Читать книгу Die kinders van Spookwerwe - Lize Albertyn-du Toit - Страница 5

1

Оглавление

Die son skroei nou al dae lank die Bo-Karoo. Dis net ná Kersfees, en die hittegolf wil nie skietgee nie. Die waters moet elke dag nagegaan word. Milano is al elf jaar oud en ’n groot hulp dié vakansie. Die môrester skyn nog helder in die ooste wanneer sy pa hom soggens wakker maak.

Terwyl Milano die perde opsaal, drink Hennerik sy koffie buite die kookskerm. Mieta neem ’n ordentlike knyp snuif, soos haar gewoonte soggens is, en nies haar nieste.

“Ek hoop hierdie seisoen bring genoegsame reën. Dit gaan water vat vir die bossieveld om bekwaam te raak,” gesels Hennerik met haar en kyk op in die wolkloosheid.

Hennerik het die laaste tyd wind opgemerk, en wind is goed. Dit is hoe reën begin. Hy en Geelsuiker loop elke dag oopoë rond op soek na tekens: miere wat bedrywig raak, skilpaaie wat paar. Die afwagting is groot, want die dors is groot.

“Die jakkals het weer gistraand vreeslik erg geroep daar van sy plek af,” praat Mieta terug vanuit die kookskerm waar sy vir Milano tee maak en die laaste twee snye brood dik met skaapvet smeer. Die oortjiesuile het ook besonder baie geroep, onthou sy nou. Was dit regtig so ’n rumoerige nag, of was dit net sy, wat feitlik heelnag bedrywig was met die tweeling, wat nie kon slaap kry nie?

“Dit gaan verkeerd loop as die jakkals net so van die een kant af roep. Hy baken gebied af. Die skape loop reeds in daardie kant se verste kampe. Ons sal maar moet plan maak met die ongedierte.” Hennerik slurp sy laaste bietjie koffie en skiet die moer uit sy blikbeker toe Milano aankom.

“Pappa, Robyn is weer beneuks, Pappa. Weet nie wat in haar is vanoggend nie. Sy blaas weer haar pens op. Ek kry nie die saal vasgetrek nie.” Milano neem die tee by sy ma en vat ’n hap brood. “Nes laas keer,” sê hy deur die brood in sy mond.

Hennerik kry skoon lag toe hy terugdink aan die dag in die huiskampie. Milano was skaars in die saal, toe vat die merrie ’n flukse draffie en blaas haar pens af. Hy, Geelsuiker en Mieta het staan en uitkraai van die lag toe die saal begin gly. Hulle skree vir Milano dat hy moet los, maar dié roep net benoud terug: “Die volstruisdoring lê te dik, Pappa!” Hy het bly klou soos ’n klitsgras, later soos ’n vink onder die perd se pens geswaai, maar los, sal hy nie. Die perd wou net nie tot stilstand kom nie, en dit het Hennerik en Geelsuiker later gekos om die dier in te hardloop terwyl Mieta haar swanger lyf vasgehou het van die lag.

Daardie aand was Mieta nog steeds vol spot vir die mansmense, tot Geelsuiker pyp in die hand vir haar sê: “Jy kamma lag, ou Mieta, maar jy moet weet ek het jou kleinhuisie toe sien hol met ’n skoon broek in jou hand!”

Terwyl Milano sy warm tee slurp, loop Hennerik solank huiskampie toe waar die perde gehou word. Hy kry Robyn vasgemaak staan, vat die saal wat op die grond lê en stap paaiend na die perd. “Kom, kom, kom, my ou merrietjie. Hoe’s dit dan met jou vanoggend? Ook al moeg waters omgery, nè? Maar kyk hoe mooi vet is jy van die bederfhawertjies. Daar’s hy, daar’s hy.” Hy sit die saal sag op haar rug. Streel langs haar boud af en sak af om die buikgordel onder haar pens deur te bring. Robyn trippel sywaarts, maar hy fluit saggies deur sy tande. Hy bring die gordel rustig vorentoe, steek dit in die gespe en trek weer hard boontoe. Hou hom, trek, hou hom, en trek totdat die pennetjie by die bruin sweetmerk deur die gaatjie steek.

“Dáár’s hy, jou ou skelm jakkalswyfie.” Hy klop die perd teen die nek. “Jy kan miskien daai klonkie flous, maar nie vir hierdie volbek nie.”

Hennerik kyk terug huis toe. “Kom, Boesman!” roep hy.

Milano plak die laaste stukke brood opmekaar en kom aangehardloop. “Het Pappa gesien hoe blaas sy haar op? Ek kon nie eers die gordel by sy derde gat inkry nie,” mompel hy brood-in-die-kies.

“Ja, sy wou weer skelm wees. Kom, ons moet veldin sodat ons in die verste kampe kan wees voor die son te warm is.”

Hulle lei die twee perde by die hek uit, gooi die teuels oor en spring in die saal.

“Hou jou hoed op!” roep Mieta. Die kind se ligter vel brand mos graagter.

Mieta kyk hulle agterna en sluk haar laaste bietjie koffie. Riem blaf en rem aan sy ketting, tol al in die rondte, maar sy los hom vasgemaak. Hy kan nie by die perde byhou as hulle in hierdie hitte al die kampe moet nary nie.

Sy stap huis toe om na haar suurdeeg te gaan kyk. Die vorige nag het sy ingesuur met net meel en water. ’n Aartappel was nie nodig om die besigheid aan te jaag in dié hitte nie. Op die kombuistafel staan haar kastrolletjie toegevou in die reisdeken. Sy vou dit sorgsaam oop. Die skuim wil-wil weer uit die potjie klouter. Nou se dae kry die aande die huis nie meer afgekoel nie. Dan gaan die insuur so gou! Juis gister dit te lank laat staan toe die tweeling vroegdag knieserig was en moes sy als vir die hond loop uitgooi. Hierdie spulletjie ruik soos ’n bedompige, lui poep. Dit sal dadelik geknie moet word.

Mieta het ’n groot vrou geword ná Gysie en Grietjie se geboorte. Dit was ’n gevaarlike geboorte gewees so met haar hoëbloed saam. Die dokter het haar ter wille van haarself toegemaak, maar sy was tevrede. Sy het mos nou darem drietjies. Ná die swangerskap kon sy haar lyf nie weer gemaklik terugkry nie en haar voete, dié het so bly swel in die hitte. Die nuwe tekkies wat Hennerik vir haar by PEP gekoop het, skaaf rou om haar voetnekke.

Op sulke warm dae trek sy haar bloes uit en werk in haar bra en katoenromp, wat sy onder haar buusterek indruk. Vandag knie sy hierdie deeg slapper. Dit vat nou weliswaar langer om jou hande skoongeknie te kry, maar dit rys soveel vinniger. Daar gaan ook nie vir ’n tweede rondte afgeknie word vanoggend nie. Die deeg moet sommer dadelik panne toe. As hierdie brood nie vandag uitgekeer word nie, is daar skaarste in die huis.

Kort voor lank tap die sweet haar af. Druppeltjies kruip uit haar hare, loop teen haar nek af en tussen haar borste in waar haar romprek dit opvang. Ritmies knie sy, en die lendelam tafeltjie protesteer met elke vuisdruk. Kort-kort vat sy die vadoek met haar deeghand om sweetdruppels van haar gesig af te vee voor hulle in die knie-skottel drup.

Toe haar hande eindelik skoongeknie is, vatklap sy die bol deeg heen en weer tussen haar hande en knyp dit in die helfte af. Sit elkeen in ’n goed uitgesmeerde broodpan en smeer nog van die skaapvet bo-op vir daardie kraakkorsie. Die twee panne word nou met rus gelaat om te rys.

Sy skep vir haar ’n beker koel windpompwater uit die erde-emmer wat Hennerik soggens vroeg gaan aftap, en begin die huis en stoep te vee. Genadiglik slaap die tweetjies nog. Sy kry die plek aan kant, trek die kooigoed reg waar Hennerik en Milano saam voet-teen-kop op die stoep slaap, en gaan maak die hoenders oop. Riem kry die oorskietkos van gister. Tussendeur word die buite-oond gestook met fynhoutjies. Die draadtafeltjie gaan haal sy onder die kareeboom en kom sit dit op die stoep vir die wasgoed.

Sy staan die ingeseepte doeke en uitvryf toe sy vir Gysie en Grietjie hoor. Die laaste tyd kom sy beswaarlik voor met doekewas en sy is dankbaar vir die tydjie wat hulle nog tevrede lê en brabbel.

Op agt maande is hulle moeilik. Die tandvleise jeuk en hulle kwyl oormatig, en met die gesweet saam broei ’n nat rooi ring in hulle nekkies wat sommer seer lyk. Die nagte is besonder moeisaam in die warm huis, en van slaap is min te prate.

Toe die son die eerste keer deurbreek, voel sy die dag gaan weer ’n groot oond stook. Die hittegolf van die laaste paar dae het die drievertrekhuisie ondraaglik gemaak.

Hennerik en Milano het die groot kooi op die stoep uitgedra om snags daar saam te lê. Hennerik het die kamer se houtdeur afgeskroef, vier koeldrankkratte vol klip gelaai en die deur stewig bo-op laat lê, en Milano se matras daarop uitgerol. Dit is heeltemal voldoende vir Mieta se behoeftes, want lank lê gebeur nie sommer nie. As sy nie besig is om ’n vuil doek te ruil of die tweeling te voed nie, staan sy hulle met ’n stuk karton en koel waai. Dié tye kyk sy by die venster uit oor die nagveld. Luister na dikkoppe en uile, jakkalse wat mekaar nader tjank, en kyk hoe die vlermuise soos swart skaduwees jag. Soms fluisterdraf ’n wildsbokkie verby die huis.

Net voor Hennerik vanoggend opgestaan het, het die tweetjies eers rustig geraak. Mieta het hulle kaal laat lê met die hoop dat die wind wat sy met die stuk karton maak, hulle sal afkoel en rustig kry. Dan droog hulle nekkies ook sommer bietjie uit. Haar babagoed is amper uitgeput. Sinksalf, tandepoeier, Vaseline en KPP-poeiers vir koors is van die belangrikste. Sy is dankbaar vir Geelsuiker wat aangebied het om vandag weer voorraad uit die dorp te bring.

Die tweeling raak klaerig net toe sy die laaste doeke wil uitdraai. Haar melk skiet in en haar borste begin lek. Vol gesels tel sy hulle uit die kot en gaan sit op die bed met haar rug teen die muur. Elkeen kry ’n bors beet en suig die swaarte uit haar uit. Dis ’n salige sit. Nadat hulle gedrink het, ruil sy hul doeke en gee vir elkeen ’n riempie gedroogde vleis om aan te kou vir die tande wat so jeuk. Tevrede sit sy hulle terug in die kot en gaan draai die laaste doeke uit.

Sewe-uur sit Gysie en Grietjie in die koelte van die rooikaree op ’n kombers. Neffens hulle skud Mieta water uit die doeke en hang dit oor die werfdraad uit. Die tweetjies is deesdae bedrywig met ’n soort van sitkruip en sy moet gereeld kyk of hulle nog onder die skadu is.

Vanoggend sal die wasgoed droog wees en die bakbrood uitgekeer staan voor die ergste son uit is. Sy wil klaarmaak sodat sy in die koelte kan kom sit om Hennerik se geskifte hempskraag om te swaai.

Kort-kort gaan voel sy die buite-oond se hitte en toe dit reg is, stoot sy die twee panne met uitgerysde brooddeeg in. Pak dan die deurtjie dig toe met bietjie klei. Riem smeek steeds vir loskom. Hy tjank fynweg en swaai onderdanig sy stert; kyk hoopvol in haar oë vir verlossing. Die perde is seker al te ver vir inhaal, meen sy, en maak hom los. Hy lig sy been en skop stof met sy agterbene uit voor hy ’n wye draai skaapkraal toe hardloop. Mieta gee haar roosmarynplantjie wat sy in ’n verfdrom op die stoep troetel, water. Stroop haar hand deur die takkiesblare asof sy oor ’n kat se stert vryf en ruik die lieflike geur wat in haar hande lê.

Die brood sal nou ’n uur lank bak. Sy loer terug na waar die tweetjies sit en sien hulle het wragtie weer van die kombers af gewoel. Sit nou in die stof agter die karee, maar darem nog in die koelte. Sy besluit om haar stoel en naaldewerk te gaan haal.

Sy is net in die huis toe sy hulle verskriklike geskree hoor.

*

Teen die tyd dat Hennerik en Milano by die verste kamp is, het die dag al ver gevorder. Daar waar die perde trap, flikker honderde wit vlinders in die vroegoggendson tussen die bossieveld. Drie waterpunte moet nog nagegaan word en die son steek alreeds venynig in Milano se nek en op sy kaal bene.

Hennerik skat hulle al so drie ure in die saal toe hulle Grootboom se kamp se water nagaan. “Kom ons laat die perde so bietjie rus en water drink,” sê hy en klim af. Hy laat Robyn self na die waterkrip stap en gaan sit onder die kameeldoringboom op ’n klip, haal ’n geskeurde koerantpapiertjie uit en krap met duim en voorvinger bietjie twak uit sy hempsak. Tydsaam rol hy sy rookdingetjie. Hy reken as dit nou tienuur is en hy Milano die laaste drie kampe laat omry, kan hy kortpad vat en dalk voor twaalf by die huis wees.

“Boesman, ry jy nou self die laaste drie kampe na. Dit sal sommer gou gaan. Ek wil huis kry.”

Toe Hennerik klaar gerook het, toets hy gou die bolkraan by die krip en stap om sy perd te kry. “Sorg dat jy nie te lank draai nie, en kyk mooi vir jakkalsdeurkruipplek wanneer jy langs Spookwerwe se lyndraad ry. Daar roep nou elke aand een van daar af.” Hy beduie na die lyndraad. “So ’n soogwyfie vreet koorsagtig. Hulle sal ons troppie sommer nou dun vang,” sê hy in die wegstap.

Milano sit nog ’n rukkie gehurk en mierleeutjies vang. Toe hy opstaan, kry hy gedagte om net gou te gaan kyk daar waar die dikkop ’n entjie weg onder die witgatboom broei. Daar was laas twee eiertjies in die nes. Dalk het hulle al uitgebroei. Dit vat ’n vernuftige oog om grondvoëlkleintjies raak te sien, hoor hy oom Geelsuiker se stem in sy kop.

Maar oom Geelsuiker het hom mooi geleer hoe om te maak en waarna om te kyk. Dikkoppe loop nie rond in die dag nie. Lê stil soos ’n klip.

Die eiertjies het wraggies uitgebroei. Die voël staan skielik op en staan wyevlerk vir hom en bang maak. Milano weet die kuikentjies sal naby wees. Eers vat hy Agaat, wat agter hom aangestap het, en maak hom aan die naaste lyndraad vas. Netnou trap hy op die kleintjies. Toe Milano weer nader kom, probeer die dikkop mank speel om hom weg te lok, maar Milano ken sy trieks. Hy kry die twee donskuikentjies wat tussen kalkklippers en gras wegkruip. Piepklein, en lyk nes die klipperige grond. As oom Geelsuiker weer by ons vuurtjie kom sit, sal ek hom dít kan vertel, dink hy baie in sy skik.

Toe hy weer in die saal sit, steekbrand die son op sy vel. Hy sien sy skaduwee wil kom skuiling soek onder Agaat en hy weet hy het te veel tyd verspeel. Hy druk die perd in die lieste en ry fluks die laaste waters na voor hy kortpad terug huis toe vat.

*

Op die hoogtetjie sien Hennerik die wit doeke op die draad hang. Dis nie heeltemal Mieta se gewoonte om teen dié tyd nog wasgoed op die drade te hê nie. Hy druk Robyn nog so ’n bietjie in die lies. Sy het seker haar hande vol met die tweetjies. Hulle sny tande en dis dié dat sy nie kan voor kom met die doeke nie. Geelsuiker is darem vandag in dorp toe en hy bring die nodige babagoed. Dit gaan maar moeilik deesdae om dorp toe te gaan met die tweetjies saam. Die tagtig kilometer is net te ver om met hulle te ry.

Gelukkig is Mieta ’n raakvatvrou en maak maand deur haar lysie. Juis voor die Groot Dae is hy en Milano saam met Geelsuiker in dorp toe. So het hulle van Mieta se lysie af gekoop dat hulle niks kortgekom het nie. Tot glads malvapoeding op Kersdag gehad.

Op die werf gekom, sien Hennerik die stoel lê omgetiep, die naaldwerkkissie se binnegoed gestrooi op die grond. Sy oë soek na Mieta. Sy’s seker besig om hulle slaap te maak. Wil nie hard roep nie. Hy tel die stoel weer regop. Toe hy die naaldwerkgoed begin terugsit, sê iemand sy naam. Hy draai om. Mieta staan in die deur.

“Hennerik, o Here, Hennerik. Dis te swaar vir my.” Sy sak met haar swaar lyf teen die kosyn af.

Hennerik skrik. Hy drafstap nader. “Wat is dit, Mieta?”

“Dis te swaar. Dis te swaar,” is al wat sy aanhou sê. Hy probeer haar ken met sy hande lig, in haar oë kyk, maar sy draai haar kop weg.

“In die kamer, Hennerik, gaan kyk in die kamer,” fluister sy.

In die kamer kry hy hulle op die kooi, toegedraai in kombersies. Soos twee papies. Tot oor hulle gesigte toe styf toegedraai. “Here, Mieta, hulle sal mos versmoor!” Hy woel dringend die een kombersie los, toe Mieta in die deur praat.

“Moet hulle nie oopmaak nie, Hennerik. Seblief nie.”

Het Mieta dan nou haar verstand verloor! bokspring sy gedagtes.

Maar Mieta kom druk haar hand op syne. “Dit sal nie meer help nie, Hennerik.”

Verslae besef hy wat sy sê. Hulle kyk vir mekaar. “Liewe Here, Mieta.”

Hy tel hulle op. Hulle voel reeds vreemd so stokstyf toegedraai. Met een op elke arm stap hy uit die kamer. Mieta volg hom sleepvoet tot op die stoep waar hy vra: “Mieta? Wat het hier gebeur?”

Sy sak weer af met haar rug teen die muur. “Ek is jammer, Hennerik, so jammer. Maar hoe moes ek weet? Here, hoe moes ek weet van daardie satanskind? Het net gou die naaldewerk gaan haal …” Sy fluister byna onhoorbaar: “Moet hulle net nie oopmaak nie, moenie hulle gesigte oopdraai nie, Hennerik. Dit het so geswel. Ek is so jammer, ek is so jammer.”

Stadig begin sy die oggend se gebeure vir hom uitsukkel. “Ek moes vir Riem vroeër losgemaak het.”

Hennerik sien haar oë kyk vir hom, maar sy sien nie. Verwese staan hy, onseker wat om te doen. Hy begin hulle sus. Loop weer die huis in, kom weer uit en loop in die blakende son in met sy kinders, die kombersies verblindend wit ná die donker huis. Skaapkraal toe, windpomp toe, weer kraal toe, Riem al agter hom aan. Hy wil huil, maar die dik kom nie los uit sy keel nie.

Hoe lank hy by die windpomp gesit het, weet hy nie, maar toe Riem sy ore lig, sien hy ook vir Milano aangery kom.

“Milano!” keer Hennerik hom dringend af. Hy moet tog net nie nou vir Mieta by die huis teëkom nie. Mieta. Hy was so in sy eie verdriet versonke dat hy skielik skuldig voel oor hy nie by haar is nie.

“Milano!” roep hy weer.

Milano swaai sy perd en kom fluks aangedraf. “Pappa! Pappa!” roep hy met die aankom. “Pappa sal nie glo nie. Ek het dikkopkuikentjies gesien, Pappa. Hulle’s nog bitter klein. Oom Geelsuiker sê dit bring vir mens …”

“Ek hoor, ek hoor, maar jy moet gou oorry na Geelsuiker toe,” daag die plan in Hennerik se kop op. “Sê vir hom hy moet met die bakkie kom. Dadelik. Dit kan nie wag nie.”

“Is daar fout met die skaap? Hoekom staan Pappa hier met die linge? Dis darem net te warm vir daardie komberse!”

“Ek help net vir jou mamma. Ry jy oor en gee die boodskap af. Moenie met Agaat ry nie, vat Robyn, sy behoort al uitgevars wees. Toe, nou dadelik.”

Milano sien sy pa kyk hom nie heeltemal in die oë nie, maar hy swaai gehoorsaam om en ry huiskamp toe. Waarom staan Robyn nog opgesaal by die waterkrip? Wat gaan aan? Het sy pa nou eers hier aangekom? Nee, hy het dan gesê Robyn behoort uitgevars te wees. Milano sien die doeke op die draadheining. Dan is die linge se mae seker weer aan die loop, besluit hy. Mamma sukkel darem nét te baie.

Eers toe hy ’n ent weg is, besef hy hoe verskriklik dors hy is. En honger. By die hek spring hy af, maak oop, loop na die waterkrip en vee versigtig met sy hand die groen slyk weg. Hy drink die lou water uit sy hande. Gooi ’n bakhand vol in sy gesig, skep sy laphoed vol water en gooi dit oor sy kop uit. Dan lei hy die perd deur, maak die hek weer toe en swaai in die saal.

Geelsuiker bly om en by twaalf kilometer van hulle af op die plaas Huurkop. Milano dryf Robyn al hoe vinniger en later laat hy haar sommer les opsê. Iets voel nie reg nie.

Geelsuiker lê op die naat van sy rug onder ’n groot prosopisboom. Arms agter sy kop gevou, pyp in die mond.

Blits blaf opgewonde en Milano vryf hom tussen die ore. “Middag, oom Geelsuiker, oom moet asseblief kom. Pappa het …”

“Vir wat moor jy daardie perd so? Het jy geen genade vir die dier nie?” praat Geelsuiker toe-oë.

“Skuus, oom, maar Pappa het my gestuur. Hy sê oom moet met die bakkie kom. Hy sê dit kan nie wag nie. Seblief, oom, kom net.” Milano trap rond en klap die miere van sy bene en voete af. Hy het wraggies op ’n miernes loop staan.

Geelsuiker kom regop. Hy sien die kind is nie homself nie. “Wat gaan daar by julle aan? Het ’n waterpyp weer uitgetrek? Dis maar dié tyd van die jaar se moeilikheid. ’n Waterpyp is ’n duiwelse ding wat swel in die somer, en dit kos net ’n dors wilde ding om daar op sy laste te loop krap,” praat hy op pad na die afdakkie waar sy verbleikte blou Datsun-bakkie staan. Hy neem by voorbaat ’n stuk waterpyp en gooi dit agterop. Kyk rond vir sy draadtang en ’n stuk draad.

“Oom Geelsuiker, ek dink nie dis iets met die waters te doen nie. Ek dink dis die linge.”

“O ja, jaa.” Geelsuiker sit weer sy pyp in sy mond en gaan haal die sakkie apteekgoed wat hy vanoggend uit die dorp gebring het in die huis. “Goed jy sê daarvan. Sou dit nou staat en vergeet het. Ek ry solank,” sê hy en klim in sy bakkie.

Net voor hy wegtrek, sê hy: “En sorg dat jy Robyn eers bietjie laat afkoel voor jy weer opklim. Geen dier behoort in so ’n bloedige son daardie soort trieks uit te haal nie. Ek los die hek oop. Maak dit agter jou toe as jy deurkom. En moenie weer so jaag nie.”

Milano staan en kyk hoe die bakkie stof maak. Hy is vies omdat hy nou eers moet wag vir Robyn om af te koel. Hy wil by die huis wees. Sy pa het nie reg gelyk nie en hy wil weet wat fout is. Op en af stap hy met Robyn om haar koud te lei. Oom Geelsuiker sal weet as hy dit nie deeglik gedoen het nie.

Die hongerpyne knaag. Hy dink aan sy ma se vars bakbrood. Met dik skaapvet op, en bietjie sout en peper. Hoe lank is ’n bietjie afkoeltyd? wonder hy. Op en af, op en af stap hy. Sodra daardie krip se skaduwee aan die mierleeu se vangkraal raak, mag ek weer ry, besluit hy. Op en af, op en af.

Milano is al ’n ent deur die hek toe hy die blou bakkie sien terugkom. Hy draai terug om die hek weer te gaan oopmaak. Hulle stop. Sy pa sit voor saam met oom Geelsuiker met die linge in sy arms. Steeds toegedraai? Hulle moet baie siek wees.

“Ons ry in dorp toe, Boesman. Jy moet maar huis kry. Kyk mooi agter jou mamma tot ons terug is.”

“Reg so, Pappa. Is die linge baie siek, Pappa?”

Maar die bakkie trek alreeds weg. Sy pa se oë was nat, besef hy. Hy het mos gehuil. Hoekom? En hoekom moet hy mooi agter Mamma kyk? Sy hart begin vinniger klop en vrees kry deurkruipplek. Hy maak die hek toe en jaag die bloedige duiwel uit die perd. Dinge is nie reg nie.

*

Nadat Hennerik Milano gestuur het om vir Geelsuiker te gaan haal, stap hy met die tweeling terug huis toe. Hy kry Mieta opgekrul op die kooi in die kamer. Sy kinders raak swaar in sy arms, maar hy kan nie besluit of hy hulle wil neersit nie. As hulle uit sy arms is, is hulle van hom af – gewigloos, weg. Besluitloos staan hy in sy verdriet en gaan sit langs haar.

“Milano het vir Geelsuiker gaan haal.”

“Weet hy?”

“Nee.”

Mieta draai stadig om en sit op die rand van die kooi. Sy knik.

“Praat met my, Mieta.”

“Hennerik … Ek het die dood in hulle oë gesien breek. Hulle ís dood, nè, Hennerik?” Sy hou haar gesig toe. “Dis te swaar. Dis te swaar,” sweet die woorde in haar hande.

Hy lê die tweeling in die kot neer en kom sit langs Mieta. Vat-vat onhandig aan haar. “My Mieta, my Mieta.”

“’n Dik, vet pofadder, Hennerik. Die satan self. Ek was net in huis toe … Net gou. Hy het hulle in hulle gesigte in gepik, en op Gysie se arm. Daar het ek hom afgegryp, van sy armpie af. Here, hy het nog half vasgesit aan hom.” Mieta bulk soos ’n kalf, spoegdrade fladder uit haar mond.

Hennerik trek haar onwillige swaar lyf teen hom aan en hou haar vas. ’n Naarte kom oor hom en hy vee die sweet van sy bolip af.

“Dit het so gou geswel. Ek het Vicks aangesit. Hulle gesuig en gesoen, gesuig en gesoen. Wat kon ek anders doen? Wat kon ek doen?” snik sy die woorde uit. “Ek het niks gehad om hulle mee te help nie. Niks nie. Ek kon hulle nie help nie, Hennerik! Hier was niks waarmee ek hulle kon help nie. Dit was eers Gysie. En toe Grietjie. Alles het so stil geword toe die dood hulle kom haal het. Doodstil. Toe draai ek hulle gesiggies toe. Ek wou nie meer sien nie. Dit was ons laastes, Hennerik. My skoot is leeg,” kerm sy in Hennerik se nek. Haar warm asem skroei die woorde in hom in.

Hy bly sit daar by haar tot hy Geelsuiker se bakkie hoor aankom.

*

Dit is vir Geelsuiker duidelik dat daar nie met die skaap of water fout is nie. Die manier waarop Hennerik en Mieta in die deur staan; Hennerik wat nie na hom toe aangestap kom nie, net staan. Die stille heiligheid van die dood is alomteenwoordig.

Nadat die nuus gebreek en sy voorgevoelte bevestig is, stap Geelsuiker na die karee op soek na die slang. Hy ril toe hy die dik adder aan sy stert optel en veldin stap om dit vir die wilde diere en voëls van die veld te gaan gooi.

“Voertsek!” skel hy vir Riem, wat instinktief agter die gooi aanhardloop.

Sonder woorde staan Geelsuiker oor die vlak en uitkyk. Die Kaliempies is vir hom soos eie familie. Eens was hy ook ’n man met ’n vrou en kinders. Maar die lewe het hom nie na ’n huis en rustigheid aangekeer nie, eerder soos ’n tor op sy rug gelos. Toe word hy maar weer jakkalsjagter. ’n Alleenloper.

“Ons sal moet dorp toe met die tweetjies,” praat hy versigtig waar Mieta en Hennerik nou op die stoepkooi sit. “Die hitte is nie goed vir dié soort ding nie.”

Dankbaar dat iemand die leiding neem, aanvaar hulle die voorstel en Hennerik staan op om die tweeling in die kamer te gaan haal. Geelsuiker wil amper nie kyk nie. Dis te aardig om die twee lykies so in sy vriend se arms te sien. Mieta bring ’n bottel water vir die pad, en toe hulle wegry, gaan sy binnetoe. Gaan krul haar op die bed in die kamer op.

*

Die klippers spat soos Milano tot stilstand kom op die werf. Hy druk Robyn net so opgesaal by die huiskamp se hekkie in en hardloop huis toe.

Mieta het die hoewegedonder hoor aankom en opgestaan om hom by die kombuistafel in te wag.

“Mamma!” roep hy al van buite af. “Mamma!” Hy bars by die kombuis in. Toe hy haar sien, hou sy kindwees nie meer terug nie. “Wat gaan aan, Mamma? Waarheen ry Pappa met die linge?” vra hy heeltemal verwilderd. “Wat is dit, Mamma?” Hy begin huil.

“Kom hier, my Boesman, kom hier.” Sy maak haar arms wyd oop sodat hy in haar sagte veiligheid kan inloop. Sy vou hom toe. “’n Pofadder het hulle gepik.”

Vir baie lank sit hulle mekaar so en sus. Sy fluister af en toe trooswoorde, en voel hoe Milano se warm asem bedompig teen haar vassweet.

Uiteindelik sê Milano: “Ek is baie honger, Mamma.”

*

“Die arme kind weet nog niks. Jaag nog net heeldag met die perd op en af,” sê Hennerik afgetrokke.

“Wie gaan hom sê?” vra Geelsuiker toe hy die teerpad vat.

“Mieta is maar beter met dié soort van ding.” Hennerik staar voor hom uit. “Hoe is dit dan moontlik, Geelsuiker? Hoe is dit moontlik dat al twee …?” begin hy dan. Hy soek ’n voetpad deur die onwerklikheid. “Ek sou nie wou kies nie, maar al twee!” Sy stem breek soos ’n jong seun s’n. “Waar hoor jy van ’n adder wat so pik? Sê jy dit nou vir my. Waar? Was daar ’n soort onheil op die werf dat ons so uitgelê moet word? Het ons dan van onverskilligheid gelewe?”

“Daar is niks onheilig aan dié soort ding nie. ’n Adder is net ’n adderlike ding. Vieslik lui van gearendheid. Ekselwers het op ’n dag met my eige twee oë gesien hoe hy byna al die nuwe hondjies gaan staat en doodpik het. Lui vreksel. Hou mos aan pik. Te bang of te lui om te weg, ek weetie. Die goedjies het een ná die ander onnooslik gaan staat en nader ruik uit nuuskierigheid, en die satansmaaksel het hulle almal op ’n ry laat vrek. Kyk, al loop jy ’n reguit spoor, moeilikheid sal altyd deurkruipplek kry en dan kom kwyl hy daar rond op jou werf. Jy kan niks maak nie. Moet maar net deur daardie donkerte en weer spoor vat anderkant uit,” praat Geelsuiker oë-op-die-pad.

’n Warm wind skroei dwarsdeur die bakkie se kajuit en die broeiende hitte van sy twee dooie kinders lê Hennerik se arms lam. In die middagson kook die teer plek-plek blinkswart uit die pad. Versamelvoëlneste hang aan telefoonpale. Kraaie aas iets op die pad. ’n Troppie springbokkies bewe in ’n lugspieëling bokant die veld. Hy kyk net uit. Ver uit. Want om af te kyk, is om twee papies in sy arms te sien.

“Mieta sê die pik was in hulle gesigte in,” praat hy weer ná ’n lang stilte. “Sy’t my laat beloof om hulle nie oop te draai nie.”

“Miskien maar beter so, Hennerik. Laat ons hulle dan maar oor hulle mooigeit onthou.”

Vir ’n ruk ry hulle langs die goederetrein. Hennerik tel agt-en-dertig trokke.

“Jy moet jou nie bekommer oor die waters se nary nie. Ek sal instaan met die bakkie tot tyd en wyl. Baas Human het begin Desember twee dromme diesel gegee vir enige gebeurlikheid. Jy moet maar by Mieta wees.”

Die dorp kom te gou. Hennerik voel om net aan te hou ry asof niks gebeur het nie. Asof hulle net by vriende op besoek gaan. Of gaan groceries koop, of sommer net êrens heen ry, nie na ’n koue lykshuis nie – ’n plek waar hy sy kinders moet afgee sonder om te kon groet.

’n Vrydagagtermiddag kan woelig raak op die dorp. Almal wil laaste goedjies koop vir naweek-hou. Die polisiekantoor is op die hoek van Kerk- en Eeufeesstraat. Hulle moet eers daar aanry sodat die wet weet dis nie moord nie. Daarna ry hulle na die hospitaal toe sodat die dokter die doodspapiere kan uitskryf. Hennerik gaan sit onder ’n boom en wag. Die hospitaalreuk het ’n naarheid in hom laat opstoot. Hy moes net uit.

Teen amper sononder is die doodspapiere geteken. Eerbiedig kyk Hennerik daarna en dit ontroer Geelsuiker so dat hy anderpad moet kyk.

*

Geelsuiker het drie dae daarna vroegoggend ingery om die sendingpredikant, dominee Koorts, en die kissie op die dorp te gaan haal. Mieta en Hennerik het versoek dat die tweetjies saam moet lê, want so het hulle die wêreld ingekom. Blou Willem, ant Truia en antie Tries het ook opgeklim. Die Kaliempies het by die eienaar van die plaas, Ben Human, toestemming gekry om die tweeling onder die kameeldorings ’n ent van die huis af te kan begrawe.

Die groepie roubeklaers staan onder die kameeldoringboom, hoofde geboë. Dominee Koorts se woorde hang swaar in die drukkende hitte. “Net soos die grond en stof die Karoo vol lê, is onse Here ook oralster. Hy lê wyd uit oor onse pad. Ons loop op Hom en ons snuif Hom elke dag in onse binnestes op. Ja, Hy is waarlik oralster! Soms is Hy die klomp blare wat jy net by jou huis wil uitvee. Jy wil Hom nie nou daar gehê het nie, maar Hy kom teruggewaai, want die wind is sy vriend. Ons is nie gemaak om Hom te verstaan nie. Ons is daar om Hom te eerbiedig. Hy is dáár vir ons, en vir die diere, en vir die plante ook. Alles lê binne-in sy hande. Hy praat nie groot oor Homself nie, Hy wil net eerlik hê ons moet dit vir Hom doen. Laat ons dan nederig bly, Here God, en nie opstandig raak nie. Ja, nederig, Here God, soos die grond waarop ons elke dag trap. God is áltyd met ons. Wie is ons om Hom te bevraagteken? Hy sal gee, en Hy sal ook wegneem. Kom ons sluit die oë.”

Die kissie sak stadig af in die gat wat Hennerik self gegrawe het. Hy het twee dae terug begin om sy verlies in die son en sand en klip uit sy lyf te kap en te grawe. Gysie en Grietjie lê saam. Bymekaar, soos hulle in die lewe ingekom het.

Dominee Koorts sê amen en die groepie loop na Mieta se kookskerm toe, waar sy reg is met die tee. Nadat genoeg tyd verloop het, kom groet Geelsuiker. Hennerik sien hoe sy adamsappel moeisaam op en af beweeg soos hy die knop in sy keel wegsluk.

“Dan groet ek maar eers sodat ek Dominee en die dorpspan weer op die dorp kan kry,” sê Geelsuiker, met sy hand op Milano se kop.

Daarna val hulle bure, die Goeiemans, ook in die pad. ’n Verlepte stilte kom hang tussen Hennerik, Mieta en Milano. Van nie weet wat om te doen nie, dra Hennerik en Milano die groot kooi terug slaapkamer toe en kom maak die houtdeurbed staan op die stoep. Hulle sit net. Die dag se woorde is opgepraat.

Mieta het ’n ent veldin gestap. Toe hulle haar ’n hol klank hoor losroep, gaan lê Milano op die kooi in die slaapkamer en druk die kussing oor sy kop.

Die kinders van Spookwerwe

Подняться наверх