Читать книгу Israel-reeks 11: Hooglied - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 9

Hoofstuk 5

Оглавление

Samaria/Shomron

21 Mei

7 Sivan

Kort voor nege-uur die volgende oggend daag Re’uven in ’n militêre jeep op.

“Kyk,” sê hy sonder omhaal, “dis die Wesoewer waar ons ry, né? Dit kan lewensgevaarlik raak …”

“Hoe so?” vra Simon.

Rivkah sien haar broer sy asem diep intrek, maar hy antwoord redelik kalm.

“Dis soos ek gesê het, die Wesoewer … en al is die brandvlieërs en die eindelose mortiere onder in die suide, raak die mense hier sonder veel aanmoediging opgewerk. Itamar en Elon Moreh lê alkant van Nablus. En Nablus is ’n terroriste-nes. Ek kan ook nie vir jou sê hoeveel ons van die leërbasis by Itamar te sien gaan kry nie, want alles is op red alert. Ek sal weer met hulle praat.”

“Ons wil eintlik graag by Elon Moreh uitkom. Ons wil Simon die settlements laat sien.”

Re’uven kry ’n ironiese laggie, maar hy reageer nie daarop nie.

Hy sê: “Klim julle almal by my in die jeep. Ek het ’n soldaat saamgebring om Marc se motor te bestuur tot by Elon Moreh, dan kan julle self daarvandaan verder na die Galil toe aangaan.”

“Het jy genoeg tyd daarvoor, Re’uven?” vra sy suster sag.

Hy sit sy arm om haar en trek haar styf teen hom aan. “Ek sal nie as ek nie kan nie, achot sheli,” sê hy net hard genoeg vir haar om te hoor. “Ek het ’n dag verlof geneem.”

En toe nog vlakker by haar oor: “Shlomit is swanger.”

Rivkah trek haar asem vinnig in en Re’uven lê dadelik ’n vinger oor sy mond.

“Later,” spel sy mond die woord uit.

Rivkah se oë skiet onwillekeurig vol trane. Sy vryf haar kop teen haar broer se skouer en vat sy arm styf vas.

Marc en Simon, wat al begin aanstap het na die jeep, het nie die vlugtige woordewisseling gemerk nie.

Op die pad vertel Re’uven hoe gevaarlik dit daarlangs is.

“Huwara,” beduie hy vir Simon toe hulle ’n groot Arabiese dorp binnery. “Sien, die hoofpad loop hier deur die dorp. Dis basies die enigste punt waar Israeliese en Palestynse burgers in die noordelike Wesoewer met mekaar in aanraking kom. Dis deel van Roete 60. Dis die noord-suid-roete, kan ’n mens sê, wat ses vername Palestynse stede en ook vier Israeliese settlements hier in die Shomrom-area met mekaar verbind.”

“Watter is dit?” wil Marc weet, wat ook nie met die gebied bekend is nie.

“Yitzhar, Har Bracha, Itamar en Elon Moreh.”

“Jy sê dis gevaarlik, maar ek sien druk verkeer,” sê Simon.

“Nu, Israeli’s van die settlements wat in Tel Aviv of Yerushalayim werk, of daar sake doen, het nie juis ’n ander keuse as Roete 60 hierdeur nie. Daar is ’n omweg, maar dit kos ekstra rytyd van 30 minute en die meeste mense is nie gewillig om dit op ’n daaglikse basis te doen nie, maar …”

“Ná wat verlede Donderdag gebeur het,” vul Rivkah aan.

Re’uven knik, terwyl hy met gespanne aandag deur die totaal ordelose verkeer sy weg baan.

“Wat het gebeur?” wil Simon weet.

“Een van die setlaars, ’n pa van agt, was op pad huis toe toe die betogers meteens gewelddadig raak,” verduidelik Rivkah. “Hulle het sy motor begin skop en met klippe bestook. Hy het deur die skare probeer ontsnap, maar sy pad is versper toe ’n ambulans in sy baan gedraai en voor hom ingery het. Toe hulle sy motor se ruite begin stukkend slaan, het hy vir sy lewe gevrees en geskiet. Een Palestyn is noodlottig gewond en een beseer.”

Marc trek sy asem rukkerig in. Hy was gedurende een van die Gasa-oorloë in ’n soortgelyke situasie.

“Gelukkig het ’n militêre jeep opgedaag en die soldate in die jeep kon die skare met traangas en ander onlustebeheermaatreëls uitmekaar gejaag kry.”

“Hulle sou hom gelynch het as die soldate nie opgedaag het nie,” sê Marc. “Dit het al tevore gebeur.”

Hulle is deur die dorp en so ook die soldaat met Marc se motor agter hulle.

Re’uven grinnik effens. “Moenie dink die voorval het die mense ontmoedig nie. Ek het gister met Pinchas Michaeli, woordvoerder vir die settlements, gepraat. Hy het gesê as jy na die statistieke kyk, sal jy sien die meerderheid van die deurgange verloop sonder enige voorvalle.”

Pas buite die dorp lui Re’uven se foon. ’n Kort gesprek in Hebreeus volg wat Marc en Rivkah effens laat sug en Simon vraend na hulle laat kyk. Sodat Re’uven in Engels verduidelik: “Ons sal nie Itamar se leërbasis kan besoek nie. Jammer, want dit sou vir jou interessant gewees het, Simon. Twee van my kollegas se dogters is bevelvoerders van bomafdelings daar. Maar ons kan nie nou daar in nie.”

“Ek hoop nie hulle roep reserviste op nie,” prewel Marc.

Re’uven skud sy kop.

“Hoe dikwels doen julle reservistediens?” wil Simon weet.

“Ons is veronderstel om 25 dae per jaar te doen. Maar dis dikwels heelwat meer.”

“Heelwat,” beaam Re’uven. “Ons ry maar by die yishuv-gemeenskappe by Itamar verby, anders kom julle baie laat in die Galil aan.”

“Ja, dis veilig daarlangs. Maar julle wil vanmiddag nog by Kinneret Village langs?”

“Ken.”

“Vat dan liewers Roete 90 vanaf Roete 77 by Tiberias.”

“Maak so.”

Bo-op die rotsagtige ruwe heuwel hou Re’uven by ’n piepklein weermagbuitepos stil. Hulle klim uit en twee jong soldate kom uit die goed gekamoefleerde geboutjie te voorskyn. Hulle salueer Re’uven.

“Dit moet die eensaamste plek in Israel wees,” prewel Rivkah.

Op Re’uven se versoek verduidelik hulle aan Simon dis die uitkykplek waar hulle waak oor elke verdagte beweging onder in Nablus en dit onmiddellik rapporteer.

“Daar word dikwels op die paaie na die setlaars geskiet wat hier woon of anders word hulle in die settlements vermoor,” verduidelik die een.

“Dis immers besette gebied,” sê Simon.

Die jong soldaat met ’n swart kippah, wat hom as Ortodoks identifiseer, lig sy ken en kyk Simon reguit aan. “So is dit, Meneer,” sê hy, “dis Joodse grond wat deur terroriste beset word.”

Re’uven tik hom waarskuwend op die skouer, maar hy sê niks.

Dis stil in die jeep toe hulle verder ry.

Die eerste wat hulle van die yishuv Elon Moreh te sien kry, is die rye netjiese wit verdiepinghuise met die kenmerkende rooi teëldakke van die Joodse nedersettings teen die heuwel op. Die uitsig daarvandaan na die omstreke is aangrypend. Dit laat Marc Rivkah se hand op die agterbank van die jeep soek en styf vashou. Hy sien hoe sy ook haar onderlip vasbyt.

Hulle klim op die hoogste punt uit om die landskap te bewonder wat rondom hulle uitstrek. Van die een kant af kan Israel se kuslyn gesien word en van ’n ander hoek die woenstynstreek van Judea. Nog ’n hoek bied ’n uitsig oor die Jordaanvallei en selfs Jordanië oorkant die Dooie See. Die velde is mooi in die voorjaar met lappe rooi papawers en ander veldblomme.

“Hiervandaan het Avraham Avinu oor die land uitgekyk wat HaShem aan hom en sy nageslag belowe het. Wat ’n belewenis moes dit gewees het,” sê Marc ontroer.

“Julle het gesê dis ’n godsdienstige settlement dié?” wil Simon weet, effens vermurwe ná die onderonsie met die jong soldaat.

“Sterk Ortodoks en ’n egte Tora-gemeenskap. Die meeste familiehoofde is gegradueerdes van die plaaslike yeshiva. Hier word geweldig aandag aan opvoeding gegee. Van so klein soos drie jaar deur die laer- en hoërskool, tot verskeie naskoolse hoër opleidingsentrums. Hier is twee kindertuine, ’n hoër seuns- en meisieskool.”

Simon kyk verbaas na Rivkah. “Hoe weet jy dit alles so goed?”

Sy lag. “Ek was vir drie maande tydens my diensplig hier gestasioneer.”

Re’uven, wat pas op sy foon gepraat het, sê: “Ek het met een van die ouer inwoners gereël om julle ’n bietjie meer te vertel. Hy is Engels magtig. Ons sal hom oor ’n rukkie by die sinagoge ontmoet.”

“Benny?” vra Rivkah onderlangs.

“Betach.”

Sy vryf sy skouer. “Todah.”

“Hoeveel mense bly hier?” vra Simon verbaas oor die grootte van die nedersetting.

“Ongeveer 2 000. Dis die grootste yishuv in die Gav HaHar-area.”


Later ontmoet hulle Benny in die mooi sinagoge.

“Shalom shalom in Shechem-Elon Moreh, die einste plek waar HaShem die land aan Avraham en sy nageslag belowe het,” sê hy. “Die begin van alles was presies hier.”

Marc hoor Simon langs hom gedemp sug.

Benny vertel verder dat daar sewe pogings aangewend is om ’n nedersetting hier te begin. Hulle is elke keer deur die regering gestop. Dit was ’n eindelose stryd. Die agste keer het hulle uiteindelik daarin geslaag om tentpenne neer te sit. Maar wêrelddruk het verhinder dat hulle verder kon kom as net die begin. Ná die Sesdaagse Oorlog het hulle egter teruggekom. “Geloof is sterker as alle bestaande magte,” sê hy. “Geloof het oorwin. Daar woon nou byna 300 000 Jode in die omliggende areas in settlements, maar die konflik is ver van oor. Die stryd is bitter en ons het al ’n hele paar mense weens terreur verloor.”

“Maar daar is terroriste onder julle ook, is dit nie? Setlaars wat van die omringende Arabiere se olyfboorde verniel en selfs by geleentheid ’n voertuig aan die brand steek?”

Benny kry ’n wrang laggie. “Al gehoor van ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand? Dit bly daarby. Ons gaan nie hulle huise binne en vermoor hul onskuldige vroue en kinders as hulle slaap nie.”

“Julle was seker in 2006 baie ontsteld met wat Sharon met die settlements in Gasa gedoen het. Julle het seker gedink dit gaan met julle ook gebeur?” val Marc vinnig in om die gesprek na veiliger waters te stuur.

Benny skud sy kop meewarig. “Die man wat ons altyd gehelp het, het teen ons gedraai. Arik Sharon. Wat ons hier bereik het tot in daardie stadium, het ons met sy hulp gedoen. Toe hy omdraai, was dit ’n harde slag vir ons.”

“Waarom dink jy het hy dit gedoen?”

“Dit was ’n geweldige teleurstelling vir ons. Hy was deel van ons in hierdie einste sinagoge by die begrafnis van ’n jong vrou wat vermoor is. Hier by die ark het hy gestaan en vir ons belowe: ‘Geen mag ter wêreld sal my ooit dwing om julle in die steek te laat nie.’ ”

“En tog het hy dit uiteindelik gedoen. Wat het hom laat verander?”

“Hoe hy grootgemaak is. Hy het geen aanknoping met die Tanach gehad nie. Ons het so baie gesprekke met Arik gehad. Maar hy het waarskynlik vasgevang geraak in ’n situasie wat hom verander het van wat hy eenmaal was. Dit het dalk te doen gehad met die dood van sy vrou, Lily, in 2000. Mense sê hy kon dit nie verwerk nie. Lily het dikwels saam met hom hiernatoe gekom.”

“Tog het julle in die 12 jaar wat daarna verbygegaan het, wondere hier verrig, Benny,” sê Rivkah.

Hy kyk na haar en ’n sagter lig kom oor sy gesig. “Weet jy wat die naam van hierdie sinagoge beteken?”

Sy knik. “Ek het dit gehoor toe ek hier was daardie tyd. Maar sê vir hulle.”

Dit kom uit Tehillim 102. “Ons, u dienaars, het elke klip van Sion lief, ons is bewoë oor sy puin.” Hy kyk Simon in die oë: “Dis hoekom ons hier is.”


Op pad na Afula, waarvandaan hulle verder sal reis Tiberias toe en waarvandaan Re’uven sal terugkeer Jerusalem toe, vra hy: “Julle slaap in die Ohalo-hotel oor?”

“Ken.”

Dis al laatmiddag toe hulle by Kinneret Village aankom. Dit is ’n pragtige plekkie langs die See van Galilea. Daar het Rivkah gereël dat iemand met hulle oor die wortels van die Sionisme sal kom gesels ter wille van Simon.

’n Ouer vrou staan hulle onder koeltebome te woord met die ligte geluid van die meer se klein golfies wat teen die sand uitspoel. Sy stel haarself as Tamar bekend. Sy praat vlot Engels, ten spyte van haar swaar Hebreeuse aksent.

Marc verduidelik van Simon wat ’n vriend uit Suid-Afrika is, in Israel vertoef om ’n verhandeling oor Marc Chagall te doen, maar ook graag meer van die wortels van die Sionisme te hore wil kom.

Die vrou se oë verhelder agter haar brilglase. “Suid-Afrika! My seun is met ’n Suid-Afrikaner getroud en woon in Bloemfontein,” vertel sy gretig. “Ek was al dikwels in die land. Waar kom jy vandaan?”

“Stellenbosch.”

Israel-reeks 11: Hooglied

Подняться наверх