Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 12 - Louisa du Toit - Страница 5
2
Оглавление“Hier is ons nou by die Sentrum,” sê Babs, asof Brenda dit nie weet nie. Sy is immers gisteraand reeds op ’n verkenningstog hierlangs geneem. Wou Babs voorkom dat haar suster teleurgesteld lyk as sy dit die eerste keer in daglig sien? “Welkom by die ‘motley crowd’.” Babs beduie na die jongmense van allerlei ouderdom en met eie haarstyl en kleredrag, meestal denimbroek en T-hemp. Geen uniform, dus.
Brenda sug nietemin verlig. “Dankie. Dis ook al iets om hier te wees.”
“Hoe so?”
“Jy ry verskriklik, Babs.” Eers toe die woorde uit is, onthou sy al haar pa se opdragte. Dat sy Babs tog haar selfbeeld weer moet help opbou, want dié is gewoonlik laag na ’n egskeiding, en haar nie met allerlei skuldgevoelens moet beswaar nie. Maar kan dit dan so erg wees dat ’n mens links flikker en regs draai?
“Jy ken nie hierdie stadsverkeer nie,” sê Babs, wat dit ook al moet beteken. “En jy het my dan so haastig gemaak met jou obsessie om betyds te wees.”
“Neem jy my kwalik?” Sy wou eintlik nog vroeër hier aangekom het, sodra dit oopgesluit is, om die kantoor te verken waar sy in die spore van ’n ingewyde moet trap. Nou is daar reeds ’n gewemel.
Pressly moet voorwaar visie hê, om so ’n “motley crowd” te lei en te rig. Vir so ’n taak moet jy honger wees, ook honger om jou eie ding te doen. Almal lyk nie juis begeester nie, is dalk aan die nek hierheen gedwing. Het sy willens en wetens haar kop in ’n byenes gedruk?
Toe sy gisternamiddag, nadat Pressly weg is, huis toe bel om te berig dat sy veilig aangekom het, en ook dat sy tydelik by Babs se plek sal werk, het haar pa heel tevrede geklink. “Dan kan jy des te beter ’n ogie oor haar hou, Sussa. Dis net, ek het gedink jy moet ’n bietjie rus ook. Ek jaag jou maar goed rond, en vergeet nie van Neels nie.”
Net sy sal weet van die twee stukkies ingeboude ironie in sy onskuldige opmerking. Eerstens, dat sy Neels nie moet vergeet nie. Tweedens, dat Neels haar goed rondjaag.
Tiny Rabie het dit so half argeloos gesê. En tog weet hy sekerlik meer van haar gemoedstoestand as wat hy te kenne wil gee. Dalk wou hy tot dusver net nie inmeng, oorbeskermend optree nie. Wil hy haar ’n wyer keuse gun? Is dit waarom hy haar tydelik weggestuur het? Dis nie die eerste keer dat sy dit wonder nie. Dit word trouens ’n dwanggedagte.
“Meneer Pressly is ook al hier,” sê Babs ewe deftig.
Dis te hope, dink Brenda. Sy kyk skerp na haar suster, want sy self het hom nêrens gewaar nie. Het hulle dalk deur ’n venster oogkontak gehad?
“Sy kar,” beduie Babs dan. “Het jy dit nie gister gesien toe jy aankom nie?”
“Ek was so behep om jou in jou nes op te spoor, en stilhouplek te vind, dat ek nie nog kon rondkyk nie.”
“Ek verneem hy is altyd heel eerste hier. Ek sal nie weet nie, ek is altyd half laat.” Babs lag met ’n oorblyfsel van haar vroeëre sorgeloosheid.
Tog kan Brenda, wat haar deeglik ken, agterkom dat dit net ’n skyn van opgewektheid is. Die hemel alleen weet hoe groot Babs se knou werklik is. Tiny het per telefoon berading probeer doen, maar Babs was eiewys. En Tom, wie dink aan arme Tom? Dit kan vir hom ook nie ’n piekniek wees nie.
“Hy is baie bekwaam, en ’n werkesel.” Babs laat dit klink asof sy Pressly moet verdedig, of sy aansien bou. “As hy sommer net ’n verandering wou maak, kon hy by enige akademiese instansie instap. Maar hy verkies om sy eie potjie te krap, met al die kopsere en uitgawes daaraan verbonde.”
“Hoe groot is die personeel?”
“O, ’n handvol tutors, en nog ’n handvol admin-siele en die skoonmakers en dié en daai.”
“En hoeveel studente of leerders, of hoe heet hulle?”
“O, ek weet nie, so tussen honderd en twee honderd. Genoeg om genoeg werk mee te bring.”
“Geen hostel nie?”
“Nee, nogal jammer, anders kon hy baie meer ingevat het. Meer van dié.” Babs skakel die kar af en vryf middelvinger en duim teen mekaar.
“Ek kan nie sê hy het my as ’n geldwolf getref nie,” kom Brenda op vir ’n man wat sy skaars ken.
“Wat seker moet beteken ék is ’n geldwolf,” bits Babs.
“Klim van jou perdjie af, Barbára. Jy koop graag, maar dis nie ’n halsmisdaad nie. Pa sê mos jou en Ma se hande wys dit kan nie geld hou nie.” Dis ’n ou gesinsgrap: om jou oop handpalm te wys, vingers teen mekaar, en te kyk of daar openinkies is waar die geld kan deurval.
“Kom, ek sal jou na hom toe deurvat,” bied Babs aan. Vertroulik, die “hom”, asook die bekendheid met die terrein wat ’n vaste deel van haar nuwe leefwêreld is. Brenda voel haar op die rand daarvan, hunker na die bekende tuiskantoor.
“En jy, waar is jou klaskamer of werkskamer of ding?”
Babs beduie argeloos na ’n anneksgebou regs van die hoofgebou. “My klasateljee, dankie. En moet maar nie te gou kom kyk nie, laat ek eers opruim. Anders loop dra jy weer stories aan.”
“Dis nie waarvoor ek hier is nie. Wat is daar ook so danig wat ek nie mag sien nie? Jy was nog altyd deurmekaar, maar begaaf. Om iets uit niets te skep.”
“En nou moet ek dit tot satwordens toe doen. Kuns, met die oog op herwinning en produktiwiteit. ’n Loopbaan. Bid jou aan, dis een groot gesukkel. Lyk soos ’n rommelhoop, en weinig talent onder die spul. Dis nog net weke en ek is tot hiertoe vol.” Babs trek ’n vinger oor haar strot.
Brenda beskou dit as wys om liewer min te sê, aangesien dit tog prekerig sal wees. “Jy dink hopelik nie aan tou opgooi, en dit so gou al nie,” volstaan sy.
“Natuurlik nie. Waarvan lewe ek dan? Jy moet dink die moeilikheid met Tom het my verstand aangetas.” Sy loop ’n halwe tree voor Brenda. “So erg was dit nou darem ook nie. Of dalk was dit so erg, maar die lewe gaan aan.” In die herfsoggendlug klink haar stem gesmoord. Miskien is dit maar omdat sy haar ken laat sak het. Babs se ou bekende manier van loop, heupe los, verloklik op ’n effens lomp manier.
“Mevrou Kilian, juffrou Rabie,” groet Pressly formeel toe hulle in sy kantoordeur staan. Dis meteens duidelik dat daar ’n groot skroef los is. Die vertrek is in ’n chaotiese toestand, en ’n gapende gat in die plafon verraai die hele waarheid.
“Inbraak,” knik Hans Pressly toe hulle, paslik geskok, uitvra. “Dis nou al wat ek nog op hierdie bloue Woensdag nodig het. Veral die onvervangbare bekers en trofeë.” Hy beduie na die oopgebreekte glaskas. “En tot die blinding.” Môrelig, buite salwend maar hier binne ongenadig omdat dit die kaalheid van die enkele groot venster beklemtoon, stroom oor hulle.
“En die klaskamers?” vra Babs, tog begaan oor haar sogenaamde rommelhoop.
“Nee wat, te min van waarde daar. Net my kantoor en die sekretaresses s’n het deurgeloop. Ook die personeelkamer, waar ons enigste oorspronklike skildery gevat is. Wat jou klaskamer betref, mevrou Kilian, enige inbreker sou dink daar was reeds ’n ander een voor hom.”
Dat hy op hierdie tydstip humor aan die dag kan lê, gee dalk meer van sy persoonlikheid en veerkrag te kenne as die erns wat gister oorheers het. Sy kry die idee dat hy in teerheid sal kan swig. Maar nie hier en nou, en beslis nie teenoor haar nie.
“En die balk,” beduie hy na ’n rou dwarsstreep aan die rand van die plafon. “Dit was losserig en ek wou al daarna kyk voor dit op iemand val.”
“Kry ’n skrynwerker,” raai Babs aan.
Dalk kom sy makliker oor dinge omdat haar denke in kompartemente werk. Wat ’n gawe is, reken hulle pa die prokureur, dan kwel sy haar oor een ding op ’n slag.
“Ek sal,” belowe hy. “As ek self probeer, kry ek dalk ’n balk in my oog.”
Brenda glimlag waarderend oor die tweede kwinkslag. “Waar begin ons?” vra sy prakties. “Jy het verseker al die polisie gebel.”
“Ja, hulle is op pad. Ons benodig die saaknommer vir die versekering.”
“Ek sê eers toedeldoe, my mensies wag. Skrou as ek moet help.” En hiermee ontsnap Babs ongepla.
“En ons het pas na rekenaars oorgeskakel, soos ek jou gister gesê het.” Pressly begelei Brenda stoeplangs na die kantoor direk langsaan, eweneens in chaos. Hy beduie spytig na die kaal kolle waar twee rekenaars gestaan het. “Die elektriese tikmasjien is darem oorgelos, maar niemand kan of wil meer daarop werk nie.” Inderdaad staan dit onaangetas onder die liggrys oliekleedjie.
“Dit pas my. Is die rekenaarwerk gestoor?”
“Ja, mevrou Clutie is so manies daaroor dat sy haar geheuestokkie huis toe vat. Ons kan dit so gou moontlik by haar kry.”
“En waarop oopmaak?” vra Brenda te midde van die nuuskieriges wat aangroei, hetsy ouers, personeel, leerders of werkers. Die middeljarige faktotum kyk veral geïnteresseerd na alle fisieke skade waarvoor sy handvaardigheid benodig kan word.
“Jy is reg, waarop? There’s a hole in the bucket, dear Liza.”
Dalk is die rampspoed die beste medisyne om aan die gang te kom. Die tikmasjien werk immers, al sal sy eers weer daaraan gewoond moet raak. Daar is briewe wat beantwoord moet word en waarop Pressly in potlood konsepantwoorde aangedui het. Ook ’n stapel nuwe pos wat deur die bode ingebring word, in ’n eie possak met ’n slotjie.
Daar is oproepe om te maak, waarvan hy ook ’n lysie gemaak het. Fondse waarvoor kwitansies uitgeskryf moet word. “Ek word altyd gespot oor my lysies,” sê Pressly toe Brenda haar waardering hieroor uitspreek. “Maar ons moet seker eers die sirene druk om die eerste periode te laat afskop.”
Mevrou Clutie se taak, raai Brenda, en is bly toe Pressly dit self doen. Die aardige geloei galm oor die terrein en tot in elke hoekie, sodat die omstanders onwillig verkas.
“Al wat ons nou kan doen, is om te keer dat die dag verder uitrafel,” filosofeer hy asof hy homself moed wil inpraat. “Ek sal baie bly wees, juffrou Rabie, as jy net ’n draai by die kleuterskooltjie kan maak en kyk of alles op koers is. Weet jy waar dit is?”
“Ja, ek het gesien waar die kleintjies begin maal. Naby Babs se klaskamer.”
“Kyk asseblief veral of …” Hy breek stomp af, en sy raai: sy dogtertjies. Sy knik begrypend, en hy lyk dankbaar. Hy durf hulle immers nie uitsonder of voortrek nie.
Sy is lankal terug voor die tikmasjien, waar sy te midde van polisie-bedrywighede met haar eie taak aangaan, toe sy nog terugdink aan die Pressly-dogtertjies, ongeveer ses en vier jaar oud. Die eenderse rokkies het gehelp dat sy hulle as sussies plaas. Origens lyk hulle nie sterk eenders nie, soos sy en Babs ook. Die omgekeerde geld egter, naamlik dat die oudste enetjie donkerder is, soos die pa, en die jongste een blond, seker soos die ma. Wie se idee is die eenders aantrek? Sy moet terugdink aan die bohaai toe haar ma eenkeer eenderse truie vir haar en Babs laat brei het. Die grootste teenstand was van Babs se kant, wat nie soos die “pipsqueak” wou aantrek nie. Brenda moes toe oor jare heen twee truie opdra. Besonder kleurryk, bygesê.
Pressly se tweetjies het rustig gelyk en was goed genoeg versorg. Nie onberispelik nie, veral die poniesterte, maar hulle was immers omring deur ander kleintjies wat ook nie almal uit ’n prenteboekie stap nie.
Besig met inkleur, het hulle nie veel aandag aan Brenda gegee nie sodat sy net vir die “tannie”, self ’n moeder, kon sê dat meneer Pressly net wil weet of alles reg is. Sy het wel ’n lysie van benodigdhede teruggebring, maar “Niks dringends nie, ek het gehoor van die inbraak en Meneer is seker baie besig”, sodat Brenda besluit het om self namiddag die goed te gaan koop as niemand anders kan nie.
Namiddag. Vreemde gedagte. Twee dae gelede, op die bloue Maandag, was sy nog by haar pa en Neels op kantoor, en die opstandige kroontjie teen Neels se voorkop het haar geboei terwyl sy haar verby sy oop kantoordeur haas om vroeg namiddag klaar te kry sodat sy gisteroggend nie sou hoef in te gaan nie. Hy het skaars opgekyk.
Met die forensiese span nog besig met vingerafdrukke, is daar nie tyd om personeelkamer toe te gaan vir lang pouse nie. Eintlik sien Brenda daarteen op. Nuwe, vreemde gesigte. Sy het nooit besef hoe beskut sy eintlik lewe nie. Die vreemdheid en ontwrigting oorval haar nou eers ten volle, en die tikstoel is die enigste plekkie wat reeds deur haar makgemaak is. Op hierdie oomblik is dit haar wegkruipplek. Selfs die foonoproepe is in orde, want sy hoef nie te glimlag nie, net professioneel vriendelik klink. Niemand hoef te weet dat sy haar pad deur ’n admin-oerwoud aan ’t oopbeur is nie.
Dis nogal Pressly self wat vir haar ’n koppie tee bring. “Jou suster wou, maar ek was reeds op pad hierheen. Het net gaan kyk of alles in die personeelkamer reg loop.”
“Mevrou Heunis het gebel om te sê sy sal môre weer op haar pos wees,” kan Brenda darem berig. Niemand kon oor die nuus blyer wees as sy self nie. “Sy het gehoor van mevrou Clutie se seun en kwel haar oor hoe julle hier regkom. Sy was geskok om nog van die inbraak ook te hoor.”
“Laat ek raai: Sy was veel meer geskok om van jou teenwoordigheid in haar plek te hoor. Wat mevrou Clutie se seun betref, dis glo ontsteking van die klein bloedvate, vaskulitis. Nie akute pankreatitis, wat ook ’n moontlikheid was nie.”
“Dit klink na vordering.” Wat kan beteken dat ek gouer hier kan padgee, dink sy.
“Verwys al die navrae intussen maar hospitaal toe; ons is nie ’n navraagsentrum nie.”
Sy toon is volgens haar ietwat kras vir die situasie, maar sy gaan hom nie verder omkrap nie. “Wel, mevrou Heunis is môre terug,” is al wat sy kan herhaal.
“Jammer om te sê, maar mevrou Heunis kom buitendien nie die mas op nie. As die werk haar baasraak, word sy siek.”
Brenda vererg haar en probeer dit wegsteek agter die te groot slukke tee wat sy neem. Tog voel sy dat sy hom nie daarmee kan laat wegkom nie. “Dit klink na ’n drastiese stelling. Mevrou Heunis klink vir my werklik swak.”
“Ek weet presies hoe haar siekstemmetjie klink,” lig hy haar saaklik in. “En van mense wat jou op ’n kritieke oomblik in die steek laat, kan jy my niks vertel nie, juffrou Rabie.” As nagedagte voeg hy by: “Dankie darem vir ander mense wat bereid is om te help. Bekendes en vreemdelinge. Ten koste van hulleself.”
Sy weet instinktief dat hy met “in die steek laat” nie van mevrou Heunis of selfs mevrou Clutie gepraat het nie. Daar moes iets anders, iets veel bitterder in sy lewe gebeur het, iets waarmee hierdie bottelnekdrukte van vanmôre nie eens vergelyk kan word nie. Dat dit met sy vrou se terugslag te doen het, kan sy net vermoed.
Sy weet verder dat sy pluimpie op die end ook bedoel was vir haar, wat soos ’n veldperd voorgekeer en in die tuig gedruk is.
Asof hy besef dat hy te veel gesê het, raak Pressly uiters formeel. “Ons grootste probleem is nie die inbraak en die versekerings-rompslomp nie, maar die spul uitstaande fondse.”
“Seker beter as dat fondse in ons besit gesteel sou word,” merk sy op. Sy besef dat sy die “ons” liewer moes weggelaat het. Sy is glad nie deel van sy gereelde span nie.
“Mevrou Clutie was besig met aanmanings uitstuur toe die teenspoed tref. Voorlopig moet ons nou maar kwitansies uitreik vir alles wat wel ingekom het. Gelukkig is die brandkluis nie oopgebreek nie, hoewel daar tekens van pogings is. As u so tussenin kan loskom van al die oproepe en die ander dringende werk.”
Nou weer “u”, merk Brenda op. “Ek sal dit doen,” antwoord sy bloot. Dis kwitansies vir alles onder die son: studiegeld, ekstra klasse, materiaal. Kan gelukkig met die hand gedoen word. Die elektriese tikmasjien het ’n toets of twee wat vassteek, sy het albei met ’n messie uitgelig en skoongemaak. Nou werk hulle darem weer.
Pressly se baadjie hang lankal oor sy lessenaarstoel se rugkant. Das is losgewoel. Hy dra vandag ’n pak en sy lyf sit goed daarin.
Vroegmiddag besef Brenda dat sy oortyd sal moet werk. Dis waar, hope werk pas in haar kraam, maar sy ken ’n vaste uitvalroetine.
Babs is ongeduldig toe sy na die laaste klok met haar tas in die deur kom staan. “Kom jy nou, of kom jy nie?”
“Kom haal my tog ’n bietjie later, asseblief, Babs.”
Babs uiter ’n gemaakte sug. “Waarin het ek ons laat beland deur Hans van jou te vertel? Ek het skoon vergeet jy is ’n werkesel.”
“Jy laat dit soos ’n diskwalifikasie klink.”
“Wel, kom jy nou? Ek het tog gedink jy help vanaand kos maak.”
“O ja, natuurlik. By jou en Tom het ’n mens later net wegneemkos gekry.”
“Jy weet ek sal liewer iets moois maak as iets lekkers. Ek is nie soos jy nie.”
“Net so asof ek ooit in die kombuis boer. Ma het my net makliker geroep omdat ek makliker gekom het.”
Dis Hans Pressly wat die ligte geskoor onderbreek toe hy in die deur verskyn. “Wel, susters, die moeilike dag se rug is gebreek. Een van my moeilikste by die Sentrum tot dusver.”
“Een van ons susters hier, mejuffrou Rabie, wil bly om nog te werk,” verklik Babs in haar dogtertjiestem wat sy nog maklik te voorskyn kan haal. Dieselfde stem waarmee sy selfs as jong getroude vrou nog by haar ouers kon kla: “Tom wil nou hê ons moet vanaand al ry, en Mamma wou my nog winkel toe gevat het vir ’n rok.” Dalk sou sy byvoeg, net om haar klag te anker: “Hy weet ek het niks om aan te trek nie.”
“Ek kan haar huis toe bring,” bied Pressly aan asof Brenda nie self ore het nie. “Ek sal ook nog ’n tydjie moet inbly. Ek sal vir Vicky en Pippa sommer hiernatoe laat oorbring.”
“Nee,” sê Brenda vinnig. Te vinnig. “Baie dankie, maar ek sal werk saamvat.” Sy voel eintlik dat sy genoeg van Hans Pressly gehad het vir een dag. En as die dogtertjies ook nog hier inkom, kan dit net die kroon op die oordosis plaas. Nou ja, die arme man kon seker ook nie die ekstra druk van die inbraak voorsien nie, dan kon hy meer voorsorg getref het. Sy hoop maar dat die assessor die alarmstelsel in orde bevind. Weer eens, gelukkig, nie haar probleem nie. “Ek het nog nie eers klaar uitgepak nie,” probeer sy versag.
Want sy kry die gevoel dat hy haar dophou met fyn ontleding, en dat hy elke stukkie van haar gedagtes blootlê. Belaglik, natuurlik. Hy kan nie weet wat sy dink nie. Gelukkig nie, want haar hoofgedagte is dat, as dit Neels moes wees, sy graag met hom oortyd sou werk.
“Nee, jy vat niks saam nie,” belet hy ferm. “Net die vorms vir jou tydelike aanstelling. Jammer dat ons so agterstevoor te werk moet gaan.”
“Met plesier, ek is so bang ek kry nie die joppie nie,” spot sy.
“Jy het dit reeds. Net ek besluit daaroor.” Dit lyk of hy wik en weeg en hom dan die welverdiende lof veroorloof: “Jy was ’n uitredding met die tikmasjien. Goeie ou Olivetti, en baie meer atmosfeer. Môreoggend kom die rekenaarman. En ons kry die geheuestokkie by mevrou Clutie.” Hy draai weg, praat dan oor sy skouer: “Wie se seun, terloops, buite gevaar is. Ek wil nie weet waardeur sy en haar man is nie.”
Hy kon nie betyds keer dat sy oë gevoelig word nie. En dis dieselfde man, dink Brenda, wat so ongenadig oor mevrou Heunis se ipekonders oordeel. ’n Komplekse man.
“Môre ry ons met twee karre,” mor Brenda in Babs se motor op pad huis toe.
“Nou vir wat was jy so ’n krater om nie saam met Hans te wil ry nie?”
“Omdat ek nie almal hulle sin kan gee nie, Barbára. Pa wil hê ek moet jou oppas, jy wil hê ek moet vir jou kos maak, jou danige Hans wil hê ek moet op ’n gekrokte tikmasjien twee mense se werk doen.” Sy trap denkbeeldig rem toe Babs alte naby ’n motorfietsryer verbyskuur. Dis asof Babs selfs meer verstrooid as vanoggend bestuur.
“Ek is nie jou Barbára nie,” waarsku Babs uit gewoonte. Na ’n rukkie vervolg sy: “Dis nie soseer die kosmakery nie,” en haar mond pluk vanweë die erkenning, “as, hoe sal ek sê, om die kaal voordeur oop te sluit en dis net koue meubels en toe vensters. Niemand wat saam met jou instap en vra hoe dit gaan nie. Niemand wat van jou weet nie.”
Jy kan net jouself verwyt, dink Brenda. Jy wou mos saam met die egskeidingsvlaag hol. Maar sy besef tog dat dit nie so eenvoudig kan wees nie. Verseker weet Babs se naaste mense dalk die minste. En haar belydenis klink opreg. ’n Groot weemoed vul die motor se binneruim.
Dis dieselfde weemoed wat in die woonstel luier toe hulle oopsluit. Dalk moes Babs dit liewer nie genoem het nie. Om nog ’n onbepaalde tyd hier te moet bly, voel opeens soos ’n berg wat oorgesteek moet word. Dit lyk ongesellig en deurmekaar.
“As ons iets geëet het, maak ons eers bietjie aan die kant, Babs. Jy kan sê wat jy wil.”
“Ek sê niks. Ek weet ek het beheer verloor. Of nog glad nie gekry in hierdie kaia nie. Dit help net nie om skoon te maak voor alles uitgepak is nie.”
“Ek sal help uitpak, elke dag ’n stukkie. Jy sal meer moed hê as ons twee is.”
Die stofsuig, regpak en afstof help om alles oper en ruimer te laat voel. ’n Streep son val deur die westelike venster, verkeerd geplaas, maar vier windrigtings moes gedek word om vier woninkies in te pas. En enige plek kan jou tuiste word, as jou goedjies eers uitgepak is. Maar uitpak is ’n groot taak en verg fyn beplanning.
Babs sit tot laat nog voor die televisie, toe Brenda reeds gebad het en in die bed lê en lees. Ek het vandag my malle verstand af gejaag, besluit sy. En waarvoor? Om wie te behaag? Sekerlik nie vir Pressly of Babs nie. Was dit maar om die verlange na Neels Mostert te besweer? En die onsekerheid? Sal sy ooit weet wat haar pa se presiese bedoeling was om haar juis nou so lank weg te stuur? Gaan dit net oor Babs?
Dat mense so na aan mekaar kan leef, en tog so min van mekaar weet. Ten spyte van globaal toenemende kennis en groeiende tegnologie. Dit voel of sy heeldag moes worstel om mense te begryp, en nogtans gefaal het. Hans Pressly. Dis hy wat haar ontstel, nie soseer Babs nie. En dis tog nie dat hy dit probeer doen het nie. Hy was self so onmenslik besig en gejaag.
Van waar sy lê, die kamerdeur oop, kan sy Babs skrams dophou. Sy sien hoe haar suster meermale opskrik en intens luister as daar voetstappe buite opklink of as motorligte teen die venster val. Dis asof sy dringend op iemand wag.
Pressly, dalk? Is hy tog ’n gereelde besoeker? Of wag sy op Tom? Om sewe jaar lank saam met ’n man te leef, opgeskerp te raak vir die geluid van sy voetstappe, selfs van sy asemhaling – kan jy ooit weer onbewus van hom wees?
“Kom lê tog nou maar, Babs,” gaan sy teen halftwaalf pleit. “Vee net jou punte af, moenie nog bad nie. Wie jy ook al voor wag, sal nou nie meer kom nie.”
Toe gebeur die onverwagte. Babs se humeur ontvlam. Sy spring op en kom met gebalde vuiste stelling voor Brenda inneem. “Jy skimp al weer. En dan stry jy nog dat ek agter my rug beskinder word. Julle het praatjies op Dennedal gehoor. Jy kan stry, maar ek weet julle het.”
“Babs, bedaar tog. Alle mense op Dennedal en op die res van die aarde dink eintlik net aan hulleself. Ek is nie jou vyand nie.”
Babs stamp die kalmerende hande weg. “Nee, maar ek is mos die duiwel en Tom Kilian is die engel. Praat die skinderbekke ooit daaroor dat Tom Kilian ook voete van klei kan hê?”
“Babsie …” Brenda bewe nou self van ontsteltenis. Haar suster is wel ’n emosionele entjie mens, maar so het sy nog nooit opgetree nie. Watter onnoemlike stuk pyn lê agter hierdie uitbarsting?
“Dis nou vir almal maklik om te dink ek lok vir Hans Pressly aan,” vaar Babs verder uit. “Wie dink daaraan dat ons dalk twee stukke wrakhout kan wees wat by mekaar uitgespoel het?”
“Nou dramatiseer jy. Maar jy praat waar as jy sê ons weet almal te min van mekaar. Luister, hoor hier.” Een wilde oomblik oorweeg sy dit om haar eie tevergeefse liefde te erken, aangesien Babs wel reeds daarop geskimp het. Maar sy besluit daarteen, want haar poging tot kalmering is soos ’n rietboot op ’n stormsee.
Babs ruk letterlik onder haar soekende greep uit en storm deur toe. Met vingers blind van drif sluit sy oop, strompel na buite en oor die terrein, hek se kant toe, met die gevaarlike dubbelstraat vlak buite die onbewaakte hek. Brenda het ver genoeg uitgestap om haar agterna te kyk. Sê nou maar Babs gooi haarself voor ’n vragmotor in?
Sy pluk ’n langbroek en trui bo-oor haar slaapklere aan, slof skoene aan. Onthou naelskraap om die deur agter haar toe te trek, sonder tyd om te sluit. Gelukkig vermy Babs die straat en kies die sypaadjie van beton om koersloos onder straatligte deur te vlug.
Waarheen tog? Eers duskant die eerste robot haal Brenda haar in. Albei se asem jaag toe haar hand om Babs se elmboog sluit.
“Kom terug.” Dis al wat sy sê, maar so oorredend, so teer belaai met gevoel, dat Babs willoos gehoorsaam. “Dis mos gevaarlik, so uit op die straat. Wat sal Pa en Ma sê? Jy weet ons bly in hulle oë net dogtertjies.”
Boaan elke hoë, geboë lamppaal sit ’n geel lig in sy eie skynsel. ’n Gevoel van groot verlatenheid, asof hulle alleen onder die nagtelike gewelf stap, pak vir Brenda beet. Geeneen van die voertuie wat op die snelweg verbyspoed, het erg aan hulle nie. Geeneen van die geslote deure sal oopmaak as hulle om hulp sou roep nie.
Styf gearm, hulle liggaamshitte teen mekaar, kom hulle weer by die voordeur aan. “Ons het nie eers gesluit nie,” onthou Babs dof.
“Ek was bang jy ontglip my.” Sy lei Babs binnetoe. “Kom, ek tap vir jou badwater in.” Sy gooi ’n ruim maat badskuim in, help haar suster om uit te trek en in te klim. Babs se vel is koud, haar litte stram. Die geweldige woede het haar gedreineer. Eers toe die diepwarm bad haar begin streel, kom die ewe warm trane los en rol oor haar wange.
“Hoekom moes dit alles so gebeur?” ween sy. Ja, “huil” is nie eers die regte woord nie. “Ek en Tom, Hans en Erika.”
Dis die eerste keer dat Brenda die naam van Pressly se vrou hoor, en dit gryp haar onverwags aan. Erika. ’n Naam wat adem van berglug en heidevelde. Bedrieglik, seker. Want Pressly toon niks van die heilsame inwerking van ’n vrou met so ’n naam nie. Hy is ’n dolende alleenloper. Hy dra rampsaligheid soos ’n onsigbare kleed om hom, ten spyte van sy bekwaamheid.
Sy brand om te weet waarom Babs die vier name saam ingespan het. Maar dalk moet sy liewer wag tot Babs self praat. Dis na middernag en hulle is albei moeg, veral Babs na haar emosionele storm. Sy neem op die kale houtbankie plaas. Sy en Babs het dikwels saam gebad om warm water te spaar. Die Rabies lewe gerieflik maar nooit spandabel nie. Dus ken hulle twee mekaar se naakte liggame, maar sy kyk met nuwe oë na Babs. Sy lê met toe oë agteroor in die warm water. Nie spesifiek ’n nimf nie, eerder ’n Rubens-skildery. Ietwat oorbedeeld by bors en heupe, maar in proporsie. ’n Volryp jong vrou, in wie Tom Kilian tog veel behae moes gehad het.
Hoekom het hy haar so maklik laat gaan? Of het hy geroei en gestoei?
’n Derde persoon? Tog dalk Hans Pressly? Maar nee, ’n mens kan met ’n stok aanvoel dat die verhouding tussen die twee nie smeulend is nie. Nog nie, in elk geval. Maar hulle is op soek na moeilikheid; albei eensaam, ontnugter.
Sy bring Babs se slaapklere, hang die handdoek om haar toe sy uitklim. Dan lag sy meteens. “Weet jy wat? Ek slaap nou maar die tweede aand by jou, en ek gaan vir die derde keer in die bed klim.”
“Ek is jammer, dis my skuld. Jy moet seker dink ek is koekoes. Jy het ook g’n piekniek gehad vandat jy gister hier aangekom het nie. Ek sou in my spore omdraai as ek jy is. Nou het ek nog Pressly se krisis ook op jou afgelaai.”
“Dis werk. Ek hou van werk. Mits ek van die werk hou, jy verstaan wat ek bedoel. Ek sou nie kunswerke uit rommel kon bou soos jy nie. Kom, bed toe met jou. En g’n stuk geselsery nie, dit gaan ons net wakker hou.”
Tog, toe hulle versorg langs mekaar in die enkelbeddens lê, die bedlampies nog aan sodat die melkige gloed oor hulle skyn, dink Brenda aan hulle donker-gesprek van gisteraand: oor hoe Babs Tom se beheptheid met die Presslys “stopgesit” het. En die veelseggende: “So het ek gedink”.
Sal sy ooit weet wat Babs bedoel het? Vra sal sy nie. In elk geval nie nou nie. ’n Dodelike vermoeidheid neem van haar besit.
Dan, onverwags en byna telepaties, beantwoord Babs self die knellende vraag. “Soos ek sê, ek dog ek het dit stopgesit, Tom se beheptheid met die Presslys. Kort voor Erika Pressly se ongeluk loop ons hulle in ’n winkelsentrum raak. Pressly dra die kleinste een op sy nek. Ons het almal los tyd, en ons drink saam iets in ’n koffiekroeg. So, dit het my genoeg tyd gegee om …” Swye, tot sy voortstu: “Jy het hulle vandag gesien. Het dit jou nie opgeval dat daai kleintjie nes Tom lyk nie?”
Brenda ruk van die skrik, maar bedaar net so gou. Kalm bly. Help vir Babs oor die ding kom, is die opdrag waarmee Sussa gestuur is. ’n Vrek moeilike taak, maar sy is nou daarin, en sommer diep ook. “O, verseker,” beaam sy. “Daar is tien of twaalf kindertjies, van wie die helfte dogtertjies, van wie die helfte blond. Tom-blond. Hy moes ’n baie besige man gewees het.”
“Spot maar. Hoor wat ek jou sê. Hoekom anders wou Tom bly uitstel met ’n gesin? Ek glo vas hy was bang ons kry ’n dogtertjie wat nes Pippa Pressly lyk.”
“Het jy hom daaroor gekonfronteer?”
“Natuurlik nie, sou hy dit miskien erken?” Babs stut haar op haar elmboog onder die beddegoed. “Kort na die ontmoeting in die koopsentrum het Hans se vrou die terugslag gehad, en ek raai hulle hele lewe het uitmekaargeval. Dit sou onsensitief van my wees om toe die saak met Tom op te vat.”
“En die skeigogga het jou alreeds gebyt. Glo my, ek sien dit aldag, daai gogga byt vaster as ’n bosluis.”
“Aag, sjaddap, jy het self geen idee van ’n huwelik nie. Dankie vir die hulp vanaand, en die bad en alles, maar ek het jou nie verder nodig nie. Jy kan môre terug huis toe.”
Dit klink bekend en veilig genoeg, soos in die goeie ou dae. “Graag gedaan, dankie. Maar jy vergeet jy het my in ’n tydelike pos ingeboelie.”
“Hans Pressly sal wel regkom.”
“Hoe? En ek los nie ’n ding halfpad nie, jy weet dit.”
Gelukkig hou die gepraat op, en Brenda dink: Kon ek maar môre terugry. Hoe sy dit sal uithou in hierdie beknopte huisie, weet sy nie. Sy verlang hewig na haar bekende ruim ouerhuis, ryp ingeleef, gerieflik. Saans word dit ’n korf, die vertrekke soos goue selle wat saamgesnoer word deur die lewens wat daarin gevoer word.
Tydskrifte en boeke wat oral rondlê. Skynbaar ordeloos saamgegooi is die vorme, kussings, kleedjies en sofas. En veral poewe, die opgestopte vloerkussings waarvan Magreeth elke keer ’n ander kleur by ’n robot koop, met Tiny wat ergerlik word oor die geldmors. Hy ken sy vrou se bandelose voorliefde vir kleur. Brenda glimlag as sy dink aan Magreeth se name vir allerlei skakerings: blourooi, skroeilemoen, vuurklip, cabernet, oesterpienk, pêrelgrys, dennegroen, eiervrug, kakao. Sowel vrou as huis is ’n geordende reënboog.
Inderdaad nie ’n huis wat ’n glanstydskrif sal haal, soos Neels Mostert s’n nie, maar wie sal uiteindelik saam met hom in daardie huis wil woon? Watter nuwe vrou sal tevrede wees om in Lina se stylvoetspoor te trap? En vir Neels, hoe sal dit wees, met herinneringe so sterk om elke hoek en draai? Liewer dan ’n woonstel elders in Dennedal, ’n plek wat mens soos ’n nessie kan inrig.
Waar koers my gedagtes heen? roep Brenda haarself tot verantwoording. Is dit desperaatheid, voorbarigheid, of bloot hoop?
Sy kry geen antwoord van die druisende verkeer en die nagstad wat soos ’n katswink insek lê en kramp nie. Net voordat sy aan die slaap raak, sien sy in ’n flits van helderheid die twee dogtertjies van Pressly. Die oudste donker enetjie, die vierjarige blondetjie. Is Babs se suspisie ongegrond en selfs laakbaar?
Weet Pressly hoegenaamd daarvan en, indien wel, hoe raak dit hom? Hoe lyk sy vrou? Hoe tree sy op? Hoe voel hy oor haar soos sy nou is, wat gaan in sy lewe aan? Saam was hulle minnaars, jong ouers, idealiste, en ook ontnugterdes. Hoe versorg hy die kinders tuis, en hoe lyk sy huis? Sy weet net dis nie ver van Magnolia Cottage af nie.
Die raaisel rondom die mens Hans Pressly verdiep. Miskien sal sy hom na dese ’n nog ontstellender man as oor die afgelope twee dae vind.
Dit moet halftwee se kant wees toe sy eindelik vaak word.