Читать книгу Ek en jy verskil hemelsbreed - Louise van Coller - Страница 10
4
ОглавлениеDie verstaan van wie ek en jy is
Marital happiness is dependent on the extent that we meet our partners’ emotional needs.
– Arnold Mol
Voor jy kan weet wat ander nodig het, is dit noodsaaklik om jouself te leer ken en te verstaan. As jy jouself nie ken nie, is die kans groot dat jy ander ook nie sal verstaan nie, en nie regtig genade met hul andersheid sal hê nie. Eers daarna kan jy jou maat leer ken en met oë van aanvaarding na hom of haar kyk.
Gebed
Dankie, Vader, dat dat U ons met ’n spesifieke persoonlikheid in die moederskoot aanmekaar geweef het. Ek vra u seën oor almal wat hulleself beter wil leer ken, en dat U Uself in die duidelike weerspieëling van U kinders se ware identiteit sal openbaar. Mag U elkeen lei en hiermee bystaan.
Dankie, Vader.
Amen.
Noudat jy uit die vier blokkies in hoofstuk drie jou voorkeurtipes verstaan en ’n moontlike idee het van hoe elkeen se kop anders dink, wil ek die sestien persoonlikhede opsommend verduidelik. Dit sal die verskille en interessanthede rondom jou identiteit uitlig en laat waardeer.
Daar bestaan dus vier hoofgroepe, met verskille in elke groepe.
Moontlikhede
(Opsomming: einde van die hoofstuk)
SJ-Hooftipe | NF-Hooftipe | NT-Hooftipe | SP-Hooftipe |
ISTJ | INFJ | INTJ | ISTP |
ESTJ | ENFJ | ENTJ | ESTP |
ISFJ | INFP | INTP | ISFP |
ESFJ | ENFP | ENTP | ESFP |
Indien jy dalk verward is en jouself duidelik binne twee groepe sien en eintlik deurmekaar voel, wil ek dit verduidelik.
Kombinasiepersoonlikhede
Daar mag areas wees waar jy onseker was en in albei groepe tuis is, byvoorbeeld by Ekstrovert en Introvert. Dit beteken dan dat jy ’n kombinasie van ekstroverse eienskappe sowel as introverse eienskappe het. Jy het dus mense nodig as bron van energie, maar nie vir te lank nie, dan sal hulle jou uitput. Dit is op geen wyse verkeerd of verwarrend nie. Jou voorkeur is verdeel tussen die twee, E en I, en jy behoort ’n mate van balans tussen die twee te openbaar.
Waar voorkeure by albei van die laaste groep voorkom, die Judging(J)/Berekend en Perceiving(P)/Begrypend, sal sulke persone van die voltooiing van sommige dinge hou, maar nie heeltyd onder druk wil verkeer ter wille van voltooiing nie. Sulke persone sal ’n toleransie hê ten opsigte van mense wat nie altyd betyds of pynlik netjies is nie, maar self soms ’n mate van behoefte daartoe hê. Dit behoort ook nie ’n probleem te veroorsaak nie, hoewel daardie persone hulleself soms ’n bietjie kan verwar, maar nie genoeg om oor bekommerd te wees nie.
Waar gelyke tellings by die Gevoelsmens(F) en Denker(F) voorkom, sal daardie persone emosioneel/denkend wees en eintlik baie gebalanseerd voorkom. Sulke persone behoort dit soms moeilik te vind om te kies tussen rede en emosie, omdat hulle nie altyd weet of hul hart of verstand die keuse maak nie. Daar mag omstandighede wees wat die geneigdheid om van hart en verstand gebruik te maak beïnvloed, soos byvoorbeeld die dood van ’n kind, ’n egskeiding, onlangse trauma of ander beradingsinsidente asook nuutgevonde Christenskap of huidige grondige karaktergroei. Waar persone die Keirsey-persoonlikheidsanalise laat doen, sal hul puntetelling dit duidelik maak en hulle help om dit beter te verstaan en onsekerhede uit die weg ruim.
Waar daar by die Sensories(S) en Intuïtief(N) gelyke voorkeure voorkom, mag sulke persone nou meer deurmekaar voel as ooit. Juis omdat hulle hul sintuie(S) gebruik om inligting te versamel en hul intuïsie(N) ook sterk ontwikkel is as bron van waarneming, weet hulle nou nie meer wat en hoe hulle dink nie. Dit veroorsaak innerlike konflik en laat hulle maklik sê dat hulle juis om hierdie rede nie te diep oor hulleself wil dink nie. Hulle kan dan effe vies voel. Hou moed, juis hierin lê ’n waardevolle antwoord, wat jou baie dinge beter sal laat verstaan wanneer jy dit begryp.
(Ek gaan hierdie verskynsel breedvoerig bespreek, maar weereens wil ek jou aanraai om dit met ’n persoonlikheidsanalis of berader met kennis en ondervinding te bespreek.)
Die verwarring ten opsigte van Sensories(S)/Intuïtief(N)
Ek sien gereeld met berading dat mense wat vanuit die Intuïtiewe(N)-groep kom, as kinders deur verskeie faktore beïnvloed is om te skuif na die rigting van Sensories(S). N-kinders is dromers en kan heerlik fantaseer. Hulle het ’n ryk verbeelding en kan maklik stories vertel en hulle so inleef in hul verhale dat hulle selfs die rolle begin vertolk. Kinders wat heeldag sit en dagdroom kan maklik ’n taakgerigte ouer wat gefokus is, hê (soos SJ), wat hulle uit hierdie droomwêreld wil inlei na die werklikheid. Sulke ouers is bekommerd dat die kind nooit op skool sy werk sal voltooi as daar heeltyd gedroom word nie. Hulle sal die kind dan help om te fokus, vinnig te maak, klaar te kry en eindelik minder verbeeldingryke stories te vertel, wat vir die SJ-ouer alte veel na lieg kan klink.
Die skoolsisteem is op prestasie en voltooiing geskoei en daar is min tyd op skool vir stories, kreatief wees en daaglikse verbeeldingsvlugte. Kinders leer aan dat dagdroom en fantaseer eintlik “verkeerd” is en dat ons gou moet maak, klaarkry en aangaan. Heimlik ervaar kinders ’n verwerping van hul Godgegewe persoonlikheid en hierdie intuïtiewe inslag word al minder gebruik. Ons leef in ’n wêreld wat deur spoed, tyd, geld en vooruitgang gedrewe is – dit is grotendeels ’n swart-en-wit wêreld van reg of verkeerd. Intuïtiewe mense daarenteen geniet die grys gebied en funksioneer effektief daarbinne en kies ook beroepe waar hulle hierdie talente kan uitleef.
Soos met enige talent, as dit nie gebruik word nie, neem dit af en is dit soms nodig om jou intuïtiewe gawe weer te leer gebruik en kreatief en innoverend te raak. Dit is belangrik om te weet dat jy die ware jy mag wees, al verskil jy van baie ander om jou! Alleen wanneer jy funksioneer binne jou ware Godgegewe persoonlikheid, sal jy totale vervulling ervaar en innerlik volkome geluk beleef.
Die alternatief is waar die een ouer ’n SJ is, die ander ’n NF, en geneties is daar by een ’n emosionele inslag tesame met intuïsie. Daar is egter ook ’n strengheid wat met betroubaarheid en sintuiglikheid saamgaan en van jou ’n staatmaker maak. Dit mag ook aangeleerde gedrag wees, na gelang van van die omstandighede (die S-gedeelte).
Juis weens hierdie verwarring wat kan ontstaan, is professionele persoonlikheidsanalise van kardinale belang om jou ware persoonlikheid te ontdek en binne konteks te verstaan. Dit sal vir jou klaarheid gee om presies te weet hoekom daar twee kante aan jou is, en jy jouself soms as kompleks beskou. Dit mag amper voel of daar soms innerlike konflik binne jou siel bestaan – en al is jy lewenslank daaraan gewoond, verwar dit jou steeds.
Persoonlikheidsanalise bied ’n lewensbelangrike bousteen rakende identiteit. Min mense soek regtig hiervoor, maar wanneer hulle dit eers gevind het en dit sin maak, bied dit antwoorde waarna hulle jare lank in die onderbewussyn gesoek het.
Moenie jouself in die steek laat nie, jy is al wat jy het.
– Janis Joplin
Hooftipes en die onderafdelings
Ek gaan nou die vier hoofgroepe verduidelik om hierdie konsep vir jou uiteen te sit. Moontlik kan jy reeds sien waar jy inpas en met watter een jy identifiseer.
(Sien die opsomming aan die einde van hierdie hoofstuk as jy wil terugloer om seker te maak en ’n vinnige verwysing wil hê.)
SJ-groep
•ESTJ - Ekstrovert / Sintuiglik / Denker(T) / Berekend(J)
•ESFJ - Ekstrovert / Sintuiglik / Gevoelsmens(F) / Berekend(J)
•ISTJ - Introvert / Sintuiglik / Denkend(T) / Berekend(J)
•ISFJ - Introvert / Sintuiglik / Gevoelsmens(F) / Berekend(J)
Dit is duidelik dat hierdie groep slegs verskil ten opsigte van die TF(Denkend/Gevoelsmens) en die IE(Introvert/Ekstrovert). Al vier is oorheersend sintuiglik(S) en gebruik die sintuie as voorkeurgroep. Al vier is ook berekend(J) en hulle ervaar ’n dringendheid ten opsigte van afhandeling van take.
Die SJ-hooftipe
ESTJ, ESFJ, ISTJ en ISFJ
Hierdie groep mense kan gesien word as standvastig en uiters betroubaar. Hul woord is hul eer en SJ’s is gemaklik met verantwoordelikhede. Pligsbesef is deel van hul wese. Hierdie mense is taakgerig en gemotiveerd en skram nie weg van hul opgelegde take nie. Hulle lewer werk van hoogstaande gehalte en verwag dit ook van ander. Hulle is tuis en in die werkplek gesteld op orde en wil elke ding op sy plek hê. Vanweë hul doelgerigtheid is hulle uiters bruikbaar in ’n werksopset en vorder hulle gewoonlik tot bestuursposisies in hul veld.
Die SJ’s se geneigdheid tot verantwoordelikheid bring egter nie altyd vir hulle die welverdiende waardering nie. Hulle ontvang oor die algemeen minder waardering as wat hulle toekom, juis omdat almal dit van hulle verwag of selfs omdat ander jaloers kan raak of daardeur geïntimideer word.
Dikwels kan SJ’s hulleself oorwerk omdat hulle so gedrewe is, altyd in beheer wil wees en dan moeilik nee sê vir verdere verantwoordelikhede. Alhoewel die ekstroverte sosiaal en vrolik kan wees, mag SJ’s soms streng voorkom wat waardesisteme betref. Die SJ’s wat meer van hul hart bewus is, hou graag tradisie in stand, is uiters gasvry en wil vir ander tot diens wees. Hulle is van groot waarde in enige organisasie.
Die SJ’s het ’n geneigdheid om te organiseer – meubels, mense, skedules, organisasies, alles wat voorkom. Hul lewe draai om prosedures en hulle het ’n prosedure vir alles, van koskook tot hul sekslewe. Hulle is ewige planmakers. Hulle hou daarvan om in beheer te wees en ander instruksies te gee. So neem hulle ook natuurlik die leiding en sorg dat dinge afgehandel word.
By die huis en by die werk het hierdie mense ’n ondertoon van “plig kom voor plesier” en dat pret verdien moet word. Hulle is betroubare lewensmaats en wil aan die gesin, die organisasie of die kerk behoort, wat dan hul behoefte aan diensbaarheid bevredig. Hulle is baie realisties en is nie blind vir hul eie swakhede nie. SJ’s kan redelik maklik uitgeken word weens hul beslistheid, standvastigheid en dikwels ook hul humeur en ongeduld.
Die SJ-groep beslaan ongeveer 38% van die totale samelewing.
Bekendes in hierdie groep is:
•President George Washington (ESFJ)
•President Jimmy Carter
•President George Bush
•Koningin Elizabeth I
•Koningin Elizabeth II
•Koningin Victoria
•John D Rockefeller (ISTJ)
•FW Woolworth
•William K Kellogg
•Moeder Teresa (ISFJ)
NF-groep
•INFJ - Introvert / Intuïtief / Gevoelsmens(F) / Berekend(J)
•ENFJ - Ekstrovert / Intuïtief /Gevoelsmens(F) / Berekend(J)
•INFP - Introvert / Intuïtief / Gevoelsmens(F) / Begrypend(P)
•ENFP - Ekstrovert / Intuïtief / Gevoelsmens(F) / Begrypend(P)
In hierdie groep verskil die persoonlikhede ten opsigte van die J/P(Berekend/Begrypend) en die I/E(Introvert/Ekstrovert). Al vier kies Intuïtief(N) as voorkeurgroep en besef die waarde van hul sesde sintuig en gebruik en vertrou dit in hoë mate. Al vier is gevoelsmense(F) met die hart as sterkste element tydens besluitneming.
Die NF-hooftipe
INFJ, ENFJ, INFP en ENFP
Hierdie groep mense het ’n diepte van karakter en ’n ryk innerlike lewe. Hul lewe sentreer rondom mense en hul hart bepaal hul gedrag. Die NF’s is verhoudingsgesentreerd en wil die beste in ander uitbring. Hierdie idealiste wil graag wees wat hulle bedoel is om te wees, en wil ’n identiteit hê wat uniek aan hulle is. Hulle is inherent dromers, kom met vreemde innoverende planne vorendag en het ’n natuurlike talent om met mense te werk. Hierdie mense dra hul hart op hul mou, sukkel om kritiek te hanteer en kan daarom maklik seerkry.
Die NF’s is sowaar die romantikusse van die samelewing en is gevoelvolle, teer liefdesmaats wat konflik liefs vermy. In hul verhoudings is niks oppervlakkig nie, en dit moet betekenisvol wees en ’n emosionele waarde-element hê. As ouers neem hulle hul kinders se gevoelens baie ernstig op en poog om elkeen se identiteit te ontwikkel.
Hulle wil primêr waardeer word vir wie hulle is en reageer baie goed op erkenning. Juis daarom sal hulle soms te diep betrokke raak om ander te help en kan maklik emosioneel oorlaai word. Dit kan dan in spierspasmas manifesteer en hulle kan van emosionele uitputting depressief raak. Hulle is opregte vriende, met ware empatie en kan daarom uitgebuit word. Hulle is maklik geneig om “people pleasers” te word.
Die NF’s besit ’n natuurlike charisma en kommunikasievaardigheid, en word van nature deur die kunste aangetrek. Hulle het vrede en integriteit nodig om optimaal te funksioneer en hulle is wonderlike, liefdevolle huweliksmaats. Die meeste skrywers kom uit hierdie NF-groep.
Die NF-groep beslaan ongeveer 12% van die totale samelewing.
Bekendes in hierdie groep is:
•Jane Fonda (ENFJ)
•Shirley MacLaine
•Emily Dickenson (ENFJ)
•Leo Tolstoy (ENFP)
•Mahatma Ghandi (INFJ)
•Prinses Diana (INFP)
•Mikhail Gorbachev (ENFJ)
•Carl Jung (INFJ)
•Abraham Maslow
NT-groep
•INTP - Introvert / Intuïtief / Denker(T) / Begrypend(P)
•ENTP - Ekstrovert / Intuïtief / Denker(T) / Begrypend(P)
•INTJ - Introvert / Intuïtief / Denker(T) / Berekend(J)
•ENTJ - Ekstrovert / Intuïtief / Denker(T) / Berekend(J)
In hierdie groep verskil die persoonlikhede ten opsigte van die J/P(Begrypend/Berekend) en die I/E(Introvert/Ekstrovert). Al vier is duidelik Intuïtief(N) as voorkeurgroep, besef die waarde van hul sesde sintuig/intuïsie en gebruik en vertrou dit in baie groot mate. Al vier is hoofsaaklik kopdenkers(T) en gaan met die meeste besluitnemings deur ’n proses waar hulle hul kop as sterkste oorweging mag benut.
Die NT-hooftipe
INTP, ENTP, INTJ en ENTJ
Hierdie groep sien die lewe vanuit ’n heel ander perspektief en dink rasioneel en visioenêr. As kinders voel hulle dikwels dat hulle die enigste van hul soort in die klas is, maar ontdek gewoonlik met tersiêre opleiding dat daar sowaar ander soos hulle bestaan. Vanweë hul logiese, analitiese sienswyse kan hulle die uitdrukking van hul emosies onderdruk en sosiaal onsensitief wees vir ander se behoeftes. Hierdie gebrek aan dieper emosie kan ’n sielkundige afstand skep in persoonlike verhoudings. NT’s het gewoonlik net ’n paar goeie vriende wat hulle verstaan en geniet.
Hulle het ’n behoefte om die natuur en die werking daarvan te verstaan en te beheer. Daarom sien ’n mens hulle dikwels in beroepe soos ingenieurswese, filosofie, wetenskap en argitektuur. Hulle funksioneer baie goed in die werksopset, maar is dikwels sosiaal nie so goed toegerus met natuurlike vaardighede nie. Hulle kan soms onbewustelik sarkasties wees en ander seermaak of irriteer met hul lewensuitkyk en kompleksiteit.
Die NT’s kyk vooruit na die toekoms en kan dinge uit die verlede totaal agter hulle sit. Dit maak ook dat mense hulle maklik as koud, emosieloos en arrogant kan sien. As ’n groep raak hulle nie maklik persoonlik by konflik betrokke nie, veral nie as emosies daarby betrokke is nie.
Hulle is visioenêre intellektuele, soos Albert Einstein, wat goeie probleemoplossingsvaardighede openbaar. Hulle kan onmoontlike standaarde aan hulleself stel en hiperkrities op hulleself wees. Hulle bevraagteken reëls en tradisies en wil die waaroms en hoekoms agter alles weet wat hul vryheid inperk.
As huweliksmaats is hulle nie regtig baie demonstratief in hul liefdesbetoon nie. Hul maat mag soms wonder of die NT van sy of haar bestaan bewus is. Hierdie groep word maklik misverstaan en sukkel om aan die verwagtings van ’n emosionele maat te voldoen. Hulle is ernstig omtrent hul ouerlike pligte. Met liefde en die aanleer van sosiale vaardighede, kan hulle egter goeie huweliksmaats wees.
Die NT-groep beslaan ongeveer 12% van die totale samelewing.
Bekendes vanuit hierdie groep:
•Walt Disney (ENTP)
•Mark Twain (ENTP)
•Gregory Peck (INTP)
•Thomas Jefferson (INTP)
•Abraham Lincoln
•Margaret Thatcher (ENTJ)
•Napoleon Bonaparte (ENTJ)
•Bill Gates (ENTJ)
•Albert Einstein (INTP)
•Aristoteles
SP-groep
•ESTP - Ekstrovert / Sintuiglik / Denker(T) / Begrypend(P)
•ESFP - Ekstrovert / Sintuiglik / Gevoelsmens(F) / Begrypend(P)
•ISTP - Introvert / Sintuiglik / Denkend(T) / Begrypend(P)
•ISFP - Introvert / Sintuiglik / Gevoelsmens(F) / Begrypend(P)
In hierdie groep verskil hulle slegs ten opsigte van die (T/F)Denkend/Gevoelsmens en die (I/E)Introvert/Ekstrovert. Al vier is duidelik sintuiglik(S) en gebruik die sintuie as voorkeurgroep. Al vier is begrypend(P) en ervaar stres waar daar druk toegepas word om dinge af te handel. Hulle het ’n behoefte aan die onafgehandelde.
Die SP-hooftipe
ISTP, ESTP, ISFP en ESFP
Hierdie groep is gemaak om vry te wees van reëls en die lewe te geniet in alles wat hulle aanpak. Hulle wil impulsief reageer, onbeplande avontuur beleef en spontane opwinding in hulle daaglikse lewe hê. Hulle kies dan ook beroepe wat dit vir hulle bied – om te werk is inherent om te geniet. ’n Beroep met sperdatums en druk om dinge te voltooi, sal SP’s inperk en onnodige stres en ongelukkigheid bring. Dit sal hul lewenskwaliteit benadeel en uiteindelik onaanvaarbaar wees.
Hulle word deur aksie aangedryf en dit vorm deel van elke dag. Hulle funksioneer baie goed in ’n krisis en dink juis op hul voete. Die aksie en opwinding laat hulle lewend voel. Soms skep hulle aksie in hul persoonlike lewe wanneer dinge te oninteressant raak. Dit is prettig om saam met hulle te werk of te lewe – elke dag bring sy eie opwinding.
Werktuie is hul meester en dit trek hulle soos ’n verslaafde, juis omdat dit die belofte van aksie inhou. Die werktuig word ’n opwindende verlengstuk van die SP, byvoorbeeld renjaers, vlieëniers, surfers, ambulansbestuurders, professionele soldate, entrepreneurs wat besighede van bankrotskap red, kroegmanne, haarkappers, modelle, towenaars, polisiemanne en professionele atlete – altyd aksie!
As huweliksmaat is pret steeds ’n wagwoord en selfs ten opsigte van die seksuele moet daar opwinding wees. Waar die SP’s nie aan ander se verwagtings voldoen nie, sal hulle probeer hervorm, maar dit sal nie lank hou nie. Reëls en opruim- of skoonmaakprosedures irriteer hulle en lê hulle aan bande. Met die alledaagse verantwoordelikhede van die huislike lewe kan daar nie op die SP staatgemaak word nie. Tog is SP’s opwindende maats wat baie aanpasbaar en vriendelik kan wees. Waar hulle onder druk geplaas word, kan hulle taktloos en selfs brutaal optree.
SP-ouers is dikwels geliefd en kan eindelose pret binne die gesinstruktuur voorsien. Die SP-vrou sal haar kinders grootmaak met ’n baie meer prettige ingesteldheid as byvoorbeeld die SJ-ma wat verantwoordelikheid en pligsbesef nastreef.
Hierdie groep is op sosiale vlak opwindende geselsers wat die grappige kant van die lewe insien, mense onderhoudend met stories, grappies en staaltjies kan besig hou. Hulle is prettige vriende wat die lewe nie te ernstig opneem nie en elke situasie sien as iets om te geniet.
SP’s kan maklik verveeld raak. Hulle wil voortdurend hul patrone verander en van te veel roetine wegkom. Hulle word ook slegs tydelik van stryk gebring. Iets wat ’n ander groep permanent sal verwoes, is vir hulle dikwels slegs ’n tydelike terugslag, byvoorbeeld verandering van huis of stad.
Hul taalgebruik is operasioneel en funksioneel. Die SP’s is versigtig om hulleself in ’n posisie te laat vasvang waarin hulle iets slegs moet verduur. Vir hulle maak dit nie saak hoe moeg, honger of pynlik ’n avontuur hulle sal laat voel nie, dit is vir hulle ’n avontuur en nie ’n opdrag nie – genot kom vanself. Vir pret of avontuur is daar altyd ’n doelgerigtheid en hulle bevraagteken nooit hul vermoëns of hul reg tot pret nie.
Hul vriende is vir hulle baie belangrik en hulle sal enige tyd ’n vriend help of beskerm. Hulle is realisties en sien die goeie van die lewe raak en wil presies wees soos hulle is.
Die SP-groep beslaan ongeveer 38% van die totale samelewing.
Bekendes in hierdie groep is:
•Elvis Presley - ESFP
•Madonna - ESTP
•Hugh Hefner - ESTP
•Ernest Hemingway - ESTP
•Elizabeth Taylor - ESFP
•Clint Eastwood - ISTP
•Jean-Jacques Cousteau - ISFP
•Winston Churchill - ESTP
•Franklin D Roosevelt - ESTP
•Barbra Streisand - ISFP
(Inligting deels vanuit Keirsey se werksmodel. Antoinette Struwig: Kursusfasiliteerder)
Verduideliking
Dit was ’n kort uittreksel uit ’n breë wêreld van kennis en ondervinding. Ek hoop dit kon jou ’n oorhoofse perspektief gee op almal se verskillende wêrelde van denke en belewenis, en hoe drasties sekere persoonlikhede van mekaar kan verskil. Om jou spesifieke persoonlikheid en die graad waartoe jy daarin pas te verkry, moet die Keirsey-vraelys sorgvuldig ingevul word om seker te wees van jou ware identiteit. Dit sal jou voorsien van inligting wat jy lewenslank kan gebruik, byvoorbeeld INFP of INTJ of ESFP.
In die jare wat ek gebruik maak van persoonlikheidsontleding, het ek ’n wonderlike ontwaking by mense bespeur, wat bes moontlik die grootste enkele bewustheid omtrent hulleself kon bring. Paartjies kon vir die eerste keer hul vinger lê op presies wat hul verskille is en waaroor hulle tipies sal baklei. Hulle kan, juis omdat hulle dit nou verstaan, sien hoekom hulle altyd oor dieselfde basiese dinge konflik ervaar.
Die feit dat dit vanuit ’n Goddelike perspektief verstaan word, bring ’n groter doelwit. Ek kon sien hoe dit ingeneem word deur oë en ore wat in die gees geopen en ontvanklik is. Ek kon met vreugde waarneem dat mense hul eie identiteit weer vind, soos God dit van die begin af bedoel het en dat hul geloof in God weer vir hulle hoop kon bring.
Twee klassieke voorbeelde wat ek dikwels in die praktyk beleef en wat groot baat vind by persoonlikheidsanalise, is dit gee aan die man sekerheid in sy vaderskap/huweliksmaat-posisie. Dikwels beleef die man dit as ’n verantwoordelikheid wat te groot word om te hanteer en dat hy dan nie emosioneel daarvoor opgewasse is nie. Waar hy soms onseker is van wie hy regtig is en wat van hom verwag word, kan die wêreld se druk en sy vrou se verwagtings hom oorweldig. Hy kan ’n uitkoms soek en dit kan uitloop op ’n “no-strings attached” buite-egtelike verhouding, of ’n behoefte om te skei en vry te wees. Dit loop gewoonlik ook hand aan hand met die feit dat nie alle mans waarlik ge-“vader” is tydens hul opvoedingsproses nie en ’n rolmodel van ware geestelike vaderskap ontbreek het. Ware sekerheid van identiteit en persoonlikheid bied ’n vaste fondament wat alle mense nodig het om hulself te verstaan en te respekteer.
Die tweede voorbeeld is die vrou wat met haar moederskap en die prysgawe van haar beroep haarself verloor het. Sy beleef ’n amperse identiteitloosheid wat haar laat twyfel aan haarself en haar waarde. Binne hierdie identiteitskrisis weet vroue nie meer waarvan hulle hou en wie hulle is nie. Hulle ken hulself nie meer nie en dit bring dikwels mee dat hulle allerhande maskers opsit om die bietjie “ware self” verder te verberg.
In albei gevalle is dit nodig om die mense se selfbeeld te versterk en hul ware identiteit vas te maak, sodat hulle weer in outoriteit binne hulleself kan opstaan. Daar lê so baie opgesluit binne identiteit en selfwaarde, dat aanvaarding daarvan alleen kan kom binne die raamwerk van ’n verstaan van wie jy is. Dit bring eindelik Goddelike vrede en vervul die innerlike soeke, omdat mense weet wie hulle in God is.
As jy nie vrede in jouself vind nie, sal jy dit nêrens anders vind nie.
– Marvin Gayle
Opsomming
SJ-persoonlikheid
•Taakgerigte, harde werkers. Uitkomsgebaseerd.
•Stel hoë standaarde vir hulleself en ander om hulle.
•Funksioneer vanuit hul vyf sintuie en vertrou feite. Dink letterlik.
•Geniet plig en verantwoordelikheid en wil diensbaar wees.
•Stel doelwitte en bereik dit. Ware steunpilare.
•Ordentlik, betroubaar en het ’n behoefte om in te pas en te behoort.
NF-persoonlikheid
•Hartsmense met ’n diepte van persoonlikheid.
•Sien die goed in ander raak en wil mense opbou en inspireer.
•Leef in vrede en harmonie en bestaan om verhoudings te bou.
•Intuïtiewe persone met ’n sterk ontwikkelde sesde sintuig (figuurlik).
•Sensitiewe, opregte mense wat ander se siel raaksien en eer.
•As kinders het hulle maklik gehuil oor die onregverdighede en die hardheid van die lewe.
NT-persoonlikheid
•Vasberade, selfstandige argitekte en bouers van sisteme.
•Wil die heelal verstaan en stel eie doelwitte. Geniet kennis.
•Kom arrogant voor en is dikwels hard op hulleself.
•Visioenêr, objektief, skematies, figuurlik en intuïtief (sesde sintuig).
•Dikwels beter met werk as met sosiale geleenthede.
•Individualiste wat dinge vanuit ’n heel ander perspektief sien.
SP-persoonlikheid
•Passievolle, waaghalsige mense wat vir aksie en opwinding leef.
•Hierdie impulsiewe onderhandelaars wil vry lewe, weg van reëls.
•Aanpasbaar en kan verandering en krisisse goed hanteer.
•Vertrou hul vyf sintuie en verlang die feite (dink letterlik).
•Hierdie “fun-loving” realiste leef vir elke dag en geniet die lewe.
•Hulle kan lekker gesels en doen wat hulle doen met oorgawe.