Читать книгу Sonder Chocolate Charlie - Marga Jonker - Страница 5

2

Оглавление

Oupa Sallie se kat in die sak

Hein hang oor die klein kampie se heining. Sy arms rus op die boonste houtbalk se rand terwyl hy met sy voete op die onderste dwarsbalk staan. Hein is kort vir sy dertien jaar. Sy donker, steil hare is netjies geknip en ’n kroontjie in die middel van sy voorkop laat sy kuif regop staan.

“Wow! Sy lyk soos ’n Barbie-ponie, perfek mooi.” Sy donkerbruin oë is lewendig en daar is ligbruin sproete oor sy neus en wange. Hy is opgewek, want dit is nie net Vrydag nie, die skool het ook vandag gesluit vir die Aprilvakansie.

“Sy is nie blond nie; sy’s ’n PALOMINO.” Nell staan met haar elmboë gestut op die middelste balk. Haar ken rus op haar hande. Sy staar ook na die nuwe perd.

“Sy lyk vir mý blond.” Hein skerts graag. “ ’n Blonde Barbie-perd-ponie,” soek hy skoor met Nell.

“My pa sê julle oupa het ’n haas in die sak gekoop met dié merrie,” sê Andrew met sy swaar Engelse aksent. Sy lenige lyf hang gemaklik oor die boonste balk waar hy langs Nell staan. Sy blonde hare hang lank af in sy nek. Die Engelse seunskool in die Kaap waar hy vanjaar in graad 10 is, het beslis nie dieselfde streng reëls vir kort haarstyle as Laerskool Sneeuberg, waar Hein in graad 7 is nie.

“Nie ’n haas nie, ’n kat,” help Nell hom reg. Sy lyk meer soos Hein se suster as sy niggie. Sy is wel langer as hy, maar sy het ook swartbruin hare wat in ’n kort styl geknip is. Haar oë vertoon donker teen haar blas vel en daar lê ook fyn sproetjies oor haar neus.

“Het Oupa ’n haas saam met die perd gekoop?” vra Hein gemaak onskuldig.

“Nee, nie ’n haas nie, jy hoor mos Nell sê dit is ’n kat; ’n kat saam met die perd,” help Andrew hom reg.

“Nee, nie saam met die perd nie.” Nell is nie seker of Andrew altyd alles verstaan wanneer hulle vinnig in Afri­kaans praat nie. “Andrew, jou pa meen Oupa Sallie het ’n vrotterige perd gekoop,” probeer Nell weer orde in die gesprek bring.

“Ek sien sy is vrot, ja. Kyk, sy is al geel van die vrot,” lag Andrew.

“Nie geel nie, blond!” sê Hein.

Nell gluur haar neef gevaarlik aan en haar oë blits ewe kwaai na Andrew se kant toe. Sy kom dikwels sekondes te laat agter as iemand haar terg.

“Nou maar as julle nie wil weet wat Dok oor die palomino te sê het nie, sal ek dit maar vir Colette moet vertel,” sê Nell vies. “Sy gaan nou enige oomblik hier opdaag van Stellenbosch af.”

Nell was ál een hier toe Oupa Sallie en Dok die ponie vanoggend kom aflaai het.

“Oukei, sorry, Nell,” keer Hein. “Wat het Dok gesê?” Hein wil nie hê sy ouer suster moet die nuus voor hom hoor nie. Nie dat Colette regtig baie gepla is met wat hier by die Solitaire Perdestoetery gebeur nie, behalwe as dit dalk sou inmeng met haar sport of haar twee kampioen-sportperde. Solitaire’s Diana’s Duchess en Solitaire’s Red Ace is vir Colette die begin en die einde van die gebeure op die stoetplaas.

“Ja, sorry, Princess,” maak Andrew ook verskoning. Nell hou daarvan as Andrew haar Princess noem. Met sy Engelse aksent rol die woord so mooi van sy tong af dat sy vir daardie oomblik voel sy ís ’n prinses. Een oom­blik tussen al die minute, sekondes en ure wat sy nié goed voel oor haarself nie.

“Wel, Dok sê Oupa se winskopie – die kat in die sak – is ’n hansperd wat te oud is om geleer te word,” vertel Nell. Al drie kyk nou peinsend na die merrie. Dr. Tony Smith, oftewel Dok, is die plaaslike veearts. Hy is ook Andrew se pa.

“Nou is sy dan nie geleer nie? Is sy wild?” wil Hein weet. Daar is vir hom niks meer opwindend as om te help perde afrig nie. Hy stel in elke aspek van sy pa se perdestoet belang, van die teel van perde tot die leer van die jong perde. Dit is juis waarvoor die Solitaire Perde­stoetery bekend is: vir opreggeteelde, klaar opgeleide sport­perde, Suid-Afrikaanse warmbloedperde. Die perde is ge­wild vir perdespring, ruiterkuns en polo.

“Wel, sy reageer nie op normale instruksies nie,” vertel Nell.

“Dad het my gister ook so ’n bietjie van die ponie vertel. Sy is apparently truly blonde, totally clueless,” sê Andrew en trek glimlaggend aan sy eie blonde kuif.

Sonder Chocolate Charlie

Подняться наверх