Читать книгу Plesierengel - Leon van Nierop - Страница 6

DRIE

Оглавление

Erika het pas ’n DVD in die speler geplaas toe die klokkie by haar voorhek lui. Sy druk die pouseerknoppie op die afstandbeheer. Sy verwag niemand nie, allermins hierdie tyd van die aand.

Sy kyk op haar horlosie. Dit is kwart voor agt. Rodney! dink sy skielik. Hy kom sy laaste besittings haal. Maar hy sou tog eers gebel het!

Weer die klokkie, nou dringender. Niemand in hierdie buurt maak hul hekke dié tyd van die nag oop nie. Twee aande gelede is ’n paartjie van hier naby in hul woonkamer deur boosdoeners aangehou en gemartel. Die adres, het Erika in die koerant gesien, is net drie huise laer af in die straat. Die diewe het met al die inwoners se besittings weggekom. Daardie berig het haar weer aan die destydse aanval herinner en sy het besef dat sy dit eintlik nog nie behoorlik verwerk het nie.

Die klokkie lui weer, dié slag meer ongeduldig. Dit het al gebeur dat kliënte met kwaai probleme snags hierheen kom. Dit het sy nou daarvan om ’n spreekkamer by haar huis te hê.

Sy loop na haar voordeur toe en kyk deur die loergat. In die sekuriteitslig wat aangegaan het, sien sy ’n vrou voor die traliehek in die straat staan. Sy beduie met haar hande.

Erika neem die paniekknoppie wat aan ’n koord langs haar voordeur hang saam toe sy eers die ysterhek en toe die voordeur oopsluit en uitloop op die stoep.

“Doktor Hamilton! Ek is jammer om te pla, maar ek móét met jou praat! Ek het jou selfoon aanhoudend geskakel, maar jy antwoord nie.”

Sy het haar selfoon ’n ruk gelede gestel om stil te wees, want sy wou nie gesteur word nie. Erika herken die vrou as die een in wie sy eergister vasgery het, Aronique Pringleton.

“As dit oor die versekering gaan, kan ons asseblief môre hieroor praat? Ek het reeds die ongeluk by die polisie aangemeld en … ”

“Nee, dis veel ernstiger. Ek sê vir die meisies die einde van die wêreld was toe nie op 21 Desember nie, maar vandag kan die einde van mý lewe wees. Ag, ek slaan sommer die kruis.”

“Maar kan dit so belangrik wees dat ons nóú daaroor moet praat?”

“Mag ek inkom, asseblief, en my motor intrek? Hierdie is my spaarmotortjie vir noodgevalle. My man het dit verlede maand vir my gekoop sodat ek nie sy motor moet gebruik nie, toe smash ek juis syne op!”

Erika druk die knoppie om die hek oop te maak terwyl die vrou haastig na haar motor toe loop, dan trek sy die voertuig by die erf in. Die sekuriteitshekke gaan agter haar toe.

Deur die tralies sien Erika ’n sekuriteitsvoertuig wat stadig verbyry. Dit voel omtrent of hulle onder beleg is in hierdie woonbuurt.

Die vrou se blonde hare lyk nog meer potsierlik as tevore. Swaar koperringe hang aan haar polse terwyl sy nes eergister mankoliekerig op haar hoë spykerhakkies probeer balanseer. Haar romp klou soos Glad Wrap om ’n dik toebroodjie. Sy rem die hele tyd daaraan asof sy die broekie probeer verberg wat wil-wil uitsteek. Parfuum hang soos insekdoder om haar, terwyl die vel op haar voorkop Botox-styf gespan is, onnatuurlik blink in die skerp lig.

Aronique fladder haar ooglede met hul swaar, vals wimpers terwyl sy praat. “Ek is so jammer oor wat gebeur het, maar toe ek Tristan op daardie plakkaat sien en ek besef ek het daai beeldskone tempel uit elke denkbare hoek aanskou, het die herinneringe soos ’n tsoenami oor my gespoel.”

Aronique Pringleton laat Erika aan ’n masjiengeweer dink wat op ’n groep omstanders oopgetrek word. Sy blaf haar woorde in kort lettergrepe uit, maar wanneer sy na Engels oorslaan, rek sy haar vokale uit soos die kugels in radio-advertensies waar dié vroue tot haar irritasie so gestereotipeer word.

“One look at Tristan and I hollered: ‘Dear Lord, beauty has reached perfection, en hy’s straight!’ Dit in ’n stad waar daar omtrent nie meer een hetero oor is nie! So baie van die mans wat ek ken, is so gay soos piekniekmandjies.”

Erika staan eenkant toe sodat die babbelende vrou kan instap.

“Dankie, anders voel ek nes ’n prossie wat hier in die tuinpaadjie met jou moet praat. O, ek het dit gesê. Prostituut!”

Erika onthou Millicent se woorde vroeër oor Tristan se sogenaamde werk. Dalk hou dit verband met dié vrou.

Weer fladder Aronique haar ooglede terwyl sy in die sitkamer rondkyk en haar armbande deur die vertrek raas. “Pragtige nessie wat jy het, en ek verwag toe eintlik prentjies van ’n vrolike Freud en ’n ewe jags Jung. Mag ek hier sit?”

“Mevrou Pringleton … ”

“Aronique, asseblief, ons moet mekaar op die voornaam noem, anders kan ek nie behoorlik my ketel oopgooi nie.”

Erika knik en is nie heeltemal seker wat daardie metafoor veronderstel is om te beteken nie. “Wil jy oor Tristan Hansen praat of oor die ongeluk?”

“Oor jou stilswye.”

“Nadat die ongeluk op die voorblad was?”

“Ek praat nie van die ongeluk nie, meine schwester.”

In hoeveel tale gaan sy nog aangespreek word? Erika merk dat die vrou telkens haar oë toemaak wanneer sy praat. Nadat sy ’n sin voltooi het, fladder hulle weer oop en flikker sy haar vals wimpers asof die suidoos daardeur beur.

“My man gaan jou bel. Hy is buite homself oor sy motor en die voorbladstorie.”

“Kan jy tot die punt kom?”

Die armbande sak gedienstig toe Aronique haar hand lig. “Ek is hier om jou te vra om onder geen omstandighede vir Bradley, dis nou my een en enigste, te sê hoekom ek die blaps gemaak het nie.”

“Dit staan immers in die koerant!”

“Ek het dit natuurlik ontken en ’n taxi geblameer. Bradley het dit darem gekoop!”

“Indien hy my daaroor gaan bel … ”

“En hy sál!”

“Sal ek net die nodigste inligting gee.”

“Jy verstaan nie!”

“Verstaan wat nie?”

“Dat ons klub dalk expose gaan word!”

“Watse klub?”

Aronique kyk weer rond asof sy verwag iemand gaan haar hoor. “Ek het nie eers gevra of jy alleen bly nie! Is jou man dalk hier, jou boyfriend, jou toy-boy, jou beter helfte, jou … ”

“Ek bly alleen.” Rodney se beeld flits deur haar gedagtes.

“En jy is gebonde aan client/doctor confidentiality, dan nie?”

“Hierdie is nie ’n formele konsultasie nie.”

“Tog moet ek weet. Het jy ’n kaartmasjien, dan betaal ek nou, maar ek moet weet dat jy niks sal herhaal wat ek gaan sê nie!”

Erika ervaar daardie bekende ongeduld wat sy al dikwels moes onderdruk. “Jy hoef nie te betaal nie en ek belowe ek sal stilbly.”

“Want dit is hoe ons die eerste keer van Tristan gehoor het, by ons Heuwel Fantasties-klub. En ek praat nou van die heuwel in sy jeans.”

Erika probeer verdere beskrywings keer, maar Aronique is soos ’n passasier op ’n wipmotortjie by Gold Reef City, haar vaart onstuitbaar.

“Jy weet hoe gaan dit. Meisies kom bymekaar, suiker af movies toe, koek-en-Earl Grey Vrydagoggende … ” Sy waai met haar hande. “Jy sal nie die situasie verstaan nie, want dit lyk nie vir my of mans baie belangrik in jou lewe is nie.”

Erika besluit om dit te ignoreer, want dit sal die gesprek nog verder uitrek.

“Maar baie van ons in die northern suburbs het klubs!” Sy giggel. “My darling, as jy maar weet. Dalk moet ons jou saamnooi eendag. Dit lyk hoeka of jou lewe bietjie woema nodig het.”

“Watse klubs?”

Aronique praat nog sagter: “ ’n Soort sekspo.”

Erika het al met ’n kliënt gesels wat in die verbygaan na private huisvrou-seks-ekspo’s verwys het, dus het sy ’n idee van wat gaan kom.

“Ek het al daarvan gehoor, ja.”

“Dan kom demonstreer hierdie gorgeous ouens sex toys. Jy noem dit, dis daar mét ’n vleismark – vleis-paleis-pondok bed toe, waar ons,” sy beduie weer met haar hande, “ouens kry vir sessies. Jy weet.” Sy voer bewegings met haar hande uit soos ’n ontkleedanser. “Outjies wat geld nodig het en strip.”

“Studente?”

“Hulle is ’n dime a dozen en weet baie meer van seks en cock-teasing as wat ek of jy ooit sal.” Sy lag en kyk weer vinnig in die vertrek rond. “Ekskuus, as ék ooit sal weet. Maar teen ’n prys. Tye is swaar, die manne verdien deesdae op allerlei maniere. Velkleur tel nou by job interviews, nou haal die manne maar uit en wys vir vroue wat dit kan bekostig, sodat die outjies vir hulle studies kan betaal of oorleef.”

Erika reageer nie.

“Hulle is randy, ons het die candy. Hulle strip, dans in jockstraps, is mal oor die aandag, ons bie en die hoogste bieër vat die plesiertier huis toe en betaal altyd kontant. O dok, as jy net weet wat by hierdie Tupperware-sekspo’s gebeur.”

“En jy huur studente?” vra sy koel.

Aronique lag. “O nee, skattebol. Ek hou van mans met hardebaard. Soos Tristan. Die girls praat onder mekaar, en een van die girls het sy nommer gehad. Tris het eers sportmotors verkoop. Deesdae is hy voltyds on the job, en ek bedoel,” en sy maak vulgêre handbewegings, “behoorlik op die job! Toe bel ek en hy doen my,” en sy begin op die maat van die Volkslied sing, “dat die kranse antw-oo-oord gee! Ha-ha-ha.”

Erika wil die gesprek so gou moontlik beëindig.

“Waar het hy die sportmotors verkoop?”

“Toevallig net hier anderkant by Mathilda’s Emporium. Maar hy het agt maande gelede opgehou, in Januarie. En nou is hy sommer skielik ’n model ook. Kan jy dink hoeveel geld maak hy?!”

Erika hou haar stem gelykmatig, professioneel. “Laat ek dit mooi verstaan. Jy vra my om nie vir jou man te vertel dat ek in jou vasgery het omdat jy ’n prostituut op ’n plakkaat herken het, en ek in die proses ’n sogenaamde seksklub kan ontmasker nie?”

“Wel. Ons mans het pret by húlle ontkleeklubs met lap dances, waarom nie ons nie?”

“Dus, julle mans mag, maar nie julle nie?”

Aronique waai weer met haar hande. “Ag, liefskat, jy leef in ’n geslote omgewing. Beskerm. Julle sielkundiges dink julle weet alles. Maar eintlik weet julle niks. Want wat werklik gebeur, kry mens nie in boeke nie. Jy sal dus nie verstaan nie. Feit is, as ons mans uitvind hiervan, gaan die hel los wees. Egskeidings, dagvaardings, jy noem dit. Ons sexy en baie vuil wasgoed word dan expose. Dit mag onder geen omstandighede uitkom nie.” Aronique se gesig raak ernstig, haar teatrale gebare kleiner. “As dit uitkom, weet jy hoeveel mense gaan in die moeilikheid wees? Weet jy hoeveel huwelike gaan opbreek?”

“En hoe baie koppelaars gaan hul werk verloor.”

“Jammer?” Aronique frons. “Koppelaars? Soos in sportmotors?”

“Pimps. Die verskaffers van hierdie prostitute. Prostitusie is steeds teen die wet toe ek laas gekyk het.”

“Oh, some cops turn a blind eye. Weet jy dat selfs cops uittrek? Oh darling, you haven’t had a man till you’ve had a cop. Om nie van Tristan te praat nie. En dan … ”

Erika hou haar hand op. “Dit is genoeg, dankie.” Sy staan op.

“Ek kan Tristan se nommer hier los, want hy kan jou dalk troos.” Aronique skribbel ’n nommer op ’n papiertjie en sit dit langs Erika se selfoon neer. “Glo my, hy is die engel van orgasmes. Die phoenix van foreplay.”

“Goeienag.” Erika hou die deur oop. Sy kyk nie eers na Aronique nie, want sy wil nie die vrou aanspoor om meer te sê nie.

Aronique stap tot by haar motor. Net voor sy die deur oopmaak, draai sy terug. “As my man bel, en hy gaan, mag jy nie hieroor praat nie.”

“Wat laat jou dink dat jou man ’n vermoede het oor die leesklubs?”

“Die koerantstorie. Al die skinderpraatjies, die joernalis se spel met woorde en insinuasies. Want Bradley het vanoggend gevra of ek dalk al vir Tristan ontmoet het. Sommer so, uit die bloute. Toe weet ek hier kom ’n ding!”

Erika gebruik die afstandbeheer om die hek oop te maak.

“Wat is die beste seks wat jy nog ooit gehad het?” Aronique beduie met haar hande. “Net tussen ons meisies. Die heel, heel beste skud-jou-fondamente-seks.”

En eerlikwaar, Erika het nie ’n antwoord nie. Sy dink aan haar en Rodney. Aan hul verhouding. Gewoonteseks, het sy dit later in haar gedagtes genoem. Iets wat gebeur omdat dit moet. “Die nodige,” het ’n vriendin onlangs gesê. “Rodney lyk na die soort ou wat net ‘die nodige’ doen, en dalk net op ’n Sondagmiddag.”

Sy het die spyker op die kop geslaan.

“Ek hoop jy reis veilig terug.”

“So gedink.” Aronique glimlag betekenisvol en klim in haar motor. “Wel. Ek kan jou verseker, Erika, en ek praat uit ervaring. Ek was een keer by hom. Hy vat jou hemel toe en los jou daar. Die probleem is, wanneer jy afkom aarde toe, wil jy nie meer leef nie.”

“Gaan nou!” Erika besef dat sy te hard praat. Die vrou sit haar motor in trurat en ry tot in die straat. Sy kyk nog een maal na Erika en roep: “Jy het sy nommer. Glo my, hy is elke sent werd!”

Sy trek weg.

Erika stap terug in die huis in en sluit die sekuriteitshek en voordeur.

Tot dusver was – ís – haar werk alles. Luister sy die afgelope jaar wat sy begin praktiseer het na mense se probleme. Hoor sy van egskeidings, mans wat hul vroue verkul, jonges wat deur pedofiele misbruik is, vroue wat wreedaardig aangerand is, verkrag is, mishandel is. Dogters wat deur hul stiefpa’s misbruik word.

Help sy selfbewuste vroue wie se mans hulle emosioneel afpers of afknou. Herstel sy mense se selfbeeld, ondersteun sy kliënte wat senuwee-ineenstortings gehad het, wat kla dat dit voel of naalde in hul liggame inboor wanneer hulle in die openbaar verskyn of ’n toespraak moet maak. Ondersteun sy skoolkinders wat geboelie word, maar behou die veilige en professionele afstand wat haar verhoed om emosioneel by kliënte betrokke te raak.

Sy het die krisis, toe Rodney haar vir ’n jonger meisie verlaat het, met niemand bespreek nie, nie eers haar mentor nie. En daardie wond is nog net so rou soos amper vier weke gelede toe hy haar kortaf meegedeel het dat hy nog probeer om homself te vind, dat sy met haar werk getroud is en hom nie verstaan nie.

En nou daag Aronique Pringleton op en konfronteer haar met inligting wat klink na iets uit ’n pornografiese rolprent – ’n geheime lewe waarvan sy vaagweg bewus was, in skindertydskrifte en -koerante raak gelees het, maar nog nooit direk mee in aanraking gekom het nie, behalwe enkele kere deur ’n kliënt se belydenisse.

Erika neem haar selfoon en pons Rodney se nommer in. Sonder om te dink, druk sy Call, hulpeloos om die aksie te keer. Nou, meer as ooit, het sy die behoefte om sy stem te hoor.

Die telefoon lui aan die ander kant en Erika besef sy het nog kans om die oproep te beëindig. Maar sy vind nie die krag om dit te doen nie.

’n Vrouestem antwoord. “Rodney se foon.”

Erika skud haar kop. Sy kan nie praat nie.

“Hallo? Ek kan hoor daar is iemand.”

Erika druk die telefoon dood sonder om te praat. Oomblikke later lui haar selfoon en Rodney se naam verskyn. Sy antwoord dadelik. Dit is dieselfde vrou van tevore. “Moenie weer hierdie nommer skakel nie.”

Die verbinding word verbreek.

Erika sit lank met die selfoon in haar hand. Toe maak sy haar afspraakboek oop en kyk na die inskrywings die volgende dag.

Millicent Hansen. 11:30.

Sy was lank laas so gespanne oor ’n kliënt se voorgenome besoek.

Dit is moeilik om aan die slaap te raak, maar sy weier om weer ’n slaappil te neem. Dit laat haar kop altyd dof voel sodat sy nie die volgende dag behoorlik op haar werk kan konsentreer nie. En sy kry daardie bitter smaak van Zopimed nie uit haar mond nie, selfs teen middagete.

Sy word oudergewoonte net na dagbreek wakker. Sy rol ’n oomblik rond en staan dan op en trek haar oefenklere aan om te gaan draf.

Dit moet gedurende die nag gereën het, want sy ruik dit nog. Alles is vars en skoon.

Sy kies vanoggend ’n ander pad as wat sy (en Rodney) gewoonlik gedraf het. Dit neem haar by die dieretuin verby. Sy kyk na die tamaai ou bome wat hul takke oor die paaie sprei en dink hoe lief sy vir Johannesburg is. Dat sy eintlik nêrens anders wil woon nie. Sy hou veral van Parktown. Dis naby die middestad, maar net ver genoeg daarvandaan om veilig te wees. Relatief veilig as sy kyk na die misdaadsyfers in haar woonbuurt.

’n Seun wat koerante aflewer groet haar. Vroue met kleurvolle kopdoeke, wat te oordeel na hul uniforms seker op pad is om stukwerk te doen, loop al geselsend by haar verby. Hier en daar merk sy dat ’n verbygaande motoris haar agternakyk.

Terwyl sy en Rodney nog uitgegaan het, het hy nie daarvan gehou dat sy met ander mans praat of dat hulle aandag aan haar skenk nie, veral nie by die muurbalbaan nie. Hy het haar selfs later gevra om ’n sweetpakbroek te dra en nie die kort broekie waarmee sy gewoonlik muurbal gespeel het nie. Sy het mooi bene en die ander spelers het gedurig na haar gekyk.

En nou is hy weg – Rodney wie se oog gedwaal het by die muurbalbaan. Want dit is waar hy waarskynlik die aktrise ontmoet het met wie hy begin uitgaan het. Of dalk het hy ’n onderhoud met haar gevoer vir die Engelse dagblad waarvoor hy werk. Erika is nie seker nie.

Die straat hier voor is besig. Sy het nog nooit so ver gedraf nie.

Sy gaan staan op die hoek en besluit om nog net een straatblok verder te hardloop en dan terug te draai.

Terwyl sy wag vir die verkeerslig om na rooi oor te slaan, hou ’n motor langs haar stil. Die verkeerslig raak geel. Die motoris draai sy ruit af.

“Erika! Haai!”

Sy kyk en probeer ordentlik fokus.

“Albert Steyn!” sê hy.

Sy herken hom. Hulle was saam hoofmeisie en hoofseun in Northcliff en het vir ’n maand of twee vas uitgegaan.

“Albert?” Sy kan haar oë nie glo nie. “Wat maak jy hier?”

“Ek werk as argitek in Rosebank. En jy, lees ek in die koerante, is deesdae ’n sielkundige wat ongelukke onder onderbroeke maak.”

“Ag, dit!” Sy lag. “Moenie alles glo wat jy lees nie.”

“Bly jy hier naby?”

“Ja,” antwoord Erika.

“Spring in, dan neem ek jou terug.”

“Maar jy is seker op pad iewers heen?”

“Was in die gim en gaan terug huis toe. Toe!” Hy beduie.

Die lig word groen en die motoriste agter hom toet. Sy klim haastig in sy motor.

Albert het ’n effense magie begin kry waaroor sy T-hemp net ’n bietjie te styf span. En hy begin van sy hare verloor.

“Waarheen?”

Sy verskaf haar huisadres.

“Wys jou net hoe groot is hierdie dorp. Ons bly in dieselfde omgewing en weet dit nie eers nie!” Hy lag. “Ek was op die punt om jou te bel nadat ek die storie in die koerant gesien het, toe dag ek jy is dalk … jy weet . . ?”

“Wel,” sy weet nie eintlik wat om te sê nie, “hier is ek nou! Draai hier links, dis korter.”

Hy skakel sy flikkerlig aan en kyk dan na haar. “Dis goed om jou weer te sien, Erika.”

“Goed om jou weer te sien.”

Hulle luister vir ’n oomblik na die musiek op die radio.

“Wat ek netnou wou vra, is: Is jy getroud?”

“Nee. Jy?”

Hy skud sy kop. “Vry nog maar in die bondel. En jy?”

“Vry beslis nié in die bondel nie. Draai hier regs en hou links in die slipway.”

Sy ken die liedjie wat nou speel. Dit was ’n treffer toe hulle op skool was.

“Onthou jy?” vra Albert na ’n ruk.

“Jip. Was dit nie in die topvyf op die treffersparade nie?”

“Ek praat van ons.”

“Ek dink nog partykeer daaroor,” antwoord Erika.

Sy beduie dat hy links moet draai. Hy maak so.

Twee strate verder beduie sy hom na haar huis agter die groot jakarandabome. Hy hou stil, sit ongemaklik en vroetel met sy sitplekgordel.

“Dit was lekker dae.” Hy kyk nou direk na haar.

Albert was haar eerste vaste kêrel. Die eerste man met wie sy intiem was, maar eers na die matriekeksamen. Hy het daardie aand gesê dat hulle die einde van matriek op ’n spesiale manier moet vier. Hulle het uitgegaan, geëet, ’n bottel wyn gedrink, en toe is hulle na sy huis toe. Sy ouers was nie daar nie.

Dit het daardie aand lank geneem voordat sy hom toegelaat het om haar klere uit te trek – heeltemal uit te trek. En selfs toe hy warm begin raak het en ernstig begin vry het, sy hand tussen haar bene, was sy steeds bang. “Het jy ’n kondoom?” het sy gevra. Sy onthou dat sy gebewe het.

“Ja.”

Die klank van die oopskeur van die pakkie, sy gesukkel om die kondoom aan te sit en hoe dit die erotiese oomblik onderbreek het. Sy asem teen haar gesig. Sy gewig bo-op haar.

En toe die pyn. Dit was seer. Sy het geen genot uit die seks met Albert gekry nie en was bitter spyt daaroor. Het net geluister na sy vinnige asemhaling, die kreun en toe geduldig gewag dat sy liggaam stil word.

“Was dit lekker?” het hy gevra.

Haar antwoord, sag, onseker. “E … ja.”

“Skies. Ek wou nog uithou, jy weet?”

“Maak nie saak nie.”

“En jy? Het jy gekom?”

Sy het geknik en kon sien hy weet sy jok.

Hulle is kort daarna uitmekaar. Dit was asof daardie intimiteit iets tussen hulle vernietig het. En sy het die seks beslis nie geniet nie.

Die eerste man by wie sy jare later vir die eerste keer ’n mate van bevrediging gekry het, was Rodney. Dit is ook hoekom sy so lank by hom was, want sy het gevoel hy besit iets van haar wat sy nie gaan terugkry nie.

“Is jy lus vir koffie?” vra Albert.

“Miskien later. Ek … sien baie kliënte vandag.”

Hy krap ’n nommer op ’n stukkie papier en stop dit in haar hand. “As jy kafeïenonttrekking kry.”

“Dankie, Albert.” Hy druk haar hand en leun skielik oor en soen haar. Sy draai haar wang. “Lekker om jou weer te sien.” Sy maak die deur haastig oop en klim uit. “Mooi dag!” Sy weet nie eintlik wat anders om te sê nie.

Albert knipoog vir haar en beduie: Bel my. Hy trek weg.

Sy sal moet gaan stort. Haar dag is vol.

En sy wonder hoe haar lewe sou verloop het indien sy wel met Albert getrou het, soos hul ouers wou gehad het.

Sy stort, eet ’n ligte ontbyt en bestudeer dan haar afsprakeboek. Sy begin altyd daarmee op die halfuur, iets wat sy by haar mentor, Lydia Verhoef, geleer het. Haar eerste kliënt sal halfnege hier wees, ’n neurotiese vrou met ernstige selfbeeldprobleme. Erika het al daarin geslaag om haar sover te kry om met mans te begin uitgaan, maar die kliënt sien selde ’n man meer as een keer – dalk twee keer. Daarna dink sy dat mans vir haar lag of haar net wil gebruik of bewus raak van al haar tekortkominge.

Erika se oë dwaal weer na Millicent Hansen se naam om 11:30. En langs haar afsprakeboek lê Tristan Hansen se nommer, wat Aronique nog daar gelos het. Sy kyk na die nommer en wonder hoeveel vroue hom al gebel het sedert die advertensiebord soveel chaos veroorsaak het. Daar is nie iets soos swak reklame nie, besluit sy, dis gewis.

Sy wil net die papiertjie met die nommer opfrommel en weggooi, toe iets haar keer. Die nommer. ’n Maklike een om te onthou. Sou dit doelbewus wees, of het hy daardie nommer toevallig gekry? Sy onthou Aronique se oordadige beskrywings van Tristan se fisieke bates. Van sy persoonlikheid het die vrou egter niks gesê nie, en Erika wonder hoe dit moet voel om so geobjektiveer te word. Alles gaan om die uiterlike – wat in sy binneste aangaan, maak in sy geval seker nie saak nie.

Sou dit hom hinder, of maak die geld alles reg?

Hoekom is hy ’n prostituut? Sover haar kennis strek, verdien modelle groot geld vir ’n advertensie soos die een wat sy in Rosebank gesien het. En die bietjie wat sy van Tristan gesien het, dui daarop dat hy buitengewoon aantreklik is. Dit behoort dus seker nie moeilik te wees om werk te kry nie.

Waarom sou hy homself dan aan vroue verkoop?

Op ’n ingewing skakel sy haar rekenaar aan en google hom. Tristan Hansen, tik sy.

Sy naam verskyn, onderstreep in Google se bekende blou skrif. Sy klik daarop.

’n Foto van hom verskyn. Dit is ’n kop-en-skouers-foto. Ja, inderdaad, sy onthou hom. En sy moet erken hy is geweldig aantreklik. Hy het ’n skoon, oop gesig, sy kort bruinblonde hare is netjies regop gejel en hy het ’n effense glimlag. Hy lag nie heeltemal nie, nog minder het hy die selfbewuste glimlag wat narsissistiese modelle gewoonlik vir die kamera hou. Hy kyk daarna asof hy sê: Ek daag jou uit om meer oor my uit te vind. Het jy die moed?

Sy telefoonnommer staan onder een van die foto’s. Daar is geen aanduiding dat hy ’n prostituut is op die webwerf nie, asof hy nie meer hoef te adverteer nie.

Die inligting oor hom is aan die skraps kant: Tristan Hansen is op 13 Maart 1987 in Linden gebore. Sy ouers is Dieter en Millicent Hansen. Vader oorlede op 23 November 1995. Hansen was ’n kampioengimnas wat verskeie pryse en medaljes op skool gewen het. Hy was ook ’n kranige rugbyspeler wat die sport laat vaar het om hom op gimnastiek toe te spits. Hy het van jongs af aan verskeie marathonne deelgeneem.

Hy het vir twee jaar in die buiteland gewoon. Van 2010 tot 2011 was hy verbonde aan die Milford-klerewinkel in Sandton, maar nadat dit gesluit het, het hy as motorverkoopsman by Mathilda’s Emporium in Parkview begin werk. Hy het in Januarie 2013 bedank. Hy is bevriend met Lance Fourie, die bekende gimnas wat in 2012 provinsiale kleure verwerf het. Tristan Hansen is bekend as model, veral van die Jasper-onderklerereeks. Hy is ongetroud.

Tristan Hansen. Sou hy haar nog onthou?

Wanneer het vroue hom begin betaal?

Erika beweeg die wyster na die kruisie boaan sy webwerf, sit ’n oomblik ingedagte, en kies dan Microsoft Word om haar notas te bestudeer van die kliënte wat sy vandag gaan sien. Maar haar gedagtes beweeg aanhoudend terug na Tristan.

Sy skryf later sy nommer in hakies langs sy ma se naam neer en wonder of hy tog nie dalk saam met Millicent Hansen gaan opdaag nie.

“Sielkundiges het eintlik sielkundige behandeling nodig,” was sy laaste woorde aan haar. Twee weke later het hy opgeskop, ondanks die feit dat hy hoë punte behaal het.

Interessant dat sy nooit weer behoorlik aan hom gedink het nie. Maar sy het Baltus Maritz op universiteit ontmoet, ook ’n sielkundestudent. Hulle was vir drie jaar betrokke voordat hy met ’n ander meisie begin uitgaan het en hul verhouding beëindig is. Sy was nogal baie verlief op hom.

En toe, asof sy geen beheer daaroor het nie, soos met Rodney, lig sy die telefoon se hoorbuis en skakel Tristan Hansen se nommer. Haar hande bewe terwyl sy dit doen. Sy weet glad nie wat haar besiel nie. Dalk wil sy hom vra of hy haar nog onthou. Dalk wil sy hom aanmoedig om saam met sy ma te kom, dalk is sy sommer net nuuskierig, dalk wil sy …

“Hallo. Tristan Hansen.” Genugtig, maar hy het ’n mooi stem. Sy het dit nie meer mooi onthou nie.

Sy is nie in staat om te praat nie.

“Hallo?” Stilte. Erika hoor die geluid van verkeer in die agtergrond. “Moenie skaam wees nie. Praat gerus. Ek luister,” sê hy in ’n diep basstem.

Erika gooi die hoorbuis neer en spring op. Wat het haar besiel?

Sy besef dat haar nommer op sy selfoon geregistreer het en dat hy dalk sal terugbel, onder die indruk dat sy ’n voorgenome kliënt is.

Maar Tristan Hansen skakel nie terug nie.

Plesierengel

Подняться наверх