Читать книгу Sonder Chocolate Charlie - Marga Jonker - Страница 4
1
ОглавлениеNagmerrie-joernaal
Charlie se swart maanhare swiep deur Nell se gesig. Sy leun verder vooroor teen sy natgeswete nek. Die sjokoladebruin nekvel blink gitswart van die sweet; die reuk van salpeter slaan op in haar neus. Charlie galop teen die klipperige berghelling af. Vrees maak haar kortasem; haar hande klou bewend aan die teuels vas. Sy moet wegkom van die donker agter haar. Charlie beur met kragtige hale vorentoe. Die klipperige berghang is ongelyk. Sy druk haar bene styf teen die perd se maag, kap haar stewels se hakke in sy lieste. Charlie gehoorsaam sonder huiwering. Sy voel hoe die reun sy voorbene lig om oor die rots voor hulle te spring. Die volgende oomblik stort Charlie neer en sy val en val …
Nell skrik natgesweet wakker. Haar ma, Anelda, sit langs haar. Huffel, haar groot Deense hond, spring met sy voorpote op teen die bed en druk sy neus teen haar been.
“Dieselfde droom?” vra haar ma.
“Ja, ek ry op Charlie, op en op teen Sneeuberg, ek draai om en begin bergaf … galop!”
“Het Charlie nie vir iets geskrik nie?”
“Nee, in my droom druk ek hom om so vinnig as moontlik te galop … bergaf.”
“Nell, nog vandat jy begin perdry het, was jy ’n versigtige ruiter. Jy sou nie vir Charlie teen ’n gevaarlike berghang af laat galop het as daar nie ’n goeie rede was nie.”
Nell sê niks, staar net verwese voor haar uit. Sy wonder waarom sy Charlie in haar droom met haar hakke aanpor om oor die stapel rotse te spring. Sou sy so iets doen? Hét sy dit gedoen?
Freak! Perdemoordenaar! Jy het jou perd laat doodval teen ’n gevaarlike berghang af! skree die stem in haar binneste. Die skreestem wat soos ’n ontydige sirene in haar kop afgaan, wat haar treiter van die dag toe haar ma vir haar in die hospitaal vertel het dat Charlie dood is. Haar vel slaan hoendervleiskolletjies uit.
Sy druk met haar hand teen haar slaap. Haar vingers vleg onder haar hare in en sy voel die riffels van die letsel onder haar vingerpunte.
“Hier is jou dagboek.” Anelda gee die skryfboek met die slotjie vir Nell aan. “Dr. Coenie het gevra dat jy elke droom moet neerskryf.”
“Ma, dit was ’n nagmerrie, nie ’n droom nie!”
“Wel, ten minste kan jy iets daarvan onthou,” moedig Anelda haar aan. “Drome kan regtig help.”
Nell sê niks. Sy wens haar ma wil nie so hard probeer om haar beter te laat voel nie. Sy wens hulle wil haar net uitlos, want dalk wíl sy nie weet presies wat daardie dag gebeur het nie.
Teësinnig neem sy die dagboek en vroetel lusteloos met die pen wat aan ’n toutjie daaraan vas is. Haar ma stap saggies by die kamer uit.
Huffel plof op die matjie langs haar bed neer met ’n vreeslike diep sug. Hy was nog nooit ’n baie vrolike hond nie, maar deesdae lyk dit vir Nell asof hy net frons en sug. Sy staar doelloos na die boek se skoon bladsye en krabbel met die pen oor die eerste blad: Nagmerrie-joernaal. En toe weer: Nagmerrie-joernaal. Oor en oor in verskillende skriftipes.
Nagmerrie 1
Ek jaag my perd teen die berg af en laat hom sy been breek. Ek laat my perd homself vrek val vrek vrek val val val …
Freak! Perdemoordenaar! Niemand kan jou help nie, nie eens jou drome nie! gil die stem weer deur haar kop.