’n laserbehandeling wat lastige borshare wat weer wil vorm, sal verwyder.

Hy voel aan sy ontwerper-stoppels. Hy kan minstens nog twee dae se groei toelaat voordat hy weer moet skeer. Dalk moet hy egter die stoppels heeltemal afskeer wanneer hy saam met Sophia uitgaan. Klink nie of sy dit sal waardeer nie.

Hy snoei die stoppels effens sodat die korrekte hoeveelheid baard deurskemer – iewers tussen vyfuur-skadu en laatoggend-stoppels.

Hy kies die presiese regte onderbroek wat sy rondings beklemtoon, trek ’n T-hemp aan wat styf om sy maag en boarms span en trek dan Boss-jeans aan. Hy trek ook ’n leerbaadjie aan, staan weer voor die spieël, jel sy hare se­kuur en skakel dan die taxi wat hom gewoonlik karwei.

“Neem my na Matthew Mansions 31, Melrose Arch,” sê hy.

Hierna skakel hy ’n nommer in sy swart boekie.

“Annabelle?” vra hy.

“Ja?”

“Dis Tristan. Ek is oor ’n halfuur by jou.”

“Ek sien uit daarna.”

“Ek merk dat die geld nog nie in my rekening betaal is nie.”

“Ek het dit pas gedoen. Tienduisend rand. Kyk op jou selfoon.”

“Ek sal.”

“Vir daardie bedrag sien ek jou seker vir die res van die dag?”

“Natuurlik.”

“Ek kan nie wag nie.”

“Ek ook nie.”

“Ek hoop jy is so goed soos my vriendinne sê jy is.”

“Dalk beter.”

“Sien jou oor ’n halfuur, Tris.”

“Sien jou, Annabelle.”

Hy soek op sy selfoon en sien dan dat die bedrag pas in­betaal is. Die gonser onder by die sekuriteitsdeur in Commissionerstraat lui. Sy gereelde taxibestuurder moes dus iewers in die omgewing rondgekruie het.

Hy kyk vir oulaas in die spieël en neem sy selfoon. Die skildery in sy sitkamer trek weer sy aandag. Lance se meisie, Sheila, het hierdie groot skildery gemaak kort na Tristan se twintigste verjaarsdag. Dit is ’n presiese gelykenis van hom en selfs Tristan moes erken dat hy goed lyk op hierdie skildery.

Suid-Afrika se eie Dorian Gray, het die meisie op die kaartjie geskryf wat sy onderaan die skildery geplaas het. Hy het Oscar Wilde se roman gelees. Mooi van buite, verrot van binne, tot alles eendag inmekaarstort.

Hy wonder of Sheila iets probeer sê het.

Weer die gonser vanaf die straat.

Dit behoort hom net twintig minute tot by Melrose Arch te neem.

Plesierengel

Подняться наверх