Читать книгу Israel-reeks 11: Hooglied - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 8
Hoofstuk 4
ОглавлениеJerusalem
19 en 20 Mei
6 en 7 Sivan
Net ’n paar uur voor die begin van Shavuot, een van die Jode se drie Pelgrimsfeeste, kom Rivkah ongedeerd maar merkbaar ontsteld oor die toestande wat daar heers en veral die brande wat nou oral gestig word, van die Gasa-grens af terug. Omdat hulle die volgende dag op die klein vakansie saam met Simon wil vertrek, word daar vinnig gepak en gereedgemaak.
Hulle vier die begin van Shavuot by Chaim en Hadassah, wat die volgende dag kom om vir die paar dae waartydens Marc, Rivkah en Simon weg sal wees op ’n kort toer deur die land, by die kinders in die woonstel in die Ou Stad te bly.
Die Cohens se huis is pragtig versier met groen blare en blomme en baie vrugte. Die tafel is stylvol gedek met kosbare gerei op ’n wit tafeldoek – gereed vir die ete ná die verwelkoming van Shavuot, wat met die aansteek van kerse en seënbede teen sonsondergang geskied. In die middel van die eettafel pryk ’n bos van die bloedrooi papawers wat nou in die voorjaar oral in tuine en in die veld met oorgawe in Israel blom.
Met ’n hartseer uitdrukking kyk Rivkah ’n ruk lank na die vrolike tafel sodat Chaim na haar toe kom en sy arm om haar skouer sit.
“Mah zeh?” vra hy sag.
Sy draai na hom toe.
“Dis verskriklik wat op die grens aangaan, Abba. Hulle steek nou alles aan ons kant van die grens aan die brand met die brandvlieërs. Jy kan nie glo hoe dit daar lyk nie. Hulle gooi petrolbomme en verbrand duisende bande. Die rook is verstikkend. Ek weet nie hoe die soldate wat veel nader as ons aan die grens is, dit elke dag kan uithou nie. En hier vier ons in veiligheid en vrolikheid fees … Dis net te veel om te verwerk.”
Dit word stil om die tafel.
Chaim soen sy dogter op haar voorkop en tel toe klein Chaya, wat by hom kom staan het, op sy arm.
“Die situasie mag wees wat dit is, maar HaShem, baruch Hu, het ons hierdie fees gegee en ons is hier om Hom te loof vir die Tora wat Hy ons geskenk het. Kom ons skuif ons droefheid en ons angs opsy en onthou dat niks wat rondom ons gebeur, buite bereik van sy almag en sy toegelate wil is nie. Hy het alles onder beheer.”
Chaya wil sy hoed van sy kop trek en hy vat haar handjie in syne vas. “Laat ons die kerse aansteek.”
Hadassah, wat ’n sagte sjaal oor haar hare dra, steek die twee kerse aan. Sy sirkel met haar hande om die vlammetjies en bid toe die Kiddush vir Shavuot. Ter wille van Simon bid sy dit in Engels.
Chaim knik in sy dogter se rigting en Rivkah trek die sjaal wat om haar skouers hang, ook oor haar hare en bid die tweede gebed in Hebreeus.
“Baruch Atah, Adonai Eloheinu, Melech ha’Olam, shehecheyanu v’kiyimanu, v’higiyanu la’zman hazeh.”
Chaim kyk na Yhoshi en knik. Moeiteloos vertaal hy in Engels.
“Geseënd is U, Here God, Koning van die Heelal, wat ons in die lewe gehou het, ons onderhou het en ons in staat gestel het om hierdie feestyd te bereik.”
Op die tafel is twee brode.
“Natani,” sê sy oupa, “doen jy vir ons die gebed oor die brood.”
Natan lig die brode op en bid die seëngebed:
“Baruch Atah, Adonai Eloheinu, melech ha’Olam, hamotzi lechem min ha’aretz.”
“Geseënd is U, Here God, Koning van die Heelal,” vertaal sy ma, “wat vir ons brood uit die aarde voortbring.”
“Yhosh?” vra sy oupa.
Yhoshi lig die bokaal op. Die kerslig flikker in die rooiwyn. Hy bid die gebed direk in Engels:
“Geseënd is U, Here God, Koning van die Heelal, Skepper van die vrug van die wynstok.”
Chaim glimlag en vryf die twee seuns se koppe.
“Nou moet ons darem net vir ons gas vertel waaroor die fees gaan, anders gaan hy nie weet wat aangaan nie. Natani, wat vier ons met Shavuot?” Sy oupa knik.
“Dis soos Pinkster in die kerk, Simon. Maar ons vier nie net die uitstorting van die Ruach HaKodesh nie, ons herdenk inderdaad veral, soos Natani gesê het, die gee van die Tora. Dit gebeur op die 50ste dag ná Pesach, Pase.”
“En al dié blomme en blare?” wil Simon weet en wys na die groen takke met blare wat oral ingevleg is.
“Shavuot is ook ’n oesfees. Maar die blomme, plante en boomtakke hier en in die sinagoge kan ’n mens ook aan die Sinaiberg herinner; die wysgere reken die berg is dig met bome begroei.”
“Al word die landerye en die natuurparke nou deur die Palestyne aan Israel se kant afgebrand,” prewel Rivkah.
Die rabbi lê sy hand op haar arm en sy bly stil.
Hy sê vir Simon: “Die plante,” en hy wys na twee welige potplante, “dien ook as ’n herinnering dat Farao se dogter Moses tussen die riete gevind het. Jy sien dus Shavuot is gelaai met historiese betekenis, ook met betrekking tot die landbou. Dis maar hoe tradisies werk.”
“Ongelooflik,” prewel Simon.
“Sê nog van die kaaskoek, Saba,” trek Natan aan sy mou.
Chaim grinnik. “Kom ons gaan nie op ’n lang verduideliking in nie, Natani, Savta se lekker kos word koud. ’n Milchig gereg, gebaseer op ’n suiwelresep, word geëet om die manna te herdenk wat HaShem in die wildernis gegee het. Manna was soet soos heuning. Waarskynlik ook omdat HaShem die kinders van Israel beloof het om hulle na ’n land van melk en heuning te bring.”
“Maar ons kan dit eers kry ’n uur ná ons vleis geëet het, want dit moet kosjer wees,” verduidelik Natan sommer op sy eie vir Simon.
“Gaan jy vannag weer heelnag by die Kotel wakker bly om Tora te leer, Saba,” wil hy ook nog weet.
“Ja, Natani, dit weet jy tog.”
“En die rede daarvoor?” vra Simon.
“Nu, dis miskien die belangrikste tradisie van Shavuot. Dit word Tikkun leil Shavuot genoem. Tikkun beteken om te herstel, te korrigeer. ’n Interpretasie van dié idee kom van die Midrash, wat aanvoer dat om met Shavuot wakker te bly en heelnag te studeer, ’n regstelling is van die feit dat die Israeliete op die eerste Shavuot-oggend verslaap het. Mense kom gereeld in die sinagoges of by die Kotel bymekaar om te studeer, maar die plek waar dit plaasvind, is nie belangrik nie.”
Simon moet sy kop skud by dié verduideliking en weer ’n keer prewel: “Julle Jode …”
Toe Yhoshi meteens praat, kyk almal ’n bietjie verbaas na hom. Hy was die hele aand besonder stil. “Die verhaal van Rut word ook met Shavuot gelees.”
Sy oupa se gesig versag toe hy na sy oudste kleinseun kyk en hy onthou sy ander kleinseun wat nie so lank gelede nie in ’n terreuraanslag sy lewe verloor het.
“Dis reg, Yhosh. Weet jy waarom? Jy is mos besig om voor te berei vir jou bar mitzvah.”
“Eerstens omdat die eerste deel van haar storie gedurende die gars- en koringoeste plaasvind. Maar ook omdat Rut vrywillig die Tora en Judaïsme aangeneem het. So ver as wat ons weet, was sy die eerste bekeerling tot die Judaïsme.”
“Nachon,” knik sy oupa.
“En,” sê Marc, “as Messiaanses onthou ons dis met Shavuot dat die Ruach HaKodesh op Yeshua se talmidim uitgestort is soos die profeet Jo’el beloof het.”
“Baruch HaShem!” roep die rabbi uit, “hoe geseënd is ons tog.”
Ná ete sit almal nog ’n rukkie op die ruim balkon wat oor die stad uitkyk. Rivkah is in die woonkamer besig om die vaak en huilerige Chaya in haar slaapklere te kry. Sy druk die kleinding styf teen haar aan, meteens vreesagtig om vier dae lank van haar baba en die seuns weg te wees met soveel onrus aan die grens.
Hadassah merk dit op en kom by haar sit.
“Hulle sal veilig by ons wees, Rivvi. Jy het nodig om uit ál die trauma en stres van die laaste weke te kom. Gaan geniet dit.”
Rivkah se oë raak rooi van trane en sy bly die kind wieg ná sy aan die slaap geraak het.
“Ek het net vandag weer begryp hoe min ek, ons, bewus is van die lyding wat daar voorkom. Veral die kinders. Ja, ek weet Hamas is hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik. Daardie arme mense is gewoon uitgelewer aan Hamas en Islamitiese Jihad se ysterhand wat hulle regeer. Hoe kan hulle regtig weet dat ons nie sulke haatlike dierasies is soos wat hulle van hul geboortedag af hoor nie? Hulle word dag vir dag met haat gevoer. Hoe kan ons verwag hulle moenie optree soos wat hulle doen nie? Hulle hoor elke dag en sien op televisie dat ons hul land gesteel het.”
Marc, wat van die balkon af ingekom het, het haar gehoor. Hy neem die slapende baba by haar.
“Kom, chamudah, laat ons huis toe gaan, jy is baie moeg en môre wil ons heelwat ry.”
Marc skud sy lang krullerige hare soos ’n hond droog toe hy uit die swembad klim.
“Haai, die water is heerlik julle. Fantasties. Kom in, Rivkah. Anders gooi ek jou in as jy nie self kom nie, nè?”
Rivkah lag en strek haar lui uit in die laaste strale van die laatson. “Kom probeer maar.”
Voor sy mooi weet wat gebeur, het Marc haar opgeraap en met haar en ál in die water gespring. Haar benoude gille eggo teen die mure van die Hotel Heshel HaShomron in Ariel, waar hulle oornag voordat hulle verder gaan om ’n paar plekke in die omgewing te besoek. Die paar ander gaste by die swembad kyk geamuseerd toe.
Die dag was al warm en die son wat na die heuwels toe sak, kleur die water rosig. Marc en Rivkah is bekend met die hotel en hulle het deur die jare se talle besoeke met die eienaars, Menachem en Tova Gilboa, bevriend geraak. Daar is vanaand nie veel gaste nie, want dis nog nie ten volle somer nie en die skole het ook nog nie gesluit nie.
Simon kom by sy kamer uit wat soos hulle s’n op die swembad uitloop.
Hy hurk by die swembad en die ander twee kom na hom toe aangeswem.
“Moet julle so raas?” vra hy.
Hulle lag. “Jy ken nog nie die somervakansie-aspek van die Israeli’s nie, my boeta,” sê Marc.
“Rivkah, het jy al van jou broer gehoor of ons môre daardie militêre kamp kan besoek? Ek stel rêrig vreeslik belang daarin.”
Rivkah skiet met haar voorvinger ’n straaltjie water in sy gesig. “Jy stel eintlik meer daarin belang om die vlugtelingkampe in Gasa te sien, Shimón. Ek weet.”
“My Arabiese vriend het my genoeg daarvan vertel,” grim hy.
“Dit glo ek. Maar, ja, Re’uven het gesê hy reken dis in orde. Hy sal môre hierlangs kom om ons self te haal.”
“Dis goed.”
Marc, wat langs haar aan die swembadreling vashou, sê: “Vanaand ná ete het Menachem en Tova belowe om jou van hul ervaring met terroriste te vertel.”
“Hier in die hotel. Twee maal in een jaar,” voeg Rivkah by.
Simon frons. “Hoe veilig is die plek dan?”
“Dit was 16 jaar gelede in 2002. Maar ons wil graag hê jy moet hoor presies wat gebeur het.”
“Dis reg so.”
Later die aand ná ’n uitgebreide ete sit die drie in een van die kleiner privaat sitkamers van die hotel saam met Menachem en Tova.
Menachem het koffie geskink en die geur vul die vertrek.
“Marc en Rivkah ken ons storie baie goed, maar ek verstaan dat jy ook belangstel om dit te hoor, Shimón.”
“Ek hoor graag.”
“Laat Tova vertel, haar Engels is beter as myne.”
“Nu, toe ons die hotel hier in Samaria in die neëntigs begin het, het baie mense min moed vir ons onderneming gehad. Ariel is beslis nie die veiligste stad in Israel nie. Ek bedoel, ons is bure met Nablus – ’n totale terreurnes. Wesoewer. Dis sonde soek, het hulle vir ons gesê. Ons het geweet daar sou pogings wees om ons aan te val, want vir die terreurorganisasies is Ariel die simbool van Israel se soewereiniteit in die Wesoewer. Een van die simbole van die Setlaarsbeweging.” Tova trek haar skouers op. “Maar nou ja, dis waartoe ons ons geroepe gevoel het en nog altyd voel.”
“Al is dit in werklikheid occupied area?”
Menachem kyk onseker na Marc en Rivkah.
Marc grinnik ietwat verleë. “Shimón is nog besig om Israel te leer ken.”
“Nu, Shimón, miskien is jy reg, jy sien ons occupy ons eie land.”
Toe Simon sy asem intrek om te antwoord, sê Rivkah vinnig: “Los die politiek, chaverim, laat ons by die storie uitkom.”
“Nu, die eerste paar jaar het dit beter gegaan as waarvoor ons eintlik deurentyd asem opgehou het. Maar toe kom die Intifada en die eindelose selfmoordbomaanvalle. Mensbomme.” Tova sug en skud haar kop. “En toe kry ons ook ons deel. Twee maal in 2002.”
“Ja-nee, 2002 was die vreeslikste van daardie jare,” sê Rivkah en kyk na Marc. “Dit was toe jy Israel toe gekom het.”
Marc knik. “Dit was nie die maklikste tyd om met ’n nuwe land kennis te maak nie … Maar, Tova, jy was die eerste slagoffer. Hier in Heshel HaShomron in elk geval.”
“Ken.” Haar hand soek na Menachem s’n op die rusbank langs haar en sy vou sy vingers in hare toe. “Dat die Ewige ons albei se lewe gespaar het, is en bly vir my die grootste van alle wonderwerke.”
“Vertel my,” vra Simon.
Sy kry ’n flou laggie. “Ek was nie die held wat my man was nie, Shimón. Maar ek sal vertel. Dit was op 7 Maart 2002. Die polisie reken dat die bomdraer, die mensbom, hom daai middag kort voor vieruur in die supermark naby die ingang na Ariel wou laat ontplof, maar van gedagte verander het toe hy die gewapende wag by die deur sien. Van daar het hy hier na ons portaal gekom, waar geen wagte was nie …”
“Onverantwoordelik,” merk Simon op toe sy asemskep.
“Ek weet. Maar dis hoe dit was. Ek was voor by ontvangs en het die man sien inkom. Hy het maar net soos enige ander besoeker gelyk. Hy’t in die portaal gestaan en rondkyk. Ek het na hom geroep om te hoor of ek hom kon help. Wat ek nie geweet het nie, was dat een van die plaaslike mense hom gesien het voordat hy die hotel binnegegaan het. Vir hom het iets aan die man verdag gelyk en hy het die soldate by die ingang van die dorp gewaarsku. Die soldate het onmiddellik hiernatoe gekom. Toe die bomdraer hulle sien, het hy homself opgeblaas.”
Rivkah vou haar hand oor haar mond, maar sê niks nie.
“En jy?” vra Simon.
“Ek, al die personeel wat naby was, en ’n Amerikaanse toeris is gewond. Altesaam 14 mense. Maar deur die genade van HaShem is nie een van ons dodelik gewond nie. Skrapnel- en brandwonde … Ons het oorleef. Die skade aan die hotel was geweldig.”
“’n Mens sou dink daar sou groot lewensverlies wees.”
Tova knik. “Hy was nie naby genoeg nie. Die persoon naaste aan hom, Nahum Arush, het tweedegraadse brandwonde opgedoen. Hy was omtrent drie meter van die bomdraer af. Mure is gekraak en alle glas in die omgewing is versplinter. Die verwoesting was verskriklik. Die beton het bly staan, maar alle glas, spieëls, lampe, ornamente en meubels het in die slag gebly. Alles.”
“Dit moes groot skade vir die hotel se besetting tot gevolg gehad het. Was die mense nie daarna bang om hier te kom bly nie?”
“Betach! Dit het drasties gedaal. Ken, mense was bang. Daar het wel nog van die pelgrimstoere gekom uit solidariteit met die setlaars, maar ja, dit was moeilike tye. En dit het lank geneem voordat ons weer mense gerusgestel het.”
Hulle drink ’n rukkie hulle koffie sonder om te praat, tot Rivkah gedemp sê. “Maar daar was in Oktober van dieselfde jaar weer ’n aanval?”
“Ken, alles was net weer gerestoureer en ons gastegetalle het weer begin bykom.” Sy kyk na haar man. “Maar dit moet Menachem maar self vertel.”
Menachem glimlag effens, skud sy kop. “Ek het gesê my Engels is nie goed nie. Ek sal probeer. Ek sien die jong outjie die dag hier oorkant buite die petrolstasie. Hy was lank, ’n kop hoër as ek. Hy was blond, soos iemand van Swede of Noorweë. Hy het nie Arabies gelyk nie. Maar hy het geloop met so ’n lappie wat oor sy hand hang. Ek het na hom toe geloop, want dit was ’n bietjie snaaks.
“Ek vra: ‘Hoekom loop jy met ’n lappie oor jou hand rond?’ Toe hy begin loop, toe loop ek ook. Ná twee meter toe sien ek die bomdrade binnekant sy hemp. Ek moet toe besluit om my geweer te vat en te skiet. Ek was bang ek mis die kop, dan kom die koeël by die dinamiet en blaas ons albei op.”
Hy lek oor sy droë lippe en Tova gee ’n glas water na hom toe aan.
“Toe besluit ek om eerder op hom te spring. Ek het hom op die vloer gegooi. Toe ek sy arm baie styf vasknyp, het die kabel en die skakelaar uit sy hand geval. Die handdoekie was bedoel om die kabel toe te maak, dis hoekom hy dit heeltyd in sy hand gehou het. Ek het hom baie sterk vasgehou. Ek het geskree. Dit het ’n paar minute gevat toe kom help ’n jong man my en hy skiet hom, twee koeëls in die kop. Ons staan op van hom af. Toe kom die soldate van die kafeteria af aangehardloop en een van die soldate – dit was ’n fout – skiet hom van 25 meter af en alles ontplof.”
“Hy het die bom raakgeskiet!” roep Simon.
“Ken. Drie soldate – offisiere – is daar dood, en 17 gewond.”
“Sewentien!”
“Ken, 17 soldate is gewond. Dit was hier by die petrolstasie.” Hy beduie.
“Daar het net ’n kort rukkie tevore ’n bus stilgehou met 100 veterane wat by die beveiliging van die settlements in die omgewing kom diens doen het, en dié soldate was almal in die kafeteria. Die bomdraer was op pad soontoe,” verduidelik Tova. “Toe hulle Menachem met die man sien worstel, het hulle eers gedink dis net ’n bakleiery tussen twee plaaslike mense. Maar toe hulle besef wat aangaan, het hulle aangehardloop gekom en een het geskiet.”
“En jy?” vra Simon vir Menachem.
“Ek was ’n lang tyd in die hospitaal. Hier, jy kan voel daar is 5 mm-koeëltjies wat nog oral in my lyf vassit. Maar dit het nie my gees gebreek nie. Ek het sterker geword om te glo. Ons weet alles kom van HaShem af.”
“Dis hoekom julle hier is,” sê Rivkah sag.
“Ken. Ons is lief vir die naam settler, settlements. Toe Yehoshua oor die Jordaanrivier gegaan het die Beloofde Land in, het HaShem vir hom gesê hy moet in hierdie land settle. Dit is wat HaShem gesê het ons moet doen en ek hoop my seun en my kinders sal in my voetspore volg.”
“Tova,” vra Simon, “sien jy dit ook so? Dat dit God is?”
“Shimón, my vader het ál die jare gesê – ons wat sal veg om Hebron te behou, sal ons nie ook veg om Tel Aviv te behou nie? Dit is die Beloofde Land. Jy kan nie die land verdeel wat HaShem aan ons beloof het nie.”
“Jy weet, ek het ’n klomp mense, Jode, in Jerusalem en Tel Aviv hoor sê, wel, gee die land, die Wesoewer, eenvoudig maar op. Vir vrede. Julle stem nie met hulle saam nie?”
“Ons het al soveel grondgebied opgegee vir vrede, Shimón, en wat het ons daarvoor gekry? Hoe lyk Gasa wat ons opgegee het vir vrede nou vir jou? Hierdie grondgebied is die land wat HaShem aan die seuns van Israel beloof het. As jy die Bybel oopmaak, hoofstuk vir hoofstuk, in elke boek, sal jy vers op vers sien dat HaShem die land vir die seuns van Israel beloof het. Nie vir die seuns van Hamas, nie vir die seuns van Arafat en nie vir die seuns van Saddam nie. Dit is die land. Dit is die Bybel. Mense probeer die Bybel verander. Ons probleem is dat nie baie mense in die wêreld die Bybel glo nie,” sê Menachem.
“Selfs Jode wat in Israel woon?”
“Ongelukkig ja, Shimón,” antwoord Tova hom, “selfs Jode wat in Israel woon. En baie van hulle. Maar baie van die Tora-getroue Jode wat jy hier sal ontmoet, glo dat God hulle geroep het om in die land te settle as ’n vervulling van die profesieë in die Tenach, wat die kerk die Ou Testament noem.”
“Shomron, oftewel Samaria, en Judea is die Bybelse hartland,” verduidelik Marc. “Menachem en Tova vervul dié roeping deur hier in Shomron ’n hotel te open.”
Dis ’n ruk lank stil voordat Simon vra: “Wat beteken die naam van die hotel?”
“Tamarisk van Samaria.”
“Dis ’n soort woestynboom, is dit nie? Hoekom het julle dié naam gekies?”
“In die Bybel lees ons dat Avraham ’n tamariskboom by Be’er Sheva geplant het en die naam van Adonai, die Ewige, aangeroep het. Onder daardie boom het hy ál sy besoekers ontvang en hulle van Elohim Chai vertel. Die boom gee skadu en beskerming, en dra heuningsoet vruggies wat ’n mens kan eet,” vertel Tova hom. “En dit het die sagste, mooiste bloeisels in wit, pienk en pers. ’n Droom om te sien in die voorjaar soos nou. Dis hoe ons graag wil hê mense Heshel HaShomron moet ervaar.”
“Ek verstaan,” sê Simon gedemp.
In die sagter trek in sy oë sien Rivkah dat hy iets van die land begin verstaan.