Читать книгу Amraal - Marinda van Zyl - Страница 9
Оглавление5
Vroeg in Oktober 1791 begin die voorbereiding vir die tog Kaap toe, waar Aalwyn en Aletta moet katkiseer. Dit gee aan Lammert ’n goeie verskoning om uit Aalwyn se pad te bly. Soggens stuur hy vir Adam kliphuis toe om by nôi Elsie te hoor wat nog gedoen moet word. Adam kom vertel opgewonde dat hy, Lammert en oompie Ben saamgaan Kaap toe. Nôi Elsie se broer kom van Tierfontein af om haar te help. Hy bring sy ervare wadrywer, Swartpiet, en ’n ekstra een saam. Lammert moet net sorg dat alles klaar is as hulle oor ses dae hier aankom.
Lammert moet sy teleurstelling maar sluk. Hy het gehoop om self die wa te dryf – om vir Aalwyn te wys wie is man en wie muis. Aalwyn wat nie eens ’n os se naam kan onthou nie, al kan hy glo lees en skryf. Tog is hy bly om ook saam Kaap toe te gaan. Hy onthou sy pa se stories oor die plek met die plat berg waar sy voormense vandaan gekom het. Maar meestal het sy pa net gespog hoe hy die volgelaaide wa oor die Olifantsrivierberg kry, om draaie wat so skerp is dat die voor- en agterwiel aan die afgrond se kant nie gelyktydig op die pad is nie. Orals lê stukke wa wat wys waar osse en drywer mekaar nie verstaan het nie.
Die vrag goed wat moet saamgaan, raak al hoe swaarder: dis vars nartjies en lemoene, twee vate lemoensap, vaatjies met gedroogde vye en perskes, stene boerseep, vaatjies botter en kiste klere. Dit oortuig Lammert om ’n span van sestien osse uit te soek vir die tog, en gee hom ook die geleentheid om die elfjarige Adam touwys te maak soos sy pa, Voorslag, dit met hom gedoen het.
“Adam, roep ons twee beste agterosse uit,” sê Lammert terwyl hulle op die kraalmuur sit en die osse bekyk.
“Soetland, Suurknol,” sing-roep Adam, maar nie ’n enkele os roer nie.
“Ook maar goed hulle luister nie vir jou nie. Hoekom dié twee?”
“Hulle name sê die lekkerste.”
“Ai tog, met hulle kry ons nie eens die wa oor die eerste bult nie. Hoi-hoi, Spekboud, Hoi-hoi, Oolfant,” roep Lammert en twee frisgeboude osse beweeg tussen die ander osse uit na die hek.
“Die sterkstes, want hulle moet die trekwerk doen, nè, Ouboet?”
“Mooi so, en voorosse moet nuuskierig wees, altyd wil vorentoe. Watter twee?”
“Geelslang op hot en Meerkat op haar.”
“Ditsem, maar hoe’t jy geweet Geelslang kom links?”
“Mos gesien hoe jy hulle inspan,” lag Adam en koes toe Lammert speels ’n hou na hom mik.
Nôi Elsie se broer daag sonder die tweede wadrywer op. “Die ou man het viervoet vasgesteek toe hy hoor watter berg ons moet oor. Is glo in sy kindsbeen amper daar af saam met ’n wa.”
“Agge nee, Bertus, hoe nou gemaak? Ons moet oor ses dae in die Kaap wees.”
“Maar jy’t mos ’n klong hier wat ’n wa kan dryf. As mens vir Aalwyn kan glo.”
Lammert laat nie op hom wag nie. “Ek sal die wa veilig oor die berg kry, Nôi. Adam kan toulei. Ons verstaan mekaar.”
“Dan moet ons maar so maak.” Sy gee haar broer ’n kwaai kyk. “Maar jy koop vir my ’n nuwe wa en betaal my vrag as daar skade is.”
Voordag klap die swepe. Dis ’n lang skof tot by die Piekenierskloof, al langs die Olifantsrivier op, oor die berg wat die twee valleie skei tot by die uitspanplek. Die osse dra broek van al die blomme en gras wat die vallei oortrek en stap vanself teen ’n gemaklike pas. Lammert en Swartpiet laat die werk aan die touleiers oor. Lammert luister met ’n halwe oor na Swartpiet se praatjies oor die berge noordwaarts waar hy en baas Bertus al tot by die Buffelsrivier gaan jag het.
By die uitspanplek droog Swartpiet se praat op toe hy sien waar hulle die berg moet oor. “Nee, gonnatjie, my baas, dis mos nie onse bergies dié nie,” kla hy kliphard vir almal om te hoor. “Hier verongeluk ons mos in onse moer in.”
“Ek sal voor gaan, Baas,” gryp Lammert die kans. “My pa’t gesê bo-op die berg is ’n fontein. Ek los my wa daar en kom haal Swartpiet s’n as hy ’n bangbroek is.”
“Bangbroek se moer,” skel Swartpiet. “Ek wou jou bangpraat, want waar’t jy nou gesien ’n snotkop kan ’n wa oor dié berg vat.”
Die volgende oggend trek Lammert die kortste loot en kan eerste ry. Aalwyn en Bertus gaan te perd vooruit om te waarsku as daar rotse op die pad is. Nôi Elsie en Aletta klim op Swartpiet se wa. Lammert kyk maar anderpad. Vandag sal hy hulle ’n ding wys.
Ben en twee van Bertus se Khoi-Khoin is Lammert se handlangers. Rieme word aan die kant van die wa vasgemaak; hieraan moet hulle vasklou om die wa regop te hou as die pad om ’n draai na die afgrond toe uitgooi. Met die afgaan aan die ander kant van die berg moet een man pal by die remskoen wees om dit vas te trek as die wa wil weghol. Eers toe Lammert seker is elke man verstaan wat van hom verwag word, roep hy: “Aanstap, aanstap.” Die voorosse reageer dadelik en soos die rieme styf trek, kom die ander ook in beweging.
“Vastrap, Adam, vastrap. Die riem mag nie slap word nie,” skree Lammert toe hulle die steilte vat. Hy laat die voorslag van die sweep soos ’n geweerskoot op die grond klap. Eers by die voorosse, dan by die agterosse. Moet nooit aan ’n os slaan wat klaar sy werk doen nie, hoor hy nog sy pa se stem. Gee net vir hulle pas aan met die klap van jou sweep. Die trekketting span styf. Die wa kreun bergop.
By die fontein op die berg uitoorlê Swartpiet vir Lammert en vat die pad terwyl hy nog sy wa nagaan. Halfpad bergaf is ’n sloot oor die pad gespoel. Lammert sien Swartpiet se wa deur die knik wip. “Hoi daar!” bring hy sy span voor die sloot tot stilstand. “Dis ’n asbreker hierdie. Gou, pak klippe, ons moenie agterraak nie.”
Twee draaie verder haal hulle die ander wa in. Sy vrag moet geskuif het, want die wa hel effens na die afgrond se kant oor. En Swartpiet is besig om die draai te wyd te vat. Een los klip kan die agterwiel laat gly. Swartpiet is voor langs die osse en sien nie die gevaar nie. Sy handlangers loop tussen die wa en die bergwand, maar nie een hou ’n riem vas nie.
“Hokaai!” gebruik Lammert Swartpiet se bevel. Dit weergalm deur die klowe en Swartpiet se osse kom tot stilstand. Dan is Lammert onder die wa en slaan die rem voor die agterwiel aan. Die klip wat hy afstamp, verbreek die suisende stilte.
Aletta gil.
Swartpiet skree: “Rieme!”
Lammert gaan vat self die tou en lei die osse weg van die afgrond af.
Toe hy die sweep klap om sy eie span aan die gang te kry, sit Aletta en haar ma weer op sy wa.
Dis laatmiddag toe hulle die uitspanplek aan die suidekant van die berg haal. Lammert is teleurgesteld dat hy nie die plat berg of die see kan sien nie. Tot by die Piketberg, wat ’n dagskof verder is, golf groen koringlande. Verder weg is net ’n blou waas.
Die aand kom Aalwyn na hulle vuur toe. “Jy was weer ramkat vandag,” prys hy vir Lammert. “My ma stuur dit vir jou. Sy sê ’n man moet ’n hoed hê.”
“Ek het maar net gemaak soos my pa my geleer het.”
“Gelukkig slaap ons môreaand by my pa se neef langs die Bergrivier. Hulle vat altyd die waens oor. Dan sal Swartpiet nie weer kan droogmaak nie.”
Maar dis Lammert wat ’n sug van verligting slaak toe hy die vol rivier sien. Swartpiet vat sy eie span deur, terwyl Lammert en Adam saam met die vrouens op die vlot klim om na die oorkantste wal getrek te word.
’n Dag later lê Tafelberg in die verte en die volgende dag sien Lammert die see. Nou weet hy waar die dreuning sonder wolke en die vreemde reuk vandaan kom. Oopmond staar hy en Adam na die blou watermassa wat tot aan die einders strek. Net ’n klein stukkie land is sigbaar. “Robbeneiland,” sê Ben. “Opskud nou, die ander wa ry vir ons weg. Alleen kry ons dalk nie die pad Boereplein toe nie. Ek was dertig jaar laas hier.”
Soos hulle die dorp nader, raak die waens en perdekarre al meer. Ben vat die leitou by Adam. “Maak toe jou mond. Hier’s brommers,” terg hy. “Die Kasteel, die kerk,” wys hy plekke uit.
Soveel mense, diere en rytuie het Lammert in sy sewentien lewensjare nog nie gesien nie. En die geraas. Dit klink erger as ’n hele trop bobbejane in die berg en die vinke in die rietbos saam. Hy gryp Adam se hand toe die kerkklok lui, maar los dit net so vinnig toe Aletta se skel lag bo die geraas weerklink. Maak of hy net vir Adam iets wou wys. “Die huise is sowaar twee-twee op mekaar.”
“Ryk mense s’n. Hulle bly onder en slaap bo,” verduidelik Ben. “Ek het by so een gewerk,” sê hy ergerlik toe Lammert frons asof hy hom nie glo nie.
Daar is meer waens op die Boereplein as wat Lammert kan tel. Die plek stink na beesmis. Die Van der Merwes by wie nôi Elsie-hulle tuisgaan, stuur ’n kapkar om hulle te haal, maar Lammert en Adam moet agternakom met die klerekiste. Swartpiet beloof om ’n oog oor die wa te hou terwyl oompie Ben vir hulle gaan wys waar die Heerengracht is. Die spierwit tweeverdiepinghuise met hulle plat dakke en hoë voorstoepe lyk vir Lammert almal eenders. Gelukkig wag Aletta reeds op die stoep.
“Lammert, uiteindelik! Waar draai julle so?” Op vyftien is Aletta ’n regte klein juffer wat glad nie na haar ma aard nie. Sy stamp haar voet ongeduldig toe hulle voor die hek bly staan en hulle aan die huis met sy blink vensters vergaap. “Ek en my ma soek ons klere. Ons wil bad en mooi aantrek.”
Vanuit die huis roep ’n ander stem: “Klara, kry die nôi se bagasie en gooi nog warm water in die balie. Dis seker klaar koud.”
En toe sien Lammert haar. Hy snak na asem toe Klara om die huis se hoek kom. Dis hoe Meester se engele moet lyk. Swart duikeroë, haar vel die kleur van sederhout. Die rok span oor haar rondings en verraai dat sy nie meer ’n kind is nie. Toe sy buk om die kis op te tel, glip ’n sliert blinkswart hare onder die kopdoek uit.
Lammert keer: “Wag, dis te swaar vir jou. Ek dra dit binnekant toe.”
Haar lag stuur ’n tinteling deur Lammert se lyf. Dit klink soos die kabbeling van water oor die spoelklippe. Nee, soos die roep van ’n rooiborsduif. Dit borrel uit net om skielik ingesluk te word.
“Die nôi sal ons al twee met die besem bykom, maar jy kan dit tot by die agterdeur dra.” Die rok swiep om haar kuite toe sy vooruit loop.
Lammert en Adam moet vier keer loop om al die bagasie by die huis te kry. Met die afgee van elke stuk bagasie raak Klara net al hoe mooier en Lammert al hoe stadiger.
“A nee a, vat meer goed op ’n slag,” raas oompie Ben later.
Lammert het ’n verskoning gereed. “Oompie het mos gesien hoe woes ry die mense met die toe pêrewaens en die pêre skyt sommer oralster. Jy moet mooi kyk of jy gly daarin en ons wil nie nôi Elsie se goed bemors nie.”
Dit laat oompie Ben lag. “Dis koetse, Lammert. Opskud nou.”
Met die afgee van die laaste stuk bagasie kom sy tong los: “Wat maak jy as jy klaar gewerk het?” fluister hy vir Klara.
“Slaap,” antwoord sy kortaf. Hy moet seker vreeslik afgehaal gelyk het, want toe hy omdraai, lag sy weer. “Sondagmiddae gaan ons see toe.”
Vroegmiddag die Sondag is hy al by die see. Loop op en af, te bang hy mis haar tussen die mengelmoes van mense. Laatmiddag eers kom sy saam met ’n groep slawe strand toe. Sy breek weg van hulle en draf ligvoets oor die nat sand nader. Pluk haar rok tot bo haar knieë op toe die inkomende brander teen haar bene opspat. Meester het oor meer as sy naam gelieg, besef Lammert toe hy sy lyf voel roer. Mens voel dit g’n in jou ribbekas as jy weet ’n vrou is vir jou gemaak nie.
“Klara, ek dog jy kom nie meer nie,” raas hy met die gaan sit in die sand om sy verleentheid weg te steek.
“Eers as al die werk klaar is, mag ons loop,” verduidelik sy toe sy langs hom plat val. Haar stem nou troebel: “Ek is bly jy’s hier. Sondae verlang ek vreeslik na my ma. Ons het altyd hier in die water kom speel.”
“Waar’s sy dan nou? Dood,” besluit Lammert toe Klara nie dadelik antwoord nie.
“Nee, hulle het haar verkoop.”
“Wanneer?”
“Amper vyf jaar al. As ek net kon weet waar sy is en of sy nog leef.”
“Nou hoe kry jy dit dan nog reg om so vrolik te lag?”
“Ek het gou-gou geleer, lag is beter as huil. Eers het ek oor als gehuil. Dan kry ek sommer ’n klap teen die oor by die nôi of een van die slavinne raas: ‘Watse snotneusgeit is dit hier met jou by die kos?’ As ek lag, dan sê die kuiermense: ‘So ’n pragtige kind.’ En die oubase gee skelmpies vir my klontjies om te suig. Mens moet net vinnig gryp en hol voor hulle jou in die hande kry.”
Lammert wil liewer nie weet wat hulle sou doen nie en vra: “Kom jy ook van Bengale af, want my oompie Ben het ook sulke swart hare en oë soos jy?”
“Nee, my ma kom van Indië af, maar ek is hier gebore. ’n Slaaf oor my ma ’n slaaf is.” Vir ’n oomblik lê sy haar kop op sy skouer asof sy troos soek en Lammert se hart swel saam met sy lyf.
Die volgende Sondag kom Klara nie see toe nie. Lammert brand om haar weer te sien. Hy drentel in die straat voor die Van der Merwes se huis rond in die hoop dat sy hom sal sien en uitkom. Skrik toe ’n swart slavin een van die groot vensters ratelend opskuif.
“Wat soek jy hier?” vra sy kwaai.
Lammert pluk sy hoed af. “Is Klara miskien hier?”
“Waar anners sal sy nou wees? Sy’s besig. Hier’s ’n berg skottelgoed. Daar was mos aanneming by die kerk vandag en toe die feesmaal.”
“Ek wil haar mos net ’n klein rukkie sien, asseblief, Tannie.”
“Het jy nou wragtag nie ore aan jou kop nie? Wil jy hê haar ore moet warm geklap word oor jy lus is vir ginnegaap?” Haar woorde is nog kwaai, maar haar mond en oë lag nou.
“Ek is jammer. Sê tog asseblief vir haar Lammert was hier.” Hy sit sy hoed op en draai traag om. Oompie Ben gaan ook raas oor hy nog nie by die wa is om te help laai nie.
“Jy klink nie net soos ’n Duusman nie, van agter af lyk jy ook soos een,” roep die slavin agter hom aan.
“Ek’s ’n Oorlam,” antwoord hy, maar die slavin het die venster klaar met ’n slag laat toe val.
Maandagmiddag vat hulle die lang pad terug Holkrans toe. Lammert dryf die osse omkyk, omkyk. Die plat berg is nou met ’n wit wolk bedek. Dis die berg wat Klara elke dag sien, dink hy. Die verlange wat oor hom spoel, raak al swaarder met elke draai in die pad, met elke sweepslag, met elke kraak van die wa.
By die huis wil Meester weet wat fout is met hom, maar Lammert hou die verlange na Klara vir homself. Toe Meester aanhou por, vra hy: “Hoeveel kos ’n slaaf, Meester?”
“Wat broei in jou kop?” skiet Meester ’n teenvraag.
“Ek het ’n mooi meisie in die Kaap gesien, maar sy’s ’n slaaf. Ek wil haar loskoop.”
“Sit die muisneste uit jou kop. Mooi vrouens is slange en net moeilikheid.” Toe Lammert se lip hang oor die afjak, raak Meester prakties. “En waarmee wil jy haar nogal vrykoop?”
“Ek het mos al ’n paar skapies wat nôi Elsie aan die einde van elke jaar gee en hierdie jaar kry ek ’n os en ’n melkkoei, het sy belowe.”
“In watter jaar is jy gebore?”
“Ek weet net ek en Aalwyn is een jaar se kalwers, al is hy groter as ek.”
“Dan’s dit in 1774. Dis nou 1791. Sê nou vir my hoe oud is jy.”
“Sewentien, Meester.”
Hy lyk verbaas. “Jy’t beter leer optel en aftrek as Aalwyn om dit sommerso uit die hoof te doen.”
Lammert help hom nie reg nie. Op die terugtog van die Kaap af het Aalwyn loop en spog dat hy sewentien is – oud genoeg om vrou te soek. “Ek’s sommer lus en vat die pad Kaap toe om daar te gaan werk.”
“Moenie bog praat nie, Lammert. Jy’s ingeboek tot jy die dag vyf-en-twintig jaar oud is. Op daardie dag kan jy jou troppie vee vat en loop, maar nie ’n dag vroeër nie. Of wil jy deur die veldwagmeester gevang en flenters geslaan word?”
“Hoe nou, Meester? Ons is mos nie slawe nie.”
“Julle name is in ’n boek geskryf. Julle Hottentotte bly in dieselfde baas se diens tot julle vyf-en-twintig is of tot hy julle ’n pas gee om na ’n ander baas te gaan.”
“Maar ons is tog Khoi-Khoin, Meester. Ons is vry mense,” stry Lammert.
“Julle is lankal nie meer Khoi-Khoin nie. Oorlams ja, maar voor die wet is jy Hottentot.”
Dit voel vir Lammert asof Aalwyn weer sy kop onder die water hou tot sy longe wil bars. Dis dan hoekom nôi Elsie al die laaste paar jaar vir hom ’n stukkie papier gee om in sy sak te dra wanneer hy na een van die buurplase moet gaan.
“Maar as jy regtig wil gaan, sal juffrou Elsie seker vir jou ’n pas gee. Sy’s mos nie ’n onredelike mens nie,” probeer Meester die skok versag.
Met die oestyd op hande kan Lammert hom nie oor Kaap toe gaan kwel nie. Dis krom staan agter die sekel van vroeg tot laat. Die gejil van die ander volkies laat hom vergeet van die Kaap tot saans wanneer die dansery begin. Hy kyk die jongens se danse uit voor hy self begin oefen aan die vlerksleepdans waarmee hy Klara se twee voetjies onder haar gaan uitslaan.
Ná die koringsnyers weg is, moet Lammert vir ’n vale keer om uit Aletta se pad te bly. Sy kom nou gereeld swemgat toe wanneer hy en Adam gaan swem. Oujaarsdag gaan nôi Elsie-hulle opskop hou by ’n buurplaas. Adam moet saam om die perde koud te lei en op te pas. Nou kan Lammert na hartelus swem en op die klipplaat in die son bak sonder om gepla te word.
Hy moet ingedut het en word wakker van ’n gegiggel. Dis Aletta hier langs hom.
“Wat soek jy hier?” skree Lammert met die induik.
Aletta lag en begin haar skoene en kouse uittrek. Lammert kyk weg toe sy haar rok oplig en hy die wit van haar bene sien. Sy het sowaar tot daar ook sproete. Soebat terwyl hy watertrap: “Asseblief, Aletta, gaan weg dat ek kan uitkom.”
“Ek sal nie. My ma dink ek is doodsiek in die bed.”
Die pes het dit sowaar alles beplan. Erger as die slang in die paradys. Toe sy wegkyk om die sokkies by haar skoene neer te sit, storm Lammert uit die water, gryp sy klere en nael soos ’n kolhaas tot by die rietbos waar hy sy klere oor sy nat lyf pluk. Hy bewe erger as die riete in die wind, terwyl hy bid dat hy van die bose verlos moet word.
Voor die eerste winterreëns val, word sy gebed verhoor. Gert van der Merwe, die seun van die mense by wie die Bassons met Aalwyn en Aletta se aanneming tuisgegaan het, kom al die pad te perd van die Kaap af. “Ek weet nie hoe julle mense met ’n wa en osse oor daardie gebergte kom nie,” sê hy vir Aalwyn met die afklimslag.
Lammert, wat nader gedraf het om vir Moos, Gert se slaaf, te wys waar die perde geroskam en gevoer kan word, hoor toe Aalwyn vir Gert aanraai: “Kry vir jou ’n wadrywer soos Lammert. Hy sal ’n span osse oor enige berg gepraat kry.”
Lammert kry sommer dadelik ’n afkeer in die man. Gert speel met sy bokbaardjie terwyl hy hom op en af bekyk of hy te koop is. Spog dan luidrugtig by Aalwyn dat hy ’n leenplaas het al werk hy nog vir Jan Kompanjie. Aan sy groot lyf en drilwange te oordeel, eet hy meer as wat hy werk, dink Lammert.
Maar Lammert se gesindheid teenoor Gert verander soos handomkeer toe Aalwyn hom later vertel Gert wil met Aletta trou.
In Oktober 1792 gaan hulle Kaap toe vir die troue. Lammert sing-praat die osse om elke haarnaalddraai bergop en bergaf. ’n Hele maand in die Kaap lê voor, want die gebooie moet drie maal loop voor die troudag. Nôi Elsie gaan dié keer by ander mense tuis, want voor die troue mag Aletta glo nie in dieselfde huis as die bruidegom bly nie.
Lammert kan aan geen verskoning dink om by die Van der Merwes se huis op te daag in die hoop dat hy vir Klara sal sien nie en moet geduldig wag tot Sondagmiddag. Klara gryp haar rokspante bymekaar en hardloop nader toe hy haar naam roep. “Ek het gewonder of jy weer saamgekom het.”
Lammert swaai haar in die rondte tot hulle duiselig neerval. Dan spring hy op en trap die vlerksleepdans vir haar. Maar die los sand laat hom struikel en hy slaan neer. Klara lag so dat hy nie kans kry om te verduidelik wat hy met die dans bedoel nie.
“Jy’s anders as die jongens van hier, hulle wil net altyd vat, vat, vat,” sê sy toe sy die lagtrane afvee. “Is al jou mense so snaaks?”
Lammert voel afgehaal oor haar laggery, toe spog hy maar met sy voormense. “Hierdie stuk aarde het eers aan my oupagrootjie se mense behoort. Hier van die Platberg af tot doer by die baai wat hulle nou Saldanhabaai noem en soontoe,” wys hy na die ooste, “waar die blou-blou berge lê, was alles hulle grond. Toe die Duusvolk hier te veel geword het, het my oupagrootjie maar saam met ’n Duusman Olifantsrivier toe getrek. My oupagrootjie was ’n groot kaptein.”
“Die berg se naam is Tafelberg, nie Platberg nie,” help Klara hom reg.
“Die Khoi-Khoin het mos nie geweet van tafels nie. Vir hulle was plat net plat,” sê Lammert, teleurgesteld omdat Klara nie deur sy storie beïndruk is nie.
Ná die tweede Sondagmiddag saam weet Lammert wat om te doen. Vroeg Maandagoggend is hy by die tuishuis en soebat ’n slavin om vir Aletta te roep.
Aletta lyk verskrik toe sy hom sien. “Jy gaan nie moeilikheid vir my maak nie?” Dit klink of sy tegelykertyd vra en dreig.
Lammert keer haastig. “Nee, nee, jy moet my help, asseblief.”
“Om te?”
“Ek wil hier in die Kaap agterbly. Vir jou nuwe man werk.”
“Hoekom?”
“Hier’s ’n meisie. Ek wil met haar trou. Sy sal nie kan saam Holkrans toe nie.”
“Hoekom nie?”
“Sy’s ’n slavin.”
“Klara!” spoeg Aletta die naam uit. “Ek wou mos sê, daardie dag, verlede jaar toe jy die bagasie moes aandra. Jou lus het behoorlik uitgehang.”
Lammert wil eers stry, maar waarheid is waarheid. “Asseblief, Aletta, jy sal nie spyt wees nie.”
“Daarvan kan jy seker wees, Lammert.” Aletta grynslag. “Ek sal met Gert praat. Kom hoor môremiddag selfde tyd wat hy sê.”
Aletta wag reeds in die tuin. “Dis reg so. Gert soek al lankal na ’n betroubare wadrywer. Maar hou dit eers vir jouself. Gert moet nog met my ma praat.”
Klara gooi koue water op sy vuur toe hy haar die Sondagmiddag vertel: “Begryp jy dan glad nie hoe dinge werk nie, Lammert?” Sy kyk doer na Robbeneiland terwyl sy praat, en hy onthou van sy pa wat ook so eenkant toe gekyk het om nie sy seerkry te wys nie. “Ek is ’n slaaf. My kinders sal vir ewig en altyd slawe wees. Hoe sal jy voel as jou kinders een vir een verkoop word? Miskien deur die genade uit die hand, of poedelkaal uitgestal op vandisie, vir almal om te bevoel.”
“Ek gaan jou vrykoop, Klara. Ek sweer. Môre moet ek al my eerste vrag ry en …”
“Vergeet dit, Lammert! Jou kinders sal ook nooit vry wees nie. Wat’s die verskil tussen ’n Hottentot en ’n slaaf? Niks!”
Hy wil nog stry, soebat, haar vashou sodat sy lyf haar kan oortuig hulle hoort saam, maar sy stamp hom weg en hardloop huis toe. Ten minste sal hy haar nou elke dag kan sien, want hy gaan seker ook saam met die ander slawe op die Van der Merwes se werf bly. En Sondagmiddae kan hulle rondloop. Miskien selfs teen die berg op waar hulle alleen kan wees.
“Jy is gek, gek, gek,” skel oompie Ben toe Lammert hom die aand vertel dat hy in die Kaap gaan agterbly. “Hierdie plek se Duusvolk is nie Holkrans s’n nie. Vra vir my, ek weet. Dis einste hier waar oubaas Aalwyn my gekoop het. En behalwe die tyd dat kleinbaas Hans die baas was, het ons almal ’n goeie lewe op Holkrans gehad. Hulle gaat vir jou breek, hoor jy my. Jy’s gans te oorlams om heelhuids uit dié gemors te kom.”
Adam knip-knip sy oë toe Lammert vir hom sê: “Onthou, jy’s nou die ouboet in die huis. Kyk mooi na Ma en Sussie. Een van die dae kom wys ek my mooi vrou vir julle.”
Die volgende oggend, voor iemand op die Boereplein nog aan die roer is, kom maak Moos, die slaaf wat saam met Gert van der Merwe op Holkrans was, hom wakker. “Roer vir jou, Lammert. Ons moet voor sonsopkoms verby die Tygerberg wees.”
Lammert volg hom tot buite die dorp. Die wa is klaar gelaai en die osse onder juk. Moos vat die leitou: “Ek ken die pad in die donker. Jy hoef nie nou al sweep in te lê nie. Sit op die wakis en hou jou hoed op. In die donker klink jy nes ’n Duusman. Sê jy’s Cloete van Renosterfontein en dis ver pad Bokkeveld toe, as iemand ons stop.”
Die tweede dag word die bergspitse voor hulle ’n ondeurdringbare muur.
“Waar’s die plek waarheen ons op pad is?” vra Lammert vir Moos.
“Agter die berg,” beduie hy.
Lammert skrik. Twee man gaan nie ’n wa oor hierdie berg kry nie. “Moet ons hier oor?”
“Ook maar bang, nè?” smaal Moos. “Nee, ons trek om hom.”
Die bergreeks strek so ver as mens na links en regs kan sien. Dis nie twee of drie dae se tog hierdie nie. Lammert se moed sak in sy skoene. Dit gaan lank wees voor hy weer vir Klara sien. Hulle trek deur die Wagenmakersvallei oorgroei met wingerde. Hier sou dit vir Meester soos die paradys gevoel het. Soms groet Moos die slawe wat in die groen wingerde werk luidrugtig, maar wanneer hulle uitspan, is dit weg van opstalle. Hulle trek deur die Land van Waveren steeds omring van berge met Roodezand se wit huisies verdwerg deur die blou Witsenberg, en volg die Breederivier suidwaarts.
Eers die vierde dag, toe dit al vir Lammert voel of die berge hom wil insluk, bereik hulle die Goudinivallei. Rook uit skoorstene wys daar is talle plaasopstalle, maar Moos swaai links weg en volg ’n skaars sigbare pad oorgroei met gras en bossies deur die voetheuwels van die noordelike bergreeks tot by ’n rivier wat deur ’n nou poort kronkel. Hulle het skaars tien walengtes gevorder, toe word hulle vasgedruk teen die berg en moet weer na die oorkant, net om ’n paar honderd tree verder weer na die ander kant gedwing te word. Ses keer moet hulle die rivier so oorsteek voor die poort oopmaak in ’n smal vallei.
“As die rivier in vloed is, kom mens mos nie weer hier uit nie.” Lammert buk om sy broekspype af te rol sodat Moos nie die vrees in sy oë moet sien nie.
“Ja, die Hexrivier speel nie met lamsakke nie. Hier kan jy vir ’n hele winter vasgekeer word.”
Dis nie veel van ’n plaas waar hulle die vrag moet aflaai nie. Net ’n enkele geboutjie sonder vensters. Die stewige houtdeur is met ’n groot slot gesluit. ’n Ent weg staan ’n klompie matjieshuise.
“Wil jy eers by jou boeties gaan daggapyp rook vir die skrik voor ons die wa aflaai?” spot Moos.
Lammert sluk ’n bytende antwoord in. Uit hierdie doolhof kom hy nie sonder Moos se hulp nie. God behoede as hier ’n brand uitbreek. “Eers klaar werk, dan lekker kuier. Is een van die vaatjies darem vir ons bedoel?” maak hy praatjies.
“As jy hier vir die tiers gevoer wil word, moet jy aan dié vaatjies peuter.”
Toe Lammert die eerste vaatjie aanvat, weet hy wat Moos bedoel. Die reuk van kruit ken hy mos al van kindsbeen af – dis nie met wyn wat gesmokkel word nie. Hy hou hom dom: “’n Suiper was ek nog nooit. Maar net gedog jy sou dalk so ietsie vir ’n droë keel wil hê.”
Terug in die Kaap wag Aletta hom in met ’n bondel klere. “Aalwyn het dit vir jou gelos. Hy’t nuwes laat maak. Trouklere.”
“Ramkat! Waar’t hy so gou ’n vrou gekry?”
“O, sommer hier op die werf. Klara was alte gretig om saam Holkrans toe te gaan. Meester gaan haar onderrig sodat sy aangeneem kan word en dan trou hulle vroeg volgende jaar.”
“Helleveeg!” Lammert gooi die klere na Aletta. Sy voete dra hom strand toe, na die plek waar hy en Klara laas saam was. Die wind waai die trane uit sy oë. Hoe kon hulle? Van Aletta en Aalwyn kan hy dit nog verstaan, maar Klara. “Klara!” skree hy en die meeue wat rondom hom kom aas het, vlieg krysend op.
Hulle wag hom in toe hy uiteindelik teen skemer na die huis in die Heerengracht terugkeer: Gert en sy twee slawe, Moos en September. Die groot balie is klaar uitgerol op die werf, penne ingeslaan waar hande en enkels vasgebind moet word.
“Hy’s hier,” roep iemand en die slavinne peul by die kombuisdeur uit; toe Aletta en haar skoonma.
Lammert wil vlug, maar Moos en September gryp hom, trek sy klere uit, vlek hom oor die balie oop en bind hom vas. Die skrik laat Lammert bewe nog voor die eerste hou val.
“Moos,” sê Gert, “jy sê mos hy’t hom oorlams gehou met jou. Breek hom vir ons in. As jy moeg is, gee vir September.”
Laat dit tog net verbykom. Skree sal hy nie. Breek sal hulle hom nie. Die eerste hou van die sambok skeur deur hom. Teen die tiende hou bulk hy soos ’n kalf wat gekastreer word. Toe September oorneem, soebat hy: “Ag, Jirretjie tog, hou op, asseblief tog. Ek’t jou niks …”
September se antwoord is ’n hou laag op sy bene waar Moos nog nie geslaan het nie. Op sy voete. Op sy skouer. Bloed spat op die balie hier by sy gesig.
Voor die donker hom vat, skree Lammert: “Nôi Elsie, help!”
Toe hy bykom van die emmers water wat hulle oor hom uitgooi, lê hy op die grond; Gert van der Merwe se swart stewel hier by sy gesig. “Praat weer teë met nôi Aletta en jy’s dood. Verstaan ons mekaar?”
Die vernedering stoot galbitter in Lammert se keel op, maar vrees laat hom stotter: “Ja, … my baas. Ek … ek sal nie weer nie, baas Gert.”
“Staan op en trek die klere aan wat nôi Aletta vir jou gegee het en dan sê jy mooi dankie.”
Kaal staan hy voor almal. “Dankie vir die klere, nôi Aletta,” wurg hy dit uit en skree van die pyn toe hy die broek oor sy stukkende lyf trek.
Aletta huil hardop toe sy huis toe hardloop.