Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 12 - Louisa du Toit - Страница 4

1

Оглавление

Brenda Rabie moet deeglik rondsoek en ’n paar onnodige draaie ry voordat sy die onopvallende woonkompleks raaksien. Die naam Edelhof by die ingangshek is eintlik vleiend vir die groepie platdakwooneenhede. Duette, het haar suster geskryf. Eintlik kwartette, want daar is vier eenhede rug aan rug, met vier voordeure in vier windrigtings. En dis raserig teen die dubbelstraat, het Babs verder geskryf; half aanklaerig, asof haar gesinslede die skuld vir haar nuwe omstandighede moet kry.

Noudat sy die kompleks per geluk gevind het, is sy in die verkeerde baan. Dis vieruur op ’n Dinsdag, met aangroeiende spitsverkeer wat haar verhoed om na regs te swaai. Sy is verplig om voort te ry totdat sy eindelik ’n U-draai kan maak om die paar blokke terug te ry.

Sy is nogal op haar senuwees. Om op Dennedal te bestuur, is iets anders as hier. Daar is dit geen kuns om daagliks heen en weer te ry tussen haar ouerhuis en haar pa se prokureurskantoor nie. Hier is dit ’n miernes en sy is totaal vreemd in die omgewing.

Dis ook anders as haar vorige besoeke aan Babs en Tom, toe hulle nog in ’n gerieflike voorstedelike huis etlike kilometer hiervandaan gewoon het. Hierdie deel is ouer, digter, drukker.

Maar Babs en Tom Kilian is intussen uitmekaar; tot die familie se leedwese, want daar was skynbaar geen werklike rede voor nie. Babs het ander verblyf gekry naby haar nuwe werk, by een of ander studiesentrum. Career Centre/Beroepsentrum, want dis dubbelmedium wat die taal betref. So, in Afrikaans praat hulle sommer net van die Sentrum, met ’n hoofletter. En die meer Amerikaanse “Center”, wat internasionaal veld wen teenoor “Centre”. Babs het onnodig uitgebrei, in ’n poging om die brief te rek of die aandag van haar persoonlike situasie weg te trek.

Pressly, die hoof, bestuur dit praktykgerig. Leerprobleme en loopbaanbehoeftes word aangespreek. Sê maar dis vaardigheidsopleiding.

“Sy strooi baie sand in ons oë,” het Magreeth Rabie oor haar oogappel se brief bevind.

“En sy praat baie oor hom,” het Tiny die ander nuanse uitgelig. Sodat almal moes wonder of die man dalk ’n faktor was in haar huwelik met Tom. Huislike gesprekke kring deesdae altyd weer terug na Babs en Tom se egskeiding.

Daar is geen sekuriteitshek nie, en Brenda kan ongehinderd inry. Dis met ’n gevoel van ontreddering dat sy vir haar ligte motor ’n parkeerplekkie vind waar sy hopelik nie verdryf sal word nie. Sy het immers gedink dis luukse verblyf, maar hierdie kluister-huisies is waarskynlik deur ’n opportunistiese ontwikkelaar gebou. Dis naby die stadskern en teenaan die busroetes geleë.

Bordjies wys die nommers van die wooneenhede aan en sy sluit haar motor om, met slegs haar skouerhandsak en toilettas, die entjie te stap. Onthou dan die orige padkos in die klein koelhouer op die kussing langs haar, en draai terug om dit te vat. Sy sal netnou terugkom vir die twee groter tasse, albei gelukkig met wieletjies. Hoewel sy nie seker is hoe veilig haar motor so sonder heksekuriteit is nie, dryf susterlike besorgdheid haar egter voorlopig binnetoe.

Moeg stoot sy haar halflang hare van haar sweterige nek af weg. Die somer wys verlaas tande. Die motor was warm. Sy hou nie van lugverkoeling nie en het dit net af en toe aangesit. Haar gespikkelde kuitromp en kort wit katoenbloes voel onvars. Sy hoop sy kan dadelik stort en vars aantrek.

Die paadjies is van kaal beton, met tussenin enkele verwaarloosde struike en hobbels wildekweek. ’n Herinnering aan Babs en Tom se klein maar kompakte aandtuin waar die wit magnolia na sewe jaar geblom het – byna so lank soos die huwelik geduur het – skiet Brenda pynlik te binne.

Daar het hulle saans gesit wanneer Tom en Babs terugkom van hulle onderskeie werksbestemmings, met ’n skemerkelkie ontspan en kyk hoe die rokerige dynserigheid daar ver oor die digter bewoonde gebiede tot skemerte verdiep. Dat die ligte aanstons sou aanflits en ’n nagtelike towerland naboots, was net ’n vermoede. Die voorstad was veilig ver van die lawaai en drukte van die polsender hart van die grootstad.

Afgesien van hierdie rustigheid, was daar ’n gedurige aanloop en onthalery, met Babs wat rojaal inkope doen en Tom wat geen kans laat verbygaan om sy vriende te beïndruk nie. Eers later sou Babs sy oormatige gekuier by allerlei vriende, wat haar baie aande alleen tuis laat sit het, teen sy kop begin gooi. Saam met al die ander gooigoed, wat net so gereeld na haar toe teruggegooi is. Tom werk vir homself en doen goed, as verskaffer sowel as instandhouer van kantoortoerusting. Heelwat rondry (dis juis hoe hy op Dennedal aangedoen en vir Babs ontmoet het) en ongereelde ure. Later was dit nie meer ’n aanvaarbare verskoning vir sy laatkommery nie. Babs het moeilik daaraan gesluk. Brenda het gevoel daar is iets wat sy miskyk, iets wat nie in soveel woorde geopper word nie.

Die twee kon nooit reg en skoon rusie maak nie, het selfs probeer om haar te laat kant kies: “Sien jy nou, Brenda …”; “Brentjie, sê jy nou vir my …” Die “Brentjie” uit Babs se mond.

Dit was aanvanklik romanties om by hulle te kom. Brenda was maar sewentien toe haar suster trou. Sy en Babs verskil vyf jaar, en jongmeisiedrome het in haar geroer wanneer sy die knus huis betree; ’n spitsdak wat, met sy luike en blombakke, die “cottage”-deel van die naam verdien. Magnolia Cottage in sierskrif. Dit was in mosaïek bo die dubbelgarage aangebring. Babs was goed daarmee, soos met kunsvlyt oor die algemeen.

Hoewel sy nie kwalifikasies het nie, is dit glo ook wat sy by die Sentrum op “nie-formele basis” aanbied. Dit wil sê, sonder papiere. Wat skynbaar nie die baas pla nie. Dis sy eie plek, wat hy self ontwikkel het en finansier. Hoe en waar dit geakkrediteer is, weet Brenda nie, en dit gaan haar ook nie aan nie.

Die egpaar se groeiende onenigheid het sy as groeipyne afgemaak. Die nukkerigheid, die dikmond aan tafel, die verby mekaar skuur. ’n Paar jaar gelede, moeilik om te sê wanneer, het dit drasties slegter begin gaan. Daar moes iets gebeur het waarvan net hulle weet. Iets wat soos ’n taai sening onder die oppervlakte span. So het Brenda oor en oor gedink, maar sy was magteloos. Sy wou hulle ouers nie ontstel nie – want as dié kom kuier, het Babs en Tom nog die skyn gehandhaaf.

By die voordeur kan Brenda die syfer 3 teen die muur nouliks uitmaak, sodat sy wonder of daar nie eers per abuis ’n 5 geverf was en toe met ’n slap kwas gekorrigeer is nie. Sou Babs al tuis wees? Dis redelik laat in die middag. Sy het die indruk gewek dat sy net halfdag werk. Maar, nou ja, met heen en weer ry en laat werk of inkopies doen, kan dit ’n driekwart dag wees. Brenda verbeel haar tog dat sy stemme van binne hoor, maar dit kan ook van langsaan wees.

Dis ’n kaal bruin houtvoordeur, ’n blote toegang tot ’n funksionele woonplek, sonder selfs ’n nis of riffelglaspaneel om dit interessant te maak. Dit het wel ’n laag nuwerige vernis, maar te blink. Kos seker minder en hou langer as behoorlike houtolie. Sy waag dit nie om sommer aan die knop te draai nie, ingeval sy by die verkeerde deur is. Hopelik, ook, is dit gesluit. Babs is laks met al wat ’n sleutel is.

Sy klop en wag. Dit was een van haar pa se opdragte: “Babs klink so verstrooid en ontwrig. Kyk tog dat sy haar deur gesluit hou. Sy sal sommer maklik vergeet. Jy weet, Tom was altyd daar om te help kyk.”

Ja, Tom was seker meer prakties as Babs. Reg aan die begin het hy haar nogal bederf, sou opstaan as iets gehaal moet word, met huishoudelike take help, selfs haar badwater intap.

Maar, nou ja, party mense is so saamgestel dat hulle die hele hand gryp as die pinkie gebied word, en Babs val in hierdie groep. Tom sou bloot haar stuurjonge en lyfkneg geword het as hy nie spoedig walgegooi het nie. Deur koppigheid het hy die proses in trurat probeer gooi, wat nie gewerk het nie. Verwyte het oor en weer gevlieg: oor taakverdeling, petrol intap, oor geld (veral geld), tot oor vuil wasgoed – letterlik en figuurlik.

Ag, wat ’n ellende was die egskeiding tog. Tuis staan daar ’n enorme trouvergroting op ’n staander. Pragtig is die huwelikspaar. Ewe blonderig, ewe stralend, Babs veral met haar sagte rondinge en verowerende glimlag. Hande saamgevou om die bestrikte mes wat die troukoek moet sny. Sy weet nie wat haar ouers nou met die groteske portret sal aanvang nie. Voorlopig is dit slegs weg uit die portaal geskuif, om die hoekie woonkamer toe.

Die dowwe stemme word stil, voetstappe skuifel binne. Brenda wil haar verbeel dat sy dit herken. Babs tel mos nooit haar voete behoorlik op nie. As ’n los mat se punt omgeslaan was, kan jy weet Babs het daar geloop. Dit slaan vonk uit die verlede, maak herinneringe los. Altyd was Babs maar daar, ouer, wêreldwyser, iemand om te probeer nadoen, iemand wat met ’n ou mag gaan fliek, wat mag grimeer, hoewel net liggies. Hulle ma glo aan gedempte grimering, behalwe miskien ’n helder lipstif. Magreeth Rabie is trouens ’n gedempte vrou, wat in die niet kan staar sodat Brenda wonder of sy aan haar seuntjie wat toe nooit gebore is, dink.

Net vir kleur in haar klerekas is sy baie lief – veral die warm tinte: “Always bold, never mellow.” Sy weet veral hoe om kleure te meng, met klem op die vyf en twintig persent “surprise”. Nartjie oorkrabbers by ’n kobalt bloes is nie vreemd nie.

Tiny sal soms tergend sê: “Gaan vra vir die kleurwiel hoe laat ons eet.”

“Die lewe is vaal genoeg,” verdedig Magreeth dan.

Nie dat haar lewe of huwelik vaal is nie. Daar kom altyd ’n lig in haar oë as sy vir Tiny sien of hoor inkom. Gaan hom buite inwag sodat hulle gearm vanaf die garage inkom, hy met verweerde leertas in sy los hand. Gesels land en sand, oor die grootste kleinighede. Niks het bestaansreg voordat sy hom dit meegedeel het nie. Toe Tiny op die randjie van ’n hartaanval was, het sy hom terug na gesondheid getroetel. Hulle is nog ’n romantiese paar, insover ’n mens se eie ouers vir jou romanties kan lyk. Moet Tiny op die pad gaan en hy kom nie op die afgesproke tyd tuis nie, raak sy vrou paniekbevange en wil na hospitale en polisiestasies begin rondbel – net om daarna sy motorligte te sien indraai.

Maar dit daar gelaat. Terwyl sy Babs dus as ouer suster bewonder, het Brenda dikwels storietjies aangedra. Sy was ’n stertjie en stoornis in Babs se lewe. Tog was Babs die een wat haar met die matriekafskeid voorgelig, help aantrek en grimeer en soos ’n regte jong lady laat voel het. Magreeth moes maar terugstaan, toekyk en hier en daar intree oor veral “die tikkie kleur”.

Brenda staal haar. Sy weet nie wat om te verwag nie. Na die egskeiding was Babs nog glad nie weer op Dennedal nie, tot almal se kommer. Net enkele briewe en foongesprekke, wat eensydig oorkom.

Toe sy ook voorverlede week tydens die Paasnaweek wegbly, het die Rabie-ouers vermoed dat sy totaal alleen in haar nuwe “verblyfie”, soos hulle die onbekende nuwe tuiste noem, sit en krepeer. Sy kon ook kastig nie die langnaweek haar familie ontvang nie, indien hulle vir haar sou wou gaan kuier. Hulle moet verstaan, het sy gesê, dat sy ’n nuwe werk het en alles moet insit. Die paar los dae wil sy gebruik vir beplanning, die uitwerk van projekte, en om haar nuwe tuiste verder in orde te bring.

Dis veral gebruiklik dat hulle as gesin die gemeentelike Paasete op Vrydagaand bywoon, en verlede jaar was Babs en Tom nog albei teenwoordig. Dis hoofsaaklik oor hierdie breuk in samesyn dat Tiny Rabie die kwessie ’n week lank oorweeg het, om eergister, Sondagaand, te verklaar: “Sussa, jy pak jou tas en gaan na Babs toe. Sy moenie in hierdie tyd van haar lewe alleen wees nie.”

“Maar, Pa, die werk is nog agter na laas naweek,” het sy flouweg teengestribbel. “En dis môre Maandag. Pa weet die admin lê die fondament van die hele week.”

“Jy ry dan Dinsdag. Onyra Doorn kan môre inkom en jy wys haar alles. Sy het tog al voorheen kom help, veral aan die einde van die boekjaar. Sy is nie jy nie, maar sy is flink van begrip. Sy en Neels sal ook klaarkom. Die Doorns en die Mosterts was ou vriende.”

Dis waar, Lina Mostert en Onyra Doorn het dikwels gesamentlik een of ander dorpsprojek aangepak. Hulle het mekaar glo vanaf hulle studiejare geken. Nou werk mevrou Doorn in die kantoor van haar man se motorhawe en dit frustreer haar waarskynik. Haar dan maar die meevaller gun van uitdagender werk en beter vergoeding, al is dit net ’n tydjie lank? Sy was voorheen gretig en dankbaar. Leef en laat leef.

“So, ek moet dan my suster se babawagter gaan wees?”

“Jy kry betaalde verlof en ’n bonus. Maar jy gaan, Sussa. Dit maak nie saak hoe lank nie. Jy kyk dat Babs haar voete vind en haarself versorg en dat sy nie terneergedruk raak nie. Jy weet, ondervinding toon ’n egskeiding is ’n eie soort sterfgeval. Die dood van ’n vaste verbintenis.”

Sy het probeer om niks te wys toe Neels ter sprake kom nie, al het haar hart ’n ruk gegee. Of so het dit gevoel. Natuurlik gee ’n gesonde hart nie rukke en plukke nie. Sy moet nugter te werk gaan met hierdie verterende gevoel in haar. Maar sy kon as ’t ware Neels se nabyheid voel en sien. Die lang gestalte, effens slap sonder om lamsakkig voor te kom. Die vosserige voorkoms wat meer na ligbruin as donkerblond neig. Sy wimpers is donkerder as sy hare, en die digtheid daarvan wat die gevoelens in sy geelgroen oë beskut, is dalk sy boeiendste eienskap.

Sy kon sy warmte voel en sy skoon mannegeur kry as hy vooroor buig om iets op haar lessenaar te bespreek. Hy het nooit te naby gekom nie. Die terughoudende streep in sy geaardheid het nooit verhinder dat hy met alle soorte mense kan kommunikeer nie. Net met haar gesels hy nooit spesiaal en vryuit nie. Hy weet van afstand hou van sy senior se dogter.

“En wat dink Pa tog sal ek vir haar kan doen?” wou Brenda verder weet. “Pa sê altyd mens kan nie die see met osse ploeg nie.”

“Dis nie ek wat so sê nie, dis die profeet Amos.”

“Nogtans. Dis verspilde kragte. Dieselfde geld dan seker vir wolke. Babs se onweerswolke. Sy moet self oor haar terugslag kom.”

“Persoonlike bystand kan jy haar tog gee. Julle is susters, en bloed roep bloed.”

“As Pa so sterk daaroor voel, het ek seker nie ’n keuse nie,” het sy bes gegee. “Ons moet seker bly wees daar is nie kinders nie.” Sy werk lank genoeg in ’n prokureurskantoor om te weet van al die gedinge en komplikasies rondom kinders.

“Ja, hulle is glad nie die reddertjies waarop soms gehoop word nie. Maar ek en jou ma het wel begeer …”

“Ek ook,” moes Brenda erken. Sy was skoon dol oor die gedagte dat daar so ’n troeteldingetjie kon kom. Maar die tyd het verbygegaan sonder dat Babs ooit die saak wou bespreek. Sy het hulle met opset in die duister gehou oor die oënskynlike kinderloosheid, sodat niemand werklik die waarheid kon raai nie. Wou hulle nie, kon hulle nie, of wou hulle bloot uitstel? “Maar ek verstaan nou, ’n kind sou net onder die onenigheid ly.”

“Voor my en jou ma het hulle altyd die skyn van vrede bewaar. Maar ’n mens kan mos aanvoel.”

“As ek alleen daar kuier, het hulle geen skyn bewaar nie. Hoe later, hoe minder. Hulle het trouens verwag ek moet skeidsregter speel.”

“Dis seker maar beter jy het nie tuis kom vertel nie.” Tiny Rabie se voorkop onder die nog digte grysswart hare het rimpels gekry. Hy is op vyf en vyftig steeds ’n treffende man.

“Dit het soms nogal erg gegaan. Babs kan so woedend word. Sy het Tom een aand geklap. Ek weet nie waaroor die rusie was nie.”

“Het hy ooit aan haar geslaan?” Daar het ’n duiwel in Tiny se oë gekom.

“Ek glo nie hy sou dit waag nie. Ons ken mos vir Babs. Sy sou hom met haar tong opkerwe.”

“Ek weet nie meer wat om te glo nie.” Hy, die ervare prokureur wat noodwendig ’n sekere ongevoeligheid moes leer voorhou ten einde emosioneel te oorleef, was gebroke. “Ek het nog altyd so sterk geglo dat alles vir ’n mens bestem, bepaal word. Maar hierdie breekspul kan sekerlik nie bestem wees nie.”

“Agterna sal ons dit dalk beter verstaan,” het Brenda probeer troos. Sy het ook aan haar en Neels gedink. Sy wat hom graag wil hê, kan hom nie kry nie, behalwe dalk as sy haar goedkoop maak en voor hom neersmyt. Terwyl haar suster die man wat sy wou hê gekry en weggesmyt het.

“Ja, Sussa, ek weet tyd bring begrip. Maar die pyn is nou.”

Die kort, skreiende antwoord het haar in die hart gegryp.

Haar pa moes skynbaar knaend oor die gesprek nagedink het. Net na middagete gister – met eethappies wat deur Magreeth vir hulle ingepak is – het hy dit weer opgehaal: “Ek vestig my hoop daarop dat Babsie se egskeiding jóú sal leer om oopoog te kies.” Dit was asof hy meer, veel meer, wou sê, maar daarteen besluit het.

“Wie praat van kies? Hoeveel wit perde sien Pa miskien saans vasgemaak by ons voordeur staan?” Neels was uit vir iets te ete en sy kon vryelik praat sonder die vrees dat hy vanuit sy kantoor kan hoor.

Maar dis waar. Sy gaan nie eers vas met iemand uit nie, wat nog te sê met etlikes. Sy beweeg in ’n hegte vriendskapsgroepie en vermy alleenafsprake. Net teenoor haarself sal sy die rede erken: dat Neels Mostert nooit die idee moet kry dat sy verbind is nie. Raai haar pa dit dalk tog?

“Ek weet wat ek weet. Jy is ryp, meer as ryp, vir ’n keuse. Jy weet hoe ek die woord ‘liefde’ haat. Omdat mense dit met emosie verwar; en met seks, laat ek dit maar reguit sê. En ons weet hoe dikwels dit op hofsake uitloop.”

“Ek is nog nie daar nie,” kon sy hom gerusstel. Tog het sy innerlik koud geword. Skimp hy op Neels Mostert? Sien hy dalk iets raak waarvoor sy blind is? Kan dit wees dat hy vir Neels met begeerte na haar sien kyk het? Tog sekerlik nie. Behalwe dat Neels hom op baie ordentlike wyse geheel apart hou, weet sy dat haar pa die hoogste beroepsagting het vir hierdie man wat as kandidaatprokureur hier ingeval en hom tot bekwame vennoot opgewerk het. Hy het wel onlangs iets gesê oor Neels wat op een van sy “naweekuitstappies” is, maar sy het dit nie toe ernstig opgeneem nie. Sy het letterlik, en dalk naïef, gedink aan visvang of gholf, albei stokperdjies van hom. Maar dalk het haar pa niks meer as dit bedoel nie.

Al hierdie jare was sy nie onbewus van Neels Mostert nie. Maar hy was ’n getroude man. Totdat sy swanger vrou in ’n motorongeluk dood is, ironies genoeg reg voor die prokureurskantoor waar sy stilgehou het om haar man te gaan verras.

Brenda se hart was gebreek, omdat sy nie wou hê hy moet hierdie lyding ondergaan nie. Tog is sy net mens, en na die ergste skok het sy in die verste verte van haar agterkop gedink: Nou is hy vir die eerste keer beskikbaar. In teorie. Nou durf sy oor hom dink, droom. Sy het egter ’n sluitbalk voor die hek van haar verwagtinge geplaas. Hy treur swaar, hy sal lank treur, en hy sal hom bes moontlik nooit weer verbind nie. Maar ten minste sal sy minder skuldig voel as sy hom suksesvol uit haar kop kan sit.

Sy het gister nie ’n woord verder gepraat nie. Om min te weet is om alles te hoop. Sy wil liewer nie weet of haar pa van Neels gepraat het nie. Sy sou vroeg huis toe gaan om haar tas klaar te pak.

“Jy? Nou al?” roep Babs oorbluf uit toe sy die deur oopswaai. Die verrassing sluit egter nie haar kenmerkende glimlag in nie. Sy is nie stroef nie, maar beslis nie verheug nie.

“Maak toe jou mond, Barbára,” lag Brenda. “Dit lyk of daar ’n skarnier uitgeval het.”

Die moedswillig foutiewe uitspraak van haar naam kon Babs nog altyd vertoorn. Wrewel flikker ook nou in haar oë. “Maar jy sou mos eers môre kom,” kry sy eindelik uit.

“Jy is verkeerd, maar dankie nogtans vir die warm verwelkoming,” sê Brenda met swak verbloemde teregwysing. Sy was by, in haar pa se studeerkamer tuis, Sondagaand, toe hy gebel en met Babs gepraat, uitdruklik gesê het Dinsdag, en hoe laat. Of het hy gesê Woensdag? Dalk net “oormôre”, wat sommer gou vir Babs kon laat kleitrap. “Het jy mense? Ek dog ek hoor stemme.”

“Ja en nee. Sommer werksake. Kom in.”

Hulle gee mekaar ’n wangsoen en drukkie. “My goed is in die kar.”

“Los eers.”

“Solank dit nie staan en warm word nie. Ek het darem die orige padkos afgebring. Ma het gesê ek moet van die eiertoebroodjies vir jou oorlos.”

“H’m, lekker. Gee.”

Daar is nie ’n portaal om van te praat nie, slegs sowat een meter spasie verby twee gefatsoeneerde pilaartjies wat seker Toskaans of Grieks of Romeins moes lyk. Dan is jy in die woonkamer; seker eetkamer ook, te oordeel aan die bekende ronde tafel en stoele in die hoek. Oor die verdeling van besittings tussen Babs en Tom was daar bes moontlik ook relletjies. Dis te veel gevra dat hulle selfs oor ’n langsteelpan sou saamstem.

Brenda het nie kans om die gedagte of die swiepende oogopslag te voltooi voordat sy hom sien sit nie, die vreemde man wat beleef uit sy stoel oprys toe hy sien dat sy hom opgemerk het. Die versoeking is groot om tussen skerts en erns vir Babs te sê: “So jammer jy’t al weer jou feite verkeerd, want toe betrap ek jou skelmpie hier.”

Maar die tweede gedagte is vinnig op die hakke van die eerste. Babs is nou geskei, en mag seker ’n vriend ontvang as sy wil. Maar hoe lank geskei? Slegs enkele weke sedert dit wetlik voltrek is. Kon sy reeds nuwe vriendskappe opbou, of is hierdie ’n oorstaan-een, wat dalk selfs die moeilikheid tussen haar en Tom veroorsaak of verhaas het? En waar kom sy aan sulke veroordelende gedagtes? Die twee is duidelik nie op ’n voet van intimiteit nie.

Babs het haar verbasing oorkom. Sy staan langs Brenda, haar hande liggies in haar sye geplant, die “suikerpotposisie” soos hulle ma dit noem. “Brenda, ontmoet vir Hans Pressly, hy’s my regmatige baas by die Sentrum.”

“Hoeveel soorte base het jy dan?” vra Brenda.

Die vreemdeling steek sy hand uit.

Dis net goeie maniere om dit te erken, daarom groet sy hom met ’n “Aangename kennis.” Hy het ’n ferm handdruk, maar ongehaas.

“Pressly met twee s’e en een e,” verklaar hy. Dis duidelik dat hy hierdie uitleg al dikwels in sy lewe moes gee.

“Dankie,” sê sy. “Ons ma is versot op Elvis se ‘Wooden Heart’, so ek sou dit heel moontlik verkeerd gespel het.”

“Hoe laat jy my nou na Ma verlang,” sê Babs, dalk omdat sy reeds diskreet die eierbroodjie aan ’t kou is. “Ek sien daardie ou plaat se omslag in my kop.”

“Ons het Paasnaweek vir jou gewag. Ma het nogal laventelblomme op jou kussing gesit. Kalmerend, glo sy mos.”

“Ek het vasgedraai.”

“Nè, reken,” antwoord Brenda. Het Pressly iets daarmee te doen? Hy is aantreklik, goed gebou en donkerig van hare en gelaatskleur. Ongewone oë wat of rokerig bruin is, of die donkerblou wat haar kleurkundige ma as “midnight blue” of dalk “Prussian blue” sou beskryf. Oë wat vermoedelik geoefen is om diep te kyk sonder om te wil ontmasker. Sy is bly oor die positiewe gedagte, want andersins hou sy nie veel van die bekwame fermheid wat hom as effens ongenaakbaar laat oorkom nie.

Hy dra deeglik gebruikte jeans by ’n geruite oorhang-kraaghemp. Etiketklere, dis duidelik. Sowat ’n halwe kop langer as sy, wat ’n halwe kop langer as Babs is. Dus sou Babs hom “tall, dark and handsome” kon vind.

Haar effense koelheid skrik hom skynbaar nie af nie. “Jy kan raai wat my bynaam nog altyd was,” beaam hy die Elvis-verwysing.

Hy het ’n geringe Engelse aksent. Vanweë sy voornaam en van kan sy die opset redelik maklik aflei: Engelse pa en Afrikaanse ma.

Brenda sou kon sê dat sy nie van plan was om te raai nie. Wat kan sy bynaam haar aangaan? Sy is rou en vreemd en moeg. Sy wou arriveer en nesskrop en op haar eentjie wrok oor hierdie ongewenste wending in haar bestaan.

Sy bly dit steurend vind om ’n man hier in haar suster se huis te vind, hoe onskuldig dit ook lyk. Babs dink nie verder as wat haar neus lank is nie. ’n Alleenvrou moet let op hoe en wie sy ontvang. Of geld sulke reëls net op Dennedal, wat sy eie klein heelal vorm?

“Mens sou nie sê julle is susters nie. Die een so blond, die ander een donker.”

“Sy lyk na ons ma, ek na ons pa,” probeer Brenda die skyn van beleefdheid volhou. Blond en donker is immers nie die enigste onderskeid tussen hulle nie. Babs is korter en beter bedeeld met kurwes, terwyl Brenda haar pa se lenige gestalte het, en die sterk vel wat ’n sontint lank behou.

Durf sy hoop dat Pressly reeds op pad was om te loop? Sy ondervind die vreemde drang om ineen te sink en te begin huil. Dis asof die spanning van die afskeid tuis, die alleenrit en die verwarrende aankoms saamgespan het om haar ’n uitklophou toe te dien. Haar pa weet tog sy wou nie regtig kom nie. Hy het haar in ’n moeilike posisie geplaas. Sy wou tuis wees, op kantoor, om onopgemerk Neels se bewegings dop te hou, sy stem te hoor.

Die atmosfeer bly stram. “Die pad was lank. Is hier dalk ’n teetjie, Babs?” por sy aan. Tog nie weer Barbára nie. Dalk moet sy nou oefen om gewoonweg Barbara te sê.

“Ja, natuurlik,” sê Babs, meer gewillig as bekwaam. Sy verraai meteens ’n sekere lompheid terwyl sy in die oopplankombuisie begin rondvroetel. “My vrou wat haar eie kombuiskaste nooit sal leer ken nie,” kon Tom dit eenkeer nie weerhou nie.

Babs is inderdaad in meer as een opsig haar ma se kind. Magreeth is ’n ietwat onbeholpe mens, maar beminlik met die aanmatiging van ’n vertroetelde huisdier wie se attensies nooit verwerp sal word nie.

En so is Babs ook. Altyd die gewilder een, meer toeganklik as haar jonger suster. Brenda weet dat sy dikwels deur ander as “koel” ervaar word. En dis bedrieglik. So ’n soort mens het dit dikwels swaarder as die fladdertipe, omdat niemand vermoed watter verlange na warmte daar soms agter die skynbaar onbewoë uiterlike brand nie. Dis haar mening, en dit kan rasionalisering wees.

Maar sy wonder tog: Moet sy haar binneste duideliker aan Neels toon? Vind hy haar ook koel, en is dit die rede waarom hy so ten alle koste sy afstand bewaar? En kan sy nie anders as om aan Neels te dink nie? In die motor, heeltyd, was hy die onsigbare teenwoordige.

Sy dink verder aan haar ma en Babs. Dis eintlik ironies dat die twee so maklik bots. Te gou spat die vonke, maar net so gou is daar weer vrede. Hulle kan nie sonder warmte klaarkom nie, en verwerping sit sleg aan hulle. Hulle is te eenders, reken Tiny. “’n Mens vergewe nie maklik die openbaringe van sy spieëlbeeld nie.”

Magreeth kla op haar beurt dat, as jy met ’n regsman getroud is, jy nie die geringste kans het om ’n argument te wen nie. In ’n opsig is hulle teenoorgesteldes, maar hulle kry reg om dit te laat werk. Hy is die een wat die vaste struktuur verskaf, sy die wisselinge van atmosfeer. Meningsverskille is min en genadig.

En op sy “drie mooi meisies” is Tiny onvervals trots. Dis ’n stil geheimenis dat daar wel ’n seuntjie was, tussen die twee dogters, maar dat Magreeth hom in die helfte van die swangerskap verloor het. Vandaar die gaping in ouderdom tussen Babs en Brenda.

“Jy moenie dalk dink meneer Pressly kuier hier nie.” Babs moet haar stem effens bo die gesing van die ketel verhef.

“O nee, ek het dadelik aanvaar hy doen by al sy werknemers huisbesoek.” Brenda se oog vang dié van Pressly, wat tog ’n vonkeling verraai hoewel sy gesig ernstig bly.

“Werksake, soos sy gesê het,” beaam hy Babs se verwelkomingswoorde.

“Hy is buitendien getroud,” verklaar Babs ongevraag verder, “en dis nie my styl nie.”

Nie ons styl nie, stem Brenda swygend saam. Want Neels was immers tot onlangs ook getroud. Sy waag dit nie om weer na Pressly te kyk nie, ingeval hy hierdie keer ’n sprank van skuld vertoon. “Solank die tee trek, gaan ek hande was, Babs. Barbara,” verbeter sy ingeval dit van belang is. “Waar slaap ek?”

“Ons deel ’n kamer,” kom die ongeërgde antwoord. “Dit het ’n vorige eienaar behaag om die middelmuur weg te breek. Jy gee nie om nie?”

“Nie as ek sonder keuse is nie.” Dan, om te versag: “Ons het al gedeel, onthou.” Wanneer daar baie gaste was, of tydens strandvakansies.

Dis gelukkig ’n ruim kamer, waarvoor Babs reeds die rede verskaf het. Dis egter karig gemeubileer. Daar is geen stoel of tafeltjie nie, sodat sy haar goedjies neersit op die naaste enkelbed, skynbaar die ongebruikte een. Wat sou van al die meubels geword het? En die kunstighede wat Babs aangebring het? In bokse gepak? Tom sou glo heeltemal uit die stad verkas, sy werk kan hy immers oral doen. Hy sou na sy tuisomgewing teruggaan. Die huis verhuur, probeer verkoop. Hy het Babs skynbaar ’n kontantuitbetaling gegee, dalk ’n persoonlike lening daarvoor aangegaan. “Daar was so baie los skuldjies,” het Babs die feit dat sy en Tom bo hulle inkomste gelewe het, goedgepraat. Daar sou met ander woorde geen geld oorbly om te verdeel nie.

Brenda talm so lank moontlik in die badkamer wat ouerig, witterig en basies is. Sodoende hoef sy nie met Pressly met die twee s’e en een e te gesels nie. Sy onthou die ietwat geslote gesig, ten spyte van die ligte toon wat hy probeer aanslaan. Dalk was hy ook uiters verleë om hier aangetref te word, om nie te sê betrap nie.

Om net te gesels sonder dat jy werklik iets te sê het, is vir haar altyd moeilik. Daarom hou sy van kantoorwerk: Jy durf formeel wees. Jy hoef nie met kliënte, hetsy persoonlik of telefonies, te kuierluier nie. Neels doen dieselfde, hy klets nie onnodig met kliënte nie.

Hoe ’n man is en was Neels tuis? So het sy al gewonder. Hy was met ’n unieke vrou getroud. Die tragiese uiteinde van die redelike kort huwelik was, genadiglik vir hom, in die toekoms versteek.

Sedert sy na matriek by haar pa begin werk het, het sy Neels nooit familiêr benader nie. Niks sou hom hopelik kon laat raai hoe bewus sy van hom is nie. Dis net in haar gedagtes, het sy gedink.Verlief raak en onverlief raak. Nie dat die gedagte haar gehelp het nie.

Haar pa en ma het ’n brugjaar voorgestel. Oorsee. Rugsak, wat ook al. “Jaag julle my weg?” wou sy weet. “Ek kan my tyd beter bestee met ervaring by ’n ervare praktisyn soos raai-wie.”

“By die vlak kant inspring, hoekom?” het “raai-wie” geantwoord. “As jy nie lus is vir toer nie, gaan swot dan eers. Kom terug met jou formele opleiding, en article by ons. Word later vennoot. Rabie, Mostert en Rabie, hoe klink dit vir jou? Dalk is Neels al iewers in sy eie praktyk, dan is dit net Rabie en Rabie.”

“Het Babs julle nie al genoeg geld met haar swottery gekos nie?”

“Swot? Sy wou jol. Elke brief ’n nuwe kêrel. Vier jaar en niks om agter haar naam te skryf nie, kom sit hier in ’n munisipale kantoor.”

“Presies. En nou wil Pa my op dieselfde pad stuur?”

“Moenie draaie gooi nie. Ons praat hier van Babsie, nie van jou nie.”

“So, ek sal nie ook jol en kêrels hê nie? Is ek te oninteressant?”

“Sussa …” Net die enkele vermanende woord, en sy moes haar geskerm staak. “Jammer, Pa, en dankie, maar nie nou nie. Dalk later.”

Haar besluit was rotsvas. En so het sy daarna weekliks vyf dae in Neels Mostert se nabyheid verkeer. Sy het niks meer verlang nie as ’n geringe teken van hom dat hy ook van haar bewus is, al sou dit geen bestaansreg hê nie. Totdat hy alleenlopend geraak het. Toe, na die eerste erge routyd, het sy onbewus begin wag dat daar eindelik ’n geheime sein van sy kant af moet deurkom – maar tog ook so sterk daarteen gewaak, dat sy dit dalk nie eers sou opvang as dit wel kom nie.

Sy vrou was geen skoonheid nie. Effens grof gebou en met onreëlmatige gelaatstrekke, maar met ’n magnetiese geaardheid en vele talente wat sy oral in die samelewing aangewend het. ’n Wonderlike mens en terselfdertyd ’n soort vorstin, wat mooi kon sing en ook skilder en kunsnaaldwerk doen. Sy het hulle argitek-ontwerpte huis so stylvol ingerig dat ’n vrouetydskrif ’n glansartikel daaroor geplaas het. Van Lina Mostert en haar huis het letterlik almal op Dennedal geweet. Van haar gehou, van haar gepraat. Dit was die grootste begrafnis in Dennedal se geskiedenis toe sy te ruste gelê is.

En Neels het getreur. O, hy het. Daarvoor sal sy haar kop op ’n blok sit. Mens kan nie so lank so na aan iemand rondbeweeg sonder om agter te kom dat ’n swaar verdriet hom teister nie. Maar ’n halwe jaar het intussen verbygegaan, en sy kon agterkom hoe die swaar blinding van leed bietjie vir bietjie oopgetrek word om weer lig in te laat. Sy ingehoue, vinnige laggie kon weer in die kantoorruimte gehoor word.

Het hy dalk ’n geheime belangstelling iewers? Waar gaan hy naweke heen as sy huis donker staan? Want o ja, sy ry soms wel doelbewus daar verby, vanaf ’n vriendskaplike krymekaartjie of om brood en melk vir die huis te koop.

Hy het haar die afgelope tyd laat dink aan ’n welgeskape mannetjiesdier wat na ’n lang, aftakelende winterslaap behoedsaam sy kop op sy pote neerlê en die wêreld deurskou vir ’n prooi teen die nahonger. Of projekteer sy net? Wil sy graag voel soos die begeerde bokkie op die vlakte, wagtend om deur hom afgekeer, vasgekeer en verslind te word?

Belaglik. As ’n mannetjiesdier ’n prooi vaskeer, is dit immers om sy pens vol te kry. Sy moet haar kop skoon kry. Ophou om hom te romantiseer. Maar dis makliker gesê as gedaan.

As Neels iets by haar aanvat, wag sy op die rakelingse warmte van sy vingerpunte. As sy ’n brief of kontrak vir hom bring om te onderteken, laat hy die penpunt ’n wyle bo die stippellyn hang. Natuurlik is hy ’n bekwame en versigtige man, wat nie sommer sy handtekening neerpen nie. Wat wil haar laat glo dat hy haar daarmee langer by hom wil hou? Is dit vir hom dat sy ’n paar druppels duur parfuum aantik, net genoeg om ontwykend maar ook kenmerkend van haar teenwoordigheid te wees? Dit meng dan met die welbekende reuk van die kantoor: gebruikte leermeubels, houtolie, beleë wolmatte, regsboeke. Asof dié boeke ’n eie reuk het, anders as alle ander.

Daarby is daar die teisterende wete dat haar pa psigies skerp is, dat hy wéét wat in haar aangaan. Wil hy nie ’n gevoel aanmoedig wat sy dogter reeds beset het toe Neels Mostert nog getroud was nie? O, sy vind dit werklik swaar om jaar na jaar met so ’n emosionele wroeging in haar binneste rond te loop. Maar ’n mens kan aan alles gewoond raak, en so probeer sy haar gevoel vir Neels tot ’n gewoonte reduseer. Dis al manier om met dié soete leed saam te lewe, selfs troos daaruit te put. Dalk was haar pa verstandig om haar ’n rukkie weg te stuur. Sy kan perspektief kry … of die tyd kan ryp word. Daar is veel te sê vir die rypheid van tyd.

Alhoewel sy nie opsetlik probeer luister na wat haar suster en die besoeker gesels nie, kan Brenda nie anders as om te hoor nie. Die kamerdeur is halfpad oop en die huis is klein.

“Noudat sy ’n dag vroeg gekom het,” begin Babs, wat vir Brenda haar lippe oor die foutiewe feit laat saampers, “is dit dalk die oplossing vir jou probleem.”

“Ek het gekom omdat ek gehoop het jy sal self kan help. Iemand sal wel jou Kunsvlytstudente besig kan hou.”

“O so? Dan slaan jy dit nie hoog aan nie. Maar vra gerus my suster, ek lyk dalk bekwamer vir die kantoor as wat ek is. My pa het my probeer oplei, maar binne ’n week was alles in ’n warboel.” Babs lag heerlik oor die herinnering, wat nogal die presiese waarheid is.

“Sy kom nou net hier aan, ek durf tog nie …”

“Hoekom nie? Tydelik. Net tydelik, mos. Ek moet tog in die koers ry, en wat gaan sy heeldag hier met haarself aanvang? Ek sê, vra haar, vra is vry …”

“… en weier daarby,” voltooi Brenda waar sy in die middeldeur staan. “Wat is dit wat ek gevra moet word?” Dis wel nie moeilik om te raai nie: tydelike kantoorwerk by die Sentrum, dis wat Babs se woorde duidelik genoeg te kenne wou gee. En sy dink hulle, Babs veral, het aspris hard genoeg gepraat dat sy die aas moet vat.

Pressly lyk verleë. “Dis jou suster, mevrou Kilian hier, wat so opportunisties is.”

Noudat Brenda hom voluit aankyk, kan sy sien dat hy nie na ’n man sonder sorge lyk nie. Daar moet onderdrukte spanning wees, maar hy beheer dit. Hy ontstel haar op ’n manier wat sy nie kan verklaar nie. Sy dink aan Neels, bekend hoewel hy hom nie deur haar laat ken nie, op sy sagte sole wat so lank al dieselfde kantooroppervlak as sy bewandel. Verlange neem van haar besit.

Sy dink ook aan die bekendheid van haar gewese swaer, Tom Kilian. Hy was die enigste soort broer wat sy ooit geken het, in die lig van die een wat nooit die son aanskou het nie. Hierdie man is so uiters vreemd, en dit voel absurd om hom so vertroulik met Babs te sien verkeer. Mevrou Kilian of te nie, sy is seker dat hulle mekaar eintlik op die voornaam noem. Of geld dit al sy werknemers, die vroue veral? Is die “Sentrum” dalk niks anders as ’n private kring van vroulike aanhangers nie? Sy voel weerstand in haar groei, maar ook skuldgevoel oor sulke negatiewe gedagtes.

Babs moet dit aanvoel, want sy begin verduidelik: “Meneer Pressly het ’n probleem by die werk. Sy linkerhand, Elsa Heunis, is siek en sy regterhand, mevrou Clutie, se seun het gister ineengestort, hy is in Intensief. Sy het vanoggend net ’n vinnige draai by die werk gegooi.”

“Meneer Pressly kan seker sy eie woord doen,” kan Brenda dit nie weerhou nie. Sy dink verder: Dit kan nie te erg wees as hy hier rondsit nie.

“Natuurlik, juffrou Rabie. Ek het net nie gevoel dis jou probleem, of dat jy enigsins betrokke moet voel nie.”

“Daaroor kan ek seker self besluit.”

“Kom nou, Brenda, moet jy altyd teenkap? Ons praat hier van ’n volskaalse krisis. Alles in die kantoor draai om mevrou Clutie. As enigiemand ’n probleem het, word jy na haar toe gestuur.”

“En nou verwag jy ek moet onbesonne in so ’n vrou se plek stap?”

“Wel, ek moes al so dikwels luister na onse pa se gespog oor hoe knap jy is.”

“En wat van onse ma oor jou vermoë om iets kunstigs in die huis aan te vang? Dit het nou regtig niks met die saak te doen nie.”

“Sien jy, Hans? Ek kon jou vooraf sê.”

Ahaa. Hans. Voornaam, soos vermoed.

“Dis ook te goed om waar te wees dat jy sommer met jou aankoms sal uithelp.” Pressly lyk redelik bedruk.

“Of hoegenaamd sal uithelp,” vul Brenda aan. Tog ontwaak daar ’n stadige belangstelling, of hoogstens dan weetgierigheid. Hoe lyk die plek, hoe lyk die werk, sal sy dit kan bemeester? Sy hou van sulke soort uitdagings. Daar ontwikkel ook kommer oor die onbekende vrou met die krisis.

“Wat makeer die seun?” vra sy teen haar beterwete. Hoe meer jy weet, hoe dieper word jy ingesuig. “Is hy op skool?”

Dis Pressly wat antwoord. “Nee, middel-twintigs. Verloof. Hulle dog eers dis ’n hartaanval. Dadelik noodbehandeling. Suurstof en alles.” Om een of ander vreemde rede glip daar ’n skaduwee oor sy gesig. Dis egter so gou verby dat Brenda haar dit net sowel kon verbeel het.

“’n Pyp in elke sy om vog van sy longe te dreineer. Glo 800 ml net van die een long afgetap,” voeg Babs by. Die verbluffende feit pas haar neiging om effens te oordryf sodat die sentrum haar aandag kan prikkel. “Dis glo … wat het mevrou Clutie vanmôre gesê?” Babs loer om die kombuis se houtafskorting na Pressly. Sy kou steeds. Magreeth Rabie se eiertoebroodjies, waarby sy staan of val vir enige reis.

“Akute pankreatitis,” antwoord hy. As ’n mens verby die byna afgemete fermheid luister, het hy ’n welluidende stem.

“Hoe op aarde kry ’n mens so iets?” frons Brenda.

Hy haal sy skouers op. “Hulle beveg eers die septiese skok. Organe dreig om in te gee.”

“En nee, hy is nié ’n alkoholis nie, ingeval jy dit dink.” Weer Babs wat meedoen. Die teemaaksessie vat langer en lewer meer klanke op as wat nodig is.

“Nee, raai, ek het nie. Ek ken die mense van g’n Adam se kant af nie. Maar dit klink kommerwekkend.”

Eindelik sit Babs die skinkbord tussen hulle neer. Pressly het ’n halwe beweging gemaak om dit by haar oor te neem, maar sy het beduie hy moet bly sit. “Jy spring genoeg by die Sentrum. Wil jy ook ’n toebroodjie hê?”

“Nee dankie, ek sien tog jy wil nie graag afgee nie.”

“Heeltemal reg ook. Maar ek kan ’n ander een vir jou maak.”

Hy beduie steeds nee dankie, met ’n effense glimlag wat kepies langs sy mondhoeke kerwe. Dit versag sy formele aanslag.

Versigtig neem Brenda haar tee, bedag daarop dat Babs altyd daarin slaag om nattigheid in die piering te laat kom. Hans Pressly weet dit skynbaar nog nie, want hy mors onmiddellik ’n druppel op sy denim. Hy kyk gelate daarna, onseker of dit ’n nuwe probleem is wat sy aandag verdien.

Snaaks genoeg, stel dit Brenda gerus. Dit wys dat hy nie by Babs boer nie. “Dis meer kookwater as tee,” stel sy gerus. “In die piering, bedoel ek.” Omdat Babs geen poging aanwend om die skade te herstel nie, gaan sy kombuis toe.

Daar is ’n skaflike afdroogdoek, en sy maak die punt nat en bring dit terug. “Hierso,” bied sy aan. Sy weerstaan die versoeking om dit self te doen.

“Dis niks, regtig, maar dankie.” Sy kry die indruk dat hy nie aan sulke gunsies gewoond is nie. Hy word trouens doodstil terwyl hy die kolletjie wegvee. Die broekspyp span teen sy bobeen.

“Het jy gestort?” kom Babs nou eers tot ontwaking.

“Nee, Barbára, dit was reeds gestort.” Die naam glip maar weer uit, dis altyd onweerstaanbaar.

Babs kyk hulpsoekend na Pressly. “Hoor jy nou? En dan stuur ons pa haar om my te kom bystaan. Sy hoef dit nie te sê nie, ek weet dit.”

“En jy het vir haar seker ook ’n naampie?” vra hy.

“Niks, sy is mos die witbroodjie en niemand raak aan haar nie.”

“Ek is Brentjie. Of sommer die pipsqueak, het jy dalk vergeet?”

“Julle is heel normaal,” bevind hy. “Dit gee my hoop vir my tweetjies se geskoor. Ek hoop hulle word ook sulke gewone, gebalanseerde susters.”

Hiermee maak hy hulle albei stil; vir Brenda dalk die meeste, omdat die skielike glimp in sy persoonlike lewe so onverwags is. Sy begin sterker oor hom wonder. Getroud, het Babs gesê – hoewel mevrou Pressly blykbaar nie tuis op haar horlosie sit en kyk nie. Hou oud sou die dogtertjies wees?

“Om terug te keer na die werkstorie,” probeer sy normaal reageer, “ek is in werklikheid met verlof. Tref dit jou nie dat ek dalk regtig ’n bietjie hier wou kom rus nie, Babs? As ’n mens vir jou eie pa werk, is daar min genade.” Sy kyk na Pressly en sien die werklike teleurstelling op sy gesig. Dit klink of hy met sy kantoorsituasie diep in die sop is.

“Om die mooie jonge wewenaar Neels Mostert nie te vergeet nie,” twis Babs voort. Altyd die rebel sonder rede.

“Waar kom jy daaraan?” vra Brenda geraak. “Of wou jy hom dalk self aankeer? Jy is mos nou los.”

“Al is dit net ’n dag of twee?” Hans Pressly pleit bo-oor hulle geskoor. Hy sprei sy hande oop, palms boontoe, asof hy wil sê: Kyk, geen wapens, geen verweer. “Net tot mevrou Clutie se seun hopelik uit die noodsituasie beweeg.”

Brenda oorweeg dit. ’n Dag of twee? Hoekom nie? ’n Week of twee as dit moet? Sy sal in elk geval die eerste paar dae nodig hê om haar te oriënteer, haar tande in die roetine en werkslading te slaan.

In hierdie huisie sal sy spoedig sielsverveeld wees; en selfs al leer sy die omgewing ken, kan sy tog nie elke dag ronddrentel of in koopsentrums gaan ronddwaal om haar bonus te bestee nie. Dalk weet ek net nie hoe om vakansie te hou nie, besluit sy, en dis die hele storie.

Het sy haar onnodig deur Neels Mostert se nabyheid laat vaspen? Sy kon in die vyf jaar wat sy werk, al vyf keer oorsee gereis het, of waarheen ook al. Sy is jonk en die lewe wink. Om op Neels te sit en wag, is soos om op die volmaan te wag, en dan skuif wolke voor dit in. Wolke wat jy nie weg kan ploeg nie.

Hiervan sal haar pa tog hou, met sy teks uit die profete. Tiny Rabie vertolk hierdie seeploegbeeld as ideale motto vir die regswese. Dat die reg suiwer gehandhaaf moet word. Dis dwaas om die reg te gebruik om onreg te pleeg of aan te moedig. Dit bring jou nêrens.

Die lot van die onbekende mevrou Clutie gryp haar al hoe meer aan; ’n vrou wat nie weet of haar seun sal bly leef nie, maar wat haar nogtans bekommer oor die werk en die mense wat sy in die steek moes laat. “’n Paar dae sal my seker nie doodmaak nie,” swig sy. “Die vraag is of ek my pad sal kan vind in ’n totaal vreemde werksituasie.” Ingewikkeld seker ook, vermoed sy.

“Is dit ’n ja?” Dis die man van gesag wat praat. Duld nie vaaghede nie.

“Ja. Ek sal tydelik help. Net tydelik.” Sy was bowendien nie van plan om onbepaald van die huis af weg te wees nie. Nie noudat Neels Mostert met ’n nuwe soort bewussyn om hom begin rondkyk nie. Daar is boonop ’n troebel gevoel in haar gemoed, nie net oor haar pa se vermaning van “oopoog kies” nie, maar ook oor iets anders: Onyra Doorn, wat so gemaklik in haar plek inglip.

Was sy nie net te geredelik beskikbaar nie? Laat sy nie haar eie man in die steek nie, of is daar nou ook weer ’n aflos van mindere rang wat haar moet vervang? Dalk is die ekstra inkomste vir hom ook welkom. Almal weet dat Jack Doorn ’n goeie siel is, half Nederlands maar Suid-Afrikaans gebore, tuisgeskool in besigheid, maar nooit slinks nie. ’n Bietjie te goedvertrouend, eintlik.

Dis waarskynlik die huisvriendskap met die Mosterts wat gemaak het dat Onyra gistermôre so vanselfsprekend vir Neels met ’n “Haai, jy” kon groet. Ietwat familiêr, om die minste te sê. Teenoor Brenda ’n klein bietjie hooghartig, wat dalk te kenne moet gee dat Brenda vanweë haar pa se guns hier werk?

Hoe dit ook al sy, sy is nou hier, in haar suster se klein woonkamer saam met die baas wat in sulke diep sop is, en Hans Pressly is opsigtelik verheug oor die besluit. Hy spring op en kom tot by haar. Sy was ’n oomblik lank seker dat hy haar wil omhels. Die afstand wat sy handhaaf, verhinder hom egter om aan haar te raak. Natuurlik wou hy net haar hand gryp, hy is nie die vatterige soort nie. Dit kos geen persoonlikheidsontleder om dit vas te stel nie. Sy blote gereserveerde voorkoms verraai dit.

Kon Babs deur sy kors breek, en is daar tog ’n dieper verstandhouding tussen hulle as wat hulle laat blyk? Sy verlang na die susterskap wat hulle lewenslank verbind het, van dag een af tot nou toe, ten spyte van al hulle gestruwel. Selfs ’n vreemdeling soos Pressly kon raaksien dat hulle doodnormaal optree selfs en veral wanneer hulle in mekaar se rigting hap.

Tog is daar nie die gewone onderliggende vertroulikheid tussen haar en Babs nie. Dis of Babs agter haar oë wegkruip. Is haar pa reg, en het die egskeiding haar erger geskud as wat enigeen vermoed? Dis of hulle aan weerskante van ’n kloof staan en met die vertroude, ligte gekyf by mekaar probeer uitkom, terwyl hulle roepende stemme in die afgrond af val.

Is dit wat verknoeide verhoudinge aan ’n mens doen? Al is Babs uiterlik dieselfde, al gaan sy selfs voort met haar normale lewe en werk en ’n mate van vriendskap, soos Pressly se besoek te kenne gee, is daar die stompheid van amputasie by haar. Vandat sy die voordeur oopgemaak het, is dit daar, en Brenda wonder hoe sy self dit oor ’n lang tydperk die hoof gaan bied. Want dis waar dat sy self geamputeer voel; daar bou ligte skeidingsangs in haar op. Dan moet sy die uithelp by die Sentrum seker as ’n reddingstou beskou.

Die gedeelde kamer blyk spoedig ’n landmyn te wees. Albei ingeboude kaste is vol. Brenda het ’n goeie verskeidenheid bloeses, rompe en langbroeke saamgebring, die meeste kreukeltraag omdat sy nie strykgeriewe by Babs verwag nie. Maar katoen ook, soos die bloes wat sy aanhet en graag dikwels sou wou dra solank die warmte van die nasomer nog hou.

“Skuif my goed eenkant toe,” raai Babs argeloos aan. “Ek het nog nie kans vir regpak gehad nie, alles moes net ingeprop word.” Sy kyk afkeurend na Brenda se klere wat sy altyd as verbeeldingloos beskryf. Babs verkies, soos Magreeth, klere wat haar persoonlikheid met kleur komplementeer – “enhance”, noem sy dit, terwyl Brenda klere verkies wat nie haar persoonlikheid oorheers nie. Tog hou albei van goed aantrek, met die klem op kundige meng en pas. Maar hulle leen nie meer so veel oor en weer soos in hulle dogterjare nie. Om verstaanbare redes, soos Babs se gesig nou duidelik toon.

Brenda kla nie oor die gebrek aan ruimte nie, probeer in gedagte hou dat haar suster aan ’n instapklerekas gewoond was. Haar en Tom se tuiste was nie groot nie, maar goed beplan.

“Jy kan net sowel ophou …” bits Babs toe Brenda haar Bybel uitpak en op die klein bedkassie neersit. “As jy gestuur is om te kom kyk of ek nog op die regte weg is …”

“Jy dwaal,” sê Brenda kort. “Ek wil maar net die teks opsoek wat sê om die see te probeer ploeg, is om jou tyd en kragte te mors.”

“Wat de joos praat jy?”

“Goed, laat ek dit anders bewoord. Ek het nie gevra om by jou in die kamer te slaap nie.”

“En ek het hoegenaamd nie gevra dat jy kom nie. Erken nou maar. Daar het stories by julle aangekom. Oor my. My en Hans Pressly. En jy is afgevaardig om te kom ondersoek instel. Julle vergeet ek is vry. En byna dertig. Julle kan julle neuse maar uit my sake hou.”

“Vry, byna dertig, maar ontnugter. Dis duidelik. En waar sou ons uitvind van Hans Pressly, vra ek jou? Behalwe uit jou brief wat hom danig ophemel?”

“Die man doen goeie werk. Hy ken sy storie. Ek bewonder dit. Maar niks waaroor jy my hoef te kom oppas nie.”

“Ek het gekom omdat jy self nie huis toe kom nie. Ek is hier om jou by te staan. Huis inrig, wat ook al. Jy het nuwe verblyf, nuwe werk.”

Toe Brenda haar bedlampie doodknip, brand Babs s’n nog. Dis al laat. Babs het haar oorreed dat hulle net na spitstyd ’n bietjie rondry sodat Brenda die omgewing kan leer ken. Sy het ook ’n draai gery by die Sentrum, inderdaad gerieflik naby.

Dit was toe al diep skemer en daar was nie veel terreinlig nie. Gevolglik behou Brenda die indruk van baie bouwerk op beperkte spasie, sonder die ruimte en tuine van gewone opvoedingsinstansies. Dis boonop nie nuwe geboue nie. Alles op enkelvlak, lyk dit. Voorheen ’n fabriekswinkel of iets. “Factory outlet”, het Babs gesê, en dat skrynwerkers en messelaars onder Hans se leiding daar ingevaar het om die nodige mure en afskortings op te rig. Vir kantore, gange, klaskamers, ablusie, afgesien van ameublement en toerusting. Dit moes ’n fortuin gekos het. Brenda wonder waar hy die geld kry. Yslike lening, dalk?

Babs was gou om by te voeg dat dit wat binne die mure aangaan, vir Hans Pressly belangriker is as ’n groot terrein met ’n sportgrond en allerlei fasiliteite. “Hoewel daar darem ’n tennisbaan is,” het Babs beduie. ’n Ou woonhuis op die groot erf langsaan is gesloop, en Hans het met die nodige munisipale rompslomp die tennisbaan te koop gekry en kundig laat omhein om by die Sentrum se terrein aan te sluit.

Babs het weer sy doelstellings uitgelê. Eintlik het sy maar net die inhoud van haar omslagtige brief beaam. Hy wil dikwels uitgesakte leerders en studente op praktiese wyse vir die toekoms toerus. En Babs swymel daaroor dat hy die vergesig aan die dag gelê het om selfs ’n klein kleuter-cum-nasorgskool vir die kinders van werknemers te voorsien. Waarop Brenda gesê het: “So jammer jy het dit nie nodig nie”.

Sy lê nou op haar sy, weg van Babs af. Eers toe dié se liggie ook dood is, draai sy op haar rug en staar na die donker plafon. Hoe het sy presies in hierdie situasie beland, met ’n ouer suster wat haar koms wantrou, temperamenteel optree, soos ’n papegaai babbel om die groter stilte te verbloem, en haar bowendien onverwags en ongevraag in ’n werksituasie gedompel het?

Die dubbelpad wat vroeër vanmiddag (was dit werklik vandag?) probleme met draaiplek opgelewer het, blyk ’n bron van onafgebroke verkeer te wees. Durf sy hoop dat dit na middernag afneem? En hoekom is Babs so stil? Die hele dag nog het sy baie gepraat. Huil sy saggies onder haar beddegoed, slaap sy, pruil sy? Waar is die suster van weleer? Hoe vind sy haar? Sy het eenkeer gehoor: “Sisters got that way of talking without talking.” Nou weet sy wat haar pla: Babs het net te veel gepraat, tot sy nou skielik verstil het.

Eers heelwat later, toe Brenda al lomerig word, sê Babs onverwags vanuit haar enkelbed by die venster: “Daar is niks tussen my en Hans Pressly nie, hoor.”

“So het jy al oor en oor te kenne gegee. Ek het nie gesê daar is nie.”

“Maar jy het so gedink.”

“Ek weet nie wat ek gedink het nie. Dit maak ook nie saak nie, dis jou lewe. Jy het gou genoeg gesê, dalk te gou, maar toe maar, dat hy ’n getroude man is. Al wat ek weet, is dat hy baie lank en rustig gekuier het vir ’n man wat so min tyd en so baie probleme het as wat hy wou voorgee. Op ’n weeksmiddag. En ’n vrou en kinders tuis.”

“Ek het gesê hy is getroud, ek het nie gesê hy het ’n vrou tuis nie.” Dan, na oomblikke van oorweging: “Tom het hom van vroeër geken. En hom na die egskeiding seker gevra of hy nie vir my werk kan gee nie.”

“Hoekom sou Tom dit doen? Skei is skei. Hy is nie meer vir jou verantwoordelik nie.”

“Die heer Kilian het dalk sleg gevoel om my in die woestyn uit te stuur. Wat julle nie weet nie, is dat ek juis toe my werk moes verloor. Afskaling van personeel. So, hy wou seker verlaas vir my ’n gunsie probeer doen. Dalk sodat ek hom nie oor geld moet pla nie. Of om sy gewete te salf. Dalk is die pos nog spesiaal vir my geskep. Tevrede?”

Weer eens te veel verduidelik. “Sy vrou?” skiet Brenda ’n skoot in die donker.

“Sy het haarself afgeskryf.”

“Hoe afgeskryf?”

“Uit die samelewing, uit haar huwelik, alles.”

“Moenie in raaisels praat nie.”

“Askies, ek vergeet jy is die een wat met feite werk. Ek mos net met emosies, daarom dat ek nooit ernstig opgeneem word nie.”

Brenda lag in die donker. “Ek wil jou juis ernstig opneem, maar jy tart my moedswillig.”

“Ek weet self die minimum. Wat Tom my in koerante gewys het. In die begin, amper drie jaar terug. Breinskade. Skynbaar permanent. Geheue en begrip weg.” Pouse. “Kon ook nie weer leer lees en skryf nie, al het haar ma haar gedril.”

“Dit het tog nie in die koerante gestaan nie?” Dit kan wees dat Babs byborduur.

“Nee, Hans het dit laat glip toe ek onlangs, uit die goedheid van my vergewende hart, saam met Hans vir haar ’n tydskrif wou stuur. Oor buitelugsport, dié soort ding.”

“Genade, Babs, hoe onsensitief kan ’n vergewende hart wees?”

“Jy vra nie wat dit is wat ek moet vergewe nie?”

“Dalk wil ek nie weet nie, so los dit eers. Is die inrigting nou haar permanente tuiste?”

“Kan nie sien hoe anders nie. En nee, Hans het haar nie daar ingestop net omdat sy hom kwaad gemaak het nie.”

“Moenie belaglik wees nie. Dan kan ek net sowel dink …” Maar sy hap die woorde af, skaam haar vir wat sy wou sê: dat sy net sowel kon dink Neels het iemand gestuur om sy vrou voor die gebou raak te ry net toe sy uit haar motor klim. Dit sou klop met die ligte geskinder dat hy sy vrou om haar geld getrou het. Iets wat niemand sou kon bewys nie, want Neels en Lina was volgens alle aanduidinge ’n ideale paar.

“Hoe het dit gekom?” keer sy terug na die onderwerp van Pressly se vrou.

“Ongeluk met grotduik. Ook nie ’n ongeluk nie, haar eie skuld. Of so het die ondersoek gewys.”

“Hoe kry ’n mens so iets reg, kan ek amper vra. Daar is tog seker die strengste maatreëls.”

“Wat sy nie nagekom het nie, vermoedelik. Net sy weet, en sy kan nie sê nie. Hans nog minder, want hy was nie eers daar nie. Te diep afgegaan en te vinnig opgekom, toe kry sy wat hulle dekompressiesiekte noem. Sommer ‘The Bends’. So het ’n LO-onnie dit vir my uitgelê. Persoonlikheid kan verander. Tree bisar op. Konvulsies. So het ’n suster in neurologie my vertel.”

“Heiden, hoeveel soorte ampte ken jy dan?”

“Jy gebruik jou brein, ek my sosiale vaardighede. Ek en Tom was by dinge. Hy is mos ’n allemansvriend. Funksies. Dinees. Ek is nie so gevrek soos jy nie. Of liewer, ek was nie.”

“Dankie vir die paar vriendelike woorde.”

“Toe maar, deesdae sit ek ook soos ’n muis in ’n gat.”

Brenda voel hoe sy onder die beddegoed liggies bewe oor die lot van Hans Pressly. “Waar hoor jy die persoonlike deel? Oor mevrou Pressly? As ek dan alles moet hoor.”

“Hans het my nie veel vertel nie, as dit is wat jy probeer uitvis. Soos ek sê, het Tom my koerantberiggies gewys. En verder hoorsê.”

“So, Tom het nie net vir Pressly geken nie, maar sy vrou ook?”

“O, verseker. Maar dit moet jy hom eintlik self vra.” Galbitter.

“Hoe? Jy het hom netjies uit ons geselskap verwyder.”

“Hmf. Oor die netjies kan ons verskil. Maar ja, hy sou ewe onskuldig so bo-oor die koerant sê: ‘Jy onthou mos die Presslys, ons het een keer saam tennis en een keer koffie …’ Met botter wat nie in sy mond kan smelt nie.”

“Dalk wás daar nie botter om te smelt nie, Babs. Hoe het sy by grotduik uitgekom?”

“Sy was ’n adrenalien-junkie. Witwarm moes dit deur haar are jaag. Alles wat roekeloos is. Hoogste hoogtes en diepste dieptes. So, snorkelduik was nie meer vir haar genoeg nie. Kry toe haar sertifikaat vir grotduik. En maak ’n flop daarvan.”

“Hoe goed het Tom hulle geken?” herhaal Brenda vraend. Met Babs werk dit soms, soos met ’n hofgetuie, as jy dieselfde vraag net anders bewoord.

Babs antwoord nie direk nie. “Dit moet haar joie de vivre wees wat hom aangetrek het. Dalk was sy die soort wat hy heeltyd verkies het.”

“Jy spreek dit verkeerd uit, maar toe maar.”

“Hoewel Frans ken jy altemit? Kom ons nie al twee van Dennedal af nie?”

“Ek hou net my ore oop. Maar kom nou, Babs, Tom sou jou nie gekies het as hy nie van jou soort gehou het nie.”

“Sê wie? Hy sit toe met hierdie Hompie Kedompie wat nooit in die gimklas oor die perd kon spring nie.”

“Jy praat nonsens. Hy kon nooit sy hande van jou lyf af hou nie.”

“Ja, nè, om te dink daar was so ’n tyd.”

“Volgens jou onthou mevrou Pressly niks. Waarom sou jý iets negatiefs oor haar wou onthou, Babs?”

“Omdat my brein niks makeer nie.”

“En Pressly, hoe het Tom hom leer ken?”

“Tom het die kantoormasjiene nagesien. Daar by die privaatskool waar Hans toe op die personeel was. Naby ons Magnolia Cottage.” Sy swyg stomp, hervat dan in ’n dowwe stem: “Tom maak mos met almal vriende. So vra hy toe al geselsende wat die moontlikheid is dat ek en hy die skool se uitstekende tennisbaan mag gebruik. Nie ’n gemors soos hier by die Sentrum nie, hoor. Maar Hans het toestemming bewimpel. So het ons vier eenkeer saam daar gespeel. Hy en Tom het nooit dik vriende geword nie. Om redes van Tom se kant wat ek later sou verstaan. ’n Ou maak nie vriende met jou lady lover se man nie.”

Dis net te blatant, en Brenda voel hoe haar liggaam van skok verstyf. “Is dit feite of is dit jou persepsie, Babs?”

“Intuïsie?” bied Babs aan.

“Maar hy was nog vriende genoeg met Pressly dat dié jou ’n pos kon aanbied.”

“Een hand was die ander,” skimp Babs duister.

“Loop maar lig,” waarsku Brenda, “julle deel alreeds ’n stukkie geskiedenis.”

“Wat impliseer jy? ’n Vryery? Die man het genoeg moeilikheid, met sy vrou se toestand. Moet boonop veg om die kinders te behou.”

“Veg, teen wie?”

“Die skoonma wil hulle by haar kry.”

“Nie maklik nie,” reken Brenda. “Uit ’n regsoogpunt.” Sy wil liefs nie by Pressly se sake betrokke begin voel nie. Dit klink te donker en ingewikkeld.

Maar Babs is op die onthoupad en brei self uit: “Ek het vermoed Tom het iemand, iewers. En dinge het in Hans Pressly se vrou se rigting beduie.” Wrewel sluip haar stem binne: “Ek het dit stopgesit. Of so het ek gedink.”

“Die tipiese jaloerse vroutjie. Regtig, Babs …”

“Bly stil oor iets waarvan jy niks weet nie. Jy is maar nog net soos kleintyd, ’n regte snip.”

Brenda onderdruk ’n giggel. Regressie, begryp sy. ’n Terugglip in die veilige kindertyd. Sy gun Babs die rondte, maar bly nog oor Pressly wonder. Is sy vrou se “toestand” regtig so erg dat hulle vervreem moet lewe? Sy het in ’n prokureurskantoor genoeg te doen gehad met alle moontlike redes vir vervreemding. Soos: Hy is mal in sy kop. Of: Haar kop raas.

Waar presies is mevrou Pressly? Sy raai, en sy vermoed sy raai reg, dat Pressly se eie dogtertjies ook in sy kleuterskool is. Dalk was hulle die spoorslag om dit op die been te bring. En hoekom sal sy aanhou met wonder, ten spyte van haar weerstand?

Sy gaan hom uithelp, en dis al. Iets bly in haar gedagtes krap, en dis daardie “Of so het ek gedink”. Wat het Babs bedoel? Moet sy haar vra? Nee, nie nou al nie, dalk later.

Totdat die slaap oorneem, hang die stilte swaar tussen die twee enkelbeddens. Brenda is gewoond aan stilte in die straat waar hulle op Dennedal woon, maar hier is voorlopig net geraas. Hewige verkeer, ook swaar verkeer van groot voertuie, ronk dermate dat dit voel of die wiele bo-oor jou kop loop. Van omringende eenhede is daar menige soorte binnegeraas van stemme en televisie of musiek.

Dis asof sy en haar suster hulle op ’n eindeloos deinende see bevind, op golwinge wat onkeerbaar aanswel. Ploeg die see met osse. Hoe dwaas. Haar koms hierheen, om Babs by te staan, haar instemming om Hans Pressly by die werk uit te help. Is dit bestem, of verspilde kragte? Het sy reg geoordeel, reg gedoen?

Een ding is seker: Daar lê vermoedelik veel, veel meer agter Babs en Tom se egskeiding as wat enigeen tuis sou kon vermoed. En dieselfde geld Babs en Hans Pressly se vriendskap, as jy dit so kan noem. Twee eenders verontregtes wat hulle saamskaar?

Eers toe die straat tog stiller raak en ’n nagwind teen die vensters ruis soos in die dennebome van haar tuisdorp – indringers glo, maar skeppers van atmosfeer – sak Brenda se spanning langsaam weg.

Net tot die son weer opkom, vermoed sy. Sy het die instinktiewe gevoel dat sy haar voet op ’n pad geplaas het waarvan sy liewer moes wegbly.

Louisa du Toit Omnibus 12

Подняться наверх