Читать книгу Ek en jy verskil hemelsbreed - Louise van Coller - Страница 8
2
ОглавлениеDie huwelik
Jy kan nie die verlede verander nie, maar jy kan die huidige ruïneer deur jou oor die toekoms te bekommer.
– Onbekend
In ’n huwelik word twee unieke mense, dikwels met twee uiteenlopende persoonlikhede en agtergronde, saamgevoeg om lewenslank in ’n huwelik deur ’n verbond voor God aan mekaar verbind te wees. Hoewel hulle meestal uit keuse getrou het en erg verlief was, sluip konflik en agteruitgang iewers in ná die huwelik voltrek is. Ons moet gaan kyk hoe ons tot die huwelik toetree, met watter valse voorwendsels, voorwaardes en persepsies ons daarin stap, om te verstaan waar die sondaars lê. (Dikwels is ons self totaal onbewus van ons eie denke, ons ware identiteit en verwagtings, wat iewers in ons onderbewussyn lê.)
Min vroue tree tot ’n huwelik toe met die belofte om onderdanig te wees, daaglikse asembenemende seks te voorsien en onvoorwaardelike respek en liefde te gee. Min mans trou met die gedagte om die priester, hoof en profeet van die huis te wees, sy vrou soos ’n koningin te behandel, elke aand ’n diep kommunikasiesessie deur te werk en vir hulp te gaan as daar huweliksprobleme opduik. (Ha, ha!)
Mense sê so maklik: “Ek is lief vir jou, maar as jy my verneuk, los ek jou!” of “Jy het my so getrou, so moet my nie nou probeer verander nie.” of “Ek is nie jou ma of jou slaaf nie, ek moet al klaar twee kinders grootmaak, ek gaan jou nie ook grootmaak nie.”
Klink dit dalk bekend?
Boonop kom ons elkeen uit ’n ouerhuis waar sekere persepsies oor jare in ons vasgegroei het. (Jou eerste sewe jaar as kind vorm jou onherroeplik tot wie jy as mens word.) Ons is onlosmaaklik daaraan getrou en wil verseker nie verander nie, trouens, ons verdedig dit dikwels soos tierkatte. Elkeen glo hy weet “hoe dit in die huwelik moet wees” en behoed jou as jy van my verskil of my wil verander! Vir elke mens is verandering seker een van die mees traumatiese ervarings, en ons voel dikwels in die huwelik dat ons iets moet prysgee wat ons identiteit indirek weerspieël. Die Bybel sê egter dat ons in die huwelik “een word”. Daarom, om twee unieke, uiteenlopende mense een te laat word, klink vir my alte veel na ’n proses van skaaf en skuur, dikwels tot die bloed loop, of hoe? Dit klink amper na ’n hopelose, onmoontlike taak. Tog het God ’n meesterplan met hierdie verskille gehad en werk dit meestal so uit dat teenoorgesteldes mekaar soos magnete aantrek …
God het ons lief net soos ons is, maar te lief om ons te los net soos ons is.
– Leighton Ford
Deur my ondervinding as huweliksberader het ek male sonder tal beleef dat baie mense verhoudings as gekompliseerd en uitmergelend beleef. Tog streef mense steeds na liefde, die hartseer ten spyt. Mense kom elkeen vanuit ’n dramaties verskillende agtergrond en opvoeding, tesame met ’n aangeleerde persepsie van reg en verkeerd, wat dikwels effens versteurd is. Hiermee saam het ons verskillende temperamente en dink ons vanuit verskillende dominante breinlobbe. Die kans dat mense mekaar dus waarlik kan verstaan en onvoorwaardelik liefhê, klink amper absurd. Voeg dan daarby die trauma van elkeen se kinderlewe en die verwerping wat daarmee gepaardgaan, en bykans elkeen wat leef, het berading nodig om optimaal te funksioneer in ’n samelewing wat grotendeels uit verhoudings bestaan.
Ouers is dikwels ook nie toegerus om hierdie verhoudingskennis aan hul kinders oor te dra of te openbaar nie. So word kinders oorgelaat aan hul eie emosies en humeur en kom dit dikwels eers na vore wanneer mense trou en die vonke spat – want hoekom dink jy nie soos ek nie.
Om in verhoudings, huwelike en ouerskap suksesvol te wees, is dit eers “word” en dan “doen” wat die vrugte sal afwerp.
– Hettie Britz, Kweek kinders met karakter
Genadiglik sien ek weekliks in my praktyk hoe mense se huwelike verbeter waar hulle hulp kry. Paartjies leer mekaar weer ken en aanvaar mekaar vir wie hulle is. Waar mense se verwagtings openlik bespreek word en hulle mekaar se identiteit aanvaar, kom daar ’n vryheid waar twee mense mekaar weer van voor af kan vind en leer liefkry.
Dit is egter meestal ’n proses waar ’n professionele persoon mense help om verby hul aangeleerde persepsie van bitterheid en verwaarlosing in die huwelik te kyk. Waar mense hul identiteit en hul maat s’n weer in perspektief sien, en die aanvanklike aantrekkingskrag tussen twee uiteenlopende persoonlikhede verstaan, verstom dit my dikwels hoe die liefde kan terugvloei en die nare, slegte verbittering wegwas.
Daar is beslis hoop, maar dikwels kan ’n mens dit nie self doen nie en is daar professionele huweliksberaders wat met wysheid en kennis toegerus is vir hierdie taak. Onthou egter dat dit etlike jare geneem het om tot op hierdie ongemaklike plek in jou huwelik te gekom het. Vanselfsprekend sal dit dan ook heelwat tyd neem om ’n huwelik te herstel. Dit gebeur beslis nie oornag nie. Dit bly egter altyd ’n goedkoper opsie as skei en beslis ook beter vir almal in die gesin.
Jy moet die verskil wees wat jy graag in ander wil sien.
– Mahatma Ghandi
Huweliksberading
Met huweliksberading is dit my hoofdoelwit om mense te bemagtig om hul huwelik beter te hanteer, omdat hulle op hierdie manier leer om te verstaan wat skeefgeloop het. Daarmee saam is dit ook belangrik om die groter prentjie te sien wat dikwels opsy geskuif word, omdat hulle so intens deur hul afsonderlike pyn geabsorbeer word. Tydens hierdie proses is dit vir my altyd belangrik dat hulle sal onthou dat die hoofbestanddele wat hulle destyds verlief gemaak het, steeds bestaan. Dit is moontlik – wanneer dit met liefde hanteer word – om oor die opgehoopte bagasie en bitterheid te kom wat huweliksmaats verteer.
Ek begin om elkeen die geleentheid te gee (dikwels alleen) om sy of haar kant van die storie te vertel – presies soos hy of sy dit ervaar. Hoe laat die huidige situasie hom of haar voel en wat is die ergste konflikpunte? So hoor ’n mens dikwels verskillende stories van die huweliksmaats en wonder jy soms of hierdie twee in dieselfde huwelik verbind is. Dit gee my as berader egter ’n duidelike perspektief op wat elkeen ervaar en ek kan sien hoe dit hanteer moet word.
Waar die probleme nie so erg is nie of huweliksverryking gedoen word, kan die paartjie saam gesien word, maar dit kan dikwels op hewige konflik uitloop waar huweliksrealiteite bespreek word. Die ander alternatief is om elkeen se storie afsonderlik aan te hoor en dan van daar te begin werk. Waar konflik voor die berader plaasvind, skep dit eintlik ’n goeie geleentheid om te sien hoe die paartjie mekaar hanteer en waar hul toestand van verdraagsaamheid reeds is. Daarna kan ’n mens kyk waar die beste plek is om te begin om hulle te help. So kan hulle deur hierdie proses progressief vorentoe beweeg na ’n veiliger plek, waar daar aan hul hanteringsmetodes van mekaar, die vervulling van elkeen se behoeftes, karaktergroei en dikwels hul sekslewe gewerk kan word.
Dit is egter ’n gespesialiseerde proses wat dikwels meer behels as ’n paar vinnige huweliksberadingsessies. Die klassieke probleem by huweliksberading is dat mense dikwels eers by ’n huweliksberader uitkom wanneer dit amper te laat is. Die huwelik is dan reeds so erg verbrokkel, dat die twee mense betrokke al erg uitgemergel en verwerp voel, en tussen haat en verbittering dobber – dikwels reeds besig met die egskeidingsproses.
Om ’n huwelik wat so ver agteruitgegaan het te herstel, kos baie werk en dikwels tyd om die respek en liefde wat verlore geraak het, weer op te bou. As jy vandag probleme sien wat in jul huwelik besig is om op te bou, wil ek jou aanspoor om nie te wag nie. Hanteer dit liewer nou terwyl julle nog ’n mate van verdraagsaamheid en respek teenoor mekaar het. Hoe langer huweliksprobleme onder die mat in gevee word, hoe meer raak die molshoop ’n berg wat te groot geword het en onomkeerbare skade kan aanrig.
Deur my ondervinding as berader in praktyk het ek dikwels ervaar dat mense nie graag hul karakter wil aanspreek nie en agter ’n skans van onkunde wegkruip. Ons huldig te maklik die stelling: “So gemaak en so laat staan.” In my strewe om waarlik ’n blywende verskil aan mense se lewe te maak het ek besef dat elke party in ’n huwelik individueel hanteer moet word. Mense moet geleer word om hulself te verstaan, mekaar se verskille te respekteer en op die ooreenkomste te fokus. Waar verhoudings of huwelike hoofsaaklik aangespreek word, word die aandag te maklik van die persone se unieke karakters en persoonlike bewustheid af weggeneem en word daar dikwels te wyd na oplossings gesoek.
Dit is ’n klassieke eienskap van mense om antwoorde buite hulleself te soek en weg van hul kern te kyk, sodat die aandag van hulleself verwyder word. Hierdie aangeleerde gedrag word as ’n beskermingsmeganisme gebruik en gee aan mense die geleentheid om agter maskers te skuil en nie by hulleself uit te kom nie.
Emosionele bewustheid, karaktergroei en die verstaan van jou unieke identiteit is ’n wilsbesluit en ’n persoonlike verantwoordelikheid. Dit is dikwels ’n moeilike pad wat selfdissipline en gehoorsaamheid verg, en behels dat elkeen binne die huwelik meer moet doen en aan hom- of haarself moet werk.
Dit is egter die heerlikste gevoel denkbaar as ’n mens sien hoe die haat begin verdwyn en die liefde weer groei tot ’n lekker kommervrye tyd saam met jou beste maat. Ek sien dit genadiglik dikwels in my praktyk en het dit destyds ook in my eie huwelik gesien toe ons huwelik amper op die rotse beland het. Met hulp en persoonlike werk het ons van “zero to hero” gevorder. Hou daarom moed, sulke gelukkige eindes bestaan nog. Weet egter dat dit nie ’n vinnige “let’s quickly fix it and move on” was nie. Dit het baie tyd, geduld en hope emosionele energie gevat.
Veral as paartjies so voor my sit en baklei, onthou ek dikwels ’n storietjie wat vir my die perfekte beskrywing van huweliksberading en God se liefde vir ons uitbeeld: Eendag het Michelangelo ’n kontrakteur besoek wat onbewerkte marmerblokke verkoop. Die kontrakteur het aangeneem dat ’n kunstenaar van so ’n hoogstaande kaliber net in die beste marmer sal belangstel en daarom het hy die maestro na die beste blokke wat hy het, geneem. Op pad daarheen het hulle verby ’n rowwe stuk marmer gestap wat reeds seergekry het en dwarsdeur gekraak was. Dit was duidelik beskadig en eintlik onbruikbaar vir ’n man wat sulke bekende meesterstukke soos die Dawidbeeld en die piëta gemaak het. Die groot beeldhouer het egter doodstil gaan staan en aandagtig na die stuk marmer gekyk. Ná hy lank gedink het en dit mooi bekyk het, het hy gesê: “Ek sal dit koop! Daar is ’n engel hier binne versteek, wat net wag om vrygelaat te word.” (Bruce Wilkinson, The Dreamgiver for leaders.)
Ek glo God sien ons ook so, met soveel hoop en drome vir ons elkeen om ons volle potensiaal in ons karakter te bereik, en om in ons huwelik die heuningsoet lekkerte van speel en liefde te kan geniet. Ek weet Hy het dit in my huwelik gesien, en ten spyte van al die lelik wat ons in mekaar uitgebring het, het ons geleer om die tronk se deur oop te maak en vry te kom, sodat ons mekaar kan geniet!
As daar vandag egter mense is wat hier lees en hulleself wil oortuig dat daar geen hoop is nie, en amper regverdiging soek om te skei, wil ek sê daar is gevalle waar egskeiding ’n beter opsie is. Maak egter mooi seker, want dit mag die grootste fout van jou lewe wees.
Daar is spesifieke redes waar ’n huwelik liewer ontbind moet word, en al was dit nooit God se plan nie, werk ons soms lynreg teen sy planne en moet hierdie faktore binne die omstandighede in ag geneem word:
•Waar mense se lewe bedreig word deur geweld.
•Waar die konflik of brutaliteit die kinders se lewe negatief beïnvloed en letsels laat wat erger raak as die stryd na vrede.
•Waar molestering of aanranding plaasvind en aan mense se lewe blywende skade aanrig.
•Waar daar ernstige geestesversteurings bestaan wat mense bedreig en vernietig.
•Waar verslawing nie hanteer word nie en die geestesgesondheid van die gesin daardeur geraak word.
•Waar bogenoemde plaasvind en mense nie wil konformeer of hulp aanneem nie.
Bogenoemde is ’n paar duidelike probleemareas waar egskeiding amper onafwendbaar is.
Die realiteit van egskeiding
As ons dus na die huwelik as konsep kyk en die direkte impak wat dit op gesinne het, is dit bes moontlik een van die belangrikste aardse take waarvan ons ’n sukses moet maak. Die nare alternatief te midde van onuithoudbare, aanhoudende huwelikskonflik los altyd die finale laaste uitweg: egskeiding.
Huweliksverbrokkeling en die negatiewe invloede wat dit op die gesinstruktuur en die partye wat daardeur geraak word, aanbring, neem vandag al meer toe. Ons moet besef ten einde ’n samelewingskrisis te voorkom, dat hierdie probleem ’n veel groter impak het as die onmiddellike gevolge van egskeiding. Die opvoeding en ontwikkeling van ’n kind dra grotendeels by tot die grondslag wat in die kinderjare gelê word. Egskeiding sal kinders se geluk vir die res van hul lewe beïnvloed. Dit mag aanvanklik na ’n oplossing vir die probleem lyk, maar dit bring sy eie onuithoudbare probleme wat weekliks agter jou aan sleep soos ’n vrot herinnering van iets wat nie uitgewerk het nie.
Ek wil dit duidelik stel dat ons ’n geslag van getraumatiseerde kinders grootmaak wie se emosionele welstand en geestesgesondheid ernstig geraak word deur die gevolge van konflik, spanning en egskeiding. Ek dink die samelewing laat ons al gemakliker raak met egskeiding en ons begin glo ons kinders sal wel iewers “regkom”. Nee! Hulle sal nie! Dit bring lewenslange letsels wat selfs in hul eie toekomstige huwelik sal voortgaan … Met vandag se volwassenes is hierdie probleem nie vroegtydig in die verlede aangespreek nie en tans, as gevolg daarvan, sit ons met die hoogste egskeidingsyfer ooit. Vandag se jeug is môre se volwassenes, en om huweliksverbrokkeling regtig doelgerig aan te spreek moet ons as ouers by die huwelik as leerskool begin om ’n impak op ons kinders te maak.
The most difficult job our kids have today is learning good conduct without seeing any.
– HG Hutchinson
Ons moet leer wat die ware komponente van die huwelik is en hoe om dit reg te hanteer, sodat ons ’n goeie voorbeeld vir hulle kan stel. Kinders doen nie wat ons sê nie, hulle doen wat ons doen, daarom moet die verandering om ’n verskil te maak vandag by ons as ouers begin! Deur gefokus te wees op ons eie persoonlikheid en karaktergroei, wat ontstaan ná die ontdekking van jou ware identiteit, word ons emosionele intelligensie bevorder. Waar mense se karakter groei en lewe verander, bied dit aan huwelikspare ’n geleentheid om die regte gedrag en voorbeeld aan die nageslag oor te dra.
As die verlede niks vir die hede kan leer nie, en die pa niks vir sy seun nie, dan het die geskiedenis verniet aangegaan en het die wêreld baie tyd gemors.
– Russel Hoban
Dit berus dus by ons as mense om antwoorde te soek en toepaslike veranderings aan te bring. So kan ons ons verwarde kinders toerus vir gelukkige huwelike en ’n omkeer in hierdie patroon aanbring. Die Bybel sê: “Gee leiding aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie” (Spr 22:6).
Huwelike kan makliker verstaanbaar en deursigtig word deur die oorsake vir huweliksprobleme en gesinsverbrokkeling te identifiseer en doelgerigte antwoorde daarvoor te soek. So probeer huweliksberaders om ’n werkbare oplossing vir gebroke gesinne te soek en so een van ons wêreld se grootste probleme aan te spreek. Dan kan ons weer met hoop in geloof staan en binne Goddelike waardes opregte huweliksgeluk smaak. Dit sal dalk ’n alternatiewe leefstyl van die wêreld se voorbeeld verg, met verantwoordelikheid en emosionele dissipline, maar dit sal resultate en vreugde oplewer.
Raising positive kids, is possibly the most important subject in America. Kids don’t make up 100% of our population, but they do make up 100% of our future.
– Zig Ziglar