Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 12 - Louisa du Toit - Страница 8

5

Оглавление

Benoud hou Brenda elke robot dop sodat ’n geel lig haar en Babs nie dalk moet skei nie. Gelukkig ry Babs so bedagsaam moontlik, sit ook betyds flikkers aan. Dit moet wees dat sy die erns van die situasie aanvoel. Haar agterliggies vorm deel van die vele ander wat soos komeetsterte oor die nat teer trek.

Want, om alles te kroon, het die grysheid tot reën verdig en dit sif nou teen die ruite. Die Sondagaanddrukte van naweekgangers wat terugkeer, is ongenadig. Wat help dit hulle het juis om hierdie rede en op haar pa se aandrang, vroeg genoeg teruggery?

Dit laat haar met ’n skok onthou: Hulle het nie huis toe gebel om te sê hulle het veilig aangekom nie. Sal Babs lank genoeg voor Hans se huis stilhou dat sy haar kan vra om dit dadelik te gaan doen, en sal sy onthou? Gelukkig sal hulle ouers darem aanhou bel tot hulle antwoord kry. Waarskynlik doen hulle dit, mal van kommer, reeds elke vyf minute.

’n Tweede ontstellende gedagte tref haar: Hoe kan sy Babs belet om argeloos te noem dat “Sussa” na meneer Pressly se huis toe is? Berge, val op my, kreun sy half hardop. Maar hier is daar net lorries en lamppale wat op haar kan val.

Sy bid om krag terwyl die reënveërs halfmane teen die voorruit oopswiep. Daarmee ook, weet sy, word die laaste genadestoffies van Dennedal weggewas. Hoekom moes dit nou vanaand gebeur? Net gisteraand het sy ontspanne met haar ouers, die Doorns en veral Neels verkeer.

’n Groter gevoel van verlatenheid as hier in die skemerende nagstrate, kan sy haar nie voorstel nie. Selfs haar moeitevolle aankoms die eerste keer lyk nou na kinderspeletjies. Ten minste kon sy haar nog van die vreemde man Hans Pressly se probleme distansieer.

Waar is sy halfsuster? Wat soek sy vrou by hom, en wat wou hy môreoggend met haar doen as hy Sentrum toe gaan? Of sou hy die kinders saam skooltjie toe vat as hy Erika normaalweg terug kliniek toe neem? Wat moet sy, die onwaarskynlike hulpverlener, verwag om daar aan te tref? Wat beteken ’n “terugslag” en “stabiliseer” en “ontstelde” kinders?

Vrae, vrae. En Pressly was tot dusver nie juis ’n man van antwoorde wat sy persoonlike lewe betref nie.

Babs wil net voor die huis stilhou en weer padgee. Hoe kan sy so ongevoelig wees? Het Pressly nie genoeg vir haar gedoen deur die pos te skep nie? Selfs al was Tom by mevrou Pressly betrokke, Hans self is nie aandadig nie. En weer eens, soos sy vir haar pa gesê het, is Babs bes moontlik totaal van spoor af. Is Babs net totaal teensinnig om dalk vir Erika Pressly te moet sien?

Wat in stil verkeer ’n kwartier sou kon wees, neem sowat ’n halfuur tot by die dubbelverdieping. Nie nuut of aanskoulik nie, sover Brenda met behulp van straat- en terreinlig kan vasstel. Daar is geen omheining of voorhekkie nie, wat dit blootgestel laat voorkom.

Wat haar dadelik verder tref, is die Te Koop-bordjie wat op die rand van die grasperk ingeplant is. Dan onthou sy dat dit ter sprake gekom het hoe hy ’n plek nader aan die Sentrum wil koop, en kleiner, meer beheerbaar. Want dis selfs in die aand duidelik dat hy beheer oor huis en tuin verloor het. Asook oor wat binne die mure gebeur, dink sy meewarig.

Babs hou stil sonder om haar motorligte af te skakel, rol die ruit aan haar kant af, beduie met uitgestrekte arm na die huis, en maak haar draai met soveel intensie dat sy net sowel reënmodder in die beproefde mevrou Pressly se gesig sou kon spat. Brenda wil liggies toeter of ligte flikker om te beduie dat sy vir ’n paar woorde moet wag, maar dis te laat.

Dan bevind sy haar alleen op die betonpaadjie voordeur toe.

Sy wil nie die klokkie druk nie, klop daarom net liggies. Sy wag nie op ’n uitnodiging voor sy die knop draai nie. Dis oop, en sy stap in.

Waar sy chaos verwag het, stuit sy voor die teerste toneeltjie denkbaar. In die lig van ’n staanlamp sit Hans Pressly op die bank, een arm om sy vrou geslaan, die ander arm om die twee kinders op sy skoot.

Hy roer net sy skouers vir Brenda om te verduidelik dat hy nie kan opstaan nie. Daar flits egter ’n trek van onnoemlike verligting oor sy gesig.

Sy knik, wag dat hy een of ander koers moet aandui.

Hy neem versigtig sy arm van sy vrou af weg. Nou het hy vir elke kind ’n arm, en hy staan op en skik hulle reg sodat hulle met die kop teen sy skouer lê. “Hulle het nog nie gebad en geëet nie. Ek moes eers kalmeer,” en hy neig sy kop.

Vir die eerste keer kyk Brenda voluit na Erika Pressly, en sy staan verstom oor soveel skoonheid en trefkrag in so ’n klein verpakking. Hawermoutkleur hare in rafelstyl op haar skouers, die lyf petite dog volmaak gebou. Styf passende denimbroek en poeierblou oortrektrui. Is haar ma, die vervolgsugtige skoonma van Pressly, die rede agter die goed versorgde uiterlike? Dis net die oë wat leeg op die besoekster gerig is, wat verklap dat alles nie pluis is nie.

Nie werklik blond nie, dink Brenda vinnig. Maar wat maak dit nou saak? Pressly laat die kinders grond toe gly en verduidelik, waarskynlik omdat hy dink Brenda verdien dit, maar nie so hard dat moeder en kinders kan hoor nie: “Was iets van ’n uitbarsting, kinders se geraas het vir haar te veel geword. Ek het die kliniek gebel en die suster het opdrag gegee ek moet solank een van haar kalmeerpille gee.”

“Jy kan later verduidelik,” sê Brenda kort. “Ek sal regkom hier.” Sy is dankbaar dat hy nie in verskonings, danksegging en uitleg verval nie.

“Vicky weet waar alles is. En hulle is nie moeilik met vreemdes nie. Is gewoond om van die een stel hande na die ander aangegee te word.”

“Is daar van haar goedjies wat moet saam?” Die naam Erika kry sy nie oor haar lippe nie.

“Niks wat nie maar kan bly nie. Ek gaan haar in die kar bondel voor die kalmering uitgewerk raak. Sluit julle toe. Ek het ’n sleutel, trek net die binnesleutel uit.”

“Hoe help ek jou met haar?”

“Sy is nou sonder fut, ek dra haar sommer.”

“Jy weet dit reën buite?” maak Brenda seker.

“Die kar staan al voor die agterdeur.”

Hy kom twee uur later terug, byna geruisloos, met sy eie sleutel weer vanaf die kombuis se kant. “Slaap hulle?” vra hy heel eerste toe hy Brenda met ’n tydskrif by die staanlamp aantref. Hy gooi sy karsleutels op ’n sytafeltjie neer en stryk die hare wat oor sy voorkop gesak het, terug.

“Ja, hulle is sonder om te kla bed toe. Ek het hulle nie gebad nie, net punte afgevee. Hulle sê hulle is nog skoon.”

“O, ja? Watter kind is ooit vuil?” Hy sê dit met ’n laggie, vir hom nogal seldsaam. “Maar dis waar, hulle was heeldag net in die huis.”

“Ek is bevrees hulle is nie met voedsame kos bed toe nie.”

“Moenie sê nie: kitsnoedels. Hoekom dink jy is daar so baie pakkies in die kas?”

“En hoe het dit met jou gegaan?” Sy wou dit nie werklik vra, betrokke raak nie. Sy moet haar denke eers herrangskik: dat hy nog sy vrou liefhet, tensy liefde en deernis baie op mekaar lyk. Wat nie onmoontlik is nie. Sy dink aan die deernis van haar ouers vir mekaar.

Neels se vrou was nie siek nie, sodat sy kon beoordeel hoe en of hy verander, hoe en of hy haar enduit bystaan. En waarom sou hy nie? Hy het met Lina getrou omdat sy een uit duisend was. Sy het sy kind gedra, wat saam met haar dood is. ’n Nekslag vir enige jong man.

Wou sy haar tog maar graag verbeel dat sy baas se dogter vir hom onweerstaanbaar was? Dat sy vrou, puik maar geen skoonheid nie, se houvas op hom nie sterk genoeg sou wees nie? Dat hy selfs ’n bietjie verlig was? ’n Verwerplike gedagte, bevind sy self. Laakbaar, om te dink dat sy voorkoms die norm wil maak.

Sy is ’n sot. Hoewel sy haar gisteraand (dit was waarlik net gisteraand) wou verbeel dat hy een of ander boodskap na haar uitsein, het hy niks gedoen om dit te bevestig of op te volg nie. Was Onyra Doorn ’n te sterk teenwoordigheid?

“Dit bly maar vir my moeilik om haar so te sien,” antwoord Pressly. Daar is nou niks van sy formele werkstem nie. Hy klink vermoeid. “Ek sal nooit daaraan gewoond raak nie. En sy weet nie eers wie ek is nie.”

Hy voel skynbaar genoop om nog feite deur te gee: “Die neuroloog het vroeg al gewaarsku teen hierdie soort woedebuie. Dis neurologies van aard, nie emosioneel nie. Sy was eintlik ’n baie geduldige ma.”

“Ek begryp. Het die kliniek waar sy is ’n eie siekeboeg?”

“Ja, maar die ambulans het haar van daar af hospitaal toe gevat. Ek het agterna gery. Met die opname gehelp en gebly tot haar ma opdaag.”

“Woon sy nooit by haar ma nie?”

“Nee, maar tye lank, naweke veral. Haar ma dring dan aan dat die kinders ook kom. Sy glo dis vir albei kante goed om mekaar te sien. Dat die kinders met die herstel kan help.”

“Dis tot nadeel van hulle. Jy kan tog seker jou stem laat hoor.”

“Sy is aangewys as curator personae vir Erika. Kan namens haar besluit, aangesien Erika nie kan nie.”

“Hoekom laat sy toe dat Erika na jou toe kom? Wat wil sy bereik?” Brenda het die tydskrif neergesit, opgestaan, haar trui vaster om haar getrek en haar handsak gevat. Maar sy móét verstaan hoe hierdie dinamika werk; sy is daarop geregtig, aangesien sy die daaruit vloeiende krisis moes help hanteer. Na ’n paar uur in hierdie weemoedshuis en met twee fraai dog getroumatiseerde kinders, moet sy weet. Vicky het net laat glip dat Mamma so geskree het dat Pippa onder die stoel weggekruip het.

“Sy wil bewys dat ek nie die mas sal opkom nie. Dat ek nie ma en kinders saam by my kan vat nie.” Hy huiwer, voeg dan byna kortaf by: “Sy wil my dwing om te skei.”

“En gaan jy?”

“Ek is reeds deur haar gedagvaar.”

“Dit klink vreemd. Jou skoonma dagvaar jou vir egskeiding.”

“Inderdaad. Maar die proses is aan die gang en sleep reeds lank voort.”

“Klink na ’n gelukkige prokureur wat sy het. Vra my, ek weet alles van vertragingstaktiek. My pa is gewild omdat hy nie voete sleep nie.”

“Dalk moet ek sy hulp inroep.” ’n Skewe glimlag, maar nie van vreugde nie. “My eie prokureur kom soms soos ’n marionet voor.”

“Dis nie die soort egskeiding wat aldag opduik nie. Baie kompleks, glo ek.”

“Dit klink of jy weet. Dankie vir so ’n klein genade. Dat ek nie hoef te verdedig of verduidelik nie.”

“Jy sal maar daarby moet inval. Jou lewe moet aangaan, ter wille van die kinders.”

“Ek weet. Maar die proses is by tye kwetsend. Die intiem private vrae waarop ek al moes antwoord.”

“Ek aanvaar dat jy nog alles sal moet betaal? Haar versorging, medies?”

“Ja, daarvoor sorg die curator bonis, haar broer,” antwoord hy sinies. “Gelukkig hanteer hy nie die egskeiding nie, anders sou hulle my fynkou en uitspoeg.”

“Babs het te kenne gegee dat jy ook moet veg om die kinders te behou. Ek weet net, dis nie so maklik vir ’n ouma om minderjariges in haar sorg te kry as daar een toereikende ouer oorbly nie.”

“Dit troos om te weet.” Hy staan saam voordeur se kant toe: “En nou het ek jou tog belas, en dit met skinder en derms uitryg. Die woorde wat my ma altyd gebruik het as my pa oor sy eerste vrou begin uitpak, of oor sy dogter Huibrie.”

“Ek het dit nie ondervind as derms uitryg nie. Wees gerus.”

“Ek hoop jy het dit teen môre vergeet. Jy kom tog weer Sentrum toe?”

“Jy was eerlik, so laat ek ook wees: Ek het vandag swaar teruggekom.”

“Ek weet. Die weemoed in jou oë is sterker, indien moontlik.”

Sy praat bo-oor: “My suster is nou my prioriteit. My opdrag van die paterfamilias was dat ek haar terug op haar voete moet help.” Met goedige humor voeg sy by: “Nogal moeilik. Sy lig nooit haar voete behoorlik op nie. Of praat ek nou uit die huis?”

Sy glimlag is hierdie keer eg. “Laat ek dit so stel: Ek ken die voetstappe van elke werknemer of personeellid, en ek weet as dit mevrou Kilian is wat op die stoep aankom.”

“Aangeslof kom,” verbeter sy, bewus daarvan dat hierdie skynbare lomperigheid deel van Babs se bekoring is. Spits hy dalk sy ore daarvoor?

Sy brand om te weet of hy van Babs se teorie oor Pippa bewus is, maar vra nie. Sy het haar sending voltooi en wil nou tuiskom.

Hy stap saam tot by haar motor, maak die deur oop toe sy oopsluit, wag tot sy haar sit kry. Sê dan: “Bedank kan ek jou nie. My alfabet maak nie daarvoor voorsiening nie.”

Sy wil sê dat hy net nie ’n gewoonte daarvan moet maak nie, maar dit sou onsensitief wees. “Bly ek kon help. Ek is redelik dom met kleintjies, maar hulle is maklik.”

“O, hulle weet van beste voetjie voorsit. As jy hoor hoe hulle saans in die bad te kere gaan, sal jy dit nie glo nie.”

Brenda lag. “My ma het altyd gesê sy gryp net in as daar bloed is. Maar een aand piets Babs my met die nat waslap deur die oog. Ek skrou natuurlik harder as wat nodig is. Ek onthou hoe my keel geskraap het. My ma het ons met die plat hand oor ons nat boude kom streep. Toe moes jy die geskree hoor. My pa se ingrype was die volgende stap.”

“Is dit net julle twee?” Dit reën nie op die oomblik nie, maar hy lyk klam en verslae daar waar hy buite die motor staan, ’n man volkome alleen.

“Tussen ons het my ma ’n seuntjie verloor.”

“Elke huis het sy kruis.” Hy staan agteruit toe sy aanskakel. “En nou moet jy alleen ry,” sê hy berouvol. “Is dit reg as ek jou suster bel en sê jy het nou net gery?”

“Los maar, sy het dalk net aan die slaap geraak. En soos ons tuis sê, ’n half geslaapte Babs is ’n Barbára.”

“Mag ek dan vra dat jy my bel as jy daar kom?”

“Billik,” stem sy in.

“As ek dit durf sê: Jy het ’n gawe om dinge beter te maak. Of beter te laat voel.”

“Ek probeer nie, maar dankie.” Sy voel ook getroos, want haar algemene gevoel is dat sy te koel, te ongeraak voorkom.

Sy ry voorspoedig, met die pad nou stiller as vroeër vanaand. Toe sy regoor Edelhof kom, is sy weer eens onkant betrap, soos die eerste keer. Sy kon nie betyds na die regterbaan beweeg, waar die afdraaipyl wys nie.

Sy sit haar flikker aan en hou asem op vir die kar agter haar, met ligte wat vol oor haar skyn. Sy wag vir die getoeter, met of sonder ’n slag teen haar agterbuffer. Maar dit swaai betyds, peul aan haar regterkant verby. Geen toeter.

Die náskrik bons in haar bors en haar litte voel lam. Sy weet sy het gefouteer, maar die ander bestuurder het te vlak agter haar gery, en mag ook nie regs verbysteek nie.

Dan verstyf sy. Die karretjie wat weer vlak voor haar inswaai, is mosgroen. Dit kon sy sien terwyl haar eie ligte sekondes lank op die verdwynende agterkant flits.

Dis dieselfde verbleikte een wat sy vroegaand gesien het toe sy en Babs tuiskom. Die een wat aan die oorkant van die straat gestaan het, en waaroor sy liewer niks wou sê nie. En ’n inwoner is dit beslis nie, dan sou die bestuurder geweet het wat hy doen. Tensy dit ’n terloopse besoeker of oorslaper is, wat nog met die bane en afdraaie fouteer. Maar nee, die waarskynliker moontlikheid is dat hierdie een haar gevolg het, bereid om te doen presies soos sy, ten einde op haar spoor te bly.

Haar skrik verdiep. Moet sy eers ’n paar draaie ry, ingeval die bestuurder wou omdraai en terugkeer, om hierdie keer gemaklik uit te draai en haar enduit te volg? Pressly kan dit tog nie wees nie. Hy sit tuis vasgekeer met die kinders; en wat kan hy baat deur haar te volg, as hy haar pas gesien het? Buitendien het sy die gevoel ook Vrydagaand gekry toe hy na die saameet by Edelhof uitry.

Tom? Wat op Babs spioeneer? Of iemand daarvoor huur? Waarom? Hulle storie is verby, hulle wou skei, en hulle het. Of wou hy nie? Is hy vervul met ’n obsessie dat, as hy haar nie kan kry nie, niemand anders haar sal kry nie? Maar sy speurder moet dan beter ingelig word oor watter suster Babs is. Hulle lyk nie eers eenders nie. Dink Tom dalk die Rabies sweer saam om Babs buite sy bereik weg te voer?

Indien nie Pressly of Tom nie, wie anders dan op die wye aarde?

Die ekstreem belaglike gedagte dat Neels daaragter kan sit, verwerp sy meteens. Hoekom sou hy haar wou laat dophou? Hy het maande lank, en gisteraand spesifiek, al die kans in die wêreld gehad om haar gevoel te toets, en hy het nie.

Hierdie situasie doen my geen goed nie, besluit sy terwyl sy, nou sonder enige verkeer van agter, veilig afdraai en agter Babs se motor onder die afdak stilhou. Nie net die omgewing nie, maar ook haar suster, Edelhof, die Sentrum, Pressly en sy geteisterde gesin, doen haar enige goed nie.

Verloor sy haar sin vir werklikheid? Daar sal meer as een mosgroen karretjie in die stad wees, en groen is ’n kleur wat maklik verbleik. Sy weet nie wat om te dink, wat om te glo, wat om te wens nie.Weet nie wat sy begeer of waarna sy hunker nie. Selfs om Neels Mostert se geliefde te wees, lyk op hierdie oomblik na ’n totale onmoontlikheid en onwenslikheid, om nie te sê ’n onveiligheid nie.

Die nag en die wêreld is wyd om haar toe sy uitklim en byna oorhaastig Nommer 3 se voordeur opsoek. Haar sleutel is aan die motorsleutels. Durf sy hoop dat Babs onthou het om die sleutel binne uit te trek?

Babs het wel onthou. Wat meer is, sy is nog wakker. Só laat is dit immers nie, nog voor halftwaalf. “Dank die hemel jy is veilig hier,” bars dit uit haar. Dit lyk of sy in die huis rondgedwaal het.

“Hoe dan anders?” antwoord Brenda terwyl sy gou vir Hans bel en kortliks noem dat sy tuis is. Hy praat niks verder nie.

“Ek het tien duisend tonele bedink hoe jy verongeluk of gekaap of beroof word.”

“Gelukkig nie. Het jy met Pa-hulle gepraat?”

“Ja, hulle het ook duisend onheile bedink oor hulle twee bloedjies op die langpad. Skynbaar begin bel net nadat ek en jy weggery het na Hans toe.”

Brenda hoor nou dat Babs se stem dik is, haar neus toegetrek. “Hoekom het jy gehuil?” vra sy. “Seker nie oor my nie.”

“Sommer, ek was alleen.”

“Jy sal maar daaraan gewoond moet raak. ’n Mens kan aan alles gewoond raak. Met genoeg tyd.” Nie net aan ’n verlore liefde nie, maar ook ’n vergeefse een.

“Goed, as jy dan moet weet, ek het oor Tom gehuil. Hy kon harder baklei het om my te hou.”

“Sou jy jou laat hou het?”

“Hoe was die vrou toe jy daar kom?” Duidelik genoeg het Babs se gedagtes van Tom na Erika Pressly gespring.

“Die ergste was verby. Hy het haar ’n kalmeerpil gegee en weggevat. Gaan haar medikasie laat evalueer.”

“Kalmeerpil?”

“Van haar eie. Hy het eers die kliniek gebel.”

“O, reg. Wat verhinder hom om haar ’n oordosis te gee?”

“Ek dink nie hy sien kans om vir moord aangekeer te word nie,” antwoord Brenda met die nodige sarkasme. Susters is nooit ver van hetsy liefde of wrewel vir mekaar nie.

Babs huiwer lank voor sy vra: “En die kinders?”

“Was glo verskrik oor haar uitbarsting. Maar kinders kom gouer reg as grootmense, lyk dit my.” Sy sê doelbewus niks oor die blonde klein Pippa nie. Sy sien weer vir Pressly sit met die bondeltjies in sy arms. Iets sê by herhaling vir haar dat hy nooit ’n vaderskaptoets sal laat doen nie, al vermoed hy ook wat. “Ek is nou lus vir tee, en van Ma se oorskietkos.”

“Die water is kokend. Ek het dit elk keer weer laat kook as ek dink dis jou motorligte wat inry.”

“Het Erika haar eie kar gehad, en hoe lyk dit?” vra Brenda toe sy ’n toebroodjie maak van die koue boudvleis wat haar pa nog vanmiddag aan die Sondagtafel gesny het. Behalwe dat dit soos gister voel. En gister voel of dit nooit was nie: die braai by hulle huis, Neels met bladspiere wat onder die hemp roer as hy die rooster omkeer.

“Ja, sy het gehad, maar sy kon nooit weer bestuur nie. Hoekom?”

“Sommer gewonder of hy dalk vanaand daarmee gery het. Dis seker makliker in die verkeer.”

“Haar ma sou dit wel geannekseer het.”

Brenda sit blaarslaai en mosterd op, maal swartpeper bo-oor. “Jy ook lus vir ’n middernaghappie? Hoewel ek sien jy het reeds fluks gewei.”

“Kan nie help jy was nie hier nie. Ja, ek wil hê.”

“Ek weet, ek het genoeg gemaak, jy sien mos. Anders vat jy myne af. Wou Pa-hulle met my ook praat?” Ongeërg.

“Nie juis nie. Dit het geklink of Pa vanaand sy handlanger moes spreek oor een of ander hofsaak.”

“As jy van Neels Mostert praat, hulle is kollegas.”

“As jy so sê. Veilig teruggery? Ek voel skuldig dat ek jou net so daar by Hans se huis gelos het.”

“Ja, dankie. Net weer ons afdraai amper verbygery, toe skiet ’n buffel aan my regterkant verby.” Liewer nie uitbrei nie.

Neels Mostert. Was hy twee aande op ’n ry by die Rabie-woning? Nee, meer waarskynlik het hulle by die kantoor ontmoet. Ook net as dit nie anders kon nie; Tiny is nie ’n Sondag-werker nie.

“So, hulle wou nie weet hoekom ons nie op die bestemde tyd tuis was nie?”

“Ek dink ek het gesê ons was net by die Sentrum aan. Ons was mos. By die Sentrum se baas, dis waar genoeg.”

“Ek was bang jy blaker uit dat ek alleen by Hans Pressly is.”

“Ek het jou al gesê, my moeilikheid met Tom het nie my verstand aangetas nie.” Stilte, dan bitsig: “Ons los daai afdelinkie vir miesies Pressly. Sy het haar skelmpie, my dierbare eks, ’n slegte streep getrek toe sy haar kop verloor. Op ’n ander manier as op hom.”

Brenda los dit. Sy het genoeg, werklik genoeg vir een dag gehad. Van Babs, van Pressly en almal wat met klein mosgroen karretjies verby haar jaag om haar naelskraap te verongeluk.

Of was dit dalk die bedoeling om haar te verongeluk?

Louisa du Toit Omnibus 12

Подняться наверх