Читать книгу Tikkun Ha'olam - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 5

Оглавление

Hoofstuk 3

Jerusalem

12 tot 13 Desember 2013

Die buitengewone koue maak Marc die Donderdagoggend wakker. Op die klokhorlosie voor die bed sien hy dit is nog nie eens seweuur nie. Dit val hom dadelik op hoe grafstil dit buite in die Ou Stad rondom hom is. Hy staan op en trek die gordyne oop. ’n Ysige luggie tref hom teen die bors. Buite sneeu dit hewig. Dit was te wagte, maar hierdie is beslis swaarder as waaraan Jerusalem gewoond is, veral so vroeg soos Desember.

Hy glip sy warm kamerjas aan en maak die band koulik vas. Toe gaan soek hy koffie in die kombuis. Hy skakel die radio aan om te hoor of Jerusalem se munisipaliteit dalk besluit het om die skole te sluit – iets wat al een of twee keer vandat hy in Israel bly gebeur het. Daar word egter aangekondig dat dit nie die geval is nie.

Dit het vroeër in die week ook duidelik geword Rivkah sou nie soos hulle gehoop het, môre voor Shabbat huis toe kon kom nie. Dit sal sekerlik vir die kinders ’n geweldige teleurstelling wees. Daarom is hy eintlik bly oor die swaar sneeuval wat hul gedagtes so ’n bietjie kan aflei. Veral Natan het dit nodig. Omdat hy die afgelope twee jaar soveel met hospitale te doen gehad het, is dit wat met sy ma gebeur het, meer traumaties vir hom as vir Yhoshi.

Marc gaan maak hulle wakker. Ook hulle is gefassineer deur die sneeu wat stadig maar seker besig is om ’n wit kombers oor die plein onderkant die venster te trek. Marc moet hulle steeds aanpor om betyds klaar te maak om nie die bus skool toe te verpas nie. Hy kyk nog bekommerd deur die venster na die sneeu wat steeds digter val, en wonder of hy hulle nie met die motor moet neem nie toe die aankondiging kom dat daar voorlopig geen skool sal wees nie. Die seuns klap opgewonde hande. ’n Sneeudag!

Marc self kry net daarna ’n oproep van die universiteitsadministrasie dat alle lesings daar ook gestaak is. Omdat die universiteit so hoog op die Scopusberg geleë is, is die sneeuval daar nog digter. Die verkeer sit klaar in die middestad vas. Hy besef daarmee saam dat die hospitaal wat vlakby die universiteit geleë is, ook nie bereik sal kan word nie. Dit deel hy voorlopig nog nie met die kinders nie.

Hy kan hulle egter nie vir lank in die huis hou nie. Hulle wil met alle geweld uit. Hy praat eers gou met Rivkah op die selfoon. Sy vertel dit sneeu inderdaad geweldig daar by hulle. Toe trek hy en die seuns hul jekkers, musse en stewels aan en hardloop die trappies voor die huis af tot in Rechov haYehudim. Shmu’eli tjank klaend omdat hy nie aan die uitstappie kan meedoen nie. Marc het egter geen idee waar Rivkah die hondjie se winterjassie bêre nie, dus moes hy noodgedwonge agterbly.

Die plein is vol joelende kinders in kleurryke wintersklere. Dit blom ook van helderkleurige sambrele. Opgewonde stemme, gille en ’n gelag klink oral op. Natan raak verruk deur die sneeu wat soos sagte asemteue onophoudelik teen sy gesig val. Hy bly in die middel van die plein staan en hou albei sy handjies bak om die vlokkies in sy handskoene te vang. Kort voor lank is hulle deurnat en moet Marc met hom huis toe stap omdat hy bang is die kind word siek. Yhoshi word toegelaat om nog ’n bietjie langer buite te bly. Hy en sy maats hardloop kringe in die sneeu wat sentimeters dik lê en bestook mekaar met sneeuballe.

Teen elfuur lê die sneeu al 3 of 4 sentimeter dik. Teen die middag hou dit op met val en begin die sneeu op die grond selfs stadig smelt. Die donker wolke bly egter oor die stad hang. Weerkundiges waarsku dat ’n selfs groter storm later die middag in die noordelike en sentrale dele van die land te wagte kan wees. Só gebeur dit ook. Toe die laaste lig teen vyfuur verdwyn, sneeu dit so geweldig dat Marc besef hy kan maar daarvan vergeet om hospitaal toe te gaan.

Moshe het hom vroeër die middag gemaan om genoeg voorraad van die klein supermark laer af in Rechov Tiferet Yisra’el op te gaar omdat hy vrees die elektrisiteit gaan dit nie maak nie. Hy het sy winkel teen elfuur al gesluit voor hy en Dov huis toe is. Marc stook die vuur in die woonkamer en maak sop. Van inkom wil Yhoshi niks hoor nie. In die lig van die lampe op die plein bou die kinders sneeumanne en gaan die sneeugevegte voort. Natan moet dit maar alles deur die vensterraam dophou.

Marc praat steeds nou en dan met Rivkah oor die selfoon, maar die sneeu val al digter en hy moet Yhoshi later inroep omdat hy te nat word in die koue. Die selfoonverbinding raak geleidelik swakker sodat hy die oproepe uiteindelik moet laat vaar.

Dit sneeu dwarsdeur die nag en die temperatuur daal heelwat onder vriespunt. Die volgende oggend is die Hurvah-plein byna onherkenbaar. Marc vrees vir die kragtoevoer, want op die televisie sien hy veral in dele van Jerusalem en die verre noorde sit duisende huishoudings sonder elektrisiteit. Omdat die kinders aanhou kerm om na buite te gaan, laat hy hulle weer eens so warm moontlik aantrek. Toe stap hy saam met hulle deur die meestal verlate Arabiese shuks in Davidstraat, deur die Jaffapoort en ’n ent langs die Muur. Dit word egter gou te koud sodat hulle moet omdraai. Toe gaan drink hulle warm sjokolade in die Mamilla-wandelhal, waar dit besonder druk is omdat ál wat leef daar warmte soek. Skielik gee die kragtoevoer in en dit raak so swak verlig daar en tussen die shuks dat hulle maar so gou moontlik terugbeweeg huis toe.

By die huis is alles ook donker en die hondjie kerm klaaglik. Marc skarrel om die kerse wat hy neergesit het, aan die brand gesteek te kry, want buite is dit skaars nog lig. Hy steek die kaggel weer aan en hoop maar dat sy voorraad dennebolle dit gaan maak. Yhoshi het haastig droog aangetrek en staan al weer gereed om uit te gaan. Marc laat hom begaan, want hy weet die maats is almal op die plein, waar die sneeu steeds met mening val en meer en meer sneeumanne verrys.

Natani is tevrede daarmee om binne te bly. Die vinnige terugtog het hom moeg gemaak en hy kom krul hom saam met Shishi en Shmu’eli by Marc op die bank voor die kaggel op. Van buite af is die stemme van die kinders selfs deur die toe vensters hoorbaar. Selfoonopvangs is so goed soos nul en hy kan nie met Rivkah kontak maak nie.

“Abba …”

“Hmm?” Marc doen sy bes om by die flikkerende kerslig iets in die Jerusalem Post gelees te kry, maar dit is bykans onmoontlik.

“Daardie adon met wie jy anderdag op die plein so lank gepraat het …”

Marc frons. “Watter een?”

“Die baie ou een, Abba. Die een met die swart jas.”

“O,” Marc besef van wie hy praat, “Siegfried Singer. Wat van hom?”

“Hy is Yoav se oupa se vriend. Hy bly in Neveh Simcha.”

“O, die ouetehuis in Romema?”

“Ken. Hy bly nou daar en hy kuier baie by Yoav-hulle.”

“Waar het hy dan eers gebly? Weet jy?”

“In die Galil, dink ek. Maar ek weet nie waar nie. Ek sal vir Yoav vra.”

“Dis goed,” sê Marc en probeer weer die Jerusalem Post se hoofberig ontsyfer.

“Abba …”

Hy laat die koerant op sy skoot sak.

“Wat, lieweling?”

“Wat het jy en hy dan so lank oor gepraat? Jy ken hom mos nie.” Natan ken sy pa se teruggetrokke geaardheid en weet dat Marc nie sommer vreemdelinge uit sy eie nader nie.

Marc dink ’n oomblik na voordat hy antwoord. Natan het nog nie naastenby soveel van die Holocaust gehoor soos Yhoshi nie. Hy en Rivkah het sedert sy ervaring met kanker heel versigtig met hom omgegaan. Miskien té versigtig, dink Marc nou, maar hy weeg nogtans sy woorde.

“Hy het my vertel van wat met hom gebeur het in die oorlog toe dit so sleg gegaan het met die Jode.”

“Hier in ha’aretz?”

Marc skud sy kop. “Lo.” Hy huiwer vlugtig. Toe sê hy: “Gaan haal gou vir ons oupagrootjie Lucas se aardbol in die studeerkamer.”

Die kleine seuntjie is onmiddellik geïnteresseerd. Hy klim van die rusbank af en gaan om dit te haal.

Marc onthou onverwags met skerp hartseer sy Suid-Afrikaanse oupa Lucas, Mara se pa, aan wie die aardbol aanvanklik behoort het. Hoe hy van baie kleins af altyd vir Marc van die lande daarop geleer het. Jare later toe Yhoshi gebore is en Marc op besoek in Suid-Afrika was, het hy dit vir sy nuutgebore agterkleinseun Israel toe gestuur.

Marc maak die aardbol op die koffietafel tussen hulle en die kaggel staan, en hy beduie met ’n potlood. “Kyk eers, hier is Israel.”

“Waar?”

“Hier waar ek druk.”

“Daai klein stukkie?”

“Nachon.”

“Maar ons is gróót, Abba!”

“Kyk nou, hier is Egipte en Jordanië en Saoedi-Arabië en Sirië en Libanon. Hier is Turkye.” Hy druk met die potlood op elkeen. “Dis hoe klein ons is in vergelyking met die ander lande.”

“Is dit waar, Abba?”

Marc lag. “Dit is waar. Maar kyk nou hierso.” Hy draai die aardbol. “Al hierdie lande saam is Europa.”

“Maar hulle is dan almal ander kleure.”

“Dis omdat Europa ’n hele klomp lande saam is, soos,” hy beduie weer met die potlood, “Frankryk, Duitsland, Nederland, Oostenryk, Switserland, Pole, Hongarye, Italië, Griekeland, Portugal en so aan. Sien jy?”

“Maar Abba, hulle is almal groter as ons!”

Marc moet weer lag. “Dit is so. Maar ek wil nou eers vir jou vertel waaroor ek en adon Singer gepraat het. Kyk hierdie groterige land, dié bruine. Sien jy?”

Natan knik.

“Dit is Duitsland. ’n Baie bose man was lank gelede daar die leier. Sy naam was Hitler en hy het die Jode gehaat en …”

“Hoekom?” val Natan hom in die rede.

“Nu, hy het geglo hulle het te baie … mag en dis hul skuld dat dit sleg gaan in Duitsland,” probeer hy ’n geweldige konsep vereenvoudig.

“Was dit hul skuld?”

Daar kom ’n ietwat droewe laggie om Marc se mond. “Natani, die Jode was almal professore en dokters en advokate en groot handelaars. Baie van hulle was ryk en daarom het Hitler geglo hulle buit ander mense uit …”

“Hoe buit ’n mens iemand uit?”

“Nu, dit beteken eintlik dat jy ander mense misbruik. Dat jy oneerlik is.”

“Was hulle oneerlik?”

Marc onderdruk ’n sug suksesvol. “Daar sou van hulle gewees het wat oneerlik was, maar definitief nie die meeste van hulle nie. Hulle het eenvoudig baie hard gewerk en daarom sukses gehad. Daar was baie, baie slim mense onder hulle, Natani.”

“En toe het hierdie man Hilt- …”

“Hitler.”

“Toe het hierdie Hitler-man hulle gehaat.”

“Ken. En dit het gemaak dat hy hulle vreeslik sleg behandel het. Hy het lelike dinge gedoen om hulle te verneder. Hulle kon nie meer na baie openbare plekke gaan nie. Daar was plakkate voor hul winkels wat gewaarsku het: ‘Moenie by Jode koop nie’. Lateraan kon hulle byna nêrens meer gaan nie. Een nag, wat Kristalnag of Nag van Gebreekte Glas genoem word, het Hitler se mense alle Joodse winkels se vensters stukkend geslaan, die sinagoges verniel en aan die brand gesteek …”

“Maar hoekom het die Jode dan nie Israel toe gekom nie?”

“Omdat Israel nog nie aan die Jode behoort het nie,” probeer Marc verduidelik.

“Maar hoekom het hulle dan nie na ál hierdie ander plekke toe gegaan nie?” Hy wys na die ander Europese lande op die aardbol.

“Die Nazi’s … dit was Hitler se … soldate en mense wat ook soos hy gedink het, het die Jode se bankrekeninge gesluit sodat hulle nie hul geld uit die land kon neem nie. Party van die Jode het dit wel reggekry om betyds weg te kom. Natani, party van hulle, nie baie nie, het op ’n manier met die Nazi’s saamgewerk.”

Natani se oë raak groot van verbasing. “Saamgewerk?”

“Nou moet jy goed luister, Natani. Ná ’n tyd het Hitler besluit om die Jode … dood te maak …”

“Soos in ’n oorlog?”

“Nee, dit was nie ’n oorlog nie, want die Jode het nie soldate gehad nie. Die Jode het mos in Duitsland en van die ander lande in Europa gewoon, want hulle het nie hul eie land gehad soos nou nie.”

“So, hulle kon nie veg soos ons teen die Palestyne veg wat ook vir ons wil doodmaak nie?”

Marc knyp sy oë ’n oomblik lank toe. “Nee, hulle kon nie. En Hitler …”

“Maar wat van dié wat in ál hierdie ander lande gebly het?”

“Ek het mos vir jou gesê Hitler was ’n baie bose man. Hy wou die hele Europa sy land maak. Groot Duitsland. Toe het hy met ál hierdie lande oorlog gemaak – met Frankryk, Nederland, Pole,” hy beduie op die aardbol, “en almal gewen, want sy soldate was baie sterk. Toe het hy die Jode in daardie lande almal in ghetto’s gejaag …”

“Wat’s dit?”

“Dis soos klein dorpies waaruit hulle nie mag gegaan het nie. Daar is mure om die ghetto’s gebou met doringdraad bo-op. Duisende van hulle moes in kamertjies wat baie op mekaar en beknop was, bly. Hulle kon nie meer in hul eie huise bly nie. Daar was min kos en baie siek mense.” Marc voel wanhopig om enigsins die omvang van die tyd aan die kind te verduidelik.

“Maar jy het gesê hy het hulle doodgemaak, Abba …”

Marc trek sy asem stadig diep in en kyk van die vraende oë voor hom af weg na die kersvlam wat die omgewing bewerig belig. Buite het dit byna donker geraak en dis skaars drieuur. Hy wonder of Yhoshi veilig is, maar hy het nie die energie om te gaan kyk nie.

“Hy het hulle doodgemaak, Natani. Hy het hulle uit die ghetto’s op treine na ander … kampe toe laat ry. Duisende en duisende van hulle.”

“Kinders ook?”

Ek moes my nie hierin begewe het nie, dink Marc, maar dis te laat.

“Kinders ook, Natani. Daar in die kampe was alles nog baie, baie erger as in die ghetto’s. Die mense wat nog kon werk, het hulle doodgewerk, want daar was nooit genoeg kos nie. Hulle het sonder warm klere verskriklike lang ure in die ergste koue gewerk. Snags het hulle tot ses mense in een houtbank geslaap met een dun kombersie …”

Die kind raak aan sy arm. “Is dit net ’n storie, Abba?”

Marc slaan sy arm om die klein figuurtjie en trek hom dig teen hom aan. “Nee, Natani, dis die waarheid. So het dit gebeur. En die mense wat nie meer kon werk nie, die ou mense en die vroue en kinders, die … het hy laat vergas …”

“Vergas?”

Adonai, help my. Maar hy moet dit vertel, want die een of ander tyd gaan Natani daarmee gekonfronteer word en dis beter dat hy dit van sy pa hoor.

“Natani, hy het die mense wat van die treine af gekom het … Dit was nie treine soos dié waarin ons in Parys gery het of hier na Tel Aviv toe ry nie, dit was trokke waarin beeste en skape en varke aangery word. Onthou jy die trokke wat ons in jou prenteboek gesien het? Wat nie vensters het nie? Waarin die boere hulle vee ry?” Hy voel magteloos in sy poging om homself verstaanbaar te maak.

Maar die kind het hom verstaan. “Daar kan nie mense in so ’n trok ry nie,” sê hy.

“Nu, hulle het daarin gery. En die trokke was só vol mense gedruk dat jy nie eens kon sit nie. Jy moes ál die pad staan, partykeer vir meer as een dag. Sonder kos en water.”

“Dis nie waar nie, Abba. Wie het dit vir jou gesê?”

Marc sug. “Dit ís waar, Natani. Ek sal jou eendag na Yad Vashem toe neem en dan sal jy sien dat dit waar is.”

“Maar ’n mens sal doodgaan so.”

“Party mense het doodgegaan.”

“En toe hulle by daai plekke kom, het hy hulle veras?”

“Nie verás nie, Natani, vergás. Wanneer hulle uit die treine gekom het, het die Jode wat kon werk, by die kamp ingegaan en die Nazi’s het die ander na ’n groot … saal toe geneem. Hulle het vir die Jode gesê hulle gaan soontoe om te gaan stort, so hulle moet ál hulle klere uittrek …”

“ ’n Mens sal moet stort as jy in ’n trok sonder vensters met so baie mense in gery het …” sê die seuntjie nadenkend.

Weer maak Marc sy oë vinnig toe. “Natani, die Nazi’s het vir hulle gejok, want uit daardie goed wat soos stortkoppe gelyk het, het daar nie water uitgekom nie, maar gifgas.”

“Gífgas?”

“Ken. Van gifgas stik ’n mens en gaan jy dood …”

“Al daardie mense het doodgegaan?”

Marc vrywe die skouertjies. “Ken, Natani, almal van hulle.”

“Honderde mense?”

“Honderd duisende mense.”

Die kind se hande bal effens in vuisies. “Is jy seker, Abba?”

“Ek is baie seker, Natani.”

Dit is stil. Hulle luister na die gesellige klapgeluide wat die vlamme in die droë dennebolle maak, en die gelag en geskree wat van buite af gehoor kan word.

“Ek moet Yhoshi inroep,” sê Marc, maar hy staan nie op nie en Natan het hom ook nie gehoor nie.

“Maar, Abba, jy het gesê party van die Jode het met hierdie Naties saamgewerk.”

“Nazi’s,” help Marc hom meganies reg. “ ’n Mens kon jou lewe ’n rukkie spaar as jy ’n bietjie met hulle saamgewerk het.”

“Wat moes jy doen?”

Waarom het ek in der ewigheid met hierdie gesprek begin? dink hy.

“Nu, jy moes help om die lyste te maak van die mense wat op die treine moes ry. Jy moes partykeer ’n bietjie lelik met die ander Jode wees.”

“Is dit wat Yoav se oupa se vriend gedoen het, Abba?”

Marc se hart klop benoud en ná ’n rukkie uiter hy ’n halwe waarheid. “Adon Singer het ook met die trein na een van die kampe toe gegaan, Natani.”

“Maar hy lewe dan nog. Het hy nie van die giftige goed doodgegaan nie?”

“Daar is mense wat oorleef het. Hulle was nie in die gaskamers nie. Daar was egter min van hulle. En hulle was vreeslik siek en verhonger toe die Amerikaners eindelik die Nazi’s gewen het en die mense uit die kampe kom haal het.”

“Maar toe was ál die ander mense al dood.”

“Ken,” sê Marc sag.

Natan tel sy katjie van die bank langs hom op en druk sy gesiggie in die sagte goudrooi hare. “Hoekom het HaShem nie die Naties gekeer toe hulle die Jode wou doodmaak nie?” vra hy gesmoord. “Hy kon mos. Hy het dan vir Am Yisra’el die Rietsee drooggemaak sodat hulle kon deurloop.”

Daar het ek dit nou! flits dit deur Marc se gedagtes.

“Daar is dinge wat HaShem doen wat ons nie kan verstaan nie, Natani. Hy is El Elyon en ons is net mense.”

“Maar ons is sý mense.”

“Ek weet,” sê Marc magteloos en sonder om daaroor te besluit, voeg hy by: “Ek sal vir jou ’n storie vertel.”

“Vertel?” Natani kyk hom verbaas aan. Marc vertel nie stories nie. Hy lees eindeloos vir hulle voor, maar hy vertel nie. Nie soos oupa Chaim en Moshe nie. Húlle kan goed vertel.

Marc glimlag verleë. “Dis ’n storie wat ek anderdag in ’n boek gelees het van ’n Joodse skrywer wat wonderlik kan skryf.”

“ ’n Joodse skrywer?” vra die kind nog ’n bietjie verward deur die aankondiging dat sy pa ’n storie gaan vertél.

“Ken. Charles Lewinsky. Hy het geskryf oor mense wat só in die kampe doodgemaak is. Die storie is in sy boek.”

“Sal jy my vertel?”

Marc knik, dankbaar dat daar ’n einde aan die beproewende gesprek kon kom.

“Daar was eenmaal ’n reus wat groot en sterk en dom was. Hy was so groot dat hy op ál die ander neergekyk het. Hy was so sterk dat hy homself aan sy kraag kon vat en optel. Hy was so dom dat hy gedink het ál die mense hou van hom omdat hy so ’n gawe reus was.”

“Was hy ’n gawe reus?”

“Partykeer was hy gaaf en partykeer was hy onuitstaanbaar. Partykeer het die mense baie van hom gehou en partykeer ook weer nie. Dit het nie altyd dieselfde gebly nie. Daar was maar één iemand, ’n towenaar, wat geheel en al glad nie van reuse gehou het nie. Nie soggens nie en nie smiddae nie en beslis nie saans nie. Niemand kon agterkom waarom hy nie van reuse gehou het nie, want daar was nooit ’n reus wat op sy tone getrap het nie. En daar was nooit een wat die ketel waarin hy sy towerdrankies gebrou het, omgegooi het nie. Hy was eenvoudig net nie lief vir reuse nie. So iets kan gebeur. Dis nie maklik om ’n reus te wees nie.”

Die kind se oë is groot van verwondering, deels oor die storie en deels oor hy sy pa so ’n soort storie hoor vertel.

“Op ’n dag gee die towenaar vir die reus ’n presentjie.”

“ ’n Preséntjie?” wil Natani weet. “Hy het dan niks van hom gehou nie.”

“Dit was ook nie ’n mooi presentjie nie,” sê Marc, self half betower deur die verhaal. “Dit het maar net so gelyk. Dit was ’n onderskeiding …”

“Wat is dít?”

“Dis ’n soort … kenteken wat ’n mens kry as jy iets slims gedoen het.”

“Soos Yhoshi se klaskapteinwapentjie?”

“Presies! Die onderskeiding wat die reus van die towenaar gekry het, was versier met goud en silwer en diamante. En op die onderskeiding het gestaan: Ek is ’n reus. Die moet jy altyd dra, het die towenaar gesê, sodat die mense jou sal herken. Die reus was vreeslik bly oor die presentjie en hy het die onderskeiding dadelik op sy baadjie vasgespeld. Dit het eintlik baie mooi gelyk, maar …”

Marc swyg ’n oomblik vir effek en Natan vryf sy hande ingenome. “Wat?”

“Maar die onderskeiding was getoor. Dis drie dae in towersop gekook en die towenaar het drie keer towersout daaroor gegooi. Wie dié onderskeiding gedra het – dit was die gemene streek wat die towenaar bedink het – word elke dag ’n heel, heel klein bietjie kleiner. En dit was presies wat met die reus gebeur het.”

“Maar hoekom het hy dan nie die onderskeiding afgehaal nie?” wil Natan weet.

“Dit hoort by die toordery,” sê Marc en voel ’n rilling langs sy rug af loop. “Die reus het nie agtergekom dat hy kleiner word nie. Hy het gedink dat hy nog altyd die grootste reus in die hele wêreld is, selfs al kon hy nie meer op die dakke van die huise afkyk nie. Hy kon nie eens meer deur die vensters van die eerste verdieping kyk nie en daarna ook nie meer deur dié van die grondvloer nie. Op ’n dag was die blomme groter as hy, en toe later selfs die gras. Toe daar op die ou end nog net een stippie van hom oor was, gaan staan die towenaar op hom en trap hom in die grond in. Toe vee hy sy skoensole aan ’n graspolletjie af. Toe is daar niks van die reus oor nie. Net sy onderskeiding het nog daar gelê, maar die woorde daarop het verander. Nou het daar gestaan: Ek was eenmaal ’n reus.”

Dis eers heeltemal stil. Toe sê Natani: “Dis nie ’n mooi storie nie, Abba.”

Voordat Marc daarop kan reageer, vra die kind: “Weet jy wat, Abba?”

“Wat?”

“Die reus se storie laat my dink …” Natan dink ’n rukkie na en Marc se hart begin swaar klop. “Dit laat my dink aan Hilter.”

“Hitler,” korrigeer Marc weer.

“Aan wat Hitler met die Jode gedoen het …”

“Hoe so?” vra hy asemloos.

Weer dink Natan ’n rukkie na. “Hy het hulle eers soos die reus kleiner gemaak sodat hulle niks meer kon doen nie. En toe het hy hulle doodgemaak met die gif, net soos die towenaar die reus doodgetrap het toe hy klein genoeg was.”

Marc se oë brand van ongestorte trane. “Yeled chacham,” sê hy en hou die seuntjie styf vas. Die kind begryp veel meer as wat ek besef, dink hy. En hy weet nie of hy daaroor moet lag of huil nie.

Op dieselfde oomblik bars Yhoshi by die voordeur in. Sy wange gloei van die bitter koue weer buite. Sy mus en die skouers van sy baadjie is wit van die sneeu. Hy skop sy stewels onverwyld uit en gooi sy baadjie eenkant. Toe kom hy met sy hande teen die vuur staan.

“Dis vr-r-r-eeslik koud buite,” bibber hy. “Die sneeu lê só dik.” Hy beduie minstens ’n meter hoog.

Toe eers kom hy agter die ander twee is ongewoon stil.

“Wat doen julle?” vra hy.

“Abba het vir my ’n storie vertel.”

“Vertél!” roep hy net so ongelowig soos Natan vroeër.

Natan knik. “ ’n Storie van ’n reus en ’n towenaar.”

“ ’n Reus en ’n towenaar!” Yhoshi se verbasing neem toe. “Is nie!”

“Is!” sê sy boetie. “Vra hom!”

Yhoshi draai na Marc. “Abba?”

Teen dié tyd kan Marc weer lag. “Dit kom uit ’n boek. Ek sal dit later vir jou gee om te lees.”

Yhoshi skud sy kop. “Sulke stories is vir kleintjies.”

“Kom,” sê Marc om die saak saam te vat, “oor minder as ’n uur is dit Shabbat en ons moet nog heelwat doen.”

“Wat kan ons doen as die krag af is?” vra sy oudste.

“Ons kan die kerse aansteek,” sê die jongste.

“Ons sal sien,” sê Marc.

“Het jy met Imma gepraat, Abba?”

Marc skud sy kop. “Daar is geen opvangs nie.”

“Ons het nog nooit so baie sneeu gehad nie,” sê Yhoshi wat voor die venster staan en op die toegesneeude plein afkyk.

“Sal Imma genoeg komberse hê, Abba?” vra Natan angstig.

“Vir seker, Natani, vir seker. Hulle sal mooi na haar kyk daar.”

Hy sien die donker angs in die kind se oë en hy voeg vinnig by: “Sy is veilig daar, babbelossie. Hier’s nie towenaars nie.”

“Waarvan praat julle?” vra Yhoshi vererg.

“Jy kan later lees.”

“Ek lees nie van reuse en towenaars nie.”

“Hierdie een moet jy lees, Yhosh, dis anders,” sê sy boetie ernstig.

Tikkun Ha'olam

Подняться наверх