Читать книгу Vlerke vir almal - Marion Erskine - Страница 6
3
ОглавлениеEerste pouse sit ek eenkant en hou die skool dop. Hier en daar hardloop ’n klomp graadagts rond terwyl die matrieks soos toeskouers op bankies in ’n ry sit. My ma het my kosblik gepak en natuurlik is daar ’n briefie binne:
Ek’s so trots op jou, Patat. Bel my as jy voel alles raak te veel. Lief jou. Mamsie. XXX.
My liewe ma was nog altyd oorbeskermend, maar sedert die insident het sy behoorlik obsessief begin raak. Sy staan aanhoudend op in die nag om seker te maak ek’s oukei. Alles fine as jy elf jaar oud is, maar die laaste ding wat ’n seun van sewentien wil hê is dat sy ma tydig en ontydig by sy kamer instap.
“Hei,” groet ’n lang ou voor my net ná ek die helfte van my toebroodjie in my mond gestop het. Ek herken hom en sy gemmerkuif van die registerklas.
“Hei,” mompel ek en probeer die homp brood agter my hand afgesluk kry.
“Dit was baie braaf wat jy vanoggend met Aldi in die klas gedoen het,” sê hy in sy skik en plak homself langs my neer.
“Oukei,” antwoord ek uiteindelik toe ek die brood af het. “Ek is nie bang v-vir haar nie.”
“Dan is jy die enigste een in die skool. Selfs die onnies is bang vir haar en haar pa.”
“Vir wat?”
“Haar pa is so invloedryk, hy kan die Pope se mind vir hom change. En Aldi het verlede jaar vir Jaco Geldenhuys tot in die hospitaal geslaan.”
“En sy’s nog s-steeds in die skool?” vra ek. “’n Mens kan mos g-geskors word.”
“Jip,” antwoord die ou. “Alles te danke aan Pappa wat die skool se grootste borg is.”
Ek knik en byt hierdie keer ’n kleiner stukkie brood af.
“Ek’s Andries, maar almal noem my Beesbal,” sê hy sonder om ’n gesig te trek en steek sy hand uit.
Ek verstik amper in my brood, maar probeer om my lag te hou. “Dewald … um … almal noem my s-sommer Dewald.”
“Aangenaam,” sê hy en kraak die beentjies in my hand. Wat is dit met hierdie skool se mense?
“J-jammer oor die hakkelry,” maak ek verskoning.
“Dude,” lag hy. “Ons almal het ons thing. Ek’t tot in graad vyf nog my bed natgepie.”
Nou lag ek kliphard. Dis so lekker om iemand te ontmoet wat nie sy gesig op ’n frons trek wanneer ek begin vassit in my woorde nie.
“TMI,” sê ek.
“Huh?”
“Too much information,” verduidelik ek.
“Ag, ek’t sommer vroeg in my lewe besef hoe vinniger jy jou shortcomings aanvaar, hoe beter,” verduidelik hy. “So vir wat kom jy na ’n nuwe skool in graad elf? Het julle getrek van iewers af?”
“Nee,” antwoord ek en hou eerder drie meisies dop wat agter ’n selfoon giggel.
“O, oukei,” sê hy en vang waarskynlik die skimp dat ek nie verder oor die onderwerp wil praat nie.
“W-waar kom die Beesbal vandaan?” vra ek nuuskierig.
Andries lag en gooi sy kuif terug. “Dis nie wat jy dink nie. Toe ek klein was, het my tannie vir my ’n bal gekoop met die Hey Diddle Diddle-koei wat oor die maan spring daarop. Ek was mal oor die ding en wou nêrens sonder my ‘beesbal’ gaan nie. Van toe af het ek die bynaam gekry en hy’t bly sit.”
“Ek kan dit glo,” sê ek beslis.
“Maar,” sê Beesbal met laggende oë. “Dis ’n lekker icebreaker as jy girls ontmoet.”
“Daaroor t-twyfel ek nie.”
“Karlien!” roep Beesbal toe hy ’n blonde meisie op die speelgrond gewaar. “Kom gou hier!”
’n Beeldskone meisie kom nadergestap. Sy het die mooiste blou oë, sien ek.
“Karlien, dis Dewald,” stel hy ons voor. “Dewald, dis Karlien. Sy’s eintlik heel oukei en een van die gevalle waar die heelal genadig was en vir haar breins én beauty gegee het.”
“Stop dit, Bees!” raas sy en gee hom ’n hou op die boarm.
“Ek’s mal oor ’n girl wat beskeie is,” terg hy.
“Haai,” groet Karlien en ignoreer vir Beesbal.
“L-lekker om jou te ontmoet,” sê ek.
“Het jy gehoor wat Dewald vir Aldi gesê het?” vra Beesbal met ’n grinnik.
“Almal in die skool weet al,” sê Karlien terwyl sy haar naels bestudeer. “Jy moet versigtig wees vir haar, Dewald. Aldi gaan jou nou merk.”
“Sy kan p-probeer,” sê ek braaf, maar wonder waarom almal in die skool so vreeslik bang is vir Aldi.
“Watter vak het jy hierna?” vra Beesbal.
Ek haal my rooster uit my hempsak. “Hm … Engels.”
“Great!” sê hy. “Dan is jy saam met my en Karlien in die klas. Dit gaan bevange wees.”
Die klok lui en die drie van ons stap aan klas toe. ’n Meisie met raafswart hare kom aangeloop en ek besef ek staar na haar in die verbystap.
“Ken jy haar?” vra Beesbal en stamp met sy elmboog teen my skouer.
“Nee,” antwoord ek en draai om en sien hoe die meisie om ’n hoek verdwyn. “S-sy herinner my aan ie-iemand wat ek ken.”
Daar’s ’n rustelose gefluister toe ek saam met Beesbal en Karlien by juffrou Du Rant se klaskamer instap. Blykbaar het my en Aldi se onderonsie die hele Twitterverse aan die gons met die hashtag #vatsoaldi – wat dit ook al is. Ek en sosiale media is verlangs familie, want ek weet daarvan, maar is nie alewig op my foon soos ander tieners nie. My Facebook-profielfoto – ’n anime-karakter – is twee jaar laas verander.
Doer eenkant in die klas sit ’n meisie en waai. Ons stap nader.
“Dewald,” stel Beesbal haar voor. “Hierdie is Nom-Nom. Die coolste girl suid van die ewenaar. Nom-nom, dis Dewald.”
“Ag, Beesbol,” sê die meisie en gooi ’n skreeulag wat die hele klas laat staar. “Jy was nog altyd ’n charmer en Dewald, my naam is Nomaswazi.”
“Onthou dit wanneer ek jou eendag vir die matriekafskeid vra!” sê Beesbal en knip vir haar oog.
“Asof jou familie dit sal waardeer as jy met mý by die dans opdaag.”
“Wat het jy teen gingers? Ek dog Ebony en Ivory gaan die koerant haal!”
“Toe, toe, julle!” keer Karlien na Nomaswazi se nuutste vulkaniese lagontploffing. “Hou nou op met julle lawwigheid.”
Nomaswazi kom tot bedaring en kyk my op en af. “So moet ek jou eerder sir Dewald noem?”
“H-hoekom?” vra ek verbaas.
“Jy’s die eerste een in ’n baie lang tyd wat teen die draak opgestaan het!” sê sy grootoog. “Aldi kan seker nou nog nie glo iemand het vir haar nee gesê nie.”
“Dis nie so ’n big d-deal nie,” strompel ek.
“Sê die dragon slayer!” lag Beesbal en skuif by sy sitplek in. “Aldi gaan dit nie hier los nie. Maar nou’t jy vir ons om jou te beskerm.”
“Dit sal die dag wees!” sê Karlien en gaan sit langs Nomaswazi. “Ons is hier vir emosionele ondersteuning en die foto’s vir wanneer sy jou lewend op die rugbyveld gaan begrawe.”
“Dalk sal sy biltong-bites van jou maak,” terg Beesbal.
“Is sy r-regtig so erg?” vra ek. Miskien het ek nie geweet waarvoor ek myself ingelaat het nie. Miskien moes ek maar net gehoorsaam opgestaan het. Nee. Ek sal nie toelaat dat Aldi of enigeen vir my sê wat om te doen nie.
Juffrou Du Rant kom ingestap voordat iemand my hangende vraag kan beantwoord. Sy gaan staan voor die klas en maak keel skoon. Almal staan op en groet haar. Sy is veel jonger as juffrou Barkhuizen, maar het definitief ’n militaristiese houding.
Ek neem aan om ’n onnie in die huidige onderwyssisteem te wees, moet jy waarskynlik ’n weermagkwalifikasie agter jou naam hê om met tieners – ook bekend as Weapons of Mass Destruction – te werk.
Juffrou Du Rant vertel ons van haar verwagtinge hierdie jaar en ook hoeveel werk vir ons voorlê. Sy klink heel opgewonde oor ons voorgeskrewe boek, George Orwell se Animal Farm, en sê ons sal dit baie geniet as ons bereid is om ’n bietjie buite die boks te dink.
Voor ek dit mooi besef, lui die klok aan die einde van die dag. Behalwe vir my registerklasavontuur vanoggend, het alles goed verloop. Beesbal, Nomaswazi en Karlien het ook Lewenswetenskappe en Afrikaans saam met my en hulle lyk na lekker vriende om te hê.
Gelukkig lyk dit of Aldi net in my registerklas is, en dit pas my goed. Ek het nie na die nuwe skool toe gekom om vyande te maak nie. Ek is hier om weg te kom van die bejammerende oë en mense wat agter my rug sit en wonder waarom ek oornag, op sewentienjarige ouderdom, ’n spraakgebrek ontwikkel het. Miskien was die skok te groot. Miskien dit. Miskien dat.
Ek gewaar my pa wat staan en waai toe ek by die skoolhek uitstap. Os is ver genoeg geparkeer en ek besef my pa – hoewel hy dit nie sal erken nie – weet dat sy kar lelik afsteek teen die ander in die omtrek. Dis goed om vir Pa te sien. Miskien was hierdie idee van Ma nie so sleg nie. ’n Verandering is dalk net wat ek nodig het.