Читать книгу Sonder Chocolate Charlie - Marga Jonker - Страница 9

6

Оглавление

Die saalkamer se ver-kyk-stoel

Nell drafstap verby Ratu wat nuuskierig na die veldperde staan en kyk wat in hulle kamp agter die skuur wei.

“Daardie perde kan moeilik wees, hulle is nog jonk en baklei maklik, jy bly net hier,” sê Nell vir Ratu en stap haastig by die saalkamer se oop deur in. Die saal­kamer is ’n vertrek in die ou skuur. ’n Houtdeur met ’n veiligheids­hek voor verleen toegang tot die donker vertrek sonder vensters. Die hek en die deur staan altyd oop gedurende die dag. Gemonteerde hake teen die mure bied hangplek vir al die perde se saals en tooms, met gemerkte naam­plaatjies onder elke saal.

Nell mik om op die klein stoeltjie wat teen die agterste muur staan, te gaan sit. Die stoeltjie staan reg onder een van die saals wat teen die muur hang. Sy druk met haar vinger teen die skroefgaatjies onderkant die saal waar ’n naamplaatjie afgehaal is. Drie maande gelede was haar en Chocolate Charlie se naamplaatjie nog daar vasgeskroef.

Nell

Chocolate Charlie

Aan die haak bokant die leë skroefgaatjies hang die swart leersaal wat haar pa twee jaar gelede vir haar uit Duitsland gebring het toe sy vir die eerste keer vir die WP se junior springspan gekies is. Nell streel met haar hand oor die rand van die saal, waar daar nog net een diep skraap deur die leer loop. Oupa Sallie het die saal reggemaak. Hy het dit só goed gedoen dat selfs dié skraap skaars sigbaar is en die ander fyner skrape heeltemal weg is. Die verlore en gebreekte stiegrieme en stiebeuels is ook vervang. Die saal hang reg vir gebruik.

Charlie se toom hang netjies aan die haak onder die saal, skoongemaak en met die stang blink opgevryf.

Van waar sy met haar rug teen die muur geleun sit, het sy ’n uitsig oor al die bedrywighede by die stalle. Sy knyp haar oë styf toe en druk met haar hand teen haar bors waar die brandpyn nog steeds steek. Sy probeer om stadig en diep asem te haal.

“Hoe het julle hom begrawe, oom Paul?” het sy een oggend gevra terwyl hulle in die stal besig was. Sy het geweet oom Paul sou nie vinnig ander praatjies maak nie.

“Dit is mos maar moeilik om ’n perd te begrawe, Nell.” Oom Paul het geaarsel. “Jy weet mos, jy was mos by toe ons daai jaar vir Jupiter begrawe het nadat hy aan perdegriep dood is.” Oom Paul het rustig met die vurk die droë hooi eenkant toe gewerk.

Nell kon goed onthou hoe hulle Jupiter begrawe het. Hy is met die laaigraaf in ’n gat onderkant die plaas se skrootwerf gegooi. Oom Sarel het amper ’n hele dag lank gewerk om die gat met die plaas se laaigraaf te maak. ’n Diep, groot gat. Jupiter se groot perdelyf is toe met dieselfde laaigraaf soos ’n hoop sand opgeskep en in die diep gat laat val. Sy het gegril om te dink dit is hoe Charlie ook begrawe is.

“Ons het maar vir Charlie daar by Jupiter begrawe.” Oom Paul was ongemaklik, maar het nie weggeskram nie.

“Hoe het julle hom op Solitaire gekry van Kwaggapark af?”

Oom Paul het ’n oomblik gehuiwer om haar te antwoord.

“Hoe het julle hom van Sneeuberg afgekry?” het Nell weer gevra.

“Kyk, hy was mos dood, en hy was ’n kragtige dier. Swaar en vol spiere. Ons moes hom maar daar afsleep.”

“Hóé, oom Paul?” het Nell aangedring.

“Ons het toue aan sy bene vasgemaak en hom met die trekker afgesleep. Toe het ons hom met die laaigraaf op die plat wa gelaai en in ’n gat langs Jupiter begrawe.” Oom Paul het orent gekom en ophou werk met die vurk. “Dit is hoe dinge werk op die plaas, Nell. Perde word gebore, maar perde gaan ook dood. Sulke dinge gebeur.”

“Maar Charlie was nie net ‘perde’ nie.”

“Ek weet, Nell.” Oom Paul het simpatiek na haar ge­kyk. “Kyk, Nellie, ons kan nie hier bly lê nie, nè? Ons moet maar ons koppe regop hou­ en inasem en uitasem en aangaan met die lewe.”

Freak, freak-perdemoordenaar, dit het nie net gebeur nie, jy het dit láát gebeur. Jy het met Charlie teen die berg afgejaag. Jy het jou perd op ’n gevaarlike stuk grond laat galop. As jy gestap het, sou dit nie gebeur het nie.

Sy druk met haar agterkop teen die muur, asem die reuk van die leer van die saals en tooms in, ruik die perde se sweet wat aan die saalkleedjies vasklou. In die somer is hierdie die koelste plek op die plaas. Nou, op hierdie herfsdag, is dit amper te koud hier binne, maar dit is haar dinkplek, haar wegkruipplek.

Met haar oë toe raak Nell bewus daarvan dat iemand die saalkamer binnegekom het. Seker iemand wat my kom roep vir ete, dink sy. Sy hoop dit is Andrew. Toe sy haar oë oopmaak, staan die nuwe palomino-ponie in die saal­kamer se deur na haar en staar.

“Hoe op aarde het jy uit die klein kampie gekom? Ek hoop nie jy is ’n hekoopmaker nie, dan gaan oom Sarel glad nie van jou hou nie – om nie eens van oom Paul te praat nie!”

Die palomino snork en trap-trap met haar poot op die grond asof sy Nell roep.

“Wel, jy sal moet terugkom in jou kamp, of in die stal hier langsaan,” gesels Nell versigtig met die merrie. Die ponie staan met haar voorlyf in die stalkamer en haar agter­lyf buite.

“Oompie Paul laat nie perde hier tussen die stalle los loop nie, hy sal die piep kry,” verduidelik Nell oom Paul se reëls. Oom Paul is Solitaire se stalbestuurder.

Nell haak ’n blou halter van ’n haak af wat nie met ’n perd se naam gemerk is nie. Sy staan nader aan Ratu en voel hoe haar hande begin bewe. Die vrees stoot weer op in haar keel. Haar hart klop soos ’n trom in haar ore. Fyn sweetdruppeltjies slaan op haar voorkop uit.

Ek wil nie die ponie ry nie.

Die ponie wil nie eens hê dat iemand haar ry nie.

Ek wil net iets doen, iewers help.

Ek wil nie níks wees en níks beteken nie.

Ek wil nie ’n ander perd in Charlie se plek kies nie!

Nell se keel brand. Haar oë ook. Sy staan minute lank net so stil, die halter nog steeds in haar hand. Ratu wag geduldig. Nell vou die die nekband oop. Die ponie reageer soos ’n sirkusperd en kom nader asof sy self die ­halter oor haar kop wil trek, druk haar neus in die neusband en laat sak haar kop tot binne-in die halter.

Nell se vingers is dom met die gespe, maar sy kry dit darem vas. Sy neem die halter se tou in haar hand en druk liggies teen Ratu se heuninggeel lyf. Die merrie reageer en tree gemaklik uit die saalkamer.

Nell se hele lyf bewe nou. Sy haal swaar asem asof sy landloop hardloop. Fokus! Fokus! Fokus! Die ponie is nuut op die werf. Ratu moenie op haar eie tussen die stalle ronddwaal nie. Perde wat mekaar nie ken nie, kan mekaar byt en skop. Sy gaan Ratu net uit die saalkamer lei en in die stal langsaan sit.

Die res van die skuurgedeelte langs die saalkamer bestaan uit ’n groot stal. Dis eintlik die plek waar hulle die merries hou wat moet vul. Baie vulletjies is al in die ruim stal gebore. Jare terug was dit ’n melkskuur. Nell laat Ratu by die skuurstal instap en maak met bewende hande die staldeur agter die geel ponie toe. Sy haal nie eens weer die halter af nie.

“Om ’n vrees te hê, is net ’n kwaal, ’n kwaal wat kan genees. Daar is nie een of ander skandalige fout met jou nie.” Dr. Coenie het vir haar klein en oud gelyk, amper soos ’n gekreukelde skilpad met ’n leerstoel vir ’n dop.

Jy is mental, freak! Jy wil nie weet wat gebeur het nie, want jy het iets verkeerd gedoen. Jy wil nie weer perdry nie, want jy verdien nie ’n nuwe perd nie. Die een wat jy gehad het, het jy verwoes. In ’n gat laat dump met ’n laaigraaf!

“Die pleister vir die vrese in jou hart is woorde. ’n Mens genees jou vrese deur daaroor te praat,” het dr. Coenie simpatiek verduidelik. “’n Gebreekte arm of been kan gesond word as jy dit spalk. Vir infeksies kry jy antibiotika, maar vrese moet uitgepraat word,” kraak dr. Coenie se stem deur haar kop.

Sy druk haar voorkop teen die skuurstal se onderdeur, kap haar kop per ongeluk teen die deur. Sy voel ver­dwaas aan die skerp pyn aan haar voorkop. Sy wil nie no­u ’n blou kol op haar voorkop hê nie.

Tien perde kom wild vanuit die veldkamp se rigting agter haar verbygegalop, sodat sy haar lyf vinnig styf teen die deur druk om uit hul pad te kom. Die krag van hulle hoewe laat klippies en sand teen haar gesig spat. Sy sal vinnig vir Oupa moet kry.

Sonder Chocolate Charlie

Подняться наверх