Читать книгу Vlerke vir almal - Marion Erskine - Страница 8

5

Оглавление

Ma en Pa laai my op dieselfde plek af as gister. Hulle is rustiger omdat ek gesê het die nuwe skool is heel skaflik en ek het reeds ’n paar vriende gemaak.

Toe ek by die registerklas instap, sit Aldi Lotter op die plek waar ek gister gesit het. Dit pla my nie juis nie, want ek gaan skuif in langs Beesbal wat reeds op dag twee van graad elf gretig sit en wiskundehuiswerk afskryf.

Anders as vorige jare, begin die onderwysers reeds met hompe werk en vertel ons dat ons hierdie jaar gaan skryf dat ons arms stomp word.

Net voor tweede pouse is dit tyd vir my eerste afspraak met meneer Bert Visser. Hy sit reeds agter sy lessenaar toe ek klop en instap.

“Môre, Dewald,” groet hy vriendelik en hou sy aandag op die lêer voor hom. “Kom sit.”

“Dankie, Meneer.”

“So hoe lyk dinge? Hou jy van die skool?”

Ek knik. “Sover g-gaan alles goed, Meneer.”

“Mooi so,” sê hy. “Dit help altyd as ’n mens sommer vinnig aanpas. Het jy al vriende gemaak?”

“Ek het ja, Meneer,” antwoord ek. “Bees … um … ek m-meen Andries Potgieter is baie vriendelik.”

Meneer Visser se oë glimlag, maar sy mond nie. “Ja, natuurlik. Beesbal het ’n behoorlike reputasie in die skool.”

“Hoe so, Meneer?” vra ek nuuskierig.

“Kom ons sê net dat ongeluk hom agtervolg soos ’n brommer agter vars beesmis aan. Maar Andries is nie ’n slegte ou nie. Hy kry homself net meer as gewoonlik in die moeilikheid. Hou maar ’n ogie oor hom as jy nie omgee nie.”

“Ek s-sal, Meneer.”

“Dit sal gaaf wees,” sê hy en glimlag vir die eerste keer.

Ons sit vir ’n ruk sonder om ’n woord te sê. Ek het geweet die tyd sal kom wanneer ons sal moet praat oor wat Oukersaand gebeur het.

“So watter belangstellings het jy?” vang hy my onkant. Ek was oortuig hy sal begin uitvra oor daardie nag van hel.

“Um … ek … um … ek h-hou van musiek, Meneer,” val ek oor my tong.

“Gunsteling-band?” vra hy en sit sy hande bymekaar. Ek is so bly hy sit nie heeltyd en notas maak soos die vorige sielkundige nie.

“VNV Nation,” antwoord ek sonder om te veel te dink. “Ek hou v-veral van hulle lirieke.”

“H’m.”

“K-ken Meneer hulle?” vra ek en weet sommer die antwoord is nee.

Meneer Visser staar na die plafon asof hy diep dink. “Each time you get hurt, I don’t want you to change. Because everyone has hopes. You’re human after all.”

My mond val oop. Tweede keer dat meneer Visser vandag die wind uit my seile haal. “Dis ‘Illusion’. Een v-van my gunsteling-songs. Meneer ken hulle.”

“Sommige van ons ou mense het smaak, weet jy?”

“K-ken Meneer Poets of the F-Fall?”

“ ‘Carnival of Rust’ is een van my gunstelinge,” antwoord hy en kyk my aan asof ek hom nie vandag gaan vasvra nie.

“Sjoe, M-Meneer. Ek kan dit nie g-glo nie.”

“Eendag sal ek jou dalk my CD-versameling wys,” spog hy. “Ek steel nie van die internet af nie. Ek koop en ondersteun veral bands wat baie talent het.”

“Ek sal dit g-graag wil sien,” sê ek opgewonde.

“Kan ek jou iets vra?” vra meneer Visser uit die bloute.

“Enige tyd, Meneer.”

Hy hou my noukeurig dop. “Die hakkel-ding? Het dit eers ná verlede Kersfees begin?”

Ek laat sak my kop en knik.

“Enige idee waarom?” vra hy sag.

Ek haal my skouers op. “Mis … miskien die s-skok, Meneer. Dis maar w-wat ek en m-my ouers dink.”

“Hou jy van Coldplay?” vra meneer Visser wat agterkom ek klim netjies in my dop terug.

“Ek doen, Meneer.”

“Kyk vir my, Dewald.”

Ek kyk op en sien die vasbeslotenheid in sy groen oë.

Hy steek sy hand uit, vat my gewrig oor die tafel vas en gebruik die woorde van een van Coldplay se songs: “Lights will guide you home. And ignite your bones. And I will try to fix you. Ek belowe jou, Dewald.”

Ek knik met waardering, maar ek twyfel of meneer Visser dit wat stukkend is regtig sal kan regmaak.

Vlerke vir almal

Подняться наверх