Читать книгу Tikkun Ha'olam - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 6

Оглавление

Hoofstuk 4

Jerusalem

14 Desember 2013

Shabbat

Toe Marc op Shabbat wakker word, sneeu dit nog een stryk deur. Hy wend weer ’n poging aan om Rivkah op sy selfoon te bel, maar daar is steeds geen ontvangs nie. Hy probeer die landlyn ook, net om te hoor dat slegs noodnommers geskakel kan word.

Die woonstel voel soos ’n grafkelder, yskoud en doodstil. Daar is selfs van buite geen geluide hoorbaar nie. Die sneeu sif onafgebroke oor die verlate plein neer. Hy trek ’n woltrui en sweetpak aan, asook sokkies by sy skaapvelpantoffels uit Suid-Afrika en gaan maak koffie, dankbaar dat die kragtoevoer ten minste momenteel na die Ou Stad herstel is. Met sy beker koffie gaan sit hy voor die televisie en skakel dit vol verwagting aan. Die beeld is bra bewerig en raak af en toe weg, maar hy kan darem van die jongste nuusberigte oor die buitengewoon hewige storm hoor. Tienduisende huishoudings oor die land, waaronder groot dele van Jerusalem, is steeds sonder elektrisiteit. Die storm toon nog geen teken daarvan dat dit wil bedaar nie. Die Israeliese Elektrisiteitskorporasie is steeds aan die swoeg om kraglyne te probeer herstel nadat bome daarop geval het.

Valskermsoldate van die Golani-, Kfir-, Givati- en Nachal-brigade, wat vir offisiersopleiding in Jerusalem ingeskryf het, is vir diens in die hoofstad opgeroep. Dié operasie staan bekend as Wit Vlokkies. Die oggendnuus berig voorts dat die Israeliese weermag en die brandweer die dag sal begin deur die honderde motors wat op die twee hoofpaaie na Jerusalem sedert die vorige dag vassit, uit te sleep. Hierdie paaie is tussen Tel Aviv en die hoofstad en tussen Modi’im en die stad.

Toe die televisieskerm swart word en die ligte flikker, besef Marc die skrif is nogmaals aan die muur. Nog voor hy die kerse kan gaan haal, gaan die krag af. Buite is dit nou om 07:30 nog stikdonker en hy bevind hom weer net in die geselskap van ’n flikkerende kersvlam. Hy sukkel in die halfdonker om weer die kaggel aan die brand te kry en kyk benoud na sy voorraad dennebolle in die houtkis wat al hoe minder word.

Yhoshi is lank voor Natani aan die gang. Marc is dankbaar vir die een klein gasstofie wat hulle vir ’n noodgeval aanhou sodat hy ten minste vir die kind kan koffiewater kook. Toe Yhoshi deur die venster loer, roep hy teleurgesteld na Marc om te kom kyk. Sy sneeuman van die vorige dag raak byna heeltemal weg in die dik laag sneeu. Hy wil onmiddellik uitgaan om die skade te herstel, maar Marc keer hom.

“Dit is Shabbat, Yhosh. Ons gaan eers die parashah doen wanneer Natani ook wakker is en ons iets geëet het. Die sneeu lê in elk geval hier onder op plekke byna ’n meter diep – as dit nie meer is nie. Jy gaan te gou te nat wees as jy nou al uitgaan. Ons het nie so baie droë klere nie en ons kan op die oomblik niks droog maak nie.”

“Hoe gaan ons eet?”

“Ons sal wel ’n plan maak met die gasstofie. Ek het Donderdag ’n paar eetgoedjies gekry.”

“Abba, hoe gaan Imma warm bly met daardie halwesirkelysterding aan haar been … Wat noem ’n mens dit?”

“Dis ’n fraktuurfikseerder om daardie stukke gebreekte been bymekaar te hou sodat dit weer kan aangroei.”

Yhoshi trek sy asem sissend in. “Dis so aaklig! Al daai yslike skroewe deur haar been! Sal sy dit lank moet dra?”

“Dr. Goldberg het gepraat van minstens vier maande.”

“Weet sy dit?”

Marc skud sy kop. “Die dokter het nie gedink dis nodig om dit nou al met haar te bespreek nie.”

“Maar sy sal mos nie ’n duvet heeltemal oor haar kan trek met daai monster aan haar been nie.”

Marc het in die nag ook daaroor gewonder en in sy eensame bed só na haar verlang dat dit byna ’n fisieke pyn was. Nou sê hy: “Daar sal beslis lugreëling wees.”

“Jy weet Imma haat lugreëling. Jy weet hoe gou raak sy benoud as ’n mens die verwarmer in die motor aansit. Sy sê sy kan nie asemhaal as dit aan is nie!”

Marc druk sy arm gerusstellend. “Hulle sal wel weet wat om te doen, Yhosh.”

“Kan jy nog steeds nie met haar praat nie, Abba?”

Marc skud sy kop. “Alles is dood.”

Yhoshi kyk ’n bietjie hulpeloos om hom rond. “Wat kan ’n mens doen? Álles werk met elektrisiteit.”

“Dit is in elk geval Shabbat. Maar wat dink jy het die mense gedoen vóór daar elektrisiteit was? Al die eeue daarvoor?”

“Ek weet nie, maar nou hét ons elektrisiteit. Gelukkig werk my selfoon.”

“Dink daaraan – wanneer die battery pap is, kan jy dit nie laai nie.”

Yhoshi syg met ’n wanhopige kreet op die bank neer. “Ek het vergeet!”

“Ek sal jou die boek gee waarin die storie van die reus …”

“Abba! Ek is nie meer ’n baba nie!”

“Nee, jy is nie, maar ek het net gewonder of jy die dieper betekenis van die storie sal verstaan. Natani het iets daarvan begryp.”

Dis genoeg uitdaging vir sy oudste seun. “Maar hoe kan ek dit nou lees as die krag af is?”

“Dink aan die filosowe, hoogleraars en komponiste wat dit almal by kerslig gedoen het en met veerpenne op perkament moes skryf.”

Yhoshi sug oordrewe. “Ek sal kyk of ’n mens dit kan doen.”

“ ’n Mens kan, ek belowe jou dit, maar eers gaan ons die parashah doen.”

“Hoe?”

“Ook by kerslig. Hier is baie kerse. Gaan trek nou eers aan. Neem ’n kers saam, maar wees versigtig dat dit nie omslaan nie.”

Hulle is nog nie heeltemal klaar met hul bestudering van die parashah nie toe daar aan die voordeur geklop word. Dis Ilan, hul bejaarde buurman. Hy is ’n afgetrede hoogleraar van dieselfde universiteit waaraan Marc verbonde is. Sy vrou is ’n paar maande tevore oorlede en Marc besef dit gaan nie soseer oor die vuurhoutjies wat hy kom leen nie, maar oor sy eensaamheid en die afgeslotenheid deur die sneeu. Hy nooi hom in om die kaggel met hulle te deel en maak vir hulle ’n stywe fles mud. Hy onthou die ou professor, wat nog tot sy 80ste jaar klas gegee het, het ’n voorliefde vir goeie moerkoffie.

Yhoshi verdwyn met Lewinsky se boek en ’n kers na sy kamer. Marc neem aan hy gaan die storie lees wat hy met ’n gebruikte koevert vir hom in die boek gemerk het. Natan kom sit by die besoeker, van wie hy baie hou, met Shishi in die een arm. Ilan streel die katjie en luister na Marc wat vertel van Siegfried se ondervindings in Westerbork.

“Ken, ek het die ou ook nou die dag ontmoet toe hy die duiwe gesit en voer het. Jammer dat hy geen geloof in die Ewige, baruch Hu, het nie. Hy moes ’n bitter tyd in Auschwitz gehad het, maar hy wou ook nie met my daaroor praat nie.”

“Jy is ’n Oostenryker van geboorte?” vra Marc.

Die ouer man se intelligente oë verhelder by die herinnering en hy lag skalks. “Nie heeltemal gróótgeword nie, daarvoor het Herr Hitler gesorg, maar ek het darem 12 jaar lank daar gewoon.”

“Ek verbeel my jy het eenkeer gesê jou vader was ’n bankier?” probeer Marc om sy buurman aan die praat te kry. Met Natan in die omtrek, is Marc dié keer nie so bevrees soos die vorige aand nie, want hy weet Ilan het nooit in een van die uitwissingskampe beland nie.

Die glimlag bly huiwer. “Dit wás hy ook. Ek kan my die tyd van die Anschluss nog heel goed voorstel. Dis meestal eie herinneringe, want ek was in 1938 darem al 12 jaar oud, maar ook ander feite omdat ek ná die tyd teruggegaan en soveel opleeswerk en ander navorsing gedoen het as wat ek kon. Ons het in Wene in nogal ’n deftige woonstel gewoon. Dié het, toe ek dit 20 jaar later gaan opsoek het, nog feitlik onveranderd gelyk. Al was dit natuurlik gestroop van alles wat my vader en sy vader en sy oupa voor hom oor byna twee eeue opgebou en versamel het. Ek sou wát wou gee om sy biblioteek te kon erf, want dié was onvervangbaar. Om nie eens van die kunswerke te praat wat ook oor geslagte versamel is nie. Ons is darem nou in die proses om ’n fraksie daarvan terug te kry.”

“Ek het eintlik nie besef jy het die Anschluss beleef nie.”

Ilan neem ’n sluk van sy koffie. “Toe Yedidyah nog geleef het, wou ek nie veel oor my ervarings praat nie. Myne was in vergelyking met my vrou s’n so onbenullig. Sy was in Birkenau. Sy moes op die paradegrond staan en toekyk hoe haar pa gehang word – en vir dae lank daar bly hang het. Sy het ál haar familielede in die gaskamers verloor. Net soos ou Siegfried wou sy ook nie praat nie.”

“Ek verstaan.”

“Ken. Ek was daar met die Anschluss, maar soos ek sê, my eie herinneringe en alles wat ek gaan naspeur het, loop soms deurmekaar. Ek is nou al lank nie meer seker wat is wat nie.”

“Dit maak nie saak nie. Vertel maar, want van die Oostenrykse Jode weet ek nie veel nie.”

“Nu, in Maart 1938 het die hoop vir die Oostenrykse referendum wat op hande was, hoog geloop. Op 10 Maart het bondskanselier Kurt Schuschnigg ’n vurige toespraak gehou. Ek, my ouers en my broer het voor die radio gesit en luister.”

Hy glimlag weer effens by die herinnering. “Dit was so ’n ou groot Engelse radio wat in die biblioteek gestaan het, bruin en indrukwekkend. Op die wyserplaat het die name van hoofstede gestaan. Ek onthou nog hoe die ganse Wene in rooi-en-wit vlae getooi was in afwagting van die voorgenome referendum. Die leuse was: Met Schuschnigg vir ’n vrye Oostenryk – gee die Führer jou ‘ja’. In die strate het skares bymekaar gekom. Die dansende jong mense het baniere en plakkate met slagspreuke vertoon so ver as wat die oog kon sien. Selfs die strate was hier en daar rooi en wit geverf. Heil Schuschnigg! Heil Freiheit! het daar gestaan. Later het ek uitgevind die Israelgesinde Jode het 500 000 schilling, dis sowat $100 000, gegee om die veldtog te finansier. Dit was destyds ’n aardige bedrag! Met dié steun vir ’n gunstige referendum wou die Jode van Oostenryk ’n bastion skep teen die verskrikking wat in Duitsland aan die gang was.”

“Daarmee sou die Führer seker nie baie in sy skik gewees het nie.”

Ilan lag. “Beslis nie. Voor dagbreek die volgende dag nog het die tyding gekom van troepebewegings aan die Duitse grens. Daar was desperate pogings uit Wene om te sien of Londen of Parys of Rome bereid sou wees om steun te bied teen die toenemende Duitse druk op die bondskanselier om te bedank. Die Duitsers wou die Nazigesinde minister Kurt Seyss-Inquart aan bewind hê. Die veldtog teen anneksering was egter vergeefs. Die volgende dag het die Israelgesindes ’n verdere 300 000 schilling aan die Schuschnigg-veldtog geskenk. Hulle het nie geweet dis hul begrafnisgeld nie.” Hy kry ’n suur trek op sy gesig. “Gerugte het reeds die rondte gedoen dat Duitse troepe die grens oorgesteek het en dat die referendum uitgestel sou word.”

Hy drink sy koffie klaar. Natan is nie langer geïnteresseerd nie en klim met kat en ál van die rusbank af, en hou homself by die kaggel besig deur stokkies in die vuur te gooi.

“Ons het weer die ganse dag voor die radio deurgebring, weet ek nog. Eers is die uitstel van die referendum aangekondig en ’n paar minute later die bedanking van die volle kabinet, behalwe Seyss-Inquart.”

“Uiteraard,” sê Marc.

Ilan knik. “Nachon. Hy het aangebly as minister van binnelandse sake. Nu, daardie tyd het ek maar min besef van wat regtig aan die gang was. Ek was net bewus van my ouers se onsteltenis, wat hulle onsuksesvol probeer verberg het. Maar nou weet ons al dat die regering van die Duitse Ryk ’n ultimatum gestel het. Oostenryk moes óf ’n kandidaat vir die kanselierskap aanwys, óf Duitse troepe sou ons grens onmiddellik begin oorsteek.”

“En Oostenryk was nie bereid om Duitse bloed te verspil nie.”

“Dis soos jy sê, Marc,” Ilan lyk sinies. “Hoe sou ons dit immers ook reggekry het? Maar ja, dit was asof die wêreld omgekeer is. Dit kan ek my nog goed voorstel. Die krete wat skielik toenemend in die strate opgeklink het, het nuwe slagspreuke bevat: Ein Volk, ein Reich, ein Führer! En heel spoedig ook: Jude, verrecke!”

“Sjoe!”

“Ek onthou baie goed die see van bruin hemde wat deur die straat voor ons woonstel verbygestroom het terwyl ek angstig vanuit die boonste vensters op hulle neergekyk het. Oral was mense met wapens te sien en skielik het die polisie almal swastika-armbande gedra. Trouens, die vragmotors wat in die strate afgejaag het, en die trems het ook swastikas vertoon. Dit was iets wat ek tot in daardie stadium nooit tevore gesien het nie. Jong mans en seuns het aan hulle gehang, gewuif en uitgelate geskreeu. My pa het my by die vensterraam kom weghaal en die ligte afgeskakel.”

Hy lag weer. Dis amper dieselfde laggie as ou Siegfried s’n, dink Marc.

“Tja, dit was nie asof dit ons onsigbaar kon maak as dit donker is nie. Dit was vir my duidelik dat my ouers nie geweet het wat om te doen nie. Vir die eerste keer in my lewe het ek dit meegemaak …”

Marc leun oor en skink vir hom nog mud uit die termosfles op die tafel. Eers toe merk hy in die halfdonker dat Yhoshi uit die kamer gekom en in een van die diep gemakstoele gaan sit het.

Ilan neem die koffie by Marc en sit dit op die tafeltjie langs hom neer. “Een van my pa se neefs het gebel en gesê hulle gaan die nagtrein Praag toe probeer haal. Hy het daarop aangedring dat ons hulle moet vergesel. My moeder het radeloos haar hande gevryf en my vader het gesê ons sal nooit ongedeerd deur die skare kom nie en die trein sal in elk geval vol wees. Ek het later besef dat hy nie kans gesien het om alles waaruit sy lewe bestaan het, net so agter te laat nie. As 12-jarige seun het ek geen idee gehad van die geskiedkundige impak van die oomblik nie, maar nou weet ek president Miklas het ná middernag die nuwe kabinet goedgekeur en daar is aangekondig dat Oostenryk nou vry en Nasionaal-Sosialisties was.”

“Het dit so ontsettend vinnig gebeur?”

“Só vinnig, Marc. Daardie selfde nag al is die eerste Joodse winkels se vertoonvensters stukkend geslaan. Nie een van ons vier het bed toe gegaan of ons klere uitgetrek nie. Voor dagbreek die volgende oggend is daar met vuiste op ons voordeur gehamer en het ’n stuk of agt mans die woonstel binnegeswerm. Party van hulle het ’n soort uniform aangehad, ander was in burgerdrag met swastikas op die moue. Toe het daar ’n orkaan van vernietiging en plundery uitgebars. Mense wat vir jare verby die huis geloop en deur die venster geloer het as dit oop was, het toe meteens binnegekom. Dit was duidelik dat hulle dink: ‘Dít is hoe die Jode leef! Dít is hoe hulle ons geld gebruik het!’ Selfs ek kon dit op hul gesigte lees.”

Marc merk hoe Yhoshi, wat aandagtig luister, ril. Daar is egter nie veel wat hy daaromtrent kan doen nie.

Ilan roer in sy koffie, maar hy drink dit nie. “Een beeld bly my altyd by. My ouers se slaapkamer was die laaste vertrek wat hulle binnegeval het. Daar was Moeder se kleedtafel. Hulle het alles wat daarop was, sommer hardhandig op die vloer geveeg. Die klein spieëltjie, fraai porseleinbakkies, silwerdosies en die pot met rose. Toe het hulle die tafel in die gang uitgesleep. Hulle het ons vier wat daar gestaan het, teen die muur vasgedruk sodat hulle kon verbykom en drie van hulle het die tafel gelig en oor die balkonreling laat val. Jy kon hoor hoe die hout versplinter toe dit die stene van die binnehof tref …”

Hy draai sy kop ’n paar maal stadig heen en weer voordat hy verder praat. Dis of hy daardie beeld uit sy gedagtes wil verdryf. “Dit was moeilik om te glo. Ons het daar gestaan soos mense wat droom. Ek weet nog wat Vader gesê het toe die boewe met sakke vol aandenkings oor hul skouers die huis uit is. Een het selfs die groot staanklok van meer as ’n honderd jaar oud onder die arm gehad. Vader het gesê: ‘Dit is net die begin.’ ”

“Dit was nog nie eens Hitler se trawante nie?”

“Nee. Dit was die nuutontwaakte Ariërs. En daar was niks wat hulle kon teëhou nie.”

“Ariërs was almal wat nie Jode was nie?” vra Yhoshi sag.

Dis of die kinderstem Ilan tot sy sinne bring. “Jy sou so kon sê, Yhoshi,” sê hy rustiger, lig sy koppie en piering op, en drink sy koffie.

Die vlamme knetter en skiet vonke die lug in toe Marc nuwe dennebolle in die kaggel gooi. Natan het een van sy geliefde prenteboeke gaan haal en hy kyk saam met Shishi en Shmu’eli daarin.

Hy hoor wat Ilan vertel, en hy skep sy eie, veilige wêreld, dink Marc.

Dit sneeu steeds onophoudelik en die lug buite die venster is pêrelgrys.

“Maar dis nie net by ons wat dit gebeur het nie. Dwarsoor Wene is daardie nag deure oopgebreek terwyl kinders agter hul ouers weggekruip het, onder beddens, in kaste – enige plek om weg te kom van die rumoer wat hul bekende wêreld oorgeneem het. Vaders en broers is sonder meer in hegtenis geneem en in die groot vragmotors gebondel. Niemand het geweet waarheen hulle geneem sou word nie.”

“As hulle dan nie Hitler se soldate was nie, hoekom het die gewone mense dit aan die Jode gedoen?”

“Yhoshi, dit is wat ’n mens anti-Semitisme noem. Dis die eeue oue haat wat anti-Semiete laat glo die geweld van dinge vernietig en plunder is die beloning vir jare van wag dat dit met die Jode moet gebeur. Dit is baie jare van haat en afguns. Daardie nag – en dit was die nag van Shabbat – is die storie waarvan oupas en oumas hul kleinkinders lank daarna nog sou vertel. Dit was die nag waarop die Jode uiteindelik moes boet vir alles wat hulle gedoen het, vir alles wat hulle van die armes gesteel het. Oostenryk moes skoongemaak word van ál die vuil, ál die besmetting wat die Jode uit hul stink krotte na die mooie Wene gebring het. Hulle moes boet oor hulle gevat het wat nie hulle s’n was nie …”

“Maar …”

“Ek weet, Yhoshi, ek weet. Die rykdom en daarmee saam die voorste posisies en die aansien wat die Jode in Wene gehad het, was nie van ander gesteel nie. Dit het vir 90% van hulle uit harde werk gekom én omdat HaShem sy volk met buitengewone gawes seën. Ken jy die Birkat Kohanim, waarmee Adonai, baruch Hu, die priesters beveel het om Israel te seën?”

Yhoshi knik.

“Kan jy dit vir ons opsê?”

Yhoshi raak vinnig aan sy kippah en sê die gebed op:

“Y’varecha Adonai, v’yishmerecha. Ya’er Adonai panav eleicha vichunecha. Yissa Adonai panav eleicha v’yasem shalom.”

“Ek is seker jy het gehoor wat jyself sê. Hy sal seën, Hy sal guns betoon. En shalom is veel meer as net vrede. Dis vermenigvuldigde seën. Dus kan jy sien Hy seën sy volk met vele gawes en daarmee saam breinkrag. Die geskiedenis getuig daarvan. Nie van die Jode se grootheid nie, maar van die Ewige se grootheid in hulle. En die wêreld wat HaShem nie erken nie, kan dit nie hanteer nie. Die Jood is vir hulle die teken van ’n onveranderlike God, wat sy volk nie volkome sal laat uitroei nie, selfs al probeer die wêreld ook hóé hard. En hulle haat dit om dit te weet. Daarom haat hulle ons en versin hulle ál dié verhale. Omdat soveel mense dié leuens al met hul moedersmelk inkry, glo hulle dit. Daarom gebruik Israel se vyand dit om hul volgelinge mee aan te hits sodat hulle doen wat hierdie mense gedoen het.”

Dit is vir ’n rukkie stil voor Yhoshi vra: “Maar jul familie kon betyds vlug?”

“Nie heeltemal betyds nie, Yhoshi. Soos ek gesê het, my pa het moeite gehad daarmee om alles wat oor geslagte opgebou is, net so agter te laat. Dit is dieselfde probleem waarmee baie ryk Joodse mense in die diaspora vandag nog sukkel en waarom hulle nie na Israel toe kom nie, terwyl hulle wel kan sien hoe anti-Semitisme hand oor hand toeneem.”

“Het dit al hoe slegter gegaan in Wene?”

“Dit het beslis. Net die volgende dag, die dag waarop die referendum sou plaasvind …”

“Wat is dit?” wil Yhoshi weet.

“Dis ’n volkstemming. Nu, wat sien ons – ek – toe op daardie oggend? Oral waar jy kyk, was Jode op hul knieë besig om die strate van Wene te skrop.”

“Die stráte?”

“Die strate, ja. Bejaardes en kinders, professors en munisipale beamptes, rabbi’s en vrydenkers, Ortodokse Jode en Jode wat hulle as Christene laat doop het …”

“Jode het hulle laat doop?” vra Yhoshi ongelowig.

“Die kapelaan van die klein Engelse kerkie kon nie voorbly daarmee om Jode te doop nie. As jy jou tot die Christendom bekeer het, was daar dalk meer opsies om weg te kom. Daar het toue mense buite die kerk gestaan, maar die doop het hulle nie gehelp nie. Hulle moes ook strate skrop. Almal. Onder die oë van die SS en die Gestapo. Daar was ook polisielede en die mense wat vir jare langs hulle gewoon het. Die Jode is uitgejou, bespoeg, beskreeu, geskop en geslaan. Elke teken van die Schuschnigg-volkstemming moes weggeskrop word. Wene moes weer skoongemaak word van die Hapsburgers en veral van Joodse besoedeling.”

“Kon julle nog in jul huis bly?”

“My ouers, ek en my jonger broer is uit die huis gejaag en moes in ’n kamer in die bediendekwartiere intrek.”

“Was Hitler in daardie stadium al in Wene?” vra Marc.

“Lo. Hy het eers die volgende dag met groot fanfare aangekom en sogenaamd sy ma se graf gaan besoek. Dit was immers sy geboorteland. Die volgende dag het hy sy oorweldigende toespraak gehou. Daarvan onthou ek net die rumoer in die stad. Toe ek baie jare later daaroor gaan oplees, vind ek in die Neue Basler Zeitung van 15 Maart 1938 dié opskrif: ‘Die tonele van dolle verering van Hitler gaan alle beskrywing te bowe.’ Dit verwys ook na die reusevertoning van marsjerende soldate en die oorvlug van 400 vliegtuie. Ek kan my nog vaagweg aan dié skouspel herinner. Die stad het ’n algehele gedaanteverwisseling ondergaan. Op elke Joodse winkel is die woord Jude in rooi geverf. Enige klant wat daar in of uit probeer gaan het, is aangeval.”

Ilan hou sy koppie uit en Marc skink die laaste mud uit die termosfles daarin. Hy blaas effens daarop en neem toe haastig ’n groot sluk, maar verbrand byna sy mond.

“Jode is uit teatergeselskappe en simfonieorkeste geskop. Eensklaps is 183 Joodse onderwysers op straat gesit. Alle Joodse staatsdienswerkers is summier ontslaan. Alle Joodse prokureurs, advokate en staatsaanklaers is afgedank. Daardie Maart en April was ’n tyd toe jy jou aan enige Joodse eiendom kon help. Jy kon ’n Jood platslaan net waar jy wou en wanneer jy wou. Later het ek gelees 163 Jode het in daardie eerste dae selfmoord gepleeg.”

Hy neem weer ’n sluk koffie.

“Toe is die SS ingestuur, ook na ons woonstelgebou om dit wat van die huis se inhoud oorgebly het, te deursoek vir enige getuienis en inderdaad ook vir enigiets wat waardevol was. En alles was waardevol. Ten slotte is die klagstaat teen Vader opgestel. Die Jood Maurice Bryer is daarvan beskuldig dat hy 5 000 schilling bygedra het tot die Schuschnigg-veldtog. Dit het van hom ’n vyand van die Reich gemaak. Hy is gearresteer en weggeneem. Ons woonstelgebou, of dit wat eenmaal ons woning was, is deur die Nazi-amptenary oorgeneem. Vader is voor die keuse gestel om óf ál sy eiendom in Wene – dit wat die Bryer-familie oor geslagte opgebou het – weg te teken, óf om op die trein gesit te word Dachau toe. En toe hy sy naam daar onder geteken het, is hy toegelaat om terug te kom na die kamer wat toe ons huis moes wees.”

“ ’n Mens kan jou dit nie voorstel nie. Alles binne die bestek van ’n paar weke,” sê Marc.

Ilan knik somber. “Ek dink Vader het toe begin besef daar is niks meer in Wene te make nie. Hy was nie in staat om na sy kafee, sy kantoor, sy klub of sy neefs te gaan nie. Hy kon nie eens meer op ’n parkbank iewers in die stad gaan sit nie, want die woorde Nicht für Juden is daarop gestensil. Hy kon nie na ’n boekwinkel gaan nie. Hy kon nêrens sy hare laat sny nie. Hy kon nie eens meer in die park gaan wandel of na die opera of bioskoop gaan nie.”

“Dit is die reus se storie,” sê Yhoshi toe hy stilbly.

Hy het dus die storie gelees en verstaan, besef Marc verwonderd.

“Die reus se storie?” Ilan kyk ’n bietjie verward van Yhoshi na Marc.

Natan het opgestaan en met gevoude arms op die stoelleuning by Marc kom leun. “In die storie van die grootste reus en die slegte towenaar was dit ook so gewees,” sê hy ernstig.

“Kan jy dié storie vir my vertel, Natani?” vra Ilan

“Yhoshi kan.”

“Lo, jý,” sê sy pa.

Die kleine seuntjie gaan staan regop en dink ’n oomblik na. Marc kyk na Yhoshi en knipoog vir hom. Hy bly stil.

“Dis ’n storie in ’n boek wat Abba gelees het.”

“Ken?”

“Eendag lank gelede was daar ’n reus …” begin Natani vertel. Marc kyk verteder op die donkerkoppie neer soos die kleine seuntjie die storie vertel. Alles verloop mooi vlot. Dis net toe hy by die gedeelte oor die geskenk kom, dat hy effens huiwer.

“Wat was die present se naam nou weer, Abba?”

“Onderskeiding,” mompel Yhoshi voor Marc kan antwoord.

“Ken! Die towenaar het vir die reus ’n onderskeiding gegee,” en opgewonde hervat Natani sy storie. Hy vertel van die woorde ek is ’n reus wat op die onderskeiding gestaan het en die towenaar wat dit getoor het sodat die reus kleiner en kleiner geword het. Toe hy weer ’n slag vashaak by “onderskry-”, korrigeer sy boetie hom vinnig.

Marc kan aan Ilan se gesig sien dat hy die strekking van die verhaal snap, maar hy sê nogtans onskuldig. “Was die toordery só sterk?”

Natan knik diep. “En toe hy só klein was soos net ’n babapaddatjie, weet jy wat doen daai towenaar toe?”

“Ek kan nie dink nie, Natani.”

“Hy trap hom mors-morsdood. En toe vee hy sy skoen se sool aan die gras af. Toe staan daar op die bordjie Ek was ’n reus.”

Ilan druk sy vuis teen sy mond en kyk vinnig weg, maar hy kry gou sy emosies onder beheer. “Hoekom het dit jou aan my storie laat dink, Natani?”

“Daardie slegte Hilter …”

“Hitler!” skree Yhoshi byna.

Marc maak ’n vinnige handgebaar in sy rigting en die kind sug en vou sy arms vererg oor sy bors.

“Daardie man het mos die Jode ook kleiner gemaak. Want hulle kon toe mos niks meer doen nie. Jy het mos so van jou abba gesê.”

“Jy is heeltemal reg, Natani. Yeled chacham.”

“Maar hoekom het julle dan nie kampe toe gegaan soos ál die ander nie?” vra Yhoshi duidelik gefrustreerd oor die lang verhaal wat tussenin gekom het.

“My pa se broer, David, wat ’n advokaat in New York was, het teen daardie tyd soveel berge versit, soveel onderhoude gevoer, soveel invloedryke mense benader, soveel geld onder die tafel aangegee, dat die Bryer-familie visums gekry het om ’n boot na Amerika te haal. Ons kon gaan, al was dit nou ook met elk net een koffer op elkeen se naam.”

“Dit was soos die reus,” sê Natan sag.

“So was dit, Natani.”

Die vuur het byna uitgebrand en Marc moet opstaan om dit weer te stook.

“Ek moet huiswaarts keer,” sê Ilan, “ek het veels te veel gepraat en dit op Shabbat wanneer ons eintlik geseënd bymekaar wil wees.”

“Dit was nogtans goed om dit alles te hoor.”

“Kom kyk hoe lyk dit buite, Abba!” roep Natan.

Hulle gaan ál vier voor die vensterraam staan. Dit sneeu steeds hewig. Niks is meer herkenbaar nie, behalwe die bome en die Hurvah-sinagoge. Nêrens beweeg daar meer ’n sterfling nie. Die pêrelgrys lug het byna pers geword.

“Ons gaan nog lank sonder krag wees,” laat Yhoshi somber hoor, “en ’n mens kan nie eens na buite gaan nie.”

“Dis goed dat jy net oor die stoep hoef te loop, adon Ilan,” sê Natan.

Ilan streel sy krulkop. “Ek moet nogtans mooi loop sodat ek nie gly nie.” Hy kyk na Marc en glimlag skeef, “want ’n Jood kan maklik val.”

Tikkun Ha'olam

Подняться наверх