Читать книгу Amraal - Marinda van Zyl - Страница 7
Оглавление3
Holkrans, Januarie 1784
Lammert abba sy vierjarige boetie tot by die akkerboom voor die kliphuis en gooi die velkombers oop sodat Ouma sy babasussie kan neerlê. Hier pas Ouma vir Adam en Sussie bedags op, want Sussie drink nog aan sy ma. Tannie Dina werk nou ook in die kombuis, want ouma Trui is saam met die vioolspeler weg Jandisselsvlei toe.
Aalwyn kom uit die kombuis. “Ons moet hol voor Aletta klaar is.”
Hulle weet dis verniet om vir Aletta te probeer weghardloop as sy hulle eers gewaar het, want sy trek haar sproetgesig op ’n plooi en skree soos ’n maer vark. Dan roep nôi Elsie, of sy ma, wie ook al in die nabyheid is: “Aalwyn! Lammert! Abba vir Aletta.”
Toe Aletta kleiner was, het Lammert altyd gaan hurk sodat sy op sy rug kan klim en haar mollige armpies om sy nek slaan. Maar nou is sy sewe en swaarder as die weggooilammers wat sy neef Bennie aan hulle vasgebinde bene om sy nek hang sodat hy hulle lammerhok toe kan dra.
Halfpad rivier toe kom die gehate bevel van sy ma af: “Lammert, Aalwyn, wag vir Aletta.”
“Maak of jy nie hoor nie,” sê Aalwyn.
“Aalwyn! Lammert! Kom haal vir Aletta, en julle gaan nie rivier toe met haar nie. Tel die vrot vye op en gooi dit vir die varke,” roep nôi Elsie en Lammert gehoorsaam dadelik.
In die boord haal Aletta haar kappie af en help fluks vye in die emmers gooi, terwyl hy en Aalwyn in die boom rondklouter op soek na rypes. Hulle skud die takke oordadig sodat van die oorryp vye op haar moet afval. Toe die eerste een op haar kop land en sy die pappery nie uit haar hare kan kry nie, spot hulle: “Rooikop, koekkop.” Vies gaan sit sy eenkant.
“Maak jy solank die ander emmer vol,” vra Aalwyn mooi toe hy en Lammert die eerste emmer varkhok toe dra. “Ons is nou-nou t’rug.” Ná die emmer in die varktrog leeggemaak is, verander hy van plan. “Ek jeuk nou te erg van die vyemelk, eers swemgat toe.”
Aletta moet hulle dopgehou het, want sy skree: “Wag vir my,” en kom aangehardloop.
Lammert hurk gedwee, maar in plaas van opklim, spring sy op sy rug en hy val vooroor. Die nerfaf knie laat haar huilend huis toe hardloop, met Aalwyn en Lammert wat tartend agternaroep: “Tjankbalie, tjankbalie.”
“Vervloekte klein Hotnot.” Baas Hans se stem laat Lammert omswaai. Die sweep klief die lug en die voorslag tref hom in die gesig. “Vandag moer ek die oorlamsheid uit jou uit.”
Die tweede hou tref hom oor die blaaie toe hy wegkoes. “Eina, asseblief tog, Oubaas, eina, grootseblief tog, ek het niks gemaak nie,” soebat hy terwyl die houe op hom val.
“Pappa, nee!” hoor hy vir Aalwyn pleit. “Aletta het geval. Dis haar eie skuld.”
Die sweepslae hou op. Lammert hoor baas Hans bo hom asemhaal en knyp sy oë styf toe.
“Vat jy nou ’n Hotnot se kant teen jou suster?”
“Nee, Pappa, maar sy’t hóm onderstebo gespring.”
“En toe koggel julle ’n klein dogtertjie wat seergekry het. Maak dat jy wegkom voor jy ook deurloop.”
Lammert bly lê tot hy nie meer baas Hans se voetstappe hoor nie. Toe hardloop hy soos ’n kolhaas rivier toe om die pie af te was.
Die aand hoor Lammert sy pa en ma praat. “Hoe kan hy die kind so in die gesig slaan? Ek is sommer lus en trek agter boetie-goed aan.”
“Ons kan nie, nôi Elsie het voorlaaste jaar al ons name in ’n boek geskryf. Tot Adam s’n.”
“Om te?”
“Die veldwagmeester moet weet wie’s wie as hy na wegloopslawe soek. Ek het aan nôi Elsie se gesig gesien dis net ’n manier om ons vas te maak. Hoe kan ’n kind nou vir ’n wegloopslaaf aangesien word? Die veldwagmeester sal ons net hierheen terugbring vir baas Hans om te sê of ons slawe is en jy weet self wat hy dan met ons gaan doen.”
“Lammert moet wegbly van die werf af. Saam met Bennie skape toe.”
“Net nie snags nie,” stem sy ma in.
Lammert glimlag tevrede. Dit sal lekker wees om skaapwagter te speel saam met sy neef. Bennie vertel lekker stories oor die vreeslike groot tiers in Bengale waar sy pa vandaan kom. En hy het ’n geweer, want die rooikatte maai onder die skaaplammers, daarom slaap Bennie by die skaap in die veld. Miskien sal Bennie hom toelaat om ’n tarentaal te skiet.
Ná twee dae is Lammert uitgekuier met die stories en Bennie weier dat hy aan die geweer raak. Toe Aalwyn daar aankom, laat hy hom ompraat om weg te glip kloof toe. Bennie beloof al kouende aan ’n koesister om sy mond te hou.
In die kloof daag Aalwyn vir Lammert uit om tot op die rotslys waar die jakkalsvoël se nes is te klim. Terwyl Lammert nog die krans bekyk om die veiligste pad boontoe te soek, klim Aalwyn dit soos ’n bobbejaan uit. “Bangbroek,” terg hy vir Lammert toe hy bo kom, “hier’s twee eiers.”
Aalwyn se rooikop lyk soos ’n perdekopblom waar hy op die rotslys teen die bruin krans sit en Lammert waarsku: “Pêrekop, pasop, die jakkalsvoël gaan dink jy’s ’n stuk vleis.” Hy koes toe Aalwyn hom met een van die eiers gooi.
Aalwyn se benoude kreet laat Lammert opkyk. Die jakkalsvoël probeer vir Aalwyn met vlerkgeklap van die nes verdryf. Hy skuif op sy boude tussen die takke van ’n kaiingbos in en die voël vlieg weg.
Die aand kry Rut vir Lammert aan die oor beet. “Is dit hoe jy skaap oppas? Môre help jy vir Ouma met die kleintjies. Onder die boom, waar ek jou kan sien.”
“Bennie lieg,” probeer Lammert hom lospraat.
“Aalwyn se stukkende broek was die klikbek,” sê sy ma en gee sy oor nog ’n draai.
“Ek sal sy gal vir hom werk,” sê sy pa en knipoog vir hom. “Hy moet toulei, want ons gaan hout haal op die berg.”
Die sederbome in die vallei is almal uitgekap, daarom moet hulle al hoër teen die berg op. Hulle vorder ’n ent met die wa, waarna die boomstamme wat hoër op gekap word, met osse tot by die wa gesleep word. Lammert spits sy ore om te leer hoe mens ’n wa bergop kry as daar nie ou spore is nie. Eendag wil hy net so ’n goeie wadrywer soos sy pa wees.
Dis winter voor Lammert en Aalwyn weer kans kry om kloof toe te gaan. Dis ’n droë winter en die spruit loop skaars. By die ingang van die kloof spring ’n kolhaas uit. Aalwyn laat woer ’n klip uit sy slingervel en die haas slaan bollemakiesie. Hy pluk sy mes uit en sny hom keelaf. Toe Aalwyn die haas op ’n klip neersit om die bloed van sy hande en mes af te was, kom ’n gedaante agter ’n bos uit en gryp die haas.
Lammert skree en Aalwyn laat val sy mes.
“Verdomp, hoekom …?” Hy skrik hom stil toe hy die swart man sien.
“Ai, my basie, groot samblief my basie, gee die hasie vir my. Ek’s baie honger.” Die man het net ’n kuitbroek aan. Op sy voorkop is ’n rooierige letsel en sy ore is stompies teen sy kop.
“Wie’s jy?” Aan Aalwyn se stem kan Lammert hoor hy het net so groot geskrik, maar hy hou hom grootman. “Wat soek jy op ons plaas?”
“Masbieker is my naam. Ekke soek my baas se wegloop–” Sy oë rek toe hy die geblaf van honde hoor. Hy gooi die haas neer en hardloop spruitlangs die kloof in. Oor sy rug lê letsels kruis en dwars.
Lammert skree agter hom aan: “Daar’s ’n grot by die doodloop, agter die kaiingbos!”
Minute later is die veldwagmeester en twee pandoere by hulle. “Ons soek ’n wegloopslaaf, boet. Het jy iets gewaar?” praat die veldwagmeester met Aalwyn. “Die honde neuk al hier na die vlei toe.”
Voor Aalwyn kan antwoord, bestorm die honde die dooie haas en skeur dit uitmekaar.
Aalwyn se lip bewe toe hy na die plek wys waar net klossies hare van die haas oor is. “Die honde het seker maar die haas geruik. Oom moet by my pa gaan hoor of hulle iets gesien het.”
Lammert kan die swart slaaf nie uit sy kop kry nie. “Oompie Ben, het swart slawe dan nie ore nie?” vra hy toe hy hom eendag alleen kry.
“Waar kom jy aan sulke stories?” Oompie Ben klink kwaad. “Uit daarmee, mannetjie, of ek vertel jou ma jy loop al weer weg by die skaap.”
“Hy was nou die dag in die kloof.”
“Dan’s dit ’n man wat nog nie sy les geleer het dat wegloop nie help nie. Eerste keer neuk die base hom halfdood. Tweede keer brand die fiskaal se mense hom met ’n yster op die voorkop sodat almal kan sien hy’s ’n wegloopslaaf. Derde keer sny hulle sy ore af oor hy nie wil luister nie.”
“Hou op,” hyg Lammert toe sy maag begin ruk. Die aand bring hy weer sy kos op.
“Hy’t vroegdag al so gekots,” sê oompie Ben, “seker maar gifgoed in die veld geëet. Skaap oppas is mos ’n vervelige werk wat kattekwaad aanstook.”
Lammert sluk gedienstig die bitter mengsel wat sy ma hom ingee, al weet hy dit sal nooit die oorsaak van die naarheid uit sy kop kry nie.
Die prys vir Lammert en Aalwyn se saamspeel word al hoër, want Bennie is nie meer tevrede met net een koesister of twee soetkoekies nie. Hy maak goed gebruik van Rut se dreigement dat Lammert kinderoppasser gaan word. Vandat Sussie nie meer aan die bors is nie, pas Ouma die kinders by die matjieshuise op. Voorslag sal nie weer vir Lammert intree om hom van Hans se werf weg te hou nie.
Lammert voel sommer weer naar toe sy ma hom een aand in Desember beveel om die volgende dag vir Ouma met die kleintjies te help, want die ou mens se kop is nou al te deurmekaar om alleen reg te kom. “Môre moet ek en tannie Dina voordag al in die kombuis wees, want die handtertjies vir Kersfees moet voor sonop in die bakoond wees, anders skilfer die deeg nie goed nie. Ben, jy moet maar self Bennie se kos veld toe vat.”
Daardie nag blaf die brandwagbobbejaan kort-kort in die kloof.
“Wat gaan aan met die bobbejane, Pa?” wil Lammert die oggend weet terwyl hy die vuur aan die gang kry vir koffiewater.
“Miskien ’n tier wat bergaf gekom het. Of boetie-goed wat wil kom kuier en laaglê tot dit veilig op die werf is.”
“Kan ek gaan kyk?” Lammert soek al heeloggend ’n verskoning om Aalwyn te gaan waarsku. As Aalwyn hom in oompie Ben vasloop, raas hy weer.
“Nee, ek het jou by die kraal nodig. Ons leer vandag osse. Ouma moet maar sien kom klaar.”
Lammert gee ’n paar bokspringe en roep soos sy pa: “Hoi daar!” en dan weer in ’n singstem: “Hoi-hoi, hoi-hoi.” So leer hy die osse met sy stem wanneer om te stop en wanneer om nader te kom om ingespan te word.
“Ek gaan keer solank die osse aan,” sê sy pa. “Gee vir Adam en Sussie kos en kom kraal toe.”
Net voor die son sy kop agter die kranse uitsteek, nael Lammert eers kliphuis toe om Aalwyn te waarsku. Hy steek vas toe hy baas Hans op die stoep sien sit met ’n beker koffie in die hand. O gonna, vandag is hy in die moeilikheid.
Skielik skree iemand asof hy vermoor word in die veld agter die kliphuis. Baas Hans spring met sy beker koffie van die stoep af en gooi dit so in die hardloop weg. Lammert haal uit om by te hou.
Dis oompie Ben. Die bondeltjie kosgoed wat hy vir Bennie moes neem, vasgeklem in sy hand. “Jirretjie, my baas, ag Jirretjie tog, hulle’t my kind doodgemaak.” Hy sak op sy knieë neer en sy lyf ruk.
“Wat? Verdomp, Ben, praat dat ek hoor.”
“Die Bossiesmans. Gifpyl in die rug.”
“Vervloekte moordenaars. Ek dog ons het hulle vergete al uitgeroei.” Baas Hans steek sy hand uit om oompie Ben op te help. “Vandag skiet ek die laaste ene vrek.”
“Nee! Sny keelaf soos die skaap wat hulle opgevreet het,” roep oompie Ben om wraak.
“Hoeveel skaap is weg?”
“Wolle en die bloed wys net een.”
“Waar draai Voorslag? Lammert, loop roep jou pa! Ons moet die spoor vat.”
Lammert ken die stemtoon en lê rieme neer kraal toe. “Pa! Pa, moet kom! Baas wil loop Bossiesmans jag. Hulle’t vir Bennie gepyl.” Eers toe dring die besef tot hom deur: Bennie is dood. Sy bene begin bewe soos die riete by die swemgat as die wind waai.
“Daar’s nie nou tyd om te grens nie,” sê sy pa, “die baas wag.”
Die son sit al op middag voor sy pa-hulle terugkom. Lammert hardloop om die perd koud te lei. Sy pa dra ’n kind soos ’n weggooi-skaaplam op sy rug. Die kind se mond is met sy pa se hemp toegebind.
“Die vuilgoed het weggekom,” sê sy pa terwyl hy die spartelende kind na die akkerboom voor die huis dra. “Hulle is Jan Dissel se vlei in, toe kry ek wragtig nie weer die spoor nie. Dié een het uitgepeul toe baas Hans ’n paar skote in die biesies skiet.”
“Lammert, bring vir my ’n riem,” brul baas Hans, waarop Lammert die perd se toom vir Aalwyn gee en waenhuis toe hardloop om ’n riem te kry.
Die riem word om die kind se nek geknoop en die ander punt om die akkerboom. Hy skree erger as ’n bobbejaantjie wat deur ’n tier weggedra word toe baas Hans die hemp afhaal nadat hy sy hande en voete losgemaak het. Sy gesig is die ene snot en trane. Behalwe ’n stringetjie krale om sy arm en ’n stertriem, is hy poedelkaal.
“Agge nee, Hans, wat gaan nou hier aan?” raas nôi Elsie toe sy op die stoep uitkom, haar oë rooi asof sy gehuil het.
“Vannag lê ek die Bossiesmans hier op die stoep voor en skiet die laaste ene vrek as hulle hom probeer losmaak!”
“Maar, Hans, jy kan tog nie. Dis net ’n kind.”
“Loop sê dit vir Ben wat nou staan en graf grawe vir sý kind en vir Voorslag wie se hand flenters gebyt is. Die goed is diere en moet uitgegroei word.”
Nôi Elsie gooi hande in die lug. “Dit sal nie vir Bennie terugbring nie. Die arme, arme Dina.”
Lammert en Aalwyn moet die Bossiesmannetjie oppas. Later raak die kind aan die slaap en Aalwyn verdwyn om die huis se hoek. Glo om te gaan pie. Dis die langste pie waarvan Lammert nog gehoor het, want Aalwyn kom nie weer terug nie. Lammert weet goed hy is die een wat gaan riemspring as die Bossiesmannetjie sou wegkom, daarom gaan sit hy in die skadu van die boom net buite bereik van die skerp tandjies. Die kind lyk baie na sy eie boetie, Adam. Hoe kan die baas dan dink hy’s ’n dier?
Die volgende oggend sit die kind nog onder die boom. Lammert sien sy pa uit die veld gehardloop kom asof ’n tier hom jaag. ’n Onaardse gebulk het hom na die drie osse gelei wat met rollende oë tevergeefs probeer opstaan het, want hulle hakskeensenings is afgesny.
“Vuilgoed! Verdomde swerkaters! Nou’s dit oorlog!” skel baas Hans en blaf bevele uit: “Ben! Vat die perd en loop haal die veldwagmeester. En jy maak nie weer praatjies by Jandisselsvlei nie. Voorslag, sny die osse keelaf en soek dan die spoor. Lammert, jy gaan saam om die perd op te pas as ek te voet moet verder. Aalwyn, jy pas die Bossiesmannetjie op.”
Die spoor loop reguit berg toe. By die ingang tot die kloof raak die bosse te ruig en baas Hans gly van sy perd af. “Is jy seker hulle is hier in, Voorslag?”
Voorslag knik. “Ja, baas Hans, hulle’t nie spoor probeer wegsteek nie. Kyk hoe’s die bossies platgetrap. Hulle wag vir ons by die grot.”
Die verwysing na die grot laat Lammert wonder of die swart slaaf darem weggekom het.
“Lammert!”
Lammert skrik hom uit sy gedagtes uit. Die klap van baas Hans se rysweep en sy stem is gelyktydig. “Watse slapery is dit met jou? Vat die perd!” Lammert byt op sy tande om nie te huil nie en gryp die toom. Sy pa kyk doer anderkant, asof hy nie die hou gesien het nie.
“Die Bossiesmans dink seker ons is onnosel genoeg om oop en bloot spruitlangs te loop reg in hulle pyle in. Ons het tyd vir so twee stoppe,” besluit baas Hans en haal sy pyp uit sy sak. “Daarna gaan ons aan die regterkant tussen die bosse deur tot naby die grot. Lammert, as die veldwagmeester opdaag, moet julle spruitlangs kom en lawaai maak om die aandag af te trek sodat ons op die Bossiesmans kan losbrand.”
Lammert knik sy kop oordrewe om te bevestig dat hy verstaan, maar waag nie om iets te sê nie, ingeval baas Hans hom weer vererg en na sy rysweep gryp.
“Ek’t nie tyd om te mors nie,” raak baas Hans haastig toe hy sy eerste stopsel twak opgerook het. Hy klop sy pyp teen ’n klip uit, trek die twee gewere uit die geweerskoene en gee een saam met die kruithouer vir Voorslag. “Vandag sal jy jou laai moet ken. Nie een mag lewendig wegkom nie.”
Spoedig sluk die bosse hulle in, maar aan die blafgeluide van die dassies wanneer hulle verskrik van ’n warm lêplek op die rotse padgee, weet Lammert waar sy pa-hulle is. Die Bossiesmans sal dit mos ook hoor. Wat as hulle besluit om nou aan die linkerkant uit die kloof pad te gee en hulle skiet hom en die perd net hier dood? Hy rem aan die toom om die perd agter ’n perdekopbos in te kry. Gelukkig is die perd bruinerig en sal goed saamsmelt met die bosse wat nog rooi in blom is, maar lankal die wintergroen afgeskud het. Hy gaan sit en wag met die toom in sy hande. Dis warm, die vlieë en muggies pla en die hou oor sy blaaie brand nog.
Die mat droë blare onder die bos laat hom wonder. Sal hy soos die Bossiesmans ’n vuurtjie aan die brand kry met stokkies en blare? Hy knoop die toom aan die bos vas, trek twee stokke se bas af om hulle glad te kry en rol hulle dan tussen sy hande in die droë blare.
“Watse speletjie is dit, Lammert?” praat Aalwyn by hom.
“Hiert! Wat soek jy hier? Jy moet mos die Bossiesmannetjie oppas.”
“My ma het gesê sy sal hom dophou. Ek moet kom sê die veldwagmeester kan nie kom nie. Sy kommando is agter ’n wegloopslaaf aan. Wat maak jy?”
“Wil kyk of ek soos die Bossiesmans kan vuurmaak.”
“Domkop. Daarvoor het my pa mos ’n tonteldoos in sy saalsak.”
’n Paar skrape met die staalring op die vuursteen gee vonke wat tussen die droë blare val, smeul en toe vlam.
“Ek gaan ’n dassie met die slingervel klits, dan braai ons hom,” lag Aalwyn ingenome. Sy glimlag verstar toe die perd runnik en op sy agterbene steier.
Die perdekopbos brand.
Hulle skop en slaan om die vlamme dood te kry en versprei so al meer vonke. Die perd ruk die bos met wortel en tak uit en vlug die kloof in. Dan is dit vlamme oral.
Skreeuend hardloop hulle huis toe. “Die kloof brand, die Bossiesmans het die kloof brandgesteek.”
Nôi Elsie kom eerste op die stoep uit: “Wat lawaai julle so?”
“Die kloof brand. Dis die Bossiesmans,” huil-praat Lammert.
Nôi Elsie storm die trappe af, kry vir Aalwyn aan die skouers beet: “Waar’s jou pa?”
“Die kloof,” toe bars hy in trane uit en wys na waar rook die lug in borrel.
Nôi Elsie druk vir Aalwyn teen haar vas en kyk na die boom waar net die afgesnyde riem nou lê. “Ek het gedink as ek die kind laat gaan, sal alles verby wees.”
Van die buurplase kom mense te perd aangejaag om te help vuurslaan. Lammert hardloop terug in die hoop dat sy pa-hulle veilig uitgekom het, maar daar is geen teken van hulle nie.
“Al wat ons kan doen, is by die bek keer dat die vlamme versprei,” sê die veldwagmeester, “bring water uit die vlei, maak takke nat en slaan.”
Lammert hardloop matjieshuis toe, bang dat iemand hom sal vra wat gebeur het.
Ná twee dae kan die veldwagmeester en sy pandoere waag om die kloof in te gaan. Hulle kom uit met iets wat soos verkoolde stompe lyk. Watter een sy pa en watter een baas Hans is, kan niemand sê nie. Sy ma en nôi Elsie besluit saam: dié een word in die begraafplaas begrawe en daardie een toegerol in ’n beesvel in die veld.