Читать книгу Ek en jy verskil hemelsbreed - Louise van Coller - Страница 5
Voorwoord
ОглавлениеEk groet jou vriendelik en wil vandag aan elke persoon in ’n huwelik hoop gee. Dit wat jy nou in jou huwelik beleef, kan verbeter en indien jou huwelik dit vra, kan dit selfs gered word. Waar mense die verskille duidelik verstaan en bereid is om te leer hóé om dit beter te hanteer, is wonderwerke waarlik moontlik! Ek sien dit daagliks.
Hierdie boek is geskryf om mense te laat glo dat ’n gelukkige huwelik nog moontlik is en presies hoe ons dit moet benader. So baie van ons sukkel met ons huwelike en het ons vertroue in die huwelik totaal verloor. Ons sien elke dag die skade wat egskeiding aan mense se lewe en kinderharte aanrig, en hoe dit ’n mens se lewe amper kan ruïneer of uitmergel. Veral waar jy dalk self as kind uit ’n agtergrond van egskeiding kom of erger nog, ewige aanhoudende konflik ervaar, is dit noodsaaklik dat jy die huwelik verstaan en duidelik sien wat kan skeefloop, en hoe om dit te voorkom.
My naam is Louise. Ek is ’n huweliksberader en persoonlikheidsanalis en help daagliks mense met huweliksprobleme en persoonlikheidsverskille. In my leeftyd sal ek nooit genoeg mense persoonlik kan help wat met hul huwelik sukkel nie. Juis daarom glo ek dat hierdie boek ver meer kan doen en meer mense se lewe met genesing kan aanraak, as wat ek in ’n leeftyd kan vermag.
Ek wil alle eer aan God gee wat vooraf bepaal het dat my eie huwelik ook deur diep waters sal gaan. Hiermee kon ek die uitmergelende belewenis van huwelikstrauma in elke sin van die woord deurmaak om dit te verstaan. Genadiglik was ons by professionele mense wat kon help en leef ons vandag in ’n gelukkige huwelik. Let egter daarop dat dit nie elke dag sonder konflik is nie, maar wel regtig gelukkig.