Читать книгу Israel-reeks 11: Hooglied - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 5
Hoofstuk 1
ОглавлениеJerusalem
April 2018
Nisan/Iyar 5778
Marc herken Simon aan sy slap hoedjie wat laag oor die ore getrek is en beswaarlik uitsteek bokant die enorme rugsak en ander sakke wat aan sy skouers hang, en aan die baard, die woeste hare wat met ’n toutjie in die nek vasgeknoop is, die verslete jeans en sandale. Hy skud sy kop en lag by homself. Dit was ’n uitgerekte wag voor dié man uiteindelik deur die swaaideure te voorskyn gekom het. Marc kan goed begryp dat die valkoë van die sekerheidsmense op die Ben Gurion Internasionale Lughawe nie maklik so ’n anderwêreldse figuur sonder meer sou oorsien nie. Hy het Simon vooraf gewaarsku om nét dit te antwoord wat hulle vra, en nie oor homself uit te brei nie. Dit maak hulle agterdogtig. Maar hy ken vir Simon …
Toe hy in 2016 ná sy stiefpa se skielike dood by sy ma in Suid-Afrika was, het hy en Simon weer hul vriendskapsbande hernu. Dis by Simon dat hy soveel jare gelede op Stellenbosch buite skoolure privaat kunsonderrig ontvang het. Hulle het steeds kontak behou. ’n Ruk gelede het Simon besluit om ’n sabbatsverlof van twee maande plus die April- en Junie/Julie-skoolvakansie te neem om ’n verhandeling oor Marc Chagall se lewe en werke te skrywe. Beide het besef dat daar geen beter plek is om vir navorsing te gaan delf as in Jerusalem nie.
Marc het vir die ses weke wat Simon beplan om in Israel te bly by Ya’akov, hul wewenaar-buurman in die Ou Stad, vir verblyf gereël. Ook het hy en Rivkah besluit om ná Shavuot ’n paar dae verlof te neem om saam met hom ’n kort toer na interessante plekke in die land mee te maak. Dit sal wees net voordat hy teruggaan. Hulle het gevoel hy moet darem ’n bietjie meer van Israel weet as net Chagall se werk en lewe.
Toe Simon eindelik vir Marc gewaar, laat hy albei die sakke van sy skouers af op die grond val. Marc ys by die geluid van ’n skootrekenaarsak wat die teëlblad ongenadiglik tref. Die twee omhels mekaar entoesiasties.
“Goeie genade,” sug Simon, “ek dag die vent vra my nog om my onderbroek ook uit te trek.”
Marc lag: “So erg kon dit darem nou ook nie gewees het nie.”
“Jy’t g’n idee nie! Die feit dat ek nou verdomp ’n Iranse stempel van vyf jaar gelede in my paspoort het, was net vir die man te veel. Ek het hom probeer verduidelik wat ek van ajatollas dink, maar …”
“Simon, ek het jou gesê om nie uit te wei by die sekuriteit nie. Jy moet net die vraag beantwoord. Wat het hulle gevra?”
“Wat ek in Teheran gaan maak het.”
“Toe moes jy net gesê het: Ek was lid van ’n studiegroep in die beeldende kunste.”
“Ek het so gesê, maar toe wou ek net vir hom …”
“Dis waar jy die fout gemaak het. Nog voordat jy jou mond oopgemaak het, het hy al geweet dat jy met ’n studiegroep daar was. Hy wou jou dit net hoor bevestig, maar toe begin jy met ’n storie oor die ajatollas en hy dink: Wat het die man nóg verder daar gaan soek?”
“Maar my hemel!”
Marc tel die skootrekenaarsak op en haak dit oor sy skouer. “Kom,” sê hy, “die dag stap aan.”
Net toe hulle Jerusalem binnery, gaan daar ’n sirene af en die verkeer kom dadelik oral tot stilstand.
“Wat de duiwel … ?”
Marc maak die deur aan sy kant oop. “Klim net uit en staan stil. En bly staan totdat die sirene stop. Ek het vergeet om jou te waarsku.”
Rondom hulle verlaat mense oral hul motors, busse, vragwaens en taxi’s. Direk langs hulle klim drie vroue in uniforms uit ’n motor wat met mishtara gemerk is. Almal staan doodstil terwyl die sirene oor die stad skel.
Simon kyk verbluf om hom heen.
Toe hulle albei terug in die motor is en Marc dadelik begin ry, verduidelik hy.
“Ek het vergeet om jou voor te berei. Dis vandag Yom HaShoah. Die Holocaust-gedenkdag. 12 April.”
“En?”
“Dis maar ons manier om die ses miljoen te herdenk.”
Simon trek sy asem diep in. “Julle Jode … julle is … anders.”
“Jy sal nog baie meer daarvan sien.”
“Dit glo ek.”
“Wat is mishtara?”
“Polisie. Hoekom?”
“Die motor wat langs ons stilgehou het.”
“Kyk!”
Marc beduie met sy kop na links. Die Heilige Stad verrys oor die heuwels – in lig gebaai.
Dit laat Simon stil word.
Omdat Yom HaShoah ’n nasionale vakansiedag is, is Marc en die seuns af, maar Rivkah is tot drieuur aan diens. Toe hulle die woonstel in die Ou Stad binnekom, is Chaya eerste by haar pa en slaan haar armpies om sy nek toe hy haar optel.
“Abba!” roep sy oorstelp asof sy hom ’n jaar laas gesien het en nie net twee uur tevore nie.
Die twee honde dans ook om hom. Die wolbondeltjie kef skel. Na agter staan die seuns die vurige begroetings en gadeslaan.
Marc kyk oor die kleine se wilde swart krulkop na Simon, wat ietwat onseker in die deur agtergebly het.
“Kom,” sê hy in Engels, wink met sy kop en laat Chaya op die grond sak. “Moenie dat ons sirkus jou skrikmaak nie. Ek sal jou voorstel.”
“Chaya,” sê hy en tik op die koppie teen sy knieë. “Sy het verlede week twee geword. Dié is Yhosh. Hy word in Augustus 13.”
Yhoshi, wat sy bes doen om verveeld te lyk, steek sy hand na Simon uit.
Natan het intussen styf teen sy pa kom staan en Marc slaan ’n arm om hom. “Dis Natani,” sê hy en Simon merk die sagte trek om sy mond, “ons middelste. Hy word een van die dae 11.”
Natan glimlag op na Simon, wat oor hom toring.
“Shalom shalom,” sê hy. “Mah shlomcha?”
“Hy vra hoe dit gaan. Natani, jy moet met Simon Engels praat.”
Die seuntjie knik en gaan ongesteurd voort in redelike Engels. “Shimón, dit is Simcha.” Hy lê sy hand op die groot kollie se kop. “En dit is Shmu’eli.” Hy wys na die wolhaarhondjie. “En daar op die bank lê Shishi, dis my kietsie,” beduie hy in die rigting van ’n langhaargemmerkatjie.
“Wil jy nie nog die voëls buite ook aan hom voorstel nie?” mompel sy broer.
Marc kyk waarskuwend na Yhoshi.
“Bly te kenne!” Simon buig sy kop. “Ek is Simon. Ek het julle pa leer skilder.”
“Lo?” Natan skud sy kop.
Marc lag. “Dis reg, Natani, hy sal jou later vertel.”
“En jy is ook ’n kunstenaar?”
“So is dit, Natan, maar ek sal jou later vertel hoe dit werk.”
“Abba,” sê Yhoshi, “ek het net gewag dat jy terugkom. Ek gaan af plein toe met Simcha. Avraham-hulle is daar.”
“Beseder. Moet net nie laat kom vir ete nie.”
Vanuit die kombuis waar hy koffie maak, sien Marc vir Natan langs Simon op die rusbank sit. Chaya het op die ander rusbank geklim, fopspeen in die mond. Sy druk die geduldige kat teen haar aan.
Natan en Simon praat asof hulle mekaar al lank ken. Marc is bly dat Natan redelik goed Engels praat en Afrikaans hier en daar verstaan, maar hy merk geamuseerd dat hy duidelik opsetlik hier en daar Hebreeuse woorde tussenin gooi.
“Kan jy ook teken?” hoor hy Simon vra.
Dit laat Marc glimlag.
“Ek kan,” sê Natani.
“Kan jy vir my wys wat jy doen?”
“Ek kan.”
“Bring dat ek sien.”
Toe Natan met sy sketsboek langs Simon op die bank inskuif, hou Marc onbewustelik sy asem op.
“Maar, Natan, is jy seker jy het dit alles self gedoen of het jou pa jou gehelp?”
“Hy het nie.”
Simon draai om na Marc, wat die koffie staan en skink asof hy niks gehoor het nie.
“Is dit so?” vra hy in Afrikaans.
“Wat?”
“Dat hierdie knaap ál hierdie werk op sy eie gedoen het.”
“Ja.”
“Maar dan is hy ’n genius.”
“Wie weet … ?”
“Jy weet goed. Hy is jou eie kind, hè!?”
“Dít weet ek ten minste,” sê Marc gedemp.
Teen twee-uur bel Rivkah om te sê sy sal laat wees, want daar was ’n terreurvoorval. Sy druk die foon dood voordat Marc kan vra wat gebeur het.
Sy kom eers ná ses by die huis.
“Die soveelste rabbi,” sug sy toe sy in die deur moeg teen Marc aanleun. “Die soveelste! Hoekom om vadersnaam gebruik hulle steeds die Damaskuspoort?”
Toe merk sy Simon op die agtergrond en onthou vir die eerste keer dat hy vandag sou aankom. Sy trek haar skouers regop en druk haar vingers deur haar natgeswete hare.
“Shalom shalom, Shimón,” slaan sy oor na Engels, “dis jare dat ons mekaar laas gesien het.”
Hulle omhels mekaar en sy tel Chaya op wat na haar toe aangekom het. Sy druk Chaya se gesiggie teen haar nek en neem die stetoskoop wat sy ontdek het, versigtig uit haar handjies.
“Ek is jammer ek is so laat, maar daar was weer ’n noodlottige messtekery by een van die ingange na die Ou Stad,” sê sy sag. “Ek hoop jy kon jou al tuismaak by Ya’akov.”
“Vir seker, vir seker,” stamel Simon byna, half oorhoops. “Dit moes vreeslik vir jou gewees het,” is al wat hy kan dink om te sê. Die gesig van die tenger vrou met die bloedvlekke aan haar uniform ontsenu hom.
Marc besef dit. Hy neem Chaya by Rivkah.
Toe trek hy haar teen hom aan en soen haar in haar hare. “Gaan stort jy lekker, chamudah. Ek sal Chaya gou kos gee en in die bed sit; ek het haar gebad voordat ek lughawe toe is.”
Rivkah huiwer net ’n oomblik, maar toe maak sy haar uit sy omarming los en gaan sonder om weer te praat hul slaapkamer binne.
“Jinne,” mompel Simon toe hulle alleen is. “Ek het vergeet hoe mooi sy is – al is sy so gedaan.”
Marc glimlag flou. “Jammer dat jou eerste dag hier al so traumaties is.”
“Hoe leef julle elke dag daarmee saam?”
“Oor ons nie ’n keuse het nie. Kom, ek skink vir jou ’n glas wyn sodat jy kan kalmeer.”
“Hel, dit het ek sowaar nodig.”
17/18 April
2/3 Iyar
Hulle sit op die balkon oor die Hurvah-plein en uitkyk. Dit het aand geword. Die kinders is al bed toe. Uit die seuns se kamer skyn nog lig. Yhoshi is soos altyd op die laaste oomblik met ’n werkstuk besig wat oor twee dae moet in wees.
Die geur van die voorjaar hang in die lug. Onder die plein se lampe kan ’n mens die groenigheid van die nuwe blare aan die iepe sien. Die aand is soel en oral op die plein lewe dit van jong mense. ’n Groepie in soldaatuniform sit en sing met ritmiese handegeklap en voetgestamp op die lae klipmuurtjie voor die Hurvah-sinagoge.
“Ek verstaan môre is weer so ’n watsenaam-dag,” sê Simon en strek hom gemaklik uit in sy stoel.
Rivkah glimlag skeef. “Wat is ’n watsenaam-dag, Shimón?”
“Toe ek skemer se kant hier onder gaan loop sigarette soek, het daar mos weer so ’n sirene afgegaan. Nes verlede week toe ek en Marc Jerusalem net binnegekom het. En almal het net daar en dan alles gelos en gaan stilstaan. Ek ook maar. Toe hoor ek hulle hier onder praat van ’n Yom-something.”
Rivkah grinnik. “Môre het eintlik al begin, soos jy nou al weet. As die son ondergaan. Dit is Yom HaZikaron. Die dag begin altyd met ’n een minuut lange sirene. Daar sal môreoggend elfuur weer ’n sirene afgaan, maar dan vir twee minute en in die militêre begraafplaas op Har HaZikaron. Dis ’n herdenking vir gevalle soldate en slagoffers van terreur. Dit staan vanjaar op 23 646.”
Simon kyk haar aan. “Is jy ernstig?”
“Ek is, Shimón.”
“Dit is erg.”
Sy knik. “Marc neem die seuns môre na die seremonie in die begraafplaas. Jy kan saamgaan as jy wil.”
“Natuurlik wil ek.”
“Dit sal jou beter laat verstaan.”
“En jy dan?”
“Ek is aan diens daar, Shimón. Miskien sien jy my nog in aksie. Hopelik nie …”
“Wat word van … die baba?”
Rivkah glimlag. Sy het die afgelope week gesien die kleine steel sy hart. “Savta Hadassah kom haar oppas.”
“Ouma?” vra hy onseker.
Sy knik. “My ma. Jammer jy het hulle nog nie ontmoet nie. Sy en my pa het gisteraand eers uit Amerika teruggekom. Hy was by ’n kongres.”
“Jou pa is ’n rabbi?”
Sy knik. “Nachon.”
“Ons gaan Erev Shabbat by hulle Shabbat hou,” vertel Marc. “Maar onthou net oormôre is nóg so ’n dag.”
“Nóg een?”
Marc se gesig versomber. “Jy sal môre baie hartseer mense sien. Baie trane. Mans en vroue en kinders. Maar met sonsondergang môreaand word dit Yom Ha’Atzmaut. Dan slaan alles meteens oor na ’n hengse feesviering soos jy nie sal kan glo nie.”
“Bedoel jy direk daarna?”
“Direk daarna.”
Simon skud sy kop ongelowig. “Julle Jode …”
Dis ’n helder wolklose dag toe hulle vier net ná nege die Light Rail na die Herzlberg-begraafplaas haal. Die binnestedelike trein is gepak. Hulle kry beswaarlik staanplek. By elke stilhouplek druk die passasiers net verder op mekaar en roep: “Bo’u! Bo’u!” vir nóg om in te klim. Mense omhels mekaar oral. Sommige is duidelik bedroef.
Marc merk die byna beskermende houding wat Natan teenoor Simon ingeneem het. Hy bly by hom, wys subtiel talle dinge aan hom uit. Die groot man met sy dikwels bruuske gedrag neem dit sonder meer aan. Marc besef dat Simon sy eie gesin moet mis wat hy met sy egskeiding grotendeels verloor het.
Waar hulle by die Herzlberg van die trein afklim, verswelg die mensemassa hulle byna. Byna almal het blomme by hulle en is na dieselfde plek op pad. Busse, treine en taxi’s kom onverpoos aan om nog meer te bring.
Binne die ingang kry elkeen ’n pamflet met psalms op in die hand en word ’n bottel water aangebied, want die dag het warm geword. ’n Groot tafel het blomme in sellofaan toegedraai daarop. Dit kan klaarblyklik sonder betaling geneem word.
“Wat beteken dit?” vra Simon en wys na die woord Yizkor wat saam met die afbeelding van ’n menora en olyftakkie op die sellofaan verskyn.
Marc gee Natan kans om te antwoord. Yhoshi se aandag is nie by hulle nie, want sy oë soek deur die menigte na maats wat hy daar verwag.
“Yiskor beteken ‘onthou’ en dit is ’n menora,” sê Natan terwyl hy daarop druk. “En weet jy wat dit is?”
“Lyk soos die blare van iets.”
Die kind grinnik. “Dis ’n olyftakkie. Dit en die menora is ons teken.”
“Dis nie ons teken nie, dis die embleem van die staat Israel,” korrigeer Yhoshi geïrriteerd.
“Ek sien.”
Hulle meng met die skare wat stadig teen die heuwel uit beweeg. Namate hulle al hoër beweeg van die een vlak van die begraafplaas na die volgende, sien hy op die trappe voor hom swart leërstewels, rooi leërstewels, stapskoene, delikate sandale, plakkies, noem maar op. Baie mans het, soos Marc en die seuns, wit hemde aan en donker broeke met swart kalotjies.
“Wat is dit?” vra hy weer gedemp vir Natan, wat dig teen hom loop, en wys na die wit toutjies wat oor sommige broeke hang.
“Dis tzitzit,” verduidelik Natan. “Abba kan later vir jou vertel hoekom ’n mens dit dra.”
Hy laat dit daar. “Waarheen loop almal?”
“Na die nuutste grafte,” sê Marc agter hom. “Dié hier rondom is grafte van verskillende oorloë. Ons kan later daarna kom kyk. Dis baie interessant.”
Daar is soveel mense dat Simon die grafte beswaarlik kan sien, maar dit blyk dat daar derduisende van hulle is – identies met eenvoudige grafstene. Op elkeen is ’n klein wit-en-blou landsvlaggie. Langs die pad wat hulle loop, hang ry op ry groter vlae.
“Die soldate het dit gister kom doen,” lig sy persoonlike gids hom in. “Op elke graf ’n vlaggie kom sit.”
In die volgende uur beleef Simon beelde wat lank daarna nog in sy gedagtes sou bly hang. Marc hou sy vriend dop en begryp wat met hom gebeur. Hy praat dus byna nie; laat Natan eerder toe om hom in te lig.
Hoe nader hulle aan die gedeelte met nuwer grafte kom, hoe meer mense is daar met blomme.
Geen graf blyk sonder blomme of met ’n klein flikkerende kersie daarop te wees nie. Toe hulle by die nuutste groepering grafte aankom, is daar skaars beweegruimte. Maar Natan bring hom na ’n plek waarvandaan hy kan neerkyk op die toneel.
Daar kom ’n ontroering oor Simon. Hy moet sluk weens die noute in sy keel. Op ’n eenvoudige grafsteen soos van elke ander graf is daar op ’n besondere een ’n groot gekleurde foto van ’n swart soldaat in uniform, geweer oor die skouer. ’n Vrou sit daar, haar gesig teen die foto aangeleun. Sy huil sag. Familielede staan om haar geskaar, hulle gesigte is nat van die trane.
“Dis ’n Etiopiese soldaat,” sê Natan sag langs hom.
“Is hulle Jode?”
“Ken.”
By die graf langsaan lê ’n jong seun, kippah op die kop, huilend oor die grafsteen. ’n Man en vrou sit aan die voetenent van die graf, arms om mekaar. By die volgende graf, waarop ’n pragtige rooi krans lê, sit ’n jong man stil met sy kop in sy hande. Nog ’n Etiopiese vrou, met ’n boekie in die hand, waak by ’n graf.
“Sy bid uit die siddur,” vertel Natan gedemp.
“Wat is dit?” fluister Simon.
“Gebedeboek.”
“Sy is ’n Jood?” vra hy weer.
“Ken, Shimón!”
Simon kyk na die jong vrouesoldaat wat ’n entjie van hulle af staan. Vreemd lyk die verfynde handjie met die ligroos naellak wat ’n gevegsgeweer vashou. ’n Jong vrou in burgerdrag, baba in stootkarretjie langs haar, huil bitterlik met haar gesig teen ’n grafsteen aangedruk. Nóg ’n vrou met ’n kleuter op haar skoot rangskik rose op ’n nuwe graf. Haar familielede rondom haar huil droewig. Talle bejaarde mense sit langs die grafte op wit bankies wat beskikbaar gestel is. Die pyn is diep om hul monde en oë gegroef.
Hy sien ’n ma oor ’n grafsteen gebuk wat ’n fluistergesprek met haar seun voer. Hy is in die fleur van sy lewe afgemaai. ’n Jong man, waarskynlik ’n broer, staan woordeloos by haar. Sy verstrengelde hande is wit gekneukel. Hy is in uniform. Simon sien by ’n graf met die foto van ’n jong vrouesoldaat op die steen ’n ou dame wat haar ouma moet wees. Sy raak haar kleindogter se gesig met vertedering aan terwyl trane oor haar wange loop. Daar is soldate wat roerloos by elke graf staan; ’n groepie jong soldate wat ’n strak kringetjie by ’n graf vorm en bitterlik huil.
Wat sou in hulle harte omgaan? wonder hy.
Dit word elfuur en weer sny die sirene deur die treurendes sodat almal daarvan beef. Die soldate kom op aandag en salueer.
“Hoor jy die voëltjie, Shimón?” fluister Natan, sy gesiggie nat van die trane.
“Ek hoor hom,” fluister Simon terug en voel ’n rilling teen sy lyf afloop.
Oor die mikrofoon word in Hebreeus gepsalmodieer. Dis ’n diep vrouestem en die geluid ruk deur Simon se menswees. Dit het doodstil geword. Daar is net die geluid van mense wat sag huil.
“El Malei Rachamim,” prewel Natan.
Marc, wat reg agter Simon kom staan het, buig tot teen sy skouer en sê baie sag. “Dis ’n Joodse gebed vir die siel van ’n persoon wat gesterf het. Kyk op die papier wat jy by die ingang gekry het.”
Simon volg die Engelse vertaling terwyl dit gesing word: “O God vol medelye en ontferming wat in die hemel woon, skenk ware rus op die vleuel van die Shechinah, in die verhewe sfeer van wat heilig en suiwer is, wat skyn soos die luister van die firmament …”
Ná afloop daarvan kom daar beweging onder die skare. Sommige gaan huis toe en ander bly agter om na die toesprake te luister wat oor die mikrofoon uitgesaai word.
Marc-hulle dwaal nog verby die baie grafte terwyl hulle Bibi Netanyahu se toespraak oor luidsprekers hoor van waar die verrigtinge aan die gang is: “Vandag is daar ’n wolk van droefheid wat Jerusalem omsluit,” sê hy in Engels. “Trouens, dit omsluit altyd families, gesinne, kinders, weduwees, vriendinne, broers en susters wie se geliefdes gedurende Israel se oorloë gedood word terwyl hulle hul pligte uitvoer; en hierdie dinge gebeur terwyl konflikte voortwoed tussen die oorloë en wanneer brute terreuraanvalle geloods word.
“Vandag smee ons onderling ’n verbintenis en deel ons die lot wat almal van ons met die diep bedroefde families en gesinne verbind. Almal van ons saam buig die hoof ter nagedagtenis aan die gevalle soldate en die ander wat deur die toedoen van terroriste gedood is. Ons is een nasie.”
Almal in die begraafplaas kom aan die einde van die seremonie tot stilstand toe die ontroerende klanke van HaTikvah die lug vul en mense net daar waar hulle is, op aandag staan.
“HaTikvah. Dis ons volkslied,” fluister Natan vir Simon.
Toe dit klaar is, draai Marc emosioneel na Simon, sy oë blink van ingehoue trane.
“HaTikvah beteken ‘die hoop’. Dis ’n hoop wat 2 000 jaar oud is en wat ons na hierdie land teruggebring het wat ons, ten spyte van alles, hier hou en wat ons wat uit soveel verskillende agtergronde afkomstig is, kom saambind. Dis die hoop wat ouers van soldate help om nie van hul verstand af te raak nie en wat dit vir ons seuns en dogters moontlik maak om in die IDF te dien.”
Simon lê sy hand op Marc se skouer. Hy het nie woorde nie.
Yom Ha’Atzmaut
18/19 April
3/4 Iyar 5778
Simon leer al gou dat Israel se Onafhanklikheidsdag een van uitbundige feestelikheid is. Dis of die bitter pyn van Yom HaZikaron draagliker word voor die jubeling waarmee die totstandkoming van ’n eie staat ná soveel swerfjare en vervolging in die diaspora in herinnering geroep word.
Daar is allerhande okkasies reg deur die stad. Vir die Krige-gesin en Simon begin dit ook die aand van die 18de met sonsondergang. Dis nie te lank nadat hulle teruggekom het van die Herzlberg af nie. Gelukkig is die volgende dag ook ’n nasionale vakansiedag en kan die seuns laat wakker bly. Allerhande sanggroepe tree buite die Jaffa-poort by die stadsmure op. In sy lewe het Simon nie kon dink dat die stoere Charedim sulke ongelooflik lewendige en mooi musiek kan voortbring nie. Die Maccabeats-groep laat ál wat leef, voetstamp en saam dans en sing. Marc haal al die passies uit met klein Chaya kraaiend van plesier op sy skouers. Selfs Yhoshi het sy sogenaamde verveeldheid te bowe gekom en kap dit uit saam met sy maats.
Simon raak ook betower en kort voor lank word alles oorboord gegooi om hartlik saam te dans en sing. Marc hou hom laggend dop. In ’n stadium haak Rivkah by Simon in en leer hom die ikoniese Israeliese hora-dans.
Toe dit middernag word en Chaya reeds lankal in haar waentjie slaap, staan hulle saam met baie ander op die Hurvah-plein om die manjifieke vuurwerkvertoning uit die Onafhanklikheidspark te aanskou.
Dit was vir Simon nogal moeilik om die verandering van emosies so vinnig te verwerk. Hy sou nog leer dat Israeli’s by troues en begrafnisse ewe veel huil en dans.
“Jode … Jode! Wat ’n rare spesie,” het hy meer as een maal by homself gemompel.