Читать книгу Die kinders van Spookwerwe - Lize Albertyn-du Toit - Страница 6
2
ОглавлениеDie dood is ’n losloperding. Hy stap saam met jou op die werf, kyk vir jou met dowwe oë terug in die spieëltjie. Hy maak mense in die dorp nuuskierig. Saans klim hy met sy koue pote saam met jou in die kooi en kom steel jou slaap. Hy laat jou heelnag lank wakker lê.
Die Kaliempies moes nuwe voetpaadjies begin uittrap so tussen die verliesplekke en brakkolle deur.
Mieta was nog altyd ’n sterk vrou. Sy het haar nog nooit laat onderkry deur moeilike tye nie, maar hierdie ding slaan hard. Harder as rondtrek in droogtes op soek na werk, harder as die slag toe sy haar suster uit haar eie versorging moes oorgee aan die bittere lyding van gangreen. Hierdie ding sal sy ook kan deurwerk, dit weet sy, maar op haar tyd, op haar manier, in haar binneste. Buiteom sal sy aangaan, want niks staan mos ooit stil nie. Nie ’n huishouding, ’n hoenderhok, ’n groentetuin of ’n melkkoei nie. Dinge gaan aan, en tussendeur moet jy die dorings uit jou pad vee. Dié wat insteek, moet jy uitwerk, anders sweer dit.
Die hartseer laat Mieta met ’n drif werk. Sy tilt die hele huis asof dit lentetyd is. Alles word uitgedra. Die houtgoed word met Cobra ingesmeer en opgevryf, die binnemure word afgewas. Soggens vroeg begin sy die kooigoed uitwas voor die son haar vaspen. En as die dag te warm raak, vat sy haar stoel en gaan sit aan die skadukant van die huis vir bietjie lafenis, met ’n nat waslap op haar kop. Vir die kareeboom se koelte sien sy nie kans nie.
Hennerik kan ook nie so lank by die huis sit nie. Nadat hy Mieta met die uit en in van die meubels gehelp het, raak hy kriewelrig. Loswerkies is daar wel, maar dit is eintlik sy winterwerk. Tog is dit iets wat die tyd omkry, en hy en Milano gaan al die saals, tooms en teuels na. Hy sê Milano aan om dit met Dubbin in te vryf. Hy maak die perde se hoewe skoon, beslaan hulle, trek die draadheining om die werf stywer, en vroegoggend skoffel hy duwweltjies.
*
Nuwejaar het sonder seremonie gekom en gegaan.
Nie lank nie, of die werflopery laat Hennerik eerder afkyk as vorentoe. Toe Geelsuiker weer met sy bakkie omkom vir die waters, wag Hennerik hom by die hek in.
Milano kom hoopvol aangehardloop met Riem op sy hakke. “Ek sal agterop ry vir hekke oopmaak!”
“Ons twee sal regkom, Boesman. Bly jy maar eers vandag nog by Mamma,” keer Hennerik. Hy wil hê iemand moet maar nog in die omte wees vir Mieta se part. Tog, hy voel vir die kind. Dit kan ook nie vir hom maklik wees nie, en die laaste dae was daar min woorde vir hom.
Milano wil wegkom van die werf. Vies loop hy en klipskop. Gaan klim dan die windpomp uit tot heel bo. Dis ’n lekker plek. ’n Windpomp se hoogte laat hom belangrik voel. Hy kan dinge daar van bo af sien wat ander nie kan nie. Oom Geelsuiker se werf, Niklaas-hulle s’n ook, die trein as hy nog doer anderkant is. En die blou bakkie wat nou wegry en hom nie wou oplaai nie.
Hy het ook agtergekom mense kyk nie graag boontoe nie. As jy lank genoeg daar bo bly, gaan die lewe daar onder aan en vergeet hulle van jou. Net Riem verraai hom somtyds deur aanhoudend boontoe te kyk of onder die windpomp te loop lê en wag. As Milano die dag lus voel vir regtig alleenwees en dophou, loop soek hy ’n kouding en gaan gee dit vir Riem agter die huis. Dan hardloop hy vinnig terug windpomp toe. Vandag was nie ’n probleem nie, want Riem het ’n ent agter die bakkie aangehol.
Milano is skaamvies oor die tweeling se dood. Hy weet hy moet hartseer voel, maar dit wil nie kom soos vir sy ma en pa, of vir oom Geelsuiker nie. Sy pa het baie stil geword en sy ma net te ongedurig. Die stiltes in die kookskerm vat sy honger weg. Selfs wanneer oom Geelsuiker by hulle vuurtjie kom staan, sit almal net en kyk voor hulle uit.
Gysie en Grietjie is nou amper drie weke in die grond. Hulle name val alreeds soos vreemdelinge in sy kop, asof hulle al langer weg is. Hy probeer onthou hoe hulle gelyk het. Net sy ma het hulle uitgeken as hulle in hulle spierwit doeke gelê het. Sy het daarvan gehou om vir hom en sy pa uit te daag om te probeer sien wie is wie. Dit was maar altyd ’n geraaiery. Net sy het geweet. Dan het sy om Gysie se armpie ’n blou wolletjie gebind en om Grietjie s’n ’n pienketjie. Spesiaal die blou en pienk wol op die dorp gaan koop daarvoor.
Hy wonder wat van sy ma se melk word. Nou die dag het hy gesien hoe stap sy veldin. Sy het daar in die koelte van die witgatboom gestaan, haar bloes tot onder haar ken opgelig. Haar groot pramme het kaal gehang en sy’t hulle so met haar plat hande begin afvrywe, afvrywe. Hy weet sy het gehuil.
As die kalf nie by die melkkoei was nie, staan haar spene baie dik. Streepmuis moet elke dag gemelk word, anders raak sy seer, en siek. Dis al die dinge wat die windpompsit hom laat sien. Hy het ook sy pa gesien sit. Net sit en sit, daar waar hy dink niemand hom sien nie. Hy het gehuil ook. Ook gedink niemand sien hom nie.
Om in die kameeldoring te klim, en die karee, is ook lekker. Dan sien hy weer ander dinge raak. Onder die kameeldoringboom is daar baie uildrolle. Hy kan ook baie naby die versamelvoëlneste gaan sit. Die voëltjies raak hom gou gewoond.
Eendag sien hy hoe ’n geelslang kom versamelvoëlkuikens vang. Hy het hom so vrekgeskrik dat hy net lam kon sit. Ná daardie dag het hy geweet ’n slang kan nie ’n mens se hart hoor klop nie. As jy stilsit, doodstil, dan weet hy nie van jou nie. Gysie en Grietjie moes net doodstil gesit het, dan het hulle niks oorgekom van daai slang nie.
Maar dit voel nie reg om nou meer in daardie bome te klim nie. Die een het grafte onder hom en die ander een slange. Oom Geelsuiker sê ’n pofadder wag jou in en hy sorg dat hy soos die sand en klip lyk. Jy sien hom nie sommer nie. Die windpompsit is beter. Hoër, wegger, stiller.
Hennerik en Geelsuiker ry die kampe na en teen tienuur is hulle weer terug op die werf. Hennerik voel skuldig teenoor die kind. Daardie namiddag, nadat die ergste hitte ’n bietjie bedaar het, ry hy en Milano uit met die perde. Daar is ’n vars erdvarkgat wat hy en Geelsuiker die oggend gesien het. Dalk sien hulle die erdvark teen skemeraand. Die kind is tog so lief vir die veld se dinge. Hennerik weet dit sal sy gemoed lig.
Hulle ry bekende paadjies. Die rustige eentonigheid wieg elkeen in sy saal met sy eie gedagtes. ’n Korhaan wat digby hulle krê-krê opvlieg en maag skoonmaak, breek die stilte. Dit laat hulle lag.
“Ek het dikkopkuikens gesien, Pappa. Hulle is seker nou al baie groter. Dink Pappa hulle sal nog daar wees? Dis naby Grootboom se kamp.”
“Kom ons gaan kyk,” sê Hennerik en hulle draai die stange in die kamp se rigting.
*
Milano dwaal rond met Riem al op sy hakke. Mieta het aangedring dat die hond saam met hom moet gaan waar hy ook al loop.
“Pappa, ek wil nie hê Riem moet so heeltyd by my wees nie. Hy jaag net die goeters weg en trap die spore dood.”
“Doen dit maar vir Mamma se part. Die skrik sit nog vlak in haar lyf. Onthou, jy is nou haar enigste én haar droëprampie,” is die antwoord wat hy verwag het.
Milano is baie bly toe Mieta hom die Dinsdag vroegoggend wakker maak vir skool. Skool is lekker. Laas jaar het hy die leeshoekie mooi reggepak om plek te maak vir al die nuwe leesboeke. ’n Witvrou van die dorp het vir die skool ’n klomp ou boeke gegee. Hy weet watter boek hy eerste gaan lees: Klaasneus-hulle. Juffrou Meintjies het gesê die hele boek gaan oor diere van die veld. Dan is daar ook ’n boek oor ’n Boesman: Agarob, kind van die duine. Sy pa sê oom Geelsuiker is ’n halwe Boesman, dis hoekom hy so slim is met die veld se dinge. En toe wou Juffrou hom mos uitvang met ’n ander boek se naam. Sy het gesê as hy die boek se naam kan lees, sal sy vir hom ’n sucker gee. ’n Rooie met bubblegum in die middel.
Juffrou het net een leidraad gegee: “Daar is ’n voëlnaam in die woord.”
Dit was baie moeilik. Dit was alles uitvangklanke, maar toe sien hy dit. “Uileier!” En daar het hy sy sucker.
Vanjaar begin hy met standerd drie. Maartmaand word hy twaalf jaar oud. Sy hand se vingers is almal afgetel en hy kan al sy tweede toon op sy regtervoet bytel. Niklaas sê hy is al ’n tiener, maar juffrou Meintjies sê jy is eers ’n tiener as jy dertien is, en hy glo eerder vir juffrou Meintjies. Niklaas hou hom partykeers tog te slim net omdat hy twee jaar ouer is. Milano is ook vies dat hy ’n jaar later skool toe is, anders was hy nou al saam met Niklaas in standerd vier, want Niklaas het verlede jaar gedop.
Terwyl Milano sy boermeelpap eet, maak Hennerik seker die fietswiele is styfgepomp en sit solank Milano se boeksak in die koeldrankkrat agterop die fiets. Hy vat Milano padlangs met die fiets. Dis so tien kilometer tot by Niklaas-hulle se werf. Van daar vat die troppie kinders ’n kortpad deur die veld skool toe. Hy weet Milano is nou al groot genoeg om self te ry, maar hy hou vas aan die gewoonte. Die soontoe is ’n vinnige afdraande pad, maar middae sal ’n man sukkel om die luibult uit te kom. Veral daar waar die sanderigheid dikker lê. Dis vir Milano vinniger om te voet kortpad deur die kampe te vat terug huis toe ná skool.
“As ek die dag twaalf is, wil ek self skool toe ry, Pappa,” sê hy toe hy op die dwarspyp wip.
“Ek sal eers weer moet seker maak jy weet hoe om ’n band te lap,” terg Hennerik.
“Aag, ek kan al lankal, Pappa. Pappa, Niklaas sê hulle was see toe oor die Groot Dae.”
“Dis sommer ’n lieg daai,” lag Hennerik gemoedelik. “Die Goeiemans gaan nooit nêrens nie, behalwe soms na die familie op Upington. Hulle is K’roo-mense soos ons. Bly maar by hulle eie gate rond.”
“Maar hy het gesê daar was baie, baie water waarin ’n man sal kan verdrink.”
“Dis die rivier wat hy van praat. Die Oranjerivier. Hy loop mos ook hier by ons wêreld verby.”
“Was Pappa al daar?”
“Waar?”
“Waar Niklaas was.”
“Ek het jou ma daar naby loop kry.”
“So Ma ken ook die see?”
“’n Rivier, Boesman, dis ’n rivier.”
Hennerik tel spoed op teen die afdraand en die gesels is vir eers verby.
Laatmiddag staan Hennerik op sy werf en hou die termiete se werksaamhede dop. Eintlik kyk hy al die laaste paar dae aandagtig vir hulle. Bou vreeslik nes buite om, maar dra nie die grassies binne die gat in nie. Dis hulle manier om te sê hier kom wind. En wind is goed, enige wind. Solank die veld nie stilstaan nie, sal die reent op sy tyd kom.
“Hennerik, jy sal onthou om van Oerson te loop vra? Streepmuis het mos al lank voor Krismis gekalf en sy kan weer bul kry. Oerson is baie beter vir haar. Hy gooi immers hanteerbare kalwers, al is hy so beneuk. Foeitog, daardie laaste kalf van Ratelpan se bul het Streepmuis amper laat loop vrek. Hy suig haar in elk geval ook sommer verlep uit. Dit sal nie deug om weer so ’n kalf te maak nie.”
“Ek sal so maak, Mieta. Het jy jou lysie vir die dorp? Ons gaan môre sommer nadat ons klaar gepraat het in dorp toe.”
Mieta gaan sit by die kombuistafel en skryf haar lysie af. Dit help altyd as Geelsuiker so ontydig dorp toe gaan. Maandeind sal sy die hamper en ander grootgoed koop.
meel | Miziena |
suiker | breigoed |
braai spaaises | Jamaaika gemmer |
Cool Aid | roesynkies |
Kloof | potlode |
twak | Borstol |
snuif (mentol) | blyds |
Disprins | asyn |
Nadat sy die lysie uitgeskryf het, stuur sy vir Milano om ’n eier te gaan soek. Sy kap ’n ui fyn en sny ’n blikkie tamatievis oop, roer dit bymekaar en gooi ’n groot lepel bruismeel by. Toe wag sy vir Milano om die eier te bring.
“Mamma, die bont hen het begin broei daar onner die bos in. Ek het haar opgelig, daar’s nege eiers onner haar.”
“Nou hoop ek nie jy het van haar eiers loop vat nie?”
“Net een.”
“Maar my sône! Jy kan mos nie daar loop vat nie. Die goed is klaar deurgelê. Gaan sit terug en loop soek ’n anner eier.”
Milano weet ’n paar henne lê so al om die ander dag in die hoenderhok, maar hy hou net mooi niks daarvan om daar in te gaan nie. Dit raak egter al sterk skemer en hy sal maar net moet. Eers stap hy om die hok en loer agter by die sinkplaatgleuwe deur om te sien of daar ’n eier lê, en tot sy spyt sien hy twee. Toe hy in die hok inkruip, voel hy sommer hoe die luise op hom klim. Laas keer het hy nie geweet wat met hom aangaan toe hy so begin jeuk het nie, maar nou weet hy. Hierdie keer gaan hy nie in die hok talm en al die ander neste bekyk en nog ’n hoender ook oplig om te sien wat onder haar aangaan nie.
Hy mik direk vir die nes met twee eiers en kan nie gou genoeg weer uit die hok kom nie. Vies kom hy met die twee eiers by Mieta aan. Sit hulle op die tafel neer en stap dadelik na die buitekraan met die koekie Sunlight.
“En nou dat jy jou so vreeslik was?” vra Hennerik so van die stoep af.
“Pappa, die hoenders het luis! Hulle kruip op my. Kan ons nie maar die hok uitbrand nie? Ek wil nie weer daar in nie.”
Hennerik bedink eintlik ook nou al ’n paar weke die ding, maar hy speel vir tyd. Die henne lê nie op die oomblik te sleg nie. As hy nou uitbrand, ontstel hy hulle uit hulle lêery. Van volgende maand af sal hulle in elk geval begin verveer en sommer vanself minder lê. Maar hy reken die kind het ’n punt. Die luis ís erg vanjaar.
Toe die olie warm is, bak Mieta tydsaam die viskoekies. Milano kom sit skoongewas met sy storieboek by die kombuistafel. Trek die paraffienlampie nader en lees hardop voor: “Porkie se kampie was binne-in ’n groter kamp – die bergskilpaaie se kamp. Daarin het ’n wil-depies … wil-de-pies-ang … wildepiesangbos gestaan en twee groot bome … Hoe lyk ’n wildepiesangbos, Mamma?”
“Hoe sal ek dit nou weet? Piesangs koop ons mos maar in die winkel. Ek ken net van ’n turksvybos. Lees verder, ek wil hoor.”
*
Douvoordag die volgende oggend is Hennerik te perd oor na Geelsuiker om die moontlikheid van die bulletjie te bespreek. Milano ry saam met Hennerik in die saal tot by die woonhuis. Van daar af kan hy self oorry na die Goeiemans, waar Robyn in die huiskampie kan wag tot die skool weer uitkom. Milano kan nie wag om vanmiddag met die perd terug huis toe te ry nie.
“Kan ek en Niklaas nie saam in die saal ry tot by die skool nie, Pappa? Daar is ook ’n staankampie met water en als by die skool vir Robyn.”
“Maar dit sal mos nou nie deug met Rensie en Boetie-hulle saam nie. Hoe kom die twee kleintjies dan nou by die skool as julle met die perd staat en ry? Onthou, Rensie het maar dié jaar beginne met skool. Julle moet agter haar kyk, veral smiddags wanneer die son sy hitte neergooi.”
Hulle kom net voor ses by Geelsuiker se huis aan. Milano ry dadelik verder, want as hy vroeg by Niklaas is, kan hulle nog ’n rondte alies speel. Hy wil hoeka sy mooi milkies van laas terugwen, en dan het Niklaas gister ’n mooie van Arrie gevat. Dalk is die wen aan sy kant en rob hy hóm ook nog vanoggend.
Elke Woensdagoggend gaan Geelsuiker na die groot plaashuis sodat Ben Human hom uit die Kaap kan bel om die boerdery te bespreek. Dit kom nou al jare so aan. Ben Human het voor Geelsuiker grootgeword, maar ná skool het hy gaan studeer en hom in die stad gevestig. Sy ouers het Huurkop aan die buurman verhuur en by die see gaan aftree. Geelsuiker word toe weer voltyds jakkalsjagter en swerf rond van plaas tot plaas. Dis eers die laaste nege jaar dat Ben weer die leisels op Huurkop kom oorvat het. Vir Geelsuiker het hy opgespoor waar hy sit en wegkwyn het in die lokasie. Vier jaar gelede kom die buurplaas Spookwerwe in die mark, en Ben koop. Met die ekstra grond het die Kaliempies plaas toe gekom.
Geelsuiker en Hennerik stap rustig oor na die woonhuis. Geelsuiker draai die sinkdam se stopkraan oop en vat die graaf om die vrugtebome nat te lei. Hy hoor hoe die windpomp skwiek vir ghries. Die ooreenkoms met Ben Human is dat hulle vrylik van die vrugte kan pluk as hulle die bome versorg en aan die lewe hou. Die heerlike soet kalkwater gee suikersoet lemoene en nartjies in die wintermaande, kwepers en granate Aprilmaand, vye in die somer, en deur die jaar is daar altyd een of ander groentetjie wat versorg word.
Die water kom eers stadig in die leivoortjie aangekruip, maar kry gou sy loop. Geelsuiker hou die watervlak fyn dop en gooi net betyds ’n keerwalletjie, herlei die water in die volgende voortjie af en laat dit weer opdam.
Hennerik haal ’n paar knoffelhuisies uit sy broeksak en druk hulle sommer so op ’n natgeleide plekkie in die grond. Hulle het by die huis begin uitloop en Mieta is tog te erg vir die uitjies. Smaaklik so saam met ’n vleiskossie. Hennerik staan en rol vir hom ’n zol. Trek so hier en daar ’n onkruidjie uit terwyl hy rook.
Hulle wag vir die sentrale se luitoon: drie kortes en een lange. Ben het die slingerfoon buite op die stoep in ’n staalboks staangemaak sodat die huis nie elke keer oopgesluit hoef te word nie. Die afgespreekte tyd is sesuur soggens in die somer en wintertyd halfagt.
Mieta kom so een keer in ’n maand om die huis binne af te stof, geitjiemis teen die mure af te was en die stoepe te vee. Augustusmaande, as die stofstorms verbykom, kom sy maar meer gereeld. En as lentetyd kom, is dit weer die swaels wat so kan kom mors op die stoep.
Toe die telefoon lui, gee Geelsuiker vir Hennerik die graaf en drafstap stoep toe.
“Môre, baas. Nee, die dinge is nog reg hier …
“Ja, baas, die gustrop kry goed lyf. Hulle vreet nou tog te gulsig aan die gannabosse …
“Ja, baas, die veld hou nog goed …
“Reg so, ek sal so maak.
“Baas, daar is nog so ietsie te bespreek. Streepmuis het al November haar kalf gegooi. Sy kan weer bul vat. Maar daardie vorige kalf van Ratelpan se bul is darem te vreeslik groot. Mieta het nou gemeen of ons nie maar weer vir Oerson aan Streepmuis kan voorstel nie? …
“Nee, maar baie dankie, baas …
“Reg so, ons sal mooi agter die skape kyk, en ek sal vir Mieta sê baas-hulle kom oor die Paasnaweek. Sy sal die huis mooi maak voor die tyd …
“Nou ma reg so, baas. Totsiens, baas.”
Geelsuiker haak die gehoorbuis terug op sy plek, maak die telefoonboks weer toe en stop sy pyp. Steek hom aan en suig-suig tot die twak krag vat. Hy vat die blikkie ghries wat in die hoek staan. Toe hy terugkom, is Hennerik net besig om die laaste leivoortjie te laat volloop.
“Ons kan maar vir Oerson stadig inbring,” sê Geelsuiker en draai die windpompbriek vas.
Terwyl hy die windpomp uitklim, praat hy ondertoe: “Oerson se troppie bees vreet nou in die onderste kamp van Spookwerwe, daar in die rivierloop in. Dit neuk om hulle daar uitgejaag te kry met die koeie en kallertjies saam. Hulle kruip alte graag vir ’n man weg tussen die doringbosse, en daardie jersey-bulletjie het ’n beneuktgeit op hom.”
Toe hy bo kom, waai daar ’n flukse windjie.
“Dan sal dit goed wees as Milano ons kan kom help aanja,” meen Hennerik so van onder af.
“Hoesê?”
“Ek sê, Milano sal ons moet help aanja.”
“Maar die kind is dan innie skool.”
“Ons kan hom mos Vrydag ná skool gaan oplaai en uitry na die bees. As hy ons net kan help om die bees uit die droë rivier se doringbome te kry, sal ons rustig met hulle terugstap.”
“Die wind.” Geelsuiker beduie na sy ore dat hy nie mooi kan hoor in die windjie nie. Hy draai die proppie bo by die kop af en druk vinger vir vinger die ghries daarin. Skraap die oortollige ghries aan sy vinger teen een van die windpompskeppers af, draai die proppie weer op en begin afklim.
“Hoe’t jy nou weer gesê van die kind?” vra hy toe hy onder is, en vee sy vinger uit gewoonte verder skoon teen sy broek.
“Ek sê, ons kan Milano Vrydag by die skool gaan oplaai en dan sommer uitry na die bees. Hy moet ons net help om hulle uit die doringbosse te kry, dan sal ons alleen verder met hulle aankom huis toe.”
“Dis reg, ja, maar my gevoelte is ons sal meer aanjaers benodig. Niklaas kan mos ook help. Dan is ons al vier man sterk,” suigpraat Geelsuiker deur sy pyp. Hy maak weer die windpompbriek los en die skeppers begin egalig woer in die wind.
“Ons keer vir Oerson Saterdagoggend af, dan kan Milano en Niklaas help om die troppie bees met die perde in te bring,” maak Hennerik die finale reëlings vas.
In sy skik staan Geelsuiker die windpomp en kyk. “Hierdie wind gaan die dam sommer nou vol hê. Het jy die miere opgemerk? Hulle is darem altemit bedrywig. Maar hulle sê vir ons net van wind.”
“Die miere praat nou weliswaar net van wind, ja, maar ek sien die losloperwolkies deesdae. Die veld is nie stil nie. Hier’s reent op pad.” Hennerik trek ’n diep teug aan sy zol, stoot die rook stadig deur sy neus uit en skiet die entjie weg.
Saam stap hulle terug om die blikkie ghries te bêre en vat dan koers na Geelsuiker se huis.
“As die reent goed kom, dan maak ons twee van Spookwerwe se kampe vanjaar spaarveldkampe,” sê Geelsuiker. “Ek het dit so met die baas bespreek. As daardie kampe gelos word, sal die gras goed ryp kan word en lekker saadskiet. Hoe lyk Huurkop se veld vir jou?”
“Put se kamp staan nog vol gannabos, en laer af in die springbokkamp staan nog so bietjie gras,” praat Hennerik soos hy terugdink hoe hy en Milano onlangs gery het om lyndrade te kyk. “Ons kan die veld daar bietjie swaarder laai. Eenders so met Vlekberg se veld ook. Hy sal ook kan skaap vat as ek nou my gedagtes agtermekaar het, maar dan sal die reent moet kom.”
By die huis laai Geelsuiker die leë dieseldrom op die bakkie en hulle kry koers dorp toe. Hennerik kyk terug in sy kantspieëltjie en sien die stofstreep sleep laag agter die bakkie aan; dit dwarrel nie hoog uit soos gewoonlik nie. Daar is vog in die lug. Sy vermoede dat reën broei, word bevestig toe hy die swaeltjies in die pad sien sit, eerder as op die telefoondrade.
*
Vyf dae later is dit toe ook so. Die wolke begin die Maandagoggend bymekaarkom met ’n vlies wat onderdeur sprei. Spierwit kolomme vorm, maar later word dit ’n dik bank kobaltblou donderwolke wat ’n skaduwee oor die vlaktes gooi. Ook maar goed hulle het Saterdag vir Oerson uit die rivierloop gekry. As die rivier eers afkom en gesak het, is dit net ’n moddergetrap.
Net ná tweede pouse val die eerste vet druppels, en kort daarna keer die hemele emmers uit. Die gedruis is so oorweldigend op die sinkdak dat onderrig onmoontlik is. Die kinders gaan staan op die stoepie en steek hulle arms onder die sinkdakkie uit. Kort voor lank stamp een kind ’n ander een van die stoepie af.
’n Blits weerlig skrik die kinders tot stilte, en toe ruk die donderslag die aarde. Gillend vlug die spul kinders terug klaskamer toe. ’n Paar meisiekinders begin huil en juffrou Meintjies het haar hande vol om almal weer te laat bedaar.
Milano het hom buite weste geskrik en staan doodstil in die leeshoekie. Hy sien hoe soek Niklaas na Boetie en wil net bekommerd raak, toe Juffrou hom onder die tafel kry. Die hael klater op die sinkdak.
“Kyk die wit balle, julle! Dis so groot soos ghoens!”
“Gaan haal een, toe.”
“Is jy mal! Dit sal ’n man seer slat.”
Voor juffrou Meintjies kan keer, hardloop Arrie dapper uit en kom terug met die huil vlak in sy oë. Maar die bewondering van sy maats is genoeg troos toe hy die haelkorrels wys.
“Eet dit, Arrie. Eet dit,” sê Klaas en vat sommer een vir homself ook.
Maria gil toe ’n haelkorrel teen haar rug afgly. Die seuns vind dit baie vermaaklik en begin mekaar rondjaag in die klaskamer. Banke en stoele word wild rondgestamp.
Milano staan in die leeshoekie en bekyk die spul toe ’n waterdruppel op hom drup. Hy kyk op. Die dak lek. Daar lê alreeds ’n nat kol op die mat. Hy sien nog ’n lekplek wat op die rand van die boekrak drup en die boeke natspat.
“Dis nou genoeg! Almal uit op die stoep! Uit!” Met die bordliniaal werk juffrou Meintjies die spulletjie uit.
Milano is laaste om by die deur uit te gaan. “Juffrou. Juffrou …” probeer hy, maar ’n kind hardloop in hom vas.
“Milano, Niklaas, Klaas. Kom, Arrie, jy ook sommer. Gaan skuif die banke en stoele weer op hulle plekke.”
“Juffrou, die dak lek. Op die mat en op die boeke,” kry Milano eindelik sy kans.
Juffrou Meintjies loer by die klaskamer in asof sy moet seker maak. “Kry die tafel daar weg, Milano, en sit die snippermandjie onder die ergste lekplek. Niklaas, gaan gooi die sandemmer uit en sit dit onder die ander lekplek. Rensie, Tillie, kom tel die goed op wat hier op die vloer geval het.”
“Ons wil ook inkom. Dis koud hier buite. En ek is bang hy slat weer soos netnou, Juffrou,” kerm Maria.
“Hou net op!” kom dit van Kapokkie. “Kan jy nie sien Juffrou is kla kwaad nie?”
Soos die reënbui bedaar, bedaar die kinders ook uiteindelik. Heel bedees stap hulle in en gaan sit op hulle plekke.
Milano steek sy hand op. “Juffrou, Juffrou kan mos nou vir ons die storie verder lees?” Juffrou Meintjies kyk op haar horlosie en sien daar is maar bietjie meer as ’n halfuur van die skooldag oor. Sy knik.
Milano bring vir haar die boek. “Agarob, kind van die duine,” lees hy hardop en soek met sy vinger waar die boekmerk is. Van die kinders gaan lê op hulle arms, ander sit ken in die hande.
“Nou goed. Wie kan onthou waar ons laas opgehou lees het?”
“Dis van die Boesman, Juffrou, Agarob. Hy het ’n boer se bees geskiet, omdat hy gedink het dit was, uhm …” Kapokkie sweep haar voorvingertjie dat die antwoord moet kom. “Uhm, so ’n anner soort bok …”
“’n Elandbok!” roep Niklaas uit.
“Ja, dit was ’n elandbok, en nou is hy in die moeilikheid oorlat hy die bees geskiet het,” onthou Rensie.
“Ja! En toe eet hy die bees se warm oog!” roep Boetie uit en geniet dit toe ’n klompie meisies kamma gril by die gedagte.
“Toe kom die boer op sy perd aan,” onthou Niklaas verder, en die kinders skater weer van die lag toe hulle onthou dat Agarob die perd ’n rooi sebra noem.
“Ja, goed, julle onthou baie mooi. Agarob het nou die boer hoor aankom op sy perd, en toe gaan kruip hy diep in ’n erdvarkgat weg.” Juffrou Meintjies lees verder: “Vinnig draai hy om, en voete eerste gly hy by die erdvarkgat in. Ook net betyds, want hy kan al die rooi sebra se voete hoor!”
Teen huistoegaantyd is dit byna heeltemal oopgetrek. Die ganse vlakte lê natgereën en ruik na veld. Stroompies bruin water loop in die voetpaadjies en vorm dammetjies hier en daar, of hardloop afdraand na groter stroompies. Milano, Niklaas, Boetie en Rensie loop en skop water op. Rysmiere fladder blinkvlerk in die veld en die voëls hou fees. Groot wit ooievaars stap langbeen tussen die bossies en pik insekte op met hulle bloedrooi snawels.
Van Niklaas-hulle se huis af kies Milano kortpad deur die kampe. Hy trap sagte modderspore uit tussen die bossies. Die modder peul tussen sy tone deur en hy verbeel hom hy is Agarob, die Boesmanseuntjie. Hy sny spoor in die nat grond en kyk of hy kan sien waar skape aan die bossies gevreet het. Hy ruik die veld, nat skaapmis, perdemis. As hy by die huis kom, gaan hy vir hom ’n pyl en boog maak, besluit hy, en met dié gedagte slaan hy oor na ’n flukse jakkalsdraffie. Dis lekker koel. Hier en daar lê nog haelkorrels aan die skadukant van die bossies en voortjies. Hy stop elke nou en dan om daarvan op te tel en suig so in die draf daaraan.