Читать книгу Vlerke vir almal - Marion Erskine - Страница 5
2 TERUGBLIK
Оглавление“Jou ma gaan jou vrekmaak,” waarsku ek vir die honderdste maal.
Nicola trek my arm nader en soek ’n nuwe bytplek. “Man, my ma sal nie weet tensy ek haar wys nie, en ek’s nie van plan om dit te doen nie. Altans nie voor ek ag … agt-en-twintig is nie,” sê sy en fladder haar ooglede vir die enorme man langs haar.
Natuurlik wou sy sê agtien, want sy mag nie hier wees nie. Haar agtiende verjaardag is nog twee Oktobers ver, maar sy is so swaar gegrimeer dat sy wel nader aan agt-en-twintig lyk. Dié plek het nie eens haar ID gevra nie.
Soos die masjientjie nader kom, slaan sy haar slagtande weer in my arm.
“Eina!”
Sy mompel iets in die rigting van: “Ek’s so dankbaar jy’s hier om aan te byt.”
Die tatoeëerder se frons trek slote oor sy voorkop. Ek soek ’n plek op die groot man se arms wat nie met ink ingekleur is nie, maar dis tevergeefs. Drake en unicorns. Swaarde en skilde. Die man lyk soos ’n lopende Grimm-sprokie.
“Hoe lank nog?” vra ek versigtig. Ek is nie seker wie die meeste pyn verduur nie – ek of Nicola. Sy het nou al vier ronde tandhorlosies op my arm gebyt.
“Amper klaar,” grom die man en lyk skoon vies omdat ek sy konsentrasie verbreek het. Die skedel op sy kopdoek hou my dop terwyl hy weer sy blik na Nicola se enkel laat sak.
Ná wat soos ’n verdere eeu voel, skuif die ingekleurde Goliat uiteindelik weg en ek kan vir die eerste keer die tatoe sien.
“En?” vra Nicola dadelik en kreukel haar wipneusie. “Hou jy daarvan?”
“Dis baie mooi,” soek ek gou vir die woorde wat sy wil hoor en dink hoe my pa my gatvelle sal aftrek as ek op sestien met ’n tatoe by die huis aankom.
“Mooi?” vra Nicola grootoog. “KykNET se logo is mooi, hierdie is awesome, Schmetterling!”
Nicola noem my Schmetterling sedert ons in die laerskool was. My ma het Duitse bloed en het eendag genoem die Duitsers gebruik dié naam vir ’n skoenlapper. Ek persoonlik dink dit klink baie cooler as die Afrikaanse weergawe. ’n Skoenlapper is ook haar gunstelinggedierte, so ek neem aan dis haar soort kompliment om my so te noem.
“Hier’s ’n lys van goed wat jy moet vermy,” sê die prentjieman in ’n monotone stem terwyl hy ’n pamflet oorhandig.
Nicola gryp die papier en trek haar neus op. “Geen direkte sonlig nie? Nou hoe gaan ek die naweek kan afshow?”
“Trust me,” antwoord die man, “jy gaan tien keer meer pyn hê as daardie ding ontsteek.”
“Fine, fine,” sê Nicola en glimlag breed, vou die pamflet haastig op en druk dit in haar handsak. “So, Schmetterling, het jy geld aan jou?”
“Hei! Ek het saamgekom vir ondersteuning,” sê ek afgehaal. “Nie om jou rekening te betaal nie.”
“Ag, haak my met vyftig rand. Wat’s dit met jou?” vra sy en hou haar kop skeef soos ’n hondjie wat kwaad gedoen het.
Ek haal die pienk noot langsaam uit my beursie en gee dit vir haar met ’n gepynigde uitdrukking. “Dit was vir ’n nuwe CD van Poets of the Fall.”
Nicola pluk my nader en plak ’n vinnige soen op my mond. “Jy’s die heel beste buddie. Ever!”
“Ja, ja,” sug ek terwyl ek my mond aan my skouer afvee. “Onthou dit as jy eendag met ’n ryk Arabier trou.”
“Dream on,” lag sy en tel haar baadjie en serp op en loop hinkepink na die deur asof haar been op drie plekke gebreek is. “Jy moet geëerd voel dat ek ’n skoenlappertatoe het. Nou sal ek elke dag aan jou dink.”
“Jy dink in elk geval elke dag aan my,” sê ek vermakerig.
“Dis ook waar.” Sy plak die geld op die toonbank neer, bedank die reus en vee ’n swart lok agter haar oor in. Dan stap sy eerste by die deur uit, die yskoue Julie-windjie in.