Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 12 - Louisa du Toit - Страница 7

4

Оглавление

Tiny en Magreeth Rabie wag die dogters in onder die Victoriaanse veranda met groen “bulneus”-sinkdak. Hulle moes om die beurt die oprit dopgehou het. Brenda het gebel net voor hulle ry.

Die enkelvlakhuis staan op ’n ruim dorpserf waarvan huis en tuin maar sowat een derde beslaan. Daar is origens volop dwaalplek, sitplek, stilhouplek en skaduweebome, waaronder die orige paar dennereuse. Maar dié is geneig om hars op jou motor te traan. ’n Hoë heining, wat Tiny netjies geknip laat hou, sluit alles in tot ’n eie klein koninkryk.

Sedert Brenda maar kan onthou, was die stoep die kuierplek wat dikwels bo die binnehuis verkies word. Die Rabie-woning het nie ’n bevaringde patio soos by vele van die nuwere dorpshuise nie, geen terrasse of binnenshuise tuintjies of ’n wenteltrap nie. Nie sonskerms, siertraliedeure of plaveisel nie. En so is dit goed, want dis bo alles ’n hoogs bewoonbare tuiste.

“En hoe gaan dit hier?” vra Brenda ’n tweede keer, toe hulle besig is om ’n noenontbyt te nuttig, deur Magreeth heel deftig “tiffin” genoem. Hulle was naamlik te laat vir ontbyt en te vroeg vir middagete. En op pad was nie sy of Babs lus vir peusel nie, allermins sjokolade so vroeg in die dag. Babs was trouens heelpad uiters stil.

Sy het wel genoem van die sjokolade wat hulle die naweek almal saam kan eet. Sodoende het Hans Pressly se etery by hulle gisteraand ter sprake gekom. Terwyl Magreeth wou weet hoe hy sy filet wou hê en of hulle van die vingertoets onthou het, het Tiny se blik net daardie vermoede-glans gekry wat Brenda met ’n deurbraak in ’n regsaak leer assosieer het.

“By die kantoor langs, bedoel ek?” brei Brenda haar vraag uit. “Kom Onyra Doorn die mas op?” Hoe sy ook al pols, haar pa het nog nie Neels se naam genoem nie.

“Ek wil sê wat jy graag wil hoor, Sussa: sy is nie jy nie. Maar ons kom reg.”

“Hoe kan Pa so sê? Ek sou nie wou hoor dat daar haakplekke is nie. Ek ag die goeie orde van Rabie en Mostert baie hoog.” Daar het sy nou direk na Neels verwys, en Tiny reageer steeds nie. Hoe kan hy so ongeërg wees?

“Natuurlik, en die ratte is steeds goed geolie. Ons verlang maar net na jou.”

Ons? Durf sy hoop dat dit meer sê as wat dit sê? O, sy raak so moeg van hierdie ewige ontleding van elke woord, elke gebaar, elke intonasie wat maar net op Neels Mostert kan dui. Indien sy gedink het dat dit die afgelope weke sou bedaar, was sy verkeerd.

Dalk is al haar hoop tog pure selfbedrog. Neels is immers nie groen nie, hy was voorheen getroud. Indien hy werklik in haar belangstel, kon hy dit al laat blyk het. Ses maande is lank vir ’n man om alleen te bly. Dis immers nie meer die tyd toe mans ongeduldig moes wag om die rouband na twaalf maande af te haal nie. Dieselfde met vroue.

Indien hy reeds iemand het, is hy baie diskreet. Het hy bloot nog nie oor Lina se dood gekom nie? Miskien sal sy vanaand ’n aanduiding kry. Vanaand, in die gloed van die braaivuur, met almal ontspanne, skanse neergehaal. Want die okkasie staan vas, en alles is betyds voorberei.

Met sy laaste woorde nog in die lug, brei Tiny uit: “As ek sê ons, bedoel ek ook die kliënte. Die nuwes wonder oor jou, die oues vra na jou. Hoe sal ek sê, Onyra lyk vriendeliker as wat sy is, jy is vriendeliker as wat jy lyk. En mense weet wat die verskil is. Die dorp ken jou, hulle het geweet wat hulle aan jou het.”

“Verlede tyd? Hoe praat Pa dan nou of ek vir altyd weg is?”

“Ag, dit het sommer uitgeglip. Ek is dalk maar bang jy kry ’n vinnige belangstelling daar anderkant. Dalk het jy al. Of moet ek vir Babs vra?”

Babs skrik op, waar sy en Magreeth op die tafeldoek sit en hande vashou. “Hoe sê Pa nou?”

“Ek sê jy is baie ingedagte.”

“Dis die skielike ontspanning na alles waardeur sy is,” kom Magreeth vir haar oudste en ewebeeld op. “Jou pa wou weet of Brenda ’n belangstelling daar anderkant gekry het.”

“Binne drie weke?” smaal Babs. “En sy werk heeldag, waar sou sy tog … tensy …” Die sin loop dood, en Brenda voel verlig. Een oomblik was sy bang dat Hans Pressly werklik ernstig bygesleep sal word. Haar pa se oë verklap weer ’n soort binne-insig.

“Tensy ek snags die diefwering oopbuig en by die venster uit ontsnap,” voltooi sy namens Babs. Die ete is verby en sy help afdek. Magreeth het ’n skottelgoedwasser en terwyl sy en Babs kombuis toe gaan om die nodige te doen, voel Brenda vry om saam met haar pa buite rond te wandel. Onder die naaste denneboom kyk sy in die naaldruigte op en adem die harsgeur in, berou die windstilte, hoop dat sy na die ruising sal kan luister voor hulle môre teruggaan, ’n vooruitsig wat soos ’n berg voor haar lê.

“Pasop, dit kan vuil wees, Sussa,” keer Tiny toe sy wil gaan sit. Die stam van ’n ander denneboom wat moes af, het hy in sirkelvormige sitblokke laat opsaag. “Wag, ek gooi vir jou my sakdoek oor.”

“Dankie, Pa.” Sy oorweeg dit om te vra of sy nie nou maar kan huis toe kom nie. Maar sy hou die woorde terug.

Maar eers lê vanaand voor, met Neels wat sal oorkom. Sê nou maar hy bring ’n metgesel saam, iemand wat hy tot nou toe sorgvuldig weggesteek het? Dit sal haar baie diep en seer tref, iets waarvan sy dalk nooit heeltemal herstel nie. Hoe waar is dit: ver van jou goed, naby jou skade. Maar Neels was nie haar “goed” nie. Hy is kroonwild.

Soos sy verwag het, stuur haar pa die gesprek in die rigting van Hans Pressly. “’n Tafelgas by Babs aan huis,” mymer hy. “En toevallig met die tweede mooi suster ook daar.”

“Hy is getroud, Pa.”

“Maar Babs het glo al teenoor jou ma laat val dat die vrou nie by hom is nie.”

“Nee, sy is in ’n kliniek, so iets. Dikwels by haar ma. Ek weet min van sy persoonlike lewe. Net dat die twee dogtertjies by hom is. Nogtans, hy beklee ’n posisie waar hy sy goeie naam moet handhaaf.”

“Hoe ’n soort mens is hy?”

“In die begin het ek hom nogal ontstellend gevind. Nie omdat hy my rede gegee het nie, maar dalk oor alles wat by hom onder die oppervlak broei en woel. Dit kan mos aangevoel word.”

“En nou, later?”

“Hy was gisteraand baie aangenaam. Welopgevoed, besonder bekwaam. Hy weet hoe om ’n situasie te hanteer.” Laggend vertel sy van Babs se pynappel. “Maar hy duld nie nonsens nie, by sy Sentrum het hy skynbaar ’n soort … hoe noem Pa dit altyd, ’n twakverklikker?”

“Ja. Ek sou ook nie oor hom uitgevra het as ek nie by jou dieselfde aanvoel nie.”

“Wat aanvoel?”

“Die gebroei en gewoel onder die oppervlak.”

“En dink Pa dis meer as voorheen?” Hoe ver is hy bereid om te gaan? Durf sy haar gevoel vir Neels ophaal? Of, die ou vraag: Weet Tiny dit buitendien? Speel hy kat en muis met haar, soos met ’n getuie in die hof?

“Ek weet nie wat om te sê nie. Ek sê vir jou ma, dalk moet ons julle net beveel om sak en pak terug huis toe te kom.”

“Ons kan nie altyd op die asiel van ’n ouerhuis staatmaak nie.” Die versoeking is groot, as sy aan die barre Edelhof-huisie dink. Moet sy by haar pa bieg oor die ewigdurende gevoel dat sy dopgehou word? Nee, liewer nie. Waarom hulle onnodig verder ontstel?

“Waarvoor anders is ons daar? En potplantjies sal julle nooit wees of word nie, daarvoor is julle te eiesinnig. Praat van Monk’s Bench en jonkmanskas.”

Brenda giggel. “Ek wonder of Ma ooit weet hoe snaaks sy is.” Sy dink na en erken: “Eintlik hou ek ook nie van die lewe daar nie. In my oormoed het ek gedink ’n week of twee sal genoeg wees om vir Babs terug op die spoor te plaas. Maar sy is baie kwesbaar.”

“Kon jy iets uitvind oor die ware rede agter die egskeiding?”

“Pa ken vir Babs. Gedurig aan ’t rondfladder en so ver sy gaan, deel sy kritiek uit en soek aanvaarding. Sal nie skroom om te oordryf nie.”

“Jy steek iets weg, maar dis reg so. Reg dat jy haar beskerm. Dis hoekom jy gegaan het, en nog daar sal bly.”

“Om die see te gaan ploeg,” merk sy sinies op. Maar terselfdertyd wonder sy oor haar vae verlange na die onlangse verlede. Dit het, met die verskuiwing van ruimte en perspektief, iets soos ’n lumier om gekry, ’n geheimenis waarvoor sy inderdaad terug moet gaan. Asof sy dit móét peil, of andersins die res van haar lewe onvolledig bly.

Tiny oorweeg sy volgende woorde asof hy in die hof staan. Maar toe hy praat, gee sy stemtoon te kenne dat hy nie ontwyking sal duld nie: “Jou ma sê Babs het met ’n vreemde verhaal gekom. Oor die foon, in die hitte van die stryd tussen haar en Tom. Sy het hierdie Elvis-agtige man betrek. Of sy vrou dan.”

“Ai Pa, dis nie baie oorspronklik om na Elvis te verwys nie. Dink Pa regtig hy is nie voorheen daarmee verpes nie?”

“Vir my en jou ma bly Elvis besonders,” antwoord hy nadenkend.

“Ja, ek weet Ma is mal oor sy Wooden Heart. Maar Hans Pressly se van het twee s’e en een e. So sê hy dadelik vir almal. Anders sou ek ook met die spelling gesukkel het.”

“Het Babs met daardie storie die waarheid beet?” vra hy reguit.

“Pa wou eenkeer ’n nuwe kar koop, toe erken Pa dat mens dan maklik ’n fout in jou ou kar vind. Babs het dinge teen Tom gesoek. Sy het hom nie eers regtig daarmee gekonfronteer nie. Sy wou skei. Dis my eerlike mening.”

“Lyk die kind soos Tom?” volhard hy priemend.

“Alle blonde dogtertjies op vier lyk vir my eenders.”

“Dis ’n antwoord, dankie. Dat jy self nie seker is nie.”

“Is mens ooit seker van iets, Pa?” Haar en Pressly se gesprek by sy motor gisteraand.

“O, ja. Ek is doodseker daarvan dat jou ma sal aanhou soek tot sy ’n spotgoedkoop jonkmanskas van stinkhout by ’n goor pandjieswinkel kry.”

Daarmee herinner hy haar aan sy geslypte vermoë om die angel uit ’n situasie te haal.

En oor Neels Mostert word steeds geen woord gepraat terwyl hulle terug huis toe dwaal nie. Op die stoep sit Babs en Magreeth, met blonde koppe naby mekaar, deur ’n tydskrifbylaag en blaai. Wenke hoe om meer kleur in jou huis te bring, merk Brenda. En die twee het nog nie eers een keer vanoggend vasgesit nie.

Die Saterdag gly loom en tevrede verby met brokkies gesels, spanne rus, in die tuin sit en kyk hoe kwetterende glasogies ’n feesmaal van vuurrooi bessies geniet. Lateraan handjie bysit vir die braai waarvoor skynbaar net Neels en die Doorns oorkom.

Van ’n skoonheidsritueel kom daar nie veel nie. Stort en skoon aantrek sonder grimering of parfuum, besluit Brenda. As haar hare effens langer was, het sy dit ook styf weggebind om te toon dat sy niks het om weg te steek, geen geheime gelaatstrekke of verborge gevoelens wat dalk op haar gesig kan deurslaan of teen haar slape pols nie. Nou laat sy net haar hare in die son droog word. Dis goed gesny en dig, daar is geen stilering nodig nie.

Toe Magreeth en Babs wel ligweg begin redekawel oor of maaskaas of crème fraîche die beste sal wees, met eersgenoemde Magreeth se keuse vir die kaaskoek wat sy beoog, bied Brenda aan om dit te gaan koop. Drie bakkies, nogal, wat vir Tiny laat kreun oor soveel hedonisme, net om te hoor: “Jy eet darem fluks saam.”

Dis ’n goeie geleentheid om ’n bietjie van Babs af weg te kom. In alle eerlikheid moet Brenda erken dat dit haar by tye wil baasraak om onafgebroke by haar suster te wees. Om elke oomblik te moet kalmeer, moed inpraat, te let op wat jy sê of nie sê nie, teregwysings te rig wat onmiddellik berou word of deur Babs teruggekaats word.

En ook ’n geleentheid om, op ’n veilige afstand van Neels Mostert se huis af, onder ’n verskuilende straatboom stil te hou en lank te sit en staar. Ontwerp in oorleg met Lina, is die huis uitsonderlik sonder om opvallend te wees. Sandkleurige mure op verskeie vlakke smelt saam met die natuurlike omgewing asof dit ’n deel is van die koppie aan die voet waarvan dit geleë is. Dis ’n abstrakte, kubistiese ontwerp, met verskuilde deure en vensters wat diep skaduwees werp.

Binne die huis was sy nog nooit. Sy het slegs mense hoor oe en aa, en sy het die artikel gelees. Verslind, as ’t ware. Oor die vermenging van tydloosheid en moderniteit. Oor die gesublimeerde tinte, die teksture, die illusies.

“Bra kleurloos,” het Magreeth gereken.

’n Gevoel van uitgeslotenheid gryp Brenda aan. Sy wil liewer vir Neels belewe soos hy op kantoor is, warm en werklik, ’n gewone beroepsman wat tee drink en sy naam teken met ’n swaaitjie van die “M” en wat vir kliënte sê, as Brenda hulle inbring: “Môre, môre, kom gerus binne. Waarmee verkul jou vriendelike prokureur jou vandag?”

Sy weet nie hoe om hierdie ander Neels te vind wat soos ’n grotbewoner in sy eie habitat wegskuil nie, asof hy sy vrou gebalsem het en haar bewaak teen indringers van buite.

Nooit, sedert Lina oorlede is, het hy skynbaar weer onthaal of mense uitgenooi nie. Self was Brenda in elk geval nooit genooi nie, Tiny en Magreeth ook nie. Dit was nie ’n kwessie van moedswillige uitsluiting nie; dit was eerder asof Neels te veel ontsag vir sy ouer vennoot gehad het om maatjie-maatjie te wil speel. Hy het immers geweet dat Tiny en Magreeth hulle eie beleë vriendekring het.

Dis nou van ’n plek soos Dennedal: Jy is met almal vriendelik, maar nie met almal vriende nie. Daar is kodes wat hulleself in aansyn roep en vestig. Waarom sy nooit uitgenooi is nie, het Brenda nooit bevraagteken nie. ’n Paar jaar jonger as die Mosterts, was sy deel van ’n ander vriendekring, ou skoolmaats wat begin werk of huis opsit het.

Sy het wel begeer om te sien hoe Neels werklik leef, ontspan, maar het ook geweet hoe pynlik dit vir haar sal wees. Liewer ’n waas om hom hou. Om te fantaseer, is genadiger as om iets te sien realiseer. Maar nou is die tyd vir fantasie verstreke. Sy is ’n jong vrou wat na hom hunker, en hy is ’n beskikbare alleenloper wat beslis nie onbewus van haar is nie. Dat haar pa hom en die Doorns vir ete uitnooi, is beduidend; sy weet net nie in watter opsig nie.

So byna vergeet sy van die drie bakkies maaskaas vir Magreeth se kaaskoek, en dit terwyl die geil krummelkorse reeds gereed staan.

“Houvas die krans, oom Wolf!” beveel Neels laggend.

As oorwegend Nederlands ken die goedige Jack Doorn waarskynlik nie vir Jakkals en Wolf nie, maar hy speel saam. Hy staan met die belaaide rooster asof dit ’n krieketkolf is waarmee hy die bal inwag. Die sissende vet van die skaaptjops het die kole laat ontvlam, en Neels verleen noodhulp deur water te sprinkel.

“As ’n mens net lank genoeg wag, dood die vlamme vanself,” gee Babs raad. Sy het nie tydens haar huwelik met Tom Kilian geleer om haar neus uit ’n man se braaiery te hou nie.

Neels reageer geduldig: “En sê nou dit brand al erger hoe langer jy wag?” Hy help Jack om die rooster nommerpas terug op die kole te kry.

Die atmosfeer is meteens gelaai. Of is dit net vir my en hom? wonder Brenda ademloos. Dat hy vir ’n breukdeel van ’n sekonde in haar oë gekyk het voor hy antwoord, ontsenu haar. Dis so goed of hy het haar aangeraak met die warmte van sy bedrywige hande. Dis die eerste boodskap wat hy hoegenaamd na haar toe deurstuur. ’n Boodskap dat hy ’n man is, dat hy wag met gedwonge geduld wat teen sy drif beur.

Sy sit skoon bestorwe met die mengeldrankie wat Tiny gebring het voor hy weggeroep is telefoon toe. Magreeth peuter nog met slaai in die kombuis. Die geur van die kaaskoek wat uit die oond gehaal is, bereik hulle hier waar hulle op tuinstoele by die steengeboude braaiplek verkeer. Die aand begin reeds verskemer en maak alles sag.

Die ete is aan die vroeë kant aangesien daar nie regtig middagete was nie. Dit was meer ’n deurlopende gepeusel as iets anders. Daar is nogtans binne gedek, aangesien die aande buite reeds te koel raak.

Onyra is binnetoe om voor die spieël ’n stukkie pietersielie van haar tande te haal. As die oomblik nie so intens was nie, sou Brenda haar slap kon lag oor die ligte geskoor wat die episode voorafgegaan het. Babs en Onyra kon mekaar uit die staanspoor nie veel nie. Hulle ken mekaar net van terloopse kontak en iets in hulle samestelling bots onweerlegbaar.

Soet skimpe het meteens begin rol toe Onyra met die aankoms vir Babs sê: “Jy ’t ’n besonderse bloes aan. Ek het iets soortgelyks gehad, en ek was so jammer toe dit gedaan is. Dit was lekker om werk toe aan te trek.”

Babs was soos ’n lui huiskat wat tot ontwaking kom om haar gebied te verdedig: “O, by jou man se motorhawe? Dan het ek lus en dagvaar die boetiek. Dit was kastig spesiaal vir my ontwerp.” Wat ’n suiwere leuen is, maar Babs was baie oortuigend.

“Ja, ek sou stappe neem as ek jy is.” Om tot verhaal te kom, het Onyra haar hand uitgesteek na nog een van die spek- en aspersiehappies wat Magreeth as voorgereg kom neersit het.

Dis toe dat Babs koeltjies sê: “Pasop, die pietersielie klou aan ’n mens se tande.” Dit terwyl sy stip na Onyra se mond kyk.

Dit was asof daar blinkertjies in Jack Doorn se oë gestrooi word, en Onyra het hom die blyk van pret duidelik misgun deur hom aan te val: “Kon jý my nie gesê het nie?” En, aan Babs: “Waar is julle gastebadkamer?”

“Ons gaste eet maar so dat daar nie pietersielie aan hulle tande kom nie.”

Onyra het padgegee en, toe haar pad kruis met dié van Tiny op pad buitentoe, vriendelik gesê: “Wat ’n voorreg om hier te wees, meneer Rabie.”

Die slinkse huigelaar, het Brenda nydig gedink. Hoekom het Neels nie gelag of selfs net geglimlag nie? Irriteer Onyra hom dalk uitermate, of waarom kyk hy dwarsdeur haar, dit terwyl haar halslyn min aan die verbeelding oorlaat?

Dis waar, Neels vaar beter met een gespreksgenoot op ’n slag. In sy kantoor handel hy gesellig vertroulik met ’n kliënt. Anders as Hans Pressly, wat weet hoe om ’n hele groep in te sluit. Maar Hans Pressly is nie nou haar prioriteit nie, waarom sal sy hoegenaamd aan hom dink?

Onyra keer terug, stiller, skynbaar met minder stertvere as voor die pietersielie. Die versotheid in Jack se oë blyk duidelik. Dalk sal hy sy koketterige vrou ’n oortredinkie of twee vergewe as sy maar net by hom bly. Dalk moes hy dit in die verlede al doen.

Moet sy dieselfde gesindheid teenoor Neels aankweek? Moet sy hom ’n avontuurtjie of twee – dalk meer – vergewe, as dit hom maar net by haar sal uitbring? Wat is dit wat haar pa van “uitstappies” gerep het?

Tiny en Magreeth se toetrede tot die geselskap is salwend. Hulle is so beleë. Selfs Magreeth, haar lewe lank nog ’n bietjie onbesonne, begin die soete sagtheid verkry van die middeljarige vrou wat ’n sterk, toegewyde man en gevestigde leefruimte het. Haar foute is getemper tot eienaardigheidjies, haar goeie punte het uitgegroei tot deugde.

Dis sy wat onwetend die botsende elemente in die geselskap saamsnoer met haar vertelling van hoe sy die stadsraad probeer oorreed het om die vuilgoed op die oorkantste, onbeboude erf te verwyder. Dat sy later kort duskant die minister se private sekretaris geëindig het, is met een woord snaaks. Hulle bars later in ’n lagkoor uit elke keer as sy ’n nuwe verwikkeling beskryf met: “En ek sê vir hom: ‘Maar, meneer’ …”

“Hoekom het mevrou nie vir prokureur Rabie gevra om hulle saak te werk nie?” wil Neels weet terwyl hy opspring om die rooster om te draai. Sy skouers roer onder die hemp. Om hom so ontspanne en toeganklik te sien, maak Brenda se keel stram. Kry hy nie koud nie? Sy sou graag haar warm arm om sy skouers wou lê.

“Ek wou darem eenkeer in my lewe vir Tiny wys ek het ook ’n kop vir sake,” lê Magreeth eerlik uit. Dis waar, sy is iemand wat vir haarself kan lag, en dit verseker dat sy ’n aanhang behou. Nie baie groot nie, sy is nie een van die dorp se voorvroue nie. Sy is net ’n mens in eie reg.

“Buitendien,” werp Tiny in, “wat is die storie van die skoenmaker se kinders wat kaalvoet loop?”

“Van storie gepraat, Pa,” versoek Brenda, “vertel tog vir Jack die storie van oom Wolf wat die krans moes vashou.”

“Ek was nie die dag in die hof nie,” kom Tiny los. Dalk ken hy dit self nie. “Mense, daardie tjops en wors begin mos bekwaam ruik. Sodra alles in die bak is, moet ons binnetoe versit. Dit word nou geniepsig hier buite.”

Dit raak heel genoeglik om die tafel met wyn, braaivleis, slaai en ongeskilde aartappel met botter en neutmuskaat.

Sonder dat hulle dit beplan het, kyk Babs en Brenda na mekaar toe Tiny die wyn skink. Nie een van hulle het tot dusver gerep hoe Babs gisteraand hoenderkop van ’n halwe bottel Merlot geraak het nie. Dalk meer as ’n halwe. Brenda en Pressly het elk maar een glas gedrink – hy waarskynlik omdat hy weer moet bestuur, sy dalk omdat sy wou vergoed vir haar suster se opsigtelike drang na die vergetelheid wat dit kan bring.

As Brenda gehoop het om Neels een oomblik lank alleen te sien, vervaag hierdie hoop toe Tiny en Magreeth met groettyd self die gaste buitentoe neem.

Neels steek wel sy hand uit: “Want ek weet nie wanneer ons jou weer op kantoor sien nie, Brenda.”

“Ons”, dink sy, nie “ek” nie. Sy vingers is warm, die greep talmend. “Ás ons jou weer daar sien,” voeg hy by. Sy stem praat met haar, by woorde verby. Die ou-ou taal tussen man en vrou, sy kan haar dit nie verbeel nie.

Ouers en dogters kuier nog tot middernag, onder andere met Hans se Belgiese sjokolade. Dan begin die vroegopstanery van vanoggend sy tol eis. Gapend kondig Brenda aan dat sy bed toe gaan.

“Kuier eers bietjie by my in my kamer,” soebat Babs.

“Dink jy nie ons kry ’n redelike oordosis van mekaar nie?”

“Net ’n rukkie, man.” Babs druk die kamerdeur agter hulle toe. “Jy en die ou, die Neels Mostert. Ek was heeltyd reg dat daar iets tussen julle is, of hoe?”

“Wees die man genadig. Sy vrou is onlangs dood.”

“Onlangs? Soos ek verstaan, is dit eeue.”

“Jy darem, Babs. Is dit hoekom jy my agter jou geslote deur wil vaskeer?”

“Sê maar net ja of nee,” beveel Babs terwyl sy voor die spieël gesigreiniger aandep. “Want ek het amper begin dink jy en Hans, jy weet.”

“Maar nou voel jy verlig?” bits Brenda. “Dan kan jy hom mos sover kry om van sy vrou te skei. Of vat hom agter die bos. Maar wat gaan jy met die blonde kleintjie aanvang? Aan die ouma afsmeer?”

“Moenie spot nie, die vrou is op ’n ernstige missie om die kinders by hom af te vat.”

“Nog beter vir jou as sy dit regkry.”

“Daar’s tog niks, niks tussen my en hom nie. Ek kan nie sien hoe hy ooit uit daardie huwelik sal kan of wil kom nie. Hy lewe nie, soos ek, in die obskure subkultuur van die geskeides nie.”

“Waar kry jy dié uitdrukking? Klink nie soos jou eie nie.”

“By Doringrosie, waar anders?”

“Onyra Doorn? Wanneer nogal? Ons was heeltyd saam by haar.”

“O nee, jy was binnetoe om die braaipan vir die gaar vleis te gaan haal.”

“Nie eers twee minute lank nie. En in die daardie tyd raak sy so ’n groot wysheid kwyt?”

“Net vir my gevra hoe voel dit in die obskure ensovoorts, ensovoorts.”

“Sy is geslepe.”

“Vertel jy my. Om onder die oë van haar skaapkop van ’n kaaskop flikkers rond te gooi.”

Flikkers rond te gooi. Vir Neels om op te pik? Was dit sy eintlike verwysing na die vlam wat brand? Dan is dit waarvoor Babs haar kamer toe geroep het. Om haar te waarsku. As ouer suster gee sy tog om.

“Jack Doorn is g’n skaapkop nie, hy het haar net lief genoeg om haar oor te sien. Hulle het nie kinders nie, hulle het net mekaar.”

“Ek dog ek noem dit maar net. As jy voel jy wil onder die omstandighede liewer hier bly, om oor jou belange te waak. Ek sal regkom.”

“Hy is nie my belange nie. Ek het geen belange nie.” Wel hoop, maar wat as die hoop blyk te beskaam? Dan wil sy in elk geval nie hier wees nie. “Ons gaan môre terug, jy dink verniet jy kan my uit jou mou skud.”

“As jy so sê.” Babs lyk verlig genoeg. “Sou maar sleg wees om alleen terug te ry, en jou goedjies is daar.” Dan, peinsend: “Tom sou my nooit so ver alleen laat ry het nie.”

“Pasop, jy, of jy lê wakker. Ek loop nou.”

“Nee,” pleit Babs en steek haar hande uit, “slaap hier by my, op die dubbelbed, toe? Al die jare wat ek en Tom kom kuier het, het ons hier geslaap. Net vanaand, Brentjie, toe? Volgende keer sal ek beter voorbereid wees, ek belowe jou.”

“Goed dan, maar ek slaap venster se kant.” Want sy wil uitstaar na die nag, wil die silhoeëtte van die denne sien, dalk die ruising van die naalde opvang. Sy wil haar troos aan die ewige konstante van nag en wind.

Haar hart is swaar. Was sy vanaand dan blind omdat sy blind wou wees? Of saai Babs net gif om Onyra by te kom? ’n Belaglike gedagte tref haar: Het haar pa spesifiek vir Neels en Onyra saamgegooi om iets onder sy jongste dogter se aandag te probeer bring?

Natuurlik nie. Dis nie soos hy is nie. ’n Mens moet nooit verborge motiewe by Tiny Rabie soek nie. Wat hy doen, doen hy uit oortuiging en met die minste skade moontlik.

Môre se reis lê steeds voor haar soos ’n groot onwerklikheid en ewe groot onwenslikheid. En tog ervaar sy ’n sekere gedrongenheid om terug te gaan, soos die wete van ’n onvoltooide, ongeliasseerde saak.

Hierdie gevoel bly haar heelpad by. Hulle ry Sondagmiddag nie te laat nie, omdat Tiny en Magreeth nie wil hê hulle moet na donker op die pad wees nie. Brenda bestuur, terwyl Babs feitlik die hele tyd langs haar sit en dut.

Die lug raak dig betrokke en grys vroegwinterse reën begin neerstuif toe hulle die buitewyke van die stad binnery. Babs is nog steeds slaperig toe hulle by Edelhof aankom. Dit wil voorkom asof die wete van ’n verlangaand en ’n wagtende Maandagmôre ook op haar gemoed druk.

Dalk is hulle pa reg. Dalk moet hulle net oppak en padgee, terug Dennedal toe. Nie by wyse van vlug nie, maar om lewensgehalte terug te wen. Onyra sal met haar lokkende heupies by die kantoordeur uit waai, en Babs sal met haar besondere talente wel gou werk kry, nie in ’n vaal kantoor soos voor haar troue nie. Dalk ’n eie ateljee.

“Dis tyd dat ek erken, hierdie plek gee my die bloue ritteltit. Dit voel altyd of iemand my dophou,” sê Babs toe Brenda versigtig agter haar kar onder die toegesegde afdak stilhou. Dit mag eintlik nie, maar haar motor versper niemand anders se pad nie en verseker ’n smeerseltjie beskerming.

Jy ook! wil Brenda impulsief uitroep, maar slaag gelukkig daarin om dit, soos gister in haar pa se geselskap, te weerhou. “Dalk maar ’n nuuskierige buurvrou wat die gordyn wegtrek,” stel sy gerus.

“Of om die twee mooi susters dop te hou, haha,” skik Babs.

Brenda kyk ongemerk rond. Het sy daardie mosgroen karretjie met die verbleikte voorkoms skuins oorkant die dubbelstraat voorheen gesien? Dit tog liewer nie noem nie. Dis waarskynlik ook maar iemand wat naby woon of werk en nie ander parkeerplek het nie. Dis moeilik om te sien of daar iemand agter die stuurwiel sit.

Hulle is nog nie behoorlik binne nie, toe die huisfoon begin lui. Eienaardig tog, dat lang en noue omgang met ’n kantoortelefoon jou in aanvoeling skool. So weet Brenda onvermydelik dat hierdie telefoon die afgelope uur of wat meermale gelui het. En sy weet ook dat dit ’n dringende soort lui is, alhoewel mens tegnies geen aksentverskil sou kon uitwys nie.

“Dis te vroeg dat dit Pa-hulle kan wees om te hoor of ons hier is,” reken Babs. “Ons is eintlik twintig minute vroeg. Jy is ’n veilige en knap bestuurder, Bren.”

“Dankie, maar jy gaan nie altyd so gelukkig wees nie. Jou beurt volgende keer.”

Dis Hans Pressly. Tog nie die Sentrum wat afgebrand het nie, dink Brenda, nie sonder wrange humor nie. Want laas het die rampspoed van inbraak haar aankoms vergesel.

“Ek is ontydig,” bied hy dadelik verskoning aan. “Julle het pas tuisgekom.”

Dus het hy wel voorheen gebel. “Is daar fout by die Sentrum?” vra sy die voor die hand liggende. Die sekuriteitsmaatskappy kan immers daar ingryp, Sondag of te nie.

“Nee, huis. Ek het dringend hulp nodig. Ek sou julle nie gevra het as daar enigiemand anders op my noodlysie was nie. Ek het net ’n uur of twee iemand by die kinders nodig.”

“Jy kan hulle bring,” bied Brenda huiwerig aan. Dit was nie op die agenda nie. Moeg gekuier en gereis, wou sy geniet van die oorskietkos wat Magreeth saamgegee het, en dan effens uitpak en bad en bed met boek. Sy is rou van die weemoed van skeiding en wou haar inskulp.

“Kan nie. My vrou is die naweek hier en daar het ’n krisis opgeduik. Ek moet haar dringend terugvat om gestabiliseer te word. Die kinders is ietwat ontsteld.”

“Bly aan.” Sy druk haar los hand styf oor die gehoorbuis en kyk na Babs. “Dis Pressly, hy is in groot nood met die kinders. Net ’n uur of twee. Kan ons gaan?”

Babs frons met haar hele wese. Sy wuif haar hande oorkruis soos ’n hek wat sluit.

“Ek weet nie waar hy woon nie. Het jy ’n idee?”

“Vaagweg. Naby my en Tom se … Naby Magnolia Cottage. Paar blokke.”

“As jy my net kan help om daar uit te kom. Seblief, Babs. Ons moet help.”

“Ek sal voor jou uit ry. Net tot daar.”

Brenda neem haar hand van die gehoorbuis af weg. “My suster sal voor my uit tot daar ry.”

“Kan julle gou maak?” Hy pleit nou skaamteloos.

“So gou ons kan,” belowe sy voordat sy neersit. Te hel, as Babs te lank draai, ry sy alleen. Sy het ’n kaart van die stad en met die dubbelpad langs is dit inderdaad nie te moeilik nie, net betyds die regte afdraaibane volg.

Maar Babs voel skynbaar die erns van die situasie aan, want sy het reeds haar motorsleutels in die hand.

Louisa du Toit Omnibus 12

Подняться наверх