Читать книгу Sonder Chocolate Charlie - Marga Jonker - Страница 8

5

Оглавление

Die koms van die Stellenbossers

“Daar kom ma ook nou met Colette-hulle,” roep Hein opgewonde.

Die groot perdetrok is reeds deur die wit pilare en oor die sparre van die veehek toe die Land Rover ingery kom. Dit is ’n groot perdetrok wat agt perde kan vervoer. Die voertuig stop voor die stalle met die blougeverfde staldeure. Hierdie stalle is die naaste aan die oefenkampe en word die blou blok genoem. Dit is die ryperde se stalle en hulle name is op bordjies op die staldeure. Die teelmerries kom gewoonlik in die groen blok, nader aan die skuur, waar al die staldeure groen geverf is.

Oupa Sallie, Andrew en Hein drafstap na die blou blok toe. Die trok en die Land Rover het reeds stilgehou en drie modieus-geklede meisies klim saam met Heike, ­Colette en Hein se ma, uit.

Nell, wat ’n entjie agter die ander stap, wens dadelik sy het vanoggend meer moeite gedoen met haar voor­­koms. Haar ma het juis vir haar nuwe klere gekoop vir die winter, dalk met die oog op die Stellenbossers se koms. Maar Nell is die meeste van die tyd min gepla oor wat sy aantrek. Dit is juis een van die dinge wat sy hierdie eerste kwartaal van haar tuisskoolprogram die meeste geniet het – dat sy in jeans, tekkies en truie kan leef. Party oggende loop sy sommer in haar pajamas en pantoffels rond tot sy klaar is met haar lesse.

Colette kom na hulle toe aangestap. Haar geruite swart-en-wit mini met die valle wip as sy stap. Daarby dra sy ’n wit langmouhemp wat onder haar kort swart leerbaadjie uithang, lang rooi kouse en kort swart stewels.

Reeds in graad 7 al het Colette se klerestyl begin ver­ander. Sy het nie meer sommer met haar ryklere en blou oorpak en rubberstewels op die plaas rondgeloop soos Nell en Hein nie. Nee, sy het maklik drie keer op ’n dag aangetrek; ’n ander uitrusting vir elke geleentheid. Oom Sarel se gepla en geterg het geen verskil gemaak nie. Nou, in haar tweede jaar op kosskool, is sy ’n graad 9-leerder wat altyd sjiek en stylvol uitgevat is in amper te swierige klere. Nell trek ongemaklik aan haar verbleikte lospassende jeans wat by haar rubberstewels ingedruk is en loer spyt na haar ou oorgroot blou trui wat vanoggend vir haar die lekkerste gelyk het om aan te trek.

“Haai, Oups.” Colette gee vir Oupa ’n druk. Nell kan sien dat Colette grimering dra.

“En hoe gaan dit met my te-groot-vir-sy-skoene-­broer?” Colette gee vir Hein ’n soen op sy kroontjie.

Sy wag nie vir ’n antwoord nie en wend haar tot ­Andrew. “Hallo, Andrew!” Hy kry ’n stywe druk. “Ek hoor jy gaan ook aan die springkompetisie deelneem met Wild Hero?” sê-vra sy. “Jy gaan lekker hard moet werk, nè? Kan hy ooit spring?” Colette haak by Andrew in en gaan staan styf teen hom.

“Ja, jy sal geskrik wees. Hein en Jenny het hom al ’n paar dinge geleer, Hero gaan gee julle nog a big surprise.”

Steeds ingehaak by Andrew trek Colette hom nader aan haar vriendinne. Die son blink op haar lang, bruin hare met die heuning-sonstrepies.

“Dit is Charni Meiring,” stel sy eerste vir Charni voor.

Charni beweeg onophoudelik: sy swaai haar blou-en-pers serp se punte en wikkel haar bene in die lang leerstewels heen en weer. Die serp pas mooi by haar hemp van pers breistof, wat ’n interessante kontras vorm met die swart mini, swart kouse en swart stewels. Sy steek haar hand uit na Andrew en kyk hom met groot blou oë aan van onder haar blonde krulle.

“Hey, hello,” glimlag Andrew.

“Haai!” waai Hein onseremonieel met sy hand.

“En ontmoet vir Ateeyah Ammani,” sê Colette. “She is of royal descent.”

Sy lyk regtig koninklik, dink Nell by haarself, maar Colette maak darem seker ’n grappie daaroor.

Ateeyah dra ’n styfpassende denim met ’n sagte see­groen geborduurde katoenhemp wat lank daaroor afhang. Sy het ’n donkerder groen syserp om haar nek. Ten spyte van haar gemaklike plat leerskoene is sy steeds ’n kop langer as Colette en net so lank soos Andrew. Haar lang, swart hare hang steil teen haar rug af. Sy is beeld­skoon met haar groot, amandelvormige swartbruin oë.

“Hi, pleased to meet you. Is it princess Ateeyah?” ver­neem Andrew. “Wait, no, now I remember,” onderbreek Andrew homself. “I know this: it is Maha- … rani.” ­Andrew weet altyd iets van die regte manier van groet af. “Maharani Ateeyah,” gaan hy voort, “or is it Maharaj Kumari? My friend Benu is a great fan of Maha Rani, ­the Indian pop star.” Nell en Hein luister oorbluf na ­­Andrew.

“No, no, I am just Ateeyah,” glimlag Ateeyah.

“Hoezit,” is al wat Hein uitkry.

“Hein en Andrew gaan saam met ons oefen vir die SANEF-uitdunne,” verduidelik Colette aan haar twee vrien­dinne.

Colette en haar twee kosskoolvriendinne gaan die ­eers­te vyf dae van die Aprilvakansie saam met hul perde op Solitaire deurbring vir hulle finale afronding vir die ­komende Suid-Afrikaanse Nasionale Ruiterkuns- en Springtoernooi.

“Is Jenny al terug?” vra Colette.

“Sy is al ’n week lank terug. Sy gaan julle baie hard laat werk,” waarsku Hein.

Jenny Scott, Solitaire se spesialis-perdeafrigter, is landwyd bekend vir haar perd-en-ruiterafrondingskursusse wat hier op Solitaire gehou word. Sy is pas terug van ’n afrigtingskliniek by die baie bekende Camelot Riding School buite Londen.

Andrew en Hein gaan ook die kursus bywoon – ­Andrew hoofsaaklik om te sien of hy sy perd, Wild Hero, afgerond genoeg kan kry om ook te kwalifiseer vir die springkompetisie. Hein, Nell en Colette is al drie verlede jaar vir die Westelike Provinsie-span gekies. Hein, op Super Sam, was die jongste lid wat nog ooit die span gehaal het.

“En hier is my oulike, cute niggie, Nell, van wie ek julle vertel het.” Colette klink omtrent soos ’n TV-nuusleser wat ’n dramatiese gebeurtenis aankondig. ’n Tifoon het Haïti getref. ’n Orkaan is op pad na Amerika. Ontmoet dan nou ook vir Nell. Ernstig en amptelik.

Katjies en hondjies is oulik en cute; fluister Nell se ge­dagtes vir haar.

“Hallo, Nell, ek is Charni!” Charni praat hard en dui­delik, terwyl sy elke klank met haar mond vorm asof Nell nie mooi kan hoor nie. En net om seker te maak dat Nell verstaan, druk sy met haar hand teen haar lyf om te be­duie dat sy Charni is.

“Pleased to meet you,” sê Ateeyah sag en simpatiek in ’n amperse fluisterstem, asof sy bang is om met Nell te praat.

Nell kan nie help om te wonder wat Colette haar vrien­dinne van haar en haar probleme vertel het nie. Sy voel skielik soos Frankenstein se monster en die gillende binne­stem begin weer koggel. Sy voel hoe haar keel brand en haar hande sweet.

“Nee, watse ginnegapery is dit? Julle is nie nou by die flieks in die malls nie, jonge dames,” kom oom Sarel tot haar redding. “Toe-toe, kom kry hierdie perde op stal!” Hy stop Duchess se haltertou in Colette se hande. “Hier, Colette.”

“Ag, ek sal my helpvol hou, julle dames wil seker eers gaan opvars,” bied Andrew galant aan.

“Dit is ‘behulpsaam’ en jy sê nie ‘opvars’ in Afrikaans nie,” wil Nell hom reghelp, maar daar kom geen klank by haar mond uit nie.

“Dankie, Andrew, jy is ’n regte gentleman,” glimlag ­tan­nie Heike. “Kom, meisies, julle kan eers gaan uitpak en julle ryklere aantrek. Julle is seker ook baie honger. Die oom klink maar net so kwaai.”

“Jenny wil julle al vanmiddag deur die nuwe baan neem,” roep oom Sarel nogtans agterna.

“Sarel! A nee a!” raas Heike met hom. “Gee die meisies ’n kans. Onthou, hulle kom darem nou uit die koshuis uit!”

“Nou vir wat dos hulle hulle dan so uit, hoe het hulle nou gedink gaan die perde op stal kom?” Oom Sarel klink nie te beïndruk nie. “Hierdie is nie ’n hotel nie, ­almal moet help met alles.”

Charni en Ateeyah lyk effens verskrik en staan dadelik nader aan die perdetrok om te help, maar Colette steur haar nie aan haar pa nie.

“Thanks, Andrew, you are so kind,” sê Colette op haar deftige Stellenbosch-Engels. Sy glimlag en gee dadelik Duchess se haltertou vir Andrew. “Kom, girls!” kommandeer sy haar vriendinne op.

“Julle kry dié vakansie die gastewoonstel, Die Solder. Dit is ons huis se solder wat omskep is in ’n woonstel,” verduidelik Heike die slaapreëlings.

“Ag, Ma, jy’s die beste,” koer Colette.

“Vriendinne, kom nou,” roep Colette weer en klim ­te­­­­rug in die Land Rover.

“Hein, Andrew, Pa Sallie, help daar met die kuiergaste se perde,” beveel Heike. “Ek gaan eers die meisies opneem Solder toe.”

“Hein en Oups, ek is seker julle kan ook nie wag om vir Silver Max en Tango Girl te sien nie,” roep Colette deur die Land Rover se venster. “Dis nou julle kans.” Sy skud haar bruin hare oor haar skouers en sit terug in die sitplek soos ’n sepiester in ’n limousine.

Hein en Oupa Sallie het al baie gehoor van die twee perde wat die vakansie kom kuier. Hulle is nogal nuus­kierig en klim gretig in die trok. Andrew stap intussen met Duchess aan na ’n stal waar haar naam in sierskrif op die blou-en-wit naambordjie pryk.

Duchess is ’n fyngeboude vosmerrie, vyftien hand hoog, en met Colette in die saal is hulle twee ongetwyfeld die beste advertensie ooit vir die perde wat op Solitaire geteel en afgerig word. Sy en Colette is ’n wenspan as dit by ruiterkuns kom; altyd netjies en blink.

Nell kyk hoe haar tannie Heike en die Stellenbosse meisies met die Land Rover wegry. Daar is ’n vrolikheid en opgewondenheid tussen hulle. Nell kan nie help om met haar hand op haar hart te druk nie, want dit voel skielik asof daar ’n skerp, helder pyn deur haar skiet net daar waar haar hart sit.

Sy moes ook tussen hulle gewees het, maar nou word daar nie een keer met haar gepraat nie, want niemand kan haar vra om met iets te help nie. En wanneer die twee besoe­kers met haar praat, klink dit asof hulle dink sy is verstandelik gestrem.

Watter nut het ’n mens op ’n perdeplaas of by ’n perde­telery as jy elke keer flou en bewerig voel wanneer ’n perd net aan jou ruik?

Ek hoort nie meer hier nie, dink Nell en begin blinde­lings wegstap van die perde wat afgelaai word.

Nie Oupa Sallie, Hein of Andrew kom eens agter sy stap weg nie; hulle is te besig met die kuiergaste se perde.

Sonder Chocolate Charlie

Подняться наверх