Читать книгу Grenslose liefde - Malene Breytenbach - Страница 4

2

Оглавление

Vyf jaar later.

Carly sit by haar kombuistoonbank met haar skootrekenaar voor haar. Sy tel die stomende koppie koffie langs haar op en neem ’n slukkie terwyl sy deur haar e-posse lees. Ná die alumni-brief van die universiteit, klik sy op Dokters Sonder Grense se nuusbrief.

Onmiddellik roep dit herinneringe aan die indrukwekkende Colin Mackenzie op. Al het vyf jaar verbygegaan, het Carly hom nooit vergeet nie. Hoe sou hy nou lyk? wonder sy. Ouer? Dalk is hy lankal getroud en het hy kinders.

Op die ingewing van die oomblik google sy die hertog van Seaforth en Strahan Castle weer.

Sy lees:

Strahan is 5,5 km from the town of Dingwall in Ross-shire in north-eastern Scotland, near the Cromarty Firth. The Conon River flows through the estate and Loch Ussie. It is 23 km or 30 minutes from the city of Inverness. The castle belongs to the Earl of Seaforth, the chief of the Clan Mackenzie, that dominated the whole region since the early Middle Ages.

The castle was the scene of many a romantic episode in history. The Mackenzie Jacobites were defeated here and the clan was forced to swear fealty to the English crown. The famous Seaforth Highlanders were formed here and they fought all over the British Empire. The regiment is now known as the Highlanders, the fourth batalion of the Royal Regiment of Scotland.

Strahan Castle was used as a hospital for a time during the Second World War. It deteriorated badly after the war but the twenty-fourth Earl of Seaforth had it renovated. He died childless. The current twenty-fifth Earl of Seaforth is his brother’s son, Doctor Colin Mackenzie.

Die webwerf het verander sedert Carly dit laas, kort ná haar termyn in die vlugtelingkamp, besoek het. Daar is verskeie foto’s van die kasteel en die landgoed met die loch, rivier en berge. Maar daar is nou ook ’n foto van Colin Mackenzie in Hooglanddrag, met sy kilt en sporran. Hy lyk manjifiek. Carly staar lank daarna.

Toe sien sy ’n skakel: Strahan Clinic. Gefassineer klik sy daarop.

Doctor Colin Mackenzie, the current Earl of Seaforth, is also a psychiatrist. He established the Strahan Clinic in the castle in partnership with Doctor Margaret Fraser for the rehabilitation and care of trauma victims and patients suffering from depression. Doctors Mackenzie and Fraser are members of the Royal College of Psychiatrists.

Strahan Clinic admits a limited number of patients. Besides the two partners, the clinic’s staff consist of a secretary cum receptionist, three nurses and three orderlies.

The staff managing the castle and estate are a separate team consisting of the general manager, gardeners, a housekeeper and butler, kitchen staff (who also serve the clinic), cleaners and assistants.

Since the opening of the clinic, the castle has not been open to the public. Patient confidentiality is strictly maintained.

Colin Mackenzie het sowaar nie sy beroep laat vaar nie. Hy kon die lewe van ’n ryk grondbaron gelei het, maar hy wil eerder steeds sy medemens help. Carly wens sy kan hom weer te siene kry.

Toe kry sy ’n blink idee. Waarom doen sy nie aansoek vir ’n pos daar by sy kliniek nie? Vanweë haar pa se Ierse afkoms het sy ’n Britse paspoort in haar besit. Sy het boonop nou die regte kwalifikasies vir daardie soort kliniek.

Opgewondenheid laat haar hart sommer fladder. Sy gaan beslis probeer vasstel of daar vir haar werk is. Hoe anders sal sy daardie uitsonderlike man ooit weer sien?

“That was a lovely meal, thanks, Colin.” Margaret Fraser glimlag vir hom waar hulle oorkant mekaar by die tafeltjie in die restaurant in Inverness sit. “Die perfekte manier om Strahan Clinic se vyfde bestaansjaar te vier.”

Hy vee sy mond met die servet af en glimlag terug. “Ek kon dit nie sonder jou gedoen het nie, Meg. Jy is ’n uitstekende vennoot.”

Sy neem ’n sluk van haar wyn. “Ek weet al van universiteit af dat ons ’n goeie span sal maak. Ek is so bly jy het my destyds betrek toe jy die kliniek hier op Strahan wou open.”

Hy haal sy skouers op. “Natuurlik. Jy is ’n briljante psigiater én sakevrou.”

Margaret kyk hom met haar groot groen oë aan en bly ’n rukkie stil. “Ek het ’n nuwe transaksie wat ek graag met jou sal wil aangaan …”

“Ek luister.” Hy proe aan sy wyn. Hmm, heerlik uit Suid-Afrika. Dit laat hom opeens dink aan …

“Colin, jy het self gesê ons is uitstekende sakevennote. Waarom raak ons nie ook lewensvennote nie?”

“Hoe nou?”

Sy stoot haar blonde hare selfversekerd oor haar skouer. “Ek raak nie jonger nie. Jy weet, ek het nie tyd vir afsprake met mans wat my verveel nie, en ek dink nie iemand sal beter by my pas as jy nie. Hoekom trou ons nie maar net en begin ’n gesin nie?”

Hy wil eers lag, maar sien dan sy is doodernstig. “Meg, ek het nie geweet jy voel …”

Sy waai sy woorde byna ongeduldig met ’n hand weg. “Liefde is nie als nie. As psigiaters behoort ons alte goed te weet dat liefde morsig kan raak en skade kan aanrig. Deur die eeue heen het talle mense al om ander redes as liefde getrou. En ons kom tog goed oor die weg en ken mekaar deur en deur.”

“Maar waarom …?”

Weer gee sy hom nie kans om klaar te praat nie. “Die tyd raak min vir my om kinders te hê. Ek weet jy wil ook ’n gesin hê. Dink net hoe bly jou ma sal wees. Die personeel gis in elk geval oor ons omdat ons so gereeld saam gaan uiteet.”

Hy weet sy ma sal baie bly wees as hy met Margaret trou. Meg kom immers uit ’n gesiene familie. Barbara Mackenzie verdien ’n bietjie geluk in haar lewe ná alles wat sy deur is. Sy ma is die een wat hom bygestaan het in hulle arm dae ná die dood van sy pa wat hulle met sy dobbelary en rondlopery in bankrotskap gedompel het.

Toe hy moes gaan studeer, het sy ma vir hom geld by haar ryk familie geleen. Hy het nooit verwag om die titel, kasteel en rykdom te erf nie, maar nou kan hy sy ma vergoed, hoewel hy sy skuld nooit genoegsaam sal kan vereffen nie. Trou met Meg? Sy pas baie goed by hom, maar …

“Kyk, Colin, die aanbod is vir drie maande op die tafel. Verras my binne dié tyd met ’n verlowing, toe? Maar as jy my nie vra om te trou nie, gaan ek die kliniek ongelukkig verlaat. Ek sal my aandeel verkoop … Dis nie dat ek jou probeer afpers of iets nie – ek weet net wat ek in hierdie stadium in my lewe wil hê en as ek dit nie hier gaan kry nie, gaan ek dit elders soek.”

Hy staar haar oorbluf aan. Sy sê sy wil hom nie afpers nie, maar dis mos hoe dit nou voel. Om Margaret as ’n vennoot te verloor sal ’n groot verlies wees …

Kyk hoe rustig sit sy nou daar aan haar wyn en teug, terwyl sy so pas hierdie bom op hom laat val het.

“Ek sal daaroor dink,” is al wat hy fronsend kan sê.

Carly het ’n werksaansoek gestuur aan die e-posadres op Strahan Clinic se webblad onder Contact Us. ’n Week later kry sy uiteindelik ’n antwoord.

Dear Ms O’Neill

What a pleasant surprise it is to hear from you. Of course I remember you. Thank you for the CV you sent. Your additional qualification in Clinical Psychology is definitely an asset for a nurse. Our clinic specialises in mental disorders and we admit patients who suffer from depression, eating disorders, bipolar disorder, post-traumatic stress, phobias and addiction. We are two psychiatrists in partnership and we have an efficient and sympathetic staff working for us.

It is a fortunate coincidence that you are applying for a position now, as my partner, Doctor Fraser, and I recently decided that we need to appoint an additional nurse. We advertised and received a number of applications. We now only need to make a selection and grant interviews. The fact that you worked for Médecins Sans Frontières counts in your favour. As you are in South Africa, we could do an interview via Skype. I suggest ten o’clock in the evening (South African time) on 11 May. Would that suit you?

Regards

Colin Mackenzie

Haar voet is amper by die deur in, dink Carly verheug. Sy hoop net hulle gee nie voorkeur aan Britte wat reeds in die National Health Service van die VK gewerk het nie. Sy sal sien wat dokter Mackenzie daarvan sê.

Carly is heeldag op haar senuwees. Vanaand skype sy met dokter Mackenzie en sy vennoot. Sy kan skaars eet en teen die tyd dat tienuur uiteindelik aanbreek, is sy stokstyf soos ’n meerkat op steroïede.

Sy sit voor die rekenaar. Die Skype-verbinding begin. Twee gesigte verskyn op die skerm voor haar. Dokter Mackenzie is nog net so aantreklik soos sy onthou. Dokter Fraser lyk na ’n vrou in haar dertigs, blond met oë so groen soos jong gras. Haar gesig is beslis mooi, maar sy glimlag nie so vriendelik soos Colin Mackenzie nie.

“Hoe gaan dit nou met jou, juffrou O’Neill?” vra hy in Engels.

“Dit gaan goed, dankie, dokter. En met jou?”

“Gesond en hard aan die werk, dankie. Die dame langs my is my vennoot, dokter Margaret Fraser.”

Carly kyk na haar. “Aangename kennis, dokter Fraser.”

“Goeienaand, juffrou O’Neill,” sê dokter Fraser. Sy klink kil en formeel en haar gesig bly ernstig.

“Jy doen aansoek om ’n pos by ons,” sê Colin Mackenzie. “In jou brief noem jy dat jy na jou tyd by Dokters Sonder Grense weer gaan studeer en addisionele kwalifikasies gekry het. Die pos van verpleegster is al wat tans hier by ons beskikbaar is. Ons het net gewonder, wou jy nie eerder as sielkundige gepraktiseer het nie?”

“Ek kan altyd hier in Suid-Afrika as sielkundige praktiseer, maar ek wil graag ’n ruk lank in die buiteland werk. Ek is bereid om weer verpleegwerk te doen. Ek glo dat die kennis wat ek opgedoen het, nuttig in julle soort opset kan wees.”

Hy knik, maar daar is ’n klein fronsie tussen sy donker wenkbroue wat Carly ongemaklik maak.

“Daar is duisende verpleegsters uit ontwikkelende lande wat in die Verenigde Koninkryk kom werk, maar deesdae is die immigrasiereëls strenger en baie sal moet teruggaan na hulle lande van herkoms,” maak dokter Fraser beswaar. “Ons moet voorkeur gee aan ons landgenote.” ’n Frons wat haar afkeurend laat lyk, keep tussen haar blonde wenkbroue. “Ons het aansoeke van plaaslike mense gekry waarna ons eerder moet kyk.”

“Daar is deesdae streng vereistes waaraan ’n buitelander moet voldoen,” sê dokter Mackenzie. “Dit is goed dat jy darem ’n Britse paspoort het. ’n Werksaanbod van ons kant af sal dit natuurlik makliker maak vir ’n buitelander om ’n pos by ons te kry. Daar is heelwat rompslomp wat afgehandel moet word as jy hier wil kom werk. As verpleegster moet jy aan al die reëls en vereistes van die National Health Service kan voldoen.”

Dokter Fraser se gesig word groter soos sy nader aan die skerm beweeg. “Ons het reeds een verpleegster van Suid-Afrika wat dokter Mackenzie voorheen geken het, daarom weet ons hoe dit werk. Verpleegsters wat oorsee gekwalifiseer het, moet by die Nursing and Midwifery Council se Overseas Nursing Programme registreer om in die VK te werk. Hulle moet aan die minimum NMC-opleidingsvereistes voldoen, soos basiese Engelse taalvaardigheid, en hulle moet ’n twintig dae lange program van beskermde leer volg. Daarna kan hulle, sodra hulle geregistreer het, aansoek om ’n visum doen.”

Carly wonder of hulle haar nou waarsku dat sy die pos nie sal kry nie. Sy kyk hulle om die beurt stip in die oë. “Ek sal alles doen wat nodig is, mits julle my aansoek goedkeur.”

Dokter Mackenzie glimlag. “Ek kan sien jy is gretig. Doen aansoek om ’n Tier 2 permit. Dit geld vir werknemers wat na die VK kom omdat hulle ’n gelisensieerde VK-werkgewer het en ’n pos kan vul waarvoor ons nie ’n persoon uit die Europese ekonomiese gebied kan kry nie. Ons moet die pos egter adverteer en bewys lewer dat ons nie ’n geskikte kandidaat kon kry nie, voordat ons dit vir jou of iemand anders kan aanbied. Mense uit Suid-Afrika is darem gesog, want hulle is bekend as harde werkers. Ek het gesien hoe hard jy kan werk, daar in Suid-Afrika.”

Het hy dit regtig gesien? Het hy opgelet wat sy doen? dink Carly in verwondering. Hy was dan self so besig. Of sê hy dit net om haar te laat goed voel en dan bied hy tog nie vir haar ’n pos aan nie?

“Ek sal enige toetse of eksamens skryf wat vereis word,” verseker sy die twee gesigte.

Hulle kyk vlugtig na mekaar, en weer na haar.

“Ons het reeds ’n Employer Sponsorship Licence om buitelandse werkers in diens te kan neem,” sê hy. “Ons moet dit hê om geskoolde werkers met spesifieke vaardighede aan te stel wat ’n tydelike leemte vul. So ’n werknemer kan tot drie jaar in die VK bly en vir ons werk. Eers daarna kan die werknemer om permanente verblyf aansoek doen.”

“Goed, dis nou die basiese vereistes om die land binne te kom en hier te werk,” sê dokter Fraser saaklik, die frons steeds tussen haar blonde wenkbroue. “Ek het die CV gelees wat jy aan dokter Mackenzie gestuur het, maar vertel my asseblief self van jou vorige werkondervinding.”

Carly vertel van haar werk vir Dokters Sonder Grense en brei uit oor haar studies. Die twee gesigte konsentreer op haar en luister aandagtig. Sy kyk meer na dokter Fraser as na dokter Mackenzie, want selfs oor Skype is dit onthutsend om in sy blou oë te kyk. Haar hart wil eenvoudig nie normaal klop nie. Sy hoop hulle kom dit nie agter nie.

Toe sy klaar is, is daar ’n kort stilte.

“Ons oorweeg jou aansoek, maar soos jy weet, is daar heelwat vereistes en ’n paar hekkies om oor te spring,” sê dokter Mackenzie met ’n toemondglimlag. “Ons sal jou laat weet. Dankie vir jou tyd, juffrou O’Neill.”

“Ja, dankie, ons sal jou van ons besluit in kennis stel.” Dokter Fraser glimlag steeds nie.

Carly glimlag en probeer om nie onseker te lyk nie. “Dankie. Ek hou styf duim vas.”

Hulle groet almal, en die Skype-sessie skakel aan hulle kant af. Carly kom agter dat haar handpalms klam en haar rug stokstyf is. Sy draai haar kop heen en weer om haar skouers te laat ontspan. Maak haar hande oop en toe. Sy het geen idee of haar aansoek gaan slaag nie. Colin Mackenzie is wel vriendelik, maar sy vennoot lyk veeleisend, puntenerig en nie juis tegemoetkomend nie.

Hulle het darem ’n ander Suid-Afrikaanse verpleegster aangestel. As hulle dit een keer kon doen, waarom nie ’n tweede keer nie?

Dalk hou daardie dokter Fraser nie van wat sy sien nie. Sy het bykans negatief geklink, terwyl dokter Mackenzie neutraal was.

Sjoe, nou moet sy in spanning vir die uitkoms van die onderhoud wag. Om vir daardie man te gaan werk, is ’n droom wat sy net kan bid bewaarheid sal word.

Grenslose liefde

Подняться наверх