Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 12 - Louisa du Toit - Страница 6

3

Оглавление

So ’n woeste twee weke het ek nog nooit belewe nie, dink Brenda toe sy, behalwe noodsaaklike yskasgoedjies, twee bakkies jogurt by die kafeewinkel koop. Dit kan môre by die Sentrum haar en Babs se middagete vorm, saam met die growwe toebroodjies wat sy gou leer insit het. Anders word jy so honger soos ’n raaf, en dis nie ’n goeie werksgenoot nie.

Sy verlang innig na die orde en bekende ritme van die prokureurskantoor tuis. Daar was ’n yskas met allerlei te ete, en op gereelde basis het Magreeth Rabie binnegeval met nuwe voorraad en om te kyk na die vervaldatum op bestaande houers. “Jy kyk die grootste een mis,” sou Tiny sê en met sy duim op sy bors druk.

En die kantoor se bekende “regs-jargon”, soos Neels Mostert die ingewyde vaktaal noem. Gebruiklike frases, vrae, antwoorde. Neels naby haar, die reuk van sy skeermiddel en vae sigaretrook. Hy is ’n netjiese roker en doen dit buite, of glad nie. “Hier is jou tee, Neels.” “Teken net hierdie kontrak, Neels.” “Weet jy hoe laat my pa hof toe gaan, Neels?” Woorde, hopelose dobbertjies wat wel aandui dat daar iets onder die donker oseaan is, maar nie prysgee wat nie.

Hy het ’n besondere manier waarop hy haar naam uitspreek, amper soos “Berenda”. Met ’n sagte “r” en ’n talming op die tweede “e”. Haar familie sê dit anders, meesal met ’n harderige “r”, wat eintlik beteken: “Waar’s jy, kom gou hier.” Meesal om met iets te help, behalwe uit Babs se mond, dan het dit beteken: “Het jy al weer van my klere sonder my toestemming gebruik?”

Maar as dit andersom gebeur, het Babs vir die vale gestry: “Ek het g’n daai absoluut kleurlose streeptop van jou geleen nie en as jy my parfuum daaraan ruik, moet jy ’n oor-, neus- en keeldokter gaan spreek.” “O, nè. En jy ’n oogdokter om te bevestig dat jy kleurblind is.” Intussen het hulle en Magreeth al die jare rustig in mekaar se kaste oortree, almal min of meer gevlei as een se smaak die ander een geval, en oor die eenderse slankheid. Dis met die tyd dat Brenda haar vanaf haar ma se kleurrykheid tot die gedempter kleure begin wend het.

Toe sy vanaf die kitswinkel by die Edelhof-hek indraai, dankbaar dat sy die nabye omgewing so gou so goed leer ken het, voel sy plotseling blootgestel. Sy weet nie hoekom nie. Hierdie gevoel het sy reeds meer as een keer sedert haar aankoms gekry.

Sonder om haar instink te ontken, maak sy dit elke keer af as ’n nuuskierige kwartet-buurman wat haar deur ’n gordynskreef beloer. Of iemand wat konstant vanaf die straatkant die kompleks dophou, dalk met die hoop om iets te huur of te koop te sien. Dit kan ’n eiendomsagent wees.

Of ten slotte tog pure verbeelding. Instink help ’n mens ’n entjie ver, maar dit kan jou mislei as jy in ’n emosioneel onstabiele situasie is. Wie op aarde sal haar dophou, en om watter rede? Dis die vreemdheid en die gejaagde tempo wat haar aantas. Meer as twee weke is ’n lang tyd om van jou bekende tuiste af weg te wees, veral as jy baie huisgebonde is. Hulle moet ’n naweek huis toe gaan, sy en Babs. Net om perspektief te herwin. Sommer hierdie naweek. Vrydag. Oormôre.

Sy sal Babs ompraat. Dié is steeks. “Ek het tog nie lus vir preke nie,” is haar verweer. Dis waar, hulle ouers het voor die egskeiding veel met Babs gedebatteer en geargumenteer, al was dit meestal telefonies. Maar nou is dit alles verby. Hoekom sal hulle verder met Babs wou sukkel? Dit kan haar net goed doen om ’n bietjie huis toe te gaan.

Sy noem dit terstond aan Babs toe sy die sakkie inkope op die eetluik neersit. Oor die algemeen is die plekkie nou leefbaarder. So tussendeur het sy vir Babs help uitpak, regskik, skoonmaak. Babs se matvierkant wat opgerol teen die muur gelê het, is oopgerol. Nagemaak Persies, maar wat maak dit saak? Wat tel kultuur in hierdie afgewaterde substituuttuiste? Ook die skildery wat ’n trougeskenk van hulle ouers was, is opgehang. Dis ’n landskap met vervloeiende lyne en jubelende kleur, en dit open as ’t ware ’n poort vanuit die andersins blinde muur.

Babs is besig om vier snye brood in die rooster te druk toe Brenda heel laaste die jogurt neerplak asof sy daarmee ’n verklaring doen. “Vir môre by die werk,” sê sy, en volg vinnig op: “En oormôre, net na uitvaltyd, gaan ek en jy vir die naweek huis toe, Babs. Ons sit sommer die oggend al klaar ons tassies in die kar.”

“Ek kan regtig nie. Het jy crème fraîche gekry?”

“Ja-ja-ja, jy kan jou toast daarin versmoor. En natuurlik kan jy gaan. Wat het jy sodanig hier aan die gang? Net mooi niks.”

“Danksy jou, wat my sosiale roetine kom beduiwel het.”

“Kom nou, jy kan jouself dinge wysmaak, maar nie vir my nie. Jy het g’n sosiale roetine om jou lewe te red nie. Jy was lank laas tuis. Voor die egskeiding, om presies te wees. Pa of Ma bel nou al elke aand om te soebat. Hulle gee tot die petrol.”

“Ek het vir Hans genooi om Vrydagaand hier te eet,” erken Babs.

Ergernis stuif in Brenda op. Sy probeer dit ten alle koste wegsteek. Na Babs se uitbarsting van daardie aand is sy versigtig om nie weer so iets te ontketen nie. Sy kry die gevoel dat dit net die oortjies van die seekoei was. Babs is dalk nader aan ’n emosionele ineenstorting as wat sy self besef. “Hy kan een aand in volgende week kom, dan help ek jou met die ete,” probeer sy ’n kompromie tref. “Dan bring ons sommer ’n skaapboud van Dennedal se slaghuis af saam.”

Of sy dan nog by Hans Pressly se Sentrum sal moet aflos, weet sy nie. Sodra mevrou Clutie se seun na ’n saal geskuif word, sal sy seker terugkeer. Pressly het haar glo gerusgestel dat alles onder beheer is. Sy het heel gou die geheuestokkie gebring, en Brenda vind haar ’n uitmuntende mens. Die nuwe rekenaars werk en alles is weer op koers na die inbraak.

Die jong Edward Clutie woon glo sedert begin vanjaar by sy werkende ouers in die huis. Neem die huishouding waar, kook die kos, doen alles. Hy het sy werk bedank in afwagting van sy huwelik. Sy verloofde sou daarvoor uit Thailand kom, waar sy Engels onderrig en vir hulle ’n neseier bymekaar help maak.

Nou is hulle planne totaal in die war, en sy verloofde is voortydig op pad huis toe om hom by te staan. “As sy hier is, sal alles regkom,” het mevrou Clutie opreg gesê. “Iets doen hy reg, want sy is mal oor hom. Maar nou is sy mal van bekommernis.”

Hoe besielend, het Brenda gedink, om so ’n mooi, skoon liefdesverhaal te hoor. In elk geval, sodra die meisie hier is, sal sy die las van huishouding en hospitaalbesoeke help dra. Die vraag is egter of Elsa Heunis nog lank sal uithou, want dit lyk of Pressly sy mes vir haar in het.

“Jy help my buitendien Vrydagaand met die ete,” verklaar Babs. “Ek wil iets ordentliks daarvan maak. Ek het hopeloos te lank laas onthaal. Ek skuld Hans iets oor hierdie werk wat hy vir my geskep het. Of Tom nou iets daarmee te doen het of nie.”

“Hy baat mos ook daarby. Ek is seker hy verwag nie vergoeding nie.”

“Dis nie vergoeding nie, net ’n gebaar.”

“Jy kan net so koppig soos Ma wees. Pa is kastig die voorskriftelike een, maar sowaar. Soos die keer toe sy met mag en mening ’n monk’s bench van stinkhout wou hê.”

Babs moet giggel. “Sal ek dit vergeet. Pa bestel een vanaf Knysna, en toe is sy baie ontevrede.”

“Ja, want sy het eintlik aan ’n jonkmanskas gedink.” Tot vandag is die pragtige bankie wat ook tafeltjie of kis kan wees, ’n steen des aanstoots. Soos Magreeth sê: “Vir niks goed nie. Kastig ’n love seat, maar te klein vir opsit.” Want monnike sit nie op nie, het Tiny haar herinner. Gevolglik kan Magreeth nooit by ’n pandjieswinkel verbyloop nie, want sy glo sy sal een goeie dag ’n jonkmanskas daar raakloop. Van stinkhout, ja, en spotgoedkoop.

“Nou goed,” skik Brenda, omdat sy besef verdere teenpraat sal Babs nie van plan laat verander nie. “Ek help jou môreaand met die ete, op een voorwaarde: Ons ry Saterdag. Ons staan vyfuur op, dan is ons negeuur daar.”

“Vyfuur,” kreun Babs. “Nou ja, goed dan. Jou kar, en jy bestuur, ek slaap verder op die agtersitplek.”

“Jy kan. Maar g’n kullery nie, hoor, Barbára. As jy nie Saterdag halfses reg is om te ry nie, sleep ek jou in jou nagkabaai uit. Weet jy wat Pa anderdag gesê het?”

“Pa sê baie dinge, dis sy werk.”

“Hy het gesê die huis waarin jy kinders grootgemaak het, kan die eensaamste plek word as daardie kinders die huis verlaat.”

“Dit moet tog gebeur. So, wat is die lessie? Moenie kinders kry nie, of moet hulle nie laat grootword nie?”

“Ek hoop nie jy sê so iets voor hulle nie.”

“Ja, ja, ek onthou van ons boetie. Ek was daar. Jy was nog ’n bobbejaantjie in die berge. Ek was hulle lig en troos.”

“Reg so. Hulle lig en troos sal vroeg genoeg haar alie uit die bed kry.”

Vrydagmôre by die sentrum is Hans Pressly alles behalwe die soete belofte van ’n aangename tafelgenoot. As hy ooit onthou dat hy genooi is, bygesê. Hy is, om die waarheid te sê, in ’n moeilike bui. Mevrou Heunis trek groot oë vir Brenda nadat hy kom kyf het oor papiervoorraad wat volgens hom misbruik is.

“Dis oor hy sonder vrou is dat hy so befoeterd is,” verklaar sy toe sy en Brenda weer alleen is.

Dis asof ’n groot hand Brenda op die bors druk. Sy het nie geweet Pressly se sake lê hier rond nie. Allemansgoed. Pyn, ter wille van hom, skiet deur haar. Al weet sy steeds bitter min van sy omstandighede en veral van sy vrou en huwelik, is sy tog geraak.

“Ek word sommer weer siek,” vervolg Elsa. “Maar netnou skop hy my regtig uit, veral met jou hierso. Jy is glad te bekwaam vir my om gerus te voel.”

“Hy het deur jou ipekonders gesien, dis al,” antwoord Brenda onsimpatiek.

“Dit werk met my man,” troef Elsa argeloos en bekyk haar naels.

“Meneer Pressly dra die tjekboek. En of ek nou hier is of nie, hy kan duisend ander kry as hy adverteer.”

Sonder dat hulle weet, het Pressly teruggekeer met nog iets wat hy gedoen wil hê. Die wete dat hy hulle op skindery betrap het, is verlammend. Hoeveel het hy gehoor?

Hy kan nie anders as om hulle verleentheid raak te sien nie, daarom merk hy koel op: “Steur julle nie aan my teenwoordigheid nie, verbeel julle ek is die Olivetti-agent.”

Sonder ’n woord steek Brenda haar hand uit om die werk van hom te ontvang. Weer eens is sy notas daarop ’n groot hulp en hoef sy nie uit te vra of hy te verduidelik nie.

Stil soos hy gekom het, verkas hy weer na sy kantoor. Laat hy tog net nie vanaand daarna verwys nie, hoop sy desperaat. Sy moet hom maar vertrou dat hy gentleman genoeg is om ’n sluier daaroor te trek.

Babs en Brenda het nog altyd vasgesit as dit by kosmaak en tafeldek kom. Vanaand is Brenda bly daaroor. Dit wys dat Babs se emosionele toestand begin stabiliseer. Die afgelope twee weke het sy meermale gesê: “Maak tog maar waarvoor jy lus is,” of, “Toe maar, ek gee nie om nie.”

Vanaand tree sy egter soos van ouds op; dit wil sê, rig kosgewys self nie veel uit nie, maar vind fout met alles wat deur iemand anders uitgerig word. Sy is nogtans goed daarmee om die tafel interessant te dek. Die rangskikking in die middel van die klein ronde tafel bestaan uit ’n geel pynappel met die skutblare boontoe, met langsaan ’n groen peer en goudgesproeide keramiek-paddatjie. Brenda skud laggend haar kop. “Jý darem, Barbára. Jy het iewers ’n magneetjie.”

“En jy dan? Veral as jy so opgewek is soos nou. Is dit oor môre se huistoeganery?”

“Ek skat so, ja.” Hoe graag sou sy geheel en al teruggaan. Die vooruitsig om net vir twee halwe dae te gaan, is nogtans genoeg om haar op te kikker. Toe sy huis toe bel om hulle voorneme te kenne te gee, het haar pa haar verras. Bly en opgewonde oor die beoogde kuier, het hy meteens begin beplan. “Dan braai ons Saterdagaand. Ek sal by Mamma hoor. Dalk vra ek vir Neels en die Doorns, of hoe?”

Dat Onyra Doorn ook daar sal wees, is ’n teleurstelling. Tog, as dit kan verseker dat Neels ook kom, sal sy haar versoen. Huisvriende met Jack en Onyra, mos. En miskien kan sy hulle dan goed dophou en bo alle twyfel vasstel dat haar vermoedens oor Onyra se flirterigheid met Neels totaal uit die lug gegryp is.

Babs soek desperaat na die boks met glase. “Hans het gesê hy sal ’n bottel rooi bring. Na hy eers gevra het wit of rooi, toe sê ek Merlot. Sal mos reg wees?”

“Ja, Merlot werk oral en altyd vir almal. Het jy geweet dit beteken ‘Little Blackbird’? Merle. Merel.” Eintlik wonder sy: Wanneer het Babs en Pressly dit bespreek? Was dit tydens een van sy vinnige draaie by die kleuterkamer, soos hy skynbaar meermale doen, ’n besorgde vader boweal? Met Babs se “klasateljee” vlakby?

“Nee, moes ek weet? A, hierso. Ek vryf dit gou op. Is jy orraait in die kombuis?” Babs het darem die sjokoladesous vir die roomys gemaak, haar eie onhebbelik verleidelike resep wat kondensmelk en regte sjokolade bevat.

“Ja, die tjips is reg om in die diepbraaier te kom.” Sy verwonder haar vlugtig dat Babs dit gekonfiskeer gekry het, aangesien Tom lief was om enigiets te diepbraai. “Slaai is halfpad. Filet is gereed.”

“Het jy olyfolietjies en suurlemoensappies opgesit?”

“Babs, ek weet wat om te doen.”

“En heel, heel laaste in die pan,” maan Babs bloot uit beginsel. “Dit moenie ’n oomblik staan voor ons begin eet nie.”

“Nou klink jy nes Ma.” En dit, weer, is heerlik bekend. Magreeth voel sterk oor haar stukkie dames-beeshaas, wat haar man tergend “hasievleis” noem. Magreeth het hulle die vyf vingerpuntstappe geleer om die gaarmaaktyd te bepaal. Druk die of daai vingerpunt teen die duim, en bepaal die fermheid van die duim se dikvleis.

Dalk, ja, is Babs nou vinnig op pad na heling, wat sal beteken dat sy nie meer hoef bygestaan te word nie, wat verder beteken dat Sussa kan teruggaan na waar sy hoort en waar haar hart lê.

Babs se volgende woorde vernietig egter die voorneme. “Jy moenie gou teruggaan nie, Brentjie. Dis lekker om jou hier te hê. Ek besef nou dat ek naastenby van my wysie af was.”

“Moenie jou eie herstelkrag onderskat nie. Ek was maar net ’n klankbord, dis al.”

“Maar jy sal bly so lank soos wat jy kan?”

En hoe lank is dit? As elke enkele oomblik weg van Neels Mostert een oomblik te lank kan wees? Hy is in hierdie stadium die mees hubare vrygesel op die dorp, en moontlik ver buite die grense ook. Onyra Doorn is getroud, wel sonder kinders, maar sal sy die huwelik in haar pad laat staan?

Kinders. Meteens onthou sy om te vra: “Hans Pressly se kinders. Het jy onthou om hulle te nooi? Of sal hy hulle self bring?”

“Nee, ek het nie en nee, hy sal hulle nie self bring nie.”

“Nou bel dan gou.”

“Is jy gepik? ’n Aangename aandjie so opmors? Hulle sal aan die paddatjie wil vat en die pynappel wil eet.”

“Jy praat of dit ’n romantiese rendezvous is,” merk Brenda gesteurd op. “My liewe mens, jy werk vir die man. En wat moet hy altemit vanaand met hulle doen?”

“Seker maar wat hy doen as hy laat moet werk, of saans moet uit.”

“By wie los hy hulle? Het jy ooit probeer uitvind?”

“Ja, hy het ’n halfsuster, maar ek sal haar eerder ’n een en ’n half suster noem. Omvang gesproke. Die ou dierasie staan hom voltyds by. Kom soms die kinders afhaal en by sy huis bly. Hy is baie gesteld op hulle sorg.” Babs dink ’n oomblik na en voeg dan venynig by: “En hy behandel nogal die twee presies eenders.”

“Natuurlik, hoe anders? As jou vermoede ooit waar is. Of was dit ’n handige voorwendsel om te skei? Het die huwelik jou net geknyp?”

“Ons is al ’n keer deur die onderwerp, onthou?” vra Babs koel.

Het sy nou ’n gemors van die aand gemaak deur Pressly se kinders op te haal? Net een verkeerde skuif, en Babs gly tien skuiwe agteruit. Met Pressly wat buitendien vandag in ’n hopelose bui was, kan die ete net ’n lekker floppie word. Die menslike faktor – loop jy jou altyd daarteen vas?

Dat juis die menslike faktor ook af en toe ’n bonus kan bewerkstellig, besef Brenda egter spoedig. Sy is besig met die filet en aartappelskyfies en ’n heerlike geur van warm olie vul die woonstel toe Pressly opdaag. Toe hy klop, skree Babs bra onvroulik uit die slaapkamer, waar sy besig is om haar mooi te maak: “Hans, as dit jy is, kom in, dis oop!” Hulle sluit nie so stiptelik noudat hulle twee is nie.

“En sê nou dit was Piet, Paul of Klaas?” vra hy toe hy die deur oopmaak en oor die drumpel tree.

Van agter die afskorting kan Brenda hom skrams sien sonder dat hy haar meteens gewaar. Sy sien die manier waarop hy vassteek en na die toneeltjie voor hom staar. Die klein eetwoonkamer lê gebaai in die sagte lig van die muurlampie. Die glinstering van gepoetste wynglase, die vreemde tafelrangskikking wat op ’n eie manier eksoties lyk. Die mat op die vloer, die bykans driedimensionele afdruk teen die muur wat ’n indruk van verre wydte skep.

“Die hemelse geure uit die kombuis,” is egter al wat hy sê nadat hy die bottel wyn wat hy dra, versigtig neergesit het asof hy daarmee die balans kan versteur.

Hy is vars gestort en geskeer, hare netjies, op sy heel eie manier aantreklik in ontspanne drag: slenterhemp met die boonste knoop oop, langbroek en sportbaadjie. “Casual Friday?” sê-vra hy met arms effens oopgegooi om goedkeuring te verkry. “Ek weet nie meer waar my swart strikdas is nie.” Sy bui het beslis verbeter; en as hy moes rondspring om sy kinders versorg te kry, toon hy niks daarvan nie.

“Perfek,” reken Babs wat inkom terwyl sy nog een oorbel aanskroef. Sy is in denim en bloes. Brenda, weer, hou meer van rompe en rokke. Veral van die manier waarop die swaaiende some haar kuite streel.

“Soos jy kan sien, is jy paslik geklee,” voeg Brenda by en kom by hulle staan. “Ek dog die das het dalk om jou nek vasgegroei en dat jy nie weet hoe om dit los te kry nie.”

“Skaam jou, juffrou Rabie, ek het een vir elke dag van Maandag tot Vrydag. En na-ure en naweke is dit die eerste ding wat waai.”

“Nog erger. Vyf vasgegroeide dasse om een nek.” Dankie tog dat die aand goed afskop. Sy het allerlei bedenkinge gehad. Liewer nie oor die dogtertjies uitvra nie.

“Maak solank oop,” beveel Babs. “Brentjie, waar is die botteloopmaker?”

“Goeie vraag. Kom soek jy liewer. Netnou krap ek jou netjiese laaie om.”

“Ja, spot maar. Ons sal sien as jy ooit alleen in jou eie huis moet intrek.”

“O, toe maar, hier is dit. Jy kon maar net gesê het dis in die laai met plastiekbakkies.”

“Hoe moes ek weet?”

Hulle werk almal aan die aand, asof dit ’n weeskind is wat saam grootgemaak moet word. “Móét die wyn asemhaal?” vra Babs desperaat. “Asseblief, Hans, skink.”

Almal stem saam. Met afgeronde bewegings vul hy drie glase. Hulle klink, met gemengde murmelinge asof dit ’n heildronk van voortreflike sjampanje is. “Op alle sekretaresses wat soos manna uit die hemel val,” sê Hans met sy fluweelrooi gevulde glas in die hand.

Brenda parkeer haar glas vereers en verdwyn terug na die filet, met ’n oproep dat Babs die slaai moet kom afrond. Sy stel vas hoe Pressly sy filet wil hê. Gelukkig soos sy en Babs, medium. Fielafooi teen duim, volgens Magreeth se metode.

Pressly doen wat hy daardie eerste dag gedoen het, naamlik om die enigste werklik goeie gemakstoel op te eis. Toe ontspan hy byna sigbaar. Dis asof sy liggaam ontbeen raak. Hoe moeg, wonder Brenda, hoe óp is hy werklik? Waar sy tot dusver meestal bedugtheid vir hom gevoel het, gewaar sy nou deernis wat, so hoop sy, hy nie agterkom nie.

Bejammering van enige aard is ewe erg vir die gewer en die ontvanger, sodat jy soms wonder wie se pyn wie s’n is. Sy onthou dit vanaf Neels se vrou se dood. Wanneer sy hom ook al betrap het op ’n peinsende blik of ’n gesigtrekkie wat van leed getuig, het haar meelewing hom skynbaar net meer rampsalig gemaak.

Na afloop van die werklik smaaklike ete, toe Brenda reeds koffie maak, is Babs nie haarself nie. Drie glase vloeibare pruimfluweel, wat anders kon jy verwag? Eers giggel sy te veel, toe raak sy weeïg. Oorval deur voorvrese vir ’n alleenlewe die res van haar dae, en naberou oor verbroude kanse, raak sy ook die onderwerp aan wat sy liefs moes los: “En ek het nie eers jou kinders uitgenooi om vanaand saam te kom nie.”

“Toe maar, hulle is versorg,” reageer hy na verwagting.

“Nogtans. Die mooie donker Nicky en die blonde engeltjie Pippa.”

“Die naam is Vicky,” help Hans nogal geduldig reg.

“Ag ja, skuus. En Pippa, waarvandaan kom die naampie?”

Brenda besluit dis tyd om in te gryp. “Babs, hierso, vat en drink.” Byna sê sy “suip”. Sy druk die porseleinbeker as ’t ware in haar suster se hande. Sy het die koffie ekstra sterk gemaak en Babs s’n swart gelos, met genoeg suiker dat sy nie sal kla nie.

“Ja, maar ons het nie die kinders genooi nie.”

“Ek sê mos dis reg. Huibrie het by hulle kom bly, so hulle is sekerlik al in droomland. Drink jy maar jou koffie, soos Brenda sê.”

Haar naam uit sy mond, die eerste keer sonder voorbehoud, klink nie onaangenaam nie. En dis duidelik dat hy mense ken, dat hy Babs se ligte dronkverdriet kan eien vir wat dit is. “Hulle sou van die tjips en roomys gehou het,” sê sy net vir hom. Vir Babs is sy die duiwel in.

“Daar is roomys in my yskas.”

“Ek sal sjokoladesous saamgee,” belowe Brenda, dankbaar oor sy samewerking met die onhanteerbare Babs.

“Dit sal gaaf wees, dankie.” Hy is hoflik. “Ek sal probeer om dit nie self te steel nie. Prima.”

“My suster wie se soettand haar dit veroorloof,” gee sy darem die lof wat Babs toekom.

“Origens,” sê hy ook net tot Brenda, asof Babs dit nie sal begryp nie, “is dit beter dat hulle tuis gebly het. Ek probeer dit nie onnodig onder hulle aandag bring hoeveel hulle mis nie.”

Dit slaan haar redelik stom. Sy soek nie na ’n ontboeseming – beslis nie nou, en dalk nooit nie. Daar is steeds iets, wel duskant koelheid, maar sonder enige belofte van toegeneentheid, wat haar in sy teenwoordigheid vervul.

Dis nie net die wete dat hy aan ’n ander vrou behoort, wat die omstandighede ook al is nie. Want by Neels het sy nooit so gevoel, selfs toe Lina nog daar was nie. Dis eerder ’n totale afstand tussen haar en Pressly, soos dag en nag wat ewiglik van mekaar wegskram, behalwe om mekaar in oomblikke van skemering voorwaardelik aan te raak.

In plaas van haar mond te hou, sny Babs weer in: “Ek het vir Brentjie gesê hulle sal heel eerste met die keramiekpaddatjie wil speel, en dan die pynappel wil eet.”

“Barbára,” prewel Brenda onder haar asem.

Pressly glimlag egter met een mondhoek. “Raai, dis presies wat ek gedink het toe ek jou rangskikking sien.”

“Vat dit vir hulle,” bied Babs oorhartlik aan. Sy skarrel na die tafel wat nou na ete onaantreklik geword het. Sy kom druk die ornamentjie in sy hande.

“Dankie, maar nee dankie. Dis duidelik jy ken nie kleintjies nie. Albei kry iets, of niemand kry iets nie.”

“Vat dan die peer ook.”

Pressly sit met ’n onwaarskynlike vredesoffer in elke hand: ’n nagemaakte goue amfibie en ’n onryp vrug.

Brenda staan op en verlos hom daarvan. Aan haar suster sê sy: “Hou op grawe, jy maak die gat net dieper.”

“Die pynappel dan?” hou Babs waarlik nog aan. “Jy sny dit van bo af in die lengte deur.”

Nou lag Pressly, maar nie veroordelend nie. “Jou suster het goeie raad gegee, miesies Kilian. Doen dit nou net.”

Hy staan op, met die vermoë wat hy het om ingehoue te beweeg ten einde sy haas te verdoesel. Selfs as hy skarrel, verloor sy tred nie ritme en word sy stem nie verhef nie. “Ek moet terug by die huis kom, my suster Huibrie – my halfsuster, eintlik – moet nog na haar plek toe terugry.”

“Alleen?” vra Brenda.

“Soms laai ek die tweetjies met slaapklere in die kar en begelei haar. Maar dis gelukkig nie ver nie en sy is ’n stoere spesie.”

Brenda klem haar hande ineen. Laat Babs tog groot asseblief nie die “nare dierasie” ophaal nie. Maar Babs is poegaai. Om van een bottel rooi minus twee ander glase so aangeklam te raak, is seker beduidend. Dalk het Babs in hierdie stadium van haar lewe teen min dinge enige weerstand of veerkrag.

“Die susterlike bakleiery herinner my: Julle sjokolade lê in my kar, jammer. Een vir elk, sodat julle nie moet dwarstrek nie.”

“Ek sal saam uitstap,” bied Brenda aan. “Wag net vir die sjokoladesous.” Sy vind ’n bakkie wat dig seël in die laai waar die oopmaker was.

“As ek geweet het wat die aard van julle nagereg is, het ek dalk iets anders as sjokolade gebring.”

“Toe maar, ons kan dit môre op pad geniet. Babs, los die skottelgoed, ek sien net ons gas weg.”

En daarmee is sy saam met hom buite in die skerp koel aandlug met die gedreun van verkeer wat in volle krag toeslaan. “Op pad, sê jy?” vra hy terwyl hy die motor oopsluit en die sjokolade uithaal.

“Dankie. Ja, ons twee ry môre bietjie huis toe.”

“’n Mooi dorp, Dennedal, ek het al daar deurgery. Hoewel die hoofpad verlê is, het ek spesiaal afgedraai. Ook nie so baie dennebome soos ek gedink het nie. “

“Nee, hulle hou nie so goed in die suidelike halfrond nie. Word nie baie oud voor die kruin bars en hulle ’n gevaar word nie. Ontplof as weerlig dit tref. Die paar wat in ons tuin oor is, is ver genoeg van die huis af. O, gee dit atmosfeer! Die wind ruis anders deur naalde as deur plat blare.”

“Ons almal het seker maar daardie stukkie Europese erfenis in die bloed. Ek talm om te kyk of jy veilig by julle voordeur aankom.”

“Bedagsaam, dankie.”

“Die aand was aangenaam. Hou jou suster dop, nè? Sy laat my aan ’n touloper dink.”

“Sonder balanseerstok,” vul Brenda aan. “En, ja, dis waarom ek hier is, om haar dop te hou.”

“Met alle dankbaarheid dat my Sentrum daarby kon baat, hoop ek jy kan gou teruggaan.”

Moet sy die ooglopende “Waarom”-vraag vra? Maar hy brei self uit: “Jy hoort daar. En wie of wat ook al daar is, jy treur tog te swaar.”

Sy luister verbaas. Sy, treur? Is dit dan sigbaar? En het dit haar oneffektief gemaak? Mis hy die toewyding saam met die bekwaamheid?

“Toe maar,” raai hy sonder moeite. “Dit tas nie jou werk aan nie. Ek wens die Sentrum kon jou behou.”

“Mevrou Clutie is binnekort terug.”

“Reg. Maar ek sal Elsa Heunis moet laat gaan. Geen keuse, die Sentrum het nie sulke onsekerhede nodig nie.”

“Is daar ’n ander manier van lewe as met onsekerhede?” vra Brenda en tree agtertoe sodat hy kan inklim en ry. Onthou dan dat hy wag om haar veilig te sien ingaan, en haas haar voordeur toe. Sterker as ooit voorheen, voel sy hoe bar en blootgestel hierdie woonkompleks so langs die breë dubbelweg is. G’n wonder dat sy soms dopgehou voel nie.

Huis Nommer Drie het tog reeds ’n veilige klein ark geword. Die geure van goeie voedsel en koffie hang nog tussen die mure. Babs het, wonder bo wonder, begin afdek, nogal netjies soos hulle geleer is sodat daar nie onnodige kriesels kos agterbly en die skottelgoedwater bederf nie.

“Ek sal opwas, kom jy in die bed,” beveel sy.

“Om my roes af te slaap?” bits Babs. “Vir jou inligting, ek is of was nie dronk nie.”

“Net verdrietig, ek weet. Ons voel maar almal soms verdrietig.”

Daarmee is Babs se wapens uit haar hand geslaan, en sy gaan kamer toe, nie sonder ’n blik na die twee klein toegedraaide pakkies nie.

“Tjoklits vir die pad,” belowe Brenda. “Of vir by die huis. Ek sal ook ander peuselgoedjies insit. Nie te veel nie, dan kla Ma weer.”

Babs is getroos soos ’n kind, en Brenda is eindelik alleen met haar gedagtes. Die hoofgedagte is een van dankbaarheid: dat sy die hele aand in Pressly se geselskap nie die ongemak gevoel het wat sy gewoonlik in sy teenwoordigheid ervaar nie.

In die enkele minuut daar langs sy motor was dit selfs asof hulle gekwelde gedagtes mekaar halfpad tegemoetkom.

Louisa du Toit Omnibus 12

Подняться наверх