Читать книгу Grenslose liefde - Malene Breytenbach - Страница 3

1

Оглавление

Carly loop tussen die ry vaal tente deur na die kantoortent van die Médecins Sans Frontières, of Dokters Sonder Grense, in die vlugtelingkamp. Na ure van inspuitings gee, verbande aansit, beserings behandel, kinders ondersoek, troos en paai, is sy so uitgeput dat sy skaars op haar voete kan staan. Sy moet nou tee met baie suiker drink en iets eet, anders val sy sekerlik flou. Die tou mense waarmee sy gewerk het, was so lank dat sy die einde daarvan nie kon sien nie. Al die ontworteldes in die kamp is uiters hulpbehoewend.

Dit het gereën, en die grond is modderig. Sy probeer die plasse mistrap. Haar skoene is al gekoek van die modder en haar wit verpleegstersuniform vuil. Al lyk sy sleg en is sy moeg, ervaar sy darem die tevredenheid dat sy dié dag baie siek, moedelose en getraumatiseerde mense gehelp het.

Sy spring oor ’n plas water, maar verloor haar balans en gaan sit hard in die modder. Mense kom uit alle rigtings aangehardloop om haar op te help, maar sterk hande vat haar reeds van agter af onder haar arms en lig haar op.

“Now you’ve had a proper mud bath,” terg ’n stem met ’n sweem van ’n Skotse aksent.

Sy draai om. Die blouste oë wat sy nog ooit gesien het, kyk laggend na haar. Die man is langer as sy, met voshare. Hy is lenig met breë skouers en dra ’n doktersjas. Sy glimlag wys perfekte wit tande. Carly is so verstom oor dié verskynsel in die kamp waar almal moeg en afgemat lyk van swaarkry en te hard werk dat sy hom net oopmond kan aangaap.

“Hallo, ek is Colin Mackenzie,” stel hy hom in Engels voor. “En jy is?”

Sy kry haar stem terug en antwoord ook in Engels: “Verpleegster Carly O’Neill. Dankie dat jy my opgehelp het. My voete het eenvoudig onder my uitgegly.”

Sy vat aan haar papnat sitvlak. “Ek lyk seker vreeslik.”

“Nee wat, net vuil.” Die hunk glimlag weer. “Ek moet aanmeld by die personeeltent. Was jy ook op pad soontoe?”

“Ja, ek is nogal dors. Ek wou juis gaan tee en toebroodjies kry.”

“Jy kan my wys waar dit is.”

Sy loop langs hom, uiters bewus van sy verstommende voorkoms, sy lang treë en van hoe hy mense wat hulle teëkom, glimlaggend groet. Hoe almal met verbasing en ontsag na hom staar.

By die tent kom een van die ander dokters, ’n jong vrou met die naam Tracy Stevens, na hom aangeloop. “Colin! I’m so glad you have arrived at last.” Haar oë blink en sy steek albei hande na hom uit. “Ons het die dienste van ’n psigiater baie nodig.”

O, so dan is dié man, wat lyk soos ’n model wat verdwaal het op pad na ’n shoot, al die tyd die psigiater waarvan die ander met ontsag gepraat het en wat eers van Zimbabwe af moes vlieg. Sy kan haar oë amper nie van hom wegskeur nie, maar met wilskrag hou sy haar koel en loop van hom af weg na waar sy vir haar tee en toebroodjies kry. Die ander mense wat daar is, koek om hom asof hy beroemd is. Tracy Stevens hou glad sy arm vas, met ’n besitlike houding wat Carly meteens onverklaarbaar irriteer.

Dokter John Small kom na haar toe. “Ek soek ook tee. Ons twee het vanoggend ’n lang sessie agter die rug.”

Hy vryf liggies oor haar sitvlak. “Wat op aarde het met jou gebeur?”

Sy beweeg weg van hom af. “Ek het in die modder neergesloeg.”

Dit maak haar vies dat hy so voorbarig is om sommer voor almal aan haar agterstewe te vat. Hy is nie onaantreklik nie en redelik gesog onder die ander vroue, maar hy teiken sowaar vir haar wat nie werklik belangstel in iets ernstiger as blote vriendskap nie. Daar is nie sprake van die vibe wat daar tussen twee verliefdes behoort te wees nie.

Mooi mans is net te geneig om ydel te wees. Kyk nou net vir daardie dokter Colin Mackenzie. Kyk hoe geniet hy die aandag. Toor met die vroumense.

Sy moet versigtig wees om nie soos ’n hulpelose vlieg in so ’n spinnekop se web te beland nie. By die vlugtelingkamp is daar ná die xenofobiese aanvalle ernstige werk om te doen. Hier is nie regtig tyd vir verhoudings aanknoop met die teenoorgestelde geslag nie.

Tracy Stevens bring die psigiater na die teetafel. “Jy is seker honger en dors.”

“Nogal, maar ek het darem iets op die vliegtuig geëet.”

Sy beduie na ’n stoel. Hy gaan sit en sy bedien hom met tee en ’n bordjie toebroodjies. Gaan sit met haar eie koppie tee langs hom. “Vertel my hoe dit in Zimbabwe gaan.”

“Nie juis beter as hier nie as ek die saak so beskou. Ek hoor julle het meer as drie duisend mense hier in die Chatsworth-kamp gehad.”

“Die meeste van die Zimbabwiërs, Malawiërs en Mosambiekers is gerepatrieer,” sê Tracy. “Die oorblywendes is meesal van Burundi en die Demokratiese Republiek van die Kongo. Maar jy weet hulle wil nie teruggaan na hulle oorloggeteisterde lande nie.”

“Nee, die arme mense verduur seker liewer die xenofobiese aanvalle op hulle hier. Dis so jammer dat hulle tussen die hamer en die aambeeld moet lewe.”

Carly sit naby hulle en kan nie anders as om die gesprek te hoor nie. Die té aantreklike psigiater lyk en praat simpatiek. Sy wonder waarom hy dié soort werk doen. Miskien voel hy geroepe om met die mees weerlose mense te werk. Nes sy, hoewel sy in dié stadium taamlik uitgebrand voel.

“Jy moenie in nat klere rondsit nie.”

Carly kyk verbaas op van haar tee en sien hy hou haar dop. “Nee, ek sal gaan verklee. Ek het darem nou ’n uur vry.”

Tracy Stevens kyk fronsend na haar. “Waarvan praat julle?”

“Dokter Mackenzie het my uit die modder opgetel toe ek geval het.”

“Hoekom is jy dan so lomp?” vra Tracy.

Carly haal haar skouers op.

Die dokter kyk egter met geligte wenkbroue na Tracy. “Ag nee, Tracy, enigeen kan gly in die modder wat ek hier gesien het. Die kamp is in ’n haglike toestand.”

Carly is verbaas. Die man het haar sowaar verdedig.

“O’Neill is ’n Ierse van,” sê hy. “Maar jy klink nie Iers nie, al lyk jy soos die tipiese Ier met blou oë en donker hare.”

“My oupa het van County Tyrone gekom, maar met ’n Afrikaanse vrou getrou. My pa het ook met ’n Afrikaanse vrou getrou. Dis maar my oupa se gene wat die deurslag gee.” Sy staan op. “Verskoon my, ek moet ’n skoon uniform gaan aantrek.”

Toe dink sy aan iets, en draai terug na die psigiater. “Daar is iemand wat jou hulp dringend nodig het. Hy is op die punt om ’n ineenstorting te kry.”

Dokter Mackenzie sit sy tee neer. “Wie is dit?”

“Sy naam is Roger Kirumba. Hy het lankal uit die DRK gevlug en ’n klein besigheid begin. ’n Massa mense het hom aangeval, vreeslik geslaan en sy onderneming geplunder. Hy moes hierheen vlug. Sy arm en ribbes is gebreek en hy is vreeslik in die gesig geslaan. Sy oë was omtrent toegeswel toe hy hier aankom, maar dis nie die uiterlike beserings wat die ergste is nie, dis die trauma. Kan ek hom vandag nog na jou toe bring?”

“Hy moet sy beurt afwag,” sê Tracy. “Daar is baie mense wat hulp nodig het.”

Dokter Mackenzie steur hom egter nie aan haar nie. “Bring hom oor ’n uur na my in die tent langsaan. Ek sal kyk wat ek kan doen.”

“Dankie, dokter.” Weer verbaas hy haar.

Carly kry vir Roger Kirumba voor ’n tent waar hy moedeloos op ’n krat sit, sy een arm in ’n hangverband en nog ’n verband om sy kop. Sy klere en skoene is vuil, en hy sit belangeloos in die niet en tuur. Toe hy haar sien aankom, glimlag hy egter, al lyk dit gedwonge.

“Good day, Nurse.”

“Hello Roger, come with me,” sê sy en sit ’n hand op sy skouer. “Daar is ’n dokter wat jy moet spreek.”

Hy staan moeisaam en met ’n kreun op. Volg haar in die modderige paadjie tussen die klomp vaal tente deur tot waar die psigiater gesê het hy sal wees. ’n Ry mense wag geduldig buite.

Die tentflap is oop en Carly loer in. Die dokter sit by ’n tafel en skryf in ’n lêer. Oorkant hom is twee oop stoele.

“Ek het vir Roger Kirumba gebring, dokter. Moet ons agter by die tou inval?”

Hy kyk op. “A, hier is julle. Nee, ek het gesê as julle kom, moet ek die man van die DRK eerste sien. Kom binne.”

Hy beduie dat hulle moet sit. “Verpleegster O’Neill vertel my jy voel oorweldig deur alles wat gebeur het, meneer Kirumba.”

Roger vryf met een hand oor sy gesig. “Ek weet nie watter kant toe nie, dokter. Ek was te bang om hospitaal toe te gaan, toe kom ek hierheen. Ek het alles verloor. My vrou en kinders is ook hier. Almal is siek.”

Die dokter se helderblou oë kyk simpatiek na hom. “Ons sal help sover ons kan, meneer Kirumba.”

Carly staan op. “Ek moet gaan werk. Julle moet praat. Dankie dat jy meneer Kirumba so gou spreek, dokter.”

Hy glimlag vir haar. “Dis reg so. Ek sien jou weer later.”

Sy loop uit, maar voel steeds asof haar ewewig versteur is. Hoe op aarde gaan sy met dié man saamwerk as hy so ’n onthutsende effek op haar het? Haar hart klop opnuut onreëlmatig.

Carly sien dokter Mackenzie die volgende twee dae slegs skrams hier en daar. Sy gesels net een keer met hom. Hy vertel haar dat hy Roger Kirumba behandel en vir hom medikasie gegee het. Sy ervaar weer die sensasie dat hy haar ewewig versteur en haar hart te vinnig laat klop.

“Daar is baie mense soos Roger,” sê hy. “Ons kan skaars voorbly.”

Daar verloop weer dae wat sy hom nie sien nie. Waar sou hy aan die werk wees? Hy is dan nie eens in die personeeltent wanneer sy tee en toebroodjies gaan haal nie.

Vandag gaan sy vir Tracy Stevens sowaar vra waar hy is. Carly loop na waar Tracy aan ’n broodjie sit en peusel. “Wat het van dokter Mackenzie geword?”

“Hy is weg. Hy moes terugvlieg Skotland toe.” Tracy is kortaf. Lyk en klink teleurgesteld.

Carly voel self afgehaal. Die man het skaars gearriveer, toe is hy weer weg. Sy sal hom seker nooit weer sien nie, maar hy het ’n diep indruk op haar gemaak. Nie net omdat hy so uitsonderlik aantreklik is nie. Hy is ook simpatiek. Om die waarheid te sê, het hy haar voete onder haar uitgeslaan. ’n Man wat gans te maklik is om op verlief te raak, al het sy haarself heeltyd aangepraat. Dit is miskien beter dat hy weg is.

“Ek hoop daar was nie ’n krisis in sy lewe nie,” sê sy.

Tracy frons vir haar. “Sy oom, die hertog van Seaforth, is dood. Hy het nie kinders gehad nie. Dokter Mackenzie is die volgende erfgenaam van die titel en Strahan Castle in Ross-shire. Hy is nou die vyf-en-twintigste hertog van Seaforth.”

Carly staar haar verstom aan. “Wat? Hy is die Hertog van Seaforth?”

“Ja, nou sal ons hom nooit weer sien nie. Hy gaan tog nie meer vir Dokters Sonder Grense kan werk nie. Ander verpligtinge wag op hom.”

Hy het soos ’n eksotiese voël weggevlieg, dink Carly. ’n Hertog. Bid jou aan. Dis amper soos iets uit ’n vorige eeu. Hy is vir altyd verlore vir gewone vroue soos Tracy, wat blykbaar sterk tot hom aangetrokke was … en vir vroue soos Carly ook.

Ná maande van werk vir Dokters Sonder Grense met vlugtelinge in die haglikste toestande en omstandighede, gaan Carly terug na haar meenthuis in Kaapstad. Een aand toe sy weer sit en nadink oor Colin Mackenzie wat so gou uit haar lewe verdwyn het, kry sy die idee om Strahan Castle te google om presies te sien waarheen hy is. Sy gryp haar skootrekenaar en gaan sit op haar bed. Die kasteel het sy eie webtuiste. Sy klik op die skakel wat haar soontoe neem. Sjoe, dit lyk omtrént indrukwekkend. ’n Mens kan blykbaar besprekings doen om die landgoed te gaan besoek, vis te vang in die rivier en loch, en in die woude te wandel. Daar is foto’s van ’n groot, vierkantige vierverdiepingkasteel met torinkies in die hoeke, groen woude, ’n rivier wat tussen smaraggroen oewers deurvloei, ’n blou meer en berge met sneeu in die agtergrond. Nee wat, Colin Mackenzie sal dié plek nie gou weer verlaat nie.

Toe sy later die aand in ’n skuimbad lê, besluit sy om vir eers iets anders, iets rustigers te doen. Sy kan miskien weer later vir Dokters Sonder Grense werk, maar dit is geweldig uitputtend en uitmergelend, fisiek en geestelik.

Met haar kop agteroor teen die bad se rand, sluit sy haar oë behaaglik. Dalk is dit nou die tyd om in kliniese sielkunde te gaan studeer soos sy al dikwels oorweeg het. Saam met haar graad in verpleging sal dit haar gesog maak vir traumaberading en -verpleging. Met dié plan in haar kop, sak sy tevrede dieper in die skuim weg.

Grenslose liefde

Подняться наверх