Читать книгу Dors - Marinda van Zyl - Страница 13

8

Оглавление

Januarie 1877, Jakobsrus

Met haar pa weg, sorg Adriana dat sy in die nabyheid van Mieta bly, al beteken dit dat sy moet groente skil.

“Mos hoog tyd dat jy leer huishou noulat jy wil man vat,” verwelkom Mieta haar.

Adriana is dankbaar vir die langtuitkappie wat verhoed dat Mieta haar trane sien. Mieta moet maar glo wat sy wil, die waarheid kan sy tog nie vir haar vertel nie, want sy sal dadelik amok maak en dan kom alles op die lappe en slaan haar ma haar sowaar dood. Maar een ding is seker, trou sal sy nooit nie. Sy ruk van die skrik toe haar ma agter haar praat.

“Haal af jou kappie in die huis.”

Instinktief soek Adriana skuiling agter Mieta, wat keer: “Ai, Nooi, dis darem te arig om so in darie blouoog vas te kyk.”

“Dan bly sy in haar kamer tot die oog gesond is en ék sal besluit wanneer dit is.”

Dit word die langste drie dae van Adriana se lewe. Bellie kom gee darem af en toe vir haar ’n drukkie en Debora klik simpatiek tong wanneer sy haar kos bring. Verder sit sy by die venster en bekyk die stukkie werf wat sy kan sien tot sy ’n beweging in die boord gewaar en besef dis oom Lodewyk wat haar dophou.

Laat Saterdagmiddag kondig die honde se uitbundige geblaf haar pa se tuiskoms aan. Aan die geskarrel in die gang weet sy dat Heilie, Bellie en Boeta uitstorm om hom te groet. Haar ma skree tevergeefs vir Boeta om terug te kom en haar haastige voetstappe word ook vinnig sagter.

“Adriana, kom kyk, ek het vir jou iets saamgebring,” roep haar pa ’n rukkie later.

Verlig sit sy haar kappie op en hardloop agterstoep toe. Steek vas toe sy die kastaiingbruin perd sien wat Arend vashou. In die merrie se gesperde oë herken sy die vrees wat in haar eie lyf vasgevang is.

“Jou perd is nie gesout teen perdesiekte nie, sy sal moet agterbly. Ek het gedink jy en dié merrie sal mekaar verstaan. Haar naam is Aandster.”

Toe Adriana naderloop, begin Aandster se bladspiere en flanke tril, haar oë rol angstig.

Adriana retireer dadelik. “Sy’s bang vir my kappie. Hou dit vir my, Bellie.”

Die asems word ingeruk toe sy haar gekneusde gesig ontbloot, maar sy het net oë vir die merrie. Sy vat die toom by Arend en streel vir Aandster oor die neusbrug tot by die wit stervormige vlek op haar voorkop terwyl sy in die oopgesperde neusvleuels blaas. Geleidelik verdwyn die wildheid uit die merrie se oë en bedaar die trilling van spiere. Toe runnik Aandster saggies en begin aan Adriana se gesig knibbel, strelend oor die geelpers oogbank.

“Dankie, Pappa,” sê sy en sien deur die traannewels hoe haar ma wegrem toe haar pa sy arm om haar sit.

“Ons kan tog nie ’n kind wat só met ’n perd kan werk in ’n dorp laat vergaan nie,” pleit hy. “Dis vir ons almal se beswil dat ons noordwaarts gaan. ’n Nuwe lewe gaan bou, sonder die beklemming van gister se spoke om ons. Op my lewe belowe ek dat ek julle veilig daar sal bring.”

Adriana maak asof sy hulle nie sien of hoor nie en lei Aandster stal toe om haar te gaan roskam.

Januarie en Februarie 1877 skiet verby in die warboel van klaarmaak vir die trek. Vye, druiwe, kwepers, perskes en appelkose moet gedroog en in meelsakkies gepak word; beskuit en soetkoekies moet gebak word, seep moet gekook en biltong en droëwors moet gemaak word. Wanneer haar ma bevele gee, gehoorsaam Adriana in stilte. Praat met haar ma, sal sy nie maklik weer nie.

Ook teenoor haar pa bly sy afsydig totdat hy eendag nooi: “Kom saam ranteveld toe om koedoes te skiet. Ons moet uitvind of Aandster gewoond is aan geweerskote.”

Aandster gedra haar soos ’n gesoute jagperd en Adriana trek twee koedoes plat.

“Met Pronk en Aandster gaan ons twee Damaraland se jagveld verower. Dalk kry ons nog ’n olifant onder skoot,” lag haar pa.

Vir die eerste keer bruis opgewondenheid oor die trek deur Adriana. In Damaraland sal sy weer veilig voel, die vrees wat sedert die nag in die tuin aan haar knaag, kan afskud.

Die toeloop van veekopers hou haar pa besig.

Adriana voel soos ’n vasgekeerde dier toe oom Lodewyk en Wikus eendag by die varkhok opdaag terwyl sy daar doenig is. “Wat soek julle hier?” gaan sy tot aanval oor.

“Jou pa het die varke vir my gegee,” sê Wikus. “Ek wou hulle koop, maar hy wil niks daarvan weet nie. My pa moet my help om hulle by die huis te kry.”

Adriana wil eers oor die muur klim om weg te kom, maar besef dan dat sy haar rok sal moet optel en voel oom Lodewyk se oë op haar brand. Haar hande bewe so dat Wikus moet help om die hek oop te kry. Sy kry haar pa by die kalwerhok. “Hoe kan Pa my varke weggee sonder om my eers daarvan te sê?”

“Hy sal goed na hulle kyk, dit weet jy tog.”

Adriana wil nog verder stry, maar haar pa kreun asof hy maagpyn het. “Agge nee, tog nie al weer ons prediker nie.”

Gustav kom op ’n drafstap aan en swaai ’n boekie in die lug. “Het jy gelees professor Postma skryf in Die Kerkbode daar is niks mee verkeerd om te trek nie? Mits jy daarmee jou lot verbeter en jou kroos bevoordeel.”

“Nee, maar nou sal jy seker ophou om vir my te preek.”

“Wel, Jakobus, die enigste manier om jou kroos te bevoordeel is om Kaapkolonie, eintlik Boland, toe te trek waar ten minste ordentlike onderwysgeriewe is. Heilie is so ’n skrander kind, sy kan ’n onderwyseres word.”

“Gustav, as jy wil stront praat, loop doen dit voor jou skoolkinders. Jy hou ons uit die werk en ons wil einde Februarie by die Krokodilrivier wees,” vererg haar pa hom.

Adriana kyk geskok na haar pa, maar proes agter haar hand toe sy die uitdrukking op Gustav se gesig sien. Miskien kry hy nou die boodskap dat hy sy neus uit hulle sake moet hou. Al die ander los haar uit, dis net hy wat gedurig met haar kom foeter. Kamstig om te kyk of haar gesig mooi genees. Hy vermoed duidelik nie dat daar vir hom oor die “ongeluk” gejok is nie en was hoogs ontsteld oor haar pa vir haar ’n wilde merrie gekoop het.

Maar Gustav druk deur. “Daar’s nog tyd om te besin. Onthou net, probleme is soos ’n mens se skaduwee. Dit volg jou net waar jy gaan.”

“Ons hardloop g’n weg nie. Ons trek na ’n beter lewe in die land van melk en heuning.”

“Ai, Jakobus, ek het gedink jy is ’n verstandige man. So ’n plek bestaan net in jou drome.”

Hoeveel haar ma te doen het met Gustav se vrugtelose pogings om haar pa van die trekkery te laat afsien, kan Adriana net raai. Die bitter trek om haar ma se mond versag darem effens toe haar pa aankondig dat hulle Potchefstroom toe gaan om die laaste inkopies te doen. Hulle gaan vooruit in die kapkar, terwyl Kierie en Arend agterna kom met die wa om die aankope te laai.

Op Potchefstroom aangekom, dring haar pa daarop aan dat sy saam na die wapenhandelaar toe gaan terwyl haar ma met ’n handsak vol ponde na die negosiewinkel toe is.

Haar pa haal dadelik die Martini-Henry-geweer van die rak af. “So dis nou die Martiens-Hendrik waarvan almal so praat.” Hy maak die slot ’n paar keer oop en toe voor hy die metaaldoppatrone bekyk wat die handelaar op die toonbank neersit. “Die Martiens-Hendrik is vir my dogter,” beduie hy na Adriana. “My beste skut kan darem nie op die trekpad gaan sonder haar eie geweer nie,” slaan hy Adriana se asem weg. “Gee vir my twee kiste van sy patrone en ook ’n kis papierdoppatrone vir my Wessel-Riekert.”

“Neef is seker nie van hierdie wêreld nie, want ek het lanklaas gehoor dat iemand ’n Westley Richards só noem. Bly maar ’n handige geweer, nè, met dié dat mens hom ook van voor kan laai met loodballetjies en kruit as die patrone op is.”

“Dis hoekom dit die regte geweer vir die trekpad is. Ons is op pad Damaraland toe. Dan soek ek nog honderd stawe lood en so dertig vyfpondsakkies kruit.”

Die handelaar fluit verbaas en kyk agterdogtig na haar pa. “Wil jy iewers gaan oorlog maak, of is jy een van Hendrik van Zyl se jagters?”

“Nie een van die twee nie. Dis ruilmiddels om bees te koop. Jan Greyling, ons trekleier, sê met ’n stuk lood kan jy vir jou ’n bees in daardie geweste koop. Lood, kruit en doekgoed is al wat hulle soek.”

Die handelaar glimlag breed toe hy met goue muntstukke betaal word. Hy gee ’n jagmes met ’n skede op die koop toe.

Hulle vind maklik die goudsmid waarheen die handelaar hulle verwys. “Dis eintlik hoekom ek jou ma alleen negosiewinkel toe laat gaan het. Ek wil vir haar iets spesiaals koop, maar weet nie mooi wat nie.”

Die goue hangertjie met die hartjie wat kan oopmaak, is die geskenk wat haar ma se hart na die trekpad sal oopsluit, verseker Adriana hom. “Voor Pa dit vir haar gee, sal ek ’n haarlokkie van elkeen van ons daarin sit.”

Terwyl Adriana deur die halfleë huis loop om te sien of alles wat moet saam op die stoep uitgedra is, onthou sy weer haar ma se vreugde oor die hangertjie. Pa se oop hand met die ponde sodat rolle materiaal, linte, kant, knope, borduurgare en breiwol gekoop kon word, het ook gehelp om haar ma se hart te versag.

“Genade, ons sal mos nooit al dié goed op twee waens kry nie,” hoor sy haar pa op die stoep sê en haas haar na buite voor daar weer ’n stryery ontstaan.

“Maar Pa, ons het saam besluit wat moet gaan en wat moet bly. Kyk maar self, net die huisgoed op my lysie is hier op die stoep.”

Arend en Kierie het die pakwa met behulp van die kleingoed teenaan die stoep getrek om die laaiproses te vergemaklik. Dié wa met kleiner wiele en ’n ligter raamwerk was ’n geskenk van ouma Juliana om haar ma se bruidskat hierheen te vervoer. Die tent bedek net die agterste kwart van die wa. Rondom die rand van die platbak is blomme uitgekerf en in helder kleure geverf, daarom noem almal dit die blomwa. Noudat die wa en die huisgoed teenoor mekaar staan, is dit duidelik dat die lys hersien sal moet word.

“Los wat julle wil, solank my serafyn net gelaai word. Ons moet darem op die trekpad musiek kan maak,” stem haar ma uiteindelik in nadat sy ’n paar minute lank die goed op die stoep met haar oë op die wa probeer inpas het. Dit lyk of sy wil huil toe sy omdraai en die huis in loop.

“Laai die goed wat Ma van Bloemfontein af gebring het eerste. Ek dink ouma Tina sal ook verkies dat haar familiegoed, eerder as Ma s’n, hier moet bly,” besluit Adriana toe haar pa hulpsoekend na haar kyk.

Dit is lank verby etenstyd toe drie beddens, ’n jonkmanskas, die hangkas en spieëltafel, eettafel en ses riempiestoele uiteindelik stewig op die wa vasgemaak is. Die rolle materiaal word in die spasies ingedruk. Adriana merk elke rol af: linne, moeselien, sis, bafta, koordferweel, flennie en seildoek. Twee bulsakke gestop met gansdons word bo-oor die meubels gegooi voor dit met olieseildoek bedek word. Dan kom die tentseil bo-oor en word dit stewig met rieme vasgetrek. Daar is nog genoeg plek vir drie sakke roltwak en die twee halfaamwatervate. Die boerseep en lood word plat op die bak onder die watervate gepak. Die twee tente en Mieta-hulle se bondels word ook hier gelaai.

Die huisorrel, koperledekant en wastafel kom op die kakebeenwa. Vir die kinders sal hangmatte in die wa vasgemaak word om in te slaap. Die klerekiste sal ook as sitplek in die wa gebruik word. Die kosware: gedroogde vrugte, boermeel, sout, koffiebone, mieliemeel, suiker, biltong en droëwors kom onder die kap van die blomwa. Onder die waens word kleiner watervaatjies, driebeenpotte, ’n wasbalie en die koffieketel vasgemaak. Môreoggend sal ’n paar hoenders gevang word om in die karet onder die wa saam te trek.

Adriana wens dat hulle sommer vanaand al die swepe kan laat klap sodat sy niemand hoef te sien of groet nie. Maar nou moet hulle by ouma Tina gaan slaap en môre met eerste lig, sê haar pa, die stof van hierdie werf van hul voete afskud. Gister wou ouma Tina haar glad nie laat los nie en het haar rok sopnat gehuil. Hoe sal dit nie môre gaan nie?

Die aandster vonkel al toe Gustav by hulle aankom. Haar pa groet hom asof hy die verlore seun is.

“Ek het gewonder wat van ons prediker geword het. Toe sê my pa jy het die kapkar geleen en is inderhaas Pretoria toe.”

“Ja, spot maar. Ek dink nog steeds julle maak ’n groot fout, maar ek sou my plig as geneesheer versuim as ek julle sonder medisyne laat gaan. Julle gaan koorsstreke in. Rooilaventel, groenamara, witdulsies en paregorie gaan nutteloos wees. Al wat vir die malariakoors help, is kinien. Ek het ses botteltjies in die hande kon kry, maar dis nie veel nie. Mag die Goeie Vader gee dat julle koorsvry anderkant uitkom.”

Gustav roep Adriana eenkant toe. “My kollega in Pretoria sê ses druppeltjies moet geneem word sodra die eerste tekens van koorsigheid bemerk word. Al voel die pasiënt beter ná twee of drie dae, moet dit minstens vyf dae gedrink word. In die oggend en in die aand. Hy sê die koors kom partykeer ná vier dae terug en dan is dit veel erger. Die kinien is vreeslik bitter. So gee maar vir die kinders ’n bietjie suiker of heuning agterna.” Hy huiwer ’n oomblik. “Hy kon nie sê of dit veilig vir ongebore babas is nie.”

Adriana deins verskrik terug, maar Gustav merk dit skynbaar nie. “Ek vermoed jou moeder is swanger, maar dis nie vir my om haar daarna …”

“Wat laat jou so dink?” vra sy verbaas.

“Sy’s buierig en tranerig. Gewoonlik ’n weggeeteken. Is sy dalk soggens naar?”

Adriana skud haar kop. “Nie waarvan ek weet nie.”

Haar pa onderbreek gelukkig die gesprek toe hy naderkom met die knapsak vol ponde. “Wat skuld ek jou, Gustav?”

Gustav weier om te sê wat die tassie vol medisyne gekos het. “Beskou dit as betaling vir Heilie se onskatbare hulp by die skool.”

Hy grawe in sy drasak en haal ’n pak leie met griffels, tien kladboeke, ’n Trap der jeugd, die ABC-boek en ’n Kinderen van den Bybel uit en roep na Heilie. “Dis vir jou. Jy sal dit op die trek handig kan gebruik wanneer jy vir die kinders skoolhou.”

Toe hy die Engelse vertaling van die Grimm-broers se sprokies uithaal, loop Heilie se trane.

Gustav sit sy arm vertroostend om haar. “Jy kon mos nooit genoeg daarvan kry nie. Dit sal jou help om jou Engels te oefen en te bly droom.”

Adriana steek haar hand na Gustav uit, maar hy ignoreer dit en soen haar op die wang. “Kyk mooi na jou ma. Sy is ’n fynbesnaarde mens wat nie hierdie ontwrigting verdien nie.”

Adriana kyk hom verbaas agterna. Toe Boel teen haar opspring, sak sy op haar hurke en laat toe dat hy die trane van haar gesig aflek. Dis al waarvoor sy haar pa nog kwalik neem: dat Boel hier moet agterbly.

Dors

Подняться наверх