Читать книгу Grenslose liefde - Malene Breytenbach - Страница 5

3

Оглавление

Carly sleep haar groot tas deur die skare mense wat saamdrom in die aankomsaal in die lughawe van Inverness. Na al die hekkies waaroor sy moes spring om hier te kan wees, is sy uiteindelik in Skotland, land van mistigheid, berge en koue grys see, van Hoogland-clans wat teen mekaar oorlog gevoer het, wat doedelsakmusiek speel en steeds kilts dra. Dit was nog altyd vir haar so ’n romantiese land.

Dit is die land van Colin Mackenzie, die Skotse laird. Sy kan nie wag om hom weer te sien nie. Die afgelope maande het vreeslik lank gevoel nadat hy haar per e-pos laat weet het dat hulle haar ’n pos as verpleegster aanbied. Daardie dag het sy amper van blydskap bollemakiesie in haar meenthuis geslaan. Maar toe kom al die administrasie van aansoeke doen, permitte reël, haar vertrek reël, vriende en familie groet. Alles was tog die moeite werd, want hier is sy nou uiteindelik. Sy sien geweldig uit na die avontuur wat voorlê.

Colin Mackenzie het gesê ’n drywer sal haar kom ontmoet, maar sy sien niemand met ’n kennisgewing nie. Sy staan en wag. Kyk na die vreemde mense wat mekaar groet, lag, soen en omhels.

Uiteindelik kom ’n fris jong man met wortelrooi hare in tweedklere aangeloop. Hy kyk rond asof hy na iemand soek. Sy blik talm op haar.

Hy kom nader. “Miss Carly O’Neill?”

“Yes, I’m Carly O’Neill.”

Hy steek sy hand na haar uit. “Goeiedag. Ek is Duncan Urqhart, die algemene bestuurder van Strahan. Welkom in Skotland.” Sy Skotse aksent is swaarder as Colin Mackenzie s’n, wat sag op die oor geval het. Dié man se r’e rol soos die geroffel van tromme.

“Dankie.” Sy gee hom die hand.

Hy neem haar tas by haar en loop so vinnig dat sy moet draf om by te hou. Hulle vleg deur die skare tot by ’n parkeerterrein waar hy haar na ’n nuwe Land Rover neem. Op die deur sien sy die logo: Strahan Castle. Hy laat haar voor by die passasierskant inklim en laai haar tas agter in. Hy klim in en trek met ’n vaart weg. Vleg behendig deur swaar verkeer.

“So, wat kan jy my van Strahan en sy mense vertel?” vra sy, net om te gesels.

Hy grinnik. “Wat wil jy weet?”

“Ag, alles. Ek het dit op die internet bekyk, maar jy het seker daar grootgeword?”

“Ja, ek het, maar nie in die kasteel nie. Ons woon in ’n kothuis op die landgoed. My pa het die landgoed voor my bestuur. Hy het getrou met Agnes, Barbara Mackenzie se suster, maar is nou oorlede. Barbara is die hertog se ma. So, Colin Mackenzie, die hertog, en ek is neefs. My ma, Agnes, en Barbara is van die Urqharts van Cromarty.”

“Op die internet lyk die kasteel baie indrukwekkend.”

“Strahan was nog altyd die grootste van die Mackenzies se kastele. Colin … dokter Mackenzie … het nie verwag om dit te erf nie, maar die vorige erfgenaam het kinderloos gesterf. Colin se pa was al dood en toe is hy die volgende in rang.” Hy kyk vlugtig na haar. “Hy vertel my dat hy jou in Suid-Afrika leer ken het, ’n aantal jare gelede.”

“Ja, toe ons albei vir Dokters Sonder Grense gewerk het. Is hy sedertdien getroud?”

Duncan Urqhart grinnik spottend vir haar, en sy voel onmiddellik so verleë dat ’n gloed by haar nek opkruip.

“O, nee, hy is nog nie getroud nie, maar ons weet almal hy gaan met sy vennoot, dokter Fraser, trou. Hulle het ontmoet toe hulle aan die universiteit van Edinburg gespesialiseer het.”

Teleurstelling spoel in ’n koue golf deur Carly. Wat het jy dan verwag, berispe sy haarself. Hoe kan so ’n man nie ’n vrou in sy lewe hê nie? Nogtans sal dit opwindend wees om vir hom te werk.

“Strahan is ’n besige plek, want ons het ’n groot boerdery en die kliniek is ook daar,” vertel Duncan Urqhart. “Ons het toeriste nog tot verlede jaar toegelaat om dit te kom besoek, maar nie nou meer nie. Dis nou ’n gestig vir malles, soos baie van die mense in die omgewing dit noem, maar moenie waag om dit voor dokter Mackenzie te sê nie. Hy sal jou kop afbyt.”

Carly frons. “Dis nie ’n gestig vir malles nie. Dis ’n plek waar traumapasiënte en mense met sekere steurings behandel word.”

“Goed, daar is nie ouens in gekussingde selle nie, maar jy sal verbaas wees om te sien watter afwykings daar wel is. Een ou het met erge bomskok uit Afganistan gekom en daar is ’n rock-ster wat ’n algehele junkie is. Maar … jy sal hulle wel leer ken. Jy gaan mos met hulle werk.”

Carly kyk na die landskap waardeur hulle ry. Buite Inverness word dit groen en mooi, met berge in die agtergrond.

“Wat wil jy nog weet?” verbreek Duncan die stilte. “Ek kan jou iets van die Mackenzies vertel. Hulle was nog altyd ’n veglustige lot.”

“Vertel,” sê sy, want sy is uiters nuuskierig oor alles wat met Colin Mackenzie te doen het.

Duncan kyk vlugtig na haar. “Weet jy van die Slag van Culloden?”

“Ja, dis waar die Skotte teen die Engelse verloor het toe hulle aan die kant van Bonnie Prince Charlie Stuart teen George die hoeveelste van Engeland geveg het.”

Dis goed dat sy darem vooraf navorsing gedoen het sodat sy die omgewing en Colin Mackenzie se agtergrond kan verstaan.

“Culloden is naby Inverness. Die Mackenzies was prominente Jakobiete en hulle het in die opstande teen die Engelse koning geveg. Van hulle het by Culloden gesneuwel en daar is ’n steen opgerig waarop hulle name staan. Strahan Castle is deur die Engelse beleër en die clan se hoof, Mackenzie, is verslaan. Sy eiendom en titel is afgevat. Later het die Mackenzies trou gesweer aan die Engelse kroon en toe kry hulle al die besittings, titel en voorregte terug. As hulle nie by die Engelse gaan kruip het nie, het my neef nie nou die groot kasteel gehad nie.”

Carly kyk uit die hoek van haar oog na Duncan Urqhart. Dit klink vir haar asof hy ’n goeie dosis afguns ingekry het. Colin Mackenzie is wel die erfgenaam, maar nie die direkte afstammeling van die vorige lord nie en dalk grief dit Duncan dat die neef hierheen kon kom en alles inpalm. En toe maak hy boonop van die kasteel ’n kliniek.

“Lady Barbara is jou tipiese snob,” sê hy. “Sy wou hê Colin moet in die House of Lords gaan sit en ’n politikus wees, of minstens in die Skotse parlement dien, maar hy verkies om as psigiater te werk. Vandat sy saam met Colin in die kasteel ingetrek het nadat hy alles geërf het, wil sy haar wát verbeel. ’n Mens sou sweer haar man was die laaste hertog en sy die hertogin. Maar sy het nie die titel van lady nie. Sy is ’n gewone mevrou.”

Carly hou nie van ’n geskinder nie, maar hierdie inligting is tog insiggewend, al word dit venynig oorgedra.

Hulle ry oor ’n brug en al langs ’n rivier. Die pad kronkel deur hoë bome. Om ’n draai is daar ’n kennisgewing: Strahan Castle and Clinic.

Carly se hart begin sommer vinniger bons. Duncan Urqhart hou stil voor ’n reusagtige gietysterhek tussen twee mure wat grotendeels deur smaraggroen klimop bedek word. In die gietyster van die hek staan die naam Strahan Castle. Langs die hek is ’n kennisgewing wat sê: Private. Trespassers will be prosecuted.

“Daar kom alewig nuuskierige toeriste hier aan wat die kasteel wil besigtig,” sê Duncan. “Ons moet dit duidelik maak dat hulle nie kan inkom nie. Maar as jy my vra, is dit jammer dat ons daardie inkomste moet verbeur. Ander kastele vra toegang en alles help om die landgoed aan die gang te hou.”

Hy haal ’n afstandbeheerder uit sy sak en druk ’n knoppie. Die hek skuif rammelend oop. Hulle ry deur en dit skuif weer agter hulle toe. Hulle is nou op ’n geplaveide pad. In die verte doem die kasteel op wat Carly in die foto’s gesien het. In die werklikheid is dit veel mooier, omring deur groen gras en hoë bome.

“Sjoe, dis mooi hier,” sê sy.

“Jy is gelukkig dat die son vandag skyn. Dit kan somber op reëndae wees. Ek hoor julle mense van Afrika kry swaar wanneer die son nie skyn nie.”

“Ag nee wat, ek gee nie om nie. Baie reën maak die landskap groen en waterryk.”

Hulle ry by ’n klein loch verby waar die water stil soos ’n silwer spieël lê.

Hoe nader hulle aan die kasteel kom, hoe groter lyk dit. Carly sien vir die eerste keer mense. ’n Vrou in ’n wit uniform stoot iemand in ’n rolstoel oor die grasperk. Daar is bankies onder bome en op een sit ’n man roerloos. Duncan ry tot voor ’n ingang waar deure so groot soos dié van ’n katedraal oopstaan.

“Ons klim hier uit,” sê hy. “Ek moet jou eers na dokter Mackenzie toe neem. Moenie jou oor jou bagasie bekommer nie, ek sal sorg dat dit na jou kamer geneem word. Jy sal tuisgaan in een vleuel van die kasteel saam met die ander verpleegster uit Suid-Afrika. Die res van die personeel bly in kothuise op die terrein.”

Hy skakel die voertuig af en kyk met ’n frons na haar. “Ek hoop jy kan dit hier uithou. Jy lyk vir my gans te mooi en broos vir dié soort werk. Waarom het jy nie liewer ’n ander beroep gekies nie?”

“My werk is vir my ’n roeping,” vat sy hom kort. “En ek is taaier as wat ek lyk.”

Grenslose liefde

Подняться наверх