Читать книгу Tikkun Ha'olam - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 3
ОглавлениеHoofstuk 1
Jerusalem
27 November 2013
Chanukah
“Jy steek nie iets vir my weg nie … Marc!” Rivkah se oë lyk donker van die vrees in haar bleek gesig.
Marc neem haar hand wat die beddegoed vasklem, in syne en maak die skraal vingertjies saggies los. “Lo, chamudah, waarom sou ek dit doen? Dr. Gilles het gesê daar is geen teken van kwaadaardigheid nie …”
“Maar hy word so gou moeg!”
Hy vryf die hand in syne kalmerend. “Hy het ons immers van die begin af gewaarsku dat Natani nooit baie sterk sal wees nie. Dat ons hom altyd mooi sal moet oppas. Hy het ook gesê ons moet onthou hy het ’n skrale drie maande gelede groot skool toe gegaan. Dit was al ’n geweldige aanpassing wat hom vermoei. En toe jy nou so seergekry het in die Filippyne …”
Sy sug en laat sak haar kop teen syne wat oor haar hospitaalbed gebuig is. “Vir ’n kind so sensitief soos hy was dit alles net te veel. En toe nog vandag se scan – dit ontstel hom altyd so.”
Marc vryf sy wang sag teen die kant van haar gesig. “Dit gaan goed met hom, Rivvie. Hy is nou al groot genoeg om te verstaan. Gilles het gesê daar is niks om oor bekommerd te wees nie.”
“Ek verlang so na hulle. Bring jy hom vanaand saam?”
Marc glimlag. Hy vee haar donker hare van haar voorkop terug en laat haar weer gemakliker teen die kussings lê. “Natuurlik bring ek hulle. Ek het Natani eers na Hadassah toe geneem om te slaap. Hy is mos altyd baie moeg ná al die ondersoeke. Maar hy het my maak belowe dat ek hom vanaand sal saambring.”
Sy glimlag droefgeestig. “Ek het so gehoop en gebid dat ek met Chanukah sal kan huis toe gaan. Vanaand is Erev Chanukah en hier sit ek nog. As dit net nie was dat hulle weer moes opereer nie …”
Hy skud sy kop. “Jy was darem ietwat ooroptimisties, lieweling. Dis vandag eers die tiende dag.”
Haar hande bal instinktief in vuiste en sy kyk deur die venster langs die bed uit oor die stad. “Soms wonder ek of ek ooit weer sal kan loop; ooit weer my werk sal kan doen.”
Hy vou weer een van die klein vuiste in sy hand toe en wag tot sy na hom kyk voor hy praat. “Dr. Goldberg het jou verseker jy sal weer normaal loop. Maar hy het daarmee saam gesê jy sal geduldig moet wees.”
Sy sug weer. “Oor twee weke kom jou ma-hulle al en ek het so uitgesien na wat ons saam kan doen, maar nou …”
“Ons sal regkom, jy sal sien,” is ál wat hy kan dink om te sê.
Dis eers toe sy haar pa met die groot chanukiah by die kamer sien inkom dat Rivkah besef die familie het toestemming gekry om Erev Chanukah by haar te kom vier. Dadelik verstaan sy ook hoekom daar laatmiddag ’n ekstra tafeltjie by die kamer ingedra is sonder dat enigeen ’n werklik sinvolle verduideliking kon gee.
Direk agter Chaim storm Natan in. Sy oupa vang hom net betyds voordat hy teen die bed kon vashardloop. Hy lig die tenger seuntjie versigtig op die bed langs sy ma. Hy laat hom op ’n veilige afstand sit – ver van haar ernstig beseerde been wat steeds onder ’n koepelvormige skerm in traksie is. Dit is egter naby genoeg sodat hy sy arms om haar nek kan slaan, versigtig om nie haar gekneusde lyf seer te maak nie.
Rivkah hou die donker krulkoppie teen haar bors vas. “Ek hoor dr. Gilles sê jy kry ’n goue ster,” fluister sy teen sy warm gesiggie.
Natan knik. “Ek het nie gehuil van één van die toetse nie,” sê hy gesmoord teen haar nek.
“Reg vir Tzahal is jy.”
Intussen het Marc, Yhoshi en Hadassah binnegekom. Hulle is almal swaar belaai. Daar heers sommer gou ’n ware Chanukah-atmosfeer in die andersins steriele hospitaalkamer sodat sommige van die personeellede van tyd tot tyd nuuskierig om die deur kom loer.
Toe alles opgestel is, moet die eerste kers van die chanukiah aangesteek word. Vanjaar is dit Yhoshi se beurt, maar hy skud sy kop toe die aansteker na hom uitgehou word. “Natani kan dit doen. Hy het ’n swaar dag gehad.”
Marc gee sy oudste se skouers ’n drukkie vol waardering en sy oupa tik hom trots op sy kippah.
Natan neem die aansteker en weet sonder weifeling hy moet eers die negende kers aansteek wat in die middel van die kandelaar los van die ander staan.
“Wat noem ons hierdie kers nou weer, Natani?” vra rabbi Chaim gedemp.
“Hy is die shamash, Saba.” Hy huiwer ’n oomblik voor hy sê: “Hy is die teken van Yeshua.”
Die volwassenes kyk mekaar veelbetekenend aan en Marc sê: “Dis reg, babbelossie. Ek is bly jy onthou dit ook.”
Toe neem Natan een van die dun wit kerse wat in ’n dosie op die tafel lê en steek dit by die dienaarkers aan voordat hy dit in die kershouer plaas wat die verste na die regterkant is.
Nou is dit die rabbi se beurt om die Chanukah-seëngebede uit te spreek. Hy gaan na Rivkah toe, lê sy hand op haar voorkop en begin met die Shehecheyanu, die gebed waarmee baie feesdae verwelkom word.
“Baruch Atah, Adonai Eloheinu, Melech ha’Olam, shehecheyanu …”
“Geseënd is U, Here ons God, Koning van die heelal wat ons in die lewe gehou het, gedra het en dit vir ons moontlik gemaak het om hierdie seisoen te bereik.”
Marc voel hoe ’n rilling langs sy ruggraat af beweeg toe Chaim buk en sy dogter op die voorkop soen. Hoe byna het hulle haar verloor!
Toe gaan Chaim terug en bid oor die twee kerse wat reeds in die chanukiah brand. “Geseënd is U, Here ons God, Koning van die heelal, wat ons deur U verordening geheilig het en ons beveel het om die Chanukah-kerse aan te steek.”
Hy staan ’n oomblik stil in gebed met sy hande oor die kandelaar voordat hy ook die laaste gebed uitspreek: “Geseënd is U, Here ons God, Koning van die heelal, U wat so lank gelede op hierdie dag vir ons voorvaders wonders gedoen het.”
Toe gaan sit die volwassenes op die drie stoele wat ingedra is en die kinders maak hulle tuis op die mat.
“Nu, yeladim, laat ek sien wat julle ons van hierdie fees kan vertel. Sê my eers – is dit een van die chagim wat HaShem, baruch Hu, vir Moshe in die Tora voorgeskryf het?”
Natan kyk onseker na sy boetie, wat sy kop skud. “Lo, Saba.”
“Hoekom vier ons dit dan, Yhoshi?”
Yhoshi kriewel ’n bietjie onder die verkleiningsvorm van sy naam, maar hy sê dit nie. Hy antwoord sy oupa: “Omdat die rabbi’s en die rigters van daardie tyd geweet het daar het ’n wonderwerk gebeur toe die Jode HaBeit HaMikdash teruggekry het.”
“Goed gesê! Natani, kan jy sê watter volk dit was wat die Jode se tempel afgeneem het?”
Natan dink ’n oomblik na en sê toe aarselend: “Die Roomse.”
Die volwassenes glimlag en Yhoshi, wat altyd gereed is om in te spring wanneer sy boetie so ’n fout begaan, sê nou bedaard sag: “Die Grieke.”
Die afgelope jaar het ook nie sonder enige effek by hom verbygegaan nie, dink Marc en voel sy hart warm word van trots.
“Weet jy wat die Grieke met die Jode gedoen het, Natani?”
Die kleinste knik. “Hulle wou nie gehad het die Jode moet soos Jode wees nie.”
“Goed gesê, Natani! Heeltemal reg,” prys sy oupa.
“Maar daar was van die Jode wat eintlik soos Grieke wou wees,” sê Yhoshi.
“Vertel ons hoekom jy so sê, Yhoshi.”
“Baie van die Jode het gedink die Griekse kultuur is beter as die Hebreeuse kultuur. Hulle het Grieks begin praat, baie van die Griekse gewoontes nageboots en hulle het die Hebreeuse Tanach in Grieks vertaal. Hulle het selfs sonder klere in die gimnasiums gaan oefen soos die Grieke gedoen het. Daar was toe twee soorte Jode.”
“O ja?” vra sy oupa beïndruk.
“Die Jode wat Grieke wou wees, is Helleniste genoem. Hulle het later die Sadduseërs geword. En dié wat nog Judaïsme beoefen het, het later die Fariseërs geword.”
“Leer jy dit alles in die Tora-skool, Yhosh?” vra sy ma.
“Ken, Imma. Maar Abba het ook vir my hierdie storie vertel.”
“Nou wanneer het HaBeit HaMikdash verlore geraak?” vra Chaim met ’n gelukkige laggie om sy mond.
“Ná Alexander die Grote se dood het ’n Griekse koning, Antiochus, oor Palestina regeer. Hy was ’n groot Hellenis. Toe mag die Jode nie meer Shabbat hou, die Tora leer of hul seuntjies besny nie. Toe vat hy HaBeit HaMikdash oor en maak een van sy Hellenistiese Jode die kohen hagadol. Hy het HaBeit HaMikdash ontheilig en varke op die altaar laat offer. En die Jode wat dit nie wou doen nie, het hy sommer ook laat doodmaak.”
“Kan die Griekse ons ook sommer so doodmaak?” vra Natan nouliks hoorbaar vir sy pa teen wie se knieë hy sit.
Marc stoot sy vingers deur die digte swart krulle sodat sy kippah op die grond val. “Lo,” sê hy sag, “dit was baie lank gelede.”
Yhoshi tel die kippah op, stof dit af en sit dit terug op sy boetie se kop. Marc kyk na Rivkah en hulle onthou hoe gesteld Yhoshi van heel kleins af op sy kippah was.
“En wat doen die Tora-getroue Jode toe, Yhoshi?” vra sy oupa.
Yhoshi raak ’n bietjie rooi van ál die aandag wat op hom gevestig word en stotter effens, maar ruk hom gou weer reg. “Hy … hy … Mattityahu was ’n priester van die Hasmoniete wat in Modi’in gewoon het. Toe Antiochus se soldate daar kom en sê hy moet ’n
offerande aan ’n heidense afgod maak, het hy gesê hy sal dit nie doen nie. Toe ’n Hellenistiese Jood dit wel wou doen, het Mattityahu hom net daar met sy swaard doodgemaak. Sy vyf seuns het hom kom help en hulle het die soldate aangeval en gewen. Hulle was die Makkabeërs …”
“Weet jy wat ‘Makkabeër’ beteken?” val sy oupa hom in die rede.
“Ken, Saba. Dit beteken mans wat so sterk soos hamers is. Toe het baie van die Tora-Jode ook moed geskep en by die Makkabeërs onder Yehudah haMakabi aangesluit. Hulle was baie minder as die Griekse soldate, maar uiteindelik het hulle gewen. Op die 25ste dag van Kislev het hulle HaBeit HaMikdash teruggevat en weer gereinig.”
“Metsuyan, Yhoshi! Jy het goed geluister. Ken, hulle het HaBeit HaMikdash gereinig, maar toe moes hulle dit weer toewy.”
“Om dit te kon doen, moes hulle ook HaBeit HaMikdash se menorah weer aansteek en daarvoor …”
“Ek weet!” sê Natan dadelik.
“Vertel vir ons, Natani,” sê rabbi Chaim, merkbaar verteder deur sy kleinseuns se kennis van die heilige dinge.
Die kleine seuntjie haal diep asem en sy wangetjies gloei verleë. “Hulle moes spesiale olie hê vir die menorah en daar was net genoeg vir een dag.”
“En toe?”
“Toe moet ’n man met ’n perd drie dae lank na ’n berg toe ry. Ek weet nie meer wat sy naam is nie.”
“Berg Efraim,” sê Yhoshi ongewoon bedees.
“Nachon. Hy moes drie dae lank soontoe ry, want die regte olyfbome vir die olie het daar gegroei. En dit het nóg ’n dag gevat om die olie uit te pers. Toe moes hy weer drie dae lank terugry. Maar die menorah in HaBeit HaMikdash het agt dae lank aanhou brand net van daardie klein bietjie olie. Dit was ’n wonderwerk wat HaShem gedoen het.”
“Mazal tov, babbelossie!” Marc buk af en soen die seuntjie.
Natan vryf sy handjies ingenome. “Ons het mos altyd die storie daarvan met die mooi prente by gelees. Onthou jy, Abba?”
Dit vergeet ek nooit nie, dink Marc toe hy knik.
“Dit laat my dink,” sê die rabbi, “aan die gesig wat Z’charyah gesien het van die goue kandelaar bo-op die bak olie met die twee olyfbome, een regs en een links. Hy het vir die engel gevra wat dit beteken. Die engel sê toe vir hom dis ’n boodskap van Adonai Tzva’ot, wat vir Serubbabel sê: ‘Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Ruach.’ Dis wat Chanukah ons wil leer.”
Later die aand toe Chaim en Hadassah die seuns al huis toe geneem het en Marc nog ’n rukkie by Rivkah agterbly, praat hulle oor die aand, oor die voorreg dat hul kinders met die Tora kan grootword.
Toe Marc oor haar buk om haar nag te soen, sê hy: “Sal jy ook onthou wat die engel vir Z’charyah gesê het?”
Sy glimlag effens. “Nie met mag en krag nie, maar deur sy Ruach.”
“Raak daarmee aan die slaap,” sê hy en soen haar.
30 November 2013
Marc is weer weg hospitaal toe – soos elke aand sedert Rivkah meer as twee weke gelede ernstig beseer uit die Filippyne teruggevlieg is. Sy het daar saam met ’n Israeliese mediese span gewerk en het byna haar been verloor toe ’n muur op haar ineengestort het.
Chaim het vanaand by Natan kom bly. Dit was Yhoshi se beurt om met sy pa saam te gaan. Natan het verkoue en moes liewer nie in die koue aandlug uitgaan nie.
Nou sit die rabbi en sy jongste kleinseun voor die televisie. Dit is Motzei Shabbat en die vierde aand van Chanukah. Die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, gaan ’n kort toespraak hou nadat hy die vyfde kers in die reusagtige chanukiah aangesteek het.
“Is Bibi al oud?” vra Natani.
“Lyk hy dan vir jou oud?”
“Hy het nie baie hare nie en dis heeltemal wit.”
“Nu, dit beteken nie regtig dat hy oud is nie, Natani. Ek dink hy is in sy 60’s.”
“Dis báie oud.”
Chaim gee ’n laggie, want hy dink daaraan dat hy self 63 jaar oud is. “Dit hang daarvan af hoe ’n mens daarna kyk, Natani.”
“Hy is mos nie in Yerushalayim nie, Saba. Waar is hy?”
“Hy is in Rome. In die Groot Sinagoge daar.”
“Dis vér.”
“Baie ver.”
Intussen het die premier die vyf kerse van die regterkant af die een ná die ander uit die shamash aangesteek. Die vlammetjies bibber effens in die koue lug.
Netanyahu kyk uit oor sy gehoor en glimlag. Die kerslig flikker oor sy blinkblou das.
“Wanneer dit gaan oor wat van lewensbelang vir die veiligheid van Israel se burgers is, sal ek – in teenstelling met ander leiers – nie stilbly nie. Dis baie maklik om stil te bly. Dis baie maklik om deur die internasionale gemeenskap op die skouer geklop te word of om net jou kop te laat sak. My mense se veiligheid is egter aan mý toevertrou. Die toekoms van hierdie land, van mý land, is my hoogste prioriteit. En in teenstelling met tydperke in die geskiedenis, het ons nou ’n harde en helder stem onder die nasies. En ons sal dit betyds laat opklink om teen gevaar te waarsku.”
“Hoekom praat hy nie Ivrit nie, Saba?”
Chaim tas na die seuntjie se hand om hom te laat stilbly. “Die mense in Italië verstaan nie Ivrit nie. Hy praat Engels. Wag, ek luister net gou wat hy sê.”
“… wesenlike bedreiging betref, ons sal betyds stappe doen as dit nodig word. Ek wil graag enige illusies wat bestaan uit die weg ruim. Iran streef daarna om ’n atoombom te kry. Dit word dus ’n bedreiging nie net vir Israel nie, maar ook vir Italië, Europa en die ganse wêreld. Ons moenie in die strik trap as gevolg van die glimlaggende gesigte wat ons op die televisie sien nie. Daar is vandag in Iran ’n regime wat terrorisme steun, wat die slagting van burgers in Sirië fasiliteer en voortdurend sy agente – Hamas, Hisbollah en die Islamitiese Jihad – met dodelike missiele bewapen.”
“Hamas skiet missiele na ons toe,” sê Natani.
Chaim knik, maar hy hou Natan se arm vas om hom tot stilte te maan, want hy wil graag die laaste stukkie van die premier se kort toespraak hoor.
“Ons moet die gevaarlikste regime in die wêreld nie toelaat om die gevaarlikste wapen in die wêreld te bekom nie. Soos ons gewaarsku het – en ek sê dit met spyt – het die sanksies begin verswak en vinnig ook. As daar nie binnekort tasbare stappe gedoen word nie, kan dit in duie stort en die jare lange inspanning laat verdwyn sonder enigiets in ruil daarvoor. Maar ek sê vir julle en ek beloof in die gees van die Makkabeërs dat ons Iran nié sal toelaat om ’n militêre kernmoondheid te word nie.”
“Sê hulle, Bibi!” prewel die rabbi.
“Sê hy ons gaan weer oorlog kry, Saba?”
“Lo! Lo, Natani …”
Eintlik moes ek ja gesê het, dink Chaim, want dit is waarop dit neerkom.
“Gaan Abba nie oorlog toe nie?”
“Nee, Natani … nog nie.” Hy voeg die laaste deel van sy sin sag genoeg by sodat Natan dit nie kan hoor nie.
“Maar gaan ons dan die Roomse mense help soos Imma na die Filistyne toe gegaan het?”
Chaim sug. “Luister eers, Natani, die premier is nie by die Roomse mense nie, maar by die Italianers. Verstaan jy?”
Die kleine seuntjie knik plegtig.
“En Imma was nie by die Filistyne nie, maar by die Filippyne. Ken?”
Weer die bevestigende knik. Maar Natan frons. “Hoekom moet ons dan altyd die ander mense gaan help daar ver? Kom hulle ons ook help?”
Chaim laat hoor ’n half moedelose laggie. “Nee, nie regtig nie …”
“Maar hoekom het Imma dan na die Fili- … mense toe gegaan toe daar so ’n groot storm was, Saba?”
Die rabbi dink ’n oomblik na. Toe leun hy vorentoe en skakel die televisie af. “Kom ons gaan sit daar by die kaggel dan vertel ek jou iets, Natani.”
Die seuntjie kom dadelik gewillig en hulle rig hulle gemaklik voor die vuurtjie in. Chaim haal nog twee stompies uit die houtkis en gooi dit in die kaggel. Fyn vonkies skiet in die lug op en die knus geur van brandende hout versprei deur die vertrek.
“Saba?” vra Natan afwagtend.
“Wat verstaan jy van tikkun olam, Natani?”
Natani oordink dit eers. “Iets van die wêreld …” sê hy toe aarselend, “om die wêreld te maak?”
“Om die wêreld te herstel. Heel te maak …”
“Die wêreld?” vra die kind. “Is die wêreld dan stukkend?”
“Nu, kom ons kyk ’n bietjie. Onthou jy nog hoekom ons Shabbat hou?”
“HaShem het gesê ons moet daardie dag ophou met werk omdat Hy ook opgehou het om te werk op die sewende dag.”
“Watse werk het Hy dan gedoen?”
“Maar, Saba, Hy het mos die wêreld gemaak!”
Chaim glimlag in die verontwaardigde gesiggie. “Nachon. Weet jy nog wat Hy alles gemaak het?”
Die kleine seuntjie beduie met sy hande. “Die son en die maan en die sterre. En die water en ál die diere. Al die plante ook. Alles, Saba. Vir Adam en Chavah ook.”
“Dink jy alles wat Hy gemaak het, was baie goed?”
Natan knik nadruklik. “Tov me’od!”
“Dink jy Adam en Chavah was gelukkig daar?”
“Ken!”
“Dink jy die mense daar in die Filippyne waar Imma gaan help het, was gelukkig?”
“Lo! Alles was daar stukkend. Al hul huise en die hospitale. Almal het omtrent verdrink.”
“En die prente wat jy op televisie sien van die mense in Sirië. Hoe lyk dit vir jou?”
Die kleintjie ril. “Baie lelik. Hul huise is stukkend geskiet. Daai koning van hulle het al miljoenes dood laat gaan. Daar is baie kinders wat doodgaan daar …”
“Al-Asad is ’n president, Natani, soos ons Shimon Peres. Hy’s nie ’n koning nie. En dis darem nie miljoene mense nie, maar ongeveer honderd duisend. Maar jy is reg, dit is vreeslik. Niemand kan daar gelukkig wees nie, of hoe?”
“Weet jy, Saba, as ek partykeer na die televisie kyk, dan dink ek ál die lande maak oorlog. Die mense skiet almal mekaar dood. Party het glad nie eens meer huise of kos om te eet nie. Dis net bomme wat onplof, of groot vure wat brand. Of aardbewings of tsoe- … wat?”
“Tsoenami’s. So, die wêreld lyk nie meer soos toe HaShem, baruch Hu, dit gemaak het nie?”
Natan skud sy kop. “Lo.”
“Kan jy sien hoe stukkend die wêreld is?”
Daar kom ’n lig van begrip in die kind se oë. “Ken.”
“Nu, tikkun olam is wanneer ’n mens probeer om daardie stukkende dinge weer heel te maak. Al is dit hoe ’n klein dingetjie wat jy doen. Al tel jy net ’n hondjie op wat deur ’n motor raakgery is en neem hom na die veearts toe. Al is jy nie lelik met iemand wat met jou lelik was nie. Al lag jy nie as iemand ’n grap oor HaShem, baruch Hu, maak nie. As jy die Shabbat hou, soos HaShem ons gevra het om dit te doen, sal mense nie net daaraan dink om soveel geld te maak as wat hulle kan ook op die sewende dag nie. Hulle sal rus en die dag aan HaShem wy en die wêreld sal ’n beter plek wees. Weet jy, ál die mitzvot wat HaShem ons in sy Tora gegee het, is vir tikkun olam. Alles waaroor die nevi’im ons, Am Yisra’el, gewaarsku het. Alles wat Yeshua sy talmidim en Sha’ul haShaliach sy gemeentes geleer het, dít alles was bedoel om tikkun olam te leer, om die stukkende wêreld van HaShem weer heel te maak.”
Die kind kyk hom met goot oë aan. “Maar Saba, hier in Israel is ook dinge wat stukkend is. Toe ek met Abba en Imma in Tel Aviv was, het ek gesien daar is baie mense wat nie Shabbat hou nie.”
Weer sug die rabbi. “Dit is so, Natani, dit is so. Maar hier sal ook nog tikkun kom. HaShem het dit belowe.” Hy reik in sy leertas wat langs die stoel staan en trek sy Bybel daar uit. “Het jy geweet HaShem, baruch Hu, het baie name vir die huis van Israel?”
“So ’n bietjie …”
“Efrayim en Ya’akov. Soms noem hy ons sy wingerd en soms die olyfboom. Die geslag van Dawid. Hy noem ons sy bruid.” Hy slaan die Bybel oop. “Luister wat sê HaShem hier in Hoshea: ‘Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan my bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.’ ”
“Sy bruid?” sê die kind verwonderd.
Chaim knik. “Luister wat sê Hy nog nadat hy lank gepraat het oor ál die verkeerde dinge wat sy volk doen weens ontrouheid aan Hom. Dis presies soos jy nou net van die Shabbat-ontheiliging gepraat het. Hy sê: ‘Tog sal ek weer begin om haar die hof te maak …’ ”
“Wat’s dit?”
Die rabbi moet weer ’n laggie gee. “Dit is amper soos om te wys dat jy verlief is. Verstaan jy?”
Natani knik. “Beseder.”
Die rabbi lees verder: “ ‘Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê. Wanneer ons daar is, sal ek weer vir haar wingerde gee. Ek sal die Akorlaagte ’n poort na ’n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het.’ ”
“Dis baie mooi, Saba. ’n Bruid is vir my baie mooi. Ek is altyd bly as ek saam met Abba na die Kotel toe gaan en daar kom ’n bruid aan.”
Sy oupa knik. “Adonai het sy volk baie lief, Natani. Jy moet dit altyd onthou. Maar weet jy, Hy praat ook partykeer van Israel as HaSukkah shel David.”
“Het David HaMelech in ’n sukkah gewoon?”
“Ja … voor hy sy paleis laat bou het.” Chaim weet nie mooi hoe om die simboliese betekenis vir Natan te verduidelik nie.
“Maar ons praat nou oor tikkun, nè? Dan moet jy weet dat Amos HaNavi ook weer met Israel moes praat oor die volk se ongehoorsaamheid en ontrouheid. Luister wat sê hy: ‘Hoor hierdie woord wat ek teen julle moet sê, hierdie treurlied, Israel: Israel het geval en hy sal nie weer opstaan nie; hy lê neergegooi op sy grond en niemand help hom op nie.’ ”
Natan se gemmerkatjie, Shishi, het op sy skoot gespring en hy druk die diertjie se sagte pels teen sy gesig aan.
Chaim wonder of hy nou te lank op die kind se aandag aanspraak gemaak het. Dit het immers al byna sy slaaptyd geword.
“Ek dink jy moet bed toe gaan, Natani.”
“Maar, Saba, jy het nog nie van HaSukkah shel David vertel nie.”
“Yeled chacham, jy vergeet ook niks nie. Ek gaan vir jou nog een stukkie van ou Amos lees waar hy vir Israel die woorde van Adonai laat hoor: ‘Daardie dag bou Ek die vervalle HaSukkah shel David weer op. Ek stop sy barste toe en bou sy murasies op, Ek herbou hom soos hy in die ou tyd was.’ ”
“Tikkun,” sê Natan.
Sy grootvader leun vooroor en soen hom in sy digte krulhare. “Nachon, Natani, daardie deel van die tikkun sal Adonai, geseënd is Hy, self doen soos Hy vir ou Amos gesê het. Maar ek en jy kan elke dag ons eie bietjie tikkun olam doen. Wat sê jy?”
“Ken, Saba. Dink jy HaShem sal dit doen voor HaMashiach terugkom?”
Chaim trek die seuntjie styf teen hom aan. “Ek weet nie, Natani, maar ek hoop Hy gaan dit gou doen.”