Читать книгу Dors - Marinda van Zyl - Страница 8
3
ОглавлениеJunie 1876, Greyling-staning
Terwyl Jan en Bêrend water aanry, sorteer Betta en Elisabet die wasgoed.
“Waar bly Janetta dan met hulle s’n?” vra Betta.
“Slaap seker nog,” antwoord Elisabet. “Ek het haar nog nie vanoggend gewaar nie.”
Betta gaan loer in die wa. Janetta is inderdaad vas aan die slaap op hulle deurmekaar bed. Haar lang swart hare wat gewoonlik onder die kappie weggesteek is, lê soos die vlerke van ’n kraai uitgesprei oor die kussing. Sy moes haar aan die slaap gehuil het, want in haar vuis klem sy ’n sakdoek. Onvergenoeg betrag Betta die klere wat op die vloer voor die bed lê en die vuil water wat skifsels teen die rand van die waskom maak. Gelukkig is die res van die wa so toegepak met meubels en voorraad dat Janetta dit nie ook kan bemors nie.
“Ek was reg om Piet te waarsku teen die trouery met ’n kind,” steun sy hardop toe sy buk om ’n hemp op te tel.
Janetta sit verskrik regop en trek die donskombers tot onder haar ken. “Wat maak Tante hier?”
“Dis hoog tyd dat jy vir my Ma sê. Ek ruim op en kom Piet se wasgoed haal, want iemand moet tog vir hom sorg.”
Janetta gooi die donskombers af, spring uit die bed en gryp die hemp uit Betta se hande. “Ek sal self my man se klere was. En Ma kom nie weer in my wa nie.”
Betta deins terug vir die woede in Janetta se oë en die kaal lyf wat nou soos ’n riet bewe. Het die kind dan geen skaamte nie?
Janetta gooi haar nagrok oor haar kop en gaan voort om die klere bymekaar te maak, die sakke deur te voel en daarna in die rottangmandjie te gooi wat halfvol vuil klere is.
Betta se wange word warm. Die kinders se begeerte na mekaar was verantwoordelik vir die warboel klere op die grond, nie Janetta se onvermoë om huis te hou nie. “Ons gaan by die rivier was. Ek skink solank jou koffie,” probeer sy die vrede herstel.
’n Week later is Piet-hulle terug, sonder antwoord. “Pa moet vir Motshoare vra. Pa’t mos gesê hy moet die praatwerk doen.”
Motshoare sak op sy hurke neer by Jan wat op die kampstoel sit en Betta loop nader om nie ’n woord te mis nie.
“Ek gee hom die brief. Kgosi Khama hy laat ons drie dae sit. Ons kry lekker bier en vet vleis. Toe hy sê ons moet huis toe.”
“Het hy gesê wanneer hy hierheen kom?”
Motshoare skud sy kop. “Hy’s die kgosi en Oubaas die man wat die pad deur sy land soek.”
“En hoe waai die wind in Khamaland?”
“Die wind hy’s warm en hy’s koud. Lekker warm, want kgosi Khama hy’s nou alleen baas. Sy pa en jakkalsbroer is weggejaag tot in die land van die Bakwena. Maar die wind hy waai yskoud oor die baie Boere hier wat jag in kgosi Khama se land.”
Jan stuur vir Motshoare weg toe ’n ruiter die kampplek nader. “Nie ’n woord oor die besoek aan Khama nie,” waarsku hy vir Piet terwyl die ruiter nog ’n ent weg is. “Dit kan een van Erasmus se mense wees wat wil kom vis.”
“Gmf, dis g’n verspieder nie,” snork Betta. “Dis Thys de Beer wat met die laaste nagmaal soos ’n by om Elisabet gedraai het. Elisabet, gaan help vir Janetta met Piet se wasgoed.”
“Waar ry jy so vroeg rond, Thys?” vra Jan sonder om te groet.
“Dag, oom Jan. Dag, tant Betta. Dag, Piet,” groet Thys terwyl sy oë oor die kampplek dwaal. “Ek kom sê van die verkiesing wat môre gehou word. By oom Daniël se laer.”
“Wie mag stem?” vra Jan effens vriendeliker.
“Al die gesinshoofde, Oom.”
Jan trek sy oë skrefies, terwyl hy aan sy pypsteel kou. “En hoeveel gesinshoofde is daar in Erasmus se laer?”
“Gits, oom Jan, ek weet sowaar nie. Ons staan anderkant Rooibokkraal. Oom Gert du Preez is ons voorman. Maar nou moet ek spore maak, want ek moet elke wa nary, het oom Louw gesê.”
“Sit eers, jou keel is seker al droog gepraat,” nooi Jan oorvriendelik en roep: “Elisabet, bring vir ons koffie!” voor hy weer vis: “Hoeveel gesinne is julle bymekaar?”
“Tien, Oom.”
Elisabet se wange is vlamrooi toe sy die koffiebeker vir Thys aangee. “Elisabet kan saam met jou stap na die ander stanings, dan kry jou perd ’n ruskansie,” bied Jan aan.
Betta wil vuur spoeg en weet dat die woede in haar stem deurslaan toe sy roep: “Bêrend! Kom stap saam met Elisabet en Thys.” Sy wag tot hulle buite hoorafstand is voor sy lostrek: “Hoe kan jy jou dogter uitveil aan ’n man ter wille van ’n paar stemme?”
“Wil jy trek onder daardie laventelhaan Erasmus as kommandant?”
“Natuurlik nie, maar …”
“Nou ja, ek ook nie.”
Die hele môre hou Betta die pad angstig dop. Sy vrees dat Erasmus se mense die oorhand gaan hê en dat Jan alleen die wildernis sal wil invaar. Wat anders kon hy nou die dag bedoel het met “alleen, as dit moet”?
Die son sit al op middag voor sy die perdewa gewaar. Piet staan regop op die wa en waai sy hoed uitbundig.
“En daar stem tot Erasmus se manne vir my as kommandant,” spog Jan selfvoldaan. “Louw is veldkornet en Erasmus moes vir lief neem om landdros te wees.”
Betta vee trane van verligting uit haar oë. Onder Jan se leierskap is hulle veilig, daaraan twyfel sy vir geen oomblik nie. “Ek was bekommerd toe julle so lank wegbly,” maak sy verskoning toe Jan vraend na haar kyk.
“As kommandant moes ek dringend vir Louw opdrag gee om die mense weg van die rivier te skuif en te sorg dat die vee aan die Marico suip sodat drinkwater in die Krokodilrivier nie bemors word nie, anders gaan daar nog bloedmaag ook uitbreek. Twee van Louw se mense is vroeër vanjaar aan koors dood. Hoekom mense teenaan ’n rivier staan waar koorsbome groei, gaan my verstand te bowe.”
“Is die dooies van iemand wat ons ken?” vra Betta ontsteld.
“Louw het nie gesê wie dit was nie. Ek moet dadelik na Khama gaan om deurgang te vra. Louw praat te bont. Ek vertrou nie sy storie dat hy toestemming by Khama gekry het nie. Ek hoop en bid Motshoare het Khama se ontevredenheid teenoor ons oordryf en dat hy bloot aanstoot geneem het omdat ek hom gevra het om hierheen te kom. Ek het ’n groot fout gemaak deur nie self na Khama te gaan nie. Ek hoop twee leeuvelle gaan sy hart versag.”
Sonder dat Jan iets hoef te sê, weet Betta toe hy vyf dae later tuiskom dat sy sending misluk het. Sy bak dadelik askoek en smeer die vyekonfyt dik, maar dit lyk nie eens of Jan proe wat hy eet nie.
Die volgende oggend hou sy liewer haar mond toe hy sy veldklere aantrek en terloops sê: “Ek moet gaan kyk hoe dit by die beestrop lyk voor ek met Louw gaan gesels. Ons het groter moeilikheid as wat ek gedink het.”
“Ek gaan saam om vir Truia dankie te sê,” besluit Betta. “Sy het ’n karmenaadjie gestuur terwyl jy weg was. Die jaggeselskap het ’n paar koedoes platgetrek anderkant die Ngotwane.”
Jan se oë blits. “Verdomp, dan lieg Khama nie, hulle jag wragtig in sy gebied. Dit sal dadelik moet end kry.”
“Bedaar tog net eers, my man. Dis môre se probleme.” Betta is verlig toe hy wel koers kies na die beestrop toe.
Jan is broeiend stil toe hulle die volgende oggend die pad vat.
Betta skrik toe hulle naby die samevloeiing van die riviere kom en hy kliphard vloek: “Bliksem!” Hy beduie na die Erasmus-laer in die kom tussen die Marico- en Krokodilrivier. “Louw sal moet verduidelik hoekom my bevele nie uitgevoer is nie.”
Betta is verbaas dat ook Louw-hulle se waens in ’n laer getrek is, met ’n doringtakheining reg rondom. “Jy’t dan gesê dis veilig hier.”
“Natuurlik is dit veilig. Hulle is almal familie en seker gewoond daaraan om so saam te koek.”
Louw wat by die wa sit en pyp rook, kom nader om Betta van die waentjie af te help. “Truia is in die kombuis,” wys hy na ’n rietskerm tussen die wa en die doringheining. “Môre, Jan, eerder laat as nooit, nè. Ek en Daniël het gewonder wanneer jy verslag gaan kom doen. Jy’t mos al gister teruggekom.”
Betta kyk verbaas van Louw na Jan. Sy is nie gewoond dat Louw op hierdie toon met Jan praat nie. Jan se nekare bult en sy vra haastig: “Jan, gee die meelslopie met Truia se goedjies aan.”
Maar Jan bly gluur vir Louw sonder om te reageer: “Ek wil by jou weet wat waarheid is en wat leuens voor ek verslag kan doen. Khama sê jy’t in Desember tot by Kloutsi getrek en voorheen ook noord met die Limpopo op.”
“Nou wat is fout daarmee? By Kloutsi het ons agtergekom jy het nie gelieg oor die versengende hitte nie en omgedraai. Kort ná jy weg is, was hier ’n jagter wat al tot anderkant die Zambezi gejag het. Toe besluit ons om liewer soontoe te trek. Maar dit het te veel gesukkel met die waens so sonder pad in die digte bosse. Toe draai ons maar om.”
“Maar Louw, ons het akkoord gehad dat jy hier by die Krokodil sal wag tot ek terugkom om julle deur te vat.”
“Jy het te lank weggebly.”
“Hoekom staan Erasmus se waens steeds in die kom?”
“Daniël sê jy is nou kommandant, maar hy bly die voorman van sy eie trek en laat hom van niemand voorsê nie.”
“En sy mense se gesondheid?”
“Dis seker hulle saak.”
Jan haak die leisels van die mannetjie los: “Klim, laat ons ry, Betta. Miskien kan ek verstand in die man se kop praat en hom oortuig om liewer huis toe te gaan. Met sy blink skoene en wit hemde lyk hy altevol na ’n dorpsjapie wat sy broek gaan bevuil as ’n leeu naby hom brul.”
“Nie voor ek Truia se goed in haar hande afgegee het nie,” skop Betta vas en hou haar hand uit vir die slopie. Sy struikel amper oor die baba wat in die sand sit en speel toe sy die kookskerm ingaan.
Truia swaai om en Betta skrik haar asem weg, want onder die kappie is Truia se gesig met lappe bedek sodat net haar oë, neus en mond uitsteek.
“Het jy sleg tandpyn, Truia?” vra sy toe sy haar asem terug het.
Truia lag en raap die baba op. “Nee, Tante, dis beskerming teen wind en son.” Haar oë skiet vol trane toe Betta die meelsakkie op die tafel uitkeer. “Appels! Ek smag al so lank na iets vars om te eet, want deesdae is dit net vleis van die môre tot die aand.” Sy druk op haar maag. “Dis al weer sulke tyd en met dié een keil die oggendsiekte my op.”
Betta klik haar tong uit simpatie. “Ai, Truia, hoe kom jy met arms vol kinders reg so op die vlakte?”
“Dit moet maar net, Tante. Die Bybel sê mos jy moet jou man onderdanig wees en volg waar hy lei en Louw het die trekgedagte in sy kop. Maar wag, laat ek eers koffie skink.”
“Nie vandag nie, Truia. Oom Jan wil na Daniël Erasmus toe. Sy koffielus moet maar hou tot daar.”
“Tante moenie daarop reken nie. Daniël se vrou is ’n eenkantmens.”
Op pad na Daniël se laer toe jaag Louw te perd by hulle verby en die hol kol op Betta se maag word al hoe groter.
Louw en Daniël wag hulle in voor die tent waar ’n tafel en stoele regstaan. Die flap van die wa beweeg net effens, maar niemand kom te voorskyn nie en Betta bly sit op die perdewa.
“So, Kreling,” soek Daniël dadelik skoor, “jy’t jou toe darem verwerdig om aan die Driemanskap te kom rekenskap gee. Ons wag al van gister af vir jou.”
“Kommandant Greyling vir jou, landdros Erasmus. Of is jou tong so gesplete soos jou yl baard dat jy nie ’n g kan uitspreek nie?”
“Kom nou, Jan,” maan Louw, “so nydig ken ek jou mos nie. Waar’s oom Jordaan, dat ons kan begin?” vra hy vir Daniël.
“Hy sal nou-nou hier wees. Sit julle solank.”
Louw gaan steunend op die lae veldstoeltjie sit.
Jan bly staan. “Wat ek te sê het oor my tog na Khama, kan ek staan-staan doen. Julle kan …”
Daniël maak Jan met ’n handgebaar stil. “Op ’n punt van orde. Sodra die Driemanskap voltallig is, sal ’n voorsitter vir die vergadering gekies word en daarna sal die voorsitter besluit wanneer jy ’n spreekbeurt kry.”
Jan gluur vir Louw. “Met watse speletjies is julle nou besig, Louw? Dink julle twee nou julle sit in lakense pakke in die Volksraad of gaan op ’n piekniek in die president se koets? Ons het groot moeilikheid …”
“Daniël is reg, Jan. Jy moet aan die Driemanskap verslag doen, nie ons aan jou nie. Dis wat die trekregulasies voorskryf,” vat Louw Daniël se kant.
Daniël pluk die trekregulasies uit sy bladsak en lees: “Artikel 4: Er zullen door het publiek drie mannen gekozen worden met wien de Kommandant in spesjale zaken moet raadplegen en voor wie de Kommandant moet verslag doen.” Hy plak die papiere op die opvoutafel voor hom neer. “Die weerbare manne het ons drie wat die regulasies opgestel het eenparig as die Driemanskap verkies. So jy sál voortaan aan ons verslag doen in ’n ordelike vergadering.”
Jan se kakebeen span styf soos hy op sy tande byt. “En wat sê die regulasies van die veldkornet se pligte, Louw? Laat ek jou sê as jy dalk vergeet het. Die veldkornet móét die bevele van die kommandant uitvoer. Hoe de moer moet dit nou werk as die veldkornet dan hier kan kom sit as een van die Driemanskap om te oordeel oor die kommandant? En dit terwyl die veldkornet en die landdros sonder toestemming op Khama se grond jag. Hier’s mos gruwelik agter my rug geknoei.”
“Kreling, jy’s net ’n ongeletterde jagter …”
Voor Daniël sy sin kan voltooi, gryp Jan hom voor die bors en pluk hom regop. “Noem my nog een keer Kreling en ek foeter vir jou.”
Betta wil huil van verligting toe Jan hom dadelik laat los. Sy hou haar mond toe Jan die leisels by haar oorvat.
By die staning haal sy ’n blik konfyttertjies uit wat sy vir spesiale geleenthede gebak het.
“Hoekom laat jy toe dat die man jou so ontstel?” wil sy by Jan weet toe hy die laaste een verslind het.
“Dis hoe hy na my kyk, asof ek ’n miskoek is. Presies hoe die vervloekte Engelsman in die Kolonie na my pa gekyk en hom boonop ’n vuil bekvelder genoem het.”
“En toe slaan jou pa hom katswink en beland in die tronk?”
Jan vee oor sy oë asof hy die beeld wil uitwis. “As hy maar het. Hy’t omgedraai en weggeloop. Ek hoor nou nog die spottende lag van die Engelsman. Ek was toe tien en wou omvlieg om hom te gaan regsien, maar Pa het my aan die skouer beetgekry: ‘As jy een maal jou hande met stront bevuil het, kleef die reuk vir altyd.’”
“Jou pa was ’n wyse man. Maak soos hy jou geleer het. Lag vir hulle en stap weg. Dis skone jaloesie oor hulle nie jou kennis en durf het nie wat Louw-hulle so laat optree.”
Jan suig ’n rukkie aan sy pyp. “Jy’s reg, hulle moet wag tot ek lus het om verslag te doen, want daar’s spanne tyd. Ek vat nie ’n trek in die somer deur die Dors nie. Hopelik skok die nuus dat Khama ons deurgang weier hulle tot besinning.”
Betta voel die vrees soos ’n slang teen haar ruggraat afseil toe die swartkraai skree.