Читать книгу Vlerke vir almal - Marion Erskine - Страница 7
4 TERUGBLIK
ОглавлениеDis middel Augustus en die wintersonnetjie bak lekker op die grasperk in ons agtertuin. Ek en Nicola het, vandat ons klein was, ’n gewoonte om wolkformasies te ontleed terwyl ons plat op ons rûe op die gras lê. Natuurlik is Nicola baie kreatiewer as ek en sien dinge soos ruspes, skerpioene en die buitelyne van Australië, terwyl my kreatiefste oomblik ooit, ’n hasie was.
“Is jy seker jy’t al die landmyne opgetel?” vra sy en skandeer eers haar kolletjie gras voordat sy op haar lug gaan lê.
“Natuurlik het ek,” verseker ek haar. “Boef het in elk geval sy hoek waar hy deesdae die landmyne lê.”
Boef is ons Labrador en hy’s so oud soos die Drakensberg. Ma-hulle het hom al van voor ek gebore is.
“Sê my, Schmetterling,” vra Nicola asof sy diep dink. “Hoe voel dit om ’n man te wees?”
Ek maak my gemaklik langs haar en ons koppe raak amper. “Is hierdie weer een van jou uitvangvrae?”
“Miskien,” sê sy. “Watter voordele is daar om ’n man te wees?”
“Wel,” raai ek, “ons bekommer ons nie so veel oor grimering en goed nie.”
“Ek sien,” sê sy. “Nog iets?”
“Wel, ek dink ek praat namens alle manne as ek sê ons is dankbaar ons kan staan tydens ’n nommer een.”
Nicola bars uit van die lag. “Ja, daai’s ’n groot voordeel.”
“Daai een lyk al weer soos ’n hasie,” sê ek en wys na een van die wolke.
“Nee man, dis ’n Volkswagen Beetle.”
“H’m, dalk,” stem ek saam en draai my kop skeef. Hoe doen sy dit?
“Wat is vir jou die aantreklikste eienskap van ’n meisie?” vra Nicola skielik.
“Ek’s ’n ou wat hou van groot …” rek ek die sin uit. “Persoonlikhede.”
Nicola giggel lekker. “Ek’s vas oortuig alle mans hou van groot ‘persoonlikhede’.”
“So waarvan hou jy?” vis ek uit. “Harige bobene?”
Dit lyk of ek haar ’n suur druif gevoer het. “Nee! O nee!”
“Nou maar wat dan?”
“Ek dink ek hou van dieselfde goed as jy,” sê sy vir die wolk daarbo.
“Ek twyfel of jy van presies dieselfde goed as ek hou,” glimlag ek. Die Jessica Alba-poster teen my kamerdeur is ’n goeie voorbeeld.
“Ek wil jou iets vertel, maar jy mag vir niemand sê nie.” Sy draai my gesig na hare. Een oog kyk stout na my terwyl die ander een agter ’n raafswart haargordyn wegkruip.
“Daar’s ’n man in jou lewe?” vra ek skielik. Dis skrikwekkend om te dink my beste vriendin, van oor die agt jaar, het dalk ’n ou in haar lewe. Wat gaan van my word? Wat as hy een van daardie jaloerse tipes is wat haar geen vriend of vryheid gun nie? Die dag sou seker kom, maar hoekom is ek nie voorbereid daarop nie?
“Nee,” sê sy en bloos effens. Iets wat Nicola bitter min doen.
Ek kom orent en hou haar fyn dop. “Wat dan?”
Nicola kyk rond en fluister: “Schmetterling, ons kom al baie jare saam, ek en jy. Ek weet as daar iemand is wat my sal bystaan is dit jy, want jy’s lief vir my soos ek is.”
“Jy’s swanger!” glip die woorde uit voor ek kan keer.
“Nee!” roep sy en haar skaterlag weergalm deur die buurt. Dis eers nadat sy tot bedaring kom, dat sy my diep in die oë kyk en sê: “Tien maal erger! Ek … is gay.”
Ek sit asemloos na haar en kyk.