Читать книгу Grenslose liefde - Malene Breytenbach - Страница 7
5
ОглавлениеNadat Jessie haar die grootste deel van die kasteel en kliniek gewys het, afgesien van die private deel waar die laird en sy ma tuisgaan, gaan die ontvangsdame terug na haar werk.
Carly gaan stap in die tuin. Sy loop oor groen gras, verby die meer tot in ’n klein woud. Oral groei heide en varings. Dit ruik na vars grond en plantegroei, en Carly adem dit diep in. Sy geniet dit om na die waterryke landskap te kyk.
Sy loop op ’n paadjie, diep ingedagte, toe sy iemand hoor roep. Sy kyk rond en sien ’n perd tussen die bome staan en gras vreet. Loop soontoe. Die perd is opgesaal, maar daar is niemand in die saal nie.
“Here I am,” hoor sy ’n vrou se stem. Carly kyk in daardie rigting.
’n Ouerige vrou in rydrag sit op ’n boomstomp. Haar grys hare wat opgekam was, het losgekom en hang in slierte langs haar wange af.
Carly loop nader.
Die vrou kyk haar skerp aan met helderblou oë tussen gekreukelde ooglede. “Waar kom jy vandaan? Is jy ’n toeris? Dié plek is nie oop vir toeriste nie.”
“Nee, ek werk by die kliniek. In elk geval van môre af. Ek het vandag gearriveer. Ek is ’n verpleegster. Wie is jy?”
Die vrou frons kwaai. “Ek is Barbara Mackenzie, die hertog van Seaforth se ma.”
Carly skrik behoorlik. Hier is die vrou van wie Duncan Urqhart geskinder het. Die een wat haar verbeel sy is belangrik omdat haar seun die laird geword het.
“Is jy dan die nuwe verpleegster wat van Suid-Afrika af kom?” vra Barbara Mackenzie.
“Ja, mevrou.”
Haar frons verdwyn. “Wel, ek is bly jy het hier aangeloop gekom. Jy kan my help. Ek het van my perd afgeval toe ek hom oor ’n boomstomp laat spring het. My seun gaan met my raas. Hy wil nie hê ek moet die perd nog op my ouderdom oor hindernisse laat spring nie. Maar ek was altyd ’n uitstekende ruiter en dis een van my plesiere. Ek het al aan tientalle jakkalsjagte deelgeneem en nog nooit geval nie.”
Sy beduie na haar een enkel. “Ek dink dis verstuit, al dra ek stewels. Dis seer.”
“Trek die stewel uit, dan kyk ek.”
“Nee, help my asseblief net om weer op die perd te kom sodat ek kan terugry. Dan kan jy na die kasteel kom en daar na my enkel kom kyk as jy nie omgee nie. Die butler sal jou na my toe bring. Lui net die klokkie by die voordeur.”
“Goed, ek sal so maak, mevrou.” Sy help die vrou hinkepink na die perd en help haar opklim.
“Baie dankie,” sê Barbara Mackenzie. “Wat is jou naam?”
“Carly O’Neill, mevrou.”
“Dankie, juffrou O’Neill. Ek sien jou dan netnou weer? Jy moet asseblief na my enkel kom kyk voordat my seun daarvan te wete kom. Hy gaan nie bly wees om te sien dat ek geval het nie. Ek sal dit vir hom moet wegsteek, anders hoor ek nie die einde daarvan nie.”
Sy ry weg, rug regop. Haar grys hare waai om haar kop rond.
Carly loop vinnig terug na die kasteel. Wat ’n verrassing om dié vrou te ontmoet. Colin Mackenzie se ma. Sy lyk taamlik hovaardig, nes Duncan Urqhart haar beskryf het.
By die voordeur van die kasteel is ’n moderne klokkie. Carly druk die rooi knoppie en wag. Na ’n paar minute gaan die deur oop en ’n middeljarige man in ’n swart uniform kyk uit.
“Good afternoon, how may I assist you?” vra hy formeel, sy grys wenkbroue geboog.
“Goeiemiddag, ek is Carly O’Neill, die verpleegster wat mevrou Mackenzie moet kom help.”
“O, ja. Kom asseblief in, dame.” Hy staan terug en laat haar ingaan. “Volg my, asseblief.”
Sy loop agter hom aan deur die groot portaal en saal, maar hy gaan links, nie regs na die kliniek se kant nie, en lei haar by ’n stel trappe op. Hulle loop ’n hele ent deur ’n deel van die kasteel wat antieke meubels en ou skilderye bevat. Dit is deftig en lyk seker al eeue lank so. Die mat is dieprooi en dik.
“Wat is jou naam?” vra Carly.
Hy kyk oor sy skouer na haar. “Dougall, dame.”
By ’n deur gaan staan hy en klop. Gedemp klink ’n stem binne op, en hy maak oop. Carly volg hom in en kyk verstom om haar rond. Die kamer is baie groot en lyk soos iets in ’n filmstel. Daar is sowaar ’n baldakynbed met swaar gordyne. Alles is swaar: die meubels, die gordyne by die bed en venster. Donkerblou oorheers die kleurskema.
“Hier is ek,” sê ’n stem, en hulle loop nader. Barbara Mackenzie sit in ’n groot leunstoel. Sy het haar stewels uitgetrek.
Carly gaan buk oor haar kaal voete. “Watter enkel is seer, mevrou?”
“My linkereen. Dankie dat jy gekom het.”
Carly voel aan die enkel. “Ja, dit is verstuit. Nie te erg nie. Dit sal help om ys op te sit en dan moet mevrou vir ’n rukkie liewer nie daarop trap nie. Ons kan ook arnikasalf daaraan smeer.”
“Dougall, vra asseblief vir die kombuis om vir my ys te stuur,” sê Barbara Mackenzie. “En tee. Dit laat mens altyd beter voel. O, en bring eers daardie kommetjie in die badkamer hierheen.”
Die butler bring die kom wat as voetbad dien, draai om en loop.
Carly bevoel die vrou se voet saggies. “Dit sou beslis erger gewees het as mevrou nie ’n stewel aangehad het nie.” Sy kom weer orent.
“Sit asseblief,” nooi Barbara Mackenzie. “Terwyl ons vir die ys en tee wag, kan jy my van jouself vertel. Colin het gesê jy het in Suid-Afrika in ’n vlugtelingkamp gewerk waar hy jou ontmoet het. Jy het ’n goeie indruk op hom gemaak en daarom wou hy jou aanstel. Jy is blykbaar half-Iers.”
Carly gaan sit in een van die ander groot leunstoele. Sak eintlik weg in die sagtheid daarvan.
“My oupa was Iers. Hy het van County Tyrone gekom en met ’n Afrikaanse vrou getrou. My pa het my ma, wat ook ’n verpleegster was, in Kaapstad ontmoet.”
“Wat was sy nering?”
“Hy was ’n kommodoor in die Suid-Afrikaanse Vloot toe hy dood is. Ek was vyftien jaar oud.”
“Ek sien.” Al kyk die blou oë haar deurtastend aan, lyk dit asof die vrou versag. “Toe word jy ook ’n verpleegster. Maar my seun sê jy is nog ’n sielkundige ook.”
“Ja, ek het sielkunde gaan studeer nadat ek vir Dokters Sonder Grense gewerk het.”
“Dan is jy mos ’n aanwins hier.”
“Ek hoop so.”
Barbara Mackenzie vra haar uit oor haar vorige werk, haar lewe tot dusver. Hulle gesels totdat daar ’n jong meisie in uniform opdaag met ’n teetrollie waarop ’n pragtige silwer teestel en fyn porseleinkoppies, klein tertjies op ’n bord en ’n groot bak ys gerangskik is.
“Dankie, Mary, jy kan die trollie oor ’n halfuur weer kom haal,” sê Barbara Mackenzie.
Carly staan op, kry die ysbak en hurk by die ouer vrou se voet. Sy tel die voet op, plaas dit in die voetbadjie en pak ys rondom.
Barbara Mackenzie gee ’n gilletjie. “Hemel, maar dis koud.”
“Hou net so vyf minute uit, dan kan mevrou die voet weer uithaal.”
“O, sjoe. S … skink asseblief vir ons t … tee, ek k … kan nie.”
Carly wil lag, maar hou haar sedig en skink tee. Gee ’n koppie vir Barbara Mackenzie en help haar met suiker en melk. Skink vir haarself en gaan sit. Barbara sluk die tee vinnig af. Carly drink stadiger.
“Skink asseblief vir my nog tee. Dit sal my van binne verwarm terwyl ek van onder verkluim.”
Carly staan op en doen dit. Bied ook vir Barbara van die tertjies aan.
“Nie nou tertjies vir my nie, dankie. Kry vir jou. Oe, my voet verkluim sowaar.”
Haar koppie rinkel in die piering en Carly neem dit uit haar hand.
Die deur gaan oop en iemand kom in. Carly draai verskrik om.
Colin Mackenzie stap nader. “Wat op aarde gaan hier aan?” Hy klink meer geamuseerd as kwaad.
Carly sit die koppie tee gou neer, want skielik is sy bewerig.
“Het Ma die perd al weer laat spring asof Ma op ’n jakkalsjag uit is?”
Barbara kyk skaam op na haar seun. “Ek pleit skuldig. Gelukkig het die verpleegster daar aangestap gekom en my gehelp.”
“Ek was besig om die terrein te verken,” verduidelik Carly.
“Toe vra ek haar om hierheen te kom en my te ondersoek, en sy was so vriendelik om dit te doen.”
Hy staan met sy vuiste op sy heupe en kyk na die voet in die ys. “Ma gaan vriesbrand kry. Ek gaan haal ’n handdoek, dan haal jy jou voet uit daardie ys.”
Hy loop haal ’n groot wit handdoek in die badkamer.
Carly verweer haar half verontwaardig, half skaam: “Ons behandel verstuitings altyd met yspakke.”
Hy kyk tergend na haar. “Ja, maar dis kouer hier in die Hooglande. Salf sou beter gewerk het.” Hy hurk en droog sy ma se voet af.
Hy lyk kastig kwaai, maar Carly dink hy steek eintlik net sy lag weg.
“Ma moet die perd tog nie weer laat spring nie.”
Carly is ongemaklik. “Ek moet gaan.”
“Dankie vir jou hulp,” sê Barbara.
“Dis ’n plesier, mevrou.”
“Kan jy perdry?”
Colin grinnik. “My ma dink iemand wat nie perdry nie, beteken nie veel nie.”
Carly wil-wil haar net vererg. Is dit nou deel van dié aristokrate se snobisme? “Ek het laas perdgery toe ek op skool was. Sedertdien het ek nie weer die geleentheid gekry nie.”
Sy wil vlug, want Colin Mackenzie se oë terg haar heeltyd.
“Totsiens dan, mevrou, dokter Mackenzie.”
Sy kan nie vinnig genoeg by die deur uitkom nie.
Carly loop by die kafeteria in. ’n Aantal mense sit en eet en ’n paar staan tou vir kos. Gesigte draai om na haar te kyk. Hulle sien natuurlik sy is ’n nuweling. Sy kyk eers rond of sy vir Dudu Khumalo sien. Ja, daar wuif ’n hand. Sy loop soontoe. Daar is ’n breë verwelkomende glimlag op die gesig van haar landgenoot. By haar sit ’n ouer vrou met grys krulhare. Toe Carly hulle bereik, kyk die ouer vrou met grasgroen oë na haar.
“Hier is my sisi,” lag Dudu. “Suster Annie, dit is verpleegster Carly O’Neill. Carly, dit is suster Annie Muir.”
Annie staan op en skud Carly se hand formeel. Haar glimlag is egter vriendelik. “How do you do? Welcome to Strahan. I’m sure we shall work well together.”
“Dankie. Dit is vir my ook ’n plesier om jou te ontmoet, suster.”
“Ons het vir jou gewag. Kom ons gaan haal vir ons kos, dan kan ons lekker gesels.” Carly glimlag vir die vrou se swaar Skotse aksent waarin die r’e rol.
Annie loop vooruit – ’n kort, fris vroutjie. Carly besluit sy hou van haar ook.
Toe hulle weer aan tafel sit met borde vleis en groente, kyk Annie haar ondersoekend aan. “Ek hoor jy het verder in sielkunde gestudeer. Dit is natuurlik ’n aanwins. Ek is al jare lank ’n psigiatriese verpleegster. Ai, die probleme wat mense darem het. As dit nie deur trauma veroorsaak word nie, is dit die gevolge van depressie of geestesafwykings. Mense soos ons kan maar net probeer help om die lewe vir hulle beter te maak.”
“Dis waarom ons in ons beroepe is,” sê Carly. “Om ons medemens te help. Ek moet sê, dié plek is soos ’n paradys in vergelyking met ander plekke waar ek al gewerk het.”
“Ja, daardie vlugtelingkampe, byvoorbeeld,” sê Dudu. “Daar het ek my byna doodgewerk. Ek was soms vier-en-twintig uur aanmekaar aan diens. Ek het ook in Sierra Leone en Somalië gewerk. Toe bied dokter Mackenzie vir my hier werk aan.”
Annie skud haar kop meewarig en steek ’n vurk vol kos in haar mond. Kou nadenkend. Sluk. “Ek hoor julle. Ek het weer in inrigtings in Engeland en Skotland gewerk. Maar ek het op dié landgoed grootgeword. My pa was een van die tuiniers tot sy dood. Toe ek hoor die nuwe hertog is ’n psigiater en wil ’n kliniek hier begin, het ek besluit ek wil terugkom. Ek dink ek het nog nooit so lekker gewerk soos hier nie. Die pasiënte is min en nie te erg versteurd nie, en ek kan by my bejaarde ma bly.”
“Is jy nie getroud nie?” vra Carly.
“Ek was, maar ek is lankal geskei en het nie kinders nie.”
“Ek is ook nie getroud nie,” sê Dudu. “My man het my gelos. Hy het nie gehou van die werk wat ek doen nie. Maar eendag sal ek dalk weer man vat. Wat van jou, Carly? Jy is so ’n mooi vrou, daar moes al mans in jou lewe gewees het.”
Carly haal haar skouers op. “Ag, hulle het gekom en gegaan, maar niks was ooit ernstig nie.”
Eintlik het net een man haar ooit laat voel dat hy haar voete onder haar kan uitslaan, maar sy het nou gesien hy is te vernaam vir haar. Boonop is hy nie beskikbaar nie.